Skip to main content

Jesaja 49:1-7 – Die werk behoort aan U, o Heer, die werk waarin ons staan

Die lewe is nie maklik nie!

Die lewe is darem nie maklik nie!

Ek weet nie wat jou dié jaar al te beurt geval het nie, maar baie van ons het alreeds ons kwota slegte nuus en teënspoed gehad.

Ek praat van die kwota lyding waaraan ons reeds net in die eerste twee weke van dié jaar blootgestel is.

  • ‘n Baie naby kollega en vriend se vrou is dié week met kanker gediagnoseer en moet die moeitevolle pad van behandeling begin.
  • Nog ‘n naby kollega saam met wie ek die afgelope jaar baie sakke sout opgeëet het, is dié week met kanker gediagnoseer en die prognose is baie sleg.
  • ‘n Ander vriendin, eintlik deel van ons uitgebreide familie, het haar werk in ‘n slegte sameloop van omstandighede verloor.
  • Ek was betrokke by iemand wat ons van die straat af in ‘n rehabilitasiesentrum wou kry, sonder sukses.
  • Ekself het die eerste keer in veertig jaar weer die binnekant van ‘n hospitaal as pasiënt beleef met ‘n niersteen aan die begin van dié jaar.
  • En ek sien hoe moeilik ons kinders wat afgestudeer het, werk kry. Sommige is gelukkig, maar ander juis nie.

Scott Peck is reg as hy sy boek The Road Less Travelled met die gelade sin begin: “Life is difficult.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS – download the English here: Isaiah 49

Verwelkoming

  • Ons kort baie dringend groepleiers vir Gr 3 en 7, asook Gr 4 en 5.  (Ons het vir Gr 1-6 2 leiers, wat dan beurte maak.  Daar is tans geen vir Gr 7.  Gr 7 ontmoet Sondae 17:30)
  • Tienerdiens Sondagaand – alle tieners welkom! Ons gaan baie sing, ’n kort video kyk en dan ’n gespreksdiens hê.
  • Studentekamp – met die skryf hiervan het ons 16 inskrywings.  Ons moet betaal vir 40.  Minstens 2 van die huidige inskrywings kan ook nie vir hulleself betaal nie.  Ons kort dus:  (1) nog studente om saam te gaan kamp – laat inskrywings dus welkom en (2) borge.
  • Begroting: ons het begroot vir ‘n tekort van ongeveer R500 000 wat ons beoog om uit ons belegging te diens. Die ekstra dankoffers deur die jaar sal waarskynlik beteken dat dié tekort minder gaan wees.  En met die onverwagse vermindering van personeel – Etienne Snyman het ‘n jeugpos in Durbanville aanvaar en Annelet soek nou ook werk in die omgewing – sal ons ‘n haalbare begroting vir die volgende boekjaar kan uitwerk.
  • Ek wil ook weet of die Luisterblad sy doel dien. Wie gebruik die Persoonlike Luisterblad?  Onthou die Stiltetyd ekstra materiaal wat op die webtuiste in elektroniese pdf formaat en in die kerkkantoor in gedrukte formaat teen R20 beskikbaar is.  Wie gebruik die Saamluisterblad?  Wie gebruik die Familie-luisterblad?

GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Toetrede

Psalm 118:1 Kom, loof die Heer se liefdesdade – sit

Votum en Seëngroet

Lofsang

Vonkk 267 God is so goed – staan

Flam 5 Daar is geen grens – staan

Inleiding – kindertyd

Ek het ‘n klomp Astro’s wat ek graag wil uitdeel vir julle.  Ek wil dit in hierdie bakkie gooi sodat elkeen van julle een kan kry.  Ek gaan hierdie pyp gebruik.  Maar dit wil nie deur gaan nie. Hoekom nie?  O, daar is ‘n knoop in ‘n die pyp.  Kom ons haal die knoop uit die pyp.  Nou sal dit makliker wees nê?  Maar ek kry die punt van die pyp nie by die bakkie nie.  Sal een van julle my kan help? Nou is dit maklik nê?  Kry vir julle.

Ek gaan vanoggend met die gemeente gesels oor God wat vir ons goeie dinge wil gee.  Hoekom?  Want God is lief vir ons.

Maar God kies om dit deur ‘n pyp of ‘n kanaal te doen.  Watter kanale dink julle gebruik Hy?  Ja, Hy gee vir ons reën en Hy sorg vir die natuur.  Hy gebruik die natuur.  Maar baie keer gebruik Hy vir ons.  As Hy goed wil wees vir my, gebruik Hy baie keer iemand wat naby aan my is.  Netso as Hy goed wil wees vir jou.

Soms is ons egter nie lus om ander te help nie.  Dan is ons soos die knoop in die pyp.  Ons keer dat God se goeie dinge by ander uitkom.  Wat moet ons dan doen?  Ons moet die Here vra om ons só lief te maak vir mense dat ons nie sal omgee dat hulle goeie dinge kry nie.

Soms is die werk egter te moeilik vir een mens.  Dan is ons soos die pyp se punt wat nie by die bakkie kan uitkom nie.  Wat moet ons dan doen?  Ons moet iemand vra om ons te help sodat ons God se goeie dinge by ander mense kan uitbring.  Spanwerk kry die goeie dinge by ander mense uit.

Hierdie week het ek vir julle ‘n opdrag.  Vra die Here om vir julle te wys vir wie julle ‘n goeie ding kan doen.  En dan gaan doen julle dit.  Dit kan ‘n Astro wees.  Of om skottelgoed te was of in die masjien te pak.  Of om jou bed op te maak.  Of met ‘n alleen maatjie by die skool te speel.  En as die goeie ding te groot is, vra iemand om julle te help.

God wil hê dat alle mense die goeie dinge in die lewe sal kan geniet.  En Hy kies ons om Hom daarmee te help.

VONKK 213 God is lief vir my,  God is lief vir jou – sit

Aanbidding

Vonkk 254 God is hier en ons, sy kinders, bring voor Hom ons lof, gebed  – sit

GOD PRAAT EN ONS LUISTER

Skriflesing

Hoofstuk 49 fokus in die eerste sewe verse op die bediening van die dienaar van die Here.  Die dienaar is weereens ‘n individu, soos in hoofstuk 42, wat nie net vir Israel redding moet aankondig nie, maar ook vir die nasies.  Soos Jeremia (Jer 1:3) word hy voor sy geboorte al geroep.  En soos Jeremia (bv Jer 11:18-17) ervaar hy pyn in die uitvoer van sy roeping – hy is bang dat sy opoffering verniet en tervergeefs sal wees (Jes 49:4), en dit is ook duidelik dat hy verag en verafsku is (Jes. 49:7).  Tog staan hy vas in sy vertroue dat God aan hom reg sal laat geskied, en vrug op sy arbeid sal gee, met selfs die konings en leiers wat hom sal erken.  Let op dat die boodskap bedoel is vir Jode sowel as die nasies en dat dit die redding van die nasies insluit.

Jesaja 49:1-7

Luister na My, eilande,

gee aandag, nasies wat ver is!

Die Here het my voor my geboorte al geroep;

toe ek nog in my moeder se liggaam was,

het Hy my op my naam genoem.

2Hy het my mond

soos ’n skerp swaard gemaak,

my in die skaduwee van sy hand verberg,

Hy het my ’n skerp pyl gemaak

en my in sy pylkoker weggesteek.

3Hy het vir my gesê: Jy is my dienaar,

jy is Israel,

deur jou maak Ek my mag bekend.

4Ek het gedink:

ek het my tevergeefs vermoei,

ek het my heeltemal verniet afgesloof.

Maar die Here sál aan my reg

laat geskied,

my God sál my beloon.

5En nou maak die Here ’n aankondiging,

Hy wat my in die moederskoot al

sy dienaar gemaak het

om Jakob na Hom toe terug te bring

sodat Israel nie meer verstrooi

sal wees nie.

Die Here het my

’n belangrike opdrag gegee

en my God gee my die krag

om dit te doen.

6Hy het gesê: Dit is nie genoeg

dat jy my dienaar is

om die stamme van Jakob te herstel

en om die Israeliete wat gered is,

terug te bring nie;

Ek maak jou ’n lig vir die nasies

sodat die redding wat Ek bewerk,

die uithoeke van die aarde sal bereik.

7So sê die Here,

die Heilige van Israel,

sy Verlosser,

vir dié een wat diep verag is,

wat deur die nasies verafsku word

en wat ’n dienaar van regeerders is:

Konings sal sien wat gebeur

en sal opstaan,

leiers sal buig

tot eer van die Here wat getrou is,

die Heilige van Israel

wat jou uitverkies het.

Prediking

Die lewe is nie maklik nie!

Die lewe is darem nie maklik nie!

Ek weet nie wat jou dié jaar al te beurt geval het nie, maar baie van ons het alreeds ons kwota slegte nuus en teënspoed gehad.

Ek praat van die kwota lyding waaraan ons reeds net in die eerste twee weke van dié jaar blootgestel is.

  • ‘n Baie naby kollega en vriend se vrou is dié week met kanker gediagnoseer en moet die moeitevolle pad van behandeling begin.
  • Nog ‘n naby kollega saam met wie ek die afgelope jaar baie sakke sout opgeëet het, is dié week met kanker gediagnoseer en die prognose is baie sleg.
  • ‘n Ander vriendin, eintlik deel van ons uitgebreide familie, het haar werk in ‘n slegte sameloop van omstandighede verloor.
  • Ek was betrokke by iemand wat ons van die straat af in ‘n rehabilitasiesentrum wou kry, sonder sukses.
  • Ekself het die eerste keer in veertig jaar weer die binnekant van ‘n hospitaal as pasiënt beleef met ‘n niersteen aan die begin van dié jaar.
  • En ek sien hoe moeilik ons kinders wat afgestudeer het, werk kry. Sommige is gelukkig, maar ander juis nie.

Scott Peck is reg as hy sy boek The Road Less Travelled met die gelade sin begin: “Life is difficult.

Aanvaar dat die lewe moeilik is

Maar, dit is natuurlik so dat as jy dit regtig goed besef en die moeilikheid van die lewe ter harte neem en aanvaar as deel van die lewe, dan is dit natuurlik alreeds die begin van die oplossings vir die lewe.

Want, skryf Scott Peck verder oor die feit dat die lewe moeilik is: “This is a great truth, one of the greatest truths. It is a great truth because once we truly see this truth, we transcend it. Once we truly know that life is difficult – once we truly understand and accept it – then life is no longer difficult. Because once it is accepted, the fact that life is difficult no longer matters.

Dit is die eintlike punt van die besef dat die lewe moeilik is. As jy dit eenmaal aanvaar dat die lewe moeilik is, kan jy daarmee handel, dan maak dit nie meer soveel saak nie, en kan jy met moed en oortuiging op die moeilikhede van die lewe reageer.

Ernstige lyding kan jou moedeloos maak

Maar, ek het dié week nog dieper oor dié saak nagedink, want die tipe swaar waarvan ek praat in die siekte en verydeling waaraan ek blootgestel is, verdwerg so ‘n bietjie in die lig van die verhale van die aanslae wat daar in die wêreld teen die kinders van die Here geloods word.

1.  Ek lees die week van die ongelooflike verdrukking wat Christene in Pakistan beleef onder ‘n oorweldigende Moslem gemeenskap. Dit is in die artikel van Altaf Khan, ‘n Professor by die Universiteit van Peshawar: Breathing without living: the plight of Christians in Pakistan.

Christine in Pakistan vorm maar 1.6% van die bevolking, maar hulle gaan gebuk onder daaglikse doodsdreigemente en valse aanklagte bv. dat van hulle die Koran ontheilig wat selfs fisiese aanvalle insluit.  Die straf vir die ontheiliging van die Koran is die dood.  Dit is só erg dat hulle bv. in die All Saints Church in Peshawar tans kerk toe moet gaan onder sterk sekuriteitsbegeleiding en -beskerming, want in 2013, op 22 September, het ‘n dubbele selfmoordbomaanval in die kerk 127 van die lidmate uitgewis.

Christene sukkel om te bestaan in Pakistan.  Omdat hulle meesal van die laer kaste in die samelewing afkomstig is, word hulle nie net vanweë hulle Christelike geloof vervolg nie, maar ook vanweë hulle lae status in die samelewing.  Soos Altaf sy artikel afsluit:

Centuries of continuous repression have left many without any sense of identity within their home country. Many Christians here just want to breathe – being able to truly live is a distant dream.

Tog is dit so wonderlik om een van die lidmate, Naheed Naz, te hoor sê dat ten spyte van hulle uitdagings: “The year 2017 will be one of peace and love.” Dis die hoop wat altyd brand in die hart van God se kinders ongeag hulle omstandighede, selfs waar dit moeilik is om asem te haal, wat nog te sê om te lewe.

Dit raak ‘n mens diep.  En veral omdat ‘n mens nie self iets kan doen daaraan nie, laat dit jou wonder of die boodskap van Christus in die wêreld nie in gevaar staan om doodgewoon uitgewis te word deur die donkerte van die omgewings waarin sommige Christene moet lewe nie.

2.  Dieselfde geld natuurlik die geweldige aanslae op kinders van die Here in die breër Midde-Ooste, veral in Sirië met ISIS se gruweldade teen Christene in Mosoel en Aleppo en talle ander plekke. Ek het verlede jaar op Kersdag ‘n bietjie aandag daaraan gegee, as julle julle geheue wil gaan verfris op die webtuiste.  Hier is ‘n prentjie van die ruïnes van die Saint Elias Cathedral in Aleppo waar dapper Christene ‘n Kerstoneel uitbeeld ten spyte van die vervolging en verydeling wat daar heers.

3.  En ek lees ook verder van die onnoembare lyding wat kinders van die Here aangedoen word in oorwegend ateïstiese lande. Een verhaal het my ongelooflik ontstel, die verhaal van 240 pastore wat in Siberië in die hoogbloei van kommunisme in die Sowjet-unie uitgewis is.

Nik Ripken vertel die verhaal in sy artikel An Eerie, Unacceptable Silence.  Hy het die storie persoonlik gehoor by twee diakens wat self vir drie jaar in ‘n Siberiese strafkamp opgesluit was.  Een dag het die owerhede 240 pastore saam met hulle in die strafkamp kom opsluit, omdat hulle nie hulle geloof wou afsweer nie.  As straf is hulle die onmoontlike taak gegee om die bevrore toendra landskap om te ploeg met stokke en stukkende toerusting.  Elke aand as straf vir nog ‘n dag van onvermydelike mislukking, is hulle klere uitgetrek en is hulle natgespuit met yskoue water.  Binne drie maande het hulle almal gesterf weens verskeie siektes as gevolg van die ontbering en ontbloting.

Dit is nie antieke geskiedenis nie. Dit het ongeveer dertig jaar terug gebeur.  Dit is in ons tyd.  En dit is net een van talle sulke verhale regoor die wêreld.

En as ek dan dink dat ons Christene in die Weste soms salig onbewus lewe van wat in die res van die wêreld aangaan, dan wonder ek waarheen ons op pad is.  Selfs dié van ons, soos ek, wat wel kennis neem van wat in die wyer wêreld aangaan, word nie vir te lank tot stilstand geruk daardeur nie.  Kort voor lank konsentreer ons maar weer op die normale dinge van ons lewe en bekommer die lot van ons broers en susters in vervolging en verguising ons nie regtig meer nie.

Dan moet ek ook sê, Scott Peck se verduideliking dat die diep besef van die moelikheid van die lewe ons uiteindelik help om die moeilikheid die hoof te bied, nie vir my regtig help om hierdie gevoel van moedeloosheid en verydeling oor die teenstand teen die boodskap van Christus te verdryf nie.

Ek het meer nodig.

En ek het dié meer gevind op twee plekke in die Bybel.

God sien en God verstaan

Eerstens het ek In my voorbereiding vir die Bybelskool oor Eksodus – ek begin weer met my bydraes hierdie Woensdag en die eerste byeenkoms is die daaropvolgende Woensdag – net weer bewus geword van God se kragtige teenwoordigheid wat soms heel spesifiek in die ellende wat ons ervaar, aan die werk kom.

Hoe ongelooflik staan dit nie daar in Eksodus 2 nie: “God het hulle gekreun gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob.  God het die Israeliete raakgesien, ja, God het kennis geneem.” (Eks. 2:23-25 – BDV).  God het gehoor, God het gedink, God het raakgesien, en God het kennis geneem.  Soos die NET Bible die laaste deel vertaal: “God saw the Israelites, and God understood …”  Inderdaad!

Daarom sê die skrywer van Eksodus: “het God afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na ‘n goeie en uitgestrekte land, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.” (Eks. 3:8).

As die moeilikhede van die lewe dreig om jou te oorweldig, as jy voel dat jou eie werk vir Christus tevergeefs is, as jy bid en bid en nie antwoorde op jou gebede sien nie, het jy weer nodig om dié God raak te sien, dié God wat aan die beweeg kom waneer daar moeilikhede is, wat nie net ons ellende raaksien nie, maar dit verstaan, en wat daarom kan en sal optree.

God bemoedig die moedeloses

In die tweede plek het ek besef dat dit dieselfde God is wat in Jesaja 49 aan die woord is, die teks wat ons vandag gelees het, wat duidelik op dieselfde manier as in Egipte sy volk se ellende in die ballingskap van Babilon raaksien, en iets daaraan begin doen.

Die ongelooflike van dié gedeelte is dat God selfs die Dienaar wat Hy kies om sy volk te verlos, bemoedig as dié Dienaar in moedeloosheid dink: “ek het my tevergeefs vermoei, ek het my heeltemal verniet afgesloof.” Trouens, God belowe nie net dat sy werk uiteindelik suksesvol sal wees nie, maar gee Hom selfs ‘n groter taak.  Dit is nie net die Jode wat verlos moet word uit die ballingskap van Babilon nie, maar alle mense op die aarde, selfs dié op die eilande.

Dit is wat ons ook kan ervaar.  Dat dit juis in ons moedeloosheid is wat ons bemoediging ervaar, ‘n bemoediging wat ons selfs aanvuur tot groter dinge as dié waarvoor ons gedink het dat God ons roep.

Die werk waarin ons staan, is God se werk

En dit het my gelei tot die fundamentele gedagte dat die werk wat ons doen in die eerste en finale instansie God se werk is.

Wat ons nodig het om telkens weer en weer te besef, is dat die werk waarin ons staan God s’n is.  Ons is almal, soos Jesus dit by uitnemendheid was, God se dienaars.  Besig met ons klein aandeel in die werk wat God besig is om te doen.

Want, sien, as ons dit besef, dan maak dit nie saak dat die werk wat ons doen moeilik is nie. Om die waarheid te sê, dit maak selfs nie saak of die werk vir ons onmoontlik is nie.  Want die werk behoort aan God en die uitkoms daarvan is in sy hande.

Dan kan ons moed skep uit die feit dat die waarde van ons werk nie bestaan in die groot dinge wat bereik word nie, maar in die volharding ten spyte van ‘n hele samelewing wat ons getuienis verwerp, soos in Pakistan.  Soos Naheed Naz sê ten spyte van hulle uitdagings: “The year 2017 will be one of peace and love.

Dan kan ons moed skep uit die feit dat die waarde van ons werk juis bestaan in die absolute prys wat ons betaal in die bevrore landerye waar ons gedwing word om te ploeg totdat ons liggame ingee en ons gees na God toe terugkeer.  Ons oënskynlike mislukking raak in die groter prentjie van God se werk deel van sy verlossende oordeel oor hierdie wêreld.

Nik Ripken vertel hoe die twee diakens vir hom vertel het dat elkeen van daardie 240 pastore in Siberië ten spyte van die aanslag op hulle lewe getrou gebly het tot die einde toe.  Nik verbind dit aan die Here Jesus se bemoediging in sy brief aan Smirna in Openbaring 2:10: “Moenie bang wees vir wat julle alles gaan ly nie. Kyk, die duiwel gaan party van julle in die tronk laat gooi, sodat julle in beproewing sal kom, en julle sal tien dae lank baie swaar kry. Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee.

Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee.  Inderdaad.

Dit laat my besef, die duisternis kan die lig in Jesus nie oorwin nie.  Soos Jesaja sê, al word ons verag en verafsku, God se belofte is dat Hy die reg sal laat geskied, uiteindelik, en totaal.

Want sien, die werk is God se werk, die werk waarin ons staan.

Die passie van die Hervorming

Dit is hierdie wete wat die Hervormers so aangevuur het.  Ons vier nie verniet vanjaar in 2017 die Hervorming se 500ste verjaarsdag nie.  Dit is om ons te herinner aan die feit dat hulle geleef het uit die besef dat die werk wat hulle doen God se werk is.  Daarom kon hulle die felle teenstand van die Rooms-Katolieke kerk en die politieke heersers van hulle tyd die hoof bied, al is talle van hulle op brandstapels vir hulle geloof verbrand.

Ek het die verhaal van een van die voorlopers van die Hervorming, John Wycliffe, só geniet dié week.  Hierdie Engelse filosoof, teoloog, vertaler, prediker en Hervormer is gebore in 1329, amper twee eeue voor Luther die Hervorming met sy 95 stellinge op die kerk in Wittenburg ingelei het in 1517.

John Wycliffe het reeds twee eeue voor Luther die liggie van die Hervorming aangesteek.  Hy het ‘n passie gehad om alle mense die Bybel in hulle eie taal te laat lees.  Sy vyande in die kerk het egter niks daarvan gehou nie, en wou hê dat net die geleerdes die Bybel in Latyn en die oorspronklike tale lees.  Hulle het hom selfs verbied om te preek.  Op 52 jarige ouderdom het hy as ‘n baie siek man afgetree, moedeloos en met die benouende besef dat sy droom straks nooit vervul sal word nie.

Maar, toe gebeur die wonderlike paradoksale ding.  Toe sy vyande selfs op sy siekbed hom geteister het met die idee dat hy sy “sonde moet bely” om die Bybel vir alle mense toeganklik te maak – kan jy dít glo! – het vers 17 van Psalm 118 hom te binne geskiet, en het hy regop gesit op sy bed en dit vir hulle met passie aangehaal: “Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe en van die dade van die Here getuig.” (sien skildery).

Net daar en dan het John besluit om self skouer aan die wiel te sit en die hele Bybel in Engels te laat vertaal.  Dit het hom en van sy ondersteuners drie jaar geneem en net voor hy op 55 jarige ouderdom in 1384 van ‘n beroerte oorlede is, is die grootse projek voltooi, die eerste Bybel in die taal van die volk, in sy geval die Engelse volk.

Dit is hierdie passie van John Wycliffe vir die Woord wat ander geïnspireer het om dieselfde te doen.  Die Tsjeg Johannes Hus, veertig jaar sy junior (1369-1415), het ‘n proses begin om die hele Bybel in Boheems te vertaal en ‘n eeu later het Maarten Luther (1483-1546) daarop voortgebou en self die hele Bybel in Duits vertaal. En die res is, soos hulle sê, geskiedenis.  Uit dié proses het ook ons eie Afrikaanse vertaling van die Bybel gevolg.

Dat jy dus die Bybel in jou eie taal in jou hand kan hou, is te danke aan die visie en passie van hierdie drie Hervormers.  Dit is waarom ek Psalm 118 aan die begin laat sing het, want dit was dié teks wat John Wycliffe geïnspireer het om sy lewenswerk te voltooi.  Trouens, die hele idee van ‘n Bybel in jou eie taal, kom tot ‘n groot mate van sy visie af!

John Wycliffe staan daarom bekend as “the Morning Star of the Reformation” wat met sy vertaling van die Bybel in Engels die Reformasie vooruitgeloop het (Erwin Lutzer, Rescuing the Gospel).

Ons kan moed skep aan die begin van hierdie jaar

Ons kan dus moed skep aan die begin van hierdie jaar.  Ons lyding en ons opoffering is nooit verniet nie.  Die vrug van ons gesamentlike arbeid sal nooit tot niet gaan nie, selfs al kan dit vir sommige van die Pakistani Christene só voel, en moes 240 Russiese pastore die hoogste prys vir hulle geloof betaal.

God se belofte in Jesaja 49 is dat die konings en leiers van hierdie wêreld uiteindelik sal erken dat Hy God is.  Regdeur die wêreld.  “Vir dié een wat diep verag is, wat deur die nasies verafsku word en wat ’n dienaar van regeerders is: Konings sal sien wat gebeur en sal opstaan, leiers sal buig tot eer van die Here wat getrou is, die Heilige van Israel.” (vers 7).

Ons kan dus moed skep aan die begin van hierdie jaar.  Ons kan skouer aan die wiel sit en ons deel doen.  Ons kan ons roeping omarm en met alles in ons vermoë enduit uitvoer.

Want, die werk is God se werk, soos ons in daardie pragtige Liedboeklied 527 net nou gaan sing:

Die werk behoort aan U, ons Heer – die werk waarin ons staan. 

Gee daarom, Heer, dat hierdie werk nooit sal ten gronde gaan. 

Die koringsaad sal eers moet sterf, dan oes die boer die goue gerf. 

Laat ons ook só onsself verloën – ons werk geen jaag na roem vertoon.

Seën U ons werk, maak ons in ywer sterk.

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Lied 527 Die werk behoort aan U, o Heer, die werk waarin ons staan – staan

Seën

Amen

Respons

Lied 527:1 se laaste drie reëls: Laat ons ook só onsself verloën, ons werk geen jaag na roem vertoon.  Seën U ons werk, maak ons in ywer sterk – staan

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.