Skip to main content

2 Konings 5: Erediens – Om met verwagting te lewe in ‘n wêreld waar God nog wonders doen – Son 22 Augustus 2010

1. Die heldin in hierdie verhaal is ‘n klein dogtertjie.

Ons weet van haar net ‘n paar goed.  Ons weet sy kom van Israel af en is in een van die oorloë tussen Israel en die Arameërs weggevoer deur die soldate. Sy was nog ‘n baie jong dogtertjie en het ‘n slaaf geword vir Naäman, die bevelvoerder van die Aramese leër.  So sy was Joods, jonk en ‘n slaaf.

Maar daar is iets anders wat ons van haar agterkom.  Sy word nie die heldin in dié verhaal omdat sy Joods is of jonk of ‘n slaaf nie.  Sy word die held in die verhaal omdat sy weet wat niemand anders weet nie.  Sy weet wie haar baas kan help toe hy siek raak van melaatsheid.

Nou, ons lees nie in die Bybel dat sy vir Elisa geken het nie.  Ons weet nie verseker of sy geweet het van die wonder van die broodvermeerdering waarvan ons in hoofstuk 4 gelees het nie.  Ons weet nie of sy verseker geweet het van die weduwee se kruik wat nooit leeggeraak het nie.

Maar iets soortgelyks moes sy geweet het, want dit is haar kennis van wat Elisa, die profeet van die Here, gedoen het, wat lei tot die genesing van Naäman.

Maar wat vir my veral interessant is, is dat sy hoegenaamd iets sê!  Sy kon stilgebly het.  Sy het nie nodig gehad om enigiets te sê.  Die Armameërs het haar leed aangedoen.  Sy is weggeneem by haar mense, en onthou sy was nog baie jonk.  Sy het nie meer vryheid gehad nie.  Sy moes vir haar nuwe base help in die huis.

En tog – toe sy hoor van haar baas se melaatsheid, en sy weet sy het inligting wat vir hom iets kan beteken, toe sê sy dit vir hom.  Sy help haar vyande – en word so vir ons almal ‘n voorbeeld van wat dit beteken om God te ken en die goeie nuus te vertel wat ander mense se lewens kan verander.

Ons sien dus hier dat kinders – maak nie saak hoe klein hulle is nie, maar nie saak hoe min hulle eintlik in tel is in die groter wêreld waar ander baie keer bo-oor hulle en hulle belange loop nie – hulle het ‘n rol te speel.  En daarmee is sy ‘n voorbeeld vir almal van ons.

2. Gewone goed is belangrik, nie net die buitengewone nie.

Dit is ‘n klein dogtertjie se inligting, ‘n bad in die Jordaanrivier, olie by die weduwee, brood by die ete vir 100 mense, ‘n dankie-sê van die generaal eerder as die baie goud en silwer wat hy aangebied het, wat in hierdie verhale van Elisa belangrik is.  En dit leer ons dat God se wonderwerke baie keer, ek wonder of dit nie meesal is nie, deur gewone goed gebeur.  Ons leer dat God net so aan die werk is in en deur gewone goed as in en deur die buitengewones.  God se buitengewone goed gebeur deur die gewone goed.

Dit is wat Naäman geleer het.  Hy het eers teëgestribbel teen die idee om in die water van die Jordaan hom te gaan was, want hy het gedink, dit is darem net te eenvoudig.

Gelukkig luister hy na die amptenare, net soos hy aanvanklik na die dogtertjie geluister het.  En deur die gewone te doen, word hy gesond.

Die verhaal spoor ons dus aan om nie net vir wonders te kyk in die groot goed nie.  God is aan die werk in die normale goed wat elke dag gebeur.  Hy is besig in die ontmoetings wat ons met mense het, selfs as ons soms dink mense is onderbrekings.

Ek het die week ‘n hele paar ontmoetings gehad met mense waar my raad gevra is, waar ek as klankbord gebruik is.  Maar, die interessante is dat dit my wêreld ook verander het – ek het ‘n paar dinge geleer, ek kon kyk na die pad wat die Here met my loop en moed skep uit die goed waardeur ek al is, sodat ek met meer empatie kon luister, en raad kon gee wat nie teoreties is nie, maar goed wat ek deur ervaring geleer het.  Gewone goed, waarin God se buitengewone voorsiening sigbaar word.

3. God doen wonders deur die gewone goed wat ons doen

Maar die verhaal spoor ons ook aan om net so gewillig te wees om die gewone goed te doen, as wat ons graag die buitengewone sou wou doen. Dit is nie net ter wille van onsself nie, maar ook en juis vir ander.

Dink net wat beteken dit vir iemand as jy geduldig is of ‘n klip uit iemand se pad rol.

Ons wil baie keer die groot goed doen, ‘n boek skryf wat 10 miljoen kopieë verkoop en baie mense se lewens verander.  Of ons raak baie keer juis moedeloos omdat ons met een oplossing alle probleme uit die weg wil ruim – terwyl dit soms net iets kleins is wat ons moet doen, wat saam met ‘n paar ander mense se klein liefdesdiensies ‘n groot verskil maak.

Dit tref my ook bv. dat Elisa in die verhaal van die weduwee sy kruik, terloops die vrou van ‘n profeet wat dood is, nie bv. met die skuldeiser gaan gesels om haar skuld af te skryf nie, maar dat hy haar in staat stel om haar skuld af te betaal met die wonder vermeerdering van die olie in die erdekannetjie.  Dit is hoe dit in die koninkryk van God werk – hy help ons IN die situasie, en neem ons nie eers UIT die situasie om ons die pyn daarvan te spaar nie.

Ons moet deur hierdie verhaal leer dat God deur die klein goed wat ons doen werk om groot goed reg te kry.  Want, die klein dogtertjie het net vertel wat sy geweet het: Elisa die profeet in Samaria kan wonderlike goed doen.  Dit is al wat sy gedoen het.  Ons weet nie eers haar naam nie.

Maar daardeur het sy nie net gesorg dat Naäman van sy melaatsheid genees is nie, maar sy het hom aan die Here bekendgestel, soveel so dat hy die Here begin aanbid het.

Daar is niks wat ons doen, hoe klein ook al, wat nie deur God gebruik word om groot dinge te doen nie.  ‘n Paar boere het gesorg dat ‘n ambulans kinders hospitaal vervoer in Elliot, en die hele gemeenskap verander en begin misdaad bestry, en mekaar help as mense.  ‘n Paar gemeentelede skenk 3 rekenaars in Oos-Londen en ‘n hele woonstelblok se kinders kan hulle skoolprojekte begin inhandig, en 4 van hulle ouers woon die katkisasieklas by en raak lidmate van die gemeente.

Ons kan met verwagting lewe – dat God nog wonders doen, deur die klein dade van gehoorsaamheid wat ons doen.

4. Dankbaarheid is die draad wat ons lewens lappieskombers aan mekaar weef.

Maar daar is ‘n laaste ding van die dogtertjie se lewe wat my tref.  Sy kon op ‘n hopie gaan sit het en haar hart uitgehuil het oor die slegte situasie waarin sy beland het.  Nou, dit is moontlik dat sy gehuil het, dat sy hartseer was, dat sy alleen en eensaam gevoel het.  Om die waarheid te sê, sy het heel waarskynlik baie bang en baie weerloos gevoel daar in die vreemde.

Maar sy het gekies om nie ten gronde te gaan nie, en iets aan die nood van die mense rondom haar te doen.  Sy was dankbaar dat sy lewe, en het meer as haar deel gedoen in die vreemde huishouding, sy het hulle die geheim van Elisa, die geheim van God, vertel.  En dit lei tot genesing vir haar baas, toevallig ook haar vyand.  En dit lei nie net tot genesing nie, hy leer ook die Here ken.

Ek sien dus by haar wat Paulus veel later sou skryf:

1 Tes 5:16-18 sê: “Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”

Dankbaarheid is die draad wat die lappieskombers van ons lewe aan mekaar weef.  Moeilike en maklike tye, geluk en ongeluk, kan in iets kosbaar saamgevoeg word deur met dankbaarheid en erkentlikheid te lewe.  Soos Jesus 5 broodjies en 2 vissies met dank aan God gebruik het om so iets besonders vir mense te doen, so kan ons ook met dankbaarheid dit wat ons het, al is dit min of doodgewoon, gebruik om ander se lewens te verryk, soos wat hierdie dogtertjie gedoen het met haar kennis.

Haar voorbeeld nooi ons dus uit om God se teenwoordigheid in ons lewe Ste erken en met dankbaarheid te lewe, en ander te dien met wat ons ook al het.

Ons kan leef met die verwagting dat God vandag nog wonders doen, en ons kan verwag dat Hy dit steeds sal doen, en meermale deur die gewone goed wat ons vir ander doen.

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.