Skip to main content

Genesis 12-36 – God bou ‘n nasie – 27 Januarie 2013

Verwelkoming

Toetrede

Psalm 48:1 – Lofwaardig, groot is God die Heer – staan

Votum en Seëngroet

Lofsang

Liedboek 343 – Loof die God van ons verlange! – sit

Liedboek 365 – Hoor die blye eng’le lied aan die Koningseun gebied – staan

Kindertyd

Wie van julle het al getrek in julle lewe? 

Hoe voel dit? Dit vat ’n tyd om alles te leer ken.  Daar is altyd baie nuwe goed, ’n nuwe huis, nuwe kamers, nuwe maats, nuwe winkels. En sommige goed is lekker en opwindend.  Ander goed moet jy eers aan gewoond raak.

Die Bybel vertel ons van Abram wat só na ’n nuwe plek moes trek. 

Abram het in Ur gebly.  Eendag het die Here met hom gepraat en gesê: “Trek uit jou land uit na die land toe wat Ek jou sal aanwys.  Ek sal vir jou ’n plek gee waar jy kan bly en waar jy ’n groot familie sal word.”  Abram het baie spesiaal gevoel en die pad gevat na die nuwe plek wat die Here vir hom belowe het, die land waar Jerusalem uiteindelik gebou sou word.

Maar, hy het nie alleen getrek nie. 

Al sy mense het saamgetrek, ook sy werkers, want hulle sou in die nuwe land steeds sy skape moes oppas.  Abram het egter nie kinders gehad nie.  Sy nefie Lot het toe ook saamgetrek.  Lot was Abram se broer se kind.

Het julle nefies?  Nou stel julle voordat die nefie al oud genoeg is en dan besluit om saam te trek met julle.  Hoe sal julle voel?

Toe hulle in Israel aankom het hulle rondgetrek in die land.  Hulle was baie bly dat hulle só ’n mooi land van die Here gekry het.

Op ’n dag het Abram en Lot egter ’n probleem gekry. 

Hulle het baie skape gehad en die skaapwagters het begin stry met mekaar.  Daar was te veel skape en te min kos en water.

Hoe nou gemaak? Wat dink julle?

Abram sê toe vir Lot: “Ons kan mos nou nie stry met mekaar nie.  Ons is familie.  Ons moet die land tussen ons verdeel dat ons nie hoef te stry oor water en kos vir ons skape nie.  Kies vir jou ’n helfte dan sal ek die ander helfte vat.”

Lot het toe gekyk en hy sien toe daar is baie water by die Jordaanrivier.  En hy besluit dít is waar hy gaan bly.  En hy trek met al sy skape en al sy mense daarheen.

Abram moes toe in die droër deel gaan bly, waar daar minder water is.  Lot het die beste deel gekies.  Abram moet met die res tevrede wees.

Hoe sou julle gevoel het as die nefie die beste deel kry?

Wat doen die Here toe?  Hy kom na Abram toe en sê vir hom: Ek gee vir jou hierdie land van bo af tot onder, van hierdie kant af tot die ander kant.  Ek sal vir jou sorg , want Ek wil jou seën.

En die Here het dit gedoen.  Abram was geseënd en het ’n kind Isak gekry en die hele volk van die Israeliete het van hom afgekom.

En Lot?  Dinge het nie so goed gegaan met hom nie.  Hy het in ’n slegte stad gaan bly.  Eendag is hy in ’n oorlog weggevoer.  En wie moes gaan help?  Abram!

Die ergste was dat die Here later die stad wou uitwis en Abram moes ernstig bid sodat die Here engele moes stuur om Lot te red.

God het vir Abram geseën, sodat hy selfs vir Lot kon seën en kon help toe hy in die moeilikheid kom.

Ons kan die Here dus vertrou dat Hy vir ons sal sorg, selfs al lyk dit asof iemand anders die beste deel kies.  En die Here wil hê dat ons ander mense ook sal seën, vir hulle goed sal wees.

Gebed

Skriflesing

Genesis 12-36 – ons fokus egter net op Gen. 12:1-4 binne die konteks van die hele Abram, Isak en Jakob geskiedenis.

’n Mens kan die verhaal van Abraham en Jakob lees vir die intriges wat in ’n paar episodes vir ons vertel word, ’n antropologiese perspektief.  En daar is baie:

  • Lot, Abram se nefie, wat saamtrek en die beste waterryke deel van die land vir homself kry.  Wanneer Abraham beteuterd agterbly met die droër dele, is dit asof ’n mens die idioom hoor: “Nice guys come second”.  Dit is ’n verhaal wat ’n mens diep laat nadink oor die wedywering oor grond, soos ons in ons land nou alreeds ’n paar eeue ervaar, trouens grond is iets wat regdeur die wêreld ’n kritiese rol speel in onderlinge verhoudinge en waarsonder niemand ’n menswaardige bestaan kan hê nie.
  • Sara, Abram se vrou, wat dit regkry om van Hagar met haar seun Ismael ontslae te raak omdat sy nie haar seun Isak se erfporsie met die slavin en haar nageslag wil deel nie.  Dit is ’n verhaal wat ’n mens diep laat nadink oor nasieskap en medemenslikheid en hoe ’n mens saamleef met ander kulture.  Die konflik en manipulasie en wedywering bring immers hulle fisiese voortbestaan in gedrang en ons sien hier alreeds die begin van die eeue-lange konflik in die Midde-Ooste tussen nasies, iets wat natuurlik uiteindelik waar is van alle nasies op hierdie aarde.
  • Lot se ervaringe in die sondige stede Sodom en Gomorra waar hy aan ontvoering,  goddeloosheid en geweld blootgestel word en selfs ná sy ontvlugting by bloedskande betrokke raak.  Dit is ’n verhaal wat jou diep laat nadink oor familiewees en die effek wat die plek waar jy bly het op die onderlinge verhoudinge.  Sy dogters verlei hom omdat hulle hom verkwalik dat hy hulle voortbestaan in gedrang gebring het deur hulle in die berge te laat woon.  Sy keuses boemerang liederlik op sy familie en almal betaal ’n prys.
  • Jakob en Esau asook Jakob en Laban se geskiedenis van wedersydse misleiding en manipulasie waarin Jakob dit regkry om uiteindelik bó uit te kom, selfs met God in menslike gedaante te worstel, sodat die man vir hom sê: “Jy het met God en mens geworstel en nie kopgegee nie.”  Dit is ’n verhaal wat jou diep laat nadink oor persoonlike ambisie en selfverwesenliking en waar die grense lê tussen mens en mens en tussen mens en God.
  • Dan is daar nog die intriges tussen:

Abram en Sara (dit lyk soms asof sy hom doodgewoon hiet en gebied na willekeur),

Abram en Isak (wonder wat ’n tiener dink as sy pa bereid is om hom te offer),

Rebekka en Isak (sy speel saam in die misleiding van Jakob, neem eintlik die voortou teen dié een wat haar só lief gehad het) en

Lea en Ragel (die wedywering om die aandag van Jakob definieer hulle onderlinge verhouding).  Dit hou net nie op nie!

Maar dan kan jy die verhaal ook lees vanuit ’n teologiese perspektief, om agter te kom watter rol God in die intriges speel nie, sodat jy kan leer hoe om jou eie pad met God te vind.  Die Bybel is immers ’n bril wat ons opsit om God en sy pad met ons beter raak te sien.

Dit is hoe ons dit gaan lees.

Woordverkondiging

God gee ’n ruimte en ’n roeping

Ons het verlede week gefokus op God se plan met hierdie wêreld.  Hy het ’n ruimte vir alles geskep, ’n woonplek, sodat alles hulle plek kon vind, plant, mens en dier.  Hy het alles met ’n doel geskep, wat in die mens se geval die roeping was om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar.

God wou op ’n spesiale manier ’n pad stap met mense.  Hy wou by hulle Sy eie woonplek vind.  Twee gevare het egter dié bedoeling van God bedreig:

  1. Adam en Eva was ongehoorsaam aan God en
  2. Kain het vir Abel doodgemaak, sodat dié droom van God nie verwesenlik kon word nie.

God het egter nie sy bedoelings laat vaar nie.  Eers het hy vir Noag gekies uit al die mense om met hom ’n nuwe begin te maak.  En toe dit nie uitwerk soos God dit wou hê nie, weens die uiteindelik bou van die toring van Babel, het God besluit om ’n nog beter plan te maak.

God bou ’n nasie

Hy kies om ’n nasie te bou waaruit uiteindelik die Verlosser van die wêreld gebore sou word.

Dit is interessant dat dit lyk asof Abram se pa, Tera, deel van hierdie droom van God was, want hy het aanvanklik begin trek uit Ur van die Galdeërs na Kanaän, saam met Abram en Lot.  Om die waarheid te sê, hulle het saam met hom getrek.  Maar Tera het net tot in Haran getrek en daar die droom van Kanaän laat vaar.  Miskien het hy moeg geword, of siek, want Tera is daar dood (Gen. 11:31-32).

En toe kom daardie lewensveranderende roeping van God, waarvan Genesis 12 ons vertel, wat alles verander het:

12:1 “Trek uit jou landuit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.” Aan hierdie trek word twee groot beloftes gekoppel. 

  1. Die eerste is die land wat God hom sal
  2. Die tweede is die belofte van ’n nageslag: “2 Ek sal jou ’n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ’n man van groot betekenis maak.”

En die bedoeling wat God daarmee het, word ook duidelik uitgespel: “en jy moet tot ’n seën wees.”

Ek sal jou seën met ’n land en ’n nageslag.  En my bedoeling is dat jy tot ’n seën sal wees.  Trouens, “3 Ek sal seën wie jou seën en hom vervloek wat jou vervloek.  In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.”

En die wonderlike reaksie van Abram: “4 Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here, en Lot het saam met hom getrek.”

God seën vir Abram

God begin met ’n nuwe nasie.  Sy droom is dat die hele aarde bewoon, bewerk en bewaar sal word.  Dit is waarom Hy ’n stokkie gesteek het voor die planne met die toring van Babel.  En Hy demonstreer op ’n baie persoonlike manier wat Hy wil hê moet gebeur.  Mense moet voel hulle behoort aan die aarde en aan mekaar en aan God.  En daar is nie ’n beter plek om dit te ervaar as binne ’n uitgebreide familie nie.

Daarom stuur Hy vir Abram na Kanaän om aan Sy opdrag om die aarde te bewoon, uiting te gee.  Let op dat dieselfde opdrag nie gegee word aan Isak of Jakob nie, ook nie later aan Josef en die res van die Israeliete nie.  Nét Abram moet trek, die res van sy nageslag moet bly waar hulle is.  Selfs wanneer dit nodig is om ter wille van droogte of vanweë ongehoorsaamheid die vreemde in te trek of daarheen weggevoer te word, bly die verbintenis aan die grondgebied waar God hulle geplaas het.  Want dít is die plek waar God hulle wil seën en wil koester en wil laat ontwikkel en wil gebruik.

Let ook op dat Abram en Sara nie op die oog af na die beste materiaal lyk om die nasie mee te begin nie.  Hulle is oud en ’n bietjie afgeleef.  Hulle ouers en voorouers het heidense gode gedien.  Hulle sukkel om volledig op God te vertrou.  Tera trek net tot in Haran en versaak die trek na Kanaän.  Sara lag vir God en Abram slaap by Hagar.

Tog kies God hulle en stap Hy enduit die pad met hulle, ironies genoeg deur vir hulle ’n kind te gee wie se naam “lag” beteken, Isak.  Want die geheim van nasiebou lê nie in Abram en Sara opgesluit nie.  Dit lê in God opgesluit.  In ’n besondere sin wys God daarmee dat sy keuse vir mense nie afhang van wie hulle is nie, maar van wat Hy beplan. 

Dít is die evangelie, die goeie nuus vir ons.  God kies ons nie vir wie en wat ons is nie, maar vir wie en wat Hý van ons kan maak.

Om die waarheid te sê, as ’n mens na Jakob se verhaal kyk, sien jy dat hier ’n aartsskelm en manipuleerder van formaat optree wat ten alle koste bo wil uitkom.  Hy het ongelooflike beloftes van God, reeds van geboorte af, wat herhaal is in die woestyn toe hy van Esau af wegvlug, maar hy kies om self te probeer om te sorg dat hy bo uitkom.

En dan wanneer hy hom uiteindelik in God vasloop by die Jabbokrivier, sien jy dat Hy uiteindelik buig voor God en dat hy sy arrogansie en manipulasie los en Esau met nederigheid tegemoet loop. “God was baie goed vir my,” sê hy vir sy broer en dít raak die getuienis van sy lewe wat tot vandag toe met ons spreek.

God bou ’n nasie en Hy bepaal die wyse waarop dit verwesenlik word.  En Hy doen dit as ’n motivering vir ander om Hom daarmee te vertrou.

God seën die nasies

Maar, dit is nie al nie.  God seën nie vir Abram om só ’n eksklusiewe nasie te skep, een wat al God se goedheid kan ervaar en die res van die wêreld word net aan hulle eie genade oorgelaat nie.

Nee, God seën vir Abram met land en nageslag SODAT hy tot ’n seën kan wees vir die ander nasies, die nasies wat God ook wil seën.

Die Here wil met die nageslag van Abram ’n ontmoetingsplek skep waar Hy Homself aan ander kan bekendstel, waar Hy kan woon en Sy genade en goedheid kan demonstreer en deur Abram se nageslag kan aangee na ander.

  • Dit is waarom God vir Abram lei om Lot nie teë te staan toe hy die beste deel van die land vir homself kies nie, want God wil vir Lot ook seën.  Abram se hantering van Lot het dus ’n seënende effek op Lot en sy nageslag en verseker dat hulle ook ’n plek sal hê om in te ontwikkel.
  • Dit is waarom God vir Abram lei om Lot te gaan verlos uit die penarie waarin hy beland toe hy ontvoer word.  God ontferm hom dus oor dié een wat eintlik met Abram in konflik was en red hom ten spyte daarvan dat Abram en Lot se paaie uitmekaar geloop het. 
  • Dieselfde gebeur wanneer God die goddelose Sodom en Gomorra wil uitwis.  Op Abram se voorbidding vir Lot, red God vir Lot.  Trouens, ek dink Abram kon bid vir Lot omdat God reeds twee keer vir hom gelei het om vir Lot te red.  Abram is dus tot ’n seën vir ’n ander nasie, eintlik nasies, gegewe die Moabiete en Ammoniete wat uit Lot se nageslag voortgekom het. Trouens, Rut, ’n Moabiet, word later ingesluit in die geslagsregister van die Verlosser van die wêreld, wat net wys hoe ver die seën gestrek het.
  • Dieselfde gebeur wanneer God vir Abram lei om Hagar te laat gaan met die uitdruklike belofte dat God Hagar sal seën omdat Ismael Abram se kind is.  Ismael is nie ’n weggooikind nie en sy nageslag nie ’n weggooi nasie nie.

God seën Abram sodat hy tot ’n seën kan wees – en beide God se seën en Abram se seën is sigbaar op vele wyses in die verhaal.

God seën ons om te seën

En daarmee het ons ’n patroon gekry van hoe God met ons ook wil werk.  Dít is fundamenteel tot die Christelike lewe.  Soos Abram deur God gebruik is, só is Christus deur God gebruik.  En soos Christus deur God gebruik is, só gebruik God vandag nog die Christelike geloofsgemeenskap, Sy liggaam.

God het vir ons as individue en as gemeente ook ’n ruimte gegee waarin Hy ons seën.  Hy het ons ’n roeping gegee om ander tot ’n seën te wees.

My gebed is dat ons ook soos Abram sal gehoorsaam en ons roeping enduit sal uitvoer.  Dit beteken dat ons na God se stem sal moet luister om sy roeping vir ons lewens te identifiseer en uit te voer – persoonlik en in die gemeente.  Soms sal dit ook beteken dat daar Lotte en Hagars oor ons pad sal kom wat ons met deernis en menswaardigheid sal moet hanteer.  Bowenal sal ons die ruimte wat God ons gee met passie moet benut sodat ons die roeping wat Hy vir ons het met oorgawe kan nakom.

Geseën om te seën – dít is ons motto vir die lewe.

Gebed

Dankoffer

Slotlied

Liedboek 521 – Erkentlik deur die dae, my aardse lewe lank – staan

Seën

Respons

Liedboek 521 – laaste vier reëls van vers 1

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.