Skip to main content

Jesaja 40:1-11 – Erediens: God versorg sy volk soos ‘n herder – 6 Maart 2011

Verwelkoming

God nooi ons uit en ons kom tot rus

  • Liedboek 221 (x3) Loof die Heer omdat Hy goed is – sit – koor/gemeente x2

Votum

Seëngroet

Lofsang

  • Liedboek 449:1,2 Halleluja! Ons loof U, Heer (Gerjo van der Merwe) – staan
  • Liedboek 23:1,2,3 Die Here is my herder en bewaarder (Lina Spies) – sit – gemeente/koor/gemeente
  • Liedboek 493:1,3 Jesus neem die sondaars aan (Gerjo van der Merwe en Elsabé Kloppers) – sit

Kindertyd

  • Ek wil vandag met julle gesels oor Voorbereiding.
  • Wat is dit?
  • Wel as jy koekies wil bak, dan kry jy eers die meel reg, die eiers, die suiker, die melk, die gemmer, die sout – alles wat jy nodig het om koekies te bak.
  • En dan bak jy die koekies.
  • Kan ’n mens koekies bak sonder om voor te berei?
  • Nee, want dan sal niks gebeur nie.
  • Sê nou ek sit die oond aan?  Sal die koekies bak?
  • Nee, want jy moet eers die deeg aanmaak.
  • Sê nou ek bring bordjies om die koekies op neer te sit? Sal daar koekies wees?
  • Nee, jy moet eers al die bestanddele hê – die meel, die suiker, die eiers en alles.
  • Dit is oral so in die lewe.
  • Ons moet voorberei as ons wil hê iets moet gebeur.
  • Is dit vir julle lekker as iemand vir julle kom kuier?
  • Wat doen julle voor die tyd?
  • Ons berei voor, ja.
  • En as dit iemand spesiaal is, dan doen ’n mens baie moeite, nê.
  • Jy maak die bed reg.
  • Jy sit blomme op die tafel.
  • Jy sorg dat daar lekker kos is.
  • Jy sorg dat jy by die huis is as die persoon kom.
  • Dit is ook so met God.
  • Ons is baie keer so besig.
  • Ons speel, en ons kuier by ons maatjies, en ons doen ons werk.
  • En dan gaan slaap ons.
  • En dan vergeet ons van God.
  • En wat gebeur dan?
  • Ons weet nie meer wat Hy sê nie.
  • En ons  vergeet dat ons eintlik sy kinders is.
  • Hoe kan ons seker maak dat ons Hom nie vergeet nie?
  • Ons moet ons harte voorberei om te luister na Hom.
  • Ons moet tyd maak.  In die oggend as ons opstaan.  In die aand voor ons gaan slaap.  As ons saameet aan tafel met ons ma’s en pa’s.
  • Hoe berei ons ons harte voor?
  • Ons bid en vra: Here vergewe ons ons sondes.  Ons dank Hom vir alles wat goed is.  Ons vra Hom om ons te help met die dinge wat vir ons sleg is.  Ons dink ook aan ander mense wat swaar kry.
  • En dan lees ons die Bybel en luister na wat God sê.
  • Dit is hoe dit werk.
  • En ons moet elke dag ons harte voor berei om te luister.
  • Deur te bid.
  • Dan kan ons die Bybel lees en hoor wat God vir ons sê.

Gebed

God praat en ons luister

Skriflesing

  • Jesaja 40:1-11

Woordverkondiging

Die uitkoms is hier

Die tweede hoofdeel van Jesaja begin met die uitroep: “Die uitkoms is hier!”  Twee maal word dit herhaal, “Die uitkoms is hier!  Die uitkoms is hier!  Dit, sê julle God, moet julle vir my volk sê” (vers 1).

Dit is ’n ongelooflike goeie tyding om in ballingskap te hoor.  Om te hoor dat jou swaarkry verby is, dat jy geboet het vir jou sonde, dat die pyn en lyding verby is, en jy weer vry kan asemhaal.

En onthou, die vorige 39 hoofstukke van Jesaja het ’n donker prentjie geteken van hierdie volk – dat hulle God nie ken nie; dat hulle hul roeping om ’n lig vir die nasies te wees, versaak het; dat hulle leiers hopeloos was, en hulle van die wal in die sloot gehelp het.

’n Mens kan amper die sug van verligting hoor by die volk.  Na al die jare is daar weer verligting, ’n uitkoms.

Nie almal was opgewonde daaroor nie

Maar, nie almal was hieroor opgewonde nie, kom ons onmiddellik agter.  Om die waarheid te sê, die eerste reaksie waarvan ’n mens in hoofstuk 40 lees, is een van uiterste pessimisme: “Alle mense is soos gras … gras verdor … as die Here sy wind daaroor laat waai” (vers 6-7).

En soos ’n mens vorder met die tweede deel van Jesaja, kom ’n mens duidelik agter dat daar ’n groep ballinge was wat nie so opgewonde was oor die entoesiasme van die profeet en van sy God nie.  Om die waarheid te sê, hulle het die moontlikheid van verlossing uit Babilon, en die terugkeer na die Beloofde Land, aktief teengestaan.

Pessimisties oor hulleself

Een van die redes daarvoor was ’n absolute pessimisme oor hulleself en hulle medemense.  Hulle het tot die gevolgtrekking gekom (vers 6-7): Alle mense is soos gras wat maklik verdor; hulle dinge waarop hulle staatmaak, hulle sekuriteite, is soos veldblomme wat maklik verwelk.  Dit kos net ’n windjie wat daaroor waai, ’n bietjie teëspoed, ’n mark wat val, ’n ongeluk wat gebeur, en mense en die dinge waarop hulle staatmaak, stort in duie.  Jy kan nie op hulle staatmaak om enigiets goeds te doen nie.

God se woord bly vir ewig

Die profeet se antwoord daarop was eenvoudig: ja, alle mense is soos gras; jy kan nie op hulle vertrou nie.  Maar, die woord van God bly vir ewig … en dit is Hy wat die inisiatief neem.  Die verandering kom nie  vanweë die mense se bekering of vermoëns nie.  Die verandering kom omdat die Here die uitkoms bring vir die volk.  Hy is die Herder wat sy lammers bymekaar maak en vir die lammerooie sorg, soos vers 11 sê.

Pessimisties oor God

Daar is natuurlik ook ’n tweede rede vir die ballinge se pessimisme.  En dit is wat hulle oor God en wat Hy kan doen, gedink het.  ’n Mens lees dit in vers 12 en verder.

Hulle het aan die een kant gedink God het hulle vergeet (40:27). Hy het moeg geraak vir hulle.

Maar aan die ander kant, nog dieper en meer fundamenteel, die ander gode het nou die ghitaar geslaan, het hulle gedink: Bel en Nebo, die Babiloniese gode. Uitkoms is dus onmoontlik, want God is nie in staat om só iets te doen nie.  Hulle is te sleg (eerste rede) … en God is te swak (tweede rede).  Hulle geloof in God het dus gewankel.

Niemand kan met God vergelyk word nie

Die profeet se antwoord daarop is om na die Skepping te wys, God se hand is oral te sien … en dan op die beroerdheid van die afgode te wys: ’n mens moet ironies genoeg sorg dat jy hout kies wat nie vrot nie, anders kwyn die afgode letterlik weg, en sorg dat jy darem ’n bedrewe ambagsman kry wat ‘n beeld kan maak wat nie omval nie (40:20).  Sulke afgode kan tog nie met God vergelyk word nie.  God kwyn nie weg omdat jy ’n stuk vrot hout gekies het om Hom van te maak nie.  Hy is in die eerste plek nie met ’n stuk hout vergelykbaar nie.  Hoe absurd!

Voorbereiding speel ’n belangrike rol

Dit is waarom Jesaja soveel klem lê op die belangrike rol wat voorbereiding by die volk in hierdie uitkoms speel, dit waarvan ons lees in vers 3-5.

  • Maak vir die Here ’n pad in die woestyn … Maak ’n grootpad in die barre wêreld vir ons God!
  • Elke laagte moet opgevul word … Elke berg en rant moet gelykgrond word.
  • Dan sal die mag van die Here geopenbaar word.

Jy sien, jy kan God se teenwoordigheid nie geniet, as jy nie voorbereid is daarop nie.  Jy kan sy stem nie hoor, as jy nie tyd maak om daarna te luister nie.  Jy kan nie doen wat God vra, en ontvang wat God gee, as jy nie in sy teenwoordigheid kom nie, as jy nie voorbereid is om dit te ontvang nie.

Jesaja roep die volk dus op om gereed te maak om God se uitkoms te kan ontvang.  Want hy weet, dit sal die mense wat twyfel help as hulle ’n oog ontwikkel vir wat gaan kom … en dit sal die mense help wat reeds op God vertrou.  Hulle sal versterk word in hulle verwagting dat God gaan optree en dat hulle hulleself daarvoor kan voorberei.

Johannes die Doper

En daarmee het Jesaja ’n patroon neergelê wat deel van die kerk se manier van doen geword het.

Met Jesus se geboorte was daar ’n wegbereider, Johannes die Doper, wat in hierdie teks, Jesaja 40:3-5 sy lewensopdrag gesien het, om die volk van sy tyd gereed te maak om die Messias, die uitkoms van God, te ontvang.

En almal het hulle bekeer en laat doop, selfs van die Fariseërs – al het hy hulle gewaarsku dat dit met die hart moet wees en nie net vir die skyn nie – sodat hulle Jesus se boodskap kon hoor en in Hom God se uitkoms kon raaksien.

Natuurlik het God ook op ander maniere met mense gewerk – sommige moes Hy met die mag van ’n persoonlike verskyning tot inkeer bring, dink aan Saulus op pad na Damaskus.  Maar meesal het God gewerk met Voorbereiders en Voorbereiding.

Die weduwee se leë kruike

En dit is die boodskap wat Jesaja vandag ook vir ons het.  Om voorbereid te leef.  Om telkens gereed te maak, daagliks, om God se uitkoms vir ons eie lewe te ontvang.

Dit is soos die weduwee se kruik wat nie leeg geraak het nie – want sy was voorbereid.  Elisa het vir haar, die vrou van ’n profeet, die opdrag gegee, toe sy in haar nood gekla het by hom, om leë kruike te versamel, en te sorg dat sy nie te min het nie, sodat sy die olie wat die Here vir haar gaan verskaf, kon ontvang (2 Konings 4).

Dit is die prentjie waarmee ons moet werk.  Die weduwee se leë kruike wat gereed staan om God se uitkoms te ontvang.

Dit het letterlik gebeur met ’n vriendin van ons, Celia Kossar.  Sy werk steeds langs die plakkerskamp in Sedgefield, en het verskeie projekte waarmee die armstes van die armstes gehelp word.  Een dag toe die gesin ook sonder enige kos in die huis was, want hulle leef in geloof, sonder ’n konstante inkomste, het die Here haar in gebed oortuig om houers gereed te kry  en uit te pak op die tafels en toonbanke, want Hy gaan voorsien.

En sy het dit uitgepak in gehoorsaamheid, tot die afgryse van haar man en kinders, en begin om die Here te loof vir sy uitkoms.

Die volgende oomblik het ’n PnP lorrie stilgehou met ’n vrag kos wat nog reg was, maar waarvan die vervaldatum verstryk het.  En hulle het nie net genoeg gehad vir hulleself nie, maar ook om in die bediening te gebruik wat hulle in Sedgefield het.

Practicing the Presence

Hoe kan ek voorbereid lewe?

Een van die geestelike gewoontes wat ’n mens daarmee help, is wat deur die eeue as Practicing the Presence bekend geraak het. ’n gebedshouding wat jou hele lewe volmaak met God se teenwoordigheid.  Wat jou voorberei vir wat ook al Hy in ’n gegewe dag oor jou pad kan en sal bring.

Om God se teenwoordigheid te beoefen is om rekening te hou daarmee dat God die hele tyd met my besig is.  Dat Hy elke oomblik van elke dag uitkomste voorberei.  Voorbereiding beteken daarom dat ek my instel om oë te ontwikkel om God se werk raak te sien, deurdat ek aktief besig is om te kyk vir wat God gaan wys, en wat Hy gaan doen.

Dit is waarom baie bidders deur die eeue van gebed gesê het dat gebed ’n “school of seeing” is (John Drury).  Gebed is ’n manier van kyk, ‘n manier van leef, wat rekening hou met die uitkomste wat God vir ons voorberei.

Dit is om  ’n voortdurende openheid en bewussyn vir Christus se teenwoordigheid in my lewe te ontwikkel.  Dit is om elke oomblik van my lewe as ’n geskenk van God te beleef, of die geskenk in alles wat met my gebeur te probeer herken.

Dit is om doelbewus ’n lewenstyl te kies: “that brings God to mind throughout the day” (Calhoun).  Dit is om jou telkens te herinner dat wat jy doen of dink in die teenwoordigheid van God gebeur en voorbereid vir sy uitkomste te leef.

’n Lewensmotto wat ek by Richard Niebuhr geleer het, lui as volg: “God is betrokke in alles wat met jou gebeur.  Reageer dus op alles wat met jou gebeur, asof jy op God se betrokkenheid reageer.”  Wees voorbereid vir sy uitkomste.

Prakties

Kom ons raak nog meer prakties.

Telkens deur die dag kan jy jouself herinner, in ’n kort oomblik van stilte – by ’n robot, voor jou rekenaar, in die kleedkamer – ek leef in die teenwoordigheid van God, Hy gee my die tyd, die energie, die moontlikhede, en vir Hom dankie sê.

  • Jy kan jou horlosie stel om elke uur te biep om jou daaraan te herinner.
  • Jy kan ’n prent teen die muur hang wat jou daaraan sal herinner.
  • Jy kan ’n frase bid net voor jy die telefoon antwoord: “Help my Here om regtig te luister.”
  • Jy kan ’n ander gebed doen net voor jy ’n brief oopskeur of ’n e-pos antwoord: “Gee my wysheid, Here.”

Sien, dit is eenvoudige goed, wat klein begin, en wat enigiemand kan doen, jy hoef nie ’n dominee te wees om dit te beoefen nie.  En oor tyd word dit ’n lewenstyl, iets waarsonder jy nie kan nie, waarsonder jy eintlik nie meer is wie God jou gemaak het om te wees nie.

Die idee is daar klein pouses in jou dag kom waar jy aan God dink en jouself aan sy teenwoordigheid herinner.  Dit word ’n gewoonte wat oor tyd jou hele lewe volmaak.

Anders gebeur dit dat die dag met jou weghardloop – die dinge van jou werk en jou gesin en die land vang jou vas, dat jy oorspoel word, en jou bewussyn van God verloor.  Hy is natuurlik nie weg nie, maar jou ervaring van sy teenwoordigheid.  En dan raak ’n mens maklik bekommerd oor die toekoms – of jy verknies jou oor die verlede – in plaas daarvan om te alle tye in die hede teenwoordig te wees.

Brother Lawrence het hierdie gewoonte ingeoefen deur ’n stil geheime gesprek met God waarmee hy volhard het regdeur sy dag.  Hy vertel dat die gesprek hom soms so ’n vreugde in sy binneste gegee het, dat hy moes keer dat hy te opgewonde voorkom in die teenwoordigheid van ander mense.

Gebed

Dit maak dat ’n mens anders bid.  As jy voor God al jou “begeertes bring, soos Filippense 4:6-7 sê, “deur gebed en smeking en met danksegging”, dan verwag jy dat daar ’n vrede sal kom wat jou hart en gedagtes voor God rustig sal maak, soos God inderdaad belowe.

En kyk jy met ander oë na wat die dag van môre bring – uitkomste soos wat Jesaja hier vir die volk van die Here aankondig.  En is jy voorbereid om dit te ontvang.

Ek sluit af:

Jesaja roep ons op om gereed te maak vir God se uitkomste, dié wat Hy elke dag in ons eie lewens bring.  En Practicing the Presence gaan jou daarmee help.

Leef voorbereid – maak die paaie gelyk, dan sal die mag van die Here geopenbaar word.

Gebed

God stuur ons om te leef

Dankoffers

Slotlied

  • Liedboek 207:1,4 Eer aan die Vader, wat alles gemaak het (Attie van der Colf – tradisionele CSV lied) – staan
  • Liedboek 218 Halleluja! (tradisionele SA lied, opgeteken deur George Mxadana) – staan – koor/gemeente

Seën

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.