Johannes 17:1-26 – Laat Jesus deur jou bid

Ons beleef groot ontwrigting in die kerk

wwjdOns beleef groot ontwrigting in die kerk, die NG Kerk sowel as in die NG Kerk familie. Wat op die spel is, is hoe ons ruimte maak vir verskille in ons kerk. Maak ons ruimte vir mense wat anders as ons dink? Of maak ons nie ruimte daarvoor nie?

Ons as gemeente het met ‘n groot meerderheid besluit dat ons ruimte maak vir mense wat verskillend dink oor die belydenis van Belhar deur die positiewe aanvaarding van die kerk se voorgestelde artikel 1. En dit is goed so. Ek dink dit is wat die evangelie van ons vra.

Dit eggo ook die besluite van drie sinodes, die sinode van Wes-Kaapland wat vroeër al die belydenis van Belhar as sodanig as sinode aanvaar het, sowel as die besluit van die Oostelike sinode en die sinode van Oos-Kaapland om met tweederde meerderheid die voorgestelde artikel 1 te aanvaar.

Die sinode van Namibië was positief oor die skep van die ruimte, maar het egter nie die vereiste tweederde meerderheid behaal nie. Die sinode van die Vrystaat het daarenteen baie negatief op die artikel 1 gereageer, maar tóg die ruimte gegee, hoewel op hulle eie manier, aan diegene wat die belydenis van Belhar wil bely. Daarmee kan ‘n mens nog werk.

Maar, die sinode van die Noord-Kaap het nie net negatief gereageer op die artikel 1 nie, maar het hulle gedistansieer van die Algemene Sinode in hulle prosesse en daarby die VGK nou as “niggie” en nie meer as “suster” getipeer. Volgens hulle is die VGK nie meer naaste familie nie, maar verder familie. Hoe tragies en hoe hartseer – dit voel asof ons terug is in 1857 waar die paaie uit mekaar begin loop het. (Soos een lidmaat opmerk ná die tyd: “‘n Pa kan nie niggies of nefies produseer nie, net broers en susters.“!)

Die vraag is nou, hoe verder? Hoe maak ons as mense van ons eie kerk nie ruimte wil maak vir mense wat anders dink nie? Want, per implikasie is die sinode van Wes-Kaapland, wat die belydenis van Belhar aanvaar het, ook nou ‘n “niggie” en nie meer ‘n “suster” van die Noord-Kaap nie.

En ons sinode en gemeente, en ‘n hele paar 100 ander gemeentes, moet onsself ook afvra, hoe handhaaf ons ‘n eenheid met ‘n sinode – ons weet nog nie hoe die gemeentes daar gaan stem nie – wat nie ruimte wil laat vir mense in ons gebied wat die belydenis van eenheid, geregtigheid en versoening wil bely nie?

Ek dink die antwoord lê in hierdie gebed van Jesus en spesifiek in twee aspekte daarvan. Dit lê:

  1. in ons verhouding met God, in die gebed van die familie van God, waar ons toelaat dat Jesus dié gebed vir eenheid en familieskap deur ons bid, konstant en aanhoudend, tot aan die einde;
  2. in ons verhouding met mekaar, in die gebed vir familie met mekaar, waar ons ook toelaat dat Jesus dié gebed vir eenheid en familieskap onder mekaar deur ons bid, konstant en aanhoudend, tot aan die einde.

Ons kan nie toelaat dat ons moed gebreek word vir die eenheid met God deur mense wat die ruimte vir verskille wil toemaak nie. Ons kan ook nie toelaat dat ons moed vir eenheid met mekaar gebreek word deur mense wat die ruimte vir verskille wil toemaak nie, al stuit dit ons teen die bors, al maak die tipering as “niggies” en nie meer “susters” nie, ook hoe seer.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Verwelkoming

  • Hierdie week is die hoogtepunt van ons kerkjaar. Vandag is die dag wat Jesus op ‘n donkie in Jerusalem ingery en die skare Hosanna, Hosanna in die hoogste gesing het. Vir dié van julle wat die verhaal van die Twaalf Kleiner Profete volg, sal weet dat Jesus eintlik die agenda van Sagaria 9-14 met ‘n hele aantal van sy optredes dié week uitvoer. Elke dag het Jesus in die tempel opgetree om in die aande op die Olyfberg te oornag saam met sy dissipels. Dit is voorwaar ‘n heilige week. Alles stuur af op die martelaar aan die kruis, die Lydende Messiaanse Koning wat op Golgota, hierdie Vrydag, die verlossing van die wêreld bewerk, net soos Sagaria dit voorspel het.
  • Ek wil jou daarom uitnooi. Lees die twee plasings oor Sagaria wat hierop fokus by Bybelskool.com (Sagaria 9:1-11:17 – Die Messiaanse Koning verenig God se mense met Hom en Sagaria 12:1-14:21 – Die Messiaanse Koning vestig God se finale koninkryk) in voorbereiding.
  • Kom ervaar die Heilige Week van binne af deur die stasies wat ons in die kerk voorberei het, met ‘n boekie wat jou vanuit die Skrif kan begelei in jou nadenke oor wat Jesus vir jou en vir ons gedoen het (Hier is die inleiding met alle skakels na die onderskeie stasies, sowel as die hele dokument in Afrikaans en Engels).
  • Stasies 1-6 herinner ons dat Jesus vir alle mense in alle omstandighede gely en gesterf het. Stasies 7 en 8 vra hoe ons gaan reageer op die verlossing wat ons van Jesus ontvang. Met stasie 9 vier ons Jesus se oorwinning oor die dood.
  • Dit sal goed wees as julle dit as ‘n groep doen, of selfs op verskillende aande kom, sodat jy ordentlike tyd daaraan kan spandeer.
  • Die boekie is ook in Engels beskikbaar (Download it in English: booklet, cover).
  • Ons het ook die materiaal op die web gesit dat jy dit as dagstukkies die week kan gebruik (Somerstrand Gemeente).
  • Die stasies is reeds van vanoggend af ná die diens oop, so daar is nie koffie en tee na die tyd nie, ter wille van atmosfeer. Ons gaan ons kinders ook blootstel daaraan. Elke aand dié week is dit oop van 18:00-20:00.
  • Daar is ook ‘n interessante bordspel wat families met hulle kinders kan doen wat op ‘n innemende manier mens meeneem in die Heilige Week. Dit is ook by ons webtuiste beskikbaar onder die titel: Huisgodsdiens Heilige Week.
  • Kom vier nagmaal saam met ons op Goeie Vrydag en kom vier die opstanding Paassondag saam met ons. Ons doop ook dan.
  • Julle is welkom om volgende Sondag blomme te bring en hier voor die kansel te kom neersit as getuienis van die lewe wat die Here bring. En julle is ook welkom om ná die tyd ‘n blom vir iemand te neem om die boodskap van lewe na ander uit te dra.

Toetrede

Psalm 98:1-2 Sing van die dade van die Here – staan (orrel)

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 159:1-2 God is hier teenwoordig; laat ons biddend nader – sit (orrel)

Flam 67 Nader as my siel – staan (groep)

Flam 58 (x2) Kom o Skepper Gees – staan (groep)

Lied 550 (x2) Twee ogies om Gods werk te sien – staan (groep)

DIENS VAN DIE WOORD

Skriflesing

Dit help om dié gebed in drie dele te deel om agter te kom hoe Jesus sy gebed ingedeel het. Só raak dit ook een van die modelgebede wat ons kan gebruik. Jesus bid vir HOMSELF, vir sy DISSIPELS, en vir die KERK reg deur die wêreld en regdeur die eeue, iets wat Hy steeds doen vanuit die hemel.

Johannes 17:1-26

VIR HOMSELF: 1Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. 2U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. 3En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is. 4Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen. 5Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het.”

6“Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord ter harte geneem. 7Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom; 8want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee. Hulle het dit aangeneem en tot die oortuiging gekom dat Ek waarlik van U gekom het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.

VIR DISSIPELS: 9“Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie maar vir dié wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort. 10Almal wat aan My behoort, behoort aan U; en wie aan U behoort, behoort aan My; en Ek word deur hulle verheerlik. 11Ek bly nie langer in die wêreld nie, maar hulle bly nog in die wêreld. Ek kom na U toe.

“Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U My gegee het, sodat hulle net soos Ons een kan wees. 12Toe Ek by hulle was, het Ek hulle in u Naam bewaar, die Naam wat U My gegee het. Ek het hulle beskerm, en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die een wat verlore moet gaan sodat die Skrif vervul kan word.

13“Maar nou kom Ek na U toe. En Ek sê dit terwyl Ek nog in die wêreld is, sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulle kan hê. 14Ek het u woord aan hulle gegee, en die wêreld haat hulle, omdat hulle nie tot die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. 15Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar. 16Hulle behoort nie tot die wêreld nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. 17Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid. 18Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur; 19en ter wille van hulle wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan wees.”

VIR KERK:20“Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. 21Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. 22Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: 23Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.

24“Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het.

25“Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en hulle hier weet dat U My gestuur het. 26Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle.”

Inleiding (KINDERTYD)

Gebed

Integrasie

Ons beleef groot ontwrigting in die kerk

Ons beleef groot ontwrigting in die kerk, die NG Kerk sowel as in die NG Kerk familie. Wat op die spel is, is hoe ons ruimte maak vir verskille in ons kerk. Maak ons ruimte vir mense wat anders as ons dink? Of maak ons nie ruimte daarvoor nie?

Ons as gemeente het met ‘n groot meerderheid besluit dat ons ruimte maak vir mense wat verskillend dink oor die belydenis van Belhar deur die positiewe aanvaarding van die kerk se voorgestelde artikel 1. En dit is goed so. Ek dink dit is wat die evangelie van ons vra.

Dit eggo ook die besluite van drie sinodes, die sinode van Wes-Kaapland wat vroeër al die belydenis van Belhar as sodanig as sinode aanvaar het, sowel as die besluit van die Oostelike sinode en die sinode van Oos-Kaapland om met tweederde meerderheid die voorgestelde artikel 1 te aanvaar.

Die sinode van Namibië was positief oor die skep van die ruimte, maar het egter nie die vereiste tweederde meerderheid behaal nie. Die sinode van die Vrystaat het daarenteen baie negatief op die artikel 1 gereageer, maar tóg die ruimte gegee, hoewel op hulle eie manier, aan diegene wat die belydenis van Belhar wil bely. Daarmee kan ‘n mens nog werk.

Maar, die sinode van die Noord-Kaap het nie net negatief gereageer op die artikel 1 nie, maar het hulle gedistansieer van die Algemene Sinode in hulle prosesse en daarby die VGK nou as “niggie” en nie meer as “suster” getipeer. Volgens hulle is die VGK nie meer naaste familie nie, maar verder familie. Hoe tragies en hoe hartseer – dit voel asof ons terug is in 1857 waar die paaie uit mekaar begin loop het.

Die vraag is nou, hoe verder? Hoe maak ons as mense van ons eie kerk nie ruimte wil maak vir mense wat anders dink nie? Want, per implikasie is die sinode van Wes-Kaapland, wat die belydenis van Belhar aanvaar het, ook nou ‘n “niggie” en nie meer ‘n “suster” van die Noord-Kaap nie.

En ons sinode en gemeente, en ‘n hele paar 100 ander gemeentes, moet onsself ook afvra, hoe handhaaf ons ‘n eenheid met ‘n sinode – ons weet nog nie hoe die gemeentes daar gaan stem nie – wat nie ruimte wil laat vir mense in ons gebied wat die belydenis van eenheid, geregtigheid en versoening wil bely nie?

Ek dink die antwoord lê in hierdie gebed van Jesus en spesifiek in twee aspekte daarvan. Dit lê:

  1. in ons verhouding met God, in die gebed van die familie van God, waar ons toelaat dat Jesus dié gebed vir eenheid en familieskap deur ons bid, konstant en aanhoudend, tot aan die einde;
  2. in ons verhouding met mekaar, in die gebed vir familie met mekaar, waar ons ook toelaat dat Jesus dié gebed vir eenheid en familieskap onder mekaar deur ons bid, konstant en aanhoudend, tot aan die einde.

Ons kan nie toelaat dat ons moed gebreek word vir die eenheid met God deur mense wat die ruimte vir verskille wil toemaak nie. Ons kan ook nie toelaat dat ons moed vir eenheid gebreek word deur mense wat die ruimte vir verskille wil toemaak nie, al stuit dit ons teen die bors, al maak die tipering as “niggies” en nie meer “susters” nie, ook hoe seer.

Jesus bid vir Homself, vir die dissipels en vir die kerk

Kom ons kyk eers na die gebed self. Hierdie gebed neem in Johannes eintlik die plek in van die worstelgebed wat Jesus in Getsemane gebid het, en waar sy dissipels nie wakker kon bly nie. Dit is sy finale aardse gebed (en lering) vir die dissipels, iets wat natuurlik van hulle sal vra om wakker te bly en te waak teen die verwaarlosing hiervan.

Hierna sou Hy as Hoëpriester hemelse gebede bid vir en deur hulle. Hy is immers daar as ons Voorspraak (1 Joh. 2:1). Hy leef daar vir altyd om vir ons in te tree (Hebr. 7:25). Hy pleit daar vir ons [nes die Gees in ons harte] waar Hy sit aan die regterhand van God (Rom. 8:34).

Die inhoud van hierdie gebed is net so omvattend soos die Ons Vader wat Jesus aan sy dissipels geleer het. Die gebed fokus op drie dinge, net soos Aäron as Hoëpriester eenmaal in die woestyn gedoen het. Dit kan selfs wees dat Jesus Aäron se gebed as model gebruik het, want dit was in elk geval in opdrag van God. Gaan lees hoe Aäron versoening doen vir homself, vir die priesters en dan vir die hele gemeente en oordeel self daaroor (Lev 16:17).

In Johannes 17 sien ons die volgende:

  • Jesus bid vir Homself en die voltooiing van sy roeping: dat God Hom sal verheerlik soos tevore, want Hy het sy taak voltooi. Onthou Jesus se uitspraak hierna: “dit is volbring” in Joh 19:30 wat sy gebed in hfst. 17 eggo. Jesus se taak was om God se woorde aan mense bekend te maak, en dít het Hy voor gebid, en dít het Hy voltooi – 17:1-8.
  • Jesus bid vir die dissipels:
    • Vir die beskerming van die dissipels se onderlinge gemeenskap, sodat hulle net soos Hy en die Vader een kan wees, net soos Hy en die Vader een is, die intiemste moontlike eenheid wat daar is – dit wil Jesus hê moet die deel wees van al sy volgelinge – 17:9-12.
    • Vir die beskerming van die Bose (soos in die Ons Vader) deurdat hulle toegewy bly aan die waarheid van God se woord, al erken Jesus dat Judas verlore is soos die Skrif voorspel het (Ps 41:10) – 17:13-19.
  • Jesus bid vir kerk:
    • die eenheid van al die gelowiges wat deur die dissipels se werk tot geloof in Jesus sal kom, as ’n verdere getuienis aan die wêreld – 17:20-23. En laat ons eerlik wees met mekaar – dit is ‘n sigbare eenheid, soos die belydenis van Belhar dit duidelik stel, nie ‘n onsigbare eenheid nie. Dit is die eenheid van familie. Die wêreld kan immers nie iets sien wat nie sigbaar is nie!
    • Jesus bid vir Sy hereniging met die gelowiges dat hulle Sy ware heerlikheid kan sien en Sy liefde volkome in hulle kan bly, iets waarna ons uiteraard steeds met reikhalsende verlange uitsien, en waarvoor ons saam met Hom volhardend moet bid – 17:24-26.

Dit is die gebed van die familie van God

Ek wil jou aandag nou vestig op vers 3. Daar praat Jesus oor die ervaring van die ewige lewe: “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.”

Wat Jesus hiermee sê, is dat hierdie gebed gevoed word vanuit die ewige verhouding, die ervaring van die familie van God. Dit gaan hier nie oor die ewigheid as ’n soort tydloosheid nie, maar oor die ewigheid as ’n onbelemmerde, intieme en interaktiewe verhouding met God.

Hierdie gebed kom dus van ‘n verbintenis met God wat só diep gaan dat sy lewe en sy begeertes ons lewe en begeertes begin bepaal …. en dat ons lewe en ons begeertes God se optrede en ingrype begin bepaal. Dit is die gebed van die familie van God.

Dink ‘n bietjie hieroor na. Wanneer ons gebed binne ons familiebande met God sien, beteken dit dat ons sy lewe en begeertes begin raaksien, dat sy allesoorheersende wil om sy koninkryk op aarde te vestig só helder voor ons oë te staan kom, dat ons nie anders kan as om daarvoor te begin bid nie.

Dit is wat met my gebeur in my besigwees met die Twaalf Kleiner Profete in die Bybelskool. Dit het my gehelp om te verstaan dat God van altyd af wil hê dat mense met mekaar in vrede sal lewe; dat daar harmonie sal wees; vrugbaarheid; oorvloed; voorspoed; elkeen onder sy eie vyeboom en elkeen met sy eie wingerdstok, by wyse van spreke.

En ek kan nie anders as om saam met Hom daarvoor te begin bid nie. Ek wil hê dat God se droom slaag, dat wat Hy wil sal gebeur, want die prentjies wat Hy daarvan vir my gee in die Skrif maak nie net sin nie, dit skep in my ‘n verlange na dié tipe eenheid, geregtigheid en versoening wat net Hy tussen mense kan bring.

In my verbintenis aan God kan ek myself later net nie stil kry om daarvoor te bid nie, want dit is die dinge wat op God se hart is, en daarom ook op my hart.

Maar tegelykertyd ervaar ek dit dat my lewe en behoeftes al hoe meer op God se hart is. Nie dat dit natuurlik nie van altyd af daar was nie, maar ek ervaar dit net al hoe meer terwyl ons verhouding verdiep. En my vrymoedigheid om te vra van God verhoog eksponensieel. Ek weet uit my verbintenis aan God dat Hy antwoord, dat Hy vol deernis is, dat Hy goeie goed gee aan dié wat van Hom vra, en ek ervaar doodgewoon dat ek dinge van God kan vra wat ek voorheen nie kon vra, of gedurf vra het nie.

God wil gebede beantwoord, maar Hy wil dat ons dit vanuit ‘n verhouding vra, vanuit die ewige lewe wat ons deel, omdat ons familie is van Jesus, ons ouer Broer. Daarom is dit só belangrik dat ons sal fokus op die verhouding met God, want dan kan ons vra, en weet ons dat ons sal verkry dié dinge wat ons van God vra.

Dit is die gebed vir familieskap (eenheid) tussen gelowiges

Dít sluit dus die gebed vir ruimte in ons kerk in. Want dit is die tweede aspek wat ons van dié gebed moet raaksien. Jesus se gebed is ook die gebed vir familieskap, dit bedoel vir eenheid tussen gelowiges.

En ek weet dat dit nie maklik is nie. Die Here Jesus het immers self geweet dat dit menslikerwys ‘n uitdagende en op plekke selfs ‘n amper onmoontlike taak sal wees. Daarom is hierdie gebed so duidelik daaroor dat die eenheid tussen gelowiges gehandhaaf sal moet word te midde van die eksterne aanvalle van die Bose en ongelukkig ook te midde van die interne aanvalle van gelowiges wat nie die eenheid genoegsaam koester nie.

Dink ‘n bietjie daaroor na. Jesus bid reeds tydens sy lewe hier op aarde dat die Bose wat van buite af eenheid bedreig, gefnuik sal word. Hy weet dat dít die een pyl in die Bose pylekoker is wat die wêreld se geloof in God tot niet kan maak. Want as ons nie in ‘n sigbare eenheid saam loop nie, kry die wêreld nie die prentjie van wat God met ons wil doen nie; Is daar geen getuienis wat saak maak vir mense wat buite die geloof staan nie. Daarom bid Jesus dat ons beskerm sal word van die Bose. Dat die Bose dit nie reg sal kry om ‘n wig tussen ons, tussen die familie van God, in te dryf nie.

Maar Jesus weet ook dat die eintlike probleem gaan ons verhoudinge met mekaar wees, waar ons ons verskille só op die spits dryf, dat ons mekaar nie meer as naaste familie gaan beskou nie, maar eerder as verdere familie en uiteindelik as geen familie nie.

Gelowiges is per definisie die liggaam van Jesus Christus, die familie van God, en daarom een met mekaar. En dit is ‘n sigbare eenheid. Dit is ‘n eenheid wat alle grense oorskry – gender, kultuur, klas, ouderdom. Gaan lees ‘n slag wat Joël hieroor skryf, reeds 6 eeue v.C. Die Gees word op alle mense uitgestort – almal raak familie van mekaar, omdat hulle familie van God raak.

Met hierdie prentjie van eenheid wil die Here ons aanmoedig om ten spyte van alles, oral waar daar skeuring is, alles in ons vermoë te doen om die eenheid te herstel. Ek herhaal: ten spyte van alles, oral waar daar skeuring is, alles in ons vermoë te doen om die eenheid te herstel.

Hierdie gebed is daarom die lewende testament van Jesus. Dit is sy laaste lering en gebed op aarde. Hy bid vir en werk vir eenheid, ’n eenheid presies soos Hy dit met die Vader en die Gees beleef. Niks minder as dit kan ooit my doelwit en passie bly nie. En niks minder as dit kan ooit julle doelwit en passie bly nie, want julle is my familie, die familie van God.

En laat ek sommer padlangs praat oor die beswaar wat mense teen sigbare eenheid inbring en sê dit beteken nie strukturele eenheid nie. Wel, die Bybel sê, Jesus sê hier, dit moet dieselfde tipe eenheid wees as wat tussen God die Vader, God die Seun, en God die Heilige Gees wees. Hoe is hulle een? Hulle is een wese, soos ons geloofsbelydenis sê, hoewel drie persone. Dít is die model vir die kerk; een globale wese, verskillende plaaslike gemeentes wat aan daardie eenheid gestalte gee. Dit sluit verseker strukture in, want anders sal ons ons familieskap nie kan uitleef nie.

Terug by die problematiek in ons eie kerk se sinodes. Hierdie gebed van Jesus vra van ons dat ons met nog meer ywer sal bid vir eenheid. Al is sommige van ons dan nou “niggies” en nie meer “susters” nie, mag dit ons nie keer om te bid vir eenheid nie. Ons mag nie ophou om te bid dat die bande herstel sal word nie, met ons ander sinodes, en met die VGK. En voor iemand dink ek dink eenheid stop daar – eenheid moet nog verder gaan en die hele liggaam van Christus insluit. Ek dink ons dink moontlik te beperk oor eenheid, daarom val ons so vas hier op plaaslike vlak.

Hoe dit ook al sy, die Here Jesus se gebed kan ons steeds inspireer om te bid dat die tipe familieskap wat God tussen ons en Hom geskep het en tussen ons en ander gelowiges, nie deur die huidige besluite deurbreek word nie, dat die grense wat nou deur die besluite tussen ons opgestel word, afgebreek sal word, dat die verhoudinge onderling herstel sal word, en dat dit die tipe koninkryk wat God wil vestig, sal bevorder. Daarvoor sal ek bly bid. Daarvoor roep ek elkeen van julle op om voor te bid. Daarvoor sal ek bly veg en my lewe gee.

Dit is die ewige lewe – familie van God en mekaar

Ons gaan nou die Heilige Week binne. Ons gaan nadink oor wat hierdie gebed vir eenheid van Johannes 17 die Here Jesus gekos het. Ons gaan op sy voetspore loop saaam as ‘n gemeente. Terwyl ons bid dat die eenheid wat Hy geskep het tussen ons, nie deur ander sinodes se besluite tot niet gemaak sal word nie; terwyl ons bid dat ons mekaar sal vind as broers en susters van mekaar, oor grense heen.

Want, “dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.”

Dit is die realiteit wat ons met mekaar deel. Ons is familie van God. Ons is ook familie van mekaar.

Gebed

UITSENDING

Dankoffers

Slotlied

Lied 286 Here God van liefde – staan (orrel)

Seën

Vonkk 144 1-3 Vrede van God is met jou – staan (orrel)

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment