Skip to main content

Volhard – Jakobus 5:7-11

Jakobus fokus op die praktiese Christelike lewenswandel. Hy moedig gelowiges aan om te fokus op die praktyk van hulle geloof. Hulle moet geestelik volwasse word om te kan volhard in die geloof.

Elke uitdaging wat hulle beleef, bou hulle geloof, help hulle om te volhard:

sodat hulle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks tekort skiet nie.” (Jak 1:2-4).

Uit die brief lei ons af dat die meeste van die gelowiges arm was. Daar was enkele rykes in hulle geledere, maar Jakobus is nie baie positief oor hulle nie. Hy spreek die rykes baie skerp aan om nie onderskeid te maak tussen dié wat belangrik is en dié wat in oë van die samelewing onbelangrik is nie. En hy brei uit oor hoe hulle die armstes van die armes kan help (Jak 2:13-17).

Maar almal – ryk en arm – word aangemoedig om nie deur wêreldse invloed meegesleur te word nie, want dit sal hulle almal laat uitsak uit die Christelike lewe. Of dit nou is vanweë beproewings (Jak. 1:2, 12), of versoekings (Jak. 1:13), of uitbuiting (Jak. 1:19-21; 2:6; 5:4), of vooroordele (Jak 2:2) of onderlinge konflikte (Jak 4:1).

Hulle moet hulle nie daardeur laat afsit nie. Rykes moet armes nie blameer nie. Armes moet rykes nie blameer nie. Die omstandighede waaronder hulle lei moet hulle nie afskrik om die Here voluit te dien nie.

Die uitdagings wat daar maar altyd in ‘n geloofsgemeenskap is, moet ook nie die skuld kry en jou laat kwaad praat van ander (Jak 4:11) of laat kla oor ander nie (Jak 5:9).

Inteendeel, hulle moet soek vir die vreugdes wat God gee in beproewing (Jak 1:2,12) en eerder die talle kere wat Hy juis hulle gebede verhoor het, vier (Jak 1:5-8). God se vreugdes en sy gebedsverhorings sal hulle help om te volhard beide in vasberade gehoorsaamheid aan die Here en in voortdurende gebed.

Jakobus moedig die geloofsgemeenskap dus aan tot volharding in die geloof. In hoofstuk 5 gee Jakobus vier perspektiewe op God wat hulle hierin moet help.

Jakobus 5:7-11

7Wees geduldig, broers, tot met die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag met geduld op die waardevolle opbrengs van die aarde tot die vroeë en laat reën geval het. 8Wees dan geduldig, staal julle harte, want die wederkoms van die Here is naby. 9Moenie oor mekaar kla nie, broers, sodat julle nie geoordeel word nie. Kyk, die Regter staan voor die deur. 10Neem as voorbeeld van lyding en geduld, broers, die profete wat in die Naam van die Here gepraat het. 11Kyk, ons beskou hulle wat volhard as geseënd. Julle het gehoor van Job se volharding, en julle het die Here se einddoel met hom gesien, en dat die Here vol medelye en ontferming is.” (BDV)

Die Here kom weer as Regter

Die eerste perspektief op God is die feit dat die wederkoms van die Here, dit is Jesus, naby is. Dat hulle hul harte met dié gedagte kan staal. Dit bly die boodskap regdeur die NT dat die “dag van die Here” naby is. En dat dit nie net die wenstreep van ons geloofsreis is nie, maar dat dit die vervulling van al God se beloftes sal inhou.

Die tweede perspektief op God is die feit dat dié Here, die Jesus wat ons aanbid, die Regter is. Jesus staan trouens voor die deur (vgl Openb 3:20)! Hy is die ene ore, gereed om in te tree en reg te stel.

Dit is ‘n primêre rede waarom ons kan uithou en aanhou as dinge swaar gaan. Veral as ons aan onreg en vervolging blootgestel word. Jesus weet. Jesus kom. Jesus is die Regter.

Dit is waarom ons kan ophou om te kla oor ons medegelowiges, sê Jakobus, want die Regter kom, ook vir die geloofsgemeenskap. Die oordeel van God begin by die kerk, nie by die wêreld nie, soos Petrus al vir ons geleer het:

Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?” (1 Pet 4:17).

Hoekom só praat oor Jesus in die geloofsgemeenskap? Hoekom die feit dat Jesus kom as Regter beklemtoon?

Want die Here Jesus wil hê dat ons geduldig sal bly en enduit volhard tot met die wederkoms sonder om te verslap, sonder om onder te gaan óf deur die uitdagings in die wêreld, óf deur die uitdagings binne die geloofsgemeenskap.

Die Here is vol medelye en ontferming

Die derde en vierde perspektief op die Here, op Jesus, is die feit dat Hy reeds in die OT bewys het dat Hy vol medelyeen ontfermingis. Onthou, Jesus tree in die NT op soos Jahwe in die OT.

Die Here het hierdie medelye en ontferming geïllustreer in die OT met die verhale van beide die profete sowel as in die verhaal van Job.

Neem dus as voorbeeld van lyding en geduld die profete, sê Jakobus. Hulle het volhard om in die Naam van die Here te praat in hulle boodskappe aan die geloofsgemeenskap van hulle tyd, sowel as in hulle boodskappe aan die nasies.

En kyk, sê Jakobus, “ons beskou hulle wat volhard as geseënd.” Hulle het sonder om te huiwer vasgestaan in die verkondiging van God se boodskap.

En ten spyte van die moeilike tye wat hulle beleef het, het hulle enduit getrou aan God gebly. Daarom is hulle geseënd. Nie gelukkig nie. Geseënd. Hulle het die guns van God geniet. Hulle het geweet dat hulle Hom tevrede gestel het, en dit was vir hulle genoeg. Daarin het hulle beleef dat God vol medelye en ontferming is.

Maar die grootste voorbeeld hiervan, sê Jakobus, is Job, veral as ‘n mens kyk waar hy uitgekom het aan die einde van sy lewe: “Julle het gehoor van Job se volharding, en julle het die Here se einddoel met hom gesien.” Dit is in sy lewe wat julle kan raaksien: “dat die Here vol medelye en ontferming is.”

Job se volharding en die Here se medelye en ontferming. Inderdaad.

Wat leer ons by Job oor volharding?

Volharding in gehoorsaamheid

In die eerste plek, dat volharding met gehoorsaamheid ten spyte van enigiets te make het.

Job het aanvanklik vier tragedies beleef. Die tragedies begin op dié dag wat Job volgens sy gewoonte offers vir sy kinders gebring het (Job 1:5), dié dag wat dit die oudste seun se beurt was om fees te vier (Job 1:13). Dit moes waarskynlik bygedra het tot Job se smart. Sy offers kon die tragedie nie voorkom nie:

  • Eerstens verloor hy sy osse, donkies en van sy slawe deur die toedoen van die aanvallers uit Skeba, waarskynlik Arabiere (Job 1:15).
  • Tweedens verloor hy sy kleinvee en hulle wagters deur ‘n natuurramp, weerlig wat alles aan die brand slaan (Job 1:16).
  • Derdens verloor hy sy kamele en die laaste klomp van sy slawe deur drie groepe Galdese aanvallers (Job 1:17), waarskynlik die voorloper stamme wat uiteindelik deel van die Galdeërryk van Nebukadnesar gevorm het). Die Griekse LXX vertaling vertaal dit net met “perderuiters”.
  • Vierdens verloor hy sy kinders, ook deur ‘n natuurramp, waar die wind só sterk gewaai het, dat die huis van alle kante af op hulle ingeval het. Al tien kinders is dood (Job 1:18-19).

Die enigste reaksie wat uit Job se mond kom, is die volgende:

Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek daarheen terugkeer. Die Here het gegee, en die Here het geneem: die Naam van die Here sy geloofd! By dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie.” (Job 1:21-22).

Geen wonder dat God by Satan spog oor die vroomheid van Job nie. Ten spyte van die verlies wat die Satan vir Job laat lei het, het Job nie teen God gedraai nie. Hy is, só beskrywe die Here hom:

’n Man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad; en hy volhard nog in sy vroomheid, alhoewel jy My teen hom opgehits het om hom te vernietig sonder oorsaak.” (Job 2:3).

Job is vroom (tâm: pure, perfect, “honest inside and out” – The Message), opreg (jâshâr: right, just, “a man of his word” – The Message), godvresend (jerê’ êlôhîm– “ontsag vir God”), en kwaadafwykend (sâr mêrâc– “wegdraai van die kwaad”). Só sê die Here van hom.

Selfs as Job uiteindelik met siekte getref word, kom daar nie ‘n verkeerde woord oor sy lippe nie:

Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie.” (Job 2:10).

Nie dat dit sommer só ‘n siekte was nie. Die “pynlike swere” was waarskynlik een of ander vorm van velsiekte. Uiterlik het dit gemanifesteer met rowe en barste wat aanhoudend geëtter het en waaraan wurms gesmul het (Job 7:5). Sy vel het swart geword en hy het gegloei van koors (Job 30:30). Hy het sleg geruik en sy vrou het gewalg aan sy asem (Job 19:17).

Job volhard egter in alles in sy ontsag vir God en sy gehoorsaamheid aan die pad wat die Here in sy alwysheid kies, al weet Job nooit enigiets van die hemelse gesprek tussen God en die Satan nie.

Dit is hoe gehoorsaamheid lyk. Ook in jou vasgryp aan God se beloftes.

Volharding in gebed

In die tweede plek leer ons by Job dat volharding ‘n gebedsaak is.

In drie rondtes pak sy vriende hom om die beurt.

  • Elifas is die vriend wat uit sy eie persoonlike ervaring praat en dink dat dit vir alle ander mense ook so werk: “Dink daaroor na: het iemand ooit onskuldig te gronde gegaan? Waar is regverdiges ooit uitgewis? Ek het ondervind: dié wat onreg plant en moeilikheid saai, oes dit ook. Deur die toorn van God gaan hulle te gronde.” (Job 4:8-9). Job kry dus by hom geen simpatie nie. Job moet iets verkeerd gedoen het. Anders sou dit nie so sleg met hom gegaan het nie.
  • Bildad is die man wat werk met die tradisie, maar op ‘n brutale manier. Hy probeer Job uit die tradisies en uit die skepping verkeerd bewys. Die tradisie is duidelik: “God verwerp nooit die opregte nie … en staan ook nie dié by wat onreg doen nie.” (Job. 8:20). As dit dus lyk asof God jou verwerp het, Job, dan moet daar by jou een of ander onreg wees.
  • Sofar is die intellektueel wat effe uit die hoogte uit vir Job probeer reghelp: “As jy jou verstand reg wil gebruik … kan jy jou kop sonder skaamte oplig.” (Job 11:13,15).

Job antwoord telkens vir elkeen van hulle, maar soos die gesprek vorder kom jy agter dat hy eintlik geen behoefte aan hulle oppervlakkige oorsaak-en-gevolg teologie het nie. Hy wil eerder met die Here praat.

Ek wil met die Almagtige praat

En dit is wat Job van hoofstuk 12 meesal doen. Hy vermaan hulle om liewer stil te bly (Job 13:5):

Ék sal met die Almagtige praat, en ek verlang om te pleit by God.” (Job 13:3).

En dan voeg hy die daad by die woord en begin uitvoerig sy saak by die Here self bepleit:

“Trek u hand weg van my af, en laat die skrik vir U my nie beangstig nie. Klaag dan maar aan, en ék sal antwoord; of ek sal spreek, en gee U my antwoord. Hoeveel is my ongeregtighede en sondes; maak my my oortreding en sonde bekend.” (Job 13:20-23).

En daarin volhard hy, bevestig ook steeds sy vroomheid (Job 31), totdat die Here self van hoofstuk 38 af die stilte verbreek en met medelye en ontferming met Job begin praat.

Ons moet God se bedoelinge sigbaar maak

Maar dit is interessant dat God se antwoord eintlik ‘n vraag is:

Wie is dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat hy geen insig het nie?” (Job 38:2).

‘n Vraag waarop Job uiteindelik moet antwoord:

Wie is dit wat u bedoelinge wou dwarsboom sonder dat hy die insig gehad het? Ek het oor dinge gepraat wat ek nie begryp het nie.” (Job 42:3).

God se bedoelinge moet dus in ons lewe sigbaar raak. Die vraag na geregtigheid is nie ‘n vraag wat ‘n aparte antwoord nodig het nie. Dit is ingebou in God se bedoelinge. Hy staan daarvoor in. En ons kan dit in ons lewe ervaar soos hy onder andere sy beloftes op sy tyd vervul.

Ons moet God toelaat om God te wees

Ons kan egter God se bedoelinge dwarsboom deur op meer insig aanspraak te maak as wat vir ons beskore is. Iets waarvoor ons altyd katvoet moet wees. Ons moet God toelaat om God te wees en saam met Hom vreugde vind in sy werke, en uiteindelik in God self, in die verhouding met Hom.

Die dieptepunt van God se vraag aan Job en sy antwoord daarop is dus dat ons agterkom dat wysheid nie lê in of iemand reg of verkeerd is vanuit ‘n menslike perspektief nie. God bevraagteken Job nie om hom reg te bewys of sy vriende verkeerd te bewys nie. God bevraagteken Job om hom te leer dat wysheid alleen in God opgesluit lê (Stuart).

Wat is die sin van vroomheid dan?

Wel, as ‘n mens werk met die idee dat wysheid net by God alleen te vinde is en in sy bedoelinge, dan moet Job se lewe God se bedoelinge openbaar en sigbaar maak. Job se vroomheid, al dan nie, kan óf God se bedoelinge sigbaar maak óf verberg. En dít is die sin en betekenis van ons lewe. Ons maak God se bedoelinge sigbaar of ons verberg dit.

Dit is waarom dit so massief belangrik is om te besef dat wysheid begin by die ontsag vir en dien van die Here. Die wysheid wat van God kom, trouens wat God in sy wese is, leer jou om die regte dinge te doen, en die verkeerde dinge te vermy. Reg en verkeerd is altyd iets wat God as referent het.

So maak ons God sigbaar, presies wat God in die begin bedoel het met die lewe van elke enkele mens, om sy beeld, sy verteenwoordiger te wees.

Hoe kry ons dít reg?

In ‘n verhouding met God. Jakobus skryf vroeër in sy brief:

As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.” (Jak 1:5).

Dit maak eintlik ten diepste nie saak wat jy en ek as reg of verkeerd beskou nie. Dit maak saak wat God beskou as reg of verkeerd. Dit is sy openbaring van Homself en sy wil vir die lewe wat belangrik is. En ons het nie daardie wysheid in pag nie. Ons kan dit net by God hoor. In sy Woord. Net Hy kan vir die waarheid van sy wysheid geraadpleeg word.

God is vol medelye en ontferming

God se medelye en ontferming oor Job blyk egter uiteindelik duidelik. Hy stel Job in die gelyk teenoor sy vriende en beskrywe Job as sy dienaar. Die Here is kwaad vir Elifas en sy twee vriende Bildad en Sofar en beveel hulle om Job as priester te gebruik om deur offers in die reine te kom met God, en sy vergifnis te ontvang. Twee maal word gesê dat hulle nie die waarheid oor God gepraat het nie, maar Job wel.

Hulle doen wat die Here vra en word vergewe ná Job vir hulle gebid het. Job word dus die voorbidder van formaat soos dit in die res van die Bybel ‘n neerslag vind.

Die Here verander Job se omstandighede

Die Here verander ook Job se omstandighede en gee vir hom twee keer soveel as wat hy gehad het, en onthou, Job was verstommend ryk om mee te begin – veertien duisend stuk kleinvee in plaas van sewe duisend, ses duisend kamele in plaas van drie duisend ensomeer!

Sy materiële voorspoed word geëggo in die herstel van sy familie en sosiale verhoudinge:

al sy broers en susters en vriende wat hom vroeër geken het, het gekom en saam met hom in sy huis geëet. Hulle het hulle medelye kom betoon en hom getroos oor al die rampe wat die Here oor hom gebring het.” (Job 42:11).

Hy het ook duur geskenke van hulle gekry.

Job se vrou se lot word natuurlik ook verander, omdat dié nuwe stel van tien kinders waarskynlik by haar was. Hy het immers geen ander vrou of byvrou gehad nie. Dus, hoewel haar naam nie genoem word nie, deel sy in die lotsverandering. Hulle einde was selfs beter as hulle begin:

Die Here het die laaste deel van Job se lewe voorspoediger gemaak as die eerste.” (Job 42:12). Trouens: “Job het nog honderd en veertig jaar gelewe. Hy het sy kinders en kindskinders tot in die vierde geslag gesien.” (42:16).

Hy was dus ‘n groot-groot-groot-grootoupa voor sy oë toegemaak is! Geen wonder die boek sluit af met die opsomming:

Hy het ‘n vol lewe gehad.

Volharding bring lotsverandering

Hierdie lotsverandering van Job is dus waarskynlik die rede waarom Jakobus Job as ‘n voorbeeld van volharding vir ons voorhou. En waardeur hy God se medelye en ontferming illustreer.

Job se verhaal wys vir ons daarom nie net iets van Job nie, maar van die karakter van God self. Geseënd is dié, sê Jakobus, wat ten spyte van hulle pyn en lyding, ten spyte van die onreg wat hulle moet verduur – soos Job – steeds geduldig volhard in hulle verwagting van die koms van die Here en vir die vervulling van sy beloftes. Want hulle sal – soos Job – ervaar dat die Here ryk is aan medelye en ontferming.

Volhard in gebed en gehoorsaamheid

Ek wil jou dus aanmoedig om te volhard in gebed en gehoorsaamheid. In terme van ons tema vir hierdie Pinkster, om te volhard in gebed vir die beloftes wat die Here op jou hart lê, en tot in die fynste detail gehoorsaam te wees aan die Here van die beloftes.

Ek wil jou aanmoedig om te volhard ten spyte van die uitdagings wat ons op die pad met God se beloftes sal ervaar. Totdat jy die reën ervaar, die reën waarop die landbouer met geduld wag.  Sodat die waardevolle opbrengs van die aarde tot sy reg kan kom met die vroeë en laat reën geval.

Wees dan geduldig, staal julle harte”, en neem Job as voorbeeld van volharding. “Julle het die Here se einddoel met hom gesien.” Die Here sal net soos met hom, “vol medelye en ontferming” wees vir julle.

Soos die Here se belofte my geïnspireer het vir hierdie Pinkster:

En my God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in Christus Jesus.” (Fil 4:19).

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.