Skip to main content

04 Bid die Woord

Al die video’s in die reeks is op hierdie Playlist by Youtube.

Die vierde element van gebed vloei uiteraard voort uit die vorige elemente. Waar ons deur aanbidding en wag op die Here in sy teenwoordigheid gekom het, en ons alles wat skeiding maak tussen ons uit die weg geruim het, kan ons die beloftes van die Here aangryp en in gebede omskep.

Die vierde element is dus om die Woord te bid. Veral waar ‘n mens reeds op die Here gewag het en ‘n belofte van Hom gekry het. Hierdie deel van die gebed is gemik daarop om waar jy reeds ‘n belofte gekry het, die Here doelbewus te herinner aan sy beloftes.

Ons lees in Jesaja daarvan:

6 Op jou stadsmure, Jerusalem, het ek wagte uitgesit. Dwarsdeur die dag en nag sal hulle nie ‘n oomblik lank swyg nie. Julle wat die Here herinner aan sy beloftes, gun julleself geen rus nie! 7 Gun Hom ook geen rus nie, totdat Hy haar gevestig het, totdat Hy Jerusalem ‘n loflied op aarde gemaak het! (Jes 62:6-7)

Dit is ‘n merkwaardige opdrag hierdie van Jesaja:

6Gun julleself geen rus nie … 7maar gun Hom ook geen rus nie … totdat Hy haar gevestig het!”

Totdat God sy belofte nagekom het om Jerusalem – die geloofsgemeenskap – ‘n loflied op aarde te maak.

Jesaja roep hier die geloofsgemeenskap op om die beloftes wat die Here reeds oor Jerusalem uitgespreek het, om sonder ophou dié beloftes voor God te bring, totdat Hy dit vervul.

Ons lees daarvan in twee geloofshelde se lewe. Die eerste is Dawid.

Dawid

Julle ken die verhaal. Dawid wou ‘n huis vir die Here bou. Die Here het egter anders besluit. Hy het besluit om vir Dawid ‘n huis te bou. In 2 Sameul 7 het God ‘n omvangryke belofte aan Dawid gemaak wat ook nie net vir sy nageslag van betekenis sou wees nie, maar uiteindelik vir die hele wêreld met die Messias wat uit sy nageslag gebore sou word.

En dan word hierdie gebed vir ons opgeteken. Dawid se reaksie op die belofte van God.

25 Here, God, doen dan nou die woord gestand wat U gespreek het oor u dienskneg en sy huis, vir altyd; doen wat U gesê het26 sodat u Naam vir ewig groot sal wees, en daar gesê sal word, ‘Die Here, Heerser oor alle magte, is God oor Israel.’ En wat die huis van u dienskneg Dawid betref, mag dit voor U in stand bly, 27 want U, Here, Heerser oor alle magte, God van Israel, het aan u dienskneg dit geopenbaar, en gesê, ‘’n Huis sal Ek vir jou bou.’

Let op die groot vrymoedigheid waarmee Hy die Here nou kan aanspreek, die moed waarmee Hy sy gebed kan bid:

Daarom het u dienskneg die moed om hierdie gebed tot U te bid. 28 En nou, Here, my Heer, U is God, en u woorde is betroubaarU het hierdie goeie woord oor u dienaar uitgespreek29 Wees dan nou bereid om die huis van u dienskneg te seën, sodat dit vir altyd voor U sal wees. U, Here, my Heer, het dit immers self gesê, en deur u seën sal die huis van u dienskneg altyd geseënd wees.” (2 Sam 7:25-29)

Die tweede voorbeeld is Daniël.

Daniël

Daniël is weggevoer na Babel saam met die ander elite van Jerusalem. Dit was in die derde regeringsjaar van Jojakim, dws 605 vC (Dan 1:1; vgl Jer 25:1; 2 Kon 24:1 en 2 Kron 36:6). Daniël het waarskynlik van die profesieë van Jeremia gehoor terwyl hy nog in die land Israel was. Maar die profesieë is telkens ook na Babel gestuur. Want, sommige van die profesieë was direk gerig aan die Jode in Babel (bv Jer 24; 29). Daniël het dus ook in Babel kennis geneem daarvan. Trouens, hy kon ‘n kopie daarvan lees saam met die res van die “boekrolle” van die OT wat teen daardie tyd al as kanoniek aanvaar is en vir hom in ballingskap beskikbaar was.

Daniël is nou al ‘n ou man van so ongeveer 80 jaar oud. In die eerste jaar van koning Darius, ook Kores genoem, het Hy in sy Bybelstudie uit Jeremia agter gekom dat daar ‘n besondere belofte in die Bybel was. Ons lees in Daniël 9:

1 In die eerste regeringsjaar van Darius, seun van Ahasveros, uit die nageslag van die Mede, wat as koning aangestel is oor die koninkryk van die Galdeërs, 2 in die eerste jaar van sy koningskap, het ek, Daniël, in die boekrolle opgemerk dat die getal jare wat moes verloop vir die puinhope van Jerusalem, waaroor die woord van die Here tot Jeremia gekom het, sewentig jaar sou wees. 3 Ek het my tot God, my Heer, gewend om Hom in gebed en smeking te soek, deur te vas, in ‘n roukleed en met stof op die kop. (Dan 9:1-3)

Daniël het die boekrol van Jeremia geneem. Op twee plekke het Jeremia daaroor geskryf dat die ballingskap sewentig jaar sou duur. Jeremia 25:11-12 en 29:10. Dit is nou 539 vC, amper sewentig jaar sedert Daniël in ballingskap gegaan het.

Met dié inligting wend Daniël hom na die Here God in gebed en smeking terwyl hy die erns van sy gebed bevestig met ’n vas.

Ons lees dat Daniël homself vereenselwig met die volk in hulle sonde en ellende. Hy bely sy eie en die volk se sonde, maar beroep hom dan op God se barmhartigheid en vergifnis en vra dat die Here die stad Jerusalem sal herstel. En dan bid hy dat God sy belofte in vervulling sal laat gaan:

19 My Heer, hoor tog! My Heer, vergewe tog! My Heer, gee tog aandag en tree op! Moenie talm nie, om u eie ontwil, my God, want u Naam is uitgeroep oor u stad en u volk.”

Dit is merkwaardig om net daarna die Here se antwoord in vers 20 te lees:

20 Terwyl ek nog besig was om te praat en te bid … ja, terwyl ek nog praat in die gebed …

het Gabriël hom aangeraak en die nuus gebring dat God die herstel van Jerusalem beveel het. Trouens, die Here gee vir Daniël ‘n visie op die Messias wat sal kom.

Daar is talle sulke verhale in die OT en NT. Waar die beloftes van die Here in vervulling gebid is. Wat ons uitnooi om die Here te vertrou om dieselfde ook vir ons te doen.

Al die beloftes in die Bybel is “ja” in Jesus Christus

Dieselfde geld gelowiges in die NT. Paulus skryf aan die Korintiërs:

20 Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle “ja” en “amen”. (2 Kor 1:20)

Dit is die erfenis van elke kind van God.

Die hele Bybel is ‘n belofteboek. Dit is ‘n boek van beloftes waarop ons ons gebede kan skoei.

Soos jy sistematies deur die Bybel werk, kan jy vrymoedigheid neem om die beloftes te omkring en in jou gebede in te werk. Die verhale van Dawid en Daniël nooi jou uit om die Woord biddend te lees totdat ‘n gedagte uit die Woord jou aandag vasvang, en jy dit in ‘n gebed kan omskakel.

Soos Andrew Murray sê:

“Dit is op gebed dat die beloftes wag om vervul te word, die koninkryk vir sy koms, die eer van God vir die volle openbaring daarvan.”

George Müller

Hierdie manier van bid beloof om jou siening van gebed heeltemal te verander. Elke teks wat jy lees – in jou stiltetyd, in ‘n preek, in ‘n boek – raak ‘n potensiële bron vir ‘n belofte van die Here wat jy in ‘n gebed tot die Vader kan omvorm.

Daar is ‘n boek oor die groot gebedsheld George Müller, Answers to Prayers, op sy webtuiste beskikbaar, wat saamgestel is uit werklike verhale uit sy lewe waar hy presies dit gedoen het.

‘n Mens lees basies van twee maniere waarop dit in sy lewe gewerk het. Die eerste is dat hy in sy normale stiltetyd ‘n teksgedeelte gelees het totdat ‘n spesifieke insig, belofte of opdrag hom aangespreek het, en hy daarvan ‘n spesifieke gebed gemaak het.

Die tweede is dat hy ‘n spesifieke behoefte voor die Here gebring het, vir ‘n belofte in die Skrif gesoek het en dit dan aangegryp het om ‘n spesifieke versoek aan die Here te rig. En soos George Müller sê, hy het nooit een onbeantwoorde gebed gehad nie.

Een verhaal as voorbeeld. George se vrou, Mary, se pa is in 1835 oorlede en hulle vyftien maande oue babaseun het siek geraak en gesterf. Mary was depressief en George het erge maagprobleme ontwikkel. Die ergste was dat hulle geen geld oor gehad het nie.

In hierdie tyd het hy en sy vrou ’n sagte hart ontwikkel vir al die weeskinders in Engeland, maar hoe begin jy ’n kinderhuis sonder geld?

Op 5 Desember 1835 het hy Psalm 81:11 gelees en is meer as ooit tevore getref deur die woorde:

“Maak jou mond wyd oop,  sodat Ek dit kan vul.” (Psalm 81:11)

Hy sê in sy dagboek:

“Ek het ‘n paar oomblikke oor hierdie woorde nagedink en is daarna gelei om dit toe te pas op die geval van die Weeshuis. Dit het my opgeval dat ek nog nooit vir die Here enigiets gevra het daarvoor nie, behalwe om Sy wil te ken, met respek vir wat Hy wil doen of nie. Ek val toe op my knieë en maak my mond wyd oop, en vra Hom vir baie. Ek het my onderwerp aan sy wil, sonder om ‘n tydsbeperking te gee vir wanneer hy my gebed moet beantwoord. Ek het gebid dat Hy my ‘n huis sal gee, óf as ‘n lening, óf dat iemand daartoe gelei kan word om die huur te betaal,  of dat ‘n huis permanent vir hierdie doel gegee sal word. Verder, het ek Hom gevra vir £ 1000; en ook vir geskikte individue om na die kinders om te sien.”

Hy het ook vir meubels en klere vir die kinders gevra.

  • Vyf dae later, op 10 Desember, het twee mense gevra om by die beoogde kinderhuis te kom werk, en hulle het al hulle meubels geskenk.
  • Agt dae later, op 13 Desember, het nog twee mense besluit om by die kinderhuis te kom werk, ook met meubels en al, en iemand het £ 10 gegee (in maandelikse paaiemente).
  • Twaalf dae later, op 17 Desember, het mense klere begin skenk, en ‘n ander persoon het £100 belowe vir die jaar.
  • ‘n Jaar en half later, op 15 Junie 1837, is die finale £ 5 gegee om die bedrag van £ 1000 vol te maak. Sonder dat hy ooit enigiemand vir enigiets gevra het. Hy het die saak net met die Here deurgepraat.

Dit was die patroon regdeur sy lewe. Hy het op God alleen vertrou en nooit in al sy jare vir iemand geld gevra nie. Die Here het gesorg dat hy in sy leeftyd vir 10 000 weeskinders kon omgee.

Inderdaad:

“Maak jou mond wyd oop,  sodat Ek dit kan vul.”

’n Belofte uit dié Psalm wat menige lewe al aangeraak en verander het. Dis die prentjie van ’n klein voëltjie in ’n nessie wat wag vir die kos wat sy ma of pa bring.

Laat dié vers jou vandag inspireer om dieselfde, en méér, van God te verwag!

Prakties

Ek gaan jou eers geleentheid gee om goed na te dink oor watter behoeftes die Here op jou hart lê met sagte musiek op die agtergrond (Always). Daarna gaan ek die teks uit Psalm 81:11 lees, en jou tyd gee om die belofte daarin in ‘n gebed vir die Here te omskep. Ek sluit oudergewoonte met die laaste deel van die Ons Vader.

Gebed

Watter behoeftes lê die Here nou op jou hart?

Stilte

Maak jou mond wyd oop,  sodat Ek dit kan vul.” (Psalm 81:11)

Stilte

13 Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. (Matt 6:13)

Die vyfde gebed is Waak.

Al die video’s in die reeks is op hierdie Playlist by Youtube.

View all posts in this series

Waak en bid - Pinkster 2021

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.