• Home
  • Preke
  • Chris van Wyk
  • Lukas 10:1-16 – “Hy het hulle twee-twee voor Hom uitgestuur na elke dorp en plek wat Hy nog wou besoek”

Lukas 10:1-16 – “Hy het hulle twee-twee voor Hom uitgestuur na elke dorp en plek wat Hy nog wou besoek”

22 Februarie 2015 – Laat Jesus deur jou VREEMDELINGE ontmoet

pp1

Ek verkneukel my altyd as ek oor gasvryheid nadink in die verhaal van Abraham by die tent en die drie mans wat hom kom besoek het. Ek kan my so inleef in die oorgawe waarmee hy die ontmoeting met die drie mans in Genesis 18 hanteer het.

Om jou geheue te verfris. Abraham het so gesit-slaap in die trek van sy oop tentdeur op die warmste deel van die dag. Drie figure het skielik verskyn in die dynserigheid. Sonder om te huiwer, het Abraham opgestaan, na hulle toe gedraf en voor hulle neergebuig: “Menere, doen my die guns. Moenie net verby gaan nie. Laat ek eers ‘n bietjie water gaan haal en julle voete was. Kom rus hier onder my boom. U is nou eenmaal hier en ek wil darem vir julle ‘n stukkie brood gaan haal sodat julle weer nuwe krag kan kry vir die pad wat voorlê.”

En die drie mans het nie gehuiwer nie.

Abraham het in die tent ingeskarrel na Sara toe en vir haar gesê:“Bak vir ons roosterkoeke, sommer 16 kg s’n.”  Dis meer as 64 koppies meel, meer as ‘n honderd roosterkoeke!

Abraham het buitentoe gedraf na die beeste en ‘n mooi jong kalf gevat. Die beste en sagste vleis wat hy het – omtrent ‘n 100 kg. En hy het dit gaar gemaak. Hy neem toe botter en melk, die roosterkoeke en die kalfsvleis en sit dit voor die mans neer en bedien hulle self.

En dan, op dié punt, maak die verhaal ‘n wending. Die mans vra na sy vrou en maak ‘n belofte: “oor ‘n jaar sal jou vrou Sara ‘n seun hê”. En skielik besef Abraham, dis die Here wat nou met hom praat.

Sy gasvryheid het in ‘n ontmoeting met die Here verander! Hy hou ‘n braai vir die Here!

En in die ontmoeting doen die Here ‘n wonderlike ding. Hy bring vir Abraham en Sara weer bymekaar uit. 24 jaar lank al wag hulle vir die kind van die belofte. Sara het al vir Abraham haar slavin Hagar gegee om deur haar ‘n kind te hê. Maar dit het net verwydering gebring. Geen wonder dat Sara by haarself gelag het en gedink het: “Sal ek nog genot kan hê noudat ek afgeleef is? En dit met my man wat oud is?”

Maar die Here het die belofte herhaal. Oor ‘n jaar sal jou vrou ‘n seun hê.

En dit was ook só.

Gasvryheid het hulle lewe verander! Vir altyd!

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Verwelkoming

Toetrede

Psalm 146:1 – Prys die Here, loof en prys Hom – staan (orrel)

Votum en Seëngroet

Lofsang en aanbidding

Lied 175 – Majesteit, glansryke heerlikheid! – staan (groep)

Flam 24 – As ek u hemel aanskou – staan (groep)

DIENS VAN DIE WOORD

Doopviering

Lied 543:1 – Here Jesus, ek is klein – sit (groep) – Rethie

Inleiding – Gesprek met die kinders oor Lydenstyd (kers word aangesteek) – Annelet

Lied 393:1,4 – Middelpunt van ons verlange, U bring rus in ons gemoed! – sit (orrel)

LUKAS 10:1-16“Hy het hulle twee-twee voor Hom uitgestuur na elke dorp en plek wat Hy nog wou besoek.”

10 Daarna het die Here twee en sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke dorp en plek waarheen Hy van plan was om te gaan. 2Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes. 3Gaan nou! Maar onthou: Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in.

4“Moenie ’n beurs of ’n reissak of skoene saamdra nie, en moenie langs die pad met groetery tyd verkwis nie. 5As julle in ’n huis kom, moet julle eerste woorde wees: ‘Vrede vir hierdie huis.’6As daar iemand woon vir wie die vrede bestem is, sal die vrede op hom bly; so nie, sal dit na julle toe terugkom. 7Moenie van een huis na die ander trek nie, maar bly in dieselfde huis, eet en drink wat hulle voorhande het, want die arbeider is geregtig op sy loon. 8As julle in ’n dorp kom en hulle ontvang julle, eet dan wat hulle vir julle voorsit. 9Maak die siekes daar gesond en sê vir die mense: ’Vir julle is die koninkryk van God baie naby!’10Maar as julle in ’n dorp kom en hulle ontvang julle nie, gaan dan uit in sy strate en sê: 11“Selfs julle dorp se stof wat aan ons voete sit, vee ons af as aanklag teen julle. Maar dit moet julle weet: die koninkryk van God is baie naby.’12Ek sê vir julle: Vir die mense van Sodom sal dit op dié dag draagliker wees as vir daardie dorp.

13“Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. 14Maar vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeel draagliker wees as vir julle. 15En jy, Kapernaum, dink jy jy sal tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal tot in die doderyk afdaal!

16“Wie na julle luister, luister na My; wie vir julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.”

Integrasie – Laat Jesus deur jou VREEMDELINGE ontmoet

Abraham se gasvryheid teenoor vreemdelinge

Ek verkneukel my altyd as ek oor gasvryheid nadink in die verhaal van Abraham by die tent en die drie mans wat hom kom besoek het. Ek kan my so inleef in die oorgawe waarmee hy die ontmoeting met die drie mans in Genesis 18 hanteer het.

Om jou geheue te verfris. Abraham het so gesit-slaap in die trek van sy oop tentdeur op die warmste deel van die dag. Drie figure het skielik verskyn in die dynserigheid. Sonder om te huiwer, het Abraham opgestaan, na hulle toe gedraf en voor hulle neergebuig: “Menere, doen my die guns. Moenie net verby gaan nie. Laat ek eers ‘n bietjie water gaan haal en julle voete was. Kom rus hier onder my boom. U is nou eenmaal hier en ek wil darem vir julle ‘n stukkie brood gaan haal sodat julle weer nuwe krag kan kry vir die pad wat voorlê.”

En die drie mans het nie gehuiwer nie.

Abraham het in die tent ingeskarrel na Sara toe en vir haar gesê:“Bak vir ons roosterkoeke, sommer 16 kg s’n.”  Dis meer as 64 koppies meel, meer as ‘n honderd roosterkoeke!

Abraham het buitentoe gedraf na die beeste en ‘n mooi jong kalf gevat. Die beste en sagste vleis wat hy het – omtrent ‘n 100 kg. En hy het dit gaar gemaak. Hy neem toe botter en melk, die roosterkoeke en die kalfsvleis en sit dit voor die mans neer en bedien hulle self.

En dan, op dié punt, maak die verhaal ‘n wending. Die mans vra na sy vrou en maak ‘n belofte: “oor ‘n jaar sal jou vrou Sara ‘n seun hê”. En skielik besef Abraham, dis die Here wat nou met hom praat.

Sy gasvryheid het in ‘n ontmoeting met die Here verander! Hy hou ‘n braai vir die Here!

En in die ontmoeting doen die Here ‘n wonderlike ding. Hy bring vir Abraham en Sara weer bymekaar uit. 24 jaar lank al wag hulle vir die kind van die belofte. Sara het al vir Abraham haar slavin Hagar gegee om deur haar ‘n kind te hê. Maar dit het net verwydering gebring. Geen wonder dat Sara by haarself gelag het en gedink het: “Sal ek nog genot kan hê noudat ek afgeleef is? En dit met my man wat oud is?”

Maar die Here het die belofte herhaal. Oor ‘n jaar sal jou vrou ‘n seun hê.

En dit was ook só.

Gasvryheid het hulle lewe verander! Vir altyd!

Wat is gasvryheid?

Kom ons dink bietjie na oor gasvryheid. Gasvryheid beteken letterlik “liefde vir vreemdelinge”. Daaroor het ons al baie gepraat in die gemeente ook onlangs in die hantering van die brief-boodskap aan Hebreërs.

Adele Calhoun beskryf gasvryheid soos volg: “to be a safe person who offers others the grace, shelter and presence of Jesus”. Gasvryheid is om ‘n tuiste te gee vir iemand, om iemand aan huis te verwelkom, om jou deure oop te maak vir mense wat nie normaalweg by jou kom nie. Dit is die teenoorgestelde van die “vreemdelinge-haat” wat ons weer onlangs in Soweto en op ander plekke in ons land gesien het.

En ons weet daar is onverwagte belonings wat ons kan ontvang, as ons bereid is om gasvry te wees. In Hebreërs 13: 2 lees ons: “Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.”

Hierdie belangrike teks oor gasvryheid verwys waarskynlik terug na Genesis 18 waar Abraham die drie besoekers ontvang het. Hulel was die “engele” wat as gaste gehuisves is, en wat die draers word van die belofte aan Abraham en Sara dat ‘n kind, Isak, vir hulle gebore sou word.

Dat hierdie openheid vir vreemdelinge vir ons seën inhou, sien ons ook in die verhaal van die Emmausgangers (Luk. 24). Hulle openheid vir die vreemdeling wat hulle op die pad ontmoet, blyk niks minder te wees nie as ‘n openheid vir die opgestane Christus. En hulle oë gaan aan tafel oop vir die teenwoordigheid van God self in die ontvangs van die vreemdeling. Hulle ontvang Jesus deur Hom as vreemdeling in te nooi. Kragtig!

Die vreemdeling is Bybels gesproke dus nie ‘n bedreiging nie. Die aksent word in talle tekste in die Bybel gelê dat daar juis seën deur vreemdelinge kom. Om die waarheid te sê, gasvryheid teenoor vreemdelinge hou seën vir jouself in, soos Abraham se verhaal onderstreep!

Gasvryheid beteken om grense oor te steek

Maar, dit is altyd lekkerder om te praat oor vreemdelinge en hoe ons hulle moet laat tuis voel as om inderdaad uit te reik na ‘n vreemdeling. Is dit nie so nie!? Dit is lekker om oor Abraham te gesels en jou te verkneukel daarin, maar om dieselfde te doen, is nou ook regtig weer iets anders, nie waar nie?

Wat moet ‘n mens sê? Waaroor moet jy praat? Waarheen gaan dié gesprek lei? Wat gaan dit my kos? Is dit die moeite werd?

Dié ongemak word verhoog as ons Lukas 10 se effens anderse boodskap regtig begin hoor. Want, hierdie teks praat nie oor die innooi in jou eie huis nie. Dit gaan nie oor die ontvangs en versorging van vreemdelinge in ‘n ruimte waar jy beheer het en waar jy die gang van sake kan bepaal nie.

Die Here Jesus praat hier oor die uitgaan na ander se huise toe, om afhanklik te raak van ander se gasvryheid, en om dit nie net te doen by mense wat jy ken nie, maar by mense wat jy nie ken nie!

Abraham het mense in sy wêreld ingenooi, hulle verwelkom, en die wonder van God se teenwoordigheid ervaar. Die Emmaus-gangers het die vreemdeling van Jerusalem in hulle huis ingenooi en die wonder van die Here Jesus se teenwoordigheid ervaar.

Maar, hier vra die Here Jesus dat ons die beweging omdraai, dat ons nie mense in ons wêreld sal innooi nie, maar sal toelaat dat ander mense ons in hulle wêreld innooi. Hy vra van ons dat ons grense na ander sal oorsteek, dat ons die veilige ruimte van ons eie huise en wêrelde sal verlaat en in ander se huise en wêrelde sal aankom.

Dit is heeltemal anders. En dit is nie so eenvoudig nie! Dit hou die moontlikheid van verwerping in. Dit hou die moontlikheid van swaarkry in. Dit hou die moontlikheid in van betrokke raak by ander se swaarkry. Dit hou die risiko in dat jy uit beheer raak, dat ander beheer oor jou kan uitoefen, dat jy aan ander se genade uitgelewer is.

Maar wat is die evangelie in hierdie opdrag, die ding wat ons moet raaksien wat ons die moed sal gee om dit te doen? Dit lê vir my in vier dinge opgesluit.

Jesus stuur ons twee-twee uit

Dit lê in die eerste plek opgesluit in die frase: “Hy het hulle twee-twee voor Hom uitgestuur …”   Die opdrag om oor grense te beweeg word aan geloofsvriende, geloofsmaats, aan ‘n geloofsgemeenskap gestuur. Dit is ‘n sleutel deel van die opdrag. Soos die Here aanvanklik gedink het dat dit nie goed is dat die mens alleen is nie, en gesorg het vir maats, só doen Hy dit ook in die beweging van die evangelie oor grense. Hy gee vir ons geestelike maats wat saam met ons die pad kan stap.

Ek het nou al ‘n paar keer gepraat oor die krag van die feit dat ek en my vrou elke oggend saam bid vir dié sake wat die Here op ons hart lê. En ek loop seker die gevaar om vervelig te raak daaroor. Maar, mense, die krag daarvan kan nie oorskat word nie. Ons het betekenisvolle ander mense in ons lewe nodig om die opdrag wat die Here vir ons het om oor grense te gaan, na te kom.

Ons sal nooit een-een die wêreld vir die Here bereik nie. Ons sal nooit een-een die verskil kan maak wat ons bedoel is om te maak nie. Waarmee ek nie die krag van iemand wat op ‘n punt opstaan en sê, hier staan ek, ek kan nie anders nie, onderskat nie. Maar saam is ons beter. Saam doen ons beter. Saam bereik ons meer.

Jesus wil ander deur ons ontmoet

Dit lê in die tweede plek opgesluit in die res van daardie sin: “Hy het hulle twee-twee voor Hom uitgestuur na elke dorp en plek wat Hy nog wou besoek.” Jesus wil ander deur ons ontmoet! Die Here Jesus wou die hele Joodse volk met sy boodskap van vrede bereik. Hy het egter ‘n beperkte tyd gehad waarin Hy dit alles moes doen. Hy kon nie uitkom waar Hy oral wou uitkom nie. Dit was net nie fisies moontlik nie. Daarom stuur Hy sy dissipels en ‘n hele klomp ekstra volgelinge van Hom om dié plekke te besoek.

Hy het geweet sommige sou Hom ontvang. Sommige sou Hom verwerp. Maar dié werk moes net gedoen word.

Wat vir my die evangelie hierin is, is dat die Here Jesus deur my vreemdelinge wil ontmoet. Hy het ‘n passie vir die wêreld, en sonder dat ons in beweging kom om die grense na vreemdelinge oor te steek, sal die Here se passie nie verwesenlik word nie.

Om die Emmaus-gangers se verhaal as model te gebruik. Ons kan nie net identifiseer met die Emmaus-gangers in daardie verhaal en hulle ervaring dat die Here Jesus aan hulle verskyn het nie. Ons is ook soos Jesus wat mense opsoek op die pad, in gesprek tree met hulle, en wag vir die uitnodiging om in hulle huise in te beweeg, want dáár sal die wonder van God se teenwoordigheid vir ander mense aanbreek.

Mense kan God net verwelkom in hulle lewe, as ons bereid is om hulle langs die pad te ontmoet en saam met hulle te stap tot die opening kom dat God ‘n inbraak en ‘n deurbraak maak in hulle lewe.

En ons hoef nie vreeslik geleerd te wees om dit te doen nie. Ons moet maar net ‘n hart ontwikkel vir mense, luister na hulle behoeftes, betrokke raak met wat ons ook al kan aanbied, en te wag vir die opening in hulle huise en harte sodat God sy werk kan doen.

Bid vir arbeiders vir die oes

Dit lê in die derde plek opgesluit in die opdrag om te bid vir mense om saam met ons die werk te doen: arbeiders vir die oes. Gebed is die ruimte wat God gebruik om sy groot werk te doen. Hy gee ons die voorreg om medewerkers te word, om getuies te wees hoe God dinge verander in ander se lewe, ‘n roeping gee, ‘n gawe gee, ‘n verskil maak in hierdie wêreld.

Paulus skryf op ‘n punt dat ons altyd moet bid (Ef. 6:18). Wat hy bedoel is dat ons konstant in die bewussyn van God se teenwoordigheid moet lewe. Gebed is Godsbewussyn. Dit is soos asemhaling. Meesal is dit outomaties. En dan ander kere konsentreer jy bewustelik daarop. Só is gebed. Jy is die hele tyd bewus van die Here, half outomaties. En dan wanneer iets jou aandag vang – ‘n nood, ‘n vreugde, ‘n behoefte – dan praat jy met die Here daaroor, en Hy praat met jou daaroor.

Dít is die tipe lewe wat ons moet voer, maar dit sluit ook hierdie bewustelike vra vir arbeiders vir die oes in. En nie net vir die maklike dele van die wêreld nie. Daar is mense nodig in Noord-Korea, in Irak, in Somalië, in Nigerië. En waar jy bid, is daar altyd die moontlikheid dat die Here jou daar wil gebruik, of wil hê dat jy iemand moet help om daar te kom.

Dit is immers waarvoor ons ‘n geloofsgemeenskap is – om te luister na wat God wil hê in hierdie wêreld, en dan te gaan leef daarvoor. Dit sluit ons hele lewe in.

Gaan nou!

Dit lê in die vierde plek opgesluit in die opdrag om nie langer te wag nie, maar nou te gaan. Die Here wil nie net hê ons moet bid nie. Ons moet ook gaan. Ons is immers almal gestuurdes.

Die vraag is natuurlik dan, wie is ons vreemdelinge vandag? Na wie toe stuur die Here ons?

Wel ons leer dit by Jesus. Net in die afgelope paar weke het ons ‘n paar sulke vreemdelinge teëgekom: dit is die vrou wat in owerspel gevang is (Joh. 8); dit is die man wat langs die pad lê en onder rowers deurgeloop het (effens later in Luk. 10); dit is die melaatse man wat weer ingesluit wil word in die geloofsgemeenskap (Matt. 8); dit is die Romein wat wil hê jy moet sy toerusting dra vir ‘n myl (Matt. 5).

Dit is dus mense wat afvallig is, wat nie inpas in die “ordentlike” gemeenskap van Somerstrand nie. Dit is mense wat uitgestoot is tot op die randte van die samelewing, en ‘n bestaan probeer maak met parkering aanwys en jou motor oppas in die aand by die restaurant. Dit is die mense wat nie ‘n tuiste het nie en smag daarna om êrens te behoort – sommige van hulle is arm en op straat, maar sommige van hulle is ryk en agter mure in ons woonbuurt, maar om een of ander rede “melaats”, uitgeworpe, verstote, nie welkom nie, anders, onvanpas.

Vreemdelinge kan mense wees wat polities van jou verskil, mense wat van ‘n ander kultuur of taal as jy is, mense wat van ‘n ander geloofsgemeenskap as jy is.

Wat die Here van jou vra in die opdrag van Lukas 10 kan wees om die grens na mense in die ANC, EFF, Vryheidsfront, DA of watter party daar ook al anderkant jou is, oor te steek.

Die afgelope debakel in die parlement, en nou ook in die Wes-Kaap se parlement, vra van ons nie net koel koppe nie, maar warm harte, harte wat die gapings tussen ons sal oorbrug en vreemdelinge sal bevriend, om nie saam kwaad te doen nie, maar goed. Ons land se toekoms hang daarvan af.

En dan is ek nie besig om te sê dat onreg nie aangespreek moet word en dat die reg nie sy gang moet gaan oor allerlei prominente sake nie – korrupsie, leuenagtigheid, onderdrukking, swak dienslewering ensomeer.

Ons het egter nodig om vrede te bring, goed te doen, versoening uit te dra en aan te bied, want dít is die boodskap van die koninkryk wat Jesus wil bring vir mense wat vasgeval is in hulle sonde en afvalligheid.

Dit sluit die oorsteek van grense in na mense wat anders as jy is, hetsy van ‘n ander ras of kultuur, of selfs van ‘n ander geloofsgemeenskap as jy. Dit sluit in dat jy nie onderskeid maak tussen die mense by wie jy aan huis verwelkom word nie. Dit sluit in dat jy eet wat vir jou voorgesit word en nie jou neus optrek vir die vreemde dinge van die vreemdelinge nie. Peterson vertaal: “Don’t move from house to house, looking for the best cook in town.”

Ons sendelinge is ons voorbeeld

Dit is wat elkeen van ons sendelinge gedoen het. Hulle het grense oorgesteek, om die waarheid te sê, deel geword van die kultuur waarheen die Here hulle gestuur het. Waar Abraham vir ons ‘n voorbeeld is van gasvryheid en die innooi van ander in ons leefwêreld in, is Gerrit en Sonja, en Hugo en Jakkie, en Elspeth en Evelyn, Corneille en Sophie en al die ander sendelinge wat ons ondersteun, mense wat Lukas 10 vir ons illustreer.

En dit is hulle voorbeeld wat die Here vir ons vandag vir ons voorhou om na te volg.

Ek sluit af.

Die Here Jesus gee ons vir mekaar om ons uit te stuur om deur ons by dié mense uit te kom wat op sy agenda is. Ons is gehoorsaam wanneer ons daarvoor begin bid, en self grense begin oorsteek. Ek het ‘n eenvoudige oefening vir netnou in die portaal – om vir 3 minute net mense te groet wat jy nie ken nie – as ‘n bewusmaking van wat in jou lewe moet gebeur.

Gaan nou!

Gebed

UITSENDING

Dankoffers

Aankondigings

  • Hondeskou by ons karnaval is eintlik ‘n hondevertoning. Mense moet asb. nie hul eie honde saambring om hul te skou nie. Dis ‘n organisasie van mense wat opgeleide honde inbring (ongeveer 30 honde) en ‘n demonstasie gaan kom doen vir 2 uur lank.
  • Ntlatywa van Zithulele sê groete (foto).  Ons het 1 Maart ’n saamrygeleentheid nodig van Boknes af vir Johan du Plessis om die aand by ons te kom vertel van Zithulele en Julie se uitreik daarheen.
  • Video van die karnaval.

Slotlied

Lied 284 – Laat, Heer, u vrede deur my vloei – staan (groep)

Seën

Lied 314 – Amen

     

View all posts in this series

Tags: , ,

Trackback from your site.

Leave a comment