Skip to main content

Rom 6:1-11 – Son 22 Jun 08

Ek worstel al twee weke met dié teks – en maak geen fout nie, dit raak nie sommer ‘n makliker teks met die eerste en tweede en selfs derde lees daarvan nie! 
Hoofstuk 6  vorm deel van die leerstellige deel van Romeine 1-11, ‘n noodsaaklike begronding van die meer praktiese deel van die brief aan die Romeine wat in hoofstuk 12 begin en afsluit in hoofstuk 16.  En dit is ook ‘n belangrike deel van die enger konteks van hoofstuk 5-8, waar dit oor ‘n beskrywing van die nuwe lewe in Christus gaan.
En die rede waarom dit so moeilik is, is aan die een kant te wyte aan die wyse waarop Paulus sy argument voer.  Dit is net nie maklik toeganklik nie, nie in terme van taalgebruik nie en nie in terme van die argumentasie self nie. 
Maar aan die ander kant is dit ook te wyte aan ons gebrek aan begrip van wat hy met sonde bedoel – ons het ‘n ongelooflike private, persoonlike verstaan daarvan, terwyl Paulus eintlik heel anders daaroor praat.
Wat baie help, het ek gevind, is dat ‘n mens eintlik die hele brief van Romeine moet lees, en herlees, en dan telkens die hele boek in gedagte moet hou, om die boodskap van hoofstuk 6 te kan verstaan. 
Maar wat my nog meer gehelp het, was om ietsie te lees oor die gemeente van Rome in die baie besondere standaardwerk van Justo González, The Story of Christianity, wat die verhaal van die impak van Christus die afgelope twee millennia in die wêreld vertel.  Want dít het my gehelp om beter te verstaan wat Paulus hier bedoel met sonde, en hoe ‘n mens sy boodskap op jouself van toepassing kan maak.
Daarom wil ek ‘n paar perspektiewe gee uit die geskiedenis van die Christendom (Christianity en nie die Engelse Christendom nie), sowel as uit die res van die boek van Romeine, wat vir ons kan help om die boodskap van hoofstuk 6 te kan verstaan en vir onsself toe te eien. 
En onthou, God is besig om met ons te praat deur die gedeelte en deur die prediking – luister dus met die oog daarop om God te hoor (en nie vir my nie!).

 


Die eerste perspektief

Die gemeente in Rome het uit gelowiges van verskillende kulture bestaan.

Daar was Jode wat tot geloof gekom het, Paulus se volksgenote, heel moontlik die eerste gelowiges van die gemeente.  Dit was die strategie van daardie tyd – omdat Jode reeds van die 8ste eeu v C oor die wêreld versprei is.  Met die verskillende wegvoerings in ballingskap, was daar oral Joodse gemeenskappe in die stede, die Joodse Diaspora/Verstrooiing, en was hulle ook die eerste mense met wie die Christene die evangelie gedeel het.  Só het Stefanus en Philippus en Petrus en Paulus gewerk soos ons in Handelinge lees.  Paulus het wel op ‘n stadium van dié strategie afstand gedoen, toe hy te veel teenstand uit Joodse geledere gekry het, maar dit was nog steeds die vernaamste manier waarop die evangelie aanvanklik versprei het.  En dit is dié gelowiges, voorheen Jode, wat die eerste lidmate van die gemeente in Rome was.Maar daar was ook Grieke wat tot geloof gekom het.  Dit sien ‘n mens uit die lys van name aan die einde van die boek, hoofstuk 16, mense aan wie Paulus allerlei opdragte gee.  Die voertaal van die gemeente was in elk geval heel waarskynlik Grieks, en dit om twee redes: 1) dit was die wêreldtaal van daardie tyd, een van die voorsienings van die Here dat die evangelie in die volheid van tyd vinnig en met groot effektiwiteit kon versprei en 2) die Jode van die Diaspora het nie meer as ‘n groep Hebreeus geken nie, net die rabbis kon dit werklik nog lees, en die Ou Testament is in Grieks vertaal om dié rede, genoem die Septuaginta (Die Septuaginta word ook die LXX genoem, dit is die Romeinse getal 70 – die legende is dat 70 rabbis die OT vertaal het en toe hulle die vertalings vergelyk was dit woord vir woord dieselfde!).  Dit is waarom die brief aan die Romeine dan ook in Grieks geskrywe is, sodat almal dit kon verstaan.  Daar was dus ook Grieke in die gemeente van Rome.En dan was daar ook Romeine wat tot geloof gekom het, Italianers, mense wat selfs moontlik bande met Kornelius kon hê, wat in Sesarea saam met lede van sy regiment tot bekering gekom het onder die bediening van Petrus.  En hulle was ‘n belangrike deel van die gemeente.  Die waarde wat die Romeine tot die gemeente toegevoeg het, was dat hulle deel van die heersende politieke mag was, wat die gemeente kon laat deel in die stabiliteit wat die Romeinse ryk gegee het aan die wêreld van daardie tyd, die deel wat reg rondom om die Middellandse See geleë was.  Met die uitstekende pad netwerk wat deur die Romeine in die hele gebied gevestig is en ook beveilig is – die Italianers was maar altyd lief vir paaie bou, gaan kyk maar na Bainskloof in die Kaap – kon die evangelie ook baie meer effektief versprei word.  Dink maar net aan Paulus en ander se sendingreise.

 


Die tweede perspektief

Die gemeente moes dus keuses oor ‘n paar sleutel kwessies maak.

Taal was ‘n kwessie: hulle het Grieks gekies, en nie Hebreeus nie, later Latyns, en nog later Italiaans soos die samestelling van die gemeente verander het met die eeue.  Laat ‘n mens anders dink oor die taal wat in ‘n gemeente gebruik word, en ook anders dink oor waar God aan die werk is wanneer een taal bo ander tale verhef word in die gemeenskap – in die Nuwe Testament was Grieks verhef bo alles … en dit het die evangelie gebaat!Inklusiwiteit was ‘n ander kwessie: Paulus praat baie direk oor die insluiting van Febe van Kenchreë, die hawestad  in Griekeland (ontvang haar soos dit mense wat in die Here glo, betaam!), en waarsku die gemeente om te pasop vir mense wat verdeeldheid veroorsaak: Bly weg van hulle af, sê hy.  Dit laat ons besef dat ‘n mens uiters sensitief moet wees vir ons manier van doen in die gemeente – ‘n gemeente se manier van doen moet uitnodigend, vriendelik, gasvry wees, veral teenoor vreemdes!

Moenie toelaat dat die sonde oor julle baasspeel nie

Maar dan dieper as dit, moedig hy die gemeente aan om nie toe te laat dat die sonde baas speel oor hulle nie.Paulus werk hier met die idee van die sonde as ‘n mag wat werk in die kultuur en lewenstyl waaruit die gemeentelede tot bekering gekom het.  En hiervan sê hy, het God julle verlos, julle het onder sy heerskappy gekom. 

Vir die Grieke en Romeine

In hoofstuk 1 lys Paulus van die dinge wat deel was van hulle Griekse en Romeinse kultuur waarvan hulle vrygespreek is: julle is vrygespreek van die skuld van goddeloosheid – om te lewe asof God geen reg op ‘n mens se lewe het nie – en julle is vrygespreek van ongeregtigheid – om te lewe asof die waarheid geen sê het in die wyse waarop mense mekaar hanteer nie – en julle is vrygespreek van dwaasheid – om te lewe asof God nie God is nie, asof hy nie bestaan nie – en julle is vrygespreek van onsedelikheid – om te lewe asof God se riglyne vir ons seksualiteit nie op ons van toepassing is nie – en julle is vrygespreek van slegtheid, hebsug, gemeenheid, jaloesie, twis, bedrog, kwaadwilligheid, skinder, hooghartigheid, aanmatiging, verwaandheid, ongehoorsaamheid aan ouers, onbetroubaarheid, liefdeloosheid, hardvogtigheid ensovoorts ensovoorts!

Vir die Jode

In hoofstuk 2 en 3 draai Paulus se visier na die Jode en hulle kultuur om die wet van Moses bo alles te stel – maar in die proses baie keer die lewende God te ignoreer wat onverdiende genade gee en dít nie op grond van enige verdienste deur die wet nie, maar alleen weens sy eie getrouheid en betroubaarheid vir elkeen wat dit in geloof aanvaar.  Hoofstuk 4 begrond die punt in die verhaal van Abraham wat God se genade ontvang het nog voordat die wet daar was, en hy was immers die Jode se aartsvader.  En daarmee vat Paulus ook sommer die Jode aan wat hulleself as beter as die heidene geag het, selfs as die gelowiges heidene, op grond van hulle Joodsheid, en hulleself apart gehou om hulle Joodsheid te beskerm, terwyl hulle nou deel was van ‘n nuwe gemeenskap, die gemeenskap van die gelowiges.

Julle is vrygespreek

Nee, sê Paulus, beide die Grieks-Romeinse gelowiges sowel as die Joodse gelowiges is vrygespreek, die een van ‘n oormatige klem op hulle vryheid van reëls en wette, en die ander van hulle oormatige klem op reëls en wette. En let op: dit is nie net persoonlike oortredinge wat Paulus hier in die oog het nie – nee, dit is veral die dinge wat die gemeente gedeel het met die kulture waaruit hulle gekom het: die Jode wat so maklik hulleself eenkant van almal gehou het en die wet bo alles gestel het, en die Grieke en Romeine wat so maklik ‘n klomp argumente kon opnoem om hulle onsedelikheid en verwaandheid en ongeloof te kon verdoesel.  Die konserwatiewes en die liberales!Daarvan, sê Paulus, is julle vrygespreek, daarvan is julle verlos.  Die sonde se mag oor julle is gebreek, julle is deel van ‘n nuwe gemeenskap, die gemeenskap van Christus.  Julle is gedoop in sy dood, sodat julle ook kan lewe, soos Hy, vir altyd, vir God.

Lewe vir God

En nou, sê Paulus, moet julle lewe as mense wat dood is vir die sonde en lewe vir God.  Geen deel van julle liggame moet in diens gestel word van die goddeloosheid nie, maar in diens gestel word van God, om te doen wat Hy wil.Dit wil sê: negatief gesproke: moenie meer sleg wees teenoor mekaar nie, moenie gemeen wees teenoor mekaar nie, moenie jaloers wees op mekaar nie, moenie kwaadwillig wees teenoor mekaar nie, moenie mekaar uitsluit nie, veral nie op grond van wie julle was voor julle in die gemeenskap van die gelowiges gekom het nie.Positief gesproke: raak deel van die gemeenskap van gelowiges en beoefen saam ‘n lewenstyl van gehoorsaamheid aan die influisteringe van die Gees – Hy praat in ons midde, en in ons binneste, en leer ons hoe om gehoorsaam aan God te wees (hoofstuk 8).  Vestig julle hoop op God wat alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hy liefhet, sodat julle en julle geloof nie ondergaan in die lyding wat ons deel is in die wêreld nie.  Laat God julle denke vernuwe sodat julle kan onderskei wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is (hoofstuk 12).  Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort nie, maar wees beskeie volgens die maat van geloof wat God aan jou gegee het.  Gebruik julle gawes in die gemeente, wees opreg lief vir die mense om jou, wees bly saam met dié wat bly is, treur saam met dié wat treur, leef in vrede met alle mense, ten minste sover dit van jou afhang, en moenie self wraak neem nie, laat dit oor aan die oordeel van God.  En gaan lees maar verder in hoofstuk 13 oor die wyse waarop ons as gemeente teenoor die owerheid moet optree, en in hoofstuk 14 hoe ons teenoor gemeentelede wat met ons verskil moet optree, en in hoofstuk 15 hoe ander gemeentes wat swaarkry, gehelp moet word, deur offergawes en gebed.

Lewe vir God in die gemeenskap van gelowiges

Kortom – leef saam met God in die midde van die gemeente, die gemeenskap van gelowiges, en moenie meer toelaat dat die lewenstyl van die kulture waaruit julle kom julle lewens en gedrag bepaal nie.  Want julle is uit die mag van die sonde geroep om aan God te behoort in die boesem van die gemeente wat Hy gestig het.  En dit is ook waar van ons hier in Somerstrand.Die beeld wat Paulus dus hier skep, is dat ‘n gemeente ‘n nuwe gemeenskap is, ‘n gemeenskap wat ‘n nuwe kultuur vorm, wat natuurlik nie net teenoor ander kulture staan nie, maar dit transformeer en veral nie meer onder die beheer daarvan staan nie, maar onder beheer van God self.En dít is waartoe ons ook geroep word – om die lojaliteite wat ons het aan die kulture waarvan ons deel is, te verplaas na lojaliteit aan die gemeenskap wat God skep tussen ons.  Sonde is dus om jou hiervan te onttrek, om jou lewe deur ander lojaliteite te laat bepaal, en nie deur die gemeenskap van en met God nie.  Daarom dat daar so ‘n belangrike klem op die mekaar tekste in die NT is: moenie die onderlinge byeenkomste vermy nie, maak jou bydrae vir die instandhouding en uitbreiding van die koninkryk, leef as mense van die lig in die gemeenskap daarbuite ensovoorts.

 


Steek altyd weer grense oor!

Maar, daar is ook ‘n gevaar in die deelword van ‘n nuwe kultuur, ‘n nuwe gemeenskap, al is dit ‘n Christelike kultuur of gemeenskap.  En dit is gevaarlik na twee kante toe: 1) die eerste gevaar: dat jy die mense van een van die kultuurgroepe waaruit die gemeente saamgestel is, verhef bó die ander.  Dit is wat blykbaar in Jerusalem gebeur het – met die eerste konflik wat die eerste gemeente gehad het oor die versorging van die Griekse weduwees, hulle is erg verwaarloos ten gunste van die versorging van die Joodse weduwees, het die apostels wel reg opgetree deur 7 mense aan te stel om gelyke versorging te verseker.  Maar die 7 mense was almal Grieke, of só klink die name (Justo Gonzales)!  Dit wil dus voorkom asof die Woordverkondiging in die gemeente van Jerusalem beperk was tot Jode, die apostels was immers Jode, en dat hulle geledere gesluit was vir leraars van ander kulture.  Interessant dat Lukas dan in sy verdere skryf van die boek Handelinge, net ná dié verkiesing (hoofstuk 6), juis van 2 van hierdié Grieke se verkondigingswerk praat, Stefanus voor die Joodse Raad (en hy ontvang ‘n heel ander behandeling as Petrus en Johannes, hy word gestenig, terwyl hulle net laat slaan en berispe is!) en Filippus na Samaria en na Afrika (met die bereiking van die Ethiopiese amptenaar).  En ná Petrus se aanvanklike amperse skoorvoetende uitreik na Sesarea, na die Italianers, hoor ‘n mens baie min van die Jerusalem gemeente en hulle Joodse apostels. En die ontstellende waarheid is: die gemeente in Jerusalem oorleef nie – hulle wyk met die vernietiging van Jerusalem in 70 n.C. uit na Pella, ‘n Joodse dorpie daar naby aan die ander kant van die Jordaan, keer so ‘n 65 jaar later weer terug, maar sterf mettertyd heeltemal uit.  Na die vyfde eeu hoor ‘n mens nooit weer van die gemeente in Jerusalem nie.  In teenstelling met Jerusalem is daar vandag 900 kerkgeboue in Rome!2) die tweede gevaar: dat die gemeente ‘n gemaksone word as ‘n soort bastion teen die aanslae van die lewe, en die gemeente nie steeds grense na buite oorsteek nie.  Oral waar ‘n gemeente nie telkens weer die gemeenskappe om hulle met die evangelie bedien het nie, nie uitgereik het, nie grense oorgesteek het nie, nie gasvry gewees het nie, nie aangepas het om mense te kan insluit nie, het die gemeente gestagneer en uiteindelik doodgegaan.  Dink maar in die geval ook aan Jerusalem, en aan die gemeentes in Turkye, en meer resent in Europa – en teenoor dit die groei in gemeentes in Amerika, Suid-Amerika, Korea en Afrika.  Maar dit is stof vir ‘n ander dag!

Slot

Die impak van hierdie boodskap lê op baie vlakke – en die gevaar bestaan dat ek in die uitspel daarvan, goed kan sê wat jou nie aanspreek nie, of iets nie sê nie, wat jou wel aanspreek.  Maar vir ons as gemeente spel ek wel twee implikasies uit, sonder om daarmee dit klaar te sê:

  1. Ons het ‘n groot grens oorgesteek met die stig van Klema – ek begin al meer dink dat dit dié roeping van ons gemeente is, om jong werkendes oor die stad toe te laat om met ons ondersteuning te groei en die kerk van die toekoms te vorm – ons het wysheid nodig om dit só te doen, dat ons uiteindelik sáám groei en nie uitmekaar nie – dié week gesels ons juis oor ‘n kreatiewe voorstel in verband met die oggend erediens, en my hoop is dat dit ‘n baie groot impak op die toekoms van die gemeente gaan hê. 
  2. Ons sukkel nog om multi- en interkultureel te raak, en ek bedoel nou ras en klas – en ek weet die vernaamste rede is eintlik die wyse waarop ons woongebiede werk – maar dan moet ons intensioneel werk aan ander maniere om verhoudinge oor daardie grense heen te skep.  Ons verhouding met RCA Calvary in Malabar en VGK Bloemendal – en ons het ‘n baie geslaagde geleentheid gisteroggend met verteenwoordigers van die kerkrade van die twee gemeentes gehad – is een manier om daardie grens oor te steek.  En daar is baie energie in ons verhouding!  Ons kom immers al meer as 20 jaar saam, van oom Danie Veldsman af en die dolosse by die hawe!  En van ‘n verhouding waar ons geld vir Bloemendal vir jare gegee het, het daardie gemeente gegroei sodat hulle nou vir ander gemeentes help!  Ek wil hê dat u saam met my bid hoe ons spesifiek hiermee moet vorder – iemand het my juis in die week gebel en ‘n aanbod gemaak om in te staan vir ‘n “event”  of ‘n “week” in ons gemeente – en dit kan net wees dat dít die rigting is waarin ons moet beweeg …

Grafika

San Marcello al Corso, die kerk op die foto in die PowerPoint, was een van die eerste kerkgeboue in Rome.  Dit is herbou in 1519 ná dit afgebrand het, net mooi in die tyd van Maarten Luther.

Rom 6:12-23 – Son 29 Jun 08

Die tweede deel van Romeine 6 roep ons as gelowiges op om God te dien met alles wat ons is en het.  Doen wat God wil (en nie wat die sonde wil nie).

Paulus gebruik 3 teenstellings in hierdie teksgedeelte om sy punt te maak:

·         Sonde versus God: Sonde is die mag wat teenoor God staan en is nie net persoonlik nie, maar ook die mag van die lewenswyse van jou kultuurgemeenskap.

·         Slawerny versus vryheid: Ons almal is óf slawe van die sonde en in gewaande vryheid van God óf slawe van God en vry van die sonde.

·         Beloning versus geskenk: Die sonde gee die beloning van die ewige dood, maar God gee vir sy mense die geskenk van die ewige lewe.

Sonde versus God

Soos ons verlede week in Romeine 6:1-11 gesien het, sonde is ‘n mag wat teenoor die mag van God staan.  En dit is nie net ‘n persoonlike morele begrip, jy mag nie dit nie, of jy mag nie dat nie.  Dit is ook veral ‘n kultuur begrip.  Sonde is die manier van leef van die heersende kulture van jou tyd:

·         Vir die liberale Grieke en Romeine was dit in Paulus se tyd om sonder reëls en wette te lewe: goddeloos (asof God nie bestaan nie) en onsedelik (asof God se wil geen rol in jou manier van lewe speel nie).

·         Vir die konserwatiewe Jode was dit in Paulus se tyd om met reëls en wette te lewe: maar dit was eie geregtig (hulle het gedink hulle kan God se guns daardeur verdien) en baie eksklusief (hulle het gedink hulle is beter as die heidene en wou nie met hulle assosieer nie).

Om vry te kom van hierdie mag van sonde, het God sy genade in die geboorte, dood en opstanding van Jesus Christus gegee, sodat beide die liberales as die konserwatiewes, beide die Grieke en Romeine as die Jode, die vryspraak van vergifnis van sonde binne ‘n geloofsverhouding met Jesus kan kry.  Daarmee het Hy gelowiges uit die domein van die sonde na die domein van God verlos, vanuit die heerskappy van die sondige wil van die heersende kultuur na die heerskappy van sy wil in die gemeenskap van gelowiges.  En waar die sondige lewenstyl van die Grieks-Romeinse kultuur die botoon in hulle lewens gevoer het, het nou die lewenstyl van gehoorsaamheid aan God in sy gemeente die botoon in hulle lewens gevoer.

En ons sal goed doen om ons eie lewens te ondersoek watter domein in ons lewens tans die botoon voer.  Is dit die domein van die sonde of die domein van God?:  Vra jouself af:

·         Lewe jy asof God nie bestaan nie (soos praktiese ateïste) of vertrou jy Hom met jou hele lewe binne die gemeenskap van gelowiges?

·         Lewe jy onsedelik (soos praktiese hedoniste, d.w.s. jy hanteer seks nie volgens God se wil nie, maar volgens jou eie behoefte – en dink ‘n bietjie na oor die impak wat TV en flieks op ons manier van dink het) of lewe jy met die oog op die belang van jou maat en van die gemeente?

·         Lewe jy eie geregtig (dink jy dat jy God se guns verdien omdat jy dink dat jy beter is as ander, soos die Fariseër eenmaal oor die tollenaar gedink het) of lewe jy afhanklik van God se genade, sonder vooroordeel en veroordeling saam met dié wat jou broers en susters in geloof is?

·         Lewe jy uitsluitend (jy besluit wie in is en wie uit is op grond van jou eie maatstaf, hetsy taal, of kleur, of intelligensie, of vermoëns of besittings) of lewe jy met die vraag: vir wie kan ek ‘n naaste wees sonder dat kultuur oorwegings jou liefde bepaal?

Ons moet telkens onthou, herinner Paulus ons, God het ons vrygemaak van die domein van die sonde sodat ons in sy domein, die domein van sy heerskappy in gemeente en gemeenskap, kan lewe.

 


Slawerny versus Vryheid

Want sien, ‘n mens leef altyd in ‘n verhouding van slawerny aan óf vryheid van dié magte: jy is óf ‘n slaaf van die sonde óf jy is ‘n slaaf van God – jy is óf vry van die mag van God óf jy is vry van die mag van die sonde.

Dink maar net ‘n bietjie aan hoe die lewe werk:

·         Om ‘n professionele musikant te word, ‘n konsert pianis, vat ‘n 8 uur ‘n dag fokus van baie kleins af.  Ek onthou hoe skrikwekkend die fliek Shine vir my was. Dit is die verhaal van David Helfgott, ‘n bekende pianis, en hoewel daar baie kritici is wat sê dat die fliek nie regtig ‘n ware weergawe van die werklikheid was nie, bly die uitmergelende oefensessies my by, die absolute fokus om Rachmaninoff foutloos, nie net te speel nie, maar ook te vertolk. Totale fokus!

·         Om ‘n Springbok rugbyspeler te word, vat ‘n commitment wat die meeste van ons nie voor kans sien nie – dit is pyn en sweet en koue en nogmaals pyn van baie vroeg af in jou lewe.  Al baie keer na Hannes Marais geluister oor die opofferings wat hy moes deurmaak: die op en af hardloop van die koppie (lyk vir my meer soos ‘n berg!) in Spreeukloof; die skrum wat op ‘n keer letterlik sy enkel afgedraai het, toe sy studs vasgesteek het in die gras en die skrum gedraai het; sy oog wat uitgepluk is toe hy vir ‘n drie oorgeduik het, en hy moes kies, die oog of die drie.   Totale fokus!

·         Om ‘n graad te kry, veral as jy dit nagraads wil doen, vat ure se sit en lees en dink en worstel en uiteindelik skryf oor ‘n baie lang tyd.  Ek onthou self die lang ure vroeg oggend om my D klaar te skryf – my hele slaappatroon het geskuif as gevolg daarvan.  Totale fokus!

En jy word eintlik ‘n slaaf van dit waarop jy fokus: darem meesal uit vrye keuse.  Dit kan natuurlik ook in ‘n verslaafdheid verander, jy kan nie meer balans handhaaf met ander prioriteite in jou lewe nie, en begin ander dinge afskeep.  Maar die verslaafdheid bevestig eintlik maar net nog sterker die punt: jy is altyd ‘n slaaf van iets: jy is verbind aan jou musiek en daarom vry van iets soos lees; jy is verbind aan studie en daarom vry van iets soos TV kyk; jy is verbind aan ‘n sport en daarom vry van iets soos vrye tyd.

En dít is ook hoe die Christelike lewe werk.  Dit neem ook ‘n totale fokus!  En met reg ook – want jy is óf ‘n slaaf van die domein van die sonde, ‘n slaaf van al die oorwegings en oortuigings en lewenstyl van die gemeenskappe waarin ons lewe, en die voorkeure en behoeftes van jou eie hart en lewe, óf jy is ‘n slaaf van die domein van God, ‘n slaaf van al die oorwegings en oortuigings en lewenstyl van die geloofsgemeenskap, en die voorkeure en behoeftes van God vir jou en die gemeente se lewe.

En daar is nie middelgrond nie … en jy kan nie neutraal bly nie … want ‘n keuse vir middelgrond of vir neutraliteit diskwalifiseer jou vir God se domein, en jy bly ‘n gevange van die sonde, beide op persoonlike vlak as op gemeenskapsvlak.

Dit sal goed wees as ons goed hieroor nadink – wat is die gehalte van die commitment wat ons aan God en sy gemeente het?  Wat sou ander sê van my commitment – sou hulle my lewe beskrywe as dat ek ‘n slaaf van God is … of nie juis nie …?

 


Beloning versus Geskenk

Paulus sluit af met ‘n laaste teenstelling, die teenstelling tussen die beloning wat sonde gee, die dood, en die geskenk wat God gee, die ewige lewe. 

Die sonde hét ‘n beloning: as jy lewe volgens die lewenstyl van die heersende kultuur, het jy die voordele daarvan, maar waarvan die einde, die beloning, die dood is. 

God beloon egter nie op dieselfde manier nie.  Om die waarheid te sê, daar is baie keer lyding en ontbering wat verbind is aan gehoorsaamheid en getrouheid aan die Here. 

Wat doen God dan?  Hy gee die geskenk van die ewige lewe. 

Teenoor die korttermyn voordele en uiteindelike negatiewe beloning van die sonde staan die korttermyn uitdagings en die uiteindelike positiewe geskenk van die ewige lewe vir ‘n lewe wat in gehoorsaamheid aan God geleef is.

En laat ons nie swig voor die beswaar van die heersende kultuur nie, wat sê die ewige lewe is ‘n “Pie in the sky when you die, bye and bye.” 

Daar is iets in die vooruitsig van die ewige lewe wat ‘n hoop en volharding gee wat alle verstand te bowe gaan.  En dit is reg deur die eeue so.  Dit is insiggewend om te lees oor die eerste Christene dat hulle nie soseer verkwalik is vir hulle leerstellings nie, maar vir hulle halstarrigheid! 

·         Jy sien dit al in Petrus en Johannes voor die Joodse Raad: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan júlle gehoorsaam te wees of aan God. Wat ons betref, dit is onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.” (Hand 4:19-20). 

·         En jy sien dit in Stefanus wat nie stilgebly het in die aangesig van die veroordeling en uiteindelike steniging deur die Joodse Raad nie.  Toe die Jode nie sy wysheid kon troef nie, die wysheid wat die Gees hom gegee het in die situasie nie, en die pragtige uitleg wat hy van die Skrif gegee het nie, en selfs hulle woede en gekners op hulle tande hom nie van stryk kon bring nie, het die Joodse Raad hulle ore toegedruk en hom doodgegooi om hom stil te maak (Hand 7).

·         En in Paulus in die tronk by Philippi, wat die Romeinse polisie en stadsbestuur dwing om hom self los te laat na hulle hom teen hulle eie reëls in gevange laat neem , geslaan en in die tronk gesit het: ”Maar Paulus sê vir die polisie: “Ons is sonder verhoor in die openbaar geslaan en in die tronk gestop, ons wat Romeinse burgers is. En nou wil hulle ons stilletjies hier wegkry. O nee! Laat hulle self kom en ons uitlei.” (Hand 16:37)

Daarmee het hulle ‘n voorbeeld gestel vir Christene van alle tye: om te volhard in gehoorsaamheid aan Christus, maak nie saak wat oor jou pad kom nie.

Geen wonder dat Plinius, goewerneur in Bithinië in Klein-Asië, vandag Turkye, wat die gewoonte gehad het om ‘n Christen 3 keer geleentheid te gee om Christus vaarwel te roep, voordat hy so iemand vonnis en straf, skryf aan keiser Trajanus dat hy net nie die Christene se halstarrigheid (obstinacy) kan verstaan nie, want hulle wil nie sy toeskietlikheid aanvaar nie. 

Trajanus, wat eintlik ‘n goeie keiser was, maak dan ‘n reëling wat vir ‘n paar eeue gegeld het, dat die Christene nie voor die voet vervolg moet word nie, maar net as iemand hulle aankla, ongelukkig ‘n maatreël wat baie keer deur bure misbruik is! Maar telkens dat ‘n Christen voor dié keuse gestel is, om Jesus te verloën om straf vry te spring, het hulle geweier. 

Terloops, daar is ‘n pragtige font Trajan wat ontwerp is om van die inskripsies uit sy tyd te moderniseer, wat pragtig is: trajan PRO (Ek het dit gekies vir my PowerPoint om daardie rede!  Dit is in hoofletters, want sy inskripsies was net in hoofletters!)

Daarom lees ons telkens van ons Christen voorvaders dat hulle halsstarrig was, onwrikbaar in hulle geloof, selfs al moes hulle met hulle lewens boet vir hulle getrouheid aan Jesus Christus:

·         Ons lees van Ignatius van Antiochië, genoem “die draer van God” na aanleiding van ‘n legende dat hy die seuntjie was wat Jesus een keer in die midde van die dissipels geplaas het om vir hulle van nederigheid in die koninkryk te leer, wat skryf in 107 n.C. aan sy volgelinge wat hom wou kom bevry nadat hy ter dood veroordeel is: “If you remain silent about me (d.w.s. as julle niks doen om my te bevry nie), I shall become a word of God.  But if you allow yourselves to be swayed by the love in which you hold my flesh, I shall again be no more than a human voice.”

·         En sy jonger vriend Polycarpus verklaar in die jaar 155 n.C. aan ‘n regter wat dreig om hom lewendig te laat verbrand: “For 86 years I have served him, and he has done met no evil.  How could I curse my king, who saved me?” En dan bid hy hardop: “Lord Sovereign God … I thank you that you have deemed me worthy of this moment, so that, jointly with your martyrs, I may share in the cup of Christ … For this … I bless and glorify you.  Amen.”

En die deel in die voorbeeld van Christus, veral in die eenwording met sy dood, maar ook in die heerlike vooruitsig dat hulle daarmee dan ook sal deel in sy lewe, die ewige lewe, soos Paulus ook hier skrywe in 6:8, was die motivering vir hulle halstarrigheid.

Slot

Ek sluit af:

·         God het ons uit die sonde verlos om onder sy heerskappy te lewe. 

·         Ons moet dit met alles in ons doen binne die gemeenskap van die gelowiges.

·         Ons moet dit tot die einde toe doen, selfs al bars die bottel.

 

Chris van Wyk 

Rom 7:15-25 – Son 6 Jul 08

Inleidend 

Die gedeelte is seker een van die mees betwiste gedeeltes in die Romeine brief.  Die meeste uitleggers lees die gedeelte as ’n blik op Paulus se innerlike stryd teen die sonde.  Ben Witherington (in sy Paul’s Narrative Thought World) lees dit egter op ’n ander manier.Volgens hom tref Paulus aan die begin van hoofstuk 7 ’n kontras tussen die lewe voor Christus en die lewe in Christus, die lewe in die vlees teenoor die lewe in die Gees.  In vers 5 praat hy byvoorbeeld in die verlede tyd van Christene se vorige lewe: “Toe ons nog ‘n sondige lewensbestaan gevoer het …” en in vers 6 in die teenswoordige tyd: “Maar nou is ons vrygemaak …”  

In die verse wat ons nou gaan lees, sê Witherington, stel Paulus as illustrasie iemand in sy lewe voor Christus aan die woord, die menslike kondisie, en beskrywe die stryd wat daar in só ‘n persoon is, selfs in die goeie mense.  Die “ek” in die verse is dus soos iemand voor Christus sou leef, terwyl aan die einde van hoofstuk 7 en dan veral in hoofstuk 8 Paulus wys hoe ‘n Christen in Christus lewe, in die kragveld van die Gees. 

Romeine 8 is dus die “normale” lewe van die Christen in Christus en nie Romeine 7 nie.  Anders, sê Witherington word hoofstuk 7 te maklik ‘n verskoning vir die sonde en neem dit nie die vryspraak wat Christus gebring het ernstig genoeg nie.  Ons wat in Christus is, hoewel nie perfek of sondeloos nie, kan protesteer en breek met die sonde, omdat Christus ons vrygemaak het, en die Gees daarin vir ons bystaan.

Hoe ook al – jy kan dit ook op die tradisionele manier lees.


 

Woordverkondiging 

Daar is ’n klassieke storie wat hierdie gedeelte van Paulus volmaak vasvang.  Robert Louis Stephenson se The Strange Case of Dr. Jekyll and Mr. Hyde.

Dit gaan oor die gerespekteerde dr Jekyll wat ’n middel ontdek wat sy persoonlikheid verander en van hom ’n ander persoon maak. Deur sy uitvinding geskok en tog ook gefassineer, gee hy toe aan die versoeking om in die nag Mnr Hyde te word, wat allerlei misdade pleeg – selfs moord.

Gedurende die dag is hy die sagmoedige dr Jekyll en in die nag is hy ’n moordenaar en ’n gewelddadige skurk. 

So gaan dit ’n tyd lank aan, totdat hy een oggend wakker word en tot sy ontsteltenis bemerk dat hy mnr Hyde se hand behou het.  Eers was dit moeilik om Mnr Hyde se persoonlikheid aan te neem, maar gaandeweg was dit al moeiliker om weer terug te keer na die goedhartige dr Jekyll!

Hy het al meer besef dat hy besig was om beheer te verloor oor sy goeie self en dat die slegter self die oorhand begin kry.

Toe hy later verplig was om ’n keuse te maak, het hy besluit om eerder dr Jekyll te bly. Ongelukkig het die geneigdheid tot misdaad in hom so sterk geword dat dit by hom die oorhand gekry en hom uiteindelik vernietig het.

Toe iemand vir Stevenson vra waar hy die model vir sy hoofkarakter gekry het, het hy geantwoord: “I found it in my nature.”  Hy het eerstehands belewe wat Paulus bely: die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek.”( vs19)  Ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte.

Soos Augustinus geskryf het:  “Wat ook al ons is, ons is nie wat ons behoort te wees nie!”

Of soos Mark Twain tong in die kies vertel: “Man was made at the end of the week, when God was tired.”

Ja maar hoe?

Hoe gemaak met die Mr/Mrs Hyde in ons lewe?

Soos ’n predikant vertel hoe hy ’n boek by ’n kennis geleen het. Terwyl hy dit gelees het, was sy belangstelling geprikkel deur die onderstreepte gedeeltes, met die letters JMH in die kantlyn geskryf. Hy het toe vir die kennis gevra wat dit beteken.  Die onderstreepte gedeeltes was dit waarmee hy saamgestem het en JMH het gestaan vir “Ja, maar hoe?”

Deur Christus ons Here

Vers 25 gee die oplossing:  Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.

Ons het nou al twee Sondae hierop gefokus.

Die spil waarom die boodskap van hoofstuk 6 draai, is die vryspraak van Christus.  Hy het ons vrygespreek van die mag van sonde waarvan die uiteinde, die beloning, die dood is.  Hy het ons van die mag van die sonde verlos.  Die sonde se mag oor ons is gebreek, ons is deel van ‘n nuwe gemeenskap, die gemeenskap van Christus.  Ons is gedoop in sy dood, sodat ons ook kan lewe, soos Hy, vir altyd, vir God. Vir beide die liberale Grieke en Romeine, wat sonder die wet gelewe het, en vir die konserwatiewe Jode, wat met die wet gelewe het, het daar uitkoms gekom, die vergifnis en genade van Christus.

Daarom sê Paulus moet ons rekening hou daarmee, ons moet ons gedagtes daarmee vul, ons is nou in die domein van God, waar ons vir Hom kan lewe en ons nie net die belofte van ‘n ewige lewe het nie, maar ook die bewussyn van sy nabyheid en sy sorg en sy krag.

Die eerste Ja-Maar-Hoe is dus om oor jouself te begin dink as vrygespreekte, iemand wat vry is van die sonde en wat lewend is vir God.  

Dit is waarom lofprysing en danksegging so uiters belangrik vir ‘n Christen is, want dít is die punt waar ons ons gedagtes volmaak met die wonderlike werklikheid van die vryspraak van Christus.Maar, het Paulus ons aangemoedig, ons moet in dié domein léwe.  Ons moet as’t ware as slawe van God lewe, anders bly ons slawe van die mag van die sonde, en dit nie net persoonlik nie, ook slawe van die mag van die sonde van die heersende kultuurmagte. 

En dit is die tweede Ja-Maar-Hoe, om te lewe in die kragveld van die Gees.

 


Leef in die kragveld van die Gees  

Paulus sê, reeds in hoofstuk 7:6, maar meer volledig in hoofstuk 8, dat die geheim van die lewe vir God, is deur te lewe in die kragveld van die Gees.

“Die werk van die Gees,” sê Coenie Burger, “is soos ’n kragveld. Dit is ’n dinamiese omgewing waarbinne jy bewus word van ’n ander krag as jou eie” (1999).

Een van die hindernisse vir ons om dit raak te sien, is natuurlik dat ons baie keer die Christelike lewe sien as ‘n eindpunt en nie genoeg as ‘n beginpunt nie.

Vryspraak is nie die doellyn of die wenstreep nie.  Dit is die wegspringplek.

Soos die storie wat ek van ’n gradeplegtigheid gehoor het, waar die studente hulle diplomas ontvang het van die kanselier.  Terwyl hy hulle hande geskud het, het hy met ‘n harde stem gesê:  “Veels geluk!” En dan met ’n sagter, maar ferm stem het hy vir elke gegradueerde gesê:  “Hou aan beweeg!”

Dis ook God se woorde aan ons  “Veels geluk, maar hou aan beweeg…” Die Christelike lewe is ‘n lewenstyl wat doelbewus ingeoefen moet word.

Kyk die lewe is soos gholf: hoe meer jy jou golfswaai oefen en oefen en oefen, hoe meer raak dit deel van jou “spier-geheue”, sodat jy later die golfswaai uitoefen sonder dat jy bewustelik daaroor dink.  Maar as jy ‘n slegte golfswaai het, dan raak jy beter met die slegte golfswaai, as jy ‘n goeie golfswaai het, dan raak jy al beter met die goeie golfswaai.

Ons moet ons dus inoefen om in die kragveld van die Gees te lewe – dit is die golfswaai wat ons moet inoefen!

Nog ‘n voorbeeld: in Jack London se klassieke storie, WHITE FANG, is White Fang half-hond, half-wolf. Nadat hy in die wildernis geleef het, word hy mak gemaak en leer hy om tussen mense te lewe!

White Fang was egter mal oor hoenders! Op keer het hy in ’n hoenderhok gevaar en 50 henne doodgemaak. Sy baas, Weeden Scott, het met hom geraas en hom toe weer in die hoenderhok ingeneem.

Hy het vir White Fang reg in die middel van die hoenderhok laat sit. Dit was ’n groot toets! Toe White Fang sy gunsteling kos sien, was sy natuurlike instink om te gaan vir ’n sappige hoendertjie! Maar hy was onmiddellik in sy spore gestop deur sy baas se stem!  Hulle het vir ’n tyd lank in die hoenderhok gebly. Elke keer as White Fang na ’n hoender wou hap, het sy baas se stem hom gekeer. So het hy geleer wat sy baas wou hê en so het hy geleer om hoenders te ignoreer.

Weeden Scott se pa het geredeneer dat jy nie ’n “hoender doodmaker” kan genees nie, maar Weeden het sy pa uitgedaag en so het hulle vir White Fang die hele middag in die hoenderhok toegesluit! Luister as Jack London self hierdie toneel beskryf:

“Locked in the chicken yard and there deserted by the master, White Fang lay down and went to sleep. Once he got up and walked over to the trough for a drink of water. The chickens he calmly ignored.  So far as he was concerned they did not exist. At four o’clock he executed a running jump, gained the roof of the chicken house, and leaped to the ground outside, whence he sauntered gravely to the house.” 

Toe voeg Jack London hierdie woorde by:  “He had learned the law.”

Watter wet was dit?

Die wet van gehoorsaamheid – hy het gemaak soos sy baas sê!  Weeden het hom geleer, en White Fang het hom laat leer, dit ingeoefen.

‘n Tweede hindernis is dat ons dink die werk van die Gees is altyd bonatuurlik.

Nou, dit is waar, sommige kere is die bewussyn van die Gees bonatuurlike ervarings, soos met die uitstorting van die Heilige Gees in Handelinge 2, of toe die Gees die eerste keer in Sesarea uitgestort is oor mense wat nie Jode was nie (Hand 10). Daar word gewoonlik hierna verwys as die besonderse gawes. Dit is uitsonderlike gebeure wat die Gees gee, sommige openbaar en ander privaat. Maar die Gees werk natuurlik nie net as daar ’n bonatuurlike ervaring of ekstase betrokke is nie. Die teenoorgestelde is eintlik waar wanneer ’n mens na die verhale in die Bybel kyk. Meestal is dit “gewone”, natuurlike ervarings wat mense tot die oortuiging laat kom van die werk en die bedoeling van die Gees.

Hoe werk dit dan?  Waarop moet ons fokus?

Om in die kragveld van die Gees te lewe, is om bewus te raak van hierdie “gewone” ervarings, Frederick Marais en Willem Nicol noem dit bewegings, in jou. In Staying in Touch maak ons baie van die Stop-Look-Listen metodiek gebruik.  Dit is om die afgelope 24 uur te oordink, die goeie goed, die slegte goed, en dan baie spesifiek te probeer agterkom, waar het ons God se spore in ons lewe agter gekom.

Jy fokus dus nie op goed wat jy doen nie, maar op wat die Gees doen.  En een van maniere om dit agter te kom, is om te oorweeg of daar ‘n:

 

  • beweging van eie belang na ander se belang, van selfgerigtheid na liefde vir ander was. Want, as ek agterkom dat ek in my keuses van die vorige dag geklou het aan iets waarvan ek self hou, as ek agterkom dat ek in my keuses die vorige dag eintlik op my eie wil bly, dat ek isolasie verkies, dan is dit alreeds die Gees wat dit doen. Ons gehegtheid aan onsself is immers uiters moeilik om raak te sien, soos een woestynvader gesê het, ons ekkigheid is vir onsself so sigbaar soos ’n mier op ’n swart klip teen middernag. En as jy dan op die fyn stemmetjie van jou gewete reageer wat sê: Jy stel jouself eerste, dan vorder jy. En as jy in volgende Stop-Look-Listen oefeninge agterkom, ek begin dit regkry om na ander se werklike belange beweeg, dat ek gemeenskap met ander begin bou, al voel dit pynlik om van eiebelang weg te beweeg, dan is dit ’n teken dat die Gees jou begin lei, dat jy in sy kragveld begin leef.

So is daar ander bewegings in onsself en in ons bewussyn waarop jy kan fokus:

  • Ingewikkeldheid na eenvoud – die oplossings wat ons onder die Gees se leiding kry, is dikwels eenvoudig.
  • Selfgesprek na Godsgesprek – ware Godsgesprek is wanneer ek agterkom dat ek regtig met die Here praat oor ‘n saak en regtig oop is vir sy leiding.

En so is daar ‘n hele paar ander bewegings waarop ons kan fokus om in die kragveld van die Gees te beweeg.

Slot

Ek sluit af – ons is vrygespreektes. 

Christus het daarvoor gesorg. 

Ons leef in die kragveld van die Gees. 

Ons het nodig om ons denke daarmee vol te maak, en te begin fokus op die Gees se bewegings in ons.

 

Matt 16:13-20 – Son 24 Aug 08

KINDERTYD

Weet julle wie is die president van Amerika?

  • Nou sy pa, George Bush snr, het eenmaal, toe hyself president van die VSA was, ’n ouetehuis besoek. 

Weet julle wat ’n ouetehuis is?

  • En daar het vriendelik met ‘n ou oom begin gesels en vir hom gevra:  “Weet jy wie ek is?” 
  • Die ou oom het nie geweet nie en geantwoord:  “Nee, maar gaan na die ontvangs toe, want as ons vergeet, vertel hulle vir ons wie ons is!”

Maar jongmense het ook dié probleem!

  • Ek onthou ‘n dogtertjie wat toe sy een keer in ‘n kring om my staan, haarself aan my moes voorstel, en toe gesê het: “Wie is ek nou weer?!”

Kom ek vra vir julle: “Wie is jy?” 

  • En “Nou wie is  …….. ?”
  • En “Wie is ………. ?”

Ons almal weet min of meer vanwaar af ons kom.  Jy ken jou ma en jy ken jou pa en jy ken jou ouma en oupa en ooms en tannies en neefs en niggies en sommer nog ’n hele spul ander mense ook.  Dit help ons verstaan wie ons is.

In die Bybel het Jesus dieselfde vraag gevra: “Weet julle wie is Ek?”

  • Wat dink julle het hulle geantwoord?
  • Wat sou julle antwoord?

Petrus het die ‘regte’ antwoord gehad; hy kon sê wie se Seun Jesus is.

En wie se Seun is Jesus?

God s’n!

En omdat Hy God se seun is, kan ons op Hom vertrou. Ons ken Hom.  Hy is God se Seun!

Daarom kan Hy ons gebede verhoor, Hy vergewe ons sonde, Hy help ons wanneer ons sukkel, Hy troos ons wanneer ons hartseer is.

Dis darem maar goed ons weet Hy is God se Seun, nê!

SKRIFLESING

Die hart van ons Gereformeerde Identiteit het te make met vier frases:

  • Net genade             Ef 2:8-10/ Rom 3:23-24
  • Net geloof               Rom 1:17/ Rom 5:1
  • Net Christus            Rom 5:8/ Rom 6:8 en 23
  • Net die Skrifte         Ps 1:1-3/ 2 Tim 3:16; 4: 2-3

En dit is nie asof dit ‘n optelsom is nie – jy sien die genade in Christus, en sonder geloof maak die Skrifte nie sin nie – dit is ‘n beskrywing van ‘n geheel.
Ons fokus vandag op Jesus en wie Hy is, want dit is wat die teks op die tafel sit, maar ons is telkens besig met die hele geheel – die kern van ‘n Gereformeerde kyk na wat Christelik is.

Opbou en agtergrond

Hoewel hierdie gedeelte ten nouste met die voorafgaande gedeelte oor die suurdeeg en sy invloed saamhang, onderstreep die begin van dié gedeelte van toe af (wat ook in 4:17 voorkom) dat hier ’n nuwe fase in Matteus begin waarin besondere klem op Jesus se lyding en sterwe val.  Die gedeelte self bestaan uit drie dele:

  1. die vraag aan die dissipels oor sy identiteit deur Jesus, met ’n rits antwoorde met Petrus s’n as hoogtepunt (vers 13–16);
  2. die uitsonderings posisie van Petrus (vers 17–19) en
  3. die opdrag aan die dissipels om oor Jesus se identiteit te swyg (vers 20).

Kom ons lees Matteus 16:13-20

WOORDVERKONDIGING

“Wie is ek?”

In vers 13 vra Jesus wie die mense dink die Seun van die mens is. 

Word on the street vertaal:”13 What’s the gossip? What are people saying about Me? They worked it out yet?”

Dis ’n ongelooflike gelaaide vraag.

Nou vir die ingeligte hoorder, sou die titel al klokkies laat lui het.  Hulle sou onthou het van die geheimsinnige man wat Daniël (7:13) in sy nagtelike visioen gesien het.  Dié verwysing het immers ’n uiters belangrike rol in die Jode se Messias verwagting gespeel.  Só, hulle sou die afleiding kon maak, dat Jesus eintlik na Homself as Messias verwys.

En dit is nie asof Jesus die term net een keer in ‘n gesprek oor Homself gebruik het nie.  Dit kom in al vier evangelies voor, dat Jesus só na Homself verwys (Matt 8:20, 9:6, 11 en 19; Mark 2:10; Luk 7:34; 9:58; Joh 9:35-37).  En niemand anders gebruik die term nie, net Hy. 

Maar die antwoorde wat die mense vir die dissipels gee, wys dat die mense nie verstaan het wie Jesus is nie.  Uit die uiteenlopende antwoorde lyk dit asof almal op een of ander manier dink dat Jesus ’n profeet was (vers 14): Johannes die Doper, Elia, Jeremia (net Matteus vermeld die feit).  Maar die kloutjie kon hulle nie by die oor kry nie.

Maar julle, wie sê julle is Ek?

En dan kom die belydenis van Simon, wat sy voorloper al in hfst. 14 gehad het toe Simon op die see saam met Jesus geloop het, en hy en die ander dissipels voor Jesus gekniel het en as die Seun van God aanbid het. 

U is die Christus, d.w.s. die gesalfde, die een wat God as Messias gesalf het (Christus is immers die Griekse vorm van die Hebreeuse woord Messias), die Seun van die lewende God.

En met vreugde verklaar Jesus dan vir Simon as gelukkig, geseënd.  Interessant dat Hy Simon as die Seun van Jona, Simon Barjona (bar is die Aramese woord “seun [van]”)  aanspreek en dan sy naam verander na Simon Petrus toe. 

Jy is Petrus, rots, en op dié rots sal Ek my kerk bou, ‘n ongelooflike belofte (vers 18)! 

Die gesag om die kerk te onderrig, die sleutels van die hemel, word ook aan hom gegee (vers 19). 

Nou daar is ’n groot verskil in hoe Katolieke en Gereformeerdes die teks verstaan. 

  • Vir eersgenoemde gaan dit om die vestiging van ’n amp – dié van die pous, ‘n individu as ‘n rots, wat hiërargiese volmag het in alles van die kerk. 
  • Vir laasgenoemde gaan dit oor die rol van die kerk – as geloofsgemeenskap, ‘n gemeenskap wat op die rots van Petrus se belydenis gebou is, in wie Christus die volmag het. 

Interessante vertaling in Word on the Street werp miskien ‘n ander lig op die betekenis van dié gedeelte: “I’ll tell you the security codes of heaven: if you block something down here, heaven will make sure it stays blocked, if you give something the green light down here, heaven will make sure it goes through.”  Dit klop met die betekenis in Matteus 18:18-19 waar ook oor dié sleutelmag gepraat word, en die uitoefening daarvan verbind word aan die saamstemmende gebed van die gemeenskap van gelowiges.

Wat ‘n mens onmiddellik anders laat dink oor die belangrikheid van gebed!  Dit is die kodes wat die hemel oop- en toesluit – en ons het dié mag gekry, om in afhanklikheid van ons Messias, die een wat mense kinders van God wil maak, te gebruik.

Maar dan kom ons by die gedagte wat my die meeste getref het.  “Op hierdie rots sal Ek my kerk bou en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (vers 18).  Doderyk of Hades staan hier vir die plek waar die ongelowiges gebêre word vir die oordeel, ‘n uiters ongemaklike plek, wat sommer in later gebruik van die woord, as die hel bekend geword het, hoewel tegnies die hel eers aan die einde van die tyd regtig in spel sal kom, as ‘n mens Openbaring in gedagte hou.
Maar belangrik.  Dit is nie Petrus wat bou nie.  Dit is Jesus Christus wat bou. 

Dit is nie Petrus of sy dissipel-vriende of enige ander Christen daarna wat die voortgang van die kerk verseker nie.  Dit is Jesus Christus wat die bose magte sal teëstaan sodat die kerk nie oorweldig word nie.

Matteus sluit die gedeelte af met die bevel van Jesus in vers 20 dat hulle dié insig in wie Jesus werklik is, nie verder met buitestaanders moet deel nie.  Sonder die kruisdood en opstanding van Jesus, sou sy Messiasskap immers nie sin maak nie. Geen wonder dat Matteus met smaak aan die einde van die evangelie dié kleed van geheimsinnigheid  afgooi en in die woorde van Jesus self sê dat dié boodskap van die Messias die hele wêreld in verkondig moet word (28:19) – die bekende Groot Opdrag.

TOEPASSING

Ek wil na hierdie Skrifuitleg twee dimensies hiervan uitlig.

1.  Jou eie identiteit in Christus

Jesus begin hier met ’n algemene vraag aan die dissipels:  “Wie sê die mense is Ek?”

En as hulle vir Hom ’n paar antwoorde gee, dan maak hy dit persoonlik: “Wie sê julle is Ek?”

Dis die vraag wat elke mens deur die eeue moet antwoord … Wie is Jesus vir jou?

Ek het onlangs die boek van Francis Collins gelees, The Language of God, waarin hy as wetenskaplike oor geloof gesels.  Hy is die vader van die menslike genoom projek en het die Nobelprys daarvoor gekry.

Hy begin sy volwasse lewe as ‘n ateïs, iemand wat nie in ‘n God glo nie.  Maar dan ontmoet hy ‘n vrou in die hospitaal wat besig is om dood te gaan, en dié vra hom wat hy regtig glo.  En met ‘n skok besef hy dat hy eintlik sy hele lewe die vraag na God ontwyk het.  En dat Hy nie langer dít sou kon doen nie.   Hy sou moes ‘n antwoord gee op die vraag, in terme van die teks, wie is Jesus vir jou?

En dan met die lees van ‘n paar boeke, veral CS Lewis se boeke, raak hy oortuig van die bestaan van ‘n universele morele wet wat nie uit natuurlike ontwikkeling verklaar kan word nie.  En wat hom spesifiek aanspreek, is dat mense altruïsties kan optree, d.w.s. lief kan hê sonder om iets terug te verwag (wat die Bybel as agape liefde beskryf).  En omdat hy dié tipe liefde nie uit natuurlike ontwikkeling kan verklaar nie, kon hy eenvoudig nie God se bestaan langer ontken nie.  En Jesus raak vir Hom die Seun van God, die Messias, die Christus.

Ek weet ek praat met mense wat die evangelie ken – maar die vraag bly steeds – wie is Jesus vir jou?  Dit bly die belangrikste vraag, een wat ‘n mens nie kan ontwyk nie, en een wat jou lewe hier en nou bepaal.

2.  Ons identiteit in Christus

As ons seker is van ons identiteit in Christus, dan is die tweede vraag wie is die kerk, dié kerk wat Jesus bou en waarvan Hy sê, die poorte van Hades sal dit nie oorweldig nie?

Nou, ek is nie onbewus daarvan dat die antwoord op die vraag baie diep deur ons konteks bepaal word.

Dié week het bv. die kerkherenigingsbootjie ‘n rowwe see binnegevaar.  U het seker kennis geneem daarvan dat die VGK die NGK se afskeid van apartheid ernstig bevraagteken het, en nie ons aansoek om deel van ‘n Afrika Konferensie van Kerke te word, goed te keur nie. En dit plaas die hele gesprek tussen ons in gevaar.
En die ontstellende is dat ons eie kontekse ons perspektiewe daarop so indringend bepaal.

  • Vir die NGK was dit ‘n skok, só onverwags.  Die VGK het weer teruggekrabbel na hulle hantering van die belydenis van Belhar as ‘n uitsluitende voorwaarde vir gesprekvoering en nié ‘n insluitende voorneme om dit deel van die belydenisgrondslag van die herenigde kerk te maak.  En die beskuldiging van apartheid en rassisme word weer voor ons deur gegooi.  Ons voel seergemaak en verraai.
  • Maar ek kan dink dat die VGK se terugkrabbelry ook kom uit ‘n ervaring van pyn, spesifiek onverwerkte pyn uit die verlede: die pyn van menswaardigheid wat aangetas is, die pyn van gedwonge verskuiwings, die pyn van verbrokkelde gesinne en afwesige pa’s, die pyn van die verlies van geliefdes op ‘n verskeidenheid van maniere, wat natuurlik aan albei kante van die spektrum van ons verlede plaasgevind het.

En dít maak dit so moeilik om in dieselfde gespreksruimte te bly:

  • as die NGK se mense sê, ons gaan nie almal die belydenis van Belhar aanvaar nie, dan hoor die VGK dit in hulle pyn … dat ons húlle nie aanvaar nie, en nié erken dat hulle pyn gely het in die verlede nie. 
  • En ons hoor weer in hulle voorwaardes, dat hulle ons nie aanvaar nie, ten spyte van ons verskeie belydenisse van die verlede en die nuwe oortuiging waarmee ons die pad van hereniging stap.

En die probleem is, ons gesukkel om mekaar te vind, laat die kerk in die breë skade ly, en ten diepste, laat die boodskap van Christus skade ly.

Die tyd het miskien gekom dat ons nog dieper die pyn van die verlede in die oë staar en iets daaraan probeer doen. 

Ons identiteit sal nooit nét in ons eie geledere uitgeklaar kan word nie.  Ons is verbind aan mekaar met drie eeue se saam-Christen-wees.  Vir die eerste 200 jaar was hier net een kerk, was ons saam, en kan ons nooit heel wees sonder dat ons by mekaar op een of ander manier is nie.

Miskien gee die teks vir ons ‘n weg vorentoe, want dit is interessant dat die gesprek tussen Jesus en Simon Petrus na beide kante toe ‘n bevestigende gesprek is.  Simon Petrus bevestig Jesus se identiteit, U is die Christus, en so ook Jesus die identiteit van Simon Petrus, jy is die seun van Jona, en ek gee ook vir jou nou ‘n nuwe identiteit, dié van ‘n rots, Petrus.

Die gemeente en die proses van kerkhereniging behoort juis ‘n veilige plek te wees waar ons mekaar bevestig en nie verder beskaam nie! En hoe nodig het ons nie dat die Here vir ons ‘n pad vorentoe wys, op ‘n wedersydse bevestigende manier. 

Ten minste is ek oortuig dat die Here sê dat ons mekaar nie mag los nie!

  • Selfs wanneer jy hoog opgee oor ‘n spesifieke greep op die waarheid, soos wat belydenisskrifte per se is, ‘n greep op die waarheid, jy die ander een nie mag los nie! Dit het ek geleer by Brenda Salter McNeil se A Credible Witness – Reflections on power, evangelism and race. (2008, Downers Grove: IVP). Sy maak die volgende stellings oor eenheid:
  • “To choose Christ is also to choose his community.” (2008:16)
  • “Our unity in the midst of our diversity is one of the most powerful ways we reveal the reality of what Jesus accomplished on the cross.” (2008:16)
    • Ek het ‘n artikel daaroor geskryf in die vorige Kruisgewys vir mense wat meer daaroor wil lees: http://www.gemeentes.co.za/Pdf/McNeil.pdf  .  Of kom haal een in my kantoor.

Dit is wonderlik om te sien hoe die kerk in die vlaag xenofobie wat onlangs deur die land gespoel het, bakens van hoop was, wat mense in hulle nood ingesluit het en hulle oor randfigure ontferm het.

Dít is wie ons as kerk is, ‘n insluitende gemeenskap!  En ons moet dit nie vergeet nie en gebruik in die antwoord op die vraag, wie is ons?

Ek sluit af.

  • “Wie is Ek?” vra Jesus.  U is die Christus, die seun van die lewende God.
  • “Wie is ons?” as Christene.  Ons almal, saam, is kinders van die lewende God, en ons het die heilige opdrag om te sorg dat ons dit saam kan vier.

Amen.

GEBED

DANKOFFERS

SLOTSANG

  • Lied 478 “Op vaste fondamente” staan

SEËN

AMEN

  • Lied 314 “Amen” staan

AANKONDIGINGS

Gen 50:15-21 – Son 14 Sep 08

WOORDVERKONDIGING
KOM ONS TREK VIR ‘N OOMBLIK DIE SKOENE VAN DIE BROERS AAN.

Die broers het Josef regtig sleg behandel – hulle het sy lewe in Israel kortgeknip, hom van sy familie en sy mense ontneem, hulle het hom ‘n slaaf gemaak en verkoop aan ‘n klomp handelaars. En hulle het hulle pa belieg met hulle storie oor wilde diere wat vir Josef opgevreet het en so as’t ware Josef se gedagtenis uitgewis in sy tuisdorp.

Toe hulle uitgevind het dat Josef wonder bo wonder oorleef het, en boonop tweede in bevel in Egipte was, was hulle verras en natuurlik bly vir die uitkoms uit hongersnood waarin hulle was, en dat hulle daarby nie vir hulle misdaad moes boet nie.  Josef was immers duidelik daaroor dat hy hulle vergewe.

Maar blykbaar was daar diep binne in hulle die gevoel, sê nou maar net ons word êrens verantwoordelik gehou vir ons misdade.  En toe hulle pa sterwe het dié gevoel die oorhand gekry. Soos vers 15 sê: “En Josef se broers was bevrees na die dood van hulle vader”.

Die probleem van die broers lê dus nie by Josef nie, maar by hulleself. Josef se dade en woorde van hoofstuk 45 het reeds deeglik gewys dat hy met hulle versoen wil lewe … maar ons lees nêrens dat hulle hulle sonde bely en erken het nie, of vir vergifnis gevra het nie of dit aanvaar het nie.  So ons lei af dat hulle gevoel van skuld hulle gejaag het.

Die versekering wat Josef in Genesis 45 gegee het, het nie ’n blywende indruk op hulle gemaak nie. Daar het hy alreeds beklemtoon dat God hom voor hulle uitgestuur het (vers 3-8).

Maar noudat hulle pa dood is, begin die broers wonder of Josef se gesindheid nie sal verander nie.  Op ‘n manier besef hulle nou meer as tevore dat hulle aan die genade van hulle broer uitgelewer is.

Die interessante is egter, hulle kies om steeds ‘n pad van misleiding en emosionele manipulasie te volg, uit vrees vir die gevolge van hulle vroeëre dade.  

Daarom lees ons in vers 16, 17 dat hulle eers ’n boodskapper stuur om met Josef te praat om so aanvanklik ’n direkte konfrontasie te voorkom. Hulle probeer sy guns wen deur te verwys na hulle pa se opdrag tot vergifnis, waarvan ons nêrens anders lees nie, wat dus lyk asof dit opgemaak is.  Hulle pleit wel twee maal om vergifnis, en beskryf hulle sonde as misdade en onreg, maar van ‘n afstand af!  Op die koop toe, doen hulle ‘n beroep op hulle geloof in dieselfde God as hulle pa, interessant nie as dieselfde God as Josef nie!

Eers as Josef emosie toon en hulle die vermoede het dat hy hulle regtig sal vergewe, gaan val hulle uiteindelik voor hom neer.  Josef se broers maak dus steeds eintlik staat op misleiding om hulle gewete stil te kry.  Soos ‘n geleerde (Coates) sê: “They still depend on deception as a way of life.”

Wat sien ‘n mens dus hier in hulle lewe?

‘n Mens sien hier dat, sonder vergifnis en die aanvaarding van vergifnis, die broers aan hulle verlede vasgeketting bly.   Dieselfde vrees en angs uit hulle verlede, toe hulle ‘n storie moes opmaak oor Josef se dood, oorval hulle, sodat hulle eintlik weer fouteer.

Soos die verhaal van Peanuts waar Lucy aan die einde van ‘n bofbalwedstryd aan Charlie Brown verduidelik hoekom sy die bofbal mis gevang het: “Sorry I missed that easy fly ball, manager. I thought I had it, but suddenly I remembered all the others I’ve missed, and the past got in my eyes.”  

En die interessante is, daarmee erken die broers, dat die enigste een wat die siklus van wraak en weerwraak kan deurbreek, die een wat verontreg is, Josef.

Skuldgevoelens laat jou dus nooit los nie!  Totdat jy nie op ‘n plek kom waar jy eerlik jou sonde bely en erken nie, en iemand jou nie vrygespreek het nie, EN jy dit aanvaar het nie, is jy ‘n gevange van jou skuldgevoelens.

Soos een Joodse kommentaar sê: Josef se broers hoop vir haat om hulle skuld te vereffen (Wendy Amsellum). Sy vertaal (op voetspoor van die Middeleeuse Joodse kommentator Rashi) vers 15: “As Josef maar net vir ons haat …” i.p.v. “Sê nou net Josef haat ons  …”

Wat leer ons uit hulle verhaal?

Om los te kom van jou skuld uit die verlede, het jy nodig om die skuld te erken, bely, vergifnis te vra, en te aanvaar wanneer dit gegee is.  Dit is die enigste manier om van skuld los te kom.

Dit is waar van skuld op ‘n menslike vlak, en tussen ons en God.

En dit kan wees dat dié verhaal jou op dié vlak aanspreek. Miskien is daar iets wat jy moet gaan regmaak, of gaan sê jy is jammer, of sê jy is verkeerd.  Dit is waar die verandering begin, waar jy erken en bereid is om dit te bely.

KOM ONS TREK DAN NOU DIE SKOENE VAN JOSEF AAN.

Net soos in Genesis 45:2 huil Josef.

Dis moeilik om af te lei wat die rede vir sy trane is. Die atmosfeer van medelye oorheers egter beide Genesis 45, die eerste interaksie tussen Josef en sy broers, en hier in Genesis 50. Sy duidelike versekering dat hulle nie moet bang wees nie en dat hy steeds vir hulle sal sorg, benadruk sy omgee vir hulle.

Een geleerde (Wenham) dink dat Josef huil omdat hulle steeds bang is vir hom, en dat dit eintlik vir hom sy eie verlore verlede terugroep, en hy besef sy broers sit nou in die situasie waarin hy was, toe hy afhanklik was van hulle goedgesindheid daar by die put … en as seun nie by hulle gekry het nie.  Josef huil dus op ‘n manier sy broers se trane.  

Hy huil miskien ook oor die feit van sy verlore jeug en oor die feit dat die pad wat hy moes loop, van hom ‘n outcast gemaak het.  Om die waarheid te sê, ons lees aan die einde van hoofstuk 50, dat hy sy broers vra om sy bene na sy dood saam met hulle terug te neem na Israel – om darem in sy dood deel van sy vaderland te wees.

Maar Josef veroordeel nie sy broers nie, en bly by die keuse wat hy vir vergifnis gemaak het.  Hoekom?

Omdat Josef anders na die verlede kyk as sy broers.  

Die broers kyk na wat hulle self gedoen het in die verlede en heel gepas is hulle bang.  Josef kyk egter na die groter prentjie – dít wat God reg gekry het deur die presiese gang van die verlede, die kwaad ingesluit.  En Josef kyk na die droom wat God hom in sy jeug gegee het, en hy hou dít in gedagte, nie die skuld van sy broers nie óf sy verlore jeug nie.

En wat Josef raaksien, is dat met God, die slegste goed nooit die laaste goed is nie!  

  • God kan altyd nóg iets doen, as dinge lyk asof dit uit mekaar val.  
  • Die slegste goed is nooit die laaste goed nie.  
  • En dié God kan die kwade goed dink (Noordmans).  
  • Sy hand word juis in die donkerste tye sigbaar.
  • Selfs mense se bose planne verlam nie God se planne nie.
  • Mense beplan, maar die laaste woord kom van die Here af (Spr 6:16).
  • Bose planne dwarsboom nie God se planne nie, menigmaal bevorder dit juis wat Hy wil doen!

Maar Josef kyk nie net anders na die verlede as sy broers nie.  Hy verbind hom aan die goeie wat God beplan – dit is waarvoor hy kyk en dit is waarvoor hy lewe.

  • Daarom verklaar hy dat hy sal sorg dat daar kos vir sy broers se kinders is.
  • Josef aanvaar dus verantwoordelikheid om deel van God se goeie plan vir die toekoms te wees.
  • So, sê Gibson, word ’n verhaal wat met haat begin het, afgesluit met haat wat deur liefde oorwin word.
  • Uiteindelik word ’n familie wat deur haat uitmekaar geskeur is, weer in harmonie met mekaar gebring.  
Wat leer dit vir ons?
  • Dat ons ook kan verwag om God se hand in die donkerte van ons eie familie stories te sien.
  • Dat ons ook kan verwag dat dié God die kwade goed kan dink!
  • Dat die slegste goed nooit die laaste goed is nie – daar is altyd weer hoop, nie die hoop op haat soos die broers gevrees het nie, maar die hoop op die liefde.
  • En dat ons ons kan verbind aan die goeie wat God beplan – die droom van God om die goeie uit die kwaad te voorskyn te bring.
  • Ons kan ons verbind om aktief die roeping te aanvaar om deel van God se goeie toekoms te wees. Josef se rol is immers nie om sy broers terug te kry nie, maar om hulle te versorg; nie om hulle te veroordeel nie, maar om aan hulle ’n tuiste te gee.

Fil 1:20-30 – Son 21 Sept 08

 

LEWE TER WILLE VAN CHRISTUS

Paulus is hier weer in die tronk (waarskynlik in Rome).  En as hy hier skryf dat hy onseker is of hy wil leef of sterf (vers 22), moet ‘n mens in gedagte hou, dat vir baie gevangenes dit werklik beter was om te sterf as om in ’n Romeinse tronk te probeer oorleef. 

Die omstandighede in tronke was haglik.  Die tronke was vuil, donker, warm, bedompig en onhigiënies.  Gewoonlik was daar nie individuele selle nie, maar is mense eerder aan mekaar in groepe vasgeketting (vgl. Fil. 1:14).  Gevangenes het min slaap gekry, en moes deur hulle families van kos en klere voorsien word (Kyk bv. na Fil. 4:18 waar Paulus die gelowiges bedank vir wat hulle vir hom gestuur het om van te oorleef: “… ek het alles ontvang en ek het meer as genoeg”). Vriende het baie keer die gevangenes in die tronk bygestaan, soos ons hier lees van Timoteus en Epafroditos se diens aan Paulus (van wie Paulus in hfst. 2:19-30 sê: “wat deur julle hierheen gestuur is om my in my omstandighede by te staan”).  Die hulp van vriende buite die tronk, was dikwels die verskil tussen lewe en dood vir gevangenes. 

Maar – Paulus is nie bekommerd oor die tronk as sodanig nie.  Hy dink nie oor lewe en dood vanuit sy omstandighede nie.  Hy dink uitsluitlik aan die effek van sy lewe (of dood) op die gelowiges.  Vir hom is dit beter om hemel toe te gaan … maar wat dan van dié wat agterbly?  En as hy aan hulle dink, dan besef hy, dit is nog nie tyd om te gaan nie. Hy het nog iets om te doen hier op aarde.  Hy bestaan immers ter wille van Christus en sy saak op aarde.

Hoekom dink hy so?

Want die lewe is vir hom Christus.  En hy is bereid om sy lewe weg te gee ter wille van Christus.

En dit is die uitdaging aan ons as Christene – dat die lewe ook vir ons Christus sal wees, dat ons ook bereid sal wees om ons lewe weg te gee.

Nou dit kan wees dat jy nou na my luister, en net besef, dit is nie waar ek is nie.

En dit is ‘n goeie gedagte – want dit is wanneer ons eerlik na ons eie lewe as Christene kyk en ons meet aan die lewe van ‘n volwasse Christen soos Paulus en ons bewus raak van die gapings in ons eie lewe, dat ‘n kreatiewe krag (Peter Senge) in ons aangesteek word, om verander te word, sodat die lewe ook vir ons Christus kan wees, en ons Christus-gesentreerd kan lewe.

Kyk, ‘n mens begin nie waar Paulus geëindig het nie.

Jy begin presies waar jy nou is.

En waarop konsentreer jy?

Wel, Paulus druk dit hier só uit: “Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees.”

D.w.s. ons lewe moet al hoe meer in lyn kom met die boodskap van Christus.  In kort, ons lewens moet ooreenstem met die Bybel.  Nou, die interessante is, dat empiriese navorsing oor geestelike groei aandui – presies dít wat Paulus al aan die begin van ons jaartelling skrywe – dat gelowiges die Bybel as die mees kragtigste katalisator ervaar in hulle lewe, dié ding wat hulle lewens verander.

En hoe Paulus dit hier uitspel, is dat ‘n mens twee goed doen in geestelike groei, jy kyk na jou lewe en jy kyk na die Bybel en jy begin algaande die twee met mekaar in verband bring.  Dít is hoe jy geestelik groei.  Dit is hoe jy verander.  Jou lewenswandel kom in ooreenstemming met die boodskap van Christus.

Dit beteken – in jou stiltetyd lees jy die Bybel, jy dink na oor jou lewe, en jy laat toe dat die Bybelse visie, God se visie, want die Bybel is immers sy Woord, jou lewe verander.  In Bybelstudiegroepe lees jy die Bybel, dink na oor jou lewe, en laat die Bybelse visie jou lewe verander.  En ons doen dit in die erediens en ons doen dit in die kursusse wat ons aanbied.

Dit is die motivering agter die Didage aanbiedinge in die vierde kwartaal op Woensdae.  Didage beteken leer.  En dit is wat ons gaan doen, ons gaan leer hoe om ons lewens al hoe meer in ooreenstemming met die Bybel te bring:

  • Bybelskool – lees die eerste 5  boeke in die Bybel en dink na bv. oor hoe God met families in Genesis gewerk het, en probeer daaruit leer hoe om in ons eie families die Here te dien;
  • Bly in voeling – leer ‘n paar beproefde gewoontes aan om God se stem te kan onderskei en in voeling met God te kan bly;
  • Lectio Divina – leer baie spesifiek hoe om die Bybel te lees met die oog op lewensverandering;
  • Alpha Huwelikskursus – leer saam met mekaar hoe ons huwelike in lyn kan bring met wat God oor die huwelik in die Bybel leer.

Dink ‘n bietjie eerlik oor jou lewe – stem jou lewe ooreen met dít wat die Bybel leer?  Het jy ‘n groeiende verhouding met die Here?  Lewe jy Christus-gesentreerd?

Oorweeg dan om in te skakel by ons Woensdagaand sessies.  Neem die volgende stap in jou geestelike reis.  En bring mense saam met jou, familie, vriende, kennisse, kleingroep lede, wie ook al.

LEWE AS VRIENDE

Want, en daarmee sluit ek af, die Christelike lewe is nie ‘n alleen reis nie.  Dit is bedoel vir vriende in die geloof.

Paulus het ‘n klomp goeie dinge om oor die Filippense te sê.  Hulle het van die begin af met hom saamgewerk. Hulle lê hom na aan die hart.  Op ‘n punt was hulle al gemeente wat hom finansieel bygestaan het (hfst. 4).

Maar daar was een ding wat hy wou hê dat hulle nog moes doen – en dit is dat hulle soos vriende eensgesind moes saamstry vir die Evangelie en saam moet leer wat die evangelie, die Bybelse boodskap, vir hulle lewens beteken.  Daarom versoek hy vir hulle om soos een mens saam te stry vir die geloof en praat hy oor “hulle” lewenswandel.

Paulus versoek hulle ook in die volgende hoofstuk in dieselfde “vriendskap”-taal om een in liefde, hart en strewe te wees (2:2-4).  En wanneer Paulus vir Euodia en Sintige in hfst.. 4:2 vermaan om eensgesind te wees, bedoel hy dat hulle weer soos vriende moet leef.

Geestelike groei is dus nie vir Paulus ’n individualistiese saak nie. Hy wil hê dat die gemeente as geestelike vriende sal lewe. Vir die Grieke was ware vriende immers een siel wat in twee liggame geleef het, met dieselfde wil of strewe, en dit is hoe Paulus wil hê dat die gemeente moet lewe.

Kom ons stap só ‘n pad met mekaar in dié gemeente, die pad van gelowige vriende.

KINDERTYD

Die afgelope maand het die Olimpiese Spele ons almal aan die praat gehad. Die vinnigste man op aarde (Usain Bolt); die vrou wat ‘n spies die verste kan gooi (Barbora Spotakova). En ons leer by die atlete: om nooit op te hou nie, om hard te probeer, om alles te gee.

Maar dit was die Paralimpiese Spele wat vir ons die meeste geleer het. Mense wat ‘n gebrek het, net een been, of net een arm, of blind en dan die beste doen met wat hulle het. En dit lyk mos asof hulle nóg meer as hulle Olimpiese maats die Spele geniet.

Een van die grootste atlete daar was ‘n Suid-Afrikaner, wat eers by die Olimpiese Spele geswem het en toe ook by die Paralimpiese Spele, Natalie du Toit, en vyf goue medaljes gewen het.

Maar ek wil vir julle vandag vertel van hierdie meisie.

Het julle al vir haar gesien?

Haar naam is Shireen Shapiro.

Toe sy sewentien jaar oud was het ‘n vreeslike ongeluk haar getref.  Sy was ‘n goeie swemmer. Haar droom was om by die Olimpiese Spele deel te neem. Maar toe ry ‘n motorboot bo-oor haar, en die skroewe skeur haar liggaam uitmekaar.

En sy was baie hartseer, en wou haar droom om op die Olimpiese Spele te swem, laat vaar. En toe kom kuier Natalie du Toit vir haar.  En sy praat vir Shireen moed in.  En Shireen besluit sy gaan tog weer swem en begin oefen om in die Paralimpiese Spele te swem.

En daar wen sy en stel boonop ’n wêreldrekord op in die 100 m-rugslag vir vroue (S10-klas).  Sy het die beste gemaak van wat sy gehad het!

Nou die Bybel vertel ons van die apostel Paulus.

Een keer is hy in die tronk gegooi, omdat die mense nie wou hê hy moes vir ander van Jesus vertel nie.

En die tronk was ‘n baie slegte plek.

En wat dink julle doen hy?  Gee hy moed op?

Nee, hy besluit, ek kan mos nog skryf.  En hy skryf ‘n brief vir die mense in Filippi.  Dit is ‘n dorpie in Griekeland.  En hy sê vir hulle, julle moet onthou om alles te doen wat Jesus vir julle vra.  En julle moet onthou om lief te wees vir mekaar. En julle moet onthou om met ‘n glimlag te lewe.  Hoekom?  Want die Here is lief vir julle.

En dan sê hy vir hulle: as mense nie glo wat julle sê nie, moenie moedeloos word nie, moenie vir hulle skrik nie, maar hou by wat julle geleer het.

En so maak Paulus die beste met wat hy het, en hy moedig die mense van Filippi ook aan om die beste te maak met wat hulle het.

SKRIFLESING

Drie tekse uit Filippense vir die volgende drie weke.

Filippi was ’n kleinerige stadjie in die Noordoostelike deel van Masedonië (vandag Griekeland) waar talle Romeinse soldate afgetree het (Hand 16:12).  In ruil vir landbougrond het die veterane gehelp om die belangrike via Egnatia  – die pad tussen Europa en Asië – te beveilig.  Dit het ook gekeer dat Rome oorbevolk word met afgetrede soldate wat niks het om te doen nie. 

Filippense 1:20-30

20 Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe,21 want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins. 22 As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie. 23 Ek is in ’n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; 24 maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe. 25 Omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek sal bly, ja, vir julle almal behoue sal bly, sodat julle kan toeneem in geloof, en blydskap in julle geloof kan hê. 26 As ek weer by julle kom, sal julle oorvloedige rede hê om Christus Jesus oor my te prys.

27 Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. As ek dan kom, sal ek self sien, of as ek nie kan kom nie, sal ek deur berigte hoor dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie 28 en julle in geen opsig deur die teenstanders laat afskrik nie. Dit is vir hulle ’n teken van húlle ondergang en van júlle redding, en dit kom van God. 29 God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly. 30 Julle en ek het dieselfde stryd wat julle my vroeër al sien stry het en waarvan julle hoor dat ek nou nog stry.