Skip to main content

Jesus kom met die wolke en elke oog sal Hom sien – Openbaring 1

NGK Somerstrand 24 April 2022 | Kerk en Youtube 09:00

Verwelkoming

Aankondigings

Ek gaan vir die volgende paar weke by Skrifgedeeltes uit die boek Openbaring stilstaan. Vandag, 24 April, 1 Mei en weer die 22ste Mei. Tussen-in preek ons nuwe leraar, ds Vian du Plessis, met sy intreepreek die 8ste Mei, en ook die 15de Mei. Hy gaan ook die Pinkster behartig wat die 29ste Mei begin.

Ek gaan met die 365 beloftes op Bybelskool.com en WhatsApp ‘n hele aantal beloftes deur Openbaring gebruik. Dit gaan jou baie help om die boek Openbaring uit die hoek van die beloftes daarin deur te werk. Jy kan ook die boek aflaai wat ek daaroor geskrywe het. Hier is die skakel: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf

Toetrede

Flam 21:1-4 In die hemel is die Heer en sy glans is soos kristal – sit

Votum en Seëngroet

Lofliedere

Lied 168:1-3 Heilige Jesus, Heer van die here, U is verhoog tot die hemeltroon – staan

Lied 423:1-3 Kom laat ons almal vrolik voor God die Here sing! – staan

Kindertyd

Ek het hier die HAT woordeboek. Dit is dik nè? Kom ons maak oop by die eerste letter – A. Dit is die eerste letter van die alfabet. Dit is ook ‘n uitroep van vreugde en genot. En so begin die woordeboek. Ons lees van aag – as jy ongeduldig is. Aai – as jy teleurgesteld is. Aaklig – as iets baie sleg is. En dit is nog maar net op die eerste blad. Kom ons blaai deur die boek. Daar is… Kom ons kyk wat is die laaste woord in die woordeboek. Wat dink julle is dit? Dit is ‘n onbekende woord: zwinglianisme. Maar, die een net daarvoor sal julle ken – Zulu. Wat is ‘n Zulu. Dat is die mense wat in die noorde van KwaZulu-Natal woon.

Die Bybel sê vir ons die Here is die Alfa en die Omega, dit beteken die eerste letter van die Griekse alfabet en die laaste letter, en alles tussenin. God is die begin en die einde. Die Eerste en die Laaste. Ek gaan dit illustreer met voorbeelde. God was met die begin van die skepping daar. Hy het alles gemaak. So Hy is die Eerste. Hy was met al die mense in die Bybel. Aan wie kan julle dink? Adam, Noag, Abraham, Moses, Dawid, Jesus, Paulus, Petrus. Almal. Hy was ook hierdie week saam met jou by die skool. En Hy is vandag hier. God sal ook met jou wees hierdie week. En hierdie jaar. En as jy grootword. En as jy oudword. Tot aan die einde van alles sal God daar wees. Want Hy is ook die Laaste. EN nog daarna. God is die Eerste en die Laaste. Die Alfa en die Omega. Die A tot by die Z van ons lewe.

Gebed

Skrifgedeelte en prediking

Ek begin vandag met ‘n kort oorsig oor die troos en aansporing wat Jesus vir ons met die boek Openbaring gee. God is in beheer. Die toekoms is in sy hande. Rome moes dit hoor in daardie tyd. Die Grieke. Die Jode. So moet ook elke mag of gesag regdeur die eeue en ook dié van vandag dit hoor.

Dit is so dat ons leef in ‘n gevalle wêreld. Dit is die gevolg van die sondeval sowel van die hemelse wesens (Satan en sy engele) as van die menslike wesens (Adam en Eva). Hulle is en was in opstand teen God. Hulle rebellie het God se goeie skepping aan die boosheid van verganklikheid en verydeling blootgestel.

Die mag van die bose is buitengewoon en bring groot pyn en lyding in die wêreld soos onder andere nou onlangs met die oorlog in die Oekraïne. Hierdie boosheid is egter nie God se skuld nie. Hy is nie verantwoordelik daarvoor nie. Dit is die skuld van politieke, ekonomiese en bloot menslike boosheid aangeblaas deur die bose magte in die lug.

Maar, dit beteken nie dat God onbetrokke is nie. God is besig om die wêreld in sy soewereiniteit en voorsienigheid te verlos van hierdie boosheid en ‘n nuwe hemel en aarde te skep waar die boosheid finaal vernietig sal word. Die bose gaan dus nie die laaste sê hê nie, soos die hele boek Openbaring vir ons vertel.

Dit is die boodskap wat ons vandag moet hoor. Die boek is bedoel vir jou. Want, dit is nie altyd maklik om te glo dat God in beheer is nie. Daar is baie magte werksaam en daar is soms twyfel by ons as ons swaar kry. God kom raak ons egter vandag aan met die boodskap in hoofstuk 1. Hy laat ons onthou dat ons nie alleen is nie. Hy gee vir ons genade en vrede. God, die Ewige, die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde, die Eerste en die Laaste, sê so. Hy is op pad op die bestemde tyd om alles reg te stel. Kom ons lees vers 4 tot 8:

4Johannes, aan die sewe gemeentes in Asië: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is; 5en van Jesus Christus, die betroubare getuie, die Eersgeborene uit die dood en die heerser oor die konings van die aarde. Aan Hom wat ons liefhet, en ons deur sy bloed van ons sondes verlos het, 6wat ons ‘n koninkryk gemaak het, priesters vir God, sy Vader – aan Hom kom die heerlikheid en die sterkte toe, vir ewig en ewig. Amen. 7Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, selfs hulle wat Hom deurboor het; en al die volke op die aarde sal oor Hom rou. Ja, amen! 8“Ek is die Alfa en die Omega, die Een wat is en wat was en wat kom,” sê die Here God, die Almagtige.

1. Dit is die Woord van God wat met ons praat.

In die volksmond praat ons baie keer van die Openbaring van Johannes. Dit is verkeerd. Die boek is duidelik ‘n openbaring van Jesus Christus wat deur God aan Hom gegee is. Daarvoor gebruik Jesus ‘n engel. Wat die engel vir Johannes gewys het, raak nou die “woord van God” aan die gelowiges. Wat ons hier lees is die Woord van God. Dit dra sy gesag. Hy sal elke belofte hierin aan ons vervul. Hy staan vir die boodskap hiervan in.

2. Dit is God se Woord vir die tyd tussen Jesus se eerste en sy laaste koms.

Dit is wel die laaste woorde van Jesus aan sy mense op aarde in die eerste eeu nC. Maar dit raak die hele tyd tussen sy eerste en laaste koms. Trouens, alles tussen sy eerste koms en sy wederkoms is die eindtyd. Natuurlik is ons nou nader aan die einde van die eindtyd. Alles is besig om te versnel. Maar, die boek handel oor die hele tyd tussen Jesus se eerste koms en sy wederkoms. Dit is dus ‘n boek vir ons. Dit raak ons. Dit troos ons. Dit waarsku ons. Dit bemoedig ons. Veral om te volhard in ons getuienis en in ons liefde vir God en ons naaste.

3. Jesus is die Uitvoerder van God se beloftes in hierdie boek.

Jesus is die Een wat deur die getuienis van Johannes aan die woord kom. In die lees van dié boek het ons dus met die selfgetuienis van Jesus Christus te make. Hy praat met ons deur die boek. Dit is sy stem aan ons.

Daarom sê Johannes dat God almal wat dié profesie van die boek lees geseënd verklaar. Of dit nou in die tyd van die vroeë kerk was, en of dit nou in die Middeleeue was, of in ons eie tyd. Ons is geseënd. Want, elke woord hiervan is besig om waar te word, en help ons om die uitdagings van ons tyd die hoof te bied.

4. Die eerste boodskap van Jesus aan ons is dat Hy ons as sy koninklike priesterdom uitgekies het.

Met die aanhef van die brief beveel Jesus vir Johannes om die sewe gemeentes in die provinsie Asië (Wes-Turkye) aan te spreek en hulle te groet met die Drie-enige genade en vrede (Hebreeuse sjalôm) van God self:

  1. van die Vader wat is en wat was en wat kom – ’n beskrywing van die dinamiese karakter van God;
  2. van die sewe Geeste voor sy troon – ‘n beskrywing van die Heilige Gees in sy omvattende teenwoordigheid en werk;
  3. van Homself, die Here Jesus Christus – die betroubare getuie, die Eersgeborene uit die dood en die heerser oor die konings van die aarde.

Die sewe gemeentes verteenwoordig natuurlik die hele Christelike kerk, ook hier in Somerstrand, en waar jy ook al inskakel in hierdie wêreld by die kerk van die Here Jesus.

5. Die tweede boodskap van Jesus is dat Hy die Heerser is oor die aarde

NB, Jesus word as die geloofwaardige of betroubare getuie geteken – dws sy getuienis kan geglo word. Hy is ook nie net die Een wat as Eersgeborene uit die dode opgestaan het nie. Maar, Hy is nou reeds die heerser oor die konings van die aarde. Hy is nou alreeds besig om met die seëls en die trompette en bakke waarvan hoofstuk 4-16 vir ons vertel sy verlossende oordeel oor hierdie wêreld te voltrek.

Reg deur die boek word daardie heerskappy, daardie verlossende oordeel, as ’n teenswoordige realiteit beskryf word. Dit is nie iets wat eers met die Wederkoms aanbreek nie. Jesus is nou reeds besig met sy heerskappy.

Sommige van die aspekte daarvan kan ‘n mens sien. Oral waar mense Hom as Here aanvaar, kom sy koninkryk. Natuurlik deur die werk van sy koninklike priesterdom, dit is ons. En ons word aangevuur deur die verhale wat ons hoor waar mense die Here begin dien en dit versterk ons in ons getuienis- en dienstaak.

Sommige van die aspekte daarvan kan ons egter nie sien nie. Dit is agter die skerms. Maar, dit is nie asof ons heeltemal blind is daarvoor nie, want, soos Jesus vir ons in hierdie boek wys, selfs die onsigbare dinge het ‘n konkrete impak op hierdie wêreld. As jy kyk na die oorloë en die pandemies en die onrus op die aarde dan sien jy die sigbare tekens van hierdie onsigbare stryd.

Dit is soos geboortepyne van ‘n nuwe wêreld. Ons kan sien die ou wêreld is op pad uit. Die wêreld kan immers nou maar eenmaal nie vrede en voorspoed bewerk nie. Daarvoor is die selfsug en gierigheid net te veel. Dit wil ook al hoe meer lyk asof ons met ‘n tweede Babelse verwarring sit wat losgebars het oor die wêreld, aangevuur deur sosiale media. Lees gerus die uitstekende artikel van Jonathan Haidt daaroor. Alles is besig om te fragmenteer. Ons word sentraal beheer, maar nie om ons aan mekaar te verbind nie, maar om ons van mekaar te skei deur die algoritmes wat die sosiale media op ons afforseer.

En ons sukkel om die onderskeid raak te sien tussen dit wat waar is en dit wat vals is. Wie moet jy glo? En wie nie? Die hoofstroom media, en veral die sosiale media reuse, is nie meer ons vertroue werd nie. Maar, baie van ons wil nie moeite doen om die waarheid te soek tussen die aanbiedinge nie. Dit is net te veel moeite. Daarom word ons so maklik mislei. Maar, eintlik weet almal dat dit nie langer só kan aangaan nie. Selfs al probeer ons die konflik vermy.

Wat Jesus egter vir ons sê met hierdie boek is dat hierdie dinge net die voorspel is tot die einde. Babel is besig om te val (hoofstuk 18). Die nuwe is aan die kom (hoofstuk 19). Dit sal verseker aanbreek. En ons werk daaraan mee met ons getuienis en ons dienswerk. En al sien ons nie altyd die vrug wat ons graag sal wil sien op ons ywer nie… die oorwinning sal kom. Want Jesus is die Heerser wat sy koninkryk aan die einde van die tyd met sy wederkoms sal vestig.

Jesus kom weer. Dit is verseker. Almal sal Hom sien, selfs ook dié wat Hom verwerp en aan die kruis deurboor het. Vir gelowiges sal dit ‘n vreugdevolle weersiens wees. Vir ongelowiges egter ‘n tragedie van berou, want dit te laat sal wees, om tot inkeer te kom.

6. Die derde boodskap van Johannes in Openbaring 1 is: Jesus is die Eerste, en die Laaste, en die Lewende.

Kom ons lees daarvan in vers 9-20. Ek gaan dit verklaar soos ek dit lees:

9Ek, Johannes, julle broer en ‘n deelgenoot in die verdrukking, en in die koninkryk, en in die volharding in ons verhouding met Jesus, was op die eiland wat Patmos genoem word, op grond van die woord van God, naamlik die getuienis deur Jesus Christus.

Let op, Johannes beskryf volharding as iets wat in ‘n verhouding met Jesus gebeur. Volharding is ’n gawe van God wat ons binne die verhouding met Jesus ontvang. Volharding is dus nie net ’n opdrag wat uitgevoer moet word nie, maar ook ‘n gawe – in ons taal, ‘n belofte – wat ontvang en vasgehou moet word. Dit moet ons laat moed skep!

10Op die dag van die Here het die Gees van my besit geneem, en het ek agter my ‘n harde stem, soos dié van ‘n basuin, gehoor 11wat sê: “Skryf wat jy sien, in ‘n boekrol op, en stuur dit aan die sewe gemeentes: na Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.” 12Ek het omgedraai om te sien wie se stem dit is wat met my praat. Toe ek omdraai, het ek sewe goue kandelare gesien, 13en in die middel van die kandelare, iemand net soos die Seun van die Mens.

Let op, Jesus staan tussen die kandelare – die simbool van die gemeentes. Hy is nie daar ver nie. Hy versterk ons van binne af. In die gemeenskap van die gelowiges. Hy weet wat hier aangaan. En Hy het ‘n boodskap vir elke tipe gemeente, soos die briewe aan die sewe gemeentes hierna vir ons uitwys. Hy bemoedig dié wat volhard. Hy bestraf dié wat uitsak.

En dan gee Johannes vir ons ‘n prentjie van Jesus in al sy glorie:

Hy het ‘n kleed wat tot op die voete hang, gedra, met ‘n goue band wat om sy bors vasgebind was. 14Sy kop en hare was so wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ‘n vlammende vuur. 15Sy voete was net soos gloeiende koper in ‘n rooiwarm oond, en sy stem soos die gedruis van baie waterstrome. 16In sy regterhand het hy sewe sterre gehou, uit sy mond het daar ‘n skerp swaard met twee snykante gekom, en sy gesig was soos die son, wat in al sy felheid skyn.

Johannes eien Jesus as die Seun van die Mens, op voetspoor van Daniël se vroeëre beskrywing (Dan 9:13).

  • By sy lang kleed het hy ’n goue band om sy bors gedra, dié plek waar werkers gewoonlik hulle gordel vasgemaak het ná hulle klaar gewerk het. Sy werk word dus as afgehandel geteken.
  • Sy voorkoms was verder besonder treffend en uitermate verheerlik met veral die skerp swaard met twee snykante uit sy mond – ’n toespeling op die kragtigheid en priemende karakter van sy woorde (vgl Hebr 4:12) – en die feit dat hy sewe sterre in sy regterhand gehou het – die simbool van die leraars van die gemeentes – die uitstaande kenmerke. Jesus word dus as die handelende instrument van God in die lewe van die gemeentes sowel as die leraars geteken, een wat die reg verdien het om op te tree en wat dit met gesag en effektiwiteit doen.

Dit lei na ‘n verdere openbaring van Wie Jesus in werklikheid is:

17Toe ek Hom sien, het ek voor sy voete neergeval soos ‘n dooie, maar Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees – Ek is die Eerste en die Laaste 18en die Lewende. Ek was dood, maar kyk, Ek leef vir ewig en ewig; ook hou Ek die sleutels van die dood, en van Hades.

Hierdie visie se doel was veral om Johannes gerus te stel dat Jesus die dood oorwin het. Trouens dat Hy die sleutels van die dood en die doderyk (Hades of onderwêreld) besit en vir ewig en ewig lewe. En dat Hy nou aan almal kan bekend maak wat reeds gebeur het, nou aan die gang is en hierna gaan gebeur – verlede, hede en toekoms.

Jesus is die Eerste en die Laaste – titels wat net met God en sy Seun geassosieer word (vgl Jes 44:6; 48:12) – en die Lewende (dws die opgestane Here, soos die engele Jesus beskrywe in Luk 24:5: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies?”). Dit is drie titels wat Jesus se omvattende heerskappy en gesag van alles wat lewe beskryf. Hy het selfs die dood oorwin! Die konings van die wêreld staan nie ‘n kans nie!

En dan kom die verdere opdrag:

19Skryf dan op wat jy gesien het, wat daar is, en wat hierna gaan gebeur. 20Dit is die misterie van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en van die sewe goue kandelare: Die sewe sterre is die sewe boodskappers van die sewe gemeentes, en die sewe kandelare is die sewe gemeentes.”

Dit is hierdie Jesus wat sê in vers 7: “Kyk, Ek kom met die wolke!” Dit is die hart van sy Openbaring aan die kerk van die eeue. Soos Hy aan die einde van die boek gaan sê, hoofstuk 22 vers 20: “Ek kom gou!

Soos die boodskap deur hierdie boek vorder sal dit blyk dat die seëls van God se agenda vir die wêreld gebreek en van stapel gestuur is. Die trompette blaas. Die bakke van God se verlossende oordeel word uitgegiet. Die bruilofsfees van die Lam en sy bruid is op hande. Die nuwe hemel en aarde is byna voltooi. Jesus kom vir seker met die wolke, en elke oog sal Hom sien, selfs hulle wat Hom deurboor het; en al die volke op die aarde sal oor Hom rou.

So bid saam met die Gees en die kerk van die eeue: “Amen! Kom, Here Jesus!

Gebed

Slotlied

Lied 417:1-2 Jesus, ons eer U, opgestane Heer – staan

Seën

Amen

Lied 189 Halleluja! Halleluja! Halleluja! – staan

 

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.