Skip to main content

Fil 1:27-2:4: Vreugdevolle eensgesindheid

Verwelkoming

Eiendomskommissie kom Woensdagaand 19:30 bymekaar.  Nuwe lede welkom.

RUS

  • In die Bybelskool lees ons tans die brief aan die Efesiërs.  En die gedagte van Vrydag bly my by: God woon in die gemeenskap van gelowiges.  Kom ons raak bewus van dié wonderlike werklikheid en gee ons aan Hom oor in gebed. En dan gaan ons saam met die koor daaroor sing.
  • Lied 158 – Koor vers 1 en 2, Gemeente vers 3 – sit

Toetrede

Votum en Seëngroet

Here, Jesus, U wat in die gestalte van God was, het U bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan U moes vasklem nie, maar U het Uself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan ons gelyk te word.

En toe U as mens verskyn het, het U Uself verder verneder.  U was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. Daarom het God Uook tot die hoogste eer verhef en U die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.

Lofsang

  • Vonkk 85 (Psalm 8) – Here, ons Here, Hoe groot is U – Koor vers 1 en 2; Gemeente telkens keervers en vers 3 en 4 – sit
  • Liedboek 435 – Heil’ge Gees U bou ‘n tempel deur die Woord wat kragtig werk – staan

HOOR

Skriflesing

Fil 1:27-2:4

Kindertyd

  • Wat dink julle adverteer dié mense? Logos verskyn een vir een: Wimpy, Steers, Billabong.
  • Hoe weet ons ‘n hemp is van Billabong? Aan die Logo – dit laat mense dink aan Billabong.
  • Dit is ook so met ons in die kerk. Mense moet ook kan sien, ons is van die kerk.
  • Wat kan hulle van ons sien?
  • Moet ons ook ‘n teken dra? Ons kan ja.
  • Wat sou julle as teken kies?
  • Wat sien julle hier in die kerk wat ‘n belangrike teken is wat ons kan dra? ‘n Kruis ja.
  • So as ons ‘n kruis dra, dan kan almal sien, ons is kinders van die Here.
  • Maar weet julle.  Dit is wat die kruis beteken wat so belangrik is.
  • Wat sê die kruis van ons?
  • Jesus was so lief vir ons dat Hy vir ons aan ‘n kruis gehang het en vir ons sondes betaal het.
  • Nou kan ons net soos Hy vir ander mense lief wees, bereid wees om vir hulle goed te doen, al waardeer hulle dit nie eens nie.
  • As ons goed is vir ander mense, dan sien mense, ons is soos Jesus. Ons is mense van die kruis.
  • Die kruis herinner ons eintlik aan God se liefde vir ons, en ons liefde vir ander mense.
  • Julle gaan nou ‘n kruis maak in die toepassing om julle altyd daaraan te herinner.

Gebed

Woordverkondiging

Die Gees van Christus verander ons gemeente tot vreugdevolle eensgesindheid

Wat hoor jy as jy die woord EENSGESIND hoor?

  • Presies dieselfde gesindheid?
  • Presies dieselfde gedagtes?
  • Presies dieselfde gevoelens?
  • Presies dieselfde gedrag?

Baie mense hoor die woord so, hou selfs daarvan, en veg daarvoor.  En bewaar jou as jy nie dieselfde doen, dink of voel nie.  Dan word jy en jou idees aangeval en verdag gemaak, sodat jy óf ingee óf uitgestoot word.  Baie politieke sisteme is so.  Selfs volksisteme en kulture funksioneer baie keer so.  Eensgesindheid word verstaan as om presies dieselfde te dink … en as jy durf verskil, dan verander jy van vriend in vyand.

Selfs in die kerk is dit soms so.  Eensgesindheid word baie keer misverstaan as om dieselfde te dink, en om by die meerderheid se denke en gevoelens in te val.  En mense wat anders doen, dink of voel word baie keer uitgestoot, meer as vyande hanteer as vriende binne dieselfde gemeenskap.  En ongelukkig is dit baie keer dié tipe reaksies wat ons sien in die briewe in die koerante en in die groot uitsprake wat gemaak word.  Mense wat eintlik met ‘n idee van eensgesindheid werk wat beteken almal moet presies doen, dink of voel soos hulle doen, dink of voel.  En wee jou as jy durf verskil …

Só ‘n verstaan van eensgesindheid is egter verdelend.  Dit jaag mense uit mekaar, sommige op dié hoop en ander op daardie hoop.  Dit skep vyandskap, baie keer tussen mense wat nie net van beter behoort te weet nie, maar mekaar ook boonop nodig het.  Want ons almal het mos maar net ‘n deel van die waarheid beet, en ons het mekaar nodig, om uit almal se bydraes, almal se verskillende bydraes, ‘n beter prentjie van die waarheid, ook Die Waarheid, Jesus, te vorm.

Dit is immers waarom ons 4 evangelies het, en nie net 1 nie.  Dit is waarom ons 13 briewe van Paulus het, en nie net 1 wat sommer vir almal sou gegeld het nie.  Dit is waarom daar Konings en Kronieke is in die OT, wat min of meer dieselfde geskiedenis dek, net uit verskillende hoeke, en 150 Psalms en nie net 1 nie.

Verskillende perspektiewe vorm die volle prentjie van God se genade en die lewe wat Hy skenk.

Wat bedoel Paulus dus as hy hier in Filippense oor eengesindheid praat?

Wel dit is duidelik dat hy nie daarmee bedoel dat almal dieselfde hoef te doen nie.  Ons het verlede week gehoor dat hy bly is dat Christus verkondig word, al het sommige eintlik daarmee vir Paulus probeer bykom.  Vir hom was dit nie so belangrik dat jy dieselfde doen as hy nie, maar dat Christus verkondig word.  Dit is immers sy hele punt oor die verskillende gawes wat die Here vir sy kerk deur die Heilige Gees gegee het.  Dit is sodat die verskeidenheid gawes die eenheid binne die liggaam van Christus sou dien.  Almal kan nie dieselfde dinge doen nie.  Dit sal tot ernstige eensydigheid lei en die hele bediening van die kerk verskraal.  Eensydigheid is nie eensgesindheid nie.  Ons hoef dus nie dieselfde dinge te doen nie.

Dit is ook duidelik dat hy nie daarmee bedoel dat almal dieselfde hoef te dink nie.  Daarom skryf hy op ‘n hele paar plekke in sy briewe dat mense nie oor alles hoef saam te stem nie.  In sy vroeëre brief aan die Romeine sê hy byvoorbeeld dat as jy ‘n ander idee het oor die eet van kos of wyn, of oor die viering van een dag van die week as belangriker as die ander – die hele debat rondom die viering van die Sondag – dan is dit reg so.  Jy moet net vasstaan in jou eie oortuiging en nie ander mense verkwalik of nog erger verag of veroordeel as hulle van jou verskil nie (Rom 14).  Jy hoef dus nie oor alles saam te stem nie.  Jy hoef nie oor alles dieselfde te dink nie.  Eendersdenkend is nie eensgesindheid nie.

Dit is ook duidelik dat hy nie daarmee bedoel dat almal dieselfde hoef te voel nie.   Want voel en dink was eintlik verbind aan mekaar.  Daarom kon hy die woord hart wisselend gebruik, soms vir denke en soms vir gevoelens en soms sommer vir jou hele lewe.  Dit is in elk geval so dat gevoelens en denke eintlik albei met ons interpretasie van die werklikheid te make het.  En sommige van ons werk meer met die effek op die geheel van ons lewe (en daar is niks fout mee nie), en ander meer met die logika van die reaksies wat ons daarop het (en daar is niks fout daarmee ook nie).  Slim mense sal juis sorg dat albei kante beklemtoon word, en gebruik word om goeie besluite te maak en te sorg dat ons optredes van emosionele sowel as intellektuele volwassenheid en intelligensie getuig.

Eensgesindheid is dus nie om dieselfde te doen, of te dink, of te voel nie.  Dit is in elk geval ‘n onhaalbare droom.

Wat bedoel Paulus dus as hy oor eensgesindheid praat?

En maak geen fout nie.  Dit is baie belangrik dat ons dit verstaan.  In ons teksgedeelte wil hy ons juis aanmoedig om hierdie eensgesindheid te handhaaf na buite toe – in ons interaksie met die gemeenskap – en na binne toe – in ons interaksie met ons eie gemeenskap.  En daarby wil hy hê dat ons dit met vreugde sal doen, en met oorgawe.  Eensgesindheid moet nie vir ons soos ‘n keurslyf voel nie, ‘n korset van stowwerige muwwe eenderse denke, gevoelens en dade nie, waar jou bydrae vir jou by voorbaat voorgeskryf word, en jy geen unieke kreatiewe buite-die-boks bydrae kan maak nie.

Ons moet mekaar mos juis verstom met wat die Here deur ons unieke gawes kan regkry.  En dit kan nie gebeur as ons dink dat eensgesindheid is om dieselfde te dink, doen en voel nie.

Wat bedoel Paulus dus as hy oor eensgesindheid praat?

Uit die teks het ek drie perspektiewe gehaal wat vir my die essensie daarvan saamvat:

1.  Eensgesindheid is om dieselfde soort denke, gevoelens en gedrag te hê

Dit is wat die Griekse woord in wese bedoel.  In Engels is die beste vertaling vir my like-mindedness, soos die NIV dit het.  Dit beteken om dieselfde soort denke, gevoelens en gedrag  te hê.

  • Een analogie is dié van families.  Hulle lyk nie dieselfde nie, in elk geval nie presies nie.  Maar hulle het dieselfde soort voorkoms.  Die hare, die oë, die stappie, die eetlus.  My ma moes gister ‘n groot swerm bye laat verwyder by haar huis.  En sy het ‘n byeliefhebber gekry, wie se hele familie met bye boer en met bye werk.  Kinders, ouers.  Hulle is bye-mense, en dit was blykbaar ‘n plesier om die man dop te hou.  Die gemaklikheid met die bye.  Die hartseer toe dinge bietjie skeef loop, trane wat uit sy oë loop toe in die proses die koningin deel van die koek seerkry, en hy weet, dit is eintlik die einde van die swerm.  ‘n Regte bye-mens!
  • Geen wonder dat Paulus dus soveel moeite doen om die gemeente van Filippi as adelphoi, broers en susters, aan te spreek nie.  Want hy wil die spyker diep inslaan.  Hulle is familie van mekaar, geestelike familie. En dit beteken dat as jy na twee Christene kyk, hulle nie noodwendig soos identiese tweelinge sal lyk nie, maar soos kinders uit dieselfde familie.  Jy gaan egter nie by hulle kyk na die oë, soos by regte families nie, of dit meer ovaal is, en of hulle langer wimpers het, of dieselfde tipe lagplootjies nie.  Jy sal nie eintlik kyk na die haarlyn nie  – of daar nou baie hare is of min – om hulle uit te ken nie
  • Nee, jy gaan kyk na die ooreenkoms in hulle Christelike lewenstyl, die manier waarop hulle in die gemeenskap en in die gemeente optree!  Jy kan sien aan hulle manier van praat, voel en doen, ja, dié mense kom van dieselfde stamboom af, nie soos bloedfamilie nie, maar soos geestelike familie.  Daar is verskille, ja, maar genoeg ooreenkomste, sommige soms so ontwykend dat jy dit nie eers kan plaas nie, maar genoeg van ‘n ooreenkoms om jou te oortuig: hulle is familie, geestelike familie, van dieselfde soort, met dieselfde soort optrede.
  • ‘n Mens sou ook die analogie van ‘n land of nasie kon gebruik. Soms kan jy ooreenkomste tussen mense van dieselfde land sien in hulle uiterlike voorkoms – kleur, lengte, uitdrukkings, taal ensomeer.  Soms is dit nie soseer die uiterlike voorkoms nie, maar die dinge waarvan hulle hou.  Hulle skree vir dieselfde span, of hulle skree vir dieselfde nasionale sport, of hulle eet dieselfde tipe kos, selfs al is hulle in die buiteland.  Ek onthou nog die Chinese meisie van die Doulos wat by ons eenmaal 2 weke gebly het, en ek onthou haar frustrasie met ons “brood”-dieet van daardie tyd.  Sy het gesmag na rys, want dit is haar stapel-dieet.
  • Nou, na aanleiding hiervan, is eensgesindheid wanneer jy na twee Christene kyk, en dit vir jou lyk asof hulle van dieselfde dorp of land af kom.  Hulle skree vir dieselfde tipe helde, en vir dieselfde tipe prestasies.  Hulle huil oor dieselfde tipe goed, en hulle juig oor dieselfde tipe goed.  Dieselfde tipe goed raak hulle harte, bring hulle in beweging – al doen hulle dit verskillend – sommige huil terwyl die trane in hulle keel afloop en jy niks buite sien nie, en ander huil snot en trane.  Maar as jy fyn kyk, sien jy dat hulle ‘n gedeelde hart vir mense en vir die wêreld het.

Hawthorne sê dit pragtig: Eensgesindheid is “a unity of spirit and sentiment in which powerful tensions are held together by an overmastering loyalty to each other as brothers and sisters in Christ”.

Eensgesindheid is dus om dieselfde soort gesindheid te hê, as lede van dieselfde familie op te tree. Om dieselfde tipe dinge te doen, dieselfde tipe dinge te dink, en dieselfde tipe dinge te voel.  Eensgesindheid is nieeendersdenkend nie, maar om dieselfde soort denke, gevoelens en gedrag te hê en lojaal aan mekaar te bly as broers en susters in die Here.

2.  Dieselfde liefde, een van siel, een van strewe

Paulus gaan verder en spel dit uit met ‘n paar ander beskrywings.  Hy kwalifiseer eensgesindheid met drie frases:

  • Eensgesindheid is om: “dieselfde liefde te hê”.  Hy gebruik die woordjie agape – liefde ten spyte van – presies dié tipe liefde wat groter en groter moet groei in ons sodat ons kan onderskei waarop dit regtig aankom (vgl 1:9).  O, hoe belangrik is dit nie!  Om bekend te word as iemand wat nie net lief het ter wille van nie, of lief het vir dié wat vir hom of haar liefhet nie, maar lief het ten spyte van.  Dit is ook een van dié belangrikste maniere waarop ons kan onderskei wie met die liefde van Christus optree in die verskillende debatte wat op die oomblik in ons dagblaaie gevoer word.  Eensgesindheid blyk uit die teenwoordigheid van liefde wat ten spyte van oorkom, nie noodwendig in terme van dieselfde denke of menings nie.
  • Eensgesindheid is om: “een van siel te wees”.  Hy gebruik die woordjie sumpsuchos – “togetherness in soul”, emosies in harmonie.  Waarskynlik lê hieragter die Griekse idee dat ware vriende een siel was wat in twee liggame geleef het.  Hierdie hele idee van harmonie lê ook ingebed in die ervaring van eensgesindheid: nie presies dieselfde gevoelens nie, maar gevoelens wat in harmonie is met mekaar, compatible, versoenbaar.  En onthou, as  ’n mens nie die harmonie ervaar in ’n gemeenskap nie, dan soek jy daarna, praat jy daaroor met mekaar, bid jy met mekaar, loop jy die pad met mekaar, totdat daar ’n harmonie tot stand kom.
  • Eensgesindheid is om: “een van strewe te wees”.  Paulus gebruik die woordjie phronountes – denke in harmonie – NIV vertaal: “being one in purpose”.  Maar belangrik, hierdie eenheid van strewe beteken nie om presies dieselfde gedagtes te hê nie.  Hierdie eenheid van strewe beteken dat ons manier van dink in harmonie kom, soos ’n legkaart wat uit verskillende stukkies bestaan en wat by mekaar pas.

Een van die belangrikste maniere om dié eenheid van gedagtes te bereik, is om eenheid in Christus te soek, en nie in ons eie onvolkome begrip of ervaring van die evangelie (intellektueel of emosioneel) nie.  Ons moet ook veral nie ons onvolledige kennis gebruik as ’n verskoning om mekaar te los of ten minste nie die moeite te doen om mekaar te vind nie.  Hiervoor het ’n mens nederigheid nodig, sowel as baie dapperheid, presies dít wat Christus gedemonstreer het, soos Paulus net hierna sal verduidelik!

3.  Dieselfde gesindheid as Jesus Christus

Maar daar is nog ’n ander kant van eensgesindheid.  Eensgesindheid beteken ten diepste om dieselfde gesindheid as Jesus Christus self te hê, iets waaroor Rethie volgende week meer gaan sê.

Dieselfde gesindheid, sê Paulus in 2:5, moet in ons wees as wat in Christus Jesus was, wat aan die een kant nie skaam was vir wie Hy was nie, maar aan die ander kant nie krampagtig daaraan vasgeklou het nie, en bereid was om met sy woorde, gevoelens en dade vir ons as mense te dien, lief te hê, ten spyte van wie en wat en hoe ons is, en só vir ons ’n voorbeeld gegee het om na te volg.

Om eensgesind te wees, beteken dus eenvoudig om soos-Jesus-gesind te wees.

Wat beteken dit vir ons prakties?

Wel, dit beteken:

  • Dat ons alles in ons vermoë sal doen om alle kinders van die Here om dieselfde tafel te kry.  Dit is wat Paulus onder andere in Antiogië gedoen het.  Hy het hom beywer om die Joodse en heidense Christene in Galasië aan een tafel te kry, sodat hulle eensgesindheid rondom die Nagmaalstafel, as simbool van hulle groter eenheid, kon demonstreer.  En hy het almal aangevat wat dié gemeenskap bedreig het – Petrus, Barnabas – op só ’n wyse dat hulle uiteindelik ook saam aan tafel gesit het (Gal 2).  Ons mag geen ander maatstaf aanlê vir ons gemeenskap met ander gelowiges as die geloof in Jesus Christus nie.  En ons moet alles in ons vermoë doen om gelowiges om een tafel te laat sit, as getuienis van hulle geloof in die Een Here, Jesus Christus.
  • Ek hoor dié week die storie van die ou wat skipbreuk gely het en vir 20 jaar alleen op ‘n eiland moes bly, amper soos met Castaway, Tom Hanks se fliek.  Toe ‘n skip na 20 jaar daar aandoen, en hulle hom daar kry, sien hulle daar is 3 hutte gebou.  Hulle vra toe, waarom 3 hutte?  Hy sê, wel ek het in die middelste een gebly.  En die ander 2?  Nee, daardie een was eers my kerk.  Maar ek gaan nie meer daarnatoe nie, ek het ‘n nuwe een hier gebou.
  • Eenheid tussen kinders van die Here is nie onderhandelbaar nie.  Ek praat nie nou van ‘n fokus op behoeftes of op kommunikasie of iets dergeliks wat jou bediening kan struktureer nie.  Maar ek praat wel daarvan as ‘n mens ‘n onderskeid soos kultuur of etnisiteit as verdelingsbeginsel gebruik, presies die dinge wat die Belydenis van Belhar so helder aanspreek.  Eenheid tussen verskillende kinders van die Here is ‘n gegewe, iets wat God tot stand gebring het, en ons het nie die reg om dit te verander nie.
  • En ek praat hiermee uiteindelik ook nie eers net van die eenheid in ons kerkfamilie nie.  Ek praat van die eenheid wat oor alle grense heen reg oor die wêreld gaan, en wat denominasies in hulle wese uitdaag om eenheid na te jaag en na te strewe, soos Paulus so diepsinnig oor skrywe in sy brief aan Efese.  Terloops, dít is waarom Johannes die gemeente in sy brief aan Efese gewaarsku het dat hulle hulle eerste liefde verlaat het en dit weer moet herwin, die liefde vir God wat die basis is vir hulle liefde vir mekaar … as jou liefde vir Jesus Christus afneem, is daar net nie meer dieselfde samebindende onderlinge krag beskikbaar nie …
  • Dat ons saam sal onderskei wat is belangrik en wat nie – soos Paulus die Filippense aanraai in hoofstuk 1.  Ons mag oor sekere dinge verskil, bv oor kos en wyn, oor die Sondag ensomeer (1 Kor 8-10; Rom 14-15).  Ons moet mekaar toelaat om elkeen sy eie mening daaroor te handhaaf, en ons mag mekaar nie wedersyds veroordeel of verag nie.  Maar, ons moet met mekaar in gesprek bly, selfs daaroor, sodat daar ’n harmonie in gedagtes kan ontstaan.  Ons hoef nie dieselfde te dink nie, maar ons moet dit regkry dat ons verskille nie die onderlinge lojaliteit en liefde bedreig nie.
  • En ons moet ook saam dink oor dié dinge wat regtig belangrik is, waaroor daar eintlik net een legitieme opinie kan bestaan, bv oor Jesus Christus se opstanding (1 Kor 15), of etiese vraagstukke soos bloedskande (1 Kor 6), sodat ons daaroor kan saamstem.  Daarvoor is dit nodig dat ons gereeld bymekaar kom en gesels en bid en reflekteer en weer bid en net nooit ophou nie.
  • En onthou, die uitdaging sal altyd wees om nie net verdraagsaam te wees nie, maar, soos NT Wright sê: “to welcome one another; to rejoice in each other’s presence and the rich diversity of God’s people; and, ultimately, to worship together with one heart, mind and voice”.
  • Dat ons met dieselfde gesindheid saam sal stry vir die evangelie in die wêreld. Paulus skryf hier in hoofstuk 1 vers 27: “Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees”.  Ons stryd vir die evangelie in die wêreld, vir geloof in Jesus Christus, moet ons saamsnoer om die uitdagings van die evangelie die hoof te bied.  En dit beteken nie net dat ons ons geloof in Hom publiek moet handhaaf nie, maar dat ons ook selfs bereid moet wees om daarvoor te ly, soos hy uitspel in 29.
  • Dit is juis waarvoor Paulus in hoofstuk 2 van die troos in Christus, die aansporing van die liefde (van God die Vader), en die gemeenskap deur die Gees praat, want dít is wat God Drie-enig binne ons doen, sodat ons na buite met een liefde, een siel, en een strewe, eensgesind sal optree.  Dan sal mense sien ons is van dieselfde familie, burgers van die hemel, mense wat die kruis van Jesus Christus met oorgawe en trots dra.

Gebed

LEEF

Dankoffer

  • Vonkk 127 – Koor
  • Liedboek 434 – staan
  • Lied 434 se laaste drie reëls – “Maak ons in liefde eensgesind”

Slotlied

Seën

Amen

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.