Jesaja 25 – Erediens: God bring vreugde deur oordeel – 13 Februarie 2011

Die orakel boodskappe van hoofstuk 13-23 word opgevolg in die “Apokalips van Jesaja” in hoofstukke 24-27 waar die oordeel van die Here universeel uitgebrei word na die hele aarde toe.  God gaan oor begin, waarin grootskaalse kosmiese ontwrigting ervaar gaan word (24), hemelse en aardse magte geoordeel sal word (24:21-22) en die oorwinning oor die dood behaal sal word deur die opstanding van die dode, een van die min plekke in die OT waar dié perspektief oopgebreek word (26:19).

Dit word geskryf in taal wat herinner aan die ander apokaliptiese gedeeltes in die Bybel (Daniël, profetiese redes in die evangelies en Openbaring).  Apokalips beteken “om die sluier te lig” en kan daarom ook met die woord openbaring vertaal word.

Dit sluit die wonderlike heilsboodskap in dat God aan die einde ’n feesmaal vir die volke sal voorberei, hoewel dit steeds sommige se vernietiging sal insluit, soos bv. Moab, ’n heuwelagtige gebied in die hedendaagse  Jordanië, oos van die Dooie See (25), maar deurgaans ’n totale lotsverandering vir sy volk inhou (26-27).

Hier volg die teks van die hele erediens

Verwelkoming

  • Bibles for Believers

Toetrede

Lied 154 – Kom nou tesaam, laat ons vergader, één as sy Kerk, één in sy Naam – Gemeente v1 en 3, Koor v2 sit – Lirieke deur Elsabé Kloppers

Votum

Seëngroet

Lofsang

Lied 203 v1 en 3 – Loof die Here, al wat lewe, wil Hom dank en hulde bring – staan – Attie van der Colf lirieke.

Psalm 89 v1 en 2 – Vir ewig staan u trou, dis sonder wankeling – staan – lirieke deur TT Cloete, oor wie daar Saterdag ‘n artikel in die Burger was.

VONKK 80 – Ek is bly!  Ek verbly my in die Heer – Koor 1x , Gemeente 1x sit – Lirieke deur Malan Nel wat Jesaja 61:10 gebruik het, getoonset deur Awie van Wyk vir die Jeug-tot-Jeug-aksie van 1974.

Kindertyd

Hallo maats, my naam is Josef (handpop).

Ek wil julle vandag iets vertel wat baie belangrik is.

Weet julle wat is dit om hoogmoedig te wees?

  • Dit is wanneer jy dink jy is beter as ander mense.
  • Jy dink jy is hoog en ander is laag.
  • Jy dink jy is goed en ander is sleg.

Nou, ek het geleer dat dit baie sleg is om hoogmoedig te wees.
Toe ek nog by my ma en pa in Israel gebly het, was hulle baie lief vir my.
My pa, Jakob, het vir my ‘n mooi lang rok gemaak met sulke pragtig moue.
En ek was nie bietjie trots daarop nie.
Nie een van my ander 11 broers het so ‘n mooi rok gehad nie.
Selfs nie my susters het so mooi gelyk soos ek nie.
Sien, my pa het my liewer gehad as vir my broers en susters.
En ek het gedink, as hy my so liefhet, is ek beter as my broers en susters.
Daarom het ek slegte stories oor hulle by my pa kom vertel.
Goed wat hulle nie wou hê dat hy weet nie.
Slegte goed wat hulle gedoen het.
En ek was baie hoogmoedig.  Ek was nie soos hulle nie.
En weet julle wat doen hulle toe?
Hulle gooi my in ‘n put, ‘n gat in die grond.
Ek was baie bang.
Ek kon hoor hoe my  broers gesels en allerhande lelike dinge van my sê – dat ek so hoogmoedig is, dat ek ‘n les geleer moet word.
Toe hoor ek daar kom ‘n klomp Egiptenare verby.
En na ‘n tydjie kom haal my broers my uit die put uit.
Ek dog nog hulle het my jammer gekry.
Moenie glo nie; hulle verkoop my net daar aan die Egiptenare.
En so het ek in Egipte moes gaan bly.
Dit was baie swaar.
Maar ek het begin besef, ek was verkeerd.
Hoogmoed is ‘n lelike ding.
Dit is eintlik leliker as die slegte dinge wat my broers gedoen het.
En ek het die Here gevra dat Hy my moet vergewe.
En ek dog toe dit sal nou met my weer goed gaan.
Moenie glo nie – die volgende oomblik is ek in die tronk, want die vrou van Potifar, vir wie ek in Egipte moes werk, het slegte stories oor my vir hom vertel.
In die tronk het ek baie tyd gehad om te dink.
En daar in die tronk begin die Here weer met my praat.
En Hy help my om drome van ander mense te verstaan.
Toe die koning, hulle noem hom die farao, dit hoor, laat hy my roep.
Hy het ‘n droom gehad, en ek kon hom toe help.
Die Here het vir hom gesê dat daar ‘n groot droogte kom, en dat hy kos moet wegsit vir die droogte.
En weet julle – nie net het Egipte toe kos gehad nie.
My pa hulle kon ook in Egipte kom kos koop.
Want die droogte was orals.  Niemand het kos gehad nie.
En ons was baie bly om mekaar weer te sien.
Ek en my broers het alles tussen ons reggemaak.
En toe het ek nog iets geleer.
Die Here hou nie van hoogmoed nie.
Hy hou nie daarvan dat jy dink jy is beter as ander nie.
Dit is waarom ek in Egipte beland het.
Maar, as ‘n mens jammer sê, dat maak Hy dinge weer reg.
‘n Mens kan Hom daarvoor vertrou.

Gebed

GOD PRAAT MET ONS EN ONS LUISTER

God bring vreugde deur oordeel

Skriflesing

Die orakel boodskappe van hoofstuk 13-23 word opgevolg in die “Apokalips van Jesaja” in hoofstukke 24-27 waar die oordeel van die Here universeel uitgebrei word na die hele aarde toe.  God gaan oor begin, waarin grootskaalse kosmiese ontwrigting ervaar gaan word (24), hemelse en aardse magte geoordeel sal word (24:21-22) en die oorwinning oor die dood behaal sal word deur die opstanding van die dode, een van die min plekke in die OT waar dié perspektief oopgebreek word (26:19).

Dit word geskryf in taal wat herinner aan die ander apokaliptiese gedeeltes in die Bybel (Daniël, profetiese redes in die evangelies en Openbaring).  Apokalips beteken “om die sluier te lig” en kan daarom ook met die woord openbaring vertaal word.

Dit sluit die wonderlike heilsboodskap in dat God aan die einde ’n feesmaal vir die volke sal voorberei, hoewel dit steeds sommige se vernietiging sal insluit, soos bv. Moab, ’n heuwelagtige gebied in die hedendaagse  Jordanië, oos van die Dooie See (25), maar deurgaans ’n totale lotsverandering vir sy volk inhou (26-27).

Lees Jesaja 25

Woordverkondiging

Ek sou nie graag deel wou wees van die nageslag van Moab nie.

1.       Gebore uit bloedskande.  Na die ramp van Sodom en Gomorra, met Lot se vrou wat in ‘n soutpilaar verander, het Lot en sy twee dogters in ‘n grot in die berg gaan woon.  Omdat die twee dogters se verloofdes ook gesterf het in Sodom en Gomorra – hulle wou nie vlug nie; gedink dit alles was net ‘n grap – besluit Lot se dogters om hulle pa dronk te maak en kinders by hom te verwek.  Die oudste dogter het die voorbeeld gestel, en die jongste dogter het haar voorbeeld gevolg.  En  die Moabiete is die nageslag van Lot en sy oudste doger – soos Gen 19 ons vertel (die Ammoniete was die nageslag van Lot en sy jongste dogter).

2.       ‘n Volk van ongasvry vervloekers – ‘n Volk met leiers wat geen gevoel het vir mense in nood nie.  Toe Israel – en onthou hulle was bloed-familie, Lot se nageslag, die broerskind van Abraham – toe Israel op pad was deur die woestyn na Kanaän toe om die Beloofde Land in te neem, wou hulle nie eers vir die Israeliete brood en water gee nie.  Let op hulle was nie ‘n bedreiging nie, net maar honger en dors, maar Oosterse gasvryheid gee die leiers van Moab nie vir hierdie swerwers deur die woestyn nie.

Om die waarheid te sê, hulle voel so min vir Israel, dat hulle ‘n profeet huur, Bileam, om die volk in die naam van die Here te vervloek.  Praat van arrogansie, ‘n God wat hulle nie dien nie, word ingeroep om hulle vuilwerk vir hulle te doen – soos Numeri 22-24 ons vertel.

3.       En op die koop toe was hulle ‘n volk van verleiers, soos hulle oermoeder.  Numeri 25 vertel die gru verhaal van Moabitiese vrouens wat die Israeliete verlei het met seks om vir Baäl-Peor te dien, wat ‘n ramp oor die Israeliete gebring het.

Geen wonder die Here het die reël gemaak, geen Moabiet se kind, of sy kleinkind, of dié se kind en dié se kleinkind, of dié se kind, en dié se kleinkind, 10 geslagte ver, mag in Sy teenwoordigheid verskyn nie.  Dit beteken eenvoudig – NOOIT!  Bloedskandelik, Ongasvry, Verleiers – nie welkom in die geloofsgemeenskap van Israel nie (Deut 23).

Soos ek sê, ek sou nie deel van die nageslag van Moab wil wees nie.

Want, kyk, hier in Jesaja 25 is ‘n feesmaal, God het oorwinning gegee vir sy volk, Hy het die aanval van die Assiriërs afgeweer, en in ‘n aanbod wat eintlik die grense van die aardse tyd oorskry, nooi Hy alle nasies om te kom aansit – goeie kos, geurige wyn.

En Hy doen drie goed:

1.       Hy neem die doek van onbegrip weg – Hy bring kennis, wysheid, ‘n diep insig in hoe dinge werk, en Hy gee dit vir almal;

2.       Hy vee die trane af van dié wat huil oor hulle verlies en hulle nood, en Hy neem die smaad weg wat oor sy volk gelê het, weens hulle eie dwaasheid en,

3.       Hy vernietig die dood, die toppunt van vrees, dié ding waarvoor almal bang is, en niemand oor praat nie, totdat jy dit deur siekte of ouderdom nie anders kan as om in die oog te staar nie.

Deur die oordeel wat God bring oor die aarde, skep Hy weer vreugde.  Deur die straf, bring Hy weer ‘n verhouding tot stand tussen Hom en die mense.  En dit is ‘n bron van ewige blydskap.  God bring vreugde deur die oordeel.

Maar Moab word uitgesluit – met ‘n grusame-grillerige beeld, een wat jou van skok wil laat lag, word hulle uitgebeeld as in ‘n mishoop ingetrap … en as hulle verward probeer uitswem uit die mis, soos ‘n swemmer wat sy hande uitsteek om net bo te kom om asem te skep, swem hulle elke keer in God vas, wat hulle keer, en hulle vernederend terugdruk in die mis (vers 10-12).

Grusaam, grillerig, spottend.  Laat my dink aan die kinderboekie Die storie van die molletjie wat wou weet wie het op my kop gedinges? – dit is net baie erger.  Want die WIE is niemand anders as God nie.

Ek wil nie deel wees van die nageslag van Moab nie.

Maar, dit is ook ‘n prentjie van God wat ek moeilik my kop om kry.

Hoe kan God so genadeloos, amper wraakgierig wees?

En hoe pas dit in die NT prentjie van Jesus in?

Daar is vier dinge wat ek dink ons sal help om dit te verstaan.

1.       God haat hoogmoed.  Dit is die oersonde, die diepste vergryp, die boosheid self (soos uitvoerig in Jes 15-16 reeds geskrywe oor Moab). God kan nooit vrede maak met hoogmoed nie.  Daar is baie dinge wat Hy kan oorsien.  Hy kan onkunde hanteer – Hy haal immers die doek van onbegrip van sy mense se oë af.  Hy kan sonde hanteer – daarom was daar die offerkultus in die OT en het Jesus aan ‘n kruis gesterf.

Maar hoogmoed is ‘n spesie van sy eie.  Dit is die primêre fout in die menslike geestelike DNA, die idee dat jy beter weet as God, dat sy riglyne vir die lewe nie vir jou geld nie (Adam en Eva), dat jy nie verantwoordelik is vir jou broer of jou suster se lewe nie (Kain en Abel), dat jy nie na God hoef te luister hoe om op hierdie aarde te lewe nie (Noag en sy tyd, Sodom en Gomorra en talle voorbeelde daarna).

Hoogmoed is die oersonde, die diepste vergryp, die boosheid self.

En Moab het ten spyte van alles, hulle in hoogmoed verset teen God, en wou net nie buig voor sy ingrype, sy teenwoordigheid, sy aanbod vir die lewe nie. Jeremia skryf ook hieroor en sê: “Moab het hom groot gehou teen die Here” (48:26).  Eintlik is dit die geestelike gene van hulle oermoeder, wat alle konvensies oorboord gegooi het, bloedskande met haar pa gepleeg het, en ‘n nasie in die lewe gebring het wat moeilik sou buig voor wat God voorskryf en self ongasvry en verleidelik geleef het.

2.       Moab is ‘n simbool.  Moab is ‘n simbool vir enigiemand wat hulle teen God verset.  Dit gaan nie in die teks net om Moab nie.  Dit gaan oor enigiemand wat hulle teen God verset, wat God se aanbod tot die feesmaal in sy teenwoordigheid, nou en hierna, verwerp.

En ek dink ons sien iets van hierdie teks regdeur die geskiedenis ontvou.  Jesaja help ons verstaan dat God op die wêreldverhoog speel.  Agter alles, deur alles, in alles, werk Hy sy beplanning uit.

John Watts het my nogal laat nadink oor aspekte van ons leefwêreld, waar hy in sy kommentaar op Jesaja 3-4 die volgende sê:

“All society is held together by invisible bonds—common concerns that have a moral base. When these disappear, the body politic disintegrates. Judgment on a people may be passive. It does not have to come by external invasion. It may, and often does, come through internal atrophy. The passage suggests that God is responsible for this deterioration. It is his judgment on those who forget that they are all ultimately dependent on him.”

En hoewel ‘n mens moeilik in detail dit kan beskryf, juis omdat dit so verborge gebeur, kan ‘n mens een ding sien – regerings of mense wat hulle verhef bo ander, word tot ‘n val gebring.  Ons sien dit in ons eie land, en sal dit weer sien, indien mense nie tot inkeer kom nie, en ons sien dit in die wyer wêreld – Nazi-Duitsland in die Tweede Wêreldoorlog en die Kommunistiese muur se val in die 80er jare is resente voorbeelde.

En ek vermoed wat in die Midde-Ooste gebeur is heel moontlik die begin van ‘n volgende fase in die vernedering van hoogmoediges, wat ‘n wet vir hulleself geword het – Mohammed Hosni Said Moebarak kon nie staande bly in sy hoogmoed en afkeur van die massas in Egipte nie (ongelooflik, Wikipedia is reeds opgedateer met die datum vir die einde van sy termyn as president, 11 Februarie).

3.       God se hart kerm oor Moab.  Daar is ‘n roerende kykie in God se hart in hoofstuk 15-16 waar God ‘n oordeel oor Moab uitspreek.  Ten spyte van God se onwrikbare oordeel oor hulle – hulle vlug uit hulle land na Edom, en dié kan hulle nie help nie; en dié wat agterbly in die land word deur leeus verskeur – sê God steeds “My hart brand oor Moab”(15:5).

Ten spyte van die ondraaglike verwoesting wat Hy oor hulle bring – oor hulle hoogmoed, hulle hovaardigheid, hulle grootpratery wat tot niks gely het nie (16:6) – kerm dit in God se hart oor Moab, dit kerm soos ‘n lier (16:11), dat hulle nie die opsie om tot God te bid, aangryp nie, maar tevergeefs hulle eie gode aanroep.  Onversetlik in hulle hoogmoed en opstand teen die Here, spoel die verwoesting oor hulle – maar tot God se verdriet.  Hy wou dit nie so hê nie.  As hulle maar net wou luister.

4.       Rut kom uit Moab.  Dit is die evangelie in die verhaal van Rut – enigiemand, selfs ‘n Moabiet, wat die Here aanroep, word deur Hom aanvaar.  Die verhaal van Rut, die Moabiet, bewys dit.  Sy word nie net opgeneem in die koninklike geslag nie, maar uit haar word die Verlosser van die wêreld gebore.  Jesus het ‘n Moabiet as voorouer!

En Jesaja se profesie maak dit nie ongedaan nie.  Soos Paulus jare later sou skrywe: “Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie” (Rom 10:11).  En hy haal – sowaar – uit Jesaja 28:16 aan!  “Dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (Rom 10:12).

Is dit nie ongelooflik wonderlik nie?!  Is dit nie rede om uit te bars van lof vir God nie?!  Daar is nie iemand soos Hy nie.  Sy weë is hoër as ons s’n, baie keer onsigbaar, soms selfs moeilik om te verstaan.  Maar dit werk altyd ten goede mee.

Wat my laat besef: daar is hoop vir ‘n Moabiet … ook hoop vir die Moabietiese gene wat ook in my geestelike DNA sit …  vir almal!

Dit beteken – ek mag maar ‘n Moabiet wees, want die feesmaal is ook vir Moabiete wat luister en in God glo.

Gebed

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Dankoffers

Koor: Lied 210 (Prys God, Hy is groot!) – Elsabé Kloppers

Zithulele – Thomas Stewart

Slotsang

Lied 284 (Laat, Heer, u vrede deur my vloei) staan – Jacques Louw se Afrikaanse lirieek op voetspoor van Franciskus van Asissisi se Make me a channel of your peace.

Seën

Amen Lied 314

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment