Skip to main content

Leer met God leef in jou jong dae – Prediker 11:7-12:14

Belydenisaflegging Somerstrand 7 Februarie 2021

Die Prediker verskuif sy aandag na die jeug van sy dag, interessant genoeg aan die einde van sy breë blik oor die sinvolheid van die lewe al dan nie.  Dit is soos ’n jeugdiens aan die einde van die erediens – onthou hy is die Prediker.

Dit is asof alles oploop hierheen!  Daarmee plaas hy, insiggewend genoeg, eintlik sy hoop op die jongmense om meer sin van die lewe te maak as wat hy en ander soos hy in hulle ouderdom daarin kon vind (Bybel 2020-vertaling).

Youtube

Slotgedig oor jonkwees en die dood 

11:7 Soet is die lig; dit is goed vir die oë om die son te sien. 8 Ja, as die mens baie jare leef, moet hy hom in hulle almal verheug; maar hy moet onthou dat die donker dae baie gaan wees. Alles wat kom, is sinloos.

9 Verheug jou, jong man, in jou jeug; jou hart moet jou vrolik maak in jou jong dae. Volg die paaie van jou hart en waarheen jou oë jou lei; maar weet: Oor al hierdie dinge sal God jou voor die gereg bring.

10 Weer kwelling uit jou hart en hou lyding weg van jou liggaam, want die jeug en die bloei van die lewe is sinloos.

Die Prediker speel met die metafoor van lig en donker om die jeug met die ouderdom te kontrasteer, om jongmense aan te moedig om die geleenthede wat die jeug bied aan te gryp met dankbaarheid, en niks daarvan nutteloos te laat verbygaan nie – 11:7-8.

Die Prediker moedig jongmense aan om plesier te vind in hulle jong dae as sodanig, om te doen wat hulle goedvind (hart), en waarvan hulle hou (oë), nie wat die ou mense goedvind nie!.

Die enigste grens wat hulle moet stel vir hulle plesier is aan die een kant die goedkeuring van God self, en aan die ander kant dinge wat hulle swaarmoedig (hart) kan maak, of hulle liggame skade kan aandoen – 11:9-10.

Maar die belangrikste van alles is om te sorg dat hulle leer om in dit alles met die God die lewe aan te durf (12:1).

12:1 Dink aan jou Skepper in jou jong dae, voordat die dae van teenspoed kom, en jare aanbreek waarvan jy sal sê, “Vir my is daar geen vreugde in nie”; 2 voordat die son en die lig donker word, die maan en die sterre; en die wolke terugkeer ná die reën; 3 die dag wanneer die wagte van die huis bewe, die sterk manne krom word, die vroue wat maal, ophou werk omdat hulle te min geword het, dié wat deur die vensters kyk, donker word, 4 en die deure na die straat gesluit word; wanneer die geluid van die meul sag word; wanneer sy stem klink soos die klank van ‘n voël, maar al die tone van die lied dof is; 5 wanneer daar selfs vir ‘n hoogte gevrees word en daar verskrikking op die pad is; terwyl amandelbome bloei, koringkrieke hulleself voortsleep en kappertjies oopbreek, wanneer die mens op pad is na sy ewige huis, en die rouklaers in die straat rondgaan; 6 voordat die silwer koord verwyder word, die goue bak stukkend val, die kruik langs die waterbron gebreek word, die skepwiel stukkend val in die put, 7 die stof na die aarde terugkeer soos dit was, en die lewensasem na God terugkeer wat dit gegee het. 8 Sinloos, volslae sinloos, sê die prediker, alles is sinloos!

Dit beteken vir die Prediker dat hulle eintlik hulle plesier in hulle verhouding met God self moet vind.  Hulle moet doelbewus God se bedoeling met hulle, dít waarvoor Hy hulle gemaak het, uitvind en daarin plesier en betekenis vind … voordat die ouderdom aanbreek, waarin dit nie meer moontlik sal wees nie.

Met boeiende prentjies van die ouderdom – 12:2-8 – skets die Prediker presies hoe uitdagend dit kan raak met die aanbreek van die ouderdom, en hoe ouderdom beperkings plaas op verskillende aspekte van menswees tot dit eindig in die dood. In die oorspronklike Hebreeus kondig hy telkens ‘n nuwe gedagte eenheid aan met die woorde: “Voordat.

  • Vers 2 lui die eerste gedagte eenheid in wat veral werk met die metafoor van die son wat donker word, en die verval van ‘n huis, dws die beperkings van die ouderdom. Onthou dit is poësie, so die beelde is vir meer as een interpretasie vatbaar!
  • swakkerwordende sig of swaarmoedigheid (son donker) – 12:2,
  • koulikheid of sieklikheid (wolke) – 12:2,
  • bewende hande of kragteloosheid (wagte van die huis) – 12:3,
  • swikkende bene of lompheid (sterk manne) – 12:3,
  • verslete tande of gebrek aan vitaliteit (malers) – 12:3,
  • donker blik op die lewe of onveilige lewensgevoel (vensters) – 12:3
  • kluisenaarbestaan of gebrek aan gasvryheid (deure na die straat) – 12:4
  • swakkerwordende hart of minder produktiwiteit (meul) – 12:4
  • vroëer opstaan en doofheid of doellose aktiwiteit (voëls) – 12:4
  • swakker balans of angstigheid (hoogte) – 12:5
  • senuweeagtigheid of maklike verskriktheid (verskrikking op die pad) – 12:5
  • grys/wit hare (amandelboom) – 12:5
  • minder beweeglik (koringkriek) – 12:5
  • eetlus word minder (kappertjies) – 12:5
  • die lewe eindig (ewige woning) – 12:5
  • in ‘n lykstoet (rouklaers) – 12:5

Die tyd van die dood word met pragtige beelde beskryf.  Om te sterwe word met drie beelde beskryf wat die breekbaarheid van die lewe betreur:  Die sterwe is soos:

  • ‘n goue kruik wat aan ‘n silwerketting hang en dan breek,
  • ’n kruik wat by die fontein stukkend breek,
  • ‘n skepwiel wat by die put stukkend val.

Om te sterwe is ten slotte die terugrol van die Skeppingsdaad – die stof van die liggaam keer terug na die aarde, en die gees na God wat dit in die eerste plek gegee en verenig het (vgl Gen 2:7). “Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks.” Sela

Maar dan sluit hy af met twee laaste vermanings.

Twee naskrifte 

9 Nie net was Prediker wys nie, hy het ook nog kennis aan die volk oorgedra. Hy het oorweeg en nagevors; hy het baie wysheidspreuke georden. 10 Prediker het daarna gestreef om gepaste woorde te vind, wat eerlik neergeskryf is – waar woorde.

11 Die woorde van wyses is soos skerp stokke; soos spykers wat ingeslaan is, is die hoofgedagtes van ‘n versameling. Hulle is deur een Herder gegee.

Wysheid gee rigting en vastigheid – 12:9-11

Die Prediker gebruik twee metafore om die funksie van die wysheid te beskryf.

  1. Die woorde van die wyses is soos skerp stokke wat die beeste (ons) aanjaag in die regte rigting.  “The words of the wise prod us to live well,” soos Peterson dit vertaal.
  2. Die versamelde spreuke van die wyses – soos onder andere die Prediker en Spreuke – is soos spykers wat ingeslaan is om alles, gemeenskappe en hulle wêrelde, bymekaar te hou.  “They’re like nails hammered home, holding life together” (Peterson).

Die woorde en spreuke van die wyses is die woorde van God self, die een Herder, wat ons daarmee in die regte rigting stuur (skerp stokke) en beskerm van verydeling en verstrooiing (spykers).

En die tweede vermaning:

12 Bo en behalwe alles, nog dit: My seun, wees gewaarsku: Aan die skryf van baie boekrolle kom daar geen einde nie, en baie studie is uitputtend vir die liggaam. 13 Die slotsom is, nadat alles gehoor is: Betoon ontsag vir God en kom sy gebooie na; dit geld immers die hele mensdom. 14 Want oor elke daad sal God self oordeel, oor alles wat verborge is, of dit goed is of kwaad.

Wees prakties in jou ontsag vir God – 12:12-14

In sy laaste opsomming trek die redakteur van Prediker die slotsom van alles saam.

Die belangrikste – van alles – is om versigtig te wees vir te veel studie en skryfwerk … dit ooreis die liggaam.

Want, om in ontsag (vrees) vir God te leef – wat rekenskap eis oor alles wat gedoen word, goed of kwaad – en te doen wat Hy vra, dit is die belangrikste van alles.

Werk dus altyd met dié twee perspektiewe:

  1. om in afhanklikheid van en met ontsag vir God te leef,
  2. en om prakties te wees in jou gehoorsaamheid aan wat God vra.
View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.