Skip to main content

Ek is by jou om jou te red; Ek lê my woorde in jou mond – Jeremia 1:4-10

Die profeet Jeremia worstel in sy boek met sy roeping om vernietiging en oordeel oor die volk Juda en hulle leiers aan te kondig. Sy boodskap is dat die volk God vergeet het en geweier het om Hom te erken. Hulle is so nutteloos in die verhouding met God soos ’n verslete gordel om sy lyf.

Daarom is die Here hulle nie meer goedgesind nie en het Hy geen medelye meer met hulle nie. En al breek dit Jeremia se hart, verkondig hy dat soos ’n kleipot gebreek word, sal die Here hierdie volk en hierdie stad breek. Die ballingskap in Babel is hulle straf. Die Here gaan hulle nie spaar nie en hulle deur hulle vyande laat wegvoer.

Ironies genoeg is die ballingskap egter ook hulle redding. As deel van Jeremia se roeping om ook op te bou en te vestig, beskryf hy daarom die weggevoerde ballinge as ’n mandjie goeie vye en in ’n brief verkondig hy die Here se goeie guns aan hulle:

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting. Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor.” (Jer 29:11-12).

Dié hoop kry nog groter betekenis in ’n grondkooptransaksie wat Jeremia aangaan in Anatot waarmee die Here ’n belofte aan die volk maak dat ná sewentig jaar van ballingskap daar weer huise, grond en wingerde in Juda gekoop sal word. Die Here belowe om ’n nuwe verbond met hulle te sluit waarin sy woord op hulle harte geskryf en in hulle gedagtes vasgelê sal wees. Almal sal Hom ken, klein en groot.

En dit is presies wat uiteindelik gebeur. Ná sewentig jaar bid Daniël dat die Here die belofte aan die volk sal vervul. En die volk word die geleentheid gegun om terug te gaan na hulle eie land.

Waar het dit alles begin?

Ontvangs

Karen Becker en span by die deure

Vooraf

PowerPoint met collage van belydenisklas en CD musiek – Alexa Barnard

Verwelkoming

Verduideliking van “proef”-erediens met elemente van die Pulse aanddiens ingesluit by die Familiediens. Terugvoer op blaadjies

Kerkraadbesluite oor die eredienste (22 November 2021)

# Dat die aanddiens afgeskaf word ten gunste van ‘n meer insluitende oggenddiens.

# Dat die oggenddiens voortaan anders ingekleur word ten einde dit geskik te maak vir die volle spektrum van gemeentelede oor die verskillende ouderdomsgrense heen. Dit is waarskynlik dat die musiek by die diens ‘n spesifieke fokus sal wees in hierdie proses.

# Die opsie word steeds gegee om in die aande geleenthede te hou met sprekers, praise en worship ens. M.a.w. spesiale geleenthede.

Die kerkraad het van die volgende kennis geneem:

# Dit gaan moeilik wees om die oggenddiens-kultuur te skuif, want mense hou van die orrelmusiek. By ‘n ander gemeente is waargeneem dat daar verskillende dienste gehou word, bv. ‘n Formele diens en ‘n Familiediens, met verskillende aanbiddingstyle.

# Weereens moet die besluit gekommunikeer word aan die gemeente. As die eredienste verdeel word, skep dit nie ‘n gevoel van samehorigheid nie.

# Ons wil soveel as moontlik mense akkommodeer en ‘n middeweg te vind.

# Die geestelike beginsel van verdraagsaamheid is baie belangrik, want ons moet mekaar in ag neem. Ons kan ‘n proeferediens hê, waar mense terugvoer gee d.m.v. ‘n bladsy en penne in die banke te sit en elkeen kan hul stem lig.

# Dit gaan egter ‘n proses wees.

Die volgende besluit is daarna goedgekeur:

# Gemeente word voorberei daarop en kan hul terugvoer gee – m.a.w. dit word ‘n projek.

Daarmee saam het ons soos volg oor die skedulering van kategese besluit:

# Dat kategese voortaan voor, parallel of na die Familiediens in die oggend kan plaasvind, of op ‘n ander tyd soos gereël deur die kategeet in oorleg met sy/haar groep.

VANDAG IS SÓ ‘N PROEFEREDIENS TWV TERUGVOER

Ons sal dus waardeer as jy kommentaar lewer op die uitgedeelde vorm by die erediens om 09:00.

Toetrede

Vonkk 40 (Afr, Eng, Afr) – Kom en vul ons met vrede (sit)

Votum en seëngroet

Praise and Worship (Josien van Eyk en span)

  • Waymaker
  • 10 000 reasons
  • This I believe (the creed)

Kindermoment

Uittreksel uit Jeremia en die Amandelboom – Wendy Maartens en Nici Brockwell (CUM 2021)

Een

Jeremia se pa is ‘n priester. Hy werk in die tempel.

Bedags speel Jeremia in die veld. Hy pas bokke op en klim hoog in die reuse amandelboom se takke.

Saans sit hy en sy pa by die vuur. Dan luister hy na die stories wat sy pa vertel oor al die mense wat die tempel besoek.

Twee

Die maande en jare sweef soos groot wit wolke verby.

Op ‘n dag stap Jeremia met hul bokke in die veld.

Drie

Reg onder die reuse-amandelboom praat ‘n stem skielik met hom.

Jeremia skrik hom boeglam.

Hy kyk rond, maar sien niemand.

Toe onthou hy een van sy pa se stories oor hoe God ook met gewone mense praat.

Daardie aand vra Jeremia vir sy ma: “Kan God regtig enige tyd, enige plek met enigiemand praat?”

“Enige tyd, enige plek, my skat!” fluister sy ma in sy oor voordat sy vir hom nagsê.

Vier

Van toe af wag God elke keer vir Jeremia by die amandelboom.

Elke keer ruis die groot takke.

Elke keer fladder die voëltjies heen en weer.

Jeremia gaan staan met sy rug teen die groot stam sodat hy God se stem deur sy hele lyf kan voel.

Vyf

Op ‘n dag sê God: “Jeremia, jy moet nou mooi luister. Ek het jou geken nog lank voordat jy in jou ma se maag was. Ek het jou gekies om ‘n baie belangrike werk te doen nog voordat jy gebore is. Van nou af is jy my profeet. Jy moet vir al die mense in ander lande gaan vertel wat Ek sê.”

Skielik is Jeremia weer skaam. “Ag, Here, U weet ek kan nie goed praat nie. Ek is nog te jonk.” sê hy benoud.

Toe sê die Here vir Jeremia: “Jy moenie sê jy is te jonk nie. Gaan na al die mense waarheen Ek jou stuur en gee my boodskap vir hulle.”

O, genadetjie tog! Ander se lande se mense gaan mos nooit na my luister nie, dink Jeremia.

Ses

“Jy moet ook nie bang wees vir hulle nie,” lees die Here Jeremia se gedagte. Ek sal by jou wees en jou beskerm!”

Nog voordat Jeremia iets kan sê, steek die Here sy hand uit en raak aan Jeremia se mond.

Jeremia se kop draai.

Duisende sterretjies dans op sy tong.

Sy wange tintel.

Sy lippe brand effens.

Dit voel asof ‘n hele swerm swaeltjies deur sy kop woerts.

Toe sê die Here: “Ek het my woorde in jou mond gesit.”

Jeremia draai sy kop skuins.

O, genadetjie tog, sê nou die woorde val uit dink hy benoud en hou gou sy kop regop.

Sewe

“Kyk, Ek stel jou vandag aan oor ander nasies en regerings. Jy moet afbreek en uitroei wat sleg is. Jy moet opbou en vestig wat goed is.”

Ons lees net tot daar.

Wat leer ons by Jeremia?

Dat God met ons praat. Vandag praat Hy met ons deur die Bybel. Ook deur die boek wat Jeremia geskryf het. Van alles wat God vir hom gesê het.

Dat God belowe dat Hy met ons al wees. Dat Hy sy woorde in ons mond sit sodat ons vir ander van Hom kan vertel.

Gebed

Kategese

Voorskools, graad 1-4’s gaan saam met tannie Ursula. Graad 5-6’s gaan saam met tannie Elga. Graad 7’s bly in die kerk tot aan die einde.

Skriflesing en prediking

Jeremia en sy roeping

Die profeet Jeremia worstel in sy boek met sy roeping om vernietiging en oordeel oor die volk Juda en hulle leiers aan te kondig. Sy boodskap is dat die volk God vergeet het en geweier het om Hom te erken. Hulle is so nutteloos in die verhouding met God soos ’n verslete gordel om sy lyf.

Daarom is die Here hulle nie meer goedgesind nie en het Hy geen medelye meer met hulle nie. En al breek dit Jeremia se hart, verkondig hy dat soos ’n kleipot gebreek word, sal die Here hierdie volk en hierdie stad breek. Die ballingskap in Babel is hulle straf. Die Here gaan hulle nie spaar nie en hulle deur hulle vyande laat wegvoer.

Ironies genoeg is die ballingskap egter ook hulle redding. As deel van Jeremia se roeping om ook op te bou en te vestig, beskryf hy daarom die weggevoerde ballinge as ’n mandjie goeie vye en in ’n brief verkondig hy die Here se goeie guns aan hulle:

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting. Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor.” (Jer 29:11-12).

Dié hoop kry nog groter betekenis in ’n grondkooptransaksie wat Jeremia aangaan in Anatot waarmee die Here ’n belofte aan die volk maak dat ná sewentig jaar van ballingskap daar weer huise, grond en wingerde in Juda gekoop sal word. Die Here belowe om ’n nuwe verbond met hulle te sluit waarin sy woord op hulle harte geskryf en in hulle gedagtes vasgelê sal wees. Almal sal Hom ken, klein en groot.

En dit is presies wat uiteindelik gebeur. Ná sewentig jaar bid Daniël dat die Here die belofte aan die volk sal vervul. En die volk word die geleentheid gegun om terug te gaan na hulle eie land.

Waar het dit alles begin?

Kom ons lees Jeremia 1:4-10

4Die woord van die Here het tot my gekom: 5“Nog voordat Ek jou gevorm het in die baarmoeder, het Ek jou geken; nog voordat jy uitgegaan het uit die moederskoot, het Ek jou geheilig. As profeet vir die nasies het Ek jou bestem.” 6Daarop het ek gesê: “Ag, my Heer, die Here, kyk, ek weet nie hoe om te praat nie, want ek is nog ‘n kind.” 7Maar die Here het vir my gesê: “Moenie sê, ‘Ek is nog ‘n kind’ nie, want na wie ook al Ek jou stuur, moet jy gaan, en wat ook al Ek jou beveel, moet jy sê. 8Jy moet nie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou om jou te red,” is die uitspraak van die Here. 9Die Here het toe sy hand uitgesteek en my mond aangeraak. Die Here het vir my gesê: “Kyk, Ek lê my woorde in jou mond. 10Let op, Ek stel jou vandag aan oor nasies en koninkryke om uit te ruk en af te breek, om ten gronde te laat gaan en plat te slaan, om te bou en te plant.”

Ek wil drie dinge uitlig uit hierdie gedeelte.

1. God ken vir Jeremia nog voordat Hy hom skep.

Dit is ’n diepsinnige perspektief op die lewe! God skep Jeremia volgens die prentjie wat Hy van hom het en voer dit deur met sy vorming in die moederskoot en daarbuite vir die roeping wat God vir hom het. God is dus betrokke by mense van vóór hulle geboorte af.

My kleindogter is drie jaar oud en het nou al opgetel dat daar ‘n tyd was vóór sy gebore is. Toe sy nog net ‘n gedagte in haar ouers se harte was. Sy sal baie keer opmerk: “Was ek toe nog ‘n gedagte?”

Ja, inderdaad. Maar, die verstommende perspektief wat Jeremia vir ons gee, is dat dieselfde van elkeen van ons geld. Maar nie net in ons ouers se gedagtes nie. Dat ons ook soos ‘n Jeremia ‘n gedagte in God se hart was vóór ons geskep en gebore is!

Ek wil jou dus uitnooi om só oor jouself te begin dink. Dat God van jou bewus was van vóór jou bestaan. Dat jy kosbaar is in sy oë. Dat Hy jou in hierdie lewe geskep het omdat Hy wou.

2. God skep Jeremia met ‘n roeping

God skep nie mense lukraak nie. Hy het ‘n doel met elkeen se lewe.

In vers 10 sê die Here vir Jeremia dat Hy hom aangestel het oor nasies en koninkryke:

“om uit te ruk en af te breek, om ten gronde te laat gaan en plat te slaan, om te bou en te plant.”

Dit is dieselfde woord wat gebruik word om bv Abraham se roeping te beskryf (vgl Gen 18:19). Amos beskryf dit so:

Ek het hom gekies (aangestel) dat hy sy kinders en sy nageslag kan beveel om op my pad te bly deur te doen wat goed en reg is, sodat Ek vir Abraham kan doen wat Ek hom beloof het.” (Amos 3:2)

Peterson vertaal die vers daarom so mooi:

Yes, I’ve settled on him as the one to train his children and future family to observe God’s way of life, live kindly and generously and fairly, so that God can complete in Abraham what he promised him.” (The Message).

Dit is ook waar van elkeen van ons, veral van ons wat in die Here Jesus Christus glo, en reeds die Groot Opdrag aanvaar het om dissipels van al die nasies te gaan maak (Matt 28:19).

God het vir elkeen van ons ‘n roeping, ‘n taak.

3. God gee beloftes om Jeremia te motiveer

God vra niks van ons waarvoor Hy ons nie voorberei, en waarvoor Hy ons nie bemagtig nie. Veral sy beloftes is kosbaar, want ons weet dat God sy beloftes vervul. In Christus is al sy beloftes “ja, en Amen.” (2 Kor 1:20)

Vir Jeremia was daar twee beloftes aan die begin van sy bediening:

  • “Ek is by jou om jou te red.” En:
  • “Ek lê my woorde in jou mond.”

Dit is beloftes waarmee Jeremia sy uitdagende opdrag moes aanvaar – ‘n verlossende oordeel oor nasies en koninkryke.

Dieselfde God wat Jeremia geken, gevorm, geheilig en gekies het, en dit met al die ander geloofshelde gedoen het, sal dit ook met jou doen vir die roeping wat Hy vir jou het. Sy beloftes aan Jeremia kan ook vir jou moed gee daarvoor.

Jy kan dieselfde twee beloftes vir jouself en jou roeping aangryp:

  • God is by jou.
  • God gee jou woorde (dws wat jy nodig het om jou roeping uit te voer).

Maar, daar is nog talle meer. In die Skrif.

Soos ek netnou ook vir die belydenisklas gaan gee. Sommige van die tekste is meer opdragte, maar altyd geskoei op God se beloftes. Want, wat God vra, daarvoor berei Hy ons voor, daarvoor bemagtig Hy ons.

Belydenisaflegging

Ons gaan eers vir Sino Makaya doop.

Nou volg die belydenisaflegging.

  • Tekste op skerm
  • Jaco geskenkie

Alexa Barnard – 2 Tessalonisense 1:11-12 (Jaco en Annemarie)

Met die oog hierop bid ons ook altyd vir julle, dat ons God julle vir hierdie roeping waardig sal ag, en dat Hy deur sy krag al julle goeie begeertes en geloofsdade ten volle sal verwesenlik, sodat die Naam van ons Here Jesus onder julle verheerlik kan word, en julle in Hom verheerlik word, op grond van die genade van ons God en die Here Jesus Christus.

Jaco Burden – Romeine 12:1-2 (Jasper en Petro)

Broers, op grond van die barmhartigheid van God roep ek julle dus nou op om julle liggame beskikbaar te stel as ‘n offer wat lewend en heilig is, en vir God aanneemlik. Dit is julle sinvolle godsdiens. Julle moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.

Viné Calonne – Psalm 37:5-6 (Vince en Lezan)

Vertrou jou lewenspad aan die Here toe, vertrou op Hom, en Hy sal optree. Hy sal jou geregtigheid soos die oggendlig laat verskyn en jou reg soos die middagson.

Dylan Fourie – 1 Timoteus 4:12 (Johan en Angelique)

Laat niemand op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees ‘n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in gedrag, in liefde, in betroubaarheid, in reinheid.

Danielle Honiball – Romeine 12:14-18 (Ed en Magriet)

Seën julle vervolgers; ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie. Wees bly saam met diegene wat bly is; treur saam met diegene wat treur. Wees eensgesind onder mekaar; moenie hoogmoedig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie wys wees in julle eie oë nie. Moet niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar rig julle gedagtes op dit wat vir alle mense goed is. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.

Jacques Le Roux – Filippense 4:12-13 (Pierre en Loreen)

Ek weet wat dit is om te min te hê, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê; ek is in elke opsig in al hierdie dinge ingewy: om versadig te wees, sowel as om honger te ly; om oorvloed te hê, sowel as om gebrek te ly. Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee.

Ruan Le Roux – Romeine 1:16-17 (Jacques en Adel)

Ek skaam my immers nie vir die evangelie nie, want dit is die krag van God tot verlossing vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood, maar ook vir die Griek. Want daarin word geopenbaar dat die geregtigheid van God geheel en al op geloof berus, soos daar geskryf staan: “Die regverdige op grond van geloof sal leef.”

Sinothando Makaya – Filippense 2:12-13 (doop – Elsje Nelson – ons dink ook aan Kobus)

Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam was – nie net in my teenwoordigheid nie, maar nou ook nog veel meer in my afwesigheid – werk met vrees en bewing aan julle verlossing. Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God.

Monique Millard – Matteus 11:28-30 (Annemarie – ons dink ook aan Dewald)

Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. Want my juk is draaglik en my las is lig.

Lize Muller – 2 Timoteus 3:14-17 (Karl en Riëtte)

Maar jy, bly jy by dit wat jy geleer het en waarvan jy vas oortuig is, omdat jy weet by wie jy dit geleer het, en omdat jy van kleins af die Heilige Skrifte ken wat jou die wysheid kan gee tot verlossing deur die geloof in Christus Jesus. Elke Skrifdeel is deur God geïnspireer en is nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam, sodat die mens wat aan God behoort, bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie taak.

Angelique Roodt – Romeine 8:37-39 (Roelf en Lynette)

Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.

Anke Serfontein – Psalm 23:1-3 (Linus en Andra)

Die Here is my herder; ek ly nie gebrek nie. In groen weivelde laat Hy my rus; na water waar daar rusplek is, lei Hy my. Hy gee my nuwe lewenskrag; Hy lei my op die regte paaie ter wille van sy Naam.

Arno Van Heerden – Spreuke 3:5-6 (Vince en Ilse)

Vertrou op die Here met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak.

Gebed

Bedankings

Anke Serfontein en Lize Müller

Slotlied

Vonkk 53:1-2 – Skuil by die Vader (staan)

Seën

Uitsendingslied

Lied 269:1-4 – God bly met jou waar jy ook mag gaan (staan)

Live op Youtube

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.