Skip to main content

Psalm 92 – om van God se liefde en trou bewus te word – 07

7-Psalms-A5-flyerPinkster 7 – 15 Mei 2016

Ons begin met lof en dank.  Die Psalmis sê: “2 Dit is goed om die HERE te dank.”  Die Hebreeuse woord yā∙ḏā(h) kan ook met “loof” vertaal word.  Dit kan soms selfs bely beteken, wanneer dit in die konteks met negatiewe dinge gekoppel word.  Hier beteken die woord loof of dank weens die dinge waarvoor die Psalmis sê ons die Here moet dank.

Die Psalmis noem God se “troue liefde” en sy “trou in die nag”.   Hy wil dit uitjubel met verskillende instrumente: “Want U maak my bly met u werk, HERE,  oor u handewerk juig ek.”  Trouens, dit gaan ook nie net oor God se werk in die skepping nie, maar oor die gedagtes wat daaragter lê: “6 Hoe groot is u werke, HERE,  hoe diep u gedagtes.”

Daar is min dinge wat ‘n mens meer bewus maak van die teenwoordigheid van die Here as om in lofprysing en danksegging voor die Here te verkeer.

Hier volg die hele erediens

Verwelkoming

Toetrede

  • Lied 444 Kom kyk! Kom kyk! Kyk, alles word nuut! (koor 1x; gemeente 2x) – sit

Votum en seëngroet

Lofsang

Psalm 92 is op die Saterdag, die Sabbat gebid met verwysing na die sewende dag van die Skepping, dié dag wat steeds voortduur in die rus wat God is en gee.  Dit is: “‘n Psalm, ‘n lied vir die Sabbatdag.”  Dit was ook die laaste van die sabbatsweek Psalms.  Kom ons loof die Here met twee liedere.

  • Lied 450 Vader, Seun, Heil’ge Gees – staan
  • Lied 436 Herskep, o Gees, laat leef, o Gees – staan

Skriflesing Psalm 92

1 ‘n Psalm. ‘n Lied vir die Sabbatdag.  2 Dit is goed om die HERE te dank;  om u Naam met begeleiding  te besing, Allerhoogste;  3 om in die môre u troue liefde te verkondig,  en u trou in die nag —  4 met tiensnarige instrumente,  met harpe en die speel van liere.  5 Want U maak my bly met u werk, HERE,  oor u handewerk juig ek.  6 Hoe groot is u werke, HERE,  hoe diep u gedagtes!  7 ‘n Dom mens weet nie,  en ‘n dwaas verstaan nie  8 dat goddelose mense soos onkruid gedy  en al die mense wat onreg pleeg, floreer —  net om vir ewig uitgedelg te word.  9 Maar U is vir ewig hoog verhewe, HERE.  10 Want kyk, u vyande, HERE,  ja, kyk, u vyande gaan ten gronde;  dié wat onreg pleeg, word verstrooi.  11 Maar U het my horings hoog gelig  soos dié van ‘n buffel.  Suiwer olyfolie is oor my uitgegiet.  12 My oog kyk neer op my vyande,  op hulle wat teen my opstaan;  my oor hoor met vreugde van die kwaaddoeners.  13 Regverdiges —soos palmbome gedy hulle,  soos seders op die Libanon groei hulle hoog.  14 Hulle is geplant in die huis van die HERE;  in die voorhowe van ons God dra hulle blomme.  15 In die gryse ouderdom is hulle steeds welig;  hulle is weelderig en blaarryk,  16 sodat hulle kan verkondig:  “Regverdig is die HERE, my rots,  en daar is geen ongeregtigheid by Hom nie.” 

Kindertyd

Hier is simbole wat seker dinge verteenwoordig. Kom ons kyk of julle dit kan uitken: McDonalds, Hou van (laaik), glimlag, Superman.

Wat beteken die simbole?

Ons vier vandag nagmaal.  Wat beteken die brood?  Wat beteken dit wyn/druiwesap?   Dit herinner ons aan iets.  Dit liggaam en die bloed van Jesus aan die kruis.

Hoekom gebruik ons sulke klein glasies?  Dit is prakties!  Waarom hou ons dit tot almal het?  Sodat ons saam kan feesvier.  Hoekom sit hier mense om die tafel?  Dit verteenwoordig ons almal, want almal gaan nie om die tafel pas nie.

Nagmaal

  • Lied 303 (2x) Eet die brood, drink die wyn (terwyl tafel in gereedheid gebring word) – sit
  • Vonkk 194:1,2,5 Was jy daar toe die Heer gekruisig is? (koor – tydens uitdeel van die tekens)

Kinders na toepassing

Epiklese

  • Lied 442 Gees van God wat in my woon, breek die Woord vir my (koor vers 1; gemeente vers 2) – sit

Prediking

Ek hou die teks op die skerm dat julle dit kan volg soos ek preek.

 ‘n Lied vir die sabbatdag

Die titel val op – ”’n Lied vir die sabbatdag” – die enigste Psalm in die Hebreeuse grondteks wat só ‘n titel het – julle weet reeds van die ander ses sabbatsweek Psalms soos dit in die LXX (Griekse vertaling van die OT) genoem word, en wat ek hierdie week as ons Pinkstertekste hanteer het.

Indeling

Die Psalm kan in vier dele opgedeel word:

  • Vers 2-8 – ‘n Danklied: “Dit is goed om die Here te dank (loof – NAV).”
  • Vers 9-10 – ‘n Belydenis: “Dié wat onreg pleeg, word verstrooi.
  • Vers 11-12 – ‘n Vertrouenslied:Maar U het my horings hoog gelig soos dié van ‘n buffel (metafoor van krag).
  • Vers 13-16 – ‘n Verwagtingslied:Regverdiges —soos palmbome gedy hulle, soos seders op die Libanon groei hulle hoog.

Dié indeling gee ‘n mens ‘n handige struktuur vir jou eie gebede: dank, belydenis, vertroue, verwagting.  En ek gaan jou begelei om hier in die diens as deel van die preek die Here te dank, jou belydenis oor en aan Hom te maak, jou vertroue en jou verwagting in Hom te stel.

Dit is immers waarom ons hier is.  Om deur die teks ‘n ontmoeting met God te hê.

1.  Dank: “Dit is goed om die Here te loof” – vers 2-8

Ons begin met lof en dank.  Die Psalmis sê: “2 Dit is goed om die HERE te dank.”  Die Hebreeuse woord yā∙ḏā(h) kan ook met “loof” vertaal word.  Dit kan soms selfs bely beteken, wanneer dit in die konteks met negatiewe dinge gekoppel word.  Hier beteken die woord loof of dank weens die dinge waarvoor die Psalmis sê ons die Here moet dank.

Die Psalmis noem God se “troue liefde” en sy “trou in die nag” Hy wil dit uitjubel met verskillende instrumente: “Want U maak my bly met u werk, HERE,  oor u handewerk juig ek.”  Trouens, dit gaan ook nie net oor God se werk in die skepping nie, maar oor die gedagtes wat daaragter lê: “6 Hoe groot is u werke, HERE,  hoe diep u gedagtes.”

Daar is min dinge wat ‘n mens meer bewus maak van die teenwoordigheid van die Here as om in lofprysing en danksegging voor die Here te verkeer.

Ek onthou hoe ‘n vriend van my op universiteit begin sukkel het met sy geloof en in God se bestaan begin twyfel het.  Die blootstelling aan filosofie het baie keer die effek op ‘n mens dat jy vrae begin vra en dat dit jou geloofsfondamente ondergrawe.  Op ‘n punt het ons ‘n gesprek gehad en hy het net bely dat hy nie meer weet hoe om te bid, en of dit enige sin maak nie.  Hy weet nie of God daar is of nie.  Hy kan God nie ervaar nie.  So hoe kan geloof in God enige sin maak?

Ek het toe voorgestel dat hy eenvoudig begin om dankie te sê vir goed wat gebeur waarvan hy hou, wat hom gelukkig maak, wat onverdiend is.  En die wonderlike ding het gebeur dat soos hy begin dankie sê het vir dinge wat goed is en wat sy lewe verryk het, sy bewussyn van God begin terugkeer.  Nie dadelik nie, maar mettertyd.

Lof en dank is ‘n kragtige manier om God se teenwoordigheid te belewe.  ‘n Paar minute elke dag kan jou lewe verander.

Die fokus is op God se liefde en trou, sy groot dade en alles wat Hy gedoen het: “ Groots is alles wat U doen, Here, ondeurgrondelik u gedagtes.”

George Müller, die man waarvan ek dié week ‘n paar verhale vertel het, het ‘n jaar ná hy die som geld gekry het wat hy van die Here gevra het – ‘n £1 000 om die bedryf van die kinderhuis mee af te skop, in vandag se terme so £117 000 of R2 532 714.94 – in die klein tuin van die kinderhuis geloop en mediteer.  Hulle moes al vir ‘n 100 mense sorg en die geld het gekrimp tot slegs £20 – so R5 000 in vandag se terme.  En hy het geweet dat hy binne vier dae £34 sou nodig hê vir spesifieke uitgawes wat hulle sou moes aangaan.

Hy het nagedink oor Hebreërs 8:8 dat Jesus Christus dieselfde is, gister, vandag en vir altyd.  En terwyl hy hieroor nadink, het die nood waarin hulle is, skielik swaar op hom gerus.  Onthou, hy was maar 32 jaar oud op dié stadium!  En in sy gebed het hy die las vir die kinderhuis vir die Here gegee en die Here begin dank dat Hy alles wat nodig is tot dusver voorsien het, en dat Hy verseker sal voortgaan om dit te doen.

So skryf hy in sy dagboek op 22 Julie 1838: “A flow of joy came into my soul whilst realising thus the unchangeableness of our adorable Lord.”

En die volgende oomblik het iemand vir hom ‘n brief gebring waarin daar £20 was.  Die boodskap in die brief was dat dié geld nie ‘n groot bedrag was nie, maar bedoel was vir die behoeftes van vandag: “and it is for today’s exigencies, that, ordinarily, the Lord provides.  Tomorrow, as it brings its demands, will find its supply.”

George het toe genoeg gehad om die uitgawes wat op hande was, te betaal, en kon die Here dank.  Interessant genoeg het sy gemoed gelig vóór die geld gekom het.  Dit is ook ‘n getuienis van die feit dat die voorsiening van God as sodanig nie die verligting in ons gees bring nie.  Dit is waar ons God dank vir sy voorsiening dat nie net ons gemoed lig nie, maar waar God se voorsiening ook baie keer ontsluit word.

Trouens, wie dit nie besef nie, dat God voorsien dat Hy daar is vir ons, sê die Psalmis, is onnosel. Wie dit nie insien nie, het geen insig nie.  En die ongemaklike waarheid is dat sulke mense uiteindelik uitgewis sal word, al lyk dit op die oog af asof hulle voorspoedig is.  Dit is dié wat met God ‘n pad stap, wat Hom dank vir sy troue liefde, wat afhanklik van Hom lewe, wat die lewe, en dit in oorvloed ontvang. Dit is dié wat vir hulleself sorg en in ontkenning leef van God se goedheid en voorsiening wie se voorspoed eintlik glibberige grond op pad na die dood is.

‘n Laaste woord oor lof en dank.  Let op hoe die Psalmis hierdie lof en dank met ‘n orkes van instrumente voor die Here bring. Hy praat van snaarinstrumente (‘n tiensnarige instrument word waarskynlik bedoel), harpe en liere.  Hy praat dus nie van ‘n eenmans- of eenvrou-orkes nie.  Die orkes wat lof en dank moet speel, sluit die volle vergadering van die geloofsgemeenskap in.  Die dank wat ons as gelowiges persoonlik ervaar, moet deel word van die geloofgemeenskap se lof en dank, soos ons Vrydag ervaar het toe ons met mekaar ‘n paar dinge gedeel het wat ons getref het die week.  Ons mag die dinge waaroor ons  bly is nie vir onsself hou nie.  Dit is ‘n getuienis aan ons almal.

Ek wil jou sommer vra om nou ‘n bietjie na te dink oor die afgelope week.  Dink na oor watter goeie dinge oor jou pad gekom het.  En loof en dank die Here daarvoor, net daar waar jy sit, net persoonlik.

2.  Belydenis: “Dié wat onreg pleeg, word verstrooi” – vers 9-10

Die Psalmis gaan voort om vanuit sy ervaring van God se sorg en voorsiening, te bely: “9 Maar U is vir ewig hoog verhewe, HERE.”

En in die lig daarvan weet hy, dat dié God gedien moet word, dat afhanklik van Hom gelewe moet word.  Daar is nie ‘n ander manier nie.  Jy kan nie onreg pleeg en op God se voorsiening staat maak nie.

Daarom sê die Psalmis: “10 Want kyk, u vyande, HERE,  ja, kyk, u vyande gaan ten gronde;  dié wat onreg pleeg, word verstrooi.”

God is werklik in beheer, en dít vir ewig.  En Hy bewys dit nie net in sy voorsiening nie.  Hy bewys dit ook in die feit dat Hy optree teenoor onreg en teenoor dié wat onreg pleeg.  Want, hulle is God se vyande, en hulle sal uitgewis word, so seker as wat God leef.

Ek het iets meer daaroor dié week gesê, want ons werk baie keer vandag met die idee dat God net goed is.  Die God van die Bybel, sê die Psalmis, is egter nie net goed nie, maar ook heilig en ontsagwekkend.  Hy vergeld en straf onreg, dié mense wat nie hou aan sy standaarde nie.  Hy is inderdaad die “regter van die aarde” en kan mense vergeld vir wat hulle doen.

En dié God wat vergeld, is nie net ‘n boodskap wat gerig word aan die goddeloses en onregverdiges in die samelewing daarbuite nie.  Daar is ook goddeloses en onverstandiges in die geloofsgemeenskap, soos Psalm 94 dit uitspel.  En ek een van die aande die lyn hiervan na die NT gevolg waar God se vergelding oor huigelary en onreinheid onder andere uitgespel word.

As ons dus saam met dié Psalmis bely dat God onreg straf, dan moet ons ook voor ons eie deur vee, en ons eie sonde en skuld voor die Here bely.

3.  Vertroue: “Maar U het my horings hoog gelig soos dié van ‘n buffel” – vers 11-12

Maar, die Psalmis is nie net bewus van die gevaar van eie afvalligheid nie.  Hy is ook nie net bewus van die gevaar van die goddeloses wat sy eie getrouheid aan die Here in gevaar stel nie.

Nee, hy ervaar dat die Here se krag in hom aan die werk kom, beide deur sy dank aan God, en sy belydenis oor God wat mense aan sy standaarde kan hou.  Dit versterk sy vertrou in Hom.  Daarom sê hy: “Maar U het my horings hoog gelig soos dié van ‘n buffel (Maar vir my gee U krag soos dié van ‘n buffel – NAV).”

Waar ‘n mens in erkentlikheid en dankbaarheid teenoor die Here lewe, waar jy sy wil vir jou lewe nougeset gehoorsaam, dáár kom sy krag in volle werking, die krag van die Heilige Gees.  Daar kry jy dit reg om Hom in alles te vertrou.  Dit maak jou soos ‘n buffel wat sy horings so lig van die spiere wat rol op sy skof.  Juis dié week weer ‘n trop buffels gesien wat ‘n paar leeus rondgooi met hulle horings toe dié een van hulle platgetrek het. Dit is wat God met jou maak waar jy in erkentlikheid teenoor Hom lewe!

Die Psalmis neem die metafoor verder en sê: “Suiwer olyfolie is oor my uitgegiet.”  Dit is asof dié buffel se horings dus blink in die son – soos een verklaring daarvan dit uitlê – sodat die oorwinning wat die Psalmis en dié wat aan God gehoorsaam lewe, oor hulle vyande behaal ver gesien kan word: “12 My oog kyk neer op my vyande,  op hulle wat teen my opstaan;  my oor hoor met vreugde van die kwaaddoeners.”

Die krag wat God gee waar ‘n hart dankbaar en gehoorsaam op Hom gerig is, is enorm.  Dit is nie verniet dat die Here Jesus gesê het dat dié wat op die vervulling van die Heilige Gees wag met krag vervul sal word om sy getuies oor die hele wêreld te wees nie.  Dié boodskap is vandag nog net so waar soos dit was in Jesus en die eerste Pinksteruitstorting se tyd.

4.  Verwagting: “Regverdiges —soos palmbome gedy hulle.” – vers 13-16

Ek sluit af.  Die boodskap van die Psalm lê nie net in die krag van God wat deur gehoorsames vloei nie.  Dit lê nie net in die vertroue in God wat in ons bevestig word nie.  Die boodskap van die Psalm is ook dat daar ‘n oorvloed van lewe in gehoorsame kinders van die Heer sal wees: “Regverdiges —soos palmbome gedy hulle, soos seders op die Libanon groei hulle hoog.”

Dít mag dus ook jou verwagting wees.  Die Psalmis gebruik die twee metafore van die krag van die palmbome in die sterkste wind en die majesteit van die hoë seders van Libanon om die gelowiges se krag tot oorlewing en hulle oorvloed in die Here te beskryf.  Ons kan dus verwag dat ons die diepste donker sal oorleef, en dat ons die hoogste hoogtes in ons diens aan die Here sal kan bereik.

Omdat ons die Here ken, sal ons selfs in ons ouderdom nog toeneem in krag, sodat ook dié getuienis sal laat blyk dat die Here regverdig is en daar is vir ons.  Hy bly vir ons die onbeweeglike rots, soos die Psalmis afsluit.

Groots is alles wat U doen, Here!”  Inderdaad.

Gebed

Dankoffers

Lied 443 Wind kan jy nie sien nie (koor)

Slotlied

Lied 439 O Heil’ge Gees, o God in ons, ons wil u krag besing – staan

Seën

Amen

Respons

Lied 440:4 Wie hulle laat lei deur God se Gees – staan

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.