Skip to main content

Van Gabbata na Golgota – Johannes 19:17-27

Daar is drie reise of bewegings opgesluit in die boodskap van Johannes 19:17-27.

Die reis van Gabbata na Golgota

Die eerste beweging is die letterlike reis van Gabbata na Golgota, van die huis van Pilatus na die kruis van Jesus, van die regsverydeling van die mensdom na die reddingsdaad van God self.

Die reis van Gabbata na Golgota begin, van Pilatus se plek, die “Klipplaveisel”, na Jesus se kruisiging, die “Kopbeenplek”.

  • Gabbata was ‘n plek wat ‘n mooi plaveisel van klip as vloer gehad het, ‘n teken van beskawing, van reg en orde. ‘n Plek soos hier in die kerk. Netjiese teëls. Imposant.
  • Golgota was ‘n plek waar mense doodgemaak is, waar kopbene rondgelê het, baie keer nie eers met respek in ‘n graf neergelê nie. ‘n Plek soos ons ashope, die plek waar afval weggegooi is, die plek waar niemand wou kom nie.

Die doel van hierdie beskrywing is om jou te oortuig dat dit werklik was; dat Jesus regtig die lydingspad geloop het; dat Hy regtig aan ‘n kruis gehang het; vir jou.

Maar die beweging is nie net ‘n fisiese reis van beskawing na begraafplaas nie. Dit is ook ‘n geestelike reis.

  • Dit is ‘n reis ván die plek waar Pilatus kies om sy lewe te behou, maar dit juis uiteindelik verloor, omdat hy die Een wat die lewe in sy hand hou, verraai en verwerp.
  • Dit is ‘n reis die plek waar Jesus kies om sy lewe te gee in die dood, sodat dié wat in Hom glo, die lewe sal kan behou.

Dit is daarom egter nie net ‘n reis van verydeling nie. Dit is ook ’n beweging vanaf Pilatus se regsverydeling, ter wille van sy eie lewe, na Jesus se reddingsdaad, ter wille van ander se lewe. Wat beteken, al is dit swaar, al was dit ‘n pad van pyn, was dit ook ‘n reis van redding.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Skriflesing

Jesus word gekruisig

(Matt 27:32-44; Mark 15:21-32; Luk 23:26-43)

13 Toe Pilatus hierdie woorde hoor, het hy Jesus na buite gebring en op die regterstoel gaan sit op die plek wat Klipplaveisel genoem word — in Hebreeus Gabbata …  16 Toe lewer hy Hom aan hulle uit om gekruisig te word. En hulle het Jesus weggelei.

17 Jesus het self die kruis gedra en het uitgegaan na die sogenaamde ‘Kopbeenplek’, in Hebreeus Golgota genoem. 18 Daar het hulle Hom gekruisig, en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel. 19 Pilatus het ook ‘n kennisgewing laat skryf en dit aan die kruis vasgeheg. Daarop het geskryf gestaan: “Jesus, die Nasarener, die koning van die Jode.” 20 Baie van die Jode het hierdie kennisgewing gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad geleë was. Dit was geskryf in Hebreeus, Latyns en Grieks. 21 Die leierpriesters van die Jode sê toe vir Pilatus: “Moenie skryf, ‘Die koning van die Jode’ nie, maar dat daardie man gesê het, ‘Ek is koning van die Jode.’ ” 22 Pilatus het geantwoord: “Wat ek geskryf het, het ek geskryf.”  23 Toe die soldate Jesus gekruisig het, het hulle sy klere geneem en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ‘n deel, en so ook sy onderkleed. Maar die onderkleed was naatloos, van bo tot onder aaneen geweef. 24 Hulle sê toe vir mekaar, “laat ons dit nie skeur nie, maar loot wie dit moet kry,” sodat die Skrif vervul sou word wat sê: “Hulle het my boklere onder mekaar gedeel en oor my klere het hulle die lot gewerp.” Dit is wat die soldate toe gedoen het. 25 By die kruis van Jesus het sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en ook Maria Magdalena gestaan. 26 Toe Jesus sy moeder sien, asook die dissipel vir wie Hy lief was wat by haar staan, sê Hy vir sy moeder: “Vrou, kyk, daar is u seun!” 27 Daarna sê Hy vir die dissipel: “Kyk, daar is jou moeder!” En van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.

Prediking

Daar is drie reise of bewegings opgesluit in die boodskap van Johannes 19:17-27.

Die reis van Gabbata na Golgota

Die eerste beweging is die letterlike reis van Gabbata na Golgota, van die huis van Pilatus na die kruis van Jesus, van die regsverydeling van die mensdom na die reddingsdaad van God self.

Die reis van Gabbata na Golgota begin, van Pilatus se plek, die “Klipplaveisel”, na Jesus se kruisiging, die “Kopbeenplek”.

  • Gabbata was ‘n plek wat ‘n mooi plaveisel van klip as vloer gehad het, ‘n teken van beskawing, van reg en orde. ‘n Plek soos hier in die kerk. Netjiese teëls. Imposant.
  • Golgota was ‘n plek waar mense doodgemaak is, waar kopbene rondgelê het, baie keer nie eers met respek in ‘n graf neergelê nie. ‘n Plek soos ons ashope, die plek waar afval weggegooi is, die plek waar niemand wou kom nie.

Die doel van hierdie beskrywing is om jou te oortuig dat dit werklik was; dat Jesus regtig die lydingspad geloop het; dat Hy regtig aan ‘n kruis gehang het; vir jou.

Maar die beweging is nie net ‘n fisiese reis van beskawing na begraafplaas nie. Dit is ook ‘n geestelike reis.

  • Dit is ‘n reis ván die plek waar Pilatus kies om sy lewe te behou, maar dit juis uiteindelik verloor, omdat hy die Een wat die lewe in sy hand hou, verraai en verwerp.
  • Dit is ‘n reis die plek waar Jesus kies om sy lewe te gee in die dood, sodat dié wat in Hom glo, die lewe sal kan behou.

Dit is daarom egter nie net ‘n reis van verydeling nie. Dit is ook ’n beweging vanaf Pilatus se regsverydeling, ter wille van sy eie lewe, na Jesus se reddingsdaad, ter wille van ander se lewe. Wat beteken, al is dit swaar, al was dit ‘n pad van pyn, was dit ook ‘n reis van redding.

Die reis van Sondeval na Saligheid

Maar die tweede beweging wat ons in hierdie verhaal raaksien, is een wat eintlik lank gelede begin is, vóór Pilatus, lank vóór die verhale van die NT, selfs lank vóór die opgetekende geskiedenis. Dit is die reis van sondeval na saligheid in die Bybel.

Die eerste boek in die Bybel, Genesis, vertel vir ons hoe opgewonde God was oor alles wat Hy gemaak het. Sewe keer word daar in Genesis 1 vertel dat God gekyk het na alles wat Hy gemaak het, en dat Hy verklaar dat dit goed was. Trouens dit was “baie goed” (Gen 1:31).

Maar, die oomblik toe Eva na die boom van kennis van goed en kwaad gekyk het, en die boom se vrugte: “goed is om van te eet”, van daardie oomblik was God se goeie skepping in gevaar. En Adam eet saam met haar en die verhouding met God word daardie oomblik deurbreek (Gen 3:6).

Met hierdie sondeval word die hele menslike geskiedenis in die donkerte van sonde en boosheid gedompel. Dit bring verwydering tussen God en mens (tuin van Eden – Gen 3), en mens en mens (Adam en Eva – Gen 3; Kain en Abel – Gen 4; die verstrooiing van die nasies by die toring van Babel – Gen 11).

Soos Paulus daaroor skryf: “almal het gesondig … en dit ontbreek ons aan die heerlikheid van God” (Rom 3).

Dit is ‘n ontsaglike werklikheid. Drie goed het met die sondeval gebeur:

  • Die visie op God en sy natuur en wese is versteur, waarin die kiem van misbruik en uitbuiting van die natuur gelê het en die miskenning van God in die wêreld wat Hy gemaak het;
  • Die beeld van God in ons is versteur sodat ons nie meer op Hom kon staat maak om ons van binne af die regte dinge te laat doen nie;
  • Die teenwoordigheid van God in ons is deurbreek sodat ons nie meer van nature in ‘n intieme verhouding met God kon leef nie.

Dit het tot gevolg gehad dat die leuen bo die waarheid verkies is – die keuse vir pseudologie, die wet van die leuen, waar ons kies om ons self te bedrieg, waar ons ‘n wet vir onsself word.

Dat ons lewens selfliefde eerder as Godsliefde vertoon – die keuse vir humanisme, die wet van die mens, eerder as die wet van God, waar ons kies om ons eie reëls te skep, eerder as om te buig voor die wette wat God vir ons gee.

En dat ons die sin en doel van ons plek in God se skepping verloor het – die keuse vir modernisme waarin God uitgeskryf word uit die wêreld, en waarin enige absolute waarheid met die pseudologie van postmodernisme ontken word.

Maar, dit het God nie gefnuik nie. Dit het sy bedoelinge nie ontkrag nie. Hoe goed is dit nie dat daar ‘n maar was nie! Want saam met die straf van God op die sonde kom daar ook ‘n belofte van genade. In die straf wat God uitdeel vir die slang – die verdoemenis tot ‘n seil-in-die-stof bestaan – die vrou – die moeite met geboorte en begeerte om haar man te oorheers – en die man – die moeite met werk en die grond sowel as die ooreenstemmende begeerte om oor sy vrou te heers – gee God ook ‘n belofte vir die mens:

Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.” (Gen 3:15).

Aan die een kant dui dié belofte doodgewoon op die konflik wat daar tussen diere en die mens van hierdie oomblik af gekom het. Wie van ons is nie bang vir ‘n slang nie. En geleerdes sê vir ons dat hulle ook bang is vir ons!

Maar aan die ander kant is daar ‘n dieper boodskap hierin opgesluit. Dit dui ook op die konflik tussen die boosheid van die Satan en die waarheid van die Seun van God. En die oorwinning oor die Satan sou paradoksaal deur die dood van die Seun van God aan die kruis van Golgota behaal word.

Die Here Jesus, die nageslag van Adam en Eva – soos ‘n mens in die enkelvoud “nageslag” in Genesis kan inlees – het aan die kruishout gehang. En die slang van ouds – wat deur Johannes in sy Openbaring die duiwel en die Satan genoem word (Openb 12:9), en inderdaad die duiwel en die Satan is, soos hy verder aan sê (Openb 20:2) – wat Jesus hier aan die kruis in die hakskeen byt, Hom die giftige byt van die dood toedien, se kop sou paradoksaal juis deur hierdie kruisdood vermorsel word.

Soos die Hebreërskrywer dit eggo: “Dit het Jesus gedoen om deur sy dood dié een wat mag het oor die dood, dit is die duiwel, te vernietig.” (Hebr 2:14).

Soos Johannes in sy eerste brief skrywe: “die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.” (1 Joh 3:8; vgl Openb 12:17).

Volgens Paulus is dit ‘n oorwinning waarin ons as gelowige ook deel: “God wat vrede gee, sal die Satan spoedig onder julle voete verpletter.” (Rom 16:20).

Die wonder is dus dat Genesis 3 ook die verhaal van die verlossing van die mens, trouens van alle dinge, begin vertel, die saligheid wat die sonde sal troef. God se beweging van sondeval van die mens tot die saligheid van die kruis.

Die belofte wat God hier in Genesis gee, vorm dus die teenpool van die donkerte. Dit is die verhaal van die lig van God wat die mense se lewens nie net verlig nie, maar inderdaad weer met Hom versoen.

Dit beteken dat Genesis nie net die verhaal is van die sondeval nie, maar ook die verhaal van God se keuse van mense en hulle families, deur hulle geslagte heen, tot by die keuse van die Seun, die een wat die prys kon betaal wat mense se visie op God herstel het.

  • Die gevolg is dat ons in die Seun weer vir God kon raaksien. Ons visie op God is herstel. Ons kan in gehoorsaamheid aan Hom lewe.
  • Die gevolg is verder dat die beeld van God in ons kom herstel is, want God kry gestalte in ons deur die werk van Sy Gees. Mense kan weer in ons God self raaksien.
  • Die gevolg is in die laaste plek dat die teenwoordigheid van God van ‘n afwesige eksterne werklikheid na ‘n aanwesige interne werklikheid verander is. God kan weer by ons woon.

Dit alles deur die kruis van Golgota. Deur die kruisdood van die Here op die Kopbeenplek. Deur die ultimate prys wat ons Here en Heiland aan die kruis vir ons betaal het.

Die reis van verwerping na vertroue

Die derde beweging is ‘n geestelike reis. Jou reis met die boodskap van die kruis van Jesus Christus. Die reis van die verwerping van Pilatus en die Joodse leiers by Gabbata na die vertroue in Jesus as Koning by Golgota.

Dit is duidelik dat Pilatus met die kennisgewing bo aan die kruis met die Jode die spot gedryf het. Daarop het geskryf gestaan: “Jesus, die Nasarener, die koning van die Jode.

Tog het Hy ironies genoeg die waarheid van hierdie beslissende moment van die wêreldgeskiedenis raakgevat.

Aan die een kant het baie van die Jode wat hierdie kennisgewing gelees het langs die pad – en almal kon dit lees, want dit was in Hebreeus, Latyns en Grieks – in opstand gekom daarteen. Want hulle het dié boodskap verwerp. Hy is nie ons Koning nie. Hy het net valslik gesê dat Hy ons Koning is.

Maar vir elkeen wat in hierdie gekruisigde Jesus: “die Nasarener, die koning van die Jode” glo, kom daar die skuif van verwerping na vertroue, van op ‘n afstand staan en veroordeel, na ‘n gehoorsaamheid en aanbidding van Hom wat hierna ook sou opstaan uit die dood.

Dit is wat hierdie verhaal in jou wil bewerk. Dit wil jou beweeg van verwerping na vertroue. Van op Jesus neersien van ‘n afstand af na voor Jesus neerval om Hom as Here te aanbid. Dit is immers waarom Johannes vir ons hierdie verhaal vertel. Hy skryf ná Jesus se opstanding oor alles wat Hy in die evangelie opgeteken het: “Hierdie dinge is egter neergeskryf sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en dat julle deur te glo die lewe in sy Naam kan hê.” (Joh 20:31).

Ek wil jou dus uitnooi om in hierdie Jesus te glo, om van ‘n verwerping van die boodskap van Jesus te beweeg na ‘n vertroue op Hom. Hy wys hier aan die kruis dat Hy bereid is om jou sonde te versoen. Om in jou plek die straf te dra vir die dood en die sonde wat met Adam en Eva in die wêreld gekom het.

Bid nou saam met my die eenvoudige gebed en maak vandag die keuse om op Jesus en op Hom alleen te vertrou:

Here Jesus. Ek glo en vertrou dat U die Seun van God is. Ek glo en vertrou dat U aan die kruis vir my sonde gesterf het. Ek glo en vertrou dat U my sonde vergewe. Ek glo en vertrou dat U nou vir my die ewige lewe gee. Dankie dat ek nie verlore sal gaan nie, maar vir altyd U kind sal bly. Amen.

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.