Skip to main content

Bid die beloftes van die Bybel – 2 Kronieke 7:11-16

Het jy al betekenisvolle plekke in jou lewe gehad? Waar iets jou geraak het. Waar jy ‘n besondere ervaring gehad het? Waar jou lewe in ‘n bepaalde rigting gestuur is? Waar jy ‘n belofte gekry het wat jou lewensteks geword het?

Die berg Moria is só ‘n betekenisvolle plek. Dit is die plek waar Abraham vir Isak moes offer, op die berg Moria. Dit is waar die engel hom gekeer het om Isak dood te maak, en Abraham ‘n ram in Isak se plek as brandoffer geoffer het (Gen 22). Die dorsvloer van Arauna is ook só ‘n betekenisvolle plek. ‘n Engel van die Here was besig om die volk links en regs met pes dood te slaan weens Dawid se hoogmoed. Toe daar al 70 000 mense van die pes dood is, het die Here Jerusalem jammer gekry, en die engel gestop toe hy by die dorsvloer van Arauna was.

Maar wat egter regtig merkwaardig is, is dat hierdie dorsvloer van Arauna waar die oordeel van God oor Dawid en sy volk afgewend is, en die berg Moria waar die Here ‘n ram in die plek van Isak vir Abraham gegee het, dieselfde plek is (2 Kron 3:1).

Hemel en aarde kom dus bymekaar op hierdie besondere plek. Die berg Moria. God sal voorsien. Die dorsvloer van Arauna. Die Here sal vergewe.

Dit is dan ook die plek waar die Here gekies het dat die tempel in Jerusalem gebou word. Dit sou nou ‘n plek van gebedsverhoring word. ‘n Plek waaraan die belofte van God om gebede te verhoor gekoppel sou word.

Ons tel die verhaal op net ná die tempel op dié besondere plek gebou is (2 Kron 2-5). Salomo het ‘n roerende gebed gebid het by die inwyding waarin hy onder ander noem dat God ook na die vreemdeling sal luister vanaf hierdie plek (2 Kron 6). Die Here het ook weereens met vuur geantwoord op die offers, en die volk het vrolik fees gevier voor Hom(2 Kron 7:1-10).

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

Download the English translation: Praying the promises of the Bible – 2 Chronicles 7

Verwelkoming

Aankondigings

Toetrede

Vonkk 72:1 (gem), 2 (koor), 3 (gem) Wees stil, want die Heilige is hier – sit

Votum en Seëngroet

Lofsang

Psalm 84:1,2,4 Hoe lief het ek u woning, Heer – staan

Lied 202 Prys Hom, die Hemelvors – staan

Voorbidding

Dankoffers

Vonkk 183 (koor) Net soos die hemelkoor sy lof op aarde

Kindertyd

  1. God wou nie hê dat Koning Dawid die tempel in Jerusalem bou nie. Dawid was ‘n vegter. Hy het baie oorlog gemaak. Dawid besluit toe om ‘n stuk grond vir sy seun Salomo te gee dat hy die tempel kan bou. Hy het vir hom baie materiaal gegee om dit te bou.
  2. Op sy sterfbed het Dawid vir Salomo die planne gegee vir die tempel. Hy het hom moed in gepraat: “Wees sterk en dapper, en doen die werk, want die Here is met jou. Hy sal jou help totdat jy al die werk klaar gemaak het.”
  3. Toe Salomo koning word het hy duur hout van Koning Hiram van Tirus gekoop. Daar was 30 000 werkers wat bome gaan kap het in Libanon. Groot sederbome is afgekap en in die see laat dryf tot by die hawe in Joppe.
  4. Vandaar het hulle die bome gesleep met osse tot by Jerusalem.
  5. Salomo het 70 000 draers gehad en 80 000 klipkappers in die heuwels. Daar was 3 300 voormanne. Hulle het groot blokke graniet gekap en gebeitel in die regte vorm voor dit na die tempel vervoer is. Hulle hoef dus nie te geraas het by die tempel met hamers en beitels nie.
  6. Die binneste deel van die tempel was 27 m lank, 9 m wyd en 14 m hoog. Die binnemure was met sederplanke gebou. Op die mure rondom die tempel was gordyne van engele, palmbome en pragtige blomme. Die buitenste deel was baie groot, amper so groot soos ‘n skoolterrein met baie hoë mure reg rondom.
  7. Die binneste heiligdom was bedek met suiwer goud. Die vloere was ook bedek met goud. Goud was gebruik om die altaar te bou, die tafel vir brood, die lampstaanders en ander meubels.
  8. Daar was blomme van goud, groot goudkleurig gérubs (soos engele), goue lampe en komme; suiwer goud wasbakke.
  9. Die beste vakmanne is gehuur om twee groot brons pilare te maak vir die portaal van die tempel. Daar was ‘n groot wasbak bo-op 12 bulle van brons. Dit het 7 jaar geduur om dit alles klaar te maak.
  10. Al die mense het vir ‘n fees gekom met die inwyding van die tempel. Die verbondsark is ingedra binne die tempel in.
  11. Dit is in die Allerheiligste plek geplaas onder die vlerke van die gérubs.
  12. Toe die priesters uitgestap het, het die wolk van die heerlikheid van die Here die tempel volgemaak. Dit was so oorweldigend dat die priesters nie verder kon werk nie.
  13. Salomo het die mense geseën en die Here geprys. Die Here het hom in staat gestel om die tempel te bou.
  14. Hy het voor die altaar sy arms uitgesprei en gekniel en gebid, “Mag u oë en ore gerig wees op die tempel en ons gebede verhoor.” 22 000 beeste en 120 000 skape en bokke is geoffer wat natuurlik ook vir almal kos verskaf het.
  15. Dertien jaar later, toe Salomo ook sy paleis gebou het, het die Here met Salomo gepraat en gesê: “As jy en jou volk gehoorsaam sal wees aan my, sal ek altyd julle gebede verhoor.”
  16. “Maar as jy, of jou mense, nie luister nie, sal ek julle wegvat na ‘n ander land en hierdie tempel sal verwoes word.”

Die Here belowe dus dat Hy ons gebede sal verhoor. As ons luister na Hom, sal Hy na ons luister.

Kerkraadsvoorstelling

Epiklese

Vonkk 118 (koor – isiXhosa, Afrikaans, Engels) U wil geskied

Skriflesing en prediking

Bid die beloftes van die Bybel – 2 Kronieke 7:11-16

‘n Betekenisvolle plek

Seepunt is vir my ‘n baie betekenisvolle plek.

Een aand het ek en Lynette daar na die see gesit en kyk. Ons het geluister na Nana Mouskouri wat haar Wedding Song gesing het. Die frase: “The two shall be as one” (Nana’s Book Of Songs – 1974) het ons besonderlik getref. Ons het vir mekaar gesê, ons voorgenome huwelik moet meer eer aan God bring as wat ons individueel sou kon. Dit het ‘n plegtige verbond tussen ons geword.

Telkens herinner ons mekaar aan daardie aand. Dit bly die versugting van ons lewe. Dat ons lewens saam meer eer aan God sal bring as wat ons as individue sou kon doen.

Het jy ook sulke betekenisvolle plekke? Waar iets jou geraak het. Waar jy ‘n besondere ervaring gehad het? Waar jou lewe in ‘n bepaalde rigting gestuur is? Waar jy ‘n belofte gekry het wat jou lewensteks geword het?

Die berg Moria

Die berg Moria is só ‘n betekenisvolle plek. Dit is die plek waar Abraham vir Isak moes offer, op die berg Moria. Dit is waar die engel hom gekeer het om Isak dood te maak, en Abraham ‘n ram in Isak se plek as brandoffer geoffer het (Gen 22). ‘n Verskuilde heenwysing na die Lam van God wat aan die kruis vir ons sonde sou hang.

Wat besonders is van dié plek is dat Moria die simbool geraak het van God se voorsiening. Met die belofte, op die berg van die Here sal God voorsien.

Die dorsvloer van Arauna

Die dorsvloer van Arauna is ook só ‘n betekenisvolle plek. ‘n Engel van die Here was besig om die volk links en regs met pes dood te slaan weens Dawid se hoogmoed. Hy het teen die Here se bevel die volk laat tel, net ter wille van sy eie beeld.

Toe daar al 70 000 mense van die pes dood is, het die Here Jerusalem jammer gekry, en die engel gestop toe hy by die dorsvloer van Arauna was.

Die dorsvloer van Arauna het daarom die simbool geraak van God se barmhartigheid. Met die belofte dat God sal vergewe.

Die dorsvloer van Arauna is daarom ook ‘n verskuilde heenwysing na die verlossing wat Jesus vir ons aan die kruis gebring het, deur die oordeel van God af te wend.

Dawid het die dorsvloer by Arauna gekoop en daar brandoffers en dankoffers aan die Here gebring wat die Here met vuur uit die hemel aanvaar het (1 Kron 21:26 – Ornan is ‘n ander manier waarop Arauna se naam gespel is). Geen wonder dat Dawid van toe af net daar geoffer het.

Dieselfde plek

Maar wat egter regtig merkwaardig is, is dat hierdie dorsvloer van Arauna waar die oordeel van God oor Dawid en sy volk afgewend is, en die berg Moria waar die Here ‘n ram in die plek van Isak vir Abraham gegee het, dieselfde plek is (2 Kron 3:1).

Die tempel in Jerusalem

Hemel en aarde kom dus bymekaar op hierdie besondere plek. Die berg Moria. God sal voorsien. Die dorsvloer van Arauna. Die Here sal vergewe.

Dit is dan ook die plek waar die Here gekies het dat die tempel in Jerusalem gebou word. Dit was alreeds die plek wat getuig het van God se voorsiening. Van sy vergifnis. ‘n Plek van uitkoms. ‘n Plek van genade.

Dit sou nou ‘n plek van gebedsverhoring word. ‘n Plek waaraan die belofte van God om gebede te verhoor gekoppel sou word.

2 Kronieke 7:11-16

Ons tel die verhaal op net ná die tempel op dié besondere plek gebou is (2 Kron 2-5). Salomo het ‘n roerende gebed gebid het by die inwyding waarin hy onder ander noem dat God ook na die vreemdeling sal luister vanaf hierdie plek (2 Kron 6). Die Here het ook weereens met vuur geantwoord op die offers, en die volk het vrolik fees gevier voor Hom(2 Kron 7:1-10).

11 En toe Salomo die huis van die Here en die huis van die koning voltooi het, en alles wat in Salomo se hart gekom het om in die huis van die Here en in sy huis te maak, voorspoedig uitgevoer het, 12 verskyn die Here in die nag aan Salomo en sê vir hom: Ek het jou gebed gehoor en hierdie plek vir My as ’n offerhuis verkies. 13 As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, 14 en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees. 15 Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed van hierdie plek. 16 So het Ek dan nou hierdie huis verkies en geheilig, dat my Naam daar kan wees tot in ewigheid, en my oë en my hart sal altyd daar wees.

Ek wil ‘n paar sake uit hierdie gedeelte beklemtoon

Tyd is vir die Here baie relatief

Dit is dertien jaar later. Salomo het die bouwerk aan die tempel voltooi en die Here het op aanskoulike manier sy intrek geneem. Die paleis is nou dertien jaar later ook voltooi (1 Kon 6:38-7:1; 9:10). Alles wat in Salomo se hart opgekom het daarvoor is voorspoedig uitgevoer.

Die Here verskyn nou na dertien jaar aan Salomo en sê, Hy het Salomo se gebed by die inwyding van die tempel gehoor en die tempel, hierdie plek, as ‘n offerhuis verkies.

Tyd is vir die Here ‘n baie relatiewe konsep. Tussen die voorsiening op die berg Moria en die vergifnis by die dorsvloer van Arauna het meer as ‘n 1 000 jaar verloop. Tussen Salomo se gebed om verhoring en die Here se antwoord daarop het dertien jaar verloop.

Tyd is vir die Here baie relatief.

Ons moet net nie dink dat tydsverloop enigsins ‘n aanduiding is van God se gewilligheid of gereedheid om gebede te beantwoord nie.

God antwoord die gebede van sy volk

Dit is die wonderlike boodskap van hierdie gedeelte. Die Here gee hier ‘n boodskap wat vir alle tye en vir alle mense geld. Dit is ‘n boodskap wat die hart is van alles wat die Kronieke skrywer wil oordra. Trouens, dit is die hart van die OT boodskap.

Die boodskap is hierdie belofte: God antwoord die gebede van sy volk.

Dit is ‘n belofte wat alreeds in Moses se laaste toespraak voor die volk die land Kanaän ingeval het, ingebed lê.

Moses het vir die volk van God seëninge en vervloekinge voorgehou. Sy boodskap was:

  • As hulle goed luister na die Here en sorgvuldig doen wat Hy van hulle vra, sal hulle die seëninge van die Here in oorvloed ervaar (Deut 28:1-14).
  • As hulle egter nie goed luister na die Here nie, en nie sorgvuldig doen wat Hy van hulle vra nie, sal al sy vloeke hulle inhaal. Hy sal die hemel toesluit sodat daar geen reën is nie. Hy sal die sprinkaan roep en beveel om die lande kaal te vreet. Hy sal pes onder die volk stuur soos Hy juis in die tyd van Dawid gedoen het.
  • Maar, as hulle tot inkeer kom en Hom vra, sal Hy hulle gebede verhoor en hulle lot verander.

Met die bou van die tempel het daar egter ‘n verdieping van hierdie boodskap gekom. Dit is uitgebrei na alle mense.

God antwoord die gebede van elke mens

Salomo het by die inwyding van die tempel nie net gevra dat die Here die volk sal vergewe as hulle hulle verootmoedig en hulle lot sal verander as die Here die hemel toegesluit het weens hulle sonde. Trouens, dit is wat hy gevra het:

29 enige gebed, enige smeking wat enige mens of u hele volk Israel sal doen, as elkeen sy plaag en sy smart ken, sodat hy sy hande na hierdie huis toe uitbrei — 30 wil U dan hoor uit die hemel, u vaste woonplek, en vergewe en aan elkeen gee volgens al sy weë, U wat sy hart ken—want U alleen ken die hart van die mensekinders — 31 sodat hulle U kan vrees om te wandel in u weë al die dae wat hulle leef in die land wat U aan ons vaders gegee het. 32 Ja, ook na die uitlander wat nie uit u volk Israel is nie en uit ’n ver land kom om u grote Naam en u sterke hand en u uitgestrekte arm ontwil, as hulle kom en na hierdie huis toe bid, 33 wil U dan hoor uit die hemel, uit u vaste woonplek, en doen volgens alles waaroor die uitlander U sal aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken en U vrees soos u volk Israel, en mag gewaar word dat u Naam uitgeroep is oor hierdie huis wat ek gebou het. (2 Kron 6:29-33)

Jy moet die boodskap van hierdie gedeelte ter harte neem. Salamon het van die Here gevra dat Hy sal luister na enige gebed, enige smeking, enige mens, wat sy hande na hierdie huis toe uitbrei, ook die uitlander, die vreemdeling.

Dit is waarvoor die Here in sy antwoord dertien jaar later ja sê.

“Ek het jou gebed gehoor … Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed van hierdie plek.”

Ook na die mense wat hulle hande na hierdie huis toe uitbrei.

Trouens, luister hoe mooi die Here dit in vers 16 stel:

My oë en my hart sal altyd daar wees

Die God van hemel en aarde onderstreep die belofte deur te sê, sy oë en sy hart sal altyd daar wees.

Daar word talle kere oor God se oë geskryf in die OT, maar van God se hart word daar min gepraat. In die verhaal van Noag word in ‘n negatiewe sin van God se hart gepraat. Dit het die Here berou dat Hy die mens op aarde gemaak het, en: “daar was smart in sy hart.” (Gen 6:6; vgl Gen 8:21; vgl Dawid, die man na God se hart: 1 Sam 13:14; Hand 13:22)

Hier word egter in ‘n positiewe sin oor God se hart gepraat. Sy oë en sy hart sal altyd daar wees. Hy sal luister na gebed – enige gebed, enige smeking, enige mens – want sy oë en sy hart sal altyd daar wees.

Kan die belofte vandag nog vir ons geld?

So, die vraag is dan, geld die belofte vir ons vandag?

Ja, want God se beloftes is in die eerste plek reeds in die OT nie gebonde net aan die volk Israel nie. Hy luister ook na die uitlander, die vreemdeling, soos Salomo tereg in sy gebed noem.

Hy is die God van die hele aarde. Ons kan Hom nooit beperk tot dié wat Hom vanuit die Joodse geloofsgemeenskap aanroep nie. Dit het die verhaal van Rut – op ‘n individuele en nasionale vlak – en die verhaal van Nineve (Jona en Nahum) – op ‘n groeps- en internasionale vlak al vir ons gewys.

Maar, daar is meer. Want gebedsverhoring is by uitstek die boodskap van die NT. Soos Paulus dit onomwonde sê, in Christus is elke belofte in die Bybel geldig en waar:

“Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja, en in Hom is hulle amen (waar), tot heerlikheid van God deur ons.” (2 Kor 1:20).

Die boodskap is waar vir elkeen wat die Naam van die Here aanroep (Rom 10:13; vgl Joël 2:32; Hand 2:21). Luister bv wat Paulus aan die Korintiërs skryf:

“Aan die gemeente van God in Korinte … en verder aan almal, waar hulle ook mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here”! (1 Kor 1:2)

Hierdie belofte is dus geldig vir elke kind van God. Dit is geldig vir elke geloofsgemeenskap. Dit is selfs in beginsel waar vir elke nasie of mensegroep. Soos dit al deel van Salomo se gebed in die tempel was.

Luister net weer daarna:

29 enige gebed, enige smeking wat enige mens .. sal doen, as elkeen sy plaag en sy smart ken, sodat hy sy hande na hierdie huis toe uitbrei — 30 wil U dan hoor uit die hemel, u vaste woonplek, en vergewe en aan elkeen gee volgens al sy weë … 32 Ja, ook na die uitlander wat nie uit u volk Israel is nie en uit ’n ver land kom om u grote Naam en u sterke hand en u uitgestrekte arm ontwil.” (2 Kron 6:29-33)

Gebedsverhoring lê op die pad van ‘n ware soeke na God

Maar, sê die Here, hierdie belofte word waar op die pad van terugkeer en bekering, op die pad van ‘n ware soeke na God. Vers 13-14:

AS … my volk, die mense oor wie my Naam uitgeroep is – en dan noem God vier dinge –

  1. hulle verootmoedig en
  2. bid en
  3. my aangesig soek, en
  4. hulle bekeer van hulle verkeerde weë …

DAN … sal Ék uit die hemel hoor, hulle sonde vergewe en hulle land genees.

Ons sien dieselfde boodskap telkemale in die NT.

Jesus sê:

“Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matt 6:33)

Paulus skryf vir die Filippense en sê:

“werk julle eie heil uit met vrees en bewing; 13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.” (Fil 2:12-13)

God se beloftes word waar vir dié wat na Hom soek, wat glo dat Hy bestaan en ‘n beloner is van dié wat Hom soek (Hebr 11:6).

Bid die beloftes van die Bybel

Met dít in gedagte, wil ek jou uitnooi om die Here op sy woord te neem.

Die Here se Woord is vol van beloftes wat Hy deur die eeue gegee het, en wat Hy op soveel wyses gewys het dat Hy dit kan vervul. Regdeur die geskiedenis. Dit is waarom die vervulling van sy beloftes in die Bybel so belangrik is. Sodat dit vir ons voorbeelde kan wees wat ons aanmoedig en bemoedig en uitnooi om hierdie God te vertrou.

Trouens, daar is beloftes in die Bybel vir omtrent elke behoefte waaraan jy kan dink, selfs vir dinge waaraan jy nie gedink het nie. Herbert Lockyer het ‘n omvattende boek hieroor geskrywe en 7 487 beloftes van God aan mense getel en gekategoriseer (gebaseer op die navorsing van ‘n onderwyser Everet Storm van Kanada – All the Promises of the Bible).

Beloftes vir hierdie lewe en die lewe hierna. Vir huwelike en jou nageslag. Vir die omgewing en die samelewing. Vir jou geestelike behoeftes en jou liggaamlike en sosiale behoeftes.

En dan het ‘n mens nog nie eers die potensiële beloftes in die Psalms bygereken nie, want omtrent elkeen van die 2 461 verse van die 150 Psalms is ‘n moontlike belofte. En moenie die 915 verse in Spreuke vergeet nie. Talle daarvan is beloftes wat ons vir onsself kan toeëien.

Prakties

Jy moet jou behoeftes na die Here toe neem en dan in die Skrif by die beloftes van die Here uitkom, sodat jy die beloftes kan deur bid voor die Here in die verwagting dat Hy jou gebed sal verhoor.

Rig jou stiltetyd só in.

  • Begin met lofprysing en aanbidding – lees ‘n Psalm of gedeelte daarin. Psalm 113-118 werk baie goed. Ek het iets daaroor geskryf is as jy dit beter wil benut.
  • Doen jou daaglikse ondersoek en skryf neer wat jou behoeftes is. Ook die dinge wat jy in die koerante lees en dinge wat in jou familie en gemeenskap van belang is.
  • Lees dan die Skrif soos jy dit normaalweg doen. Hetsy die Skrifgedeelte vir daardie dag in die program wat jy volg. Of in ‘n EenjaarBybel wat jy so vier hoofstukke lees uit verskillende plekke in die Bybel. Wat wonderlik is daarvan is dat die Psalms en Spreuke broksgewys deur die jaar versprei is, en daar baie beloftes in daardie gedeeltes is.
  • Kyk uit vir wyses waarop die boodskap van die Bybel, veral die beloftes daarin, aansluit by jou behoeftes. Soms sal daar ‘n belofte vir die dag wees. Soms ‘n belofte vir die behoefte. Soms ‘n belofte vir iets waaraan jy nog nie eers gedink het nie. Soms ook ‘n bemoediging of ‘n teregwysing. Die Here is immers met jou hele menswees besig binne sy koninkryk.
  • Maak dan die beloftes jou gebed vir jou behoeftes.
  • Moenie vergeet om skuldbelydenis en voorbidding te doen nie.

Die punt is:

Bid die beloftes van die Bybel. God sit agter dié beloftes. Hy sal dit waarmaak.

Gebed

Slotlied

Lied 245:1-3 Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het – staan

Seën

Amen

Lied 312

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.