Skip to main content

Kolossense 1:13-2:6 – heilig, sonder foute en onberispelik voor God

holyspiritmotion1Ons verloor baie keer perspektief op wat op die spel is in die evangelie van Jesus Christus.  Ons lê klem op die inhoud van die evangelie, op die liefde wat Hy vir ons het, op die vrede wat Hy bring, op die bevryding deur die vergifnis van sondes.

En dit is reg so, want dit is die goeie nuus wat ons deel geword het in Christus.

Maar, ons vergeet van die feit dat ons “uit die mag van die duisternis gered” is en “verplaas” is “na die koninkryk” van God se “geliefde Seun”.  Die goeie nuus het vir ons ‘n werklikheid geword midde in die duisternis van hierdie sondige wêreld.

Jesus wil ons “heilig, sonder foute en onberispelik” voor God stel.

Dit is dus waarheen ons op pad is.  Om aan die einde van die tyd in ‘n groot kosmiese skouspel, as “heiliges”, mense wat sonder foute is, mense wat onberispelik is, voor God gestel te word, sodat God Homself in ons kan verlustig, en kan sê, sien julle, daar is my mense, dié mense wat ek nou vir ewig in gemeenskap met My intrek en vir ewig met hulle sal lewe.  Hulle is my volk, en Ek is hulle God.  Ons hoort nou bymekaar vir ewig.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Aanvangslied     

Lied 163:1 Soos ‘n wildsbok

Aanvangswoord 

Wie het die reg

om in u woonplek te kom, Here?

Wie mag op u heilige berg vertoef?

Hy wat onberispelik wandel

en doen wat reg is…

(Psalm 15)

Seëngroet 

Aan die heiliges in Somerstrand, gelowige broers en susters in Christus

Genade vir julle en vrede van God, ons Vader!

(Kolossense 1:2)

Lied       

Lied 172:1 Heilig (3X) God almagtige Heer

Wet       

Ek hou die vroomheid beginsels in Psalm 15 aan julle voor as spieël waarin onsself kan herken …

Wie het die reg

om in u woonplek te kom, Here?

Wie mag op u heilige berg vertoef?

2Hy wat onberispelik wandel

en doen wat reg is,

wat met sy hele hart die waarheid praat,

3nie kwaad praat nie,

sy medemens nie kwaad aandoen nie

en niemand beledig nie;

4hy wat dié verag

wat deur God verwerp is,

maar almal eer wat die Here dien;

wat sy woord hou,

selfs tot sy eie skade,

5sy geld nie op rente uitleen nie

en hom nie laat omkoop

om die onskuldige

te kort te doen nie.

Wie hom hieraan hou,

sal nooit wankel nie.

Skuldbelydenis                  

Here

ek kan assosieer met Paulus wat sê …

Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. (Romeine 7)

Ek wil onberispelik wandel

en doen wat reg is,

ek wil met my hele hart die waarheid praat,

nie kwaad praat nie,

my medemens nie kwaad aandoen nie

en niemand beledig nie;

Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.

Ek wil  dié verag

wat deur God verwerp is,

en almal eer wat die Here dien;

Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.

Ek wil my woord hou,

selfs tot my eie skade,

en my geld nie op rente uitleen nie

en my nie laat omkoop

om die onskuldige

te kort te doen nie.

Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.

In die naam van Jesus Christus

wat vir my sonde gesterf het

pleit ek om U vergifnis…

(ahv Romeine 7 en Psalm 15)

Vryspraak

21 Ook julle was voorheen van Hom vervreem, ja, vyandiggesind teenoor Hom op grond van julle slegte dade, 22 maar nou het Hy julle deur sy liggaam met Homself versoen, sodat Hy deur sy dood julle heilig, sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel.

(Kol. 1:21-22)

Lied 491:1,5 ‘k Het Jesus lief Hy is my lig en krag

Loflied                   

Lied 184 Lofsing die Here die Ewige

Epiklese

God van vrede, U het ons Here Jesus Christus uit die dood uit opgewek. Sy dood het ons dood vernietig. Sy opstanding het vir ons die lewe gebring. Hy is ons goeie Herder. Here Jesus, laat ons oplet na u stem. Vorm ons soos U ons wil hê.  Doen dit deur ons u stem in u Woord te laat hoor.

(Uit die Basisliturgie van Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16)

Skriflesing

Die brief word gerig aan die gelowiges in Kolosse, ‘n groterige dorp geleë aan die Likusrivier in Klein-Asië, nie ver van Laodisea (4:16) en Hiërapolis af nie. Die gemeente in Kolosse is nie deur Paulus gestig nie (2:1), maar heel moontlik deur Epafras (1:7; 4:12). Hierdie omgewing is in 61 n.C. deur ‘n vernietigende aardbewing getref. Hierna het Kolosse feitlik heeltemal uit die geskiedenis verdwyn.

Paulus het deur Eprafas van die gelowiges in Kolosse se geloof en liefde gehoor, maar ook dat hulle aan dwaalleer blootgestel word. Hy skryf aan hierdie gemeente om die dwaalleer deur die ware evangelie van Jesus Christus te weerlê. Die apostel se aanslag is om aan te spoor, op te voed en te bemoedig.

Loflied aan God en die Seun

13 God het ons uit die mag van die duisternis gered  en verplaas na die koninkryk van sy geliefde Seun —  14 deur wie ons bevryding,  die vergifnis van sondes ontvang het.  15 Die Seun is die beeld van die onsigbare God,  die Eersgeborene van die hele skepping,  16 want in Hom is alles geskep:  alles in die hemel en op die aarde,  die sigbare en die onsigbare dinge,  of dit konings of heersers is,  gesagvoerders of magte;  alles is deur Hom en tot Hom geskep.  17 Hy het voor alles bestaan  en in Hom hang alles saam.  18 Hy is die hoof van sy liggaam, die kerk.  Hy is die oorsprong,  die Eersgeborene uit die dood  sodat Hy in alles die eerste plek kon inneem,  19 want dit het God behaag om met sy volle wese in Hom te woon  20 en deur Hom alles met Hom te versoen  deur vrede te bring deur sy bloed aan die kruis,  ja, alles op aarde en in die hemel.

Julle is met God versoen

21 Ook julle was voorheen van Hom vervreem, ja, vyandiggesind teenoor Hom op grond van julle slegte dade, 22 maar nou het Hy julle deur sy liggaam met Homself versoen, sodat Hy deur sy dood julle heilig, sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel. 23 Maar dan moet julle in die geloof bly, gegrondves en onwrikbaar, en nie losgeruk word van die hoop wat die evangelie bring nie. Dit is die evangelie wat julle gehoor het en wat in die hele skepping onder die hemel verkondig is en waarvan ek, Paulus, ‘n dienaar geword het.

Die misterie is bekend

24 Nou is ek bly oor die lyding wat ek om julle onthalwe verduur. Ja, met my liggaam vul ek die oorblywende deel van Christus se verdrukking aan, tot voordeel van sý liggaam, die kerk. 25 Van dié kerk het ek ‘n dienaar geword toe God die bedieningstaak aan my toevertrou het om in julle belang die woord van God volledig bekend te maak. 26 Die misterie wat vir eeue en geslagte lank verborge was, is nou aan sy heiliges bekend gemaak. 27 God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe ryk die heerlikheid van hierdie misterie vir alle nasies is: Christus is in julle, Hy is die hoop op die heerlikheid. 28 Hom verkondig ons terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, sodat ons elke mens tot volmaaktheid in Christus kan bring. 29 Daarvoor span ek my ook in, terwyl ek die worstelstryd voer deur sy krag wat met mag in my werk.

2:1 Ek wil hê julle moet weet hoe ‘n groot stryd ek het —vir julle, vir diegene in Laodisea en vir diegene wat my nog nie persoonlik ontmoet het nie. 2 Dit is my doel dat hulle harte, deur liefde verenig, bemoedig mag word en dat hulle kan kom tot die volle rykdom van allesomvattende insig, ja, tot die kennis van die misterie van God, naamlik Christus, 3 in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is. 4 Dit sê ek sodat niemand julle met slinkse argumente om die bos sal lei nie. 5 Al is ek wel nie liggaamlik teenwoordig nie, is ek in die gees by julle en baie bly om te sien hoe ordelik julle optree en hoe vas julle geloof in Christus is.

Prediking

1.  “God het ons uit die mag van die duisternis gered en verplaas na die koninkryk van sy geliefde Seun – deur wie ons die bevryding, die vergifnis van sondes ontvang het.(1:13)

Ons verloor baie keer perspektief op wat op die spel is in die evangelie van Jesus Christus.  Ons lê klem op die inhoud van die evangelie, op die liefde wat Hy vir ons het, op die vrede wat Hy bring, op die bevryding deur die vergifnis van sondes.

En dit is reg so, want dit is die goeie nuus wat ons deel geword het in Christus.

Maar, ons vergeet van die feit dat ons “uit die mag van die duisternis gered” is en “verplaas” is “na die koninkryk” van God se “geliefde Seun”.  Die goeie nuus het vir ons ‘n werklikheid geword midde in die duisternis van hierdie sondige wêreld.

Dit is waaroor Paulus skryf in die eerste deel van hierdie hoofstuk.  Hy onderstreep sy blydskap oor die feit dat die gelowiges in Kolosse glo in die Here Jesus Christus, dat hulle lief is vir al die ander heiliges, dat hulle groei in die genade deur die waarheid wat aan hulle verkondig is, na te streef.

Maar hy is ook helder daaroor dat hulle geloof, liefde en groei nie beteken dat hulle nie steeds blootgestel is aan die suigkrag van die duisternis waaruit hulle geruk is nie.

Dit is waarom Paulus bid vir hulle sodat hulle nie net vervul sal word met die volle kennis van God se wil deur die wysheid en insig wat die Gees gee nie, maar dat hulle tot eer van die Here sal lewe en Hom in alles tevrede sal stel deur goeie werke.

Hulle het immers deel aan die “heiliges” se erfdeel wat in die lig is, soos hy in vers 12 skrywe.  Hulle is bevry van die duisternis.  Hulle het die vergifnis van sondes ontvang.  Hulle kan dus nie op enige manier nog deel hê aan die duisternis nie.  Hulle kan nie voortgaan met ‘n lewe in sonde soos dit in die verlede was nie.  Hulle moet lewe in die lig soos dit heiliges betaam.  En let op, Paulus praat van die gelowiges in Kolosse as “heiliges” – hagios.  Dit is sy voorkeur woord wat hy vir hulle as Christene gebruik.  Hy span dié woord vyf keer in die eerste hoofstuk in.

Hoekom?  Want dit is die hele punt van die bevryding uit die duisternis.

2.  “Sodat Hy deur sy dood julle heilig, sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel. (1:22)

Jesus, die Eersgeborene van die hele skepping (1:15-17), die Eersgeborene vanuit die dood (1:18-20) – d.w.s. van die herskepping – wil alles met God versoen, wil vrede bring tussen God en mens, sodat alles op aarde en in die hemel met God versoen kan lewe.  Hy wil deur sy kruisdood ons só fundamenteel verander dat ons “heilig, sonder foute en onberispelik” voor God gestel kan word.

Die eersgeborene in die Skrif verwys normaalweg na die “eerste” of “oudste” kind (Luk. 2:7). Eersgeborenes was aan die HERE gewy (Eks. 13:2). Hulle is lewenslank opsy gesit vir die diens aan die Here.

Deur Jesus nou as die Eersgeborene van beide die skepping as die herskepping te beskryf, sê Paulus dat Jesus op ‘n unieke wyse gekwalifiseer is om mense met God te versoen.  Sy hele bestaan en bediening draai om hierdie versoeningswerk.  Van die begin van alles af.  Van die begin van die kerk af.  Dit is waarvoor Hy opsy gesit is.  Dit is wat sy diens aan die Here behels. Hy wil ons “heilig, sonder foute en onberispelik” voor God stel.

Dit is dus waarheen ons op pad is.  Om aan die einde van die tyd in ‘n groot kosmiese skouspel, as “heiliges”, mense wat sonder foute is, mense wat onberispelik is, voor God gestel te word, sodat God Homself in ons kan verlustig, en kan sê, sien julle, daar is my mense, dié mense wat ek nou vir ewig in gemeenskap met My intrek en vir ewig met hulle sal lewe.  Hulle is my volk, en Ek is hulle God.  Ons hoort nou bymekaar vir ewig.

In Hebreërs 12:23 word Christene interessant genoeg “‘n gemeente van eersgeborenes” genoem om hulle besondere posisie nou al as die nuwe volk van God aan te dui.  Jesus se werk as Eersgeborene verander ons almal sodat ons ook eersgeborenes kan wees, ‘n gemeente van eersgeborenes, ‘n gemeente wat afgesonder is vir die Here, wat “heiliges” is, nou en vir altyd.

3.  “Maar dan moet julle in die geloof bly, gegrondves en onwrikbaar. (1:23)

Die lewe in geloof word altyd geleef midde in die suigkrag van die duisternis wat ons omring.  Ons hou vas aan die goeie nuus midde in die slegte nuus van die slegte dade van die mense rondom ons.  Ons leef as heiliges midde in ‘n wêreld waar onheiligheid die norm is.  Ons leef as heiliges wat so deurskynend raak dat God se heiligheid in ons sigbaar raak.

En dit bring ons altyd in konflik met die onheiliges wat die slegte dade van die duisternis in en om hulle sigbaar maak.

Dit is waarom Paulus sóveel klem lê op sy bediening “om in julle belang die woord van God volledig bekend te maak.” (1:25).  Want, dit is die essensie van die misterie van God wat vir eeue verborge was vir die mense, maar nou aan die “heiliges” bekend gemaak is.  Dit is: “Christus is in julle, Hy is die hoop op die heerlikheid.” (1:27).

Alles wat Paulus in sy briewe in die NT skrywe, alles wat Markus, Matteus, Lukas en Johannes in die evangelies skrywe, alles wat Petrus, Jakobus, en Judas in hulle briewe skrywe, ook dít wat Johannes in sy Openbaring skrywe, is gemik op hierdie misterie.  Christus is in julle.  Hy is die hoop op die heerlikheid wat vir ons wag.

Want dít is die geheimenis: Christus is IN julle. Die Een wat op so ‘n integrale manier by die Skepping en Herskepping betrokke was, is IN ons besig om God se werk te voltooi.  En dit is ‘n boodskap wat vir alle mense is, en wat alle mense moet hoor.

Maar, dan moet julle in die geloof bly, sê Paulus.  Dan moet julle in Hom gegrondves bly.  Dan moet julle onwrikbaar in die waarheid van die Here Jesus Christus leef.  Volgens die woord wat die apostels in die NT vir ons deurgegee het.

Niks mag ons verhinder om dié waarheid te gehoorsaam nie. Niks. Want, in die woorde van die NT, in die woorde van die Bybel, hoor ons die stem van God self soos die Gees dit in ons harte getuig.  En daardie woord moet ons gehoorsaam.  Niks minder nie.  Niks meer nie.

4.  “Dit sê ek sodat niemand julle met slinkse argumente om die bos sal lei nie. (2:4)

Dit is die ongemaklike waarheid.  Die konflik met die duisternis is altyd ook in onsself.  Dit kom ook van binne die gemeenskap van gelowiges af, mense wat nie hou by die gesonde leer in die woord van God nie, en ook nie hou by die wonderlike misterie van die inwonende Christus nie.

Dit is duidelik in al Paulus se briewe dat die evangelie van die begin af bestry is deur die dwaalleringe wat binne die gemeenskap van die heiliges ontstaan het en die gelowiges van die spoor af wou bring.

Daarom gee Paulus in die res van die brief aan die Kolosse ernstige aandag aan die dwaalleringe wat in Kolosse aan die orde van die dag was, en wat die “heiliges” van hulle gesonde geloof kon beroof, hulle verbintenis aan Christus sou verswak, en hulle heiligheid en geestelike volwassenheid sou bedreig.

‘n Mens wil amper vra, wat is nuus?!  Want, dít is regdeur die eeue die uitdaging vir die evangelie.  Die goeie nuus kom in stryd met die slegte nuus van ons wêreldbeskouings, die suigkrag van ons samelewing wat nie meer rekening hou met wat in God se Woord vir ons eties en geestelik uitgespel word nie, ook en veral met dié beskouings wat deur die samelewing as normaal aanvaar word, maar nie in lyn is met wat God wil nie.

Vir die mense van Kolosse het dit drie dinge behels.

  • Sommige het harmonie gesoek met bepaalde kosmiese elemente as deel van die verlossing in Christus. Hierdie elemente is as hemelse wesens beskou wat ‘n invloed op ‘n mens se lewe uitgeoefen het (2:16-23). Hulle wou dus die heidense gebruike rondom die magte in stand hou, want hulle was bang dat die magte steeds hulle lewens sal beheer en beduiwel.  Hulle het geweet God is daar, maar het gereken, net miskien help dié ander magte hulle om ‘n beter lewe hier te kan lewe. Maar, daarmee het hulle aan die suigkrag van die duisternis toegegee en het hulle die krag van die evangelie in hulle lewe ontkrag.
  • Sommige het klem gelê op die viering van bepaalde feeste soos die Nuwemaan en die Sabbat (2:16), waarskynlik in navolging van die Joodse godsdienstige gebruike.  Hulle wou aan die een kant seker nie die Jode ontstel nie, maar aan die ander kant ook nie die voordeel van ‘n Joodse lewenswyse ontbeer nie, want miskien, net miskien, help dit hulle om in ‘n beter verhouding met God te kom.  Maar, daarmee het hulle eweneens aan die suigkrag van die duisternis toegegee en het hulle die krag van die evangelie in hulle lewe ontkrag.
  • Nog ander het sekere asketiese dieet gebruike nagekom wat waarskynlik met kos en drank te make gehad het: “Moenie daaraan vat of proe of raak nie.” (2:20-21).   Daarmee het hulle probeer om ‘n heilige lewe te lei op hulle eie terme waarmee hulle hulle liggame in lyn probeer bring het met die tipe dieet wat hulle gedink het ‘n nougesette lewe van hulle vra, al was dit onkundig en net op menslike voorskrifte gebaseer, nie op die Goddelike voorskrifte uit die Bybel nie. Maar, daarmee het hulle eweneens aan die suigkrag van die duisternis toegegee en het hulle die krag van die evangelie in hulle lewe ontkrag.

Paulus verduidelik daarom aan hulle dat al hierdie dwaalleringe – die heidense gebruike, die Joodse godsdienstige gebruike, en die asketiese dieet gebruike – die volstrekte heerskappy van Christus en die genoegsaamheid van sy verlossing in die gedrang bring.

  • Die son, maan en sterre is nie hemelse wesens nie, sê Paulus.  Jy hoef nie vir hulle bang te wees nie.  Christus is bo almal die Eersgeborene van die hele skepping.    Hy is ook die Eersgeborene van die herskepping.  Jy mag jou dus nie steur aan heidense gebruike nie.
  • Die Joodse feeste en die Sabbat is nie meer op julle van toepassing nie.  Dit was net skaduwees van die wonderlike heerlikheid van Christus se teenwoordigheid.  Jy hoef nie die feeste te hou om God se guns te verwerf nie.  Jy mag jou dus nie steur aan Joodse gebruike nie.
  • Die weerhouding van kos en drank kan ‘n mens nie heiliger maak nie, sê Paulus.  Christus is die enigste een wat heilig maak, want heiligheid het met God se natuur te make wat in ons pos vat en ons van binne af transformeer.  Jy mag jou dus nie steur aan dieet gebruike nie.

Die punt is, wie in verbondenheid met Christus leef, is volkóme verlos van die magte, ís in sy heerlike teenwoordigheid, en déél in al die volheid van God wat ons heilig maak en van ons sondes verlos.

5.  “Aangesien julle dus Christus Jesus die Here aangeneem het, bly in Hom leef. (2:6)

Ek gaan volgende week meer aandag hieraan gee, maar wil met dié opdrag sluit en vandag se boodskap omklink.

Ons het miskien nie vandag meer op presies dieselfde wyse as die mense van Kolosse te make met die uitdaging van heidense gebruike, Joodse godsdienstige gebruike en asketiese dieet gebruike nie.

  • Wat in ons tyd ‘n uitdaging is, is nie dat die sterre, son en maan soseer as magte gesien word nie, maar dat die heelal as ‘n geslote wêreld gesien word waarin ook God nie meer as ‘n faktor in berekening gebring word nie.
    • Die suigkrag van die ateïsme en sy nog gevaarliker boetie, die agnostisisme, moet nie onderskat word nie.  Elke keer wat jy die TV aansit, ‘n fliek gaan kyk, ‘n koerant of tydskrif lees, word jy daarmee gekonfronteer.  God bestaan nie.  En as Hy bestaan, het Hy min uit te waai met wat ons doen en hoe ons leef.  En laat ons eerlik wees, dit is ook nie net die media nie.  Dit is ook mense uit ons eie geledere wat die geloof verlaat het, maar nog kommentaar lewer op die geloof, soos ons by van ons teoloë en ander geleerdes sien.
    • Ek het gister geluister na die aanbieding van “Uit ‘n ander hoek” op RSG na die wyse waarop prof. Willie Esterhuyse en prof. Lina Spies oor geloof en spiritualiteit gesels, en net weer agter gekom hoe ver ‘n mens kan afdwaal.
    • Prof. Willie beskryf homself as ‘n christelike humanis waarin moraliteit sy spiritualiteit vervang het.  Dit gaan oor hoe ons hier lewe, nie oor wat God vir ons te sê het nie.  Die Bybel is nog sy heilige teks, maar nie om in leer en lewe deur God aangespreek te word nie, maar om daarin te leer wat ‘n morele lewe is.
    • Prof Lina kan glad nie meer oor die hiernamaals praat nie, net oor die hiermaals, want dit is al wat ons het, hierdie lewe.  Die hele idee dat God ons geroep het om as heiliges sy komende koninkryk te beërwe is doodgewoon nie meer deel van haar verwysingsraamwerk nie.
    • Albei kom sterk in opstand teen die leer van die kerk.  Dit is net die lewe wat van belang is, en dit, net soos hulle dit definieer.  Geen spreke van God meer.
    • God is nie meer Gees met ‘n hoofletter vir Lina nie.  Daar is net ‘n gees met ‘n kleinletter wat Lina nog inspireer in haar digwerk.  God is nie meer ‘n faktor vir hulle nie, en die suigkrag van dié idees moenie onderskat word nie, ook nie in jou lewe nie.
  • Wat in ons tyd ‘n uitdaging is, is nie dat die Joodse godsdienstige gebruike soseer aangegryp word as ‘n manier van lewe nie, of asketiese dieet riglyne aangegryp word as ‘n manier om te lewe nie, maar dat ons in ‘n samelewing leef wat enige etiese riglyne uit die Skrif oorboord gooi.  Die suigkrag van die hedendaagse hedonisme, waarin ons doodgewoon ons eie etiek bepaal, waar hoe ons voel en hoe ons dink, belangriker is as objektiewe etiese riglyne in die Skrif, dít moet nie onderskat word nie.  Weereens is dit die prentjie wat vir ons in die media geskets word.  En ons kan begin dink dat dit normaal is, dat wat aan ons oorgelewer is in Skrif en die Christelike belydenisse, outyds en negeerbaar is.  Seks het bv. vir ons uit die veilige ruimte van die huwelik geskuif na iets wat in enige verhouding kan gebeur, solank dit net met instemming is, en nie doelbewus iemand anders benadeel nie. En dit is ook nie net die media wat ons hieraan blootstel nie.  Dit is ook mense uit ons eie geledere, soos ‘n teoloog wat onlangs op Facebook verklaar het dat voorhuwelikse seks, buitehuwelikse seks en prostitusie nie noodwendig verkeerd is nie, maar afhang van die situasie waarin dit gebeur.  Die Skrif het daar duidelik nie meer enige etiese woord te spreek nie.

Ons sal sterk moet staan in ons oortuiging dat God bestaan en ‘n beloner is van dié wat Hom soek.  Ons sal sterk moet staan in ons oortuiging dat die Skrif deur God gegee is vir ons en dat sy volle wil helder en genoegsaam daarin vervat is.

Anders sal ons dit nie meer regkry om te lewe as “heiliges” nie.  Dan sal ons nie meer kan lewe as mense wat deur die waarheid van die “Christus in ons” begelei word nie, want ons sal oor sy teenwoordigheid in ons lewe twyfel.  Dan sal ons nie meer kan lewe van elke woord wat uit die mond van God kom nie, want ons sal nie meer onbevange na die Woord van God in die Bybel kan luister nie.  Dan sal ons nie meer met ons kan uitsien na die dag wat ons “heilig, sonder foute en onberispelik voor Hom” gestel sal word nie.

En ons het mekaar daarin nodig.

  • LuisterBuitebladDié kwartaal kan jy jou in jou stiltetyd verdiep in die vier teksgedeeltes vir elke week aan die hand van my verklarings wat vir jou gerief in ‘n boekie saamgestel is.  Kry die drukstuk of laai dit van die web af (https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2016/07/Stiltetyd-derde-kwartaal-2016.pdf).  Ons deel ook Dinsdae in ons preekwerkgroep wat ons by die Here hoor in voorbereiding vir die Sondag se erediens.
  • Reisgenote-voorbladJy kan deel word van die Reisgenote in die geloof proses waarin ons oor die volgende drie maande ons verdiep in een van drie geloofsgewoontes: die daaglikse ondersoek, die geestelike lees van die Bybel en die beoefening van die teenwoordigheid van God.  Laai die materiaal af by die webtuiste wat spesifiek daarvoor geskep is (http://reisgenote.co.za/wp-content/uploads/2016/07/Reisgenote.pdf).
  • VoorbladEn jy kan die Ontdek jou gawes kursus bywoon waarin jy oor ‘n tydperk van ses weke jou genadegawes kan ontdek en begin ontwikkel.

Skryf by die kerkkantoor in vir enige van dié twee kursusse of laai net die materiaal af vir jou eie gebruik.  Inligting is in ons aankondigings.  Dit is nou benewens al die ander hulpmiddels in ons gemeente en die ruimtes wat vir groei en getuienis in ons kleingroepe en diensgroepe beskikbaar is.

God het ons uit die mag van die duisternis gered en verplaas na die koninkryk van sy geliefde Seun – Aangesien julle dus Christus Jesus die Here aangeneem het, bly in Hom leef.

Amen

Gebed

Offergawes

Wegsending

177 Jesus gróót bo almal (Herhaal)

Seën

Die Here is voor jou om die pad gelyk te maak.

Die Here is langs jou om jou in sy arms toe te vou.

Die Here is agter jou om die aanvalle van die Bose af te slaan.

Die Here is onder jou om jou te dra as jy mag val.

Die Here is rondom jou om jou te beskerm.

Die Here is bokant jou om jou te seen.

Die Here is in jou om jou te lei met sy Heilige Gees.

Die drie-enige God is by jou, van nou af tot in ewigheid.

Amen.

(‘n ou Ierse seën)

Antwoord

Lied 314

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.