Miga 3 – die moed om onreg aan te spreek

Begeesterd

Die Gees gee die moed om onreg aan te spreek

Ons dink baie keer aan die werk van die Gees in ons lewe uit die perspektief van die troos wat Hy bring asook die vrug wat Hy in ons lewe dra. En dit is baie relevante perspektiewe. Jesus noem die Gees die Trooster (Joh. 16). Die Gees is die Voorspraak, die Een wat nie net in ons is nie, maar vir ons intree by God (Rom. 8). Die Gees gee vir ons gawes (1 Kor. 12). En Hy dra vrug in ons lewe: liefde, vrede, selfbeheersing (Gal. 5:22).

Maar, dit is nie hoe Miga in die eerste plek dink aan die Gees nie. Hy dink aan vervulling met die Gees as die krag om op te tree teen onreg, soos hy in hfst 3:8 sê. Hy dink aan die Gees as die Een wat vir hom ‘n sin gee vir wat reg is, wat die moed gee om te praat oor die geweld, en onreg en gierigheid wat hy in die samelewing van oud-Israel raaksien.

Dit is dinge wat nie soseer jou geestelik bevestig en tot rus bring nie. Dit is dinge wat jou ontwrig, en ontstel, en wil laat optree. Die krag om op te tree, die sin vir wat reg is, wat jou teen alle onreg in opstand bring, wat jou die moed gee om te praat oor wat verkeerd is. Dit is soos ‘n vuur wat in jou brand waaroor jy nie stil kan bly nie.

Die Gees werk bevestigend en ontwrigtend

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

 

Verwelkoming

Dit is ‘n besondere kwartaal. Ons fokus op die werk van die Gees. Vandaar die tema: Begeesterd. Ons gaan ‘n paar perspektiewe uit die Twaalf Kleiner Profete vóór Pinkster hanteer. Ons gaan ná Pinkster ‘n paar perspektiewe uit Johannes se evangelie en sy briewe hanteer. Pinkster self gaan ons baie prakties wees: Hoe inspireer die Gees ons om te groei? Hoe luister ons na die Gees in die Bybel? Hoe genees en bevry die Gees ons?

Ons gebed en verwagting vir die kwartaal is dat elkeen van ons ‘n dieper begrip vir die werk van die Gees sal kry, maar op só ‘n wyse dat ons op ‘n meer intieme wyse met Hom sou kan saamwerk. Begryp en Beleef. Begeesterd!

Geluk met verjaarsdag, Mariette Wilken, kostersvrou.

Toetrede

Ps 149:1 – Prys met ‘n nuwe lied die Heer – sit (orrel)

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 440:1-4 – Die Here salf ons met sy Gees – staan (orrel)

Lied 435:1-3 – Herskep, o Gees, laat leef, o Gees – staan (orrel)

Flam 387 – Hier is u kerk – sit (groep)

Flam 339 – Gees van God, kom neem nou beheer – sit (groep)

Skriflesing

Die profeet Miga was ‘n tydgenoot van die profete Jona, Jesaja, Hosea en Amos. Formidabele Godsmanne, mense van integriteit, profete wat hulle ore naby God se mond gehad het, geluister het, en dan met die volk gepraat het oor wat God vir hulle opdrag gegee het om te sê. Hulle was ook mense wat hulle ore oopgehou het vir wat aangaan onder die volk, geluister het na wat aangaan, en dít weer met God gedeel het, ingetree het vir die volk, en gepleit het dat God optree en herstel bring.

Hulle was God se woordvoerders en die volk se intersessors, mense wat tussen God en die volk gestaan het. Hulle was die kanale van kommunikasie tussen God en die mense. Presies wat profete nog steeds is: woordvoerders en intersessors. Hoe nodig het ons nie sulke mense ook vandag nog in ons land nie!

En laat ons nie vergeet nie. In die tyd wat hulle opgetree het, het dinge in die noordryk van kwaad tot erger gegaan. Van koning Jerobeam II af regdeur die opeenvolgende konings Sagaria (745 v.C. – 6 mnde), Sallum (745 v.C. – 1 mnd), Menahem (745-736 v.C. – 10 jr.), Pekahia (736-734 v.C. – 2 jr.), Peka (734-732 v.C. – 2 jr.), en uiteindelik Hosea (732-722 v.C. – 9 jr.) het hulle die Here verontagsaam. Die een sluipmoord op die ander volg op mekaar in die wyse waarop die konings mekaar opvolg.

Julle kan gaan lees in 2 Konings 14:23-17:41 van dié droewige geskiedenis. 2 Konings 14 – God se genade word steeds weerstaan in die Noord-ryk; 2 Konings 15 – Die boodskap is duidelik: die konings faal die Here; 2 Konings 16-17 – Hulle het agter afgode aangeloop wat niks is nie en so het hulle self niks geword. Die Kronis (waarskynlik Esra) laat sommer hulle hele geskiedenis uit, asof hy skaam was vir dié goddelose tyd in die geskiedenis van Israel.

Kom ons luister na Miga in sy beoordeling van hierdie situasie. Jy kan nog meer lees daaroor in die Bybelskool: Miga 1:1-3:12 – Die Here beplan ‘n ramp teen die volk en hulle leiers.

Miga 3

1Ek het gesê: Luister, leiers van Jakob, regeerders van Israel!

Weet julle nie wat reg is nie?

2Julle wat die goeie haat en die verkeerde liefhet, julle wat die mense se vel van hulle afskeur, die vleis van hulle bene af, 3wat my volk opeet asof hulle vleis is, hulle vel afstroop en hulle bene opkap, wat hulle opsny vir die kookpot, soos vleis vir die braaipan.

4Wanneer hulle tot die Here roep, sal Hy hulle nie antwoord nie. Dan sal Hy Hom nie aan hulle openbaar nie, want hulle het baie verkeerd gehandel.

5So sê die Here oor die profete wat my volk verlei, die profete wat van vrede praat so lank hulle kos kry, en as iemand hulle nie bly instop nie, oorlog teen hom verklaar:

6Daar is vir julle net nag, nie ’n gesig nie, donkerte, nie ’n voorspelling nie. Die son sal ondergaan vir hierdie profete, die dag sal pikdonker word oor hulle.

7Die sieners sal teleurgestel staan, die voorspellers sal bedroë daarvan afkom. Hulle sal almal treur en hulle baard bedek as teken van rou, want God sal nie antwoord nie.

8Ek, daarenteen, het baie krag, ek het die Gees van die Here, ’n sin vir reg en die moed om aan Jakob sy sonde bekend te maak, aan Israel sy oortreding.

9Luister hierna, leiers van Jakob, regeerders van Israel, julle wat die regspraak minag

en alles verdraai, 10julle wat vir Sion met moord gebou het en Jerusalem met onreg:

11Jou leiers lewer uitspraak vir omkoopgeld, jou priesters gee onderrig teen salaris, jou profete maak voorspellings teen betaling, en tog verwag hulle hulp van die Here!

Hulle sê: “Die Here is by ons, onheil sal ons nie tref nie.”

12Daarom is dit julle skuld dat Sion soos ’n stuk land geploeg sal word, dat Jerusalem ’n puinhoop sal word, dat die tempelberg ’n hoogte vol bossies sal word.

Woordverkondiging

Inleiding

Al die kinders kom vorentoe vir kindertyd.

Toewyding

Flam 58 – Kom o Skepper Gees – sit (groep)

Integrasie

Die Gees gee die moed om onreg aan te spreek

Ons dink baie keer aan die werk van die Gees in ons lewe uit die perspektief van die troos wat Hy bring asook die vrug wat Hy in ons lewe dra. En dit is baie relevante perspektiewe. Jesus noem die Gees die Trooster (Joh. 16). Die Gees is die Voorspraak, die Een wat nie net in ons is nie, maar vir ons intree by God (Rom. 8). Die Gees gee vir ons gawes (1 Kor. 12). En Hy dra vrug in ons lewe: liefde, vrede, selfbeheersing (Gal. 5:22).

Maar, dit is nie hoe Miga in die eerste plek dink aan die Gees nie. Hy dink aan vervulling met die Gees as die krag om op te tree teen onreg, soos hy in hfst 3:8 sê. Hy dink aan die Gees as die Een wat vir hom ‘n sin gee vir wat reg is, wat die moed gee om te praat oor die geweld, en onreg en gierigheid wat hy in die samelewing van oud-Israel raaksien.

Dit is dinge wat nie soseer jou geestelik bevestig en tot rus bring nie. Dit is dinge wat jou ontwrig, en ontstel, en wil laat optree. Die krag om op te tree, die sin vir wat reg is, wat jou teen alle onreg in opstand bring, wat jou die moed gee om te praat oor wat verkeerd is. Dit is soos ‘n vuur wat in jou brand waaroor jy nie stil kan bly nie.

Die Gees werk bevestigend en ontwrigtend

En dít is net só ‘n geldige perspektief op die Gees as dié ander vertroostende perspektiewe. God se werk in ons is nie net bevestigend nie, hoe noodsaaklik dit ook al is. God se werk in ons is ook ontwrigtend, Hy is nie tevrede met die status quo nie, Hy is nie tevrede met dinge wat nie reg is nie. God wil altyd orde bring in chaos, en dit beteken dat ons nie agter mure kan bly en ons van die chaos in die lewe kan beskerm nie. Daar kom tye wat die dinge wat chaos veroorsaak, aangespreek moet word.

Só werk die Gees immers van die begin af. Hy bring lig waar daar duister is. En Jesus word nie verniet die Lig van die wêreld genoem nie, die Een wat lig bring waar daar duisternis is nie. En dit is ontwrigtend. Die duisternis het nie die lig lief nie. Paulus noem ons daarom ook nie verniet ligdraers in die wêreld, wat die woord van die lewe moet uitdra te midde van “ontaarde en korrupte mense”. (Fil. 2:15-16).

Daarom het ons weer nodig om vir Miga te hoor, en om sy perspektief op die Gees te omarm en deel van ons manier van leef te maak.

Die volk het verval in gewelddadigheid, onreg en gierigheid

Hoekom? Want ons sien hier in die OT hoe Miga se hart brand van die boodskap wat God vir Hom gegee het.  Hy is ontstel deur dit wat hy in die gemeenskap en onder die leiers sien. In plaas daarvan dat die volk doen wat God van hulle vra, is hulle gewelddadig, pleeg hulle onreg en jaag hulle gierigheid na. Dit maak van geregtigheid in die regspraak ‘n grap. En die volk volg hulle leiers hierin na, want dié stel vir hulle die voorbeeld.

  • In plaas daarvan dat hulle reg laat geskied, soos Miga 6:8 sê, daardie kernvers in sy boek, korrupteer hulle die reg. Hulle maak dit moeilik om eenvoudige uitsprake te gee.
  • In plaas daarvan dat hulle liefde en trou bewys, soos Miga 6:8 verwag, is hulle gewelddadig teenoor mekaar. Hulle sit hindernisse in die pad, stel lokvalle, maak valse beskuldigings sodat die aandag van die eintlike sake weggelei kan word.
  • In plaas daarvan dat hulle bedagsaam voor God lewe, soos Miga 6:8 uitspel, is hulle gierig en dien hulle net hulle eie belange.

Die voorbeelde hiervan in ons eie samelewing is legio …

Dit is in dié tipe situasie wat Miga geroep word om die volk te waarsku en aan hulle hulle sondes bekend te maak. Dinge het nie goed gelyk in die 8ste eeu v.C. nie.

Internasionaal, godsdienstig en sosiaal het die gemeenskap in konflik met mekaar gekom

Op internasionale vlak het die Assiriërs hulle stem dik gemaak en die Egiptenare het hulle spiere gebult. Opeenvolgende konings in die tien stamme noordryk het hulle weg probeer vind met politieke alliansies, maar telkens verkeerde keuses gemaak. Die Here het egter nie op hulle radar geregistreer nie. Na Hom het hulle nie geluister nie. Hulle het nie bedagsaam voor Hom geleef nie, nie noulettend na Hom geluister nie, soos Miga 6:8 vereis nie (BDV se vertaling).

Dieselfde ongehoorsaamheid het op godsdienstige vlak plaasgevind. Hulle het die hemelkoningin náás die Here aanbid. Hulle het op die hoogtes vir allerlei ander afgode offers gebring. Dit het beteken dat hulle nie meer vanuit God se liefde teenoor mekaar opgetree het nie, en nie meer vanuit die trou aan God, mekaar hanteer het nie.

En dit was nie beter op sosiale vlak nie. Sosiale onreg het gedy. Die regspraak was korrup. Grondbesit was in gedrang. Magsmisbruik was aan die orde van die dag.

Miga skryf in hfst. 2:

  • Ellende wag vir julle wat rampe teen ander beplan, wat op die bed lê en dink aan kwaad om te doen, wat dit vroeg in die môre gaan uitvoer omdat hulle die mag in die hande het.” (2:2).
  • Hy sê: “Hulle begeer ‘n stuk grond en vat dit, huise, en lê beslag daarop. Hulle kul ‘n man uit sy huis uit, ‘n mens uit sy besitting uit.” (2:2).

Geen wonder dat die Here dit nie meer met hulle kon uithou nie:

  • Daarom, so sê die Here, Ek beplan ‘n ramp teen hierdie mense, hulle sal dit nie kan ontwyk nie.” (2:3).

Miga is daarom eintlik heeltemal raadop met die volk. Hy sê namens die Here verder aan in hfst. 2:

  • Belowe Ek nie goeie dinge vir dié wat opreg lewe nie?” (2:8a). Dít is wie die Here wil wees vir die volk.
  • Maar, opregtheid en integriteit word verniet gesoek by die volk: “My volk het in die afgelope tyd ‘n vyand geword en in opstand gekom.” (2:8b).

Hoe manifesteer dit?

  • Julle stroop die mooi klere af van dié wat houtgerus by julle verbystap …” (2:8c). Laat my so dink aan die xenofobiese geweld wat ons op die oomblik in ons land sien met die strooptogte op die winkels van vreemdelinge!
  • Sê Miga: “Julle jaag die vrouens van my volk uit hulle gerieflike huise uit, julle vat die blywende gerief wat Ek hulle gegee het van hulle kinders af weg.” (2:9).

Laasgenoemde is só ontstellend, want die woord wat in Hebreeus gebruik word vir “gerief” kan ook met “waardigheid” vertaal word. Die kinders se waardigheid word van hulle weggeneem deur hulle van hulle grond te vervreem.

Die gemeenskap het dus uit mekaar begin val …

Hoe baie sien ons nie dieselfde dinge in ons wêreld nie!

Hoe baie sien ons dieselfde dinge nie in die wêreld nie:

  • In Afrika deur die hele imperialistiese kolonialistiese beweging van die vorige paar eeue gekoppel aan slawerny;
  • In die Midde-Ooste, spesifiek in Palestina die afgelope eeu deur die Israeli okkupasie, met ‘n al hoe kleiner wordende gebied waarin die Palestyne ‘n volhoubare lewe kan hê;
  • In Amerika deur die imperialisme van Europa wat die oorspronklike inwoners in reservate ingehok het;
  • In Australië deur die Britse regering wat die Aborigines verneder en uitgroei het;
  • In Tibet deur die Chinese okkupasie;
  • In Zimbabwe deur die grondonteiening van boere.

Daar is bykans nie ‘n land in die wêreld waar hierdie dinge nie gebeur het nie, waar mense van hulle grond verdryf is nie! In ons eie geskiedenis is die geveg oor grondbesit nog lank nie afgehandel nie, aanvanklik tussen die verskillende stamme in ons land, later tussen die Boere en die Engelse, nog later met die wegneem van grond-eienaarskap, en nog later die groepsgebiede verskuiwings.

Daar is eintlik niemand wat nie op ‘n manier skuldig is nie. Hoe tragies!

Grondbesit is van altyd af ‘n sensitiewe kwessie

Wat Miga ons leer, is dat waar mense van hulle grond vervreem word – hetsy deur oorlog tussen nasies of deur onreg wat aan weerloses, vroue en kinders, gepleeg word of deur ‘n proses van grondonteiening van hulle weggeneem word, dáár ontvlam God se gramskap: “Julle vat die waardigheid wat Ek hulle gegee het, van hulle kinders af weg.” (2:9).

Waar mense se waardigheid só in gedrang kom, dáár kan ‘n mens altyd staatmaak daarop dat die Here onsigbare prosesse aan die gang sal sit om dié sake reg te stel, al neem dit ook in ons beoordeling ‘n lang tyd. En ons word geroep om iets te doen, om die legitieme eise van geregtigheid te erken en iets daaraan te doen. Nie deur nuwe onreg te vestig nie, maar ‘n leefbare ruimte vir mense te gee, vir alle mense in ons land.

Hoekom? Want die grond is God s’n om te gee, en ons moet mense se reg eerbiedig om dít wat hulle op regverdige en billike wyse bekom het, te kan behou en geniet.

Hoe ons mekaar hanteer, het ‘n impak op ons Godsverhouding

Dit is met hierdie agtergrond wat ons die teks in Miga 3 moet lees en sy ervaring van die Gees moet hoor. Hoe ons mekaar hanteer, het ‘n impak op ons Godsverhouding.

Dit is wat Miga onvermydelik op die tafel sit. Wat in die Godsverhouding tussen God en mense gebeur, het ‘n impak op hulle voorspoed en selfs voortbestaan – ten goede of ten kwade. Aan God moet hulle lojaal wees en bly in hulle liefde. Na God moet hulle begeerte wees. Aan God moet hulle in alles gehoorsaam bly.

En wat Miga net so sterk op die tafel sit, is dat dié verhouding medebepaal word deur die wyse waarop mense in die gemeenskap teenoor mekaar optree. Sosiale geregtigheid en deernis met die weerloses is onafskeidbaar deel van die Godsverhouding.

Hy spreek die leiers spesifiek aan, want die geweld wat hulle onreg die gemeenskap aandoen, kan nie onderskat word nie. Dit is asof hulle mense se velle van hulle afskeur, die vleis van hulle bene afstroop, die volk opeet asof hulle vleis vir die pot is, sê Miga.

Daarom sal die Here die leiers nie langer antwoord nie, want hulle luister nie na die mense wat in die nood van die regspraak vasgevang is nie. Na julle, sê die Here, sal ek nie langer luister as julle bid nie. Hoe ontstellend. Die hemel gaan toe vir die mense wat hulle lewens toe maak vir ander.

Trouens, dit is ook nie net van toepassing op die Godsvolk alleen nie. God verwag van alle mense om te doen wat reg is, troue liefde aan mekaar te bewys terwyl hulle noulettend die pad saam met God loop. Anders maak Hy ook die hemel toe vir hulle …

Het Jesus nie ook juis gesê: “Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers en susters van My gedoen het het julle dit aan My gedoen.” (Matt. 25:40). En dit is dié wat deernis aan ander bewys wat die koninkryk van die hemel ingaan …

Vreemdelinghaat is onversoenbaar met die evangelie

So, as ons vandag begin om te praat oor die Gees en hoe ons deur Hom begeesterd moet raak, is dít die eerste aspek daarvan. Om vanuit die verhouding met die Gees, vanuit ‘n sin vir wat reg is, die moed aan die dag te lê om onverdund die eis van die Here om die reg te handhaaf om die tafel te sit. Om aan Jakob, ironies dat ons president dieselfde naam dra, sy sonde bekend te maak, aan Israel sy oortreding.

Daar is soveel dinge op die oomblik in die nuus, en ek kan nie op almal reageer nie. Daar is die grondgryp aksie van die EFF. Daar is die standbeeldstorm rondom Cecil John Rhodes, Paul Kruger, die Perde monument, en nou selfs ook Ghandi en Andrew Murray.

Maar die ding wat miskien die meeste uitstaan is die vreemdelinghaat wat nou weer uitgebars het. Dit is iets wat al lank onderliggend daar is, het in 2008 groot ontwrigting vir baie mense gebring, maar is nou weer skerp onder ons aandag gebring in Durban, Pieter-Maritzburg, Johannesburg en ander plekke.

Xenofobie is onreg kwadraat. Dit is onversoenbaar met die evangelie. Vreemdelinge moet met selfs meer deernis as burgers hanteer word. Xenofobie – die vrees vir vreemdelinge wat oorspoel in haat en geweld – moet in die sterkste moontlike taal veroordeel word.

En wat veral ontstellend is, is dat daar ‘n verband gelê kan word tussen die vreemdelinghaat en die onverantwoordelike uitsprake van sommige van ons land se leiers. Hoekom? Want Lindiwe Zulu, die minister van Kleinsake Ontwikkeling, sowel as koning Goodwill Zwelithini, asook Edward Zuma se uitsprake oor vreemdelinge het waarskynlik ‘n verband met die huidige vlaag van xenofobiese aanvalle.

Lindiwe het in Januarie gepraat oor die feit dat swart mense bedreig voel deur ander Afrikane wat in Suid-Afrika suksesvol is in besigheid: “they feel like the space is being closed by foreigners.” En gesê hulle moet hulle kundigheid deel met plaaslike mense as hulle hier besigheid wil doen. Goodwill het egter onlangs gesê vreemdelinge moet hulle goed vat en loop. Ek het geluister na sy toespraak en die Engelse vertaling gevolg – en dit is regtig ‘n onaanvaarbare manier om oor vreemdelinge te praat. Dit is geëggo deur een van president Zuma se seuns, Edward Zuma, wat ten spyte van die huidige geweld bly by sy standpunt.

Hoewel president Jacob Zuma direktiewe hieroor uitgereik het en gesê het Suid-Afrikaners moet alle lewe respekteer en mekaar nie doodmaak nie, is die situasie in ons land baie gespanne. En ek vermoed die gebrek aan ware leierskap dra by daartoe.

Uiteraard moet die behoefte van mense aan ‘n menswaardige lewe, wat waarskynlik een van die groot faktore is wat ‘n rol speel in die gewelddadigheid, aangespreek word. En ek bid vir mense wat meer ingelig is as ek om by dié dinge betrokke te raak. Ek hoop so daar is van ons eie lidmate of lidmate van ander kerke wat met integriteit ons almal kan begelei om ‘n meer menswaardige bestaan te verseker vir alle mense in ons land.

Maar netso seer moet ons die leuenagtigheid, die weiering om die waarheid te praat en dinge by die korrekte naam te noem, uitwys en aan die kaak stel. Die minister van polisie, Nathi Nhleko, sê dit is nie xenofobie nie, maar ‘n vorm van self-haat, ‘n Afro-fobie. Swart mense teiken ander swart mense, mense van oor die grense, wat hier ‘n bestaan probeer maak. Ek weet nie wat om daarvan te maak nie. Wonder of dit nie net misleiding is nie, maar wonder ook of daar nie ‘n element van warheid in steek nie.

Vreemdelinghaat is onbekostigbaar dwaas

Maar geweld teenoor vreemdelinge is in elk geval ‘n onbekostigbare dwase en bose rigting om in te slaan, soos ons nou sien uit die reaksie van Mosambiek, Malawi en ander Afrika lande. En die breër internasionale gemeenskap bly ook nie stil nie. Van ons kunstenaars se konserte word afgestel weens die xenofobie, en ek praat nou nie oor Steve Hofmeyer se konsert in Nederland nie, want daar is ‘n ander dinamiek aan die werk. Ek praat bv. van Kelly Khumalo in Manchester se konsert wat vir eers “on hold” geplaas is.

In die wet van die Here waarsku Hy immers vir Israel om vreemdelinge lief te hê, omdat hulle self vreemdelinge was (Deut. 10:19). Liefhê! Hoekom? Wel, in die eerste plek omdat die Here vreemdelinge lief het (Deut. 10:18). In die tweede plek, omdat ‘n mens maklik ‘n vreemdeling word, weens omstandighede wat jou daartoe dryf. Vreemdelingskap is ‘n werklikheid, en ons as God se mense moet Hom navolg deur vir vreemdelinge lief te wees.

In Christus is daar nie vreemdelinge nie

Maar die Gees werk ook nie net met dié dinge wat daarbuite verkeerd is nie. Hy spreek ook vir ons aan. Ons moet ons eie aandeel aan dié situasie ook bely. Hoe menswaardig hanteer ons ander mense, in ons werk, in ons sosiale konteks, in ons gemeenskap?

Ons kan nie aanspraak maak daarop dat ons God dien, en ons naaste haat nie. Ons kan nie roem op ‘n verhouding met die Here, as ons nie werk aan die verhoudinge met mense wat anders as ons is nie. En ek praat van taal en kultuur. En ek praat van die veroordelende gesprekke wat ons baie keer met mekaar voer. En ek praat van die feit dat ons baie keer weier om oor grense te gaan en mense wat anders as ons is, welkom te laat voel, tuis te laat kom.

Dáár is ons met ons eie vorm van xenofobie besig, al is dit op die oog af nie met fisiese geweld nie.

Ek het só gehou van die een vrou wat ‘n plakkaat opgehou het in die optog in Durban: “In Christ there are no strangers.” Inderdaad. In Christus is daar nie vreemdelinge nie. Maar, dít is nie iets wat ons net kan bely nie. Dit is iets wat ons moet uitleef.

In ‘n sekere sin is die uitreik na vreemdelinge vandag die lakmoes toets vir ons Christenskap, vir die gehalte van ons Godsverhouding. En gelukkig ook iets wat ons prakties kán doen.

Maar dan moet ons saamstaan. En saam doen. Dan is dit baie makliker. Só verander ons die kultuur.

Daar is baie vreemdelinge in ons gemeenskap. Sommige werk in ons huise. Ander bly in ons agterplase. Sommige bly in die studentehuise wat ons bedryf. Nog ander kom na ons gemeente en sluit by ons aan. Daar is ‘n dure plig op ons om met gasvryheid op te tree, om oor grense uit te reik, om ons eerste waarde as gemeente uit te leef: Ons verwelkom almal. Dít is wat ons gekies het as waarde. Dít is wat ons moet uitleef: Ons verwelkom almal.

Die krag om dit te doen, kom van die Gees, sê Miga. Die sin vir wat reg is, kom van die Gees, sê Miga. Die moed om dit uit te leef, kom van die Gees, sê Miga.

Laat ons vir mekaar ‘n voorbeeld wees daarin. Vandag, en elke dag.

Die Here belowe ‘n Koning wat ons weer bymekaar sal maak

Ek sluit af met ‘n boodskap van hoop, ook uit Miga. Midde in dié boodskap van oordeel, sien Miga wel ‘n toekoms wat wentel om die terugkeer van ‘n oorblyfsel aan die hand van ‘n Koning wat hulle weer sal bymekaar sal maak (hfst. 2:12-13). Dit slaan op ‘n Messiaanse toekoms wat ná die ballingskap sal aanbreek. Daar is die pragtige beskrywing van dié Koning as ‘n herder: “Een wat uitbreek, sal hulle lei, hulle sal uitbreek en deur die poort gaan, hulle sal daar uitgaan, hulle Koning sal voor hulle uitgaan, die Here sal voor hulle wees.

Dit neem nie veel verbeelding om in hierdie beskrywing iets van die Here Jesus se beskrywing van Homself as die Goeie Herder in Johannes 10 te lees nie, dié Een wat voor hulle uitloop, en hulle wat Hom volg, omdat hulle sy stem ken. “Ek is die ingang (poort) vir die skape.

Mag ons agter Hom aan verenig en die moed kry om die regte dinge teenoor ander te doen, vreemdelinge te ontvang, te verwelkom, lief te hê.

Dit is waartoe die Gees ons vandag roep. Amen.

Gebed

Dankoffer

Slotlied

Liedboek 433:1-4 Kom Skepper-Gees, kom gee u seën – staan (orrel)

Amen

Respons

Lied 433:4 (laaste 2 reëls) – Leer U ons om met hoop te sug, ons oë op ons Heer te rig – staan (orrel)

     

Tags:

Trackback from your site.

Comments (2)

  • Avatar

    Constance Kotze

    |

    Baie pragtig. Iets wat almaar van ons aan kan werk. Ons moet net glo want God is in beheer.

    Reply

    • Avatar

      Chris van Wyk

      |

      Dit is die fundamentele onderskeid tussen gelowiges en ongelowiges. Ongeloof is om te leef in God se wêreld asof Hy nie bestaan nie. Geloof is om rekening te hou met God se bestaan en beloning van dié wat in Hom glo (Hebr 11:6). Gelowiges het dus die moed om onreg aan te spreek, want ons glo dat God in staat is om op te tree.

      Reply

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Tilla Olivier

    |

    God se grootheid en genade oorweldig ons!
    Dit geen nuwe perspektief te midde van moeilike uitdagings!

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dit is die fundamentele onderskeid tussen gelowiges en ongelowiges. Ongeloof is om te leef in God se wêreld asof Hy nie bestaan nie. Geloof is om rekening te hou met God se bestaan en beloning van dié wat in Hom glo (Hebr 11:6). Gelowiges het dus die moed om onreg aan te spreek, want ons glo dat God in staat is om op te tree.

  • Avatar

    Constance Kotze

    |

    Baie pragtig. Iets wat almaar van ons aan kan werk. Ons moet net glo want God is in beheer.

  • Bybelskool » Bou of breek ons die aarde?

    |

    […] is dit iets waaroor ons gerus beter kan nadink, vanuit ‘n Bybelse perspektief daaroor. Lees gerus hierdie preek van my (uit 2012) om jou denke uit te daag en te verander. Dit neem jou op ’n toer deur die […]