Johannes 20:1-18 – Paasfees – Ontmoet die opgestane Here Jesus – 31 Maart

Verwelkoming

Toetrede

Responsories  – gemeente kursief gedrukte gedeeltes

Wat moet ons met hierdie dag doen?

Wanneer grafte oopgaan…

Dooies opstaan…

Wanneer lewe nie gekeer kan word nie…

Dan is niks onmoontlik nie!

Hoop kan nooit geblus word nie

En liefde nooit vergaan nie.

Here Jesus, ons loof U vandag,

Omdat U vir ons duidelik gewys het dat die dood nie die laaste woord spreek nie;

Omdat U ons weer kom vul het met hoop en geloof;

Omdat U ons oë kom oopmaak het vir nuwe moontlikhede, nuwe realiteite, nuwe maniere van leef.

Open ons verstand om te glo wat ons nie kan verklaar nie;

Open ons harte om te hoop op wat ons nie kan sien nie;

Open ons lewens om te leef en lief te hê te midde van dood en hartseer;

Laat die opstanding vandag weer in ons gebeur.

Amen.

Lied 409 Hoor jy die Paasfeesklokke? – 3 verse – sit

Votum

Responsories

Liturg:  Die Heer het opgestaan!

Gemeente:  Die Heer het waarlik opgestaan!

Liturg:  Die Heer het opgestaan!

Gemeente:  Die Heer het waarlik opgestaan!

Seëngroet

Lofsang

Lied 425 Kyk die Heer het opgestaan – 4 verse – staan

Voorlesing

1 Kor. 15:19-26

19As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.

20Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het. 21Aangesien die dood deur ’n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur ’n mens gekom. 22Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word. 23Maar daar is ’n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort. 24Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het. 25Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het. 26Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.

Lied 423 Kom laat ons almal vrolik voor God die Here sing! – 3 verse – staan

Doopherinnering / Geloofsbelydenis

Liturg [by doopvont]:

Ons onthou vandag dat ons deur ons doop saam met Christus gesterf het en begrawe is.  Ons weet egter dat ons ook saam met hom opgewek is tot ’n nuwe lewe.  Daarom bevestig ons opnuut die beloftes wat by ons doop gemaak is.  Ons bely opnuut ons verbondenheid aan Christus.  Ons verwerp opnuut die selfsugtige werke in ons lewe voordat Christus vir ons ’n werklikheid was.

Liturg:  Bely jy jou sonde met berou?

Gemeente:  Ek bely my sonde met berou.

Liturg:  Daar jy om na Christus toe?

Gemeente:  Ek draai om na Christus toe.

Liturg:  Het jy saam met hom gesterf?

Gemeente:  Ek het saam met hom gesterf.

Liturg:  Het jy saam met hom opgestaan?

Gemeente:  Ek het saam met hom opgestaan.

Liturg:  Bely dan jou geloof in die drie-enige God.

Gemeente:   Ek glo in God die Vader, wat alles geskep het.  Ek vertrou sy Seun, wat die mensdom kom verlos het.  Ek glo in die Heilige Gees, wat my daagliks vernuwe en lei.

Liturg:

Die water is ’n simbool

  • Van reiniging:  dat God my sonde en skuld afwas.
  • Van my dood:  die ou mens sterf asof sy/hy verdrink.
  • Van nuwe lewe.

(Uit:  Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle, Lux Verbi.BM, 2001)

Lied 414:  Juig verlostes, juig en sing – 2 verse – sit

Gebed

Skriflesing Johannes 20:1-18

Johannes vertel ons in hoofstuk 20-21 van vier verskynings van Jesus na die opstanding.  Hy verskyn eerste aan Maria Magdalena, tweede aan die dissipels, derde aan Tomas wat nie by was met Jesus se tweede verskyning nie en laastens (hfst. 21) aan die dissipels by die meer, waar Jesus spesifiek vir Petrus intrek en heraanstel in sy rol as herderleier (laat my skape wei).

Daarmee lewer Johannes getuienis af van die werklikheid van Jesus se opstanding uit die dode en van die wyse waarop Jesus se opstanding alles verander.  En dit alles berus op die ooggetuie verslag van dié mense, mense wat naby aan Jesus gelewe het, wat die gebeure van die evangelies van die binnekant af ervaar het en wie se lewens diepgaande verander is deur Hom.

Daarmee bereik Johannes se evangelie dan ook sy hoogtepunt, want Hy skryf juis hierdie klompie verhale van Jesus se wondertekens, sy gesprekke, en sy verskynings om ons te oortuig dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat ons deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (Joh. 20:31).  Jesus staan op om as die teenwoordige Here ons lewens betekenis te gee.

Nuwe Kerkbybel teks van Johannes evangelie

Die leë graf

(Matt 28:1-8; Mark 16:1-8; Luk 24:1-12)

En vroegoggend op die eerste dag van die week,f terwyl dit nog donker was, kom Maria Magdalenag by die graf en sien dat die klip van die graf verwyder is. Sy hardloop toe en gaan na Simon Petrush en na die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het, en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.”* Petrus en die ander dissipel het toe vertrek en na die graf toe gegaan. Die twee het saam gehardloop, maar die ander dissipel het vooruit gehardloop, vinniger as Petrus, en eerste by die graf aangekom. Toe hy vooroor buk,i sien hy die linnedoeke lê; hy het egter nie binnegegaan nie. Maar toe Simon Petrus wat hom gevolg het, daar aankom, het hy die graf binnegegaan en die linnedoeke daar sien lê, en die doek wat op sy kop was.* Dié doek het nie by die linnedoeke gelê nie, maar was eenkant afsonderlik opgerol. Ook die ander dissipel, die een wat eerste by die graf gekom het, het binnegegaan, en hy het gesien en geglo. Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Hy uit die dood moes opstaan nie.j 10 Daarna het die dissipels weer huis toe gegaan.

Jesus verskyn aan Maria Magdalena

(Matt 28:9-10; Mark 16:9-11)

11 Maar Maria het buitekant by die graf staan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor na die graf toe gebuk, 12 en twee engele met wit klere aan daar sien sit waar die liggaam van Jesus gelê het — een waar sy kop en een waar sy voete was. 13 Hulle sê toe vir haar: “Vrou, waarom huil jy?” Sy antwoord hulle: “Hulle het my Here weggevat en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.”* 14 Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en Hom daar sien staan, maar nie besef dat dit Jesus was nie.* 15 Jesus sê vir haar: “Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?” Sy het gedink Hy is die tuinier en sê toe vir Hom: “Meneer, as u Hom verwyder het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem.” 16 Jesus sê vir haar: “Maria!” Sy draai toe om en sê vir Hom in Hebreeus:k “Rabboeni!”l Dit beteken Leermeester. 17 Jesus sê vir haar: “Moet My nie aanraak nie, want Ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Maar gaan na my broers* en sê vir hulle, ‘Ek vaar op na my Vader, en julle Vader, en na my God en julle God.’ “ 18 Maria Magdalenam gaan vertel toe aan die dissipels: “Ek het die Here gesien,” en dat Hy hierdie dinge vir haar gesê het.

Woordverkondiging

Die leë graf

Ons teks begin waar Maria Magdalena, Petrus en die ander dissipel (Johannes) by die graf aankom.  Hulle sien die klip is van die graf weggerol.  Vir Maria beteken dit net een ding: Hulle het die Here Jesus uit die graf weggevat, en sy weet nie waar Hy nou begrawe is nie.

Petrus en Johannes bekyk die leë graf, maar dit maak nie vir hulle sin nie.  Duidelik het die dissipels nie rekening gehou met die moontlikheid dat God Jesus uit die dood sou opwek nie.  Vir hulle is die graf, nou die leë graf, nog onverstaanbaar.

Daarom huil Maria.  Eers was daar darem nog die liggaam van die Here, wat sy volgens Joodse gebruik sou kon versorg.  Maar nou is daar niks.  Ook die stoflike oorskot van Jesus is weggeneem en iewers anders begrawe.

Die dissipels, Petrus en Johannes, sien die leë graf.  Dan draai hulle om en gaan huis toe.  “Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie.” (vers 9).

Verslaentheid oorheers

Hulle verslaentheid voor die dood is so groot, dat dit nie ruimte laat vir God se ingrepe nie.  Stil Saterdag, die dag na Jesus se dood, die dag waarop graf en dood die botoon voer, spoel nog oor na die Sondagmôre vroeg.

Feite, plekke en gebeure kan ook net soveel sê.  Hoewel die feite belangrik is, want dit bevestig die gebeure rondom Jesus se opstanding, is dit nog nie genoeg nie.  Hoop, uitsig en moed word slegs gebore waar Jesus self die toneel betree.

Die ontmoeting met Jesus

Johannes die evangelis vertel op meesterlike wyse hoe Maria se nagmerrie in ʼn oogwink verander wanneer Jesus Homself aan haar openbaar.  Jesus noem haar op haar naam: “Maria!” Oombliklik herken sy, wat vir ʼn oomblik gedink het Hy is die tuinopsigter, vir Jesus.  Sy roep uit: “Rabboeni!  Leermeester!”

Op hierdie oomblik, in die ontmoeting met die lewende opgestane Jesus, ontdek sy Jesus se ware identiteit.  Soos sy dan vir die ander dissipels gaan sê: “Ek het die Here gesien!”

Jesus is Here

Maria en die dissipels se ontdekking van Jesus se ware identiteit as die Here, is die fokus van die Johannes evangelie (Jan A du Rand).  Die belofte van Johannes 1 dat Jesus God is, die verskeie “Ek is”-uitsprake oor Jesus in Johannes, soos: “Ek is die lig vir die wêreld” (Joh. 8:12) of “Ek is die Goeie Herder” (Joh. 10:11), dié word nou vervul. 

Maria Magdalena eien Hom in die teks as die een wat sy as haar geliefde Leermeester geken het, maar nou ook as meer as dit: “Hy is die Here”, sê sy vir die ander dissipels.  En aanstons kry Tomas die twyfelaar die voorreg dat Hy kan sê wie Jesus regtig is: “My Here en my God” (Joh. 20:28).

Jesus leef anderkant die dood

Stil Saterdag word op Paassondag verbreek met die jubeling: Die Here leef!  Die Leermeester het as Here opgestaan!

Die opgestane Jesus, waarlik God maar ook waarlik mens, is die eerste skepping van God wat anderkant die dood opgestaan het in ʼn nuwe lewe.  Anders as Lasarus, en ander persone wat lewend gemaak is, maar weer sou sterf, leef Jesus nou in die volste sin van die woord anderkant die dood.

Jesus se opstanding lui die doodsklokke vir stil Saterdag.  Jesus is die eerste wat uit die dood opgestaan het.  Sy opwekking is ʼn belofte van hoop vir die res van God se skepping.  Soos sy gebreekte bestaan heel gemaak en opgewek is uit die graf, sal God ook met God se kinders en God se skepping handel.

Die opgestane Here versterk ons geloof

Presies met hierdie doel skryf Johannes se Evangelie.  Sy bedoeling is om Christene, wie se lewe en wie se wêreld dikwels deur swaarkry gekasty word, aan te moedig om te bly glo dat Jesus die ware Messias, die Seun van God is.

Ons teks is die hoogtepunt van Johannes se evangelie, want Hy skryf juis hierdie klompie verhale van Jesus se wondertekens, sy gesprekke, en sy verskynings om ons te oortuig dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat ons deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (Joh. 20:31).  Jesus staan op om as die teenwoordige Here ons lewens betekenis te gee.

Geloof gebou op ooggetuies

Ons leef in die wetenskaplike era waar feitelike waarneming, verifikasie en ook falsifikasie belangrik is.  Hierdie manier van doen het ’n groot impak op geloof.  Hoekom?  Want baie mense gebruik die wetenskaplike metode – waarin alles betwyfel word – om geloof in die opgestane Here te betwyfel.  Omdat die opstanding nie in ʼn laboratorium herhaal kan word nie, sê mense dit maak nie sin om te glo nie.  Met groot oortuiging word dan  ʼn teorie ontwerp wat sê Jesus het nooit opgestaan nie, want ons kan dit nie vandag in ‘n laboratorium herhaal nie.

Trouens daarom bestaan God ook nie, omdat jy nie met feitelike waarneming in ‘n laboratorium God se bestaan kan verifieer nie. En wonderwerke kan per definisie nie plaasvind nie, omdat jy dit nie in ‘n laboratorium kan bewys deur eksperimente nie.

Christene is natuurlik nooit teen wetenskaplikheid as sodanig nie.  Wetenskapsbeoefening maak ons wêreld  ʼn beter plek.  Dit bekamp baie lyding en laat ons met groter verwondering oor die glorie van God. 

Die vraag is egter of wetenskaplike verifikasie metodes vir alles in die wêreld gebruik kan word.  Dit werk goed vir feitelike waarneming in terme van fisika, chemie, biologie, geologie en so meer.  Maar dit werk nie so goed met alles in die menslike, sosiale en historiese dissiplines nie.  Daar is net te veel veranderlikes wat ontoetsbaar is of doodgewoon nie met instrumente waargeneem kan word nie.  En om die bestaan of nie-bestaan van iets te beoordeel op grond van wat jyself kan waarneem of nie, is ’n onaanvaarbare en eintlik arrogante reduksie van die wêreld om ons tot net die wêreld van jou eie waarnemings.

‘n Mens moet in die menslike, sosiale en historiese dissiplines baie keer werk met ervarings en getuienisse wat jy nie in ’n laboratorium kan reduseer tot ’n beperkte aantal toetsbare veranderlikes om as waar of vals te bewys nie.  Jy kan ervarings en getuienisse beter ondersoek deur dit aan  interpretasie en vrae van sin en betekenis te onderwerp om só by die waarheid daarvan uit te kom.

Met geloof is dit nie anders nie.  Ons werk met ervarings en getuienisse – nie net persoonlik en in die hede nie, maar ook in terme van gebeure in die samelewing en getuienisse daarvan deur die eeue.

In ʼn boek wat diep hieroor nadink en tog maklik lees, Jesus, A very short introduction, skryf Richard Bauckham (gerespekteerde Nuwe Testamentikus) hieroor.  Bauckham wys op belangrike oorwegings wat ons kan aanlê om die historisiteit en betekenis van die opstandingsverhaal te verreken:

  • Die evangelies doen moeite om te vertel dat daar ooggetuies was wat die leë graf en die opgestane Here gesien het.  Maria Magdalena was een van vier vroue (wat genoem word) by Jesus se kruis.  Hulle het Hom sien sterwe.  Hulle was by sy begrafnis, het Hom self in doeke toegedraai.  Hulle het gesien hoe die klip voor die graf toegerol is.  Hulle het eerstehands ervaar dat Jesus wreedaardig gesterf het, en het geweet dat Hy beslis nie meer gelewe het nie.  Daarom is dit so belangrik om te hoor dat Maria Magdalena op hierdie Sondagmôre die eerste was om die leë graf te sien en uiteindelik die lewende Here Jesus self ontmoet.  En hierna sou daar ‘n hele reeks van mense volg wat die lewende Here Jesus self sou ontmoet – almal ooggetuies wie se getuienis die toets van hulle eie tyd sou deurstaan, ten spyte van teenstand van die Jode af.
  • Vroue was die eerste getuies van die opstanding.  In die antieke wêreld is vroue nie as betroubare getuies gereken nie.  Ons sien dit ironies genoeg in die feit dat die eerste manlike dissipels sukkel om Maria Magdalena se getuienis te glo.  Daarom hardloop hulle om self te gaan kyk – net om presies dieselfde te sien en ervaar as Maria Magdalena.  As die opstandingsverhale opgemaakte stories was, sou die skrywers waarskynlik eerder  manlike karakters die hoofspelers gemaak het.  Die evangeliste kon doodgewoon begin het met die storie van Petrus en Johannes.  Die feit dat hulle getrou bly aan die feite, dat vroue die eerste getuies was, bevestig dus die betroubaarheid van die getuienis.
  • Die dissipels ontmoet die opgestane Here by verskeie geleenthede.  Paulus verskaf ʼn hele lys van 6 sulke persoonlike ontmoetings (1 Kor. 15), onder andere ook ’n verskyning aan ‘n groep van 500 mense op ’n keer en interessant genoeg ook ’n verskyning aan Jakobus, Jesus se broer, wat later die leier van die kerk in Jerusalem sou word.  Terwyl Paulus skryf, leef die meeste van hierdie mense nog.  Enigeen kon hulle gaan raadpleeg en die waarheid van hulle verhale gaan bevestig.  En niemand betwis hulle ervarings en getuienis nie.  Daarom sê Bauckham:

The kind of evidence Paul offers is the personal testimony of many specific people who each had a story to tell – not, of course, of some neutrally observable fact, but of something extraordinary that happened to them and turned their lives around.  These were the people still living out of the events to which they testified (p 106)

Uit Johannes, Paulus en die ander evangeliste se beskrywing van die opgestane Jesus kan ’n mens agterkom dat Jesus herkenbaar is, steeds kommunikeer soos ons dit doen, en ’n werklike, verheerlikte liggaam het, want  ’n mens kan aan hom vat, en hy gee vir hulle kos om te eet.  Maar hy is ook anders, omdat hy kan verskyn en verdwyn soos Hy wil.  Hy is dus nie aan ruimte gebonde soos die dissipels nie. En telkens verander Hy die lewe van dié aan wie Hy verskyn het.

Dit maak dus sin, heeltemal rasioneel sin, om jou geloof op hierdie getuienis te bou.  Die ervarings en getuienisse van hierdie groot groep dissipels bevestig die ontmoeting van die Here Jesus as opgestane werklikheid, ’n werklikheid wat gou die hele wêreld aan die praat gehad het en wat selfs in die geskiedskrywing van ’n hele aantal nie-gelowiges historici ’n neerslag gekry het, Josephus en Tacitus, om twee te noem.

Die teenwoordige Jesus

Sien,  ’n mens moet versigtig wees dat jy nie by die leë graf en die doek vashaak nie.  Ten diepste glo Christene nie in die leë graf nie.  Ons glo selfs in veel meer as die objektiewe feit van die opstanding.  Ons glo in die lewende Here Jesus.  En ons glo in die nabyheid en teenwoordigheid van hierdie Here, tot vandag toe.  Ons glo … in die Here!

Dit kan wees dat ons dalk te veel oor die historisiteit en werklikheid van die opstanding praat, en hopeloos te min oor die teenwoordigheid van die Here Jesus.  Die leë graf fassineer ons miskien net te veel.  Dit is immers die teenwoordige Jesus wat ons lewens verander en wat ons fokus moet wees.

Reeds in die Johannes evangelie verander hierdie lewende Here Jesus lewens sovêr Hy gaan.  Maria se trane word afgedroog en vervang met vreugde.  Tomas se twyfel verdamp voor die nabyheid van Jesus, en word vervang met geloof.  Die dissipels se lewens word gevul met vreugde en vrede.  Die weifelende, onseker Emmaüsgangers word getuies van die opgestane Here met brandende harte.

Draers van hoop

Jesus skep ʼn nuwe, dinamiese beweging.  Maria Magdalena word ʼn draer van hoop.  Sy gaan na die dissipels en getuig sy het die Here gesien!  Só verander die lewende Here Jesus Petrus en Johannes se lewe, asook Tomas s’n en Jakobus en Paulus en honderde Christen getuies in die eerste jare van die kerk se bestaan.  En almal van hulle word draers van hoop – die hoop op die lewende Here Jesus, die hoop op die ewige lewe wat nie eers eenmaal aanbreek nie, maar nou sin en betekenis vir ons lewe bring.

Johannes sluit hierdie evangelie af deur vir ons te vertel dat Jesus sy dissipels die Heilige Gees gee, en hulle betroubare en kragtige draers van sy troosvolle, bemoedigende en versterkende teenwoordigheid maak: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle…”  

Dit is aan hulle te danke dat ons vandag mense is wat self getuies is van die lewende Here Jesus en wat dié boodskap nie net voortleef in hierdie wêreld nie, maar ook vir ander daarvan vertel.

Gebed

Dankoffer

Slotlied

Lied 417 Jesus, ons eer U – 2 verse – staan

Wegsending

Psalm 118:1-2, 14-18

Liturg: Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!

Israel moet getuig:

Gemeente: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.”

Liturg: Die huis van Aäron moet getuig:

Gemeente: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.”

Liturg: Dié wat die Here dien, moet getuig:

Gemeente: “Aan sy liefde is daar geen einde nie.”

Liturg: Die Here is my krag en my beskerming.

Dit is Hy wat my gered het!

Hoor die gejuig in die laer van die oorwinnaars:

Gemeente: “Die Here doen kragtige dade,

die Here triomfeer,

die Here doen kragtige dade!”

Liturg: Ek sal nie sterwe nie, ek sal lewe

en van die dade van die Here getuig.

Die Here het my swaar gekasty, maar my nie aan die dood oorgegee nie.

Seën

Liturg:  Jesus Christus is die opstanding en die lewe.

Gemeente:  Hy is ons vrede.

Liturg:  Wie in hom glo, sal in ewigheid nie sterwe nie.

Gemeente:  Hy is ons vrede, nou en tot in ewigheid.  Amen

(Uit:  Handleiding vir die Erediens, B.M.)

Respons

Lied 189 Halleluja! – staan


 f20:1 eerste … week: Letterlik “op die eerste van die Sabbatte”, dws Sondag, vgl Joh 20:19; Hand 20:7 [Sabbat in Grieks kan ook week beteken].

 g20:1 Maria Magdalena: Die bronteks noem haar deurgaans “Maria van Magdala”. Magdala is ‘n dorpie aan die wesoewer van die See van Galilea.

 h20:2 Petrus: Die naam Petrus beteken “rots”.

 *20:2 na die ander … liefgehad het: Joh 13:23; 19:26; 21:7,20; Hulle het … het nie: Joh 20:13

 i20:5 vooroor buk: Baie van die destydse rotsgrafte was nie ‘n volle meter hoog nie, met die gevolg dat ‘n persoon vooroor moes buk om in te kyk of in te gaan.

 *20:6-7 die linnedoeke … kop was: Joh 11:44

 j20:9 Hulle het … opstaan nie: Toespeling op Ps 16:10 as heenwysing na Jesus Christus; vgl Luk 24:26-27; Hand 2:27,31; 1 Kor 15:4.

 *20:13 Hulle het … het nie: Joh 20:2

 *20:14 nie besef … was nie: Luk 24:16; Joh 21:4

 k20:16 Hebreeus: Vgl Hand 21:40.

 l20:16 Rabboeni: ‘n Eerbiedige aanspreekvorm in Aramees wat “my Meester” beteken.

 *20:17 my broers: Rom 8:29; Heb 2:11-12

 m20:18 Maria Magdalena: Die bronteks noem haar deurgaans “Maria van Magdala”. Magdala is ‘n dorpie aan die wesoewer van die See van Galilea. 

     

Trackback from your site.

Comments (1)

  • Avatar

    Petra Marneweck

    |

    Die inhoud van die preek bevestig wat hierdie week in ons Bybelstudiegroep bespreek is en versterk my geloof dat Jesus opgestaan het. Baie dankie vir die besondere boodskap

    Reply

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Pieter

    Jy kan uiteraard lees wat ek self oor Romeine en Efesiërs geskryf het:

    Maar, as jy ‘n bietjie dieper wil delf, kan jy kyk na die volgende bronne:

    • Faithlife Study Bible (korter kommentaar oor die hele Bybel)
    • NET Bible (kort tekstuele kommentaar oor die hele Bybel – gratis op YouVersion se Bible app)
    • Scripture Direct (uitstekende woordverklarings oor die hele NT – gratis as app)
    • Keener, C. S. The IVP Bible Background Commentary: New Testament (Second Edition). IVP Academic. 2014.
    • Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. 1993
    • Van Zyl, A. H.. Die Bybel verklaar: 1983-vertaling. Kaapstad: Lux Verbi. 1993

    Dan is daar natuurlik volbloed kommentare.
    Op Romeine:

    Op Efesiërs:

    • Lincoln, Andrew T. Ephesians WBC 1990
    • Bruce, F. F. The Epistles to the Colossians, to Philemon, and to the Ephesians NICNT
      1984
    • Foulkes, Francis Ephesians TNTC 1989
    • Stott, John R. W. The Message of Ephesians BST 1991
    • Fowl, S. E. Ephesians: A Commentary. Westminster John Knox Press 2012
    • Roberts, J. H. Die brief aan die Efesiers. N G Kerk-Uitgewers. 1990
    • William Barclay http://www.dannychesnut.com/Bible/Barclay/Galatians%20and%20Ephesians.htm
  • Avatar

    Pieter

    |

    Naand Chris.
    Kan jy my dalk help met goeie bronne om studie van Effesiers en Romeine te doen.
    Dankie vir jou wonderlike werk en leeringe

  • Avatar

    Petra Marneweck

    |

    Die inhoud van die preek bevestig wat hierdie week in ons Bybelstudiegroep bespreek is en versterk my geloof dat Jesus opgestaan het. Baie dankie vir die besondere boodskap

  • Avatar

    Dean van Wyk

    |

    Baie dankie Rethie vir hierdie inspirerende boodskap. Ek is oorspronklik van PE en woon nou 20jaar lank in PTA.
    In my stiltetyd vanoggend het ek Fil 2:12b-13 gelees en dit kan net deur die Gees van God wees dat ek op hierdie preek afgekom het.

    God seën jou bediening en geniet die see( ek beny julle).

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Hansie. Die Here is goed vir ons.