Psalm 93 – Hemelvaart

God se heerskappy

Ek begin egter eers in die OT, met ‘n Psalm wat iets van hierdie heerskappy van God verwoord.  Dit is Psalm 93, ‘n teks wat baie kerke vandag regoor die wêreld saam met ons lees op hemelvaart:

1

Die Here is Koning, Hy beklee Hom met majesteit. Die Here beklee Hom, Hy omgord Hom met krag. Die wêreld staan vas, dit wankel nie,

2

en vas staan u troon van ouds af: U is van altyd af daar.

3

Riviere het gedruis, Here, riviere het gedruis, riviere het gedreun,

4

maar hoog bo die geraas van baie waters, hoog bo die golwe van die see, troon die Here in sy koninklike mag.

5

U verordeninge staan baie vas. Heiligheid versier u huis, Here, tot in lengte van dae.

Woordverkondiging

Die opstanding

Ons het ‘n paar weke gelede Paasfees gevier, die opstanding van Jesus Chritus.  Die viering van die opstanding is vir ons die bevestiging van Christus se verlossing.  Ons juig daarmee oor die feit dat Hy die prys vir ons vrymaking betaal het.  In Hom word ons met God versoen; kan ons in die regte verhouding met Hom lewe; het ons die versekering van ‘n lewe wat uitreik tot anderkant die dood; bely ons ook ons eie opstanding van die dood.

Die hemelvaart

Ons vier vandag die hemelvaart.  Daarmee vier ons nie Christus se verlossing nie, van wat Hy vir ons gedoen het nie.  Nee, ons vier Christus se heerskappy.  Ons bevestig met ons vieringe dat Christus Here is.  Hy is Koning en Heer van die kerk en van sy Koninkryk.  Hy is Heer ook van die hele skepping. Ons bely dat Hy regeer aan die regterhand van die Vader, vanwaar die toekoms nie net sál kom eendag nie, maar reeds nou in Sy teenwoordigheid aanbreek.

God se heerskappy

Dié getuienis oor God se heerskappy kom al ‘n lang pad deur die Ou Testament. Dit word al gaande steeds duideliker …

  • Van ouds af is daar in Israel bely: Die Here is Koning! In die koningskap van Jahweh was vir Israel alle heil opgesluit. Hý heers oor Israel en oor die hele wêreld  en oor die skepping.
  • In Psalm 93 besing die Psalmdigter soos ‘n wafferse pryssanger die Here se grootheid en lof. Juis omdat Hy hom as die Getroue bewys het, wat sy heerskappy op vele maniere in die geskiedenis en die lewe van mense bewus, hou mense steeds aan Hom vas.
  • Die psalmis vertrou daarom vir God. Hy voel veilig onder dié Koning se heerskappy. Daarom kan hy Hom aanbid. In die tempel, waar hy glo dat die Here se troon is en Hy teenwoordig is, besing die psalmis sy lof.
  • En let op dat dié lofprysing gebeur midde in die ervaring van die onstuimigheid van die wêreld waarin die gelowiges daarbuite leef (vers 3-4). Die gedruis en gedreun van magtige waters kan mense met ontsag en vrees vervul. Maar die psalmis fokus hier op die magtige God wat bo dié gebeure uittroon. Hy hoor God se stem bó die gedruis.  Hy ervaar God se teenwoordigheid ín die gedruis.
  • Hierdie Here bring daarom vir hom hoop, Hy oorwin die magte van chaos in die lewe en die skepping. As Koning is Hy op Sy troon. Aan Hom kan mense hulleself met vrymoedigheid toevertrou. Daarom roep die psalmdigter alle gelowiges op om op die grootheid van God te fokus, om sáám ‘n loflied te sing.

Jesus se heerskappy

En dit is dié dimensie van God se heerskappy wat ons weer nodig het om te hoor in die belydenis van Jesus se hemelvaart.  Die belydenis van die Bybel is dat Jesus met sy hemelvaart as die Seun van God terug gekeer het na Sy troon. Hy regeer weer.  Midde in die chaos wat ons baie keer beleef, gee Hy ons nou, waar ons ook al is, die ervaring van God se teenwoordigheid.

Ek dink ons hoor die boodskap egter moeilik.  Ons hou nie gewoonlik rekening met ‘n teenwoordige Jesus en Here nie. 

Waar is Jesus nou?

Soms is ons eintlik doodgewoon ongemaklik met die hele idee dat Jesus liggaamlik weg is, effens verleë.  En fokus ons op “the next best thing”.  Soos Coenie Burger (Waar is Jesus nou?)  sê, vir die Katolieke is dit die kerk, vir die Charismate is dit die Gees, vir die Protestante is dit die Bybel.  Jesus is weg, maar ons het darem die kerk, die Gees, die Bybel.  Dit is genoeg om ons te laat uithou en aanhou totdat die nuwe hemel en aarde aanbreek.

Maar, dan mis ons ‘n wonderlike vertroostende en inspirerende deel van die evangelie.  Want, die hemelvaart is ‘n wonderlike gebeurtenis, met ‘n blik wat dit vir ons gee op wie Jesus regtig is, en waar Hy nou is, wat ‘n geweldige impak op ons lewens kan hê, as ons maar net die boodskap ordentlik hoor, en vir onsself toe-eien, en daarmee rekening hou in ons alledaagse lewe.

‘n Groot deel van ons misverstand oor die hemelvaart en die betekenis daarvan, het te make met hoe ons oor die hemel dink.

Waar is die hemel? 

Bo, onder, buite? 

Nee, eintlik nie een van die opsies nie, want die hemel is nie ‘n fisiese plek nie, in elk geval nie soos ons fisiese goed ken nie.  Die hemel is ‘n onsigbare deel van die Skepping (Barth).  Dit is die plek van God binne die skepping.  God is nie deel van die skepping nie, maar Hy is in die skepping teenwoordig, maar op ‘n onsigbare wyse.  Die hemel is sy woonplek, ‘n onsigbare dimensie van die skepping vanwaar af God sy heerskappy oor alles uitoefen. Dit is ook hoe Hy oral aanwesig en betrokke kan wees.

Onsigbare dimensie van God

As ons dan in Handelinge hoor dat Jesus sigbaar weg is, dat ‘n wolk Hom weggeneem het, dan moet ons nie dink dat Hy van een fisieke plek na ‘n ander fisieke plek weggeneem is nie – bo of buite of waar ook al.  Hy is in die onsigbare dimensie van God self opgeneem.  Dit word uitgedruk met die wolk, die simbool van God se onsigbare teenwoordigheid, wat Jesus uit die dissipels se sig uit laat verdwyn het.  Jesus is dus in God se teenwoordigheid opgeneem, vanwaar Hy op ‘n ander manier teenwoordig is.

Jesus is na sy Godheid by ons

Jesus is na sy liggaam dus uit die sigbare skepping weg na die onsigbare dimensie van die skepping.  Hy is weer deel van die Goddelike dimensie, binne in die skepping, vanwaar af Hy as deel van die Drie-enige God by ons en by die wêreld betrokke is.  Soos ons in die Heidelbergse Kategismus al 5 eeue bely oor Jesus se hemelvaart: dat Hy “wat sy Godheid, majesteit, genade en Gees betref, Hy nooit meer van ons weg gaan nie” (HK Sondag 18). 

Hierdie wonderlike waarheid sien ons onder andere in die verhale wat Lukas ons in Handelinge vertel, waar dit duidelik is dat die hemel doodgewoon die plek is waar Jesus by God is (Sleeman) en vanwaar Hy betrokke is by wat in die wêreld gebeur.

Jesus se teenwoordigheid in Handelinge

Ons sien die perspektief vele plekke in Handelinge:

  • Met die groot toesprake op Pinksterdag en die oortuigingswerk van die Gees, is dit die Here wat mense byvoeg by die gemeente; Lukas getuig daarvan, omdat dit die enigste manier is om reg te laat geskied aan die groot aantal wat tot bekering kom – Hand 2.
  • Wanneer Stefanus sy toespraak hou en die boodskap van Jesus aan die Jode verkondig, en hulle hul ore toedruk en Hom stenig, is dit Jesus wat Stefanus in die geopende hemel sien – Hand 7.
  • Wanneer Saulus soos ‘n besetene te kere gaan en die dissipels van Jesus vervolg, is dit Jesus self wat aan hom verskyn op die pad na Damaskus en tot bekering lei – Hand 9.
  • En wanneer Petrus die grense begin verskuif en in Judea begin werk, is dit Jesus wat Eneas gesond maak, soos Lukas baie duidelik skrywe – Hand 9:32-35.

Dit is waarom Matteus kan sê dat Jesus by ons kan wees al die dae tot aan die einde, nie net in terme van die Gees nie, nie net in terme van die Woord van God nie, nie net in terme van die kerk nie, maar by ons is as die Here, die Koning, die Christus (Matt 28:20 – onthou EK is by julle al die dae tot by die voleinding), die een wat by God is, en dié God is naby aan ons!

Die Gees vervang nie vir Jesus nie

Ons sien ook in Handelinge dat die Gees nie vir Jesus vervang nie.  Die Gees werk saam met Jesus.  Die Gees voer Jesus se opdragte uit.  Maar die Gees vervang Jesus nie.

  • Wanneer Paulus ‘n groot besluit moet neem, is dit die Gees van Jesus wat Hom keer om verder in Asië in te gaan, waarna hy die gesig kry om Europa te evangeliseer (Hand 16). 
  • Wanneer Paulus in groot aanvegting kom in Korinte, is dit die Here Jesus self wat aan hom in ‘n gesig verskyn (Hand 18) en hom vashou en bemoedig en versterk.

Jesus is intiem betrokke by ons

En reg deur die NT word só oor Jesus gepraat – bv in Hebreërs en Openbaring:

  • Jesus tree vir ons in by die Vader, nou, altyd – Hebr 7:25 (Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree), Rom 8:34 (Hy pleit vir ons).  Soos Coenie Burger sê, Jesus het ons verlos met sy dood en opstanding; Jesus hou ons nou vas met sy hemelvaart en hoëpriesterlike intrede by God vir ons.
  • Hy maak dit moontlik dat ons met die Vader kan praat – Hebr 10:19-25 (ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom … terwyl ons Hom ook a groot priester oor die huis van God het, laat ons tot God nader met ‘n opregte harte en met volle geloofsekerheid … laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou).
  • Hy is die Koning wat tussen die kandelare, die simbole van al die gemeentes, staan en intiem betrokke is by wat in hulle gebeur.  Dit is telkens Hy wat sê wat geskrywe moet word vir die gemeentes, want Hy weet intiem persoonlik presies wat aan die gang is en meer nog, weet presies wat nodig is om hulle getrou te hou aan Homself en die roeping wat Hy vir hulle het – Lees weer die 7 briewe in Openbaring 1-3 uit die perspektief van Jesus se teenwoordigheid en begeleiding:
    • Ek ken julle onvermoeide arbeid – julle het My net nie meer so lief soos in die begin nie – die gemeente van Efese;
    • Ek ken julle verdrukking – bly net getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee – die gemeente van Smirna.

Hy is immers die hoof van die kerk, nou, vir altyd – soos Paulus ons vele kere herinner: Ef 1:15-23; Kol 1:1-20:5.

Jesus is ons grootste Vriend

Jesus is met sy Hemelvaart op ‘n plek vanwaar Hy op alle plekke kan werk, die onsigbare deel van die skepping, die hemel, die plek van God.  Hy hou ons vas.  Hy lei ons.  Hy transformeer die wêreld deur ons.

En daarmee kan en moet ons rekening hou.  Ons moet ook fokus op die kerk, die Gees, die Bybel, ons roeping, maar veral ook op Jesus, die Here, die Christus, die Hemelvaarder, die Hoëpriester, die een wat ons vashou en vir ons intree, en ons die gawes gee wat ons nodig het om vir Hom te werk.

Hy is werklik ons grootste Vriend.  Hy is werklik teenwoordig, so naby soos die hemel, en dié is so naby soos God.

hemelvaart

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment