Skip to main content

Lukas 1:67-80 God bevry ons om Hom sonder vrees te dien

NGK Somerstrand 20 November 2022 | Kerk en Youtube 09:00

Youtube

English Translation

VERWELKOMING EN AANKONDIGINGS

TOETREDE

Lied 354:1-3  O Christus, ons verlange (staan)  Gemeente gaan sit.

Lied 333 Groot is die Heer. Magnificat! (Koor)

Lied 329 Want so lief het God die wêreld gehad (Gemeente – sit)

VOTUM EN SEËNGROET

LOFSANG

Lied 319:1-3  Lofwaardig  is ons God, die Heer (Lofsang van Sagaria) (sit)

Koor sing v 1 en dan gemeente v 1, 2 en 3

Vonkk 42 Jubilate! Loof die Here (Ps 100) 2x (staan)

KINDERTYD

1 Ons storie begin meer as 2 000 jaar gelede in die klein dorpie Nasaret, in Galilea.

2 Daar het ‘n jong vrou met die naam Maria gebly. Sy sou binnekort trou met ‘n man wie se naam Josef was. Hy was ‘n bouer.

3 Eendag, terwyl Maria besig was in haar huis, het die engel Gabriël aan haar verskyn. Gabriel het ‘n spesiale boodskap van God gehad.

4 “Moenie bang wees nie, Maria. God het jou gekies om ‘n mamma te word. Jy sal geboorte skenk aan God se Seun, en sy Naam sal Jesus wees.

5 Jesus sal goed wees vir al God se mense. Hy sal vir altyd Koning wees. Maria was baie verbaas dat God haar gekies het om die mamma te wees van Jesus, God se Seun.

6 Die engel Gabriël het gesê: “Onthou jy jou niggie, Elizabeth? Al is sy al baie oud en al het sy nog nooit enige kinders gehad nie, gaan sy nou oor drie maande self ‘n baba kry. Dit mag onmoontlik klink, maar daar is niks wat God nie kan nie doen nie!”

7 Toe het die engel vertrek.

8 Kort daarna het Maria vir Elizabeth gaan kuier

9 “Hallo niggie Elizabeth. Ek is so bly om jou weer te sien,” sê Maria. “Kom binne, ek het ‘n wonderlike storie om te vertel,” antwoord Elizabeth.

10 “My man, Sagaria, is gekies om te werk by die tempel. Terwyl Sagaria besig was om te bid in die tempel het ‘n engel skielik aan hom verskyn. Die engel het gesê: ‘Moenie bang wees nie, Sagaria! God het jou gebede verhoor, en jou vrou Elizabeth sal vir jou ‘n baba gee. Jy moet hom Johannes noem.’”

11 “Sagaria het dit moeilik gevind om dit te glo en gesê: ‘Maar hoe kan dit moontlik wees? Ek en my vrou is te oud.’ Die engel het geantwoord: ‘Glo God se belofte! Maar, omdat jy twyfel oor wat ek jou vertel, sal jy nie weer kan praat totdat die baba gebore is nie.’”

12 Elisabet het verduidelik: “Vandat Sagaria teruggekeer huis toe, kon hy nie praat nie. In plaas daarvan skryf hy boodskappe op ‘n kleitablet.” Maria het vir haar niggie gesê: “Ek is so bly jy gaan ‘n baba kry! Ek het gekom om ook vir jou wonderlike nuus te bring.”

13 Nadat Maria haar vertel het van die baba wat God ook vir haar belowe het, het hulle albei vir die Here dankie gesê en liedjies gesing vir God. Maria het drie maande lank gebly by haar niggie en toe na haar huis teruggekeer.

14 Gou het die tyd aangebreek vir Elizabeth om haar baba te kry, en sy het geboorte gegee aan ‘n seun. Hoe trots moes Sagaria nie gewees het om ‘n seun te hê wat na hom vernoem sou word nie!

15 Maar Sagaria het vir hulle ‘n verrassing gehad. Hy het op sy kleitablet geskryf dat die seun se naam Johannes sou wees. Skielik kon Sagaria weer praat, en hy het ook begin om vir God te dank.

16 Die kindjie, Johannes, het gegroei en sterk geword. Toe hy groot was, het hy in die woestyn gaan bly tot op die dag wat die Here deur hom met die Jode begin praat het. Hy het die naam Johannes die Doper gekry.

GEBED

SKRIFLESING EN PREDIKING

Agtergrondprent van www.LumoProject.com

Vyandige wêreld

Dit is ‘n vreemde en vyandige wêreld waarin ons vandag leef. Die aanslag teen ons Christelike waardes verhoog by die dag. In die onderwys word veral ons kinders aan uiters negatiewe dinge blootgestel.

Hoërskool Vishoek in die Kaap was onlangs in die nuus met die konsultant (Asanda Ngoasheng) wat diversiteitsopleiding gegee het – sonder dat die onderwysers teenwoordig was – wat in die proses die Christelike godsdiens aangevat en belaglik gemaak het. Sy het aangehaal uit ’n gedig van Koleka Putumab (en verskoon my dat ek dit aanhaal):

“for all we know the disciples could have been

queer, the holy trinity some

weird twisted love triangle

and the Holy Ghost transgender.”

Dit is verstommend dat so iets enigsins moontlik is in ons land. Dat in ‘n sessie wat gemik is daarop om aanvaarding van diversiteit te bevorder, juis die teenoorgestelde gedoen word. Dat wat heilig is vir miljoene mense in ons land, die Drie-enige God wat ons dien, as ‘n “weird twisted love triangle” beskryf word, en die Heilige Gees as “transgender.”

Ek lees die volgende dag dat die onderwys departement nou unisex toilette oorweeg sodat alle genders nou dieselfde badkamers kan gebruik. Vreemd dat met twee genders aparte badkamers gebruik word, soos dit regdeur die wêreld gedoen is tot nou, maar met veelvuldige genders almal in een badkamer geakkommodeer word. Vroeër was aparte badkamers ‘n beskermingsmaatreël. Dit het mense veilig laat voel. Nou word daar vir geen beskerming en geen veiligheid nie beplan.

Die spoed waarteen dinge vandag verander, maak ‘n mens duiselig. Die tradisionele Bybelse oortuigings oor God en oor gender word nie net verander nie, maar aanhangers van die Bybelse oortuigings word as vyande beskou, mense wie se idees onderdruk moet word.

Ons tyd is nie uniek nie

Maar, ons dink te maklik dat ons in ‘n unieke tyd leef. Gelowiges het nog altyd te kampe gehad met wêreldse idees wat ‘n impak maak op hulle geloof en lewenstyl. Daar was nog altyd vyandskap tussen die kinders van die Here en die wêreld.

Ook in die tyd van die NT.

Ons fokus vandag op die loflied van Sagaria, die pa van Johannes die Doper, en oom van Jesus, die Verlosser van die wêreld.

Vyandige Romeine

In Sagaria se tyd het die Romeine die Jode hardhandig onderdruk en hulle manier van lewe gehaat.

  • Die Jode het net tot Een God gebid en alle ander gode as afgode beskou. Die Romeine het tot baie gode gebid en daarom aanstoot geneem aan die Joodse monoteïsme.
  • Die Jode het die keiser as ondergeskik aan God gereken wat hulle in konflik gebring het met die Romeine wat die keiser as god geëer het.
  • Die Jode het die besnydenis as verbondsteken gehandhaaf. Die Romeine het dit gehaat en beskou as soortgelyk aan kastrasie, ‘n verminking van die liggaam.
  • Die Jode het met ‘n sewe-dag week gewerk waarvan die sewende dag, die sabbatdag, die hoogtepunt was, want dit was die dag wat God as rusdag beveel het. Die Romeine het met ‘n agt-dag week gewerk waarvan die agste dag die hoogtepunt was, die dag waarop veral handel gedryf is, en politiek bedryf is.
  • Die Jode het hulle land as ‘n gawe van God beskou. Die Romeine het egter die Beloofde Land van die Jode as deel van die Romeinse ryk beset reeds in die 2de eeu vC en Judea as ‘n Romeinse provinsie verklaar, interessant genoeg waarskynlik in dieselfde jaar as wat Jesus gebore is, 6 vC.
  • Die Jode het die huwelik beskerm en alle seks buite die huwelik verwerp. Die Romeine het immoraliteit goedgepraat, iets waaroor Paulus skrywe in Romeine 1.
  • Die Jode het ‘n streng dieet gehandhaaf waarin varkvleis en allerhande seekos taboe was, omdat hulle aan God gehoorsaam wou bly. Die Romeine het geen dieet reëls gehad nie en die eng Joodse lewe geminag.

‘n Mens kan jou indink in hoeveel daaglikse konflik daar was tussen die Joodse manier van lewe en dié van die Romeine. Dit was aanmekaar en aanhoudend.

Sagaria se Loflied

Dit is in dié situasie wat die boodskap aan Sagaria gebring word dat die beloftes van bevryding wat aan die voorvaders gegee is in sy tyd vervul sal word. Hy sal ‘n seun op sy oudag kry wat die voorloper van die Verlosser sal wees, Johannes die Doper.

In sy blydskap oor sy seun vervul die Heilige Gees vir Sagaria en gee hom insig in wat God in hierdie situasie van onderdrukking gaan doen. En dit raak ‘n profesie – ‘n beskrywing van wat God gaan doen – aan sy mense en in die verlengde daarvan ook vir ons.

Ons lees in Lukas 1:67:

67Sagaria, sy pa, is hierna met die Heilige Gees vervul en het geprofeteer en gesê:

Sagaria begin met ‘n lofprysing – daarom word dit deur die eeue die Benedictus genoem.

68“Lofwaardig is die Here, die God van Israel,

want Hy het omgesien na sy volk

en hulle bevryding bewerkstellig.

In hierdie situasie van uiterste konflik, waar die Romeine hulle vyande is, hulle onderdruk met ‘n vreemde regering, hulle minag vir die besnydenis, aanstoot neem aan hulle godsdiens waarin hulle net God en Hom alleen wil aanbid, hulle waardes rondom die huwelik en lewenstyl in twyfel trek, wat hulle verbintenis aan God wil verbreek, kom die oortuiging van die Gees: “God het omgesien na sy volk. God het hulle bevryding bewerkstellig.

En waar kom dié verlossing vandaan?

69‘n Kragtige verlossing het Hy vir ons bewerk

uit die nageslag van Dawid, sy dienskneg,

70soos Hy reeds lank gelede

by monde van sy heilige profete beloof het –

71verlossing van ons vyande

en uit die hand van almal wat ons haat.

Maria het nou al die goeie nuus vir Sagaria en sy vrou Elisabet gebring dat die Messias, Jesus, uit haar, uit die nageslag van Dawid, gebore sou word. En Sagaria omarm dié boodskap, selfs al is Maria nog net swanger met Jesus.

Die blote feit dat Maria swanger is met die Verlosser van die wêreld is al genoeg om vir Sagaria te oortuig dat die verlossing van hulle vyande bewerk is. Al sien hy nog net ‘n swanger vrou, hy weet die verlossing is reeds bewerk.

Hoekom?

Want dit is die beloftes wat vir Israel al sedert hulle ontstaan as ‘n nasie met Abraham se verkiesing hoop gegee het.

72Dit het Hy gedoen om ontferming aan ons voorvaders te bewys

en sy heilige verbond in gedagte te hou,

73die eed wat Hy teenoor ons vader Abraham gesweer het,

Met watter doel?

sodat ons, 74gered uit die hand van ons vyande,

Hom sonder vrees sou dien,

75en al ons dae voor Hom

in heiligheid en geregtigheid kan leef.

Dit is die insig wat Sagaria nodig het om sonder vrees te kan leef. Die besef dat God ingetree het; dat God verlossing bewerk het; dat God ‘n toekoms skep waar hulle los kan kom onder die swaar hand van hulle vyande om God sonder vrees te kan dien, sodat die volk van God al hulle dae voor God in heiligheid en geregtigheid kan leef.

En hy bring die boodskap vir almal wat in die verwagting leef dat God sy beloftes van verlossing sal vervul; dat God hulle van hulle vyande sal bevry, sodat hulle kan leef soos God hulle beveel het, en nie aanmekaar verleë hoef te wees oor wie hulle is en hoe hulle God dien. Dit is na alles hoe God wil hê dat hulle moet leef. Heilig en in geregtigheid – in die regte verhouding met God self.

En dan kom die verdere insig dat sy seun deel van hierdie boodskap gaan wees, want Johannes die Doper gaan die voorloper, die wegbereider, vir die Messias wees.

76En jy, kindjie, profeet van die Allerhoogste

sal jy genoem word,

want jy sal voor die Here uitloop

om sy paaie gereed te maak,

O watter voorreg om voor die Here uit te loop en die paaie vir Hom gereed te maak!

Maar, dan verskuif Sagaria se fokus. Hy skuif van die vyande van buite, die Romeine, na die vyande van binne, die sonde, want dit is waar die verlossing begin.

Johannes, sê Sagaria, word geroep as voorloper om die Here se paaie gereed te maak:

77en om sy volk in te lig dat hulle verlos kan word

deur die vergewing van hulle sondes,

78danksy ons God se innige ontferming,

Daarmee gee Sagaria erkenning aan die feit dat die rede vir die onderdrukking van die Romeine in hulle eie afvalligheid lê deur die eeue heen. Dit is weens hulle sonde dat die straf van God ingetree en hulle land aan die oorheersing van vreemdes blootgestel het.

Die volk het dus die vergewing van hulle sondes nodig om God se ontferming te kan beleef. Want dit is deur ‘n verhouding met God wat herstel is:

waardeur die môreson uit die hoogte oor ons sal opkom,

79om te skyn oor diegene wat hulle in die duisternis

en in die skadu van die dood bevind,

en om ons voete op die pad van vrede te plaas.”

Hulle voete kan net op die pad van vrede geplaas word as hulle eie skuld vergewe is en hulle vry sal raak om in heiligheid en geregtigheid voor God te kan lewe.

God kom dus om hulle te leer hoe om uit die duisternis van die sonde, “die skadu van die dood” te beweeg na die “pad van vrede”, en hulle in die lig van die Môreson, ‘n beskrywing van die Here Jesus (Mal 4:2; 2 Pet 1:19), kan lewe.

Vrede beskryf hier die kalmte van hart wat God bring, en die krag van oortuiging om sy wil te doen in die lewe.

En Lukas sluit dié loflied van Sagaria af met die mededeling dat presies wat Sagaria geprofeteer het, toe gebeur het:

80Die kindjie het gegroei en sterk geword deur die Gees. Hy het in die woestyngebiede gewoon totdat hy in die openbaar voor Israel begin optree het.

Maar let op, dat sy openbare bediening eers gebeur op die tyd wat God bepaal. Daar is vir hierdie voorloper ‘n tyd van voorbereiding nodig soos dit ook was met heelwat ander Godsfigure, Moses en Dawid in die OT, en in die NT, Jesus en Paulus.

Laat God jou reaksie bepaal

Ons raak te maklik moedeloos as ons van vyandigheid lees teenoor ons geloof en waardes. Ons het niks te vrees van die wêreld nie. Ons weet nog beter as Sagaria dat Jesus verlossing gebring het. Nie net van ons sondes nie, maar ook van ons vyande.

Ons raak ook te maklik self vyandig en reageer uit ‘n verontwaardigde posisie. Dit help nie om mense agter hulle rug of by ‘n braaivleisvuur sleg te sê nie. Dit bereik niks nie.

Daar is maar net een manier en dit is om in die krag van God by die waarheid te bly. Om die roeping wat die Here vir jou het, uit te voer. Om Hom toe te laat om jou reaksie te bepaal.

Dit kan egter nie in die geheim gedoen word nie. Waar ook al jy invloed het, dáár moet die waarheid verkondig word.

Om dit te kan doen, is daar drie dinge uit die gedeelte wat vir my uitstaan.

1. Die oorheersende indruk van hierdie gedeelte is vir my die leidende rol wat God deur sy Heilige Gees speel in die praktyk en roeping van elkeen van die gelowiges wat hier genoem word se lewens. Hy bring vernuwing en verandering.

Jy het dus nodig om jou oor naby die mond van God te sit om te hoor wat Hy sê, watter sake Hy op jou hart lê, en te wag op die tyd wat Hy vir jou wys. Onthou, die profesie is gemaak toe Jesus nog ongebore was, en Johannes die Doper ‘n pap babatjie.

2. Wat ook opval, is dat Jesus voor sy geboorte al die Lig genoem. Die lig wat die pad wat ons loop, sal bepaal. Jesus is die anatolê, die hemelse lig, wat – soos Johannes ook in sy Evangelie se proloog, hfst1, sal skryf – alles verander. Jesus is ons Leidsman. Niemand anders nie.

Hy lei ons deur sy Woord en sy Gees. Jy kan nie bekostig om ‘n dag sonder die Woord en die Gees se leiding deur te bring nie.

3. Die gedeelte laat my ook besef dat daar ‘n unieke pad is wat Jesus vir elkeen van ons het, waar ons in die lig lewe wat Hy oor ons pad gooi. En dat dit ons strewe moet wees om alles wat ons doen doelbewus in sy lig te bring.

Vrede het nie in die eerste plek te make met die afwesigheid van stryd nie, maar het te make met die bewussyn dat ons in God se wil (lig) lewe. God se lig rig ons voete na die pad van vrede. Om heilig en opreg voor Hom te lewe.

Dink vandag ná oor die unieke pad waarop die Here jou gelei het van jou geboorte regdeur al die verskillende stasies op jou lewensreis, hoe lank of hoe kort jy ook al van sy hand in jou lewe bewus is.

Vrede lê in die aanvaarding van jou rol as voorloper of verlosser, by wyse van spreke: soos Johannes, die Doper of soos Jesus, die Christus, die een wat voorberei, of die een wat bevry. Uiteraard net in die voorbeeld daarvan in hulle lewens, nie in die detail daarvan nie.

Waarheen is die Here tans besig om jou te lei?

Dink ook na oor die vrede waarvan Sagaria hier praat. Dit is beide ‘n kalmte van hart wat God bring, en die krag van oortuiging om sy wil in die lewe te doen.

Dit is hoe die Here jou lei. Hy sit jou voete op die pad van vrede – waar jy presies sal weet wat Hy deur jou wil doen, en waar en wanneer die regte plek en tyd daarvoor is.

TOEWYDING

GEBED

DANKOFFERS

Vonkk 396:1,2,4 Ons behoort nie aan onsself nie. Ons behoort aan U.  (Koor)

SLOTLIED

Vonkk 432:1-3  Kom ons loof die Hemelkoning (staan)

RESPONS

Lied 228 Halleluja!

 

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.