Skip to main content

Ons gee om – Fil. 4:10-20

Vicky-en-Jessica1Jy is ’n polisievrou. Jy stap ’n supermark in en sien ’n vrou wat vir jou verdag voorkom.  Jy sien hoe sy kos wegsteek in haar handsak en in haar klere.  Jy besef jy moet iets doen.  Jou werk vereis dit van jou.  Jy stap nader om haar te arresteer.  En dan sien jy haar kinders.  Maer, verwaarloos, bang.  En jy besef, hier is nood.

Wat sou jy doen?

Verwelkoming

Votum en Seëngroet

Lofprysing

  • Liedboek 514:1-2 – “Ek weet vir seker: Jesus is Heer” – staan
  • Liedboek 250:1,2,5 almal, 3-4 koor – “Gods wet vra al ons liefde vir Hom, ons God en Heer” – staan
  • Flam 58 – “Kom o Skepper Gees, Lewendmakende Gees” – staan

Kindertyd

Paulus sit in die tronk in Rome.  Weet julle waar dit is?  Dit is in Italië (kaart).

Weet julle wat ’n tronk is?  Dit is ’n plek waar slegte mense gaan wat gesteel het (prent).

Paulus het egter nie gesteel nie.  Die Jode het hom gevang omdat Hy oor Jesus gepraat het.

Maar tronke was slegte plekke.  Jy moes jou eie kos saamvat.  En jou komberse.  En jou klere.  Alles!

En Paulus het niks gehad nie.  Nou lees ons in die Bybel dat die mense van die dorpie Filippi vir hom omgegee het.

Kom ons lees dit in Filippense 4:15-20 uit Die Nuwe Testament vir Kinders:

“Onthou julle nog, aan die begin wou niemand my help nie, behalwe julle? Selfs toe ek na ’n ander dorp toe is, het julle my nog steeds bly help. Julle het vir my geld, kos en klere gegee. Ek sê dit nie omdat ek bedel vir nog nie. Ek weet die Here gaan baie goed vir julle wees en vir julle wonderlike dinge teruggee.

Epafroditos het vir my die presente gegee wat julle vir my gestuur het. Baie dankie, ek waardeer dit. God hou baie daarvan dat sy kinders mekaar so help. God sal vir julle ook baie goed wees, want julle is mos sy kinders. God is baie belangrik. Niemand is so sterk en belangrik soos Hy nie.”

Paulus is dus baie bly dat hulle aan hom gedink het.

Hulle het hom gehelp met geld, kos en klere.

Dit was vir hom soos presente.

Maar, weet julle wat? Dit is nie net Paulus wat daarvan hou nie.

Paulus sê, God hou ook daarvan.  Hy hou baie daarvan dat sy kinders mekaar so help.

En Paulus sê, God sal vir julle ook baie goed wees.  Hoekom?  Want julle is mos sy kinders.

En die rooi hartjie lekkertjie wat julle gekry het, sal julle herinner daaraan.

God sal ook vir julle baie goed wees.

Daarom kan ons ook vir ander goed wees

Aanbidding

  • Liedboek 332:1,2,4 almal, 3 koor – “God se liefde, so oneindig, sien die nood van sondaars raak” – sit
  • Liedboek 526 (koor – almal: Afr./Latyn/Afr.) – “Waar daar liefde is, en deernis, daar is God die Heer” – sit

Gebed

Skriflesing

  • Filippense 4:10-20 – “Ons gee om

10Ek was baie bly in die Here dat julle na so ’n lang tyd weer gewys het dat julle nog aan my dink. Nie dat julle my ooit vergeet het nie, julle het net nie die kans gehad om iets te doen nie. 11Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. 12Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. 13Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. 14Nietemin het julle goed gedoen deur my in my moeilike omstandighede by te staan.

15Julle in Filippi weet ook dat in die begin van my evangelieprediking, na my vertrek uit Masedonië, geen enkele gemeente behalwe julle ’n aandeel gehad het aan my rekening van inkomste en uitgawe nie. 16Ook toe ek in Tessalonika was, het julle meer as een maal iets vir my behoeftes gestuur. 17Dit gaan vir my egter nie om die gawe nie, maar om die vrug daarvan: daardeur word julle self ryker. 18Maar ek het alles ontvang en ek het meer as genoeg. Noudat ek van Epafroditos ontvang het wat julle gestuur het, het ek alles wat ek nodig het. Julle gawe is voor God ’n offer met lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig. 19En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. 20Aan ons God en Vader behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

Woordverkondiging

Jy is ’n polisievrou. Jy stap ’n supermark in en sien ’n vrou wat vir jou verdag voorkom.  Jy sien hoe sy kos wegsteek in haar handsak en in haar klere.  Jy besef jy moet iets doen.  Jou werk vereis dit van jou.  Jy stap nader om haar te arresteer.  En dan sien jy haar kinders.  Maer, verwaarloos, bang.  En jy besef, hier is nood.

Wat sou jy doen?

Dit is die dilemma waarvoor Vicky Thomas was, ’n polisievrou in Miami.  Sy was op die punt om Jessica Robles te arresteer toe sy die twee kinders raaksien en besef hier is ’n probleem.

Wat het sy gedoen?  Sy het ’n $100 uit haar sak gehaal en vir hulle kos gekoop.

 “I made the decision to buy her some groceries because arresting her wasn’t going to solve the problem with her children being hungry.”

En hulle was in groot moeilikheid.  Die twaalfjarige dogter het huilend ná die tyd vertel:

“It’s not fun to see my brother in the dirt, hungry, asking for food, and we have to tell him, ‘There is nothing here.’”

Die enigste ding wat Vicky van Jessica gevra het wat dat sy iemand anders help as sy weer op die been gekom het.  Die verhaal gaan egter aan.  Soos mense dié verhaal gehoor het, het hulle nog geld geskenk, altesaam $700 om by die supermark te spandeer aan kos.  ’n Plaaslike besigheid het van haar gehoor, ’n onderhoud met Jessica gereël en haar as hulle kliëntedienste verteenwoordiger aangestel.

Jessica het die volgende oor Vicky te sê:

“There’s no words how grateful I am that you took your time and helped somebody out. Especially somebody like me.”

God se krag bepaal ons lewe, nie gebrek of oorvloed nie

Vers 13 van hierdie hoofstuk is ’n baie gewilde vers: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” Ons sien hiermee die sentrale paradigma van die brief in Filippense 2:6-11 – selfontlediging – aan die werk.  Dit word hier toegepas op Paulus se ervaring van sy praktiese lewensomstandighede.

Ons sien die patroon van selfontlediging en verheerliking dus nie net in Jesus Christus se lewe en bediening (Fil. 2:6-11) en in Paulus se lewe en bediening nie (Fil. 3:3-14), maar ook in Paulus se lewensomstandighede (Fil. 4:10-14). Hy weet wat gebrek, armoede en honger is, en hy weet wat oorvloed is en hoe dit voel om genoeg te hê om te eet.

In albei soorte lewensomstandighede het hy geleer om deur te kom en homself te behelp, want hy het geleer dat hy tot alles in staat is deur Christus se krag wat in hom werk.  Dink hier ook aan sy woorde in Fil. 3:10: “al wat ek wens … is om Christus te ken”. Dit bly die rigsnoer en doelwit van sy lewe.

Die woord wat Paulus in Fil. 4:11 vir “behelp” gebruik (autarkes), kan ook met “selfgenoegsaam” vertaal word. Dit wil sê, Paulus het geleer om vergenoeg of tevrede te wees en steeds met ’n oop hand te leef.   Dit is wat die woord beteken.

Dit beteken, uiterlike omstandighede – of dit nou gebrek of oorvloed tot gevolg het – bepaal nie meer Paulus se manier van leef nie.  Selfs nie eens sy eie tevredenheid of ontevredenheid met sy omstandighede bepaal sy gesindheid of die emosionele impak van sy ervaring nie. God se krag bepaal dit. Daarom is hy werklik tot alles in staat.

In sy vroeëre 2 Korintiërs 9:8 skryf Paulus soos volg hieroor: “En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.”  Dit is wat hy ook nou hier in die tronk ervaar.  Dít is wat hy van God glo.

Omgee ontsluit God se oorvloedige voorsiening

Paulus vertoef egter nie te lank op dié gedagtes nie.  Daarvoor is hy te dankbaar vir die feit dat die gemeente van Filippi, weliswaar na ’n lang tyd weens ’n gebrek aan geleenthede, weer aan hom gedink het en hom in sy moeilike omstandighede bygestaan het.  Omgee het nou God se krag in sy lewe ontsluit.  En hy is oortuig dat dié vrygewigheid van die gemeente van Filippi ’n besondere impak gaan hê.  Daaroor is hy bly.

Hulle omgee het dus die manier geword waarop hy wat Paulus is in staat gestel is deur die Here om in alle omstandighede te volhard.  “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” Inderdaad!  En hoe het Christus dit gedoen?  Deur die omgee van die gemeente van Filippi.

Paulus se blydskap (in die Here) oor die gemeente se materiële ondersteuning lê dus op verskillende vlakke.

Eerstens het hulle hulp sy omstandighede verlig. Tronke was in daardie dae haglike plekke. Dit was vuil en donker en óf koud óf warm, afhangende van die weersomstandighede. Gevangenes is in groepe aan mekaar vasgeketting. Hulle moes self hulle kos en klere voorsien.  Sonder die bystand en barmhartigheid van families, sou niemand in ’n tronk kon oorleef nie. Die feit dat Timoteus, as Paulus se reisgenoot, en Epafroditos, met die hulp van die gemeente, vir Paulus bygestaan het, was vir hom dus van groot hulp (Fil. 2:19-30). Paulus is dus dankbaar vir die ondersteuning wat hulle só aan hom gebied het.  Dit het hom gehelp en uiteraard ook sy bediening.

Tweedens het die gemeente se hulp die band tussen hulle en Paulus versterk (Fil. 4:10-16). Hulle het sy bediening immers van die begin af ondersteun (onder meer vroeër in Tessalonika, waarskynlik op sy tweede sendingreis), wat van die hegte band tussen hulle getuig. Dié verhouding is dus deur dié voorsiening van lewensmiddele verstewig en het Paulus tot groot dankbaarheid gestem.

Wilhelm Jordaan skryf dié week in Die Burger iets wat vir my betrekking het op hierdie medemenslikheid wat in die omgee van die gemeente van Filippi ten toon gestel word (“Idee van ‘mens deur mens’ is in baie kulture” –  http://www.dieburger.com/opinie/2014-08-12-idee-van-mens-deur-mens-is-in-baie-kulture).  Hy haal ’n karakter in die Amerikaanse dramaturg Tennessee Williams se Sweet Bird of ­Youth (1959) aan wat sê:

“I don’t ask for your pity, but just for your understanding – not even that – no. Just for your recognition of me in you.”

En Wilhelm som sy verstaan van die idee van medemenslikheid – ons as “mense deur ander mense” – op in dié wonderlike sin: “Verstaan is die terugvind van my in jou.”

Ek dink dít is wat hier gebeur het met die gemeente van Filippi.  Hulle het hulleself teruggevind in Paulus, in die omgee van dié man van God wat hulle in die tronk bygestaan het.  Hulle gemeenskaplike menswees is met die omgee vir mekaar versterk.

Derdens het die gelowiges se hulp aan Paulus hulle toewyding aan die Here verstewig (Fil. 4:17-18). Paulus noem hulle bydrae op innemende wyse ’n liturgiese offer aan God met ’n lieflike geur wat vir Hom aanneemlik en welgevallig is.

Hiermee brei Paulus sy vroeëre gedagtes in Romeine 12:1-2 verder uit. Dit is nie net gelowiges se persoonlike lewe wat ’n offer aan God is nie (Rom. 12); ook die gemeente se gesamentlike bediening is ’n offer aan God (Fil. 4). Dit is hoekom Paulus sê die offer maak hulle ryker in terme van die vrug wat hulle in die bediening oplewer. Dit getuig van ’n groeiende geestelike onderskeidingsvermoë en volwassenheid by die gemeente.  Juis in hulle vrygewigheid lê reeds die getuienis van hulle geestelike groei opgesluit.

Vierdens bring hierdie offer nie net lof aan God nie, maar dit ontsluit ook sy oorvloedige voorsiening vir elke behoefte wat hulle kon hê (Fil. 4:19-20). In die vorige perikoop het Paulus hulle juis aangemoedig om voortdurend hiervoor te bid.  En hy het die belofte van God se vrede wat van hulle besit sal neem, verkondig.  Hier neem hy dié gedagte dus verder.  God gee nie net vrede nie.  Hy voorsien ook inderdaad in elkeen van die behoeftes wat sy kinders het, volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus. Sóos hulle vrygewig raak na buitentoe, só doen God dit weer aan hulle.

Die genade van die Here Jesus Christus sal by julle wees

Dit is daarom heel gepas dat Paulus die brief afsluit met die genadegroet van die Here Jesus Christus.  Soos hy die brief begin het deur na God se genade en vrede te verwys, só sluit hy dit af deur hulle daaraan te herinner.

Die krag van God se teenwoordigheid lê nie in die afwesigheid van moeilike of uitdagende omstandighede nie.  Dit lê in die oorvloed wat gelowiges vir mekaar kan ontsluit deur aan mekaar te dink, deur vir mekaar te bid en deur mekaar te ondersteun, vir mekaar om te gee, soos hulle inderdaad nou vir Paulus gedoen het.  En die belofte is nog verder dat dit God in beweging bring, dat God uiteindelik in elke behoefte ryklik kan voorsien.  Daarop kan hulle en kan ons staatmaak.

Gebed

Dankoffers

Vonkk 277  – “U is die Lig”  (Highland Cathedral) – koor

Uitsendingslied

  • Liedboek 524 – “God roep ons om met woord en daad vir Hom te leef en werk” – staan

Seën

Amen

  • Liedboek 524 refrein – “Waar kan ’n groter vreugde wees, o Vader, Seun en Gees? Deur omgee en met uitreik Heer, gaan ons met blydskap voort”
View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.