Skip to main content

Matteus 18:21-35: Die oorvloed van vergifnis

Die student Sibongile Mani het hierdie week ‘n algemene gesig geword in die media.  Sy het per ongeluk R14 miljoen gekry en in ‘n kort tydjie reeds R818 000 daarvan uitgegee.

Nou, ek wil haar nie “shame” nie.  Ek wonder wat ek sou gedoen het as ek só baie geld in my rekening gehad het.  Wat sou jy gedoen het?  Jy kan gaan kyk wat NMB studente geantwoord het op dié vraag.

En al sou jy die regte ding gedoen het en die geld teruggegee het, die punt is dat sy nou die geld skuld, want sy het dit uitgegee.

So, kry hierdie prentjie in jou kop.  Sibongile word voor die raad gedaag en gevra om die geld terug te betaal.  Want, sy skuld dit vir die owerhede.

Maar, sy kan nie.  Daar is nie ‘n manier nie.  Iemand het uitgewerk hoeveel jaar dit sou neem as sy ‘n goeie werk sou hê en dit moet terugbetaal.  Dit sal haar meer as twintig jaar neem, as sy elke maand R8 000 terugbetaal.

Nou, stel julle voor dat Sibongile begin pleit dat hulle haar moet vergewe … en die raad stem in.  Hulle skryf dit af.  Sy loop as ‘n vry mens daar uit. Sy kan aangaan met haar lewe.  Sy hoef nooit weer daaroor te wonder of te wroeg nie.  Sy is vry.  Sy het geen skuld meer nie.  Sy is vergewe.

HIER VOLG DIE HELE PREEK

Jesus se vierde toespraak, die sogenaamde kerkrede, begin met ’n vraag van die dissipels oor wie nou eintlik die belangrikste in die koninkryk van die hemele is.  Dit is nogal ironies gegewe dat Jesus so pas oor sy eie kruispad gepraat het.  Jesus antwoord daarom nie net dié vraag nie, maar brei uit oor die verhoudinge binne die kerk wat pas by die model van selfontlediging wat Hy so pas vir hulle gegee het.

Ons fokus op die gelykenis, die een oor oorvloedige vergifnis.

21Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?”

22Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer. 23Daarom kan die koninkryk van die hemel vergelyk word met ’n koning wat besluit het om saam met sy amptenare hulle boeke na te gaan. 24Toe hy daarmee begin, is een amptenaar na hom toe gebring wat miljoene rand geskuld het. 25Hy kon dit nie betaal nie, en daarom het die koning beveel dat hy en sy vrou en sy kinders en alles wat hy het, verkoop en die skuld betaal moet word. 26Die man het voor hom neergeval en gesoebat: ‘Gee my tog uitstel; ek sal u alles terugbetaal.’27Die koning het hom jammer gekry, hom laat gaan en sy skuld afgeskryf.

28“Toe daardie man buite kom, het hy een van sy medeamptenare raakgeloop wat hom net ’n paar rand geskuld het. Hy het hom gegryp en gewurg, en gesê: ‘Betaal wat jy skuld!’29Sy medeamptenaar het voor hom neergeval en hom gesmeek: ‘Gee my tog uitstel, ek sal jou betaal.’30Maar hy wou nie en hy is daar weg om hom in die tronk te laat gooi totdat hy die skuld betaal het.

31“Toe sy medeamptenare sien wat gebeur het, was hulle diep teleurgesteld, en hulle het alles wat gebeur het, vir hulle koning gaan vertel. 32Die koning het hom laat haal en vir hom gesê: ‘Jou skurk! Al daardie skuld het ek vir jou afgeskryf omdat jy my gesoebat het. 33Moes jy nie ook jou medeamptenaar jammer gekry het soos ek jou jammer gekry het nie?’34Die koning was woedend en het hom oorgegee om gemartel te word totdat hy al die skuld betaal het.

35“So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”

Sibongile Mani

Die student Sibongile Mani het hierdie week ‘n algemene gesig geword in die media.  Sy het per ongeluk R14 miljoen gekry en in ‘n kort tydjie reeds R818 000 daarvan uitgegee.

Nou, ek wil haar nie “shame” nie.  Ek wonder wat ek sou gedoen het as ek só baie geld in my rekening gehad het.  Wat sou jy gedoen het?  Jy kan gaan kyk wat NMB studente geantwoord het op dié vraag.

En al sou jy die regte ding gedoen het en die geld teruggegee het, die punt is dat sy nou die geld skuld, want sy het dit uitgegee.

So, kry hierdie prentjie in jou kop.  Sibongile word voor die raad gedaag en gevra om die geld terug te betaal.  Want, sy skuld dit vir die owerhede.

Maar, sy kan nie.  Daar is nie ‘n manier nie.  Iemand het uitgewerk hoeveel jaar dit sou neem as sy ‘n goeie werk sou hê en dit moet terugbetaal.  Dit sal haar meer as twintig jaar neem, as sy elke maand R8 000 terugbetaal.

Nou, stel julle voor dat Sibongile begin pleit dat hulle haar moet vergewe … en die raad stem in.  Hulle skryf dit af.  Sy loop as ‘n vry mens daar uit. Sy kan aangaan met haar lewe.  Sy hoef nooit weer daaroor te wonder of te wroeg nie.  Sy is vry.  Sy het geen skuld meer nie.  Sy is vergewe.

Die koning skryf die slaaf se massiewe skuld af

Dit is wat Jesus hier op die tafel sit.  Hy vertel die gelykenis van die slaaf om ons te wys hoe vergifnis werk, om ons gerus te stel dat dit is hoe God werk. Hierdie slaaf se massiewe skuld is afgeskryf.  Hoekom?  Omdat die koning, sy heer, hom innig jammer gekry het.  Die slaaf se skuld was tienduisend talente wat doodgewoon dui op die grootste bedrag denkbaar, baie meer as Sibongile s’n.

Vir dié wat die som wil uitwerk: ’n talent was sesduisend denarii werd en ’n denarius was ongeveer die minimum dagloon van arbeiders van daardie tyd werd.  As die dagloon dus R100 per dag in ons geldeenheid sou verteenwoordig, het die slaaf R6 000 miljoen geskuld, 6 Miljard Rand!  Die koning het dus ’n amper onmoontlike hoeveelheid skuld afgeskryf en die slaaf vergewe.

Dit is wat God vir ons doen

Dit is wat God vir ons doen.  Hy skryf ons skuld af, die skuld vir ons sonde, die skuld vir ons ongehoorsaamheid.  Hy laat sy Seun aan die kruis sterf dat ons skuld afgeskrywe kan word.  In plaas daarvan dat jy en ek vir ons sonde doodgemaak word, sterf Jesus in ons plek.

En julle weet hoe dit werk.  Elkeen wat glo dat Jesus aan die kruis vir ons sonde gesterf het, kry vergifnis van sonde.  En op die koop toe die ewige lewe.  Dit is die fondament van ons verhouding met God, dat Hy ons vergewe, dat ons vrymoedigheid kan hê voor hom, dat ons gewete ons nie aankla in ons verhouding met Hom nie.

Stel jou voor Sibongile vra haar maats om haar terug te betaal

Maar, stel jou nou voor Sibongile stap by die raadsaal uit, en sy kom een van haar maats teë wat saam met haar die R818 000 geblaas het, en sy vat hulle aan om haar terug te betaal.  En nie hoe nie, sy neem hulle hof toe om die geld uit hulle te kry.

Nie so nice nie, nê?  Maar, dit is presies wat Jesus in die verdere verloop van die gelykenis vertel.  Die slaaf van wie die massiewe skuld afgeskryf is, het nie dieselfde barmhartigheid teenoor sy medeslaaf betoon as sy heer nie, nie en laat die een wat aan hom geld skuld in die tronk gooi.  Die ander slaaf het hom ‘n honderd denarii geskuld – ongeveer R10 000 as dieselfde som gemaak word in vandag se geld.  Die eerste slaaf se skuld van R6 miljard is afgeskryf.  Hy gooi egter ‘n ander slaaf in die tronk vir R10 000.

Geen wonder dat die koning sy vergifnis teruggetrek van die slaaf, omdat hy nie op dieselfde wyse barmhartig teenoor sy medemense opgetree het nie.  Waar vergifnis nie deel van jou lewe raak nie, trek jy ‘n streep deur die vergifnis wat die Here gee.

Ook ‘n kant van God waarmee ons rekening moet hou.  Hy kan hierdie massiewe skuld van ons sonde vir ons afskryf.  Ons is werklik vry, maar as ons self nie soos Hy begin vergewe nie, dan maak ons sy vergifnis ongeldig, onwerksaam in ons lewe.  En dan bly die toorn van God op ons.

Hoeveel maal moet ons vergewe?

Maar, sê jy, R10 000 is darem R10 000!  Moet ek nou toelaat dat ander my uitbuit?  Hoe kan ek sommer skuld afskryf?

Wel, onthou, Jesus vertel dié gelykenis juis omdat Petrus bekommerd was dat vergifnis deur ‘n sondaar uitgebuit en misbruik kan word.  Daarom het Petrus gevra, hoeveel maal moet ek hom of haar vergewe?  Hy dog hy is vrygewig deur te dink dat sewe keer se vergifnis moontlik genoeg is.  Dan nie?

Jesus se antwoord wys dat vergifnis die diepste waarde in die Christelike geloofsgemeenskap is.  Nie sewe keer nie, sê Jesus, maar sewentig maal sewe keer moet ons mekaar vergewe.  D.w.s. elke keer!

Ons moet soos God vergewe

Daarmee gee Jesus vir ons dus die eintlike maatstaf waarmee ons met dié wat teen ons oortree, moet handel.  Ons moet soos God vergewe, want Hy is soos die koning in die gelykenis!  Daar mag dus ook geen beperking op ons vergifnis van ons medegelowiges te wees nie.  Ons moet oorvloedig in vergifnis wees.

As jy nog tel hoeveel keer jy moet vergewe, is jy reeds besig om verkeerd op te tree.  Jesus roep ons om nie te probeer tel hoeveel keer jy vergewe nie.  Nee, om heeltemal oorvloedig in vergifnis te wees.  Altyd.  As iemand jou kom vra, vergewe my, kan jy net een respons hê: ja, ek sal.

God deurbreek die siklus van wraak en weerwraak

Wat die Here hiermee doen, is om die siklus van wraak en weerwraak te deurbreek.  Jy doen iets aan my.  Ek wreek my op jou.  Jy dink ek het te erg opgetree, dan tree jy in weerwraak op.  En ek reageer weer erger, en jy weer nog erger.  En dan raak ons kinders betrokke, en ons kleinkinders, en ons nageslagte.  Dit is hoe oorloë in stand gehou word.

Jesus wil juis die siklus van wraak en weerwraak deurbreek.  Hy het dit begin deur ons sondeskuld af te skrywe.  En Hy wil hê dat ons soos Hy sal vergewe, sodat mense nuut kan begin, in vergifnis hulleself kan vind en nuut kan lewe.

Dit is wat Jesus aan die kruis gedoen het.  Hy het ons selfs vergewe voor ons nog vir Hom gevra het.  Dit is net as ons dié vergifnis van die hand wys, as ons die hand weg klap wat Hy na ons toe uitsteek, dat die vergifnis tot niet gaan, nie sy werk in ons lewe kan doen nie …  En so is dit ook in ons lewe.

Daar is vier dinge wat ons kan help om vergifnis nie net te waardeer nie, maar aktief te begin om in vergifnis te lewe.  Vier dinge wat jy in gedagte kan hou.

1.  Vergifnis is ‘n geskenk van God wat ons nie verdien nie

God het nie nodig gehad om ons te vergewe nie.  Hy het uit vrye genade, net op grond van sy eie besluit, ons vergewe.  Ons sondeskuld is uitgewis.  Ons het sy genade ontvang.  Ons sal nooit kry wat ons verdien nie, want Jesus het daarvoor betaal aan die kruis.

Sy vergifnis is ‘n radikale vernuwing van ons verhouding.  Ons kan met vrymoedigheid Hom in die oë kyk.  Dit is asof ons nooit gesondig het nie.  Asof ons nooit enigiets verkeerds gedoen het nie.  So skoon was Hy ons van ons sondeskuld.

2.  Vergifnis is ‘n geskenk wat ons aan ander moet gee

God se vergifnis verander ons binnekant, sodat ons ook die vergifnis en genade aan ander sal wil aangee.  Ons hou nie boek van die kwaad, en wanneer ons boek volgeskryf is, dan begin ons wraak neem nie.  Nee, sewentig maal sewe, d.w.s. so lank as wat ons leef, so lank gee ons vergifnis en genade aan vir alle mense rondom ons.  Soos God dit vir ons gedoen het.  Só doen ons dit ook vir ander.

Natuurlik kan mense kies om die vergifnis nie te aanvaar nie, en dan skop die ander kant van God in.  Hy tree op teen mense wat nie in vergifnis lewe nie.  Vergifnis is iets waaraan jy net deel kan hê as jy dit ontvang, en daarin leef en bereid is om dit aan te gee.  Anders bly die toorn van God op jou, want jy bly vasgevang in jou skuld.

3.  Vergifnis is ‘n geskenk wat alles anders maak

Ons leef in ‘n wêreld waar wraak en weerwraak die manier is waarop mense boosheid en onreg hanteer.  Dink maar net aan hoeveel flieks is daar wat met die tema van wraak werk.  Dit is van die beste flieks wat gemaak is.

Maar, dié flieks vertel ‘n leuen.  Daar is net een manier om daardie siklus van wraak te deurbreek, en dit is om te vergewe, om die skuld af te skrywe, om ‘n nuwe lewe moontlik te maak.  Wraak laat ons al hoe dieper in die duisternis vasval.  Vergifnis bring lig en laat ons asem skep om nuut te begin.

Vergifnis maak die een wat verkeerd gedoen het, vry.  Dit laat hom of haar oor begin.  Dit ruk die bitterheid van woede en wraak wortel en tak uit ons hart uit en keer dat dit ons verteer.  Daar is ‘n gesegde dat om iemand nie te vergewe nie, is om gif te drink en te hoop dat die ander persoon doodgaan daarvan.

Daar is ‘n antieke gebruik in Afrika, deel van die Ku tradisie wat voorskryf dat as jy skuldig bevind is aan moord, die familie van die vermoorde jou in ‘n boot laai, jou hande en voete vasbind, en dan oorboord gooi.  Die familie van die vermoorde, en net hulle, het die reg om in te spring en jou te red van verdrinking.

As hulle kies om jou te laat doodgaan, weet hulle die dood is gewreek, maar hulle sal altyd treur hieroor.  As hulle kies om jou te laat lewe, dan weet hulle, die vermoorde sal nie weer lewendig word nie, maar hulle sal met hulle lewe kan aangaan.  Hulle sal nuut kan begin.  Die moordenaar ook.  En niemand maak vir hulle die keuse nie.  Dit is die familie se keuse.  Maar hulle weet, wraak hou die effek van die onreg lewend.  Vergifnis maak almal vry van die onreg. Die familie kan kies.

En ons moet dit goed hoor.  Wraak vernietig jouself.  Vergifnis maak jou vry.  Vergifnis is die een ding wat jou los maak van jou verlede. Want, vergifnis help nie net die een wat vergewe word nie.  Dit maak ook die een wat vergewe, vry.  Dit is die enigste manier waarop ‘n mens gesond word.  Want, selfs al word iemand gestraf, bly die bitterheid baie keer steeds in ‘n mens se hart.  Die enigste manier waarop jy vryheid in jou hart kry, is deur vergifnis.

4.  Om vergewe te word en om te vergewe, hoort onlosmaaklik by mekaar

Om deur God vergewe te word, en om ander te vergewe, hoort onlosmaaklik by mekaar.  Soos Jesus in die Ons Vader vir ons leer: “en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.” (Matt. 7:12).  Jy kan nie die een hê sonder die ander nie.  As jy nie vergifnis aangee nie, trek jy ‘n streep deur jou eie vergifnis.

Toepassing

Ek wil vir julle twee verhale van vergifnis vertel.  Jy kan jouself spieël daarin.  Ek gaan tyd gee ná die tyd dat jy jouself aan die Here gee om sy vergifnis te vra, maar ook te dink aan mense wat jy moet vergewe en in geloof te waag om dit te doen.

Waarheids- en Versoeningskommissie

Die eerste kom uit die Andrew Harvey se boek “The hope, a guide to sacred activism.”  ‘n Naamlose bejaarde swart vrou het gestaan ​​in ‘n emosioneel gelade hofsaal, en luister na wit polisiebeamptes wat erkenning gee aan die gruweldade wat hulle in die naam van apartheid gepleeg het. Polisieman van der Broek het sy verantwoordelikheid in die dood van haar seun erken. Saam met ander het hy haar 18-jarige seun geskiet van naby. Hy en die ander het deelgeneem terwyl hulle sy lyf verbrand het, dit oor en oor op die vuur omgedraai totdat dit tot as verbrand het.

Agt jaar later het Van der Broek en ander gearriveer om haar man te gryp. ‘n Paar uur later, kort na middernag, het Van der Broek die vrou gaan haal. Hy het haar na ‘n houtstapel geneem waar haar man vasgebind was. Sy was gedwing om te kyk terwyl hulle petrol oor sy lyf uitgegooi het en die vlamme aan die brand gesteek het. Die laaste woorde wat sy haar man gehoor sê het, was “vergewe hulle.

Nou staan ​​Van der Broek voor haar en wag op die oordeel. Suid-Afrika se Waarheids- en Versoeningskommissie het haar gevra wat sy wou hê. “Ek wil drie dinge hê,” het sy kalm gesê. “Ek wil hê mnr. Van der Broek moet my na die plek neem waar hulle my man se liggaam verbrand het. Ek wil die stof bymekaarmaak en hom ‘n ordentlike begrafnis gee.

Tweedens het mnr. Van der Broek my hele gesin weggeneem van my en ek het nog baie liefde om te gee. Tweemaal per maand wil ek hê hy moet na die ghetto toe kom en ‘n dag saam met my spandeer sodat ek ‘n ma vir hom kan wees.

Derdens wil ek graag hê dat mnr. Van der Broek moet weet dat hy vergewe is deur God en dat ek hom ook vergewe. Ek wil hê dat iemand my moet lei na waar hy gaan sit, sodat ek hom kan omhels en hy kan weet My vergifnis is werklik.

Soos die bejaarde vrou oor die hofsaal gelei is, het Van der Broek in mekaar gesak, oorweldig. Iemand het begin sing “Amazing Grace.” Geleidelik het almal begin sing. Hierdie vrou het verstaan wat dit beteken ​​om met God versoen te wees, en wat dit beteken om met jou naaste versoen te word, en dat vyande inderdaad vry moet wees.

Corrie ten Boom

Die tweede verhaal is uit The Hiding Place, die outobiografie van Corrie Ten Boom.  Daar praat sy oor haar ervaring van vergifnis. Corrie is in die Tweede Wêreldoorlog gevange geneem deur die Nazi’s, omdat sy Jode weggesteek en beskerm het. Sy vertel van haar ervaring by ‘n kerkdiens na die oorlog verby was en sy uit gevangenskap vrygelaat is.  Sy het gepreek oor vergifnis.

Toe sy afklim van die preekstoel en in die middel van die liturgiese ruimte gaan staan het, het sy opgemerk dat ‘n man na haar toe kom met sy hand uitgesteek met ‘n glimlag op sy gesig. Sy het hom herken as die hoofwag in die konsentrasiekamp waar sy en haar suster gevange gehou is en waar haar suster dood is.

O, Fraulein,” het hy gesê, “hoe dankbaar is ek vir jou kragtige boodskap. Om te dink dat Jesus my sondes weggewas het.”  Corrie Ten Boom het verstyf, omdat die wag sy hand na hare uitgesteek het. Sy kon egter haar nie sover kry om haar hand op te lig nie.

Sy skryf: “Soos die wraakgierige gedagtes deur my gekook het, het ek die sonde daarvan gesien … en tog kon ek niks daaraan doen nie.  Ek kon nie selfs die geringste vonk van liefde of vergifnis voel nie. En so het ek stilweg gebid: ‘Jesus, ek kan hom nie vergewe nie, gee my asseblief U vergifnis.’”  En met die gebed kon sy haar hand oplig en die hand van die man wat haar vervolg het, neem.

Uit my skouer,” skryf sy: “langs my arm af en deur my hand het ‘n stroom van my na hom gegaan … en op daardie oomblik het ek ontdek dat die genesing van ons wêreld nie gebaseer is op ons vergifnis of ons goedheid nie, die wêreld se genesing hang van God af. Wanneer die Here ons vra om ons vyande lief te hê, gee Hy ons, saam met die opdrag om dit te doen, die liefde wat nodig is.

Tyd om jou saak met die Here reg te maak en ander te vergewe

Ek gaan ‘n video speel met ‘n liedjie van Matthew West: “Forgiveness”.

  • Vra die Here om vergifnis in gebed.
  • Dink aan mense wat jy moet vergewe en vra dat God jou sal help.
View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.