Skip to main content

Memory full – Hoe kom ek by alles uit? – Matt. 11:25-30

Geheue

Ons praat geheue vanaand, meer spesifiek daardie gevoel wat ’n mens soms het, “ek kan nie meer nie”.  My kop wil bars.  Ek kry sommer so ’n lam gevoel as ek na my dagboek kyk.  My “to-do” lysie raak al hoe langer en kortpaaie help net nie meer nie.  Daar is soveel boeke wat ek nog wil lees, flieks wat ek wil kyk, plekke waar ek wil uitkom.  Maar, die e-posse in my Inbox raak net nie minder nie.  En ek kan nie byhou by al die bydraes van my meer as 600 vriende op Facebook, 450 op LinkedIN, 274 op Twitter …  Hoe kom ek by alles uit?!

Rekenaar

Dit is soos my eerste rekenaar.  Ek onthou dat die hardeskyf van my eerste rekenaar 20 MB was – ja, jy het reg gehoor, 20 MB!  Jy kan nie glo hoe vinnig 20 MB vol raak nie!  Ek het R1 500 betaal om dit op te gradeer met nog ’n hardeskyf van 20 MB, ’n Seagate.

Toe het ek 40 MB!  Nie GB of TB nie, MB!  Maar, dit raak ook vinnig vol!

My Desktop het vandag 50 000 keer meer hardeskyf spasie, een TB. Die interessante is dat die een TB hardeskyf se dimensies kleiner is as die 20 MB hardeskyf s’n, maar dat die kapasiteit veel groter is.

En een TB kapasiteit is eintlik ook al klein vir wat op die mark is.  Daar is al ses TB hardeskywe beskikbaar.  Trouens, daar is al een TB flash drives … amazing!

Maar, of jy nou 20 MB of een TB of ses TB spasie het – dit raak eintlik ook verbasend gou vol.  Dan moet jy óf opgradeer óf die vermoeiende taak aanpak om meer spasie te kry deur van jou foto’s en dokumente op ’n ander plek te stoor of uit te wis, praat nie eers van al die musiek en die video’s nie.

Breine

Wat my laat wonder, hoe groot is die mens se geheue?  Al ooit daaroor gewonder?  Wel, wetenskaplikes dink daar is waarskynlik ’n fisiese limiet aan ons geheue, maar ons breine se vermoë is eintlik so ontsagwekkend, so ontsettend groot, dat ons nie bekommerd hoef te wees dat ons uit spasie sal hardloop in ons kop nie.

Hoekom?  Wel, Douglas Smith – professor in neurochirurgie en die direkteur van die Center for Brain Injury and Repair by die Universiteit van Pennsylvania – sê die brein bestaan uit omtrent een biljoen neurone.  Elke neuron vorm op sy beurt omtrent ’n 1 000 verbindinge met ander neurone wat beteken dat ons meer as ’n triljoen verbindings in ons kop het, ’n 1 000 biljoen konneksies.

Maar, nou vir die interessante: as elke neuron ’n gedagte gehuisves het, sou jy uiteindelik uit spasie gehardloop het, hoewel dit darem so ’n hele paar GB spasie sou wees.  Neurone werk egter in kombinasie met mekaar wat jou geheue eksponensieel vergroot.  Sommige bereken dat jou brein een miljoen GB se gedagtes kan stoor, of te wel 2.5 Petabyte.  As jou brein gedagtes soos ’n digitale videokamera sou stoor, sou jy 3 miljoen uur se TV of flieks kon opneem en stoor.  Om die waarheid te sê, jy sou meer as 300 jaar moes lewe voordat jy moes begin skoonmaak om iets nuuts op te neem.

So, kan jou geheue vol raak?  Ek dink nie so nie …

Dit bewys die mense wat hulle toelê daarop om goed te onthou.

Nelson Dellis – VSA geheue kampioen 2011 tot 2012

Nelson Dellis is die VSA geheue kampioen van 2011-2012.  Hy het 313 syfers in die regte volgorde gememoriseer, sowel as 104 kaarte in die regte volgorde.  Briljant!  Maar, hy sê dat dit nie is dat hy so slim is nie, maar dat hy doelbewus sy  bewussyn geoefen het om syfers en volgordes te kan onthou.  Hy gebruik spesifieke tegnieke en dit maak sy geheue so besonders.

Vgl http://www.fusionio.com/blog/upgrade-your-memory-with-nelson-dellis-us-memory-champion

Boris Nikolai Konrad – Wêreldkampioen in 2009

Nog beter.  Boris Nikolai Konrad is die wêreldkampioen van 2009.  Hy het daardie jaar 280 woorde en 195 name en gesigte in net 15 minute gememoriseer en toe weer foutloos weergegee!  Hy is ook die houer van ’n paar Guinness Boek wêreldrekords onder andere deurdat hy 21 name en geboortedatums binne twee minute gememoriseer en toe weer foutloos weergegee het.

Hy is egter ook nie net slim nie, hoewel hy darem die Mensa toets geslaag het, net-net.  Sy geheim is dat hy sy geheue oefen, d.w.s. doelbewus sy bewussyn vir woorde en name oefen, al sedert 2002.  Hy gebruik veral visuele tegnieke, soos bv. om al die plekke in sy huis in ’n visuele prentjie saam te voeg en te memoriseer.  Deur dan name of getalle met die plekke in sy huis te assosieer, kan hy die name en getalle herroep deur die plekke te visualiseer.  Elke getal het dan ’n spesifieke plek in die prentjie, soos ook elke naam.  Geen wonder hy is vandag ’n neurowetenskaplike wat op geheue en memorisering spesialiseer nie!

http://www.psychologytoday.com/blog/beautiful-minds/201207/interview-world-memory-champion-boris-nikolai-konrad

Hoekom voel ons geheue asof dit vol is?

Ons geheue is dus ontsagwekkend groot.  Dit kan nie vol raak nie, al dink jy so.  Jy kan maar die moeite doen om jou in te span om te leer.  Jy het ’n goeie kans op sukses as jy jou daarop toelê.

Maar, hoekom het ons dan die ervaring dat ons geheue vol raak?  Hoekom voel dit dan asof ons nie by alles uit kan kom nie?

Wel, die ervaring dat ons geheue vol raak, het met twee goed te make – rus en fokus.

  1. Ons gevoel van gejaagdheid en ’n te vol lewe het in die eerste plek met ons behoefte aan rus te make. Ons het nodig om af te skakel, om tot rus te kom.  Jou brein het nodig om af te skakel.  Wanneer jy genoeg slaap, verbeter jou geheue, interessant genoeg!
  2. Ons het ook nodig om te fokus, sodat alles wat ons ervaar in ’n sinvolle geheel saamgesnoer kan word.  Ons gevoel dat dinge vir ons te veel raak, het baie keer net eenvoudig te make daarmee dat ons nie genoeg fokus op dít wat eintlik belangrik is nie.  Soos John Ackerman sê, “What is wildly important?” En as jy dít weet, kan jy jou lewe daar rondom organiseer.  Dit help jou om dié dinge te behou wat noodsaaklik en lewensbelangrik is … en dié dinge te laat gaan wat net jou lewe en jou geheue vol maak.

En nou kom ons by wat die Here vir ons rondom dié twee dinge wil sê, rondom rus en rondom fokus.  Jesus het albei hierdie dinge aangespreek in die teks wat ons gaan lees, Matt. 11:25-30:

Die uitnodiging van Jesus

25Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. 26Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.

27“My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.

28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”

Kom ons lees dit ook in die Message, dit is so mooi!

Abruptly Jesus broke into prayer: “Thank you, Father, Lord of heaven and earth. You’ve concealed your ways from sophisticates and know-it-alls, but spelled them out clearly to ordinary people. Yes, Father, that’s the way you like to work.”

Jesus resumed talking to the people, but now tenderly. “The Father has given me all these things to do and say. This is a unique Father-Son operation, coming out of Father and Son intimacies and knowledge. No one knows the Son the way the Father does, nor the Father the way the Son does. But I’m not keeping it to myself; I’m ready to go over it line by line with anyone willing to listen.

“Are you tired? Worn out? Burned out on religion? Come to me. Get away with me and you’ll recover your life. I’ll show you how to take a real rest. Walk with me and work with me—watch how I do it. Learn the unforced rhythms of grace. I won’t lay anything heavy or ill-fitting on you. Keep company with me and you’ll learn to live freely and lightly.”

Dit is so interessant dat die Here Jesus dié deel van sy lering begin deur ons gerus te stel dat ons nie slim hoef te wees om met Hom ’n pad te loop nie. Trouens, Hy sê dat God die diep geestelike waarhede vir die slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het.  En Jesus wyt dit aan God se genadige bedoeling.  Dit is die manier waarop Hy sy genade aan mense uitdeel, vir dié wat dit nodig het, vir dié wat nie op hulle eie kragte staatmaak nie, maar op Hom wat hulle bemagtig.

Al wat nodig is, is dat jy by die Here Jesus uitkom, want God het alles aan Hom toevertrou.  Daar is net een manier waarop jy die rus en fokus in jou lewe sal kan ontdek en dit is by die Here Jesus Christus.

Trouens, Hy het reeds die eerste tree na jou toe gegee.  Hy nooi jou uit.  Hy wil God se genade vir jou gee.  Hy vra dat jy die volgende tree na Hom toe sal gee.

En wat sal dan gebeur?

RUS

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is en Ek sal julle rus gee.”  Wanneer jou memory vol voel en jy voel jy kom nie meer by alles uit nie, jy kan nie meer nie … Kom na My toe en Ek sal julle rus gee.  Almal wat uitgeput is en wat voel hulle is oorlaai … Ek sal julle rus gee.

FOKUS

Maar, saam met die rus, gee die Here ook die allerbelangrike volgende ding vir jou.  Hy gee vir jou ’n fokus sodat jou lewe kan begin sin maak.  “Neem my juk op julle en leer van My.”   Dan sal jy rus kry vir jou gemoed, sal jou binneste tot bedaring kom, sal jou lewe begin sin maak, sal jy die vermoë ontwikkel om die kaf van die koring te skei in jou lewe.

Interessant dat die Here Jesus Homself as sagmoedig en nederig van hart beskryf, want dit is natuurlik presies wat Hy vir jou wil gee.  Hy bring die dinge wat jou dryf, die dinge wat jou jaag, tor rus en gee jou innerlike kalmte, vry van aggressie en ambisie, gefokus op God en die diens aan jou naaste.

“My juk is sag en my las is lig.”  Daarmee sê die Here Jesus nie dat alle ongemak uit jou lewe sal verdwyn nie, maar dat jy sy hand daarin sal herken.  Daarmee sê Hy nie dat jy nie jouself steeds sal moet inspan om die dinge te doen wat Hy op jou tafel plaas nie. Maar, Hy belowe dat jy dit sal kan dra, dat jou vermoë en jou verantwoordelikheid by mekaar sal pas.

Jesus belowe dus hier rus en fokus, dié dinge wat jy nodig het om nie net te kan oorleef nie, maar met grasie en vreugde te leef.

Hoe skep ons ruimte hiervoor in ons lewe?

Kom ons raak prakties.  Daar is vele maniere waarop ’n mens rus en fokus in jou lewe kan inbou.  Twee maniere wat vir my werk, is die gebed van die hart en om ’n joernaal te hou.  Dit is twee eenvoudige geloofsgewoontes en kan in 5-15 minute jou lewe verander.

Ek wil jou uitdaag om een van hierdie geloofsgewoontes te kies en vir ’n 100 dae te beoefen, 4 of 5 keer ’n week, 5-15 minute op ’n slag en die uitwerking in jou lewe te beproef.  Ek het ’n kursus uitgewerk waarmee ek mense in die gemeente gaan begelei.  As van julle belangstel, kan ek miskien ook só ’n groep onder die studente begin.

Gebed van die hart

Die gebed van die hart – centering prayer of breath prayer– help jou om voor God tot rus te kom.  Dit help jou om al hoe meer “sonder ophou te bid” (1 Tess. 5:17).  Dit help veral om nie net op die inhoud (verwagtings, versoeke) van jou verhouding met God te fokus nie, maar om regtig in gemeenskap met Hom te kom.    Só kan jy in gemeenskap met God bly regdeur jou lewe.

Die gebed van die hart behels meesal die herhaling van ’n eenvoudige een-sin gebed – baie keer ’n sin of frase uit die Bybel – wat jou behoefte aan God uitdruk en jou help om op Hom te fokus.  Jy kan jou eie teksvers kies om in jou gebed van die hart te gebruik (Ps. 37:4-5 of Matt. 11:28 wat ons so pas gelees het bv.).

Die gebed wat egter tradisioneel die meeste gebruik word, is die Jesus gebed: “Here Jesus Christus, Seun van God …  wees my genadig, ’n sondaar.”  Die eerste frase word baie keer gebid terwyl jy inasem.  Die tweede frase word dan gebid terwyl jy uitasem.

Hier is ʼn paar voorstelle om jou gedagtes te prikkel:

  • Kies ’n tyd van die dag wat vir jou die beste sal werk.  ’n Kwartier is ’n goeie tyd om mee te begin.
  • Kies ’n plek waar jy nie onderbreek sal word deur telefone of jou huismense nie.
  • Gebruik simboliek om jou te herinner dat dit ’n spesiale tyd met die Here is.  Steek bv. ’n kers aan of hang vir jou ’n mooi skildery.
  • Stel miskien ’n wekker vir die tyd wat jy gaan besig wees – bv. ’n kwartier – sodat jy glad nie op die tyd hoef te fokus nie.
  • Sit gemaklik met jou voete plat op die grond, jou knieë nie hoër as jou heupe nie en laat rus jou hande gemaklik in jou skoot.
  • Raak bewus van watter gevoelens daar in jou hart is. Erken dit. Gee dit aan die Here (draai simbolies jou handpalms onder toe) sodat jy volledig dáár kan wees.
  • Kyk na jouself deur die oë van God (draai simbolies jou handpalms na bo). Dink daaroor dat God bly is oor jou. Geniet die ervaring van God se rus en vrede.
  • Bid dan die Jesus gebed.  Bid: “Here Jesus Christus, Seun van God,” terwyl jy inasem.  Bid: “Wees my genadig, ’n sondaar,”  terwyl jy uitasem.
  • Hou daarmee vol tot aan die einde van die tyd wat jy daarvoor afstaan.
  • Gedagtes sal opkom by jou wat jou aandag wil wegneem van jou gefokusde gebed. Hou net aan met die Jesus gebed.  Dit sal help om dié indringer gedagtes te laat vervaag.
  • Baie spesifieke gedagtes oor iemand of ‘n saak sal ook soms opkom by jou, veral later in jou gebed, waarvan jy sal besef dat dit belangriker is as die indringer gedagtes. Gee dit vir die Here terwyl jy steeds aanhou met die Jesus gebed.  Skryf dit na die gebedstyd neer en hanteer dit verder.  Jy kan of verder daaroor bid, of kontak maak met die persoon, of beplan hoe jy gaan optree.
  • In jou gebed sal jy tye van eenheid met die Here beleef — ‘n diep vrede en tevredenheid; ‘n ervaring van veiligheid en rus, presies waarvan Jesus in Matt. 11 praat; ‘n gevoel van liefde en eenheid met God in sy teenwoordigheid — wat met tyd langer en intenser sal word. Dit is die doel van die Jesus gebed wat jou al hoe meer in sy teenwoordigheid sal intrek.
  • Jy kan die gebed ook aanvul deur vir ander mense of ’n saak wat die Here op jou hart lê te bid.  Bid eers dat die Here jou lei wat om te bid.  Formuleer dit in een-sin wat jy as die gebed van die hart kan bid.  Maak dié gebed dan jou eie deur dit te gebruik op dieselfde wyse as die Jesus gebed.

Joernaal

Om ‘n Joernaal te hou, is ‘n manier om gefokusde aandag te gee aan die dinge wat gebeur in jou lewe.  Hierdie geloofsgewoonte help jou om bewustelik en sistematies te reflekteer oor jou verhouding met die Here.  Soos Psalm 16:8 sê: “Ek hou die Here altyd voor oë.”  Die tipe nadenke help jou veral om God se teenwoordigheid en betrokkenheid in jou lewe te begin raaksien.  Benewens die feit dat die neerskryf van jou ervarings jou help om dit te verwoord, vorm dit mettertyd ‘n skriftelike rekord van jou verhouding met God.

‘n Joernaal kan daagliks of weekliks gehou word.  Dit is baie persoonlik en moet aanpas by jou lewensfase of manier van werk.  Soos Adele Calhoun sê: “Journaling is a way for you to be with God and your thoughts, not an exercise in language arts.”  Daarom moet jy dit ook so eerlik as moontlik doen, sodat jy God se pad met jou kan raaksien.  In die periodieke nadenke en refleksie oor wat jy geskryf het, kom jy herhalende temas in jou lewe agter wat jou sal help om jou behoeftes, frustrasies en verwagtinge in lyn met God se doel en wil vir jou lewe te bring (Fil. 4:4-9).

‘n Joernaal is ook veral waardevol wanneer jy deur tye van verandering gaan en dit jou kan help om rigting binne jou veranderende omstandighede te vind.  God is immers betrokke in alles wat met jou gebeur, ook in tye van verandering.  ‘n Joernaal help jou om veral die herhalende patrone en rigting van God se werk in jou lewe raak te sien.

‘n Joernaal kan baie verskillende vorme aanneem.  Hier is ‘n paar idees:

  • Begin deur net jou ervarings daagliks of weekliks neer te skryf.
  • As daar artikels is wat ‘n betekenisvolle impak op jou verhouding met God gehad het, oorweeg om dit te versamel en in jou joernaal te plak met jou kommentaar daarby.
  • Sommige mense vind dat daar gedigte of aanhalings is wat hulle tref en help in hulle reis met God.  Skryf dit neer of plak dit in jou joernaal.
  • Ander mense werk meer visueel en sal baat vind om simbole of grafika van die dinge wat hulle raak in hul reis met God in ‘n joernaal te plaas.
  • Fokus óf op jou private verhouding met God óf op jou persoonlike reis in jou werk of bediening.  Jy kan dit ook afwissel of kombineer.
  • Skryf jou gebede in jou joernaal neer.  Dit help jou om God se antwoorde op jou gebede raak te sien.
  • Jy kan ook fokus op dinge waaroor jy dankbaar is – ‘n dankie-sê joernaal (gratitude journal) .  Jy kan dit ook met jou reisgenote deel – hetsy in jou familie- of vriendekring.
  • Neem van tyd tot tyd bestek op van wat jy geskryf het, en probeer patrone of fases in jou verhouding met God raaksien.  Bring dit in gebed na die Here en vra vir insig en wysheid.
  • Jy kan só ‘n joernaal ook hou in jou nadenke oor iemand ná aan jou, ‘n kind se gesegdes en ervaringe in die grootword proses, wat ‘n besondere geskenk kan wees as hy of sy mondig word of die volwasse lewe begin.

Die Here belowe nuwe krag vir dié wat Hom vertrou (Jesaja 40:30-31)

Ek sluit af.  Die Here belowe nuwe krag en nuwe fokus vir dié wat Hom vertrou en die pad met Hom begin loop.

“Selfs jongmense word moeg en raak afgemat, selfs mense in hulle fleur struikel en val,  maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.”

“For even young people tire and drop out,

young folk in their prime stumble and fall.

But those who wait upon God get fresh strength.

They spread their wings and soar like eagles,

They run and don’t get tired,

they walk and don’t lag behind.” – The Message

Die uitdaging is 100 dae …


 

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.