Bou jou geloof – 2 Petrus 1:1-11

Petrus beskryf die eerste lesers van sy brief as “dié wat dieselfde kosbare geloof as ons verkry het deur die geregtigheid van ons God en die Verlosser, Jesus Christus.” Een van die belangrikste dinge wat hulle ontvang het, is dieselfde kosbare geloof as wat die ander kinders van die Here ontvang het.

Dit is immers waar ons lewe met God begin, wanneer ons die genade ontvang om in Hom te glo.

En dit is belangrik om te besef dat hierdie geloof nie soseer iets is wat ‘n mens doen nie. Hierdie geloof is iets wat ons van God af ontvang. Geloof is die werk van God in ons hart, sê Petrus. Geloof is iets wat jy ontvang, iets waarvoor jy nie kan werk nie.

Ons weet uit ander dele van die Skrif dat ons geloof ontvang wanneer ons luister na God se Woord, soos Paulus uitvoerig op verskillende plekke skrywe, bv Romeine 10. Geloof kom wanneer die Woord van God só ‘n impak maak op jou hart dat jy nie anders kan as om te sê, ja, Here, ek glo in U. Hoe weet ‘n mens nie altyd nie, maar dat jy glo, dít weet jy. Dit is ‘n diep wete in jou hart.

Geloof moet groei

Maar geloof is ook iets wat maklik onder skoot kom as dit begin moeilik gaan. Geloof word ernstig deur die storms van die lewe aangevat. Dink net weer aan die verhaal van Jesus en sy dissipels op die See van Galilea. Hoe die dissipels bang geword het vir die branders wat in die boot gebreek het. Hulle was bang hulle vergaan, en hulle was baie ontsteld dat Jesus agter in die boot rustig geslaap het (Matt 8).

Toe hulle Jesus wakker maak, het Hy hulle egter aangespreek vir hulle klein geloof, dat hulle Hom nie kon vertrou dat Hy vir hulle binne die gevaar sal kan bewaar nie. Dit is juis een van die funksies van geloof, om ons in moeilike tye staande te hou as dinge moeilik begin raak.

Geloof is dus iets wat moet groei, wat sterker moet word, wat die aanvegtinge van die lewe moet kan teenstaan, wat die storms van die lewe moet kan trotseer.

Maar dit kan ons net doen as ons gefokus is daarop om in geloof te groei.

Hoe bou ons ons geloof?

Download the English translation: Build your faith – 2 Peter 1.docx

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Verwelkoming

Toetrede

Lied 166 Kom, Heil’ge Gees, wees U self teenwoordig hier by ons – sit

Votum en Seëngroet

Lof en aanbidding

Lied 492:1-2 In U is vreugde, vrede en vreugde, Jesus Christus, U is Heer – staan

Lied 284:1-3 Laat, Heer, u vrede deur my vloei – staan

Dankoffer

Voorbidding

Skriflesing en prediking

Wat is jou kosbaarste besitting?

Wat is jou kosbaarste besitting? Sommige van ons sal miskien dink aan die duurste ding wat jy het. ‘n Macbook of ‘n duur diamantring of ‘n goudstaaf. Ek het een keer iemand raakgeloop wat ‘n tassie vol goudmuntstukke met hom rondgedra het, sodat hy te enige tyd die pad uit die land kon vat. Kan jy nou meer!

Ander van ons sal miskien kyk na die oudste ding wat jy het, iets wat jy van jou pa of jou ouma of van die voorgeslagte af gekry het. Ander sal miskien dink aan die mooiste ding, iemand wat naby aan jou is, jou meisie of jou ou, of die beste ding, ‘n mentor wat vir jou baie beteken.

My kosbaarste besitting is ‘n karretjie wat ek van my pa geërf het, ‘n ou Model T Ford, ‘n speelding uit sy eie kinderjare. Hy het dit volmaak opgepas. Ek hoop ek kan dit ook later vir my seun laat erf. En dit is nie so kosbaar omdat dit so baie werd is nie – dit is waarskynlik baie werd, want dit is in perfekte kondisie en meer as tagtig jaar oud. Dit is kosbaar omdat dit iets is wat my aan my pa herinner.

Ons geloof is ‘n kosbare geskenk van God

Maar, die Bybel sê, een van die kosbaarste dinge wat ons ontvang het, is ons geloof.

In sy afskeidsboodskap aan die vyf gemeentes in die noorde van Turkye (Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië) bemoedig die apostel Petrus die gelowiges om standvastig in geloof te bly weens die uitdaging van dwaalleraars. Hy is baie bewus van die feit dat die geloofsgemeenskap net: “met moeite sal ontkom aan dié wat in dwaling leef“ (2 Pet 2:18).

Die groot gevaar is dat vals leraars hulle tot losbandigheid kan verlei wat op die lang duur hulle sal verlei om van die Here Jesus self afvallig te raak (2 Pet 3:4).

Hierdie dwaalleraars (die voorlopers van die Gnostiek) het ‘n onderskeid tussen die gees en liggaam gemaak. Hulle het geleer dat losbandigheid aanvaarbaar is, omdat dit, volgens hulle, nie jou gees kon besoedel nie. Net jou liggaam is betrokke, bv by seks. So jy kan seksueel losbandig lewe, sonder om jou te steur daaraan dat God in sy Woord sê dat seks vir die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou bedoel is, en dink dat jy steeds met Hom in ‘n verhouding kan lewe. Jou liggaam kan nie jou gees besoedel nie.

Petrus wil hulle egter aanmoedig om vas te hou aan die ware evangelie. Hulle geloof is net te kosbaar dat hulle deur roekelose en arrogante mense op ‘n dwaalspoor gelei mag word wat met hulle valse leringe verskonings uitgedink het vir die sonde.

Wat meer is, God het hulle verlos deur aan hulle die geloof te skenk, onverdiend. Daarmee het Hy sy krag in hulle geplaas sodat hulle die vermoë het om nee te sê vir die uitdaging van die dwaalleraars. God het hulle in staat gestel om ‘n heilige lewe te lei weens: “die kragtige teenwoordigheid van ons Here Jesus Christus”.

2 Petrus 1:1-11

Kom ons lees die eerste elf verse van sy brief:

1 Simeon Petrus, ‘n dienskneg en apostel van Jesus Christus,  aan dié wat dieselfde kosbare geloof as ons verkry het deur die geregtigheid van ons God en die Verlosser, Jesus Christus:  2 Mag genade en vrede in oorvloed aan julle geskenk word deur julle kennis van God en van Jesus, ons Here. 3 Sy goddelike krag het ons immers reeds alles gegee wat ons nodig het vir ‘n toegewyde lewe, deurdat ons Hom ken wat ons deur sy majesteit en goddelike krag geroep het. 4 Hierdeur het Hy sy kosbare en grootse beloftes reeds aan ons gegee, sodat julle deel kan hê aan die goddelike natuur, noudat julle ontvlug het aan die verdorwenheid wat deur begeerte in die wêreld teenwoordig is. 5 Juis daarom moet julle alle ywer aan die dag lê om  by julle geloof uitnemendheid te voeg,  by uitnemendheid, insig6 by insig, selfbeheersing,  by selfbeheersing, volharding,  by volharding, ‘n toegewyde lewe7 by ‘n toegewyde lewe, broederliefde, en  by broederliefde, liefde vir alle mense8 Immers, wanneer julle oor hierdie eienskappe beskik en daarin toeneem, sal dit daartoe lei dat julle nie nutteloos en sonder vrug is wat julle kennis van ons Here Jesus Christus betref nie. 9 Want die een by wie hierdie dinge ontbreek, is blind en kortsigtig en het vergeet dat hy van sy vorige sondes gereinig is.  10 Daarom, broers, moet julle julle soveel te meer daarop toelê om julle roeping en verkiesing stewig te vestig. Want as julle hierdie dinge doen, sal julle vir seker nooit struikel nie. 11 Ja, so sal toegang tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus, ryklik aan julle voorsien word. 

Geloof word ontvang

Petrus beskryf die eerste lesers van sy brief as “dié wat dieselfde kosbare geloof as ons verkry het deur die geregtigheid van ons God en die Verlosser, Jesus Christus.” Een van die belangrikste dinge wat hulle ontvang het, is dieselfde kosbare geloof as wat die ander kinders van die Here ontvang het.

Dit is immers waar ons lewe met God begin, wanneer ons die genade ontvang om in Hom te glo.

En dit is belangrik om te besef dat hierdie geloof nie soseer iets is wat ‘n mens doen nie. Hierdie geloof is iets wat ons van God af ontvang. Geloof is die werk van God in ons hart, sê Petrus. Geloof is iets wat jy ontvang, iets waarvoor jy nie kan werk nie.

Ons weet uit ander dele van die Skrif dat ons geloof ontvang wanneer ons luister na God se Woord, soos Paulus uitvoerig op verskillende plekke skrywe, bv Romeine 10. Geloof kom wanneer die Woord van God só ‘n impak maak op jou hart dat jy nie anders kan as om te sê, ja, Here, ek glo in U. Hoe weet ‘n mens nie altyd nie, maar dat jy glo, dít weet jy. Dit is ‘n diep wete in jou hart.

Geloof moet groei

Maar geloof is ook iets wat maklik onder skoot kom as dit begin moeilik gaan. Geloof word ernstig deur die storms van die lewe aangevat. Dink net weer aan die verhaal van Jesus en sy dissipels op die See van Galilea. Hoe die dissipels bang geword het vir die branders wat in die boot gebreek het. Hulle was bang hulle vergaan, en hulle was baie ontsteld dat Jesus agter in die boot rustig geslaap het (Matt 8).

Toe hulle Jesus wakker maak, het Hy hulle egter aangespreek vir hulle klein geloof, dat hulle Hom nie kon vertrou dat Hy vir hulle binne die gevaar sal kan bewaar nie. Dit is juis een van die funksies van geloof, om ons in moeilike tye staande te hou as dinge moeilik begin raak.

Geloof is dus iets wat moet groei, wat sterker moet word, wat die aanvegtinge van die lewe moet kan teenstaan, wat die storms van die lewe moet kan trotseer.

Maar dit kan ons net doen as ons gefokus is daarop om in geloof te groei.

Hoe bou ons ons geloof?

Geloof word gebou deur kennis

Die eerste ding waardeur geloof gebou word, is deur kennis. Petrus bid daarom vir hulle dat die Here sy genade en vrede vir hulle in oorvloed sal skenk, spesifiek: “deur julle kennis van God en van Jesus, ons Here.” Geloof word dus gebou deur kennis.

Petrus sê vir ons, God het vir ons alles gegee wat nodig is om vir Hom te kan lewe en Hom met ons hele lewe te kan dien. Maar om dit te kan beleef, moet ons toeneem in ons kennis van God en sy heerlikheid en mag, moet ons geloof gebou word deur kennis.

Dit is lewensbelangrik dat jy in kennis toeneem van God. Dit is hoe jou geloof in God gebou sal word.

Hoe? Dit begin by jou eie stiltetyd waarin jy erns maak met die Bybel, die Woord van God. Dit sluit jou kleingroep en die erediens in, waar ons saam erns maak met die Woord. Dit sluit die lees van geestelike boeke in en die bywoon van kursusse en konferensies.

Kennis is in ‘n baie besonder sin in die geestelike lewe ‘n bron van krag. Dit bewapen jou vir die aanslae van die lewe. Jou geloof moet daarom gebou word deur die kennis wat jy opdoen van die Here en hoe Hy in jou lewe en deur jou lewe wil werk.

Geloof word gebou deur toewyding

Geloof groei in die tweede plek deur toewyding. Kennis is noodsaaklik. Maar toewyding sit geloof aan die werk.

“Sy goddelike krag het ons immers reeds alles gegee wat ons nodig het vir ‘n toegewyde lewe, deurdat ons Hom ken …” (vers 3). Kennis is die boustene vir die geloofslewe, toewyding die vonk wat die vuur aan die brand steek.

Dit is hoe ons geestelik groei.

  1. Aan die een kant fokus ons op ‘n dieper kennis van Hom.
  2. Aan die ander kant fokus ons op ‘n dieper toewyding aan Hom op grond van die kennis wat ons van Hom opdoen.

Albei is nodig. Die kennis van Hom. En die toewyding aan Hom. Só groei ons in ons geloof.

Ons kry deel aan die Goddelike natuur

God wil hê dat ons deur geloof in sy beloftes: “deel kan hê aan die goddelike natuur.” Petrus bedoel daarmee nie dat ons as’t ware vergoddelik word nie, maar dat ons al hoe meer as nuwe mense kan lewe op grond van die werk wat Hy in ons doen. In Paulus se woorde, dat ons nie langer deur ons “sondige natuur” beheers sal word nie, maar deur die Gees (sien veral Rom 8:1-17; Gal 5:16-25).

Hoe doen ons dit?

Petrus gee vir ons ‘n sewetal fokuspunte. Dit is soort van Petrus se weergawe van Paulus se negetal vrug van die Gees (Gal 5:22). Dit is dié dinge wat die kennis van God en die toewyding aan God kan laat vrug dra in ons lewe.

Sewe boublokke van geloof

Dié sewe aspekte waarop ons moet fokus dra almal ‘n etiese karakter. Dit het met ons manier van lewe, ons lewenstyl te make:

1. Uitnemendheid (aretê – morele deugsaamheid of verantwoordelikheid – virtue: outstanding goodness)

Jy sal dit goed verstaan uit take en toetse wat jy geskryf het op skool of universiteit. Soos wat jy skouer aan die wiel moet sit om te presteer in die gewone lewe, só moet jy dieselfde doen in jou geloofslewe.

Fokus daarop om uit te blink in goedheid, soos die woord ook vertaal kan word. Om verantwoordelikheid te neem. Om ‘n man of vrou uit een stuk te wees.

Moenie gaan vir die minste moeite nie, vir die pad wat jou die minste weerstand gee nie. Hoe meer jy fokus om jou beste te doen in jou geloofslewe, die Here te gehoorsaam, om goed te wees vir ander, al kos dit ook al hoe meer van jou, sal jou geloof nie net groei nie, maar stewig en sterk begin staan. Sal jou geloof jou sterk laat staan in die uitdagings van die lewe.

2. Insig (gnôsis – kennis, die inhoud van die geloof, in die sin van begrip, soos ook in Fil. 1:10)

Jy sal dit ook goed verstaan uit jou blootstelling aan ‘n vak op skool of universiteit. ‘n Mens kan feite soos ‘n papegaai leer en opsê, maar as jy nie moeite doen om patrone te begin trek tussen verskillende geloofsfeite en jy in jou insig en begrip toeneem van hoe geloofsdinge nou eintlik in mekaar steek, sal jy nie ver vorder nie.

Hoe meer jy dus begin om bewustelik te lewe – om bv ‘n joernaal te hou, en die belangrike dinge wat jy van God leer, neer te skryf (hier is meer inligting daarvoor) – hoe meer sal jy begin om te verstaan wat God eintlik met jou lewe wil doen. Jy sal geestelike merkers begin raaksien, betekenisvolle ervarings met God, wat vir jou die pad in die lewe sal begin aandui. Só sal jy geestelike insig en begrip begin opdoen, sal die inhoud van jou geloof vir jou begin lewe, sodat jy ander ook kan help op die pad van geestelike groei.

3. Selfbeheersing (egkrateia – om volledig in beheer te kom van jou begeertes en gedrag)

Dit is ‘n grote! Daar is drie groot versoekings in die lewe: seks, mag en besittings. Ons samelewing dink dat ons maar mag toegee aan die vervulling van ons begeertes sonder enige norm wat dit begelei, solank almal net instem.

Petrus sê egter hier vir ons dat God se krag vir ons geskenk is om die verderf te ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is. Die toegee aan allerlei begeertes lei tot die verderf, tot ‘n lewe sonder God, tot die oordeel aan die einde van die tyd.

God wil hê dat ons soos Hy sal word, want Hy het sy Goddelike natuur in ons gegee. Daarom moet ons sy norme ernstig neem, bv vir die huwelik (Gen 1-2; Matt 19; 1 Kor 5-7). Dieselfde geld die begeerte om oor ander baas te speel, jou mag te misbruik vir jou eie korrupte bedoelings. Dieselfde geld die begeerte na besittings en geld, die gierige begeerte na meer en meer, net omdat jy dit wil hê.

Die Here beveel ons om tevrede te wees met wat ons het – dit is wat dit beteken om met selfbeheersing te lewe – en Hom te vertrou vir wat ons nodig het (Matt 6). ‘n Belangrike boublok vir geloof.

4. Volharding (hupomonê – die vermoë om uit te hou onder moeilike omstandighede, ook uithouvermoë)

Dit is ook ‘n grote! Maar, gelukkig, daarvoor het ons ander gelowiges om ons mee te help. Jy kan nie die stryd om te volhard maklik alleen aanpak nie. En God het ons vir mekaar gegee. Ons is geskenke vir mekaar om te kan volhard. Daarom het ons mekaar nodig.

En onthou, dit is nie net jy wat ander nodig het nie. Ander het jou ook nodig. Ek was die week by ‘n lidmaat wat gesondheidsuitdagings het. Hoe goed was dit nie om te hoor van die ondersteuning wat ‘n ander lidmaat op ‘n gereelde basis gee met ‘n besoek, soms ‘n Whatsapp. Dit laat ‘n mens in die moeilikste omstandighede volhard.

Waar ons ons stories deel in kleingroepe en vertel van die hindernisse en uitdagings waardeur ons worstel, kan ons ook die voorsienings van die Here vir mekaar vertel, sowel as die oorwinnings wat Hy in ons lewe behaal. Dit is dan wat ons groei in volharding, en daarom in geestelike volharding.

5. ‘n Toegewyde lewe (eusebeia – godsvrug, ‘n lewe wat in ooreenstemming is met jou geloofsoortuigings, waar leer en lewe ooreenstem)

Dit som eintlik die eerste tafel van die wet op, die liefde vir God. Hy moet nommer Een wees en bly in ons lewe. Ons moet te alle tye en in alle opsigte Hom probeer tevrede stel.

Begin dus elke oggend deur jou lewe aan Hom toe te wy. En sluit elke dag af met ‘n toewyding aan Hom. Ek het ‘n tyd terug ‘n hulpmiddel geskep wat jy gerus vir ‘n tyd lank kan gebruik: Drie vaste gebedstye.

6. Broederliefde (filadelfia – liefde of toegeneentheid vir gelowiges)

Dit som eintlik die tweede tafel van die wet op, die liefde vir die naaste (saam met nommer 7). Ons moet mekaar liefhê en vir mekaar omgee as vriende vir mekaar, as mense wat aan mekaar behoort. Dit is wat die woord filadelfia beteken, om jou verbintenis met ander ernstig te neem.

Dieselfde geld in die laaste aspek, in die:

7. Liefde vir alle mense (agape – liefde wat oorloop van waardering)

Dit is die tipe liefde waar ons bereid is om van onsself te gee, om van onsself op te offer, om die beste in ander na vore te bring, omdat ons die ander hoog ag, omdat ons die ander waardeer.

Geestelike volwassenheid

Dit is die sewe dinge wat jou in jou geloof sal laat groei: Uitnemendheid, Insig, Selfbeheersing, Volharding, Godsvrug, Liefde onder mekaar en Liefde vir alle mense.

As jy jou geloof verryk met hierdie sewe dinge, sal jou geloof groei, sal jy geestelik volwasse word, sal jy nie struikel as die moeilike dinge van die lewe dreig om oor jou te spoel nie.

As dié dinge egter ontbreek in jou geestelike lewe, as jy vir middelmatigheid mik, as jy weier om te groei in jou begrip van wat God van jou vra, as jy geen selfbeheersing aan die dag gaan lê nie, as jy nie gaan volhard saam met ons ander nie, as jy in jou toewyding aan God gaan verslap, as jy jou medegelowiges nie gaan liefhê nie, en jouself nie gaan opoffer vir ander mense nie, dan is jy blind, sê Petrus.

Dan is jy kortsigtig oor God se doel met jou lewe, oor sy goddelike natuur wat Hy in jou gegee het, en het jy vergeet dat die Here jou juis skoongemaak het en die krag gegee het om vir Hom te lewe.

God het ons gekies en geroep om saam met Hom die ewigheid binne te gaan. Hy het ons alles gegee wat ons nodig het om daardie doel te bereik. As jy jou geloof verryk en al hoe meer geestelik volwasse sal word, sal dit verseker dat jy jou doel nie mis nie.

Gebed

Slotlied

Vonkk 146:1-4 My gees, my siel, my liggaam wy ek aan U, o Heer – staan

Seënbede

Amen

Lied 314 Amen, amen, amen – staan

     

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Pieter

    Jy kan uiteraard lees wat ek self oor Romeine en Efesiërs geskryf het:

    Maar, as jy ‘n bietjie dieper wil delf, kan jy kyk na die volgende bronne:

    • Faithlife Study Bible (korter kommentaar oor die hele Bybel)
    • NET Bible (kort tekstuele kommentaar oor die hele Bybel – gratis op YouVersion se Bible app)
    • Scripture Direct (uitstekende woordverklarings oor die hele NT – gratis as app)
    • Keener, C. S. The IVP Bible Background Commentary: New Testament (Second Edition). IVP Academic. 2014.
    • Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. 1993
    • Van Zyl, A. H.. Die Bybel verklaar: 1983-vertaling. Kaapstad: Lux Verbi. 1993

    Dan is daar natuurlik volbloed kommentare.
    Op Romeine:

    Op Efesiërs:

    • Lincoln, Andrew T. Ephesians WBC 1990
    • Bruce, F. F. The Epistles to the Colossians, to Philemon, and to the Ephesians NICNT
      1984
    • Foulkes, Francis Ephesians TNTC 1989
    • Stott, John R. W. The Message of Ephesians BST 1991
    • Fowl, S. E. Ephesians: A Commentary. Westminster John Knox Press 2012
    • Roberts, J. H. Die brief aan die Efesiers. N G Kerk-Uitgewers. 1990
    • William Barclay http://www.dannychesnut.com/Bible/Barclay/Galatians%20and%20Ephesians.htm
  • Avatar

    Pieter

    |

    Naand Chris.
    Kan jy my dalk help met goeie bronne om studie van Effesiers en Romeine te doen.
    Dankie vir jou wonderlike werk en leeringe

  • Avatar

    Petra Marneweck

    |

    Die inhoud van die preek bevestig wat hierdie week in ons Bybelstudiegroep bespreek is en versterk my geloof dat Jesus opgestaan het. Baie dankie vir die besondere boodskap

  • Avatar

    Dean van Wyk

    |

    Baie dankie Rethie vir hierdie inspirerende boodskap. Ek is oorspronklik van PE en woon nou 20jaar lank in PTA.
    In my stiltetyd vanoggend het ek Fil 2:12b-13 gelees en dit kan net deur die Gees van God wees dat ek op hierdie preek afgekom het.

    God seën jou bediening en geniet die see( ek beny julle).

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Hansie. Die Here is goed vir ons.