Die wet as spieël, stang en sweep – Eksodus 20

Ons het verlede week Hervormingsondag gevier. Dié dag waarop ons nadink oor ons Protestantse erfenis. Ons kon die baanbrekerswerk van die Waldense, Johannes Hus van Boheme, Maarten Luther van Duitsland, John Wycliff van Engeland, Johannes Calvyn van Genève, en talle ander hervormers in herinnering roep.

Waarmee hulle ons gehelp het, is om terug te beweeg na die Skrifte, om teenoor die kerktradisie die primêre plek van die Skrifte te beklemtoon (sola Scriptura). Om teenoor die aflaatstelsel die primêre plek van Christus wat sy genade deur geloof in ons lewens aan die werk sit te beklemtoon (solus Christus, sola gratia en sola fide). En oorhoofs vir ons te leer om tot God se eer te lewe (soli Deo Gloria).

Die Tien Woorde

Ek wil egter vandag ‘n bietjie verder terug gaan in die geskiedenis, na die basis van die belydenis van Sola Scriptura. Na die eerste gawe van God se Woord aan ons. Na die tien woorde wat God op Sinai in sy eie handskrif aan ons gegee het. Die Tien Gebooie.

Want, dit is wat die tien gebooie in die Hebreeus genoem word: tien woorde, vanwaar die naam vir die Tien Gebooie as die Dekaloog kom (deka = tien; logos = woord: Eks 34:28; Deut 4:13; 10:4):

Soos Moses dit vertel:

4Die Here het in dieselfde skrif as tevore die tien gebooie (tien woorde – ʿǎśěʹ·rěṯ   hǎd·deḇā·rîmʹ) geskryf wat Hy op die berg, die dag toe die volk bymekaargekom het, uit die vuur uit vir julle gegee het.  Daarna het Hy die twee plat klippe vir my gegee. 5Toe het ek van die berg af gekom en soos die Here my beveel het, het ek die plat klippe in die ark gesit wat ek gemaak het.”

En die kommentaar van die redakteurs van die Pentateug: “Hulle is nog daar.” (Deut 10:4)

Die Tien Gebooie

Hier is ‘n kort weergawe vir memorisering wat ek op die PowerPoint wys:

  1. Jy mag nie nog ander gode buiten God aanbid nie.
  2. Jy mag nie vir jouself afgode maak en hulle aanbid nie.
  3. Jy mag nie die Naam van God sonder respek gebruik nie.
  4. Jy moet die rusdag vir God vier.
  5. Behandel jou ouers met respek.
  6. Moenie mense doodmaak nie.
  7. Moenie egbreuk pleeg nie.
  8. Moenie iets steel nie.
  9. Moenie valse verklarings aflê nie.
  10. Moenie afgunstig raak nie.

Ek lees egter die hele gedeelte in Eksodus 20.

1Toe het God al hierdie woorde gespreek en gesê:

2Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.

3Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.

4Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie.

5Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is ’n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;

6en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.

7Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.

8Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig.

9Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen;

10maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie.

11Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die sabbatdag geseën en dit geheilig.

12Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee.

13Jy mag nie doodslaan nie.

14Jy mag nie egbreek nie.

15Jy mag nie steel nie.

16Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.

17Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.” (Eks 20:1-17; vgl Deut 5:6-21)

Die geskenk van die wet

Die boek Eksodus gaan oor drie dinge: die Trek uit Egipte, die Tora of wet wat God vir die volk gee by Sinai, en die bou van die Tabernakel waardeur almal God se teenwoordigheid kon ervaar.

Nie net is die volk verlos uit die slawerny van farao nie. Nie net het hulle die voorreg van God se teenwoordigheid by hulle in die tabernakel ontvang nie. Nee, hulle het ook die geskenk van God se wet ontvang, die bevele wat God gee vir die lewe saam met Hom. God se tien woorde is vir hulle op skrif gestel, wat uiteindelik tot die hele Skrif, die Bybel, gelei het.

En dit is duidelik uit die Bybel dat hierdie wet van God regdeur van krag gebly het. Die profete het die volk aan die gehoorsaamheid aan die wet gemeet. Jesus het die wet verder uitgelê en gesê dat nie ‘n enkele deel van die wet ooit tot niet sal gaan nie. En Johannes het in die Openbaring gesê dat diegene wat die gebooie van God gehou het, hulle is die mense wat die voorreg van die boom van die lewe ontvang.

Hoekom is die Tien Gebooie, die wet, so belangrik?

Hoekom is dit so? Hoekom het die wet van krag gebly? Hoekom is hierdie tien woorde van God so belangrik?

Psalm 119 sê die wet is een van die kragtigste werkinge van God in die lewe:

18Maak my oë oop dat ek die kragtige werking van u wet ervaar.” (Ps 119:18)

Trouens, die wet gee die Psalmis krag selfs as die goddeloses hom wil verstrik of vir hom ‘n gat wil grawe:

61Die goddeloses wou my in hulle strikke kry, maar ek het u wet nie verontagsaam nie.” (Psalm 119:61)

Geen wonder die wysheidsleraar, die Prediker, som sy hele betoog oor die lewe op met hierdie waarheid:

13Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word. 14God sal rekenskap eis oor alles wat gedoen word, ook oor wat in die geheim gedoen word, of dit goed is of kwaad.” (Pred 12:13-14)

En dit is nie net die Psalms en Prediker wat die wet verheerlik in die lewe van gelowiges nie. Ons kry dit ook in die NT.

Jesus sê dat ons getrouheid aan die wet moet groter wees as dié van die Fariseërs

Daar is die wanpersepsie by baie mense dat Jesus die wet tot niet kom maak het. Dat Hy die wet van God in die OT kom vervang het met ‘n nuwe gebod in die NT wat niks meer met die ou wet te make het nie.

Wat sê Jesus egter self oor die wet in die NT?

17“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. 18Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.” (Matt 5:17-18)

Trouens, Jesus verbind die wet aan die wil van God en sê dat waar jy die wet oortree, daar leef jy nie meer in God se wil nie:

21“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. 22Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’23Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.”(Matt 7:21-23)

Jesus betreur dit daar mense sal kom – en hy verwys na ons tyd – wat mense sal leer om die wet van God te minag:

11“Daar sal baie vals profete kom, en hulle sal baie mense mislei. 12Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die liefde by baie verkoel. 13Maar wie tot die einde volhard, sal gered word. 14En hierdie evangelie van die koninkryk sal in die hele wêreld verkondig word, sodat al die nasies die getuienis kan hoor. Eers dan sal die einde kom.” (Matt 24:11-14)

Die Gees help ons om aan die eise van die wet te voldoen

En die res van die apostels in die NT leer ons presies dieselfde: Paulus, Jakobus, Johannes ensomeer. Paulus sê in Romeine 8, omdat die Gees in ons is, kan ons nou die wet nakom:

4Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees.” (Rom 8:4)

Dit is omdat die locus van die wet geskuif het vir gelowiges. Die wet is nie meer ‘n stel reëls in die tempel nie. Die wet is nie meer net op kliptafels, of selfs in ‘n boek nie. Nee, die wet neem sy intrek in ons hart sodat ons deur die Gees die wet kan nakom.

Die drie funksies van die wet

Hierdie krag van die wet kom in drie funksies van die wet na vore, soos Calvyn dit klassiek geformuleer het.

1. Die eerste funksie is om soos ‘n spieël te wees.

Ons sien in die tien woorde van God wat geregtigheid is, wat die standaard is wat God tevrede stel. Tegelykertyd sien ons natuurlik ons sonde en tekortkominge raak. Sien ons raak dat ons sondigheid God se standaard vir die lewe verduister.

Soos ons in ‘n spieël al die merke op ons gesig raaksien, só sien ons in die wet ons swakheid, ons boosheid, en die vloek wat op ons sonde rus. Die wet ontbloot ons diepste ongeregtigheid.

So leer Johannes, die apostel van die liefde, ons. Die wet is die primêre manier waarop God ons nie net die riglyne vir die lewe aandui nie, maar ook oortuig wat sonde is:

4Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God. (1 Joh 3:4)

Soos Calvyn sê:

“This is necessary, in order that man, who is blind and intoxicated with self-love, may be brought at once to know and to confess his weakness and impurity…” (Institutes of the Christian Religion, II.vii.6-12).

Sonder die spieël van die wet sal ons nooit weet hoe God se geregtigheid lyk nie. “Deur die wet is die kennis van sonde”, sê Paulus (Rom 3:20) en weet ons: “almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” (Rom 3:23).

“Want”, sê Paulus: “waar geen wet is nie, daar is ook geen oortreding nie.” (Rom 4:15). Trouens: “sonde word nie toegereken as daar geen wet is nie.” (Rom 5:13).

Paulus herhaal dit in Romeine 7 en sê: “Ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie.” (Rom 7:7)

As jy dit dus sou durf waag om een van God se woorde uit die wet of uit die Bybel te haal, dan verloor jy jou bewussyn van God en jou bewussyn van sonde. Jy sal nie meer weet wat God se standaard is nie. Jy sal nie meer weet of jy God se standaard oortree of nie.

Daar sal ‘n sluier oor jou hart en verstand kom, een wat net verwyder kan word as die Here jou insig gee deur die woorde wat Hy aan ons geopenbaar het, waarvan die eerste woorde, die tien woorde van Eksodus 20 is.

2. Die tweede funksie van die wet is om soos ‘n perd se stang te wees.

Die wet is soos die stang aan ‘n toom in ‘n perd se bek. Die wet probeer om die kwaad te beperk, selfs al kan dit nie ‘n mens se hart verander nie. Ons sien dit in die wette wat burgerlike samelewings maak, veral waar die tien gebooie die etiese en morele lewe vorm, soos dit vir eeue die geval was in die Weste. Dit beloon dié wat volgens God se wet wil leef. Dit straf dié wat God se wet oortree (Rom 13:3-4).

Dit is egter ‘n funksie van die wet wat nie altyd goed werk nie, soos ons toenemend begin sien in die Weste. Want samelewings maak wette wat God se wet, sy tien woorde, oorwoeker en verwyder uit die kollektiewe gewete. En dan tree mense na eie goeddunke op, na gelang van hulle eie sondige en bose aard. Die perd kry sy stang tussen sy tande, en dan is hy onbeheerbaar.

En waar hierdie wetteloosheid, dws die ongehoorsaamheid aan God se tien woorde, die oorheersende kultuur word, kry ‘n mens onmenslike vervolging van enigeen wat hulle aan God se wet wil hou, trouens van enigiemand wat anders dink as wat politiek korrek wou wees.

Maar, interessant genoeg, die wet bly as ‘n persoonlike gewete. Dit sê die Bybel. Daarvoor het God gesorg. Soos Paulus in dieselfde Romeinebrief skryf:

14Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ’n wet, al het hulle geen wet nie; 15omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig.” (Rom 2:14-15)

3. Die derde funksie van die wet is om soos ‘n sweep te wees.

Die derde funksie van die wet is die belangrikste. En dit is ‘n funksie van die wet wat net in gelowiges tot sy reg kom, in mense wie se harte vernuwe is deur die Gees, in mense wat die verlossing in Christus ervaar het. Dit is waar die wet soos ‘n sweep funksioneer.

Die tien woorde van God begelei die verlostes, die wedergeborenes, tot die goeie werke wat God vir ons voorberei het (Ef 2:10). Die wet wys gelowiges wat God se hart bly maak. Die wet funksioneer soos die geloofsgemeenskap se grondwet, die beginsels of standaard waaraan ons alles meet en wat ons as die onveranderbare maatstaf vir alles in die lewe neem.

Dit is waarvan Jesus gepraat het toe Hy ons die groot opdrag gegee het: “19Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” (Matt 28:19).

15As julle My liefhet, bewaar my gebooie”, sê Jesus. Ons gehoorsaamheid aan sy gebooie getuig van ons liefde vir Hom, presies wat die eerste gebod sê dat God in alles eerste kom, Hy alleen.

Ons is regtig vry van die burgerlike en seremoniële kante van die wet: “ons is nie onder die wet nie, maar onder die genade.” (Rom 6:14). Ons hoef nie meer te offer nie, want Jesus is ons enigste en genoegsame offer. Ons hoef nie meer besny te word nie, want deur geloof in Jesus is ons deel van die liggaam van Christus en het ons die ewige lewe.

Maar ons is steeds gebonde aan die morele kant van die wet. Soos Paulus van homself skrywe: “ek is nie sonder die wet van God nie, maar onder die wet van Christus.” (1 Kor 9:21). Ons: “dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.” (Gal 6:2). Die wet is ons reël van dankbaarheid soos die Heidelbergse Kategismus in die derde deel so uitvoerig aantoon.

Ons het immers nie net aanmoediging nodig in die geestelike lewe nie. Ons het ook teregwysing nodig. Daagliks. Diep. Deeglik. Soos Jakobus, broer van Jesus, verklaar:

25Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ’n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen. (Jak 1:25)

En dit is wat die Gees doen wat die wet van God op ons wedergebore hart skrywe. Ons het nie net dogma nodig nie.  Die leer van die Skrif nie. Ons het ook instruksies nodig, ‘n al hoe suiwerder kennis van God se wil soos Hy dit in nie net die Tien Gebooie gee nie, maar ook in sy hele Woord. Ons moet leef wat ons leer.

En soos ‘n perd van tyd tot tyd ‘n sweep nodig het, om hom aan te spoor, om hom sy beste te laat lewer, om die tydsberekening vir versnelling te kan aandui, só het ons die woorde van God nodig om ons in ons geestelike lewe te laat groei.

Soos Calvyn sê:

“The Law acts like a whip to the flesh, urging it on as men do a lazy sluggish ass. Even in the case of a spiritual man, inasmuch as he is still burdened with the weight of the flesh, the Law is a constant stimulus, pricking him forward when he would indulge in sloth.” (Institutes of the Christian Religion, II.vii.6-12).

God het die wet op jou hart geskryf

Daarom verkondig ek aan jou die boodskap van God. Hy het die wet op jou hart geskryf. Dit is wat by jou wedergeboorte gebeur. Eenmaal was dit op kliptafels wat in die ark in die tabernakel en tempel gebêre is. Vandag is dit deur die Gees in jou hart geskryf. Jy is nou die tempel van die lewende God.

Só het Jesaja dit voorspel: “verseël die wet in die hart van my leerlinge.” (Jes 8:15). Só het Jeremia dit voorspel: “Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart.” (Jer 31:33). Dit is waarvoor ons ‘n nuwe hart kry met ons wedergeboorte, soos Esegiël dit voorspel het: “Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in julle binneste gee.” (Eseg 36:26). Sodat God se wette daarop geskrywe kan word, sodat ons dit inderdaad ook kan nakom.

Hierdie wet wat God in ons hart skrywe is egter nie ‘n ander wet as dié wat God aanvanklik gegee het nie. Die wet wat God in ons hart skrywe, is in inhoud presies dieselfde as wat Hy aan sy volk in die Ou Verbond by Sinai gegee het.

So lê kommentare dit uit. William Lane sê in sy kommentaar op Hebreërs dat dit is wat ‘n mens in Hebreërs 8:10 lees waar die Hebreërskrywer die werk van God in NT gelowiges se binneste beskrywe: “Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees”.

Hy sê die verskil tussen die Ou en die Nuwe Verbond lê nie in die inhoud van die wette van God nie, maar in die plek waar dit gebêre word. Die wette is nie meer in die Ark in die tempel nie, maar in jou hart en verstand, want jy is nou die tempel van God.

Natuurlik sluit dit nie die burgerlike en seremoniële wette in nie. Hulle het verval soos die Skrif self ons leer. Maar die morele wette van die Ou Testament bly van krag tot aan die einde van die tyd, soos ons by Jesus en die apostels leer.

Só bely ons dit ook in die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 25: DIE SEREMONIËLE WET IN CHRISTUS VERVUL:

“Ons glo dat die seremonies en heenwysings van die Wet met die koms van Christus opgehou het en dat alle voorafskaduwing tot ‘n einde gekom het. Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word. Die waarheid en inhoud daarvan bly nogtans vir ons in Christus Jesus bestaan: in Hom het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling. Ons gaan ook nog voort om die getuienisse van die wet en die profete te gebruik om ons in die evangelie te bevestig en ook om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig.” Rom 10:4; Gal 3, 4; Kol 2:17; 2 Pet 1:19; 3:2, 18.

En die wonder van God se morele wette is dat dit nie moeilik verstaanbare en ingewikkelde wette is nie. Dit is wette wat ‘n eenvoudige helder betekenis het. Dit het ‘n “plain-sense”, selfs ‘n “common sense”. Jy het nie ‘n graad nodig om hierdie wette te verstaan nie. Dit is wette waarvoor jy nie ‘n kursus in hermeneutiek nodig het nie.

Wat is die inhoud van die wet?

As ons dit goed besef, kan ons diep luister na hierdie wet, die wet wat die Gees in ons hart skrywe, en wat ons vrymaak om God en ons naaste lief te hê soos onsself. Soos ek in my boek Wie is God? en Wat glo jy? skryf, behels die tien woorde van God die volgende:

  1. Jy mag nie nog ander gode buiten God aanbid nie. Jy moet God met jou hele hart liefhê. Dit gaan in hierdie lewe oor God en oor God alleen. Jy moet Hom alleen as die enigste ware en lewende God leer ken, eer en vertrou.
  2. Jy mag nie vir jouself afgode maak en hulle aanbid nie. Jy moet God reg aanbid, Hy alleen. Jy mag geen afgod in God se plek duld nie. Niks mag die plek van God in jou lewe neem nie. Selfs nie roem, eer of geld nie.
  3. Jy mag nie die Naam van God sonder respek gebruik nie. Jy mag nie sy Naam laster of misbruik nie, maar net met ontsag en eerbied gebruik.
  4. Jy moet die rusdag vir God vier. Jy moet jou rus in Hom vind, en in Hom alleen. Dit beteken saam met ander gelowiges op die rusdag. Dit beteken ook ‘n rus van die sonde en ‘n heilige lewe.
  5. Behandel jou ouers met respek. Jy moet gesag respekteer. Ouers en gesagsfigure. Onderwerp jou aan hulle geestelike dissipline en begeleiding.
  6. Moenie mense doodmaak nie. Respekteer die lewe. Jy mag jouself en ander nie onteer, haat, beledig of doodmaak nie, selfs nie jou vyande nie.
  7. Moenie egbreuk pleeg nie. Respekteer die huwelik. Jy moet alle seksuele losbandigheid buite die huwelik tussen een man en een vrou kruisig, terwyl jy alle onrein gedagtes, woorde, begeertes en dade as ongetroude en getroude vermy.
  8. Moenie iets steel nie. Respekteer ander se goed. Jy moet niks sonder verlof vat nie. Jy mag nie gierig of gewelddadig wees nie.
  9. Moenie valse verklarings aflê nie. Respekteer ander se reputasie. Jy moet nie lieg en bedrieg nie. Jy mag nie skelm of korrup wees, of valse verklarings aflê nie.
  10. Moenie afgunstig raak nie. Wees tevrede met wat jy het. Jy moet die waarheid opreg en in liefde praat, sonder afguns teenoor ander, en sonder om God te verkwalik vir sy voorsiening.

Hoor dus die blywende betekenis van die wet van God op ‘n nuwe manier vandag, en laat die Gees jou die krag gee om dit met jou hele lewe te vervul. Memoriseer die wet. Oordink die wet. Laat die wet jou doen en late struktureer. Laat die Gees toe om dit in jou hart en verstand in te skrywe.

Dit is die beginsels van die lewe. Dit is die basis van ons etiek.  Dit is die grondslag van ons leer en lewe. Toe, vandag, en vir altyd.

Ek sluit af met ‘n dringende oproep waaraan ‘n lewegewende belofte gekoppel is.

Bewaar die gebooie van God en die getuienis van Jesus Christus

Johannes skrywe hieroor in die Openbaring aan hom. Hy sê dat die stimulus en krag vir ons teenstand teen die duiwel en die wêreld lê in Jesus en die gebooie van God:

17En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.” (Open 12:17).

Jesus se getuienis sluit natuurlik die blywende betekenis van die wet in, soos al die evangelies dit verkondig. Johannes herhaal hierdie blywende betekenis as ‘n voorskrif vir die hele kerk waarin die krag van ons volharding lê:

12Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.” (Openb 14:12)

As jy glo in Jesus kan jy nie anders as om die gebooie van God te bewaar nie. Om Jesus lief te hê, is om God lief te hê en sy gebooie te bewaar.

En dit is dié mense wat uiteindelik sal eet van die boom van die lewe en in die heilige stad van God vir ewig sal lewe.

14Salig is die wat sy gebooie doen (ander tekste het: Geseënd is dié wat hulle klere was), sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad. Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.” (Openb 22:14-15 – OAV).

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie!

  • Avatar

    mariette

    |

    Môre-môre!

    Dankie Chris. Die reeks dra baie praktiese wenke oor en is verrykende luistergenot vir elkeen. Elke dag iets nuuts om na uit te sien!

    Seën daarop toegebid
    Mariette

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Nee, Elmarie, jy hoef nie. Ons kan 250 mense akkommodeer. Skryf net in by die deure. Baie welkom.

  • Avatar

    Prof Elmarie Venter

    |

    More Ds Chris. Ons is 3 wat wil bywoon. Moet ons nog bespreek? Groete
    Elmarie

  • Vreesloos 1

    |

    […] Pinkster-reeks se titel vanjaar is “Vreesloos”– oor geloof in ‘n tyd waar ons bang […]

  • 21 Mei 2020

    |

    […] Pinkster-reeks se titel vanjaar is “Vreesloos”– oor geloof in ‘n tyd waar ons bang […]

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Ons het vir baie lank ‘n versorgingskommissie gehad vir leraars en personeellede. Dit was persone in die gemeente wat gereeld op informele wyse met elkeen van ons kontak gemaak het, belanggestel het in wat in ons lewens aangaan, uitgevra het na uitdagings, en vir ons gebid het. Dit was benewens die diensverhoudingekommissie wat meer op die formele dinge gekonsentreer het. Die inperking het ‘n bietjie daaraan verander, maar dit was ‘n baie goeie informele sisteem van versorging.

  • Avatar

    Des Sampson

    |

    Goeie dag. Ek is voorsitter van die DVK op Hartenbos. Wat doen julle mbt die versorging van predikante en kantoor personeel?

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dit was Rethie van Niekerk se preek. Sy het in die preek verwys na die Hebreeuse woorde.

    Die eerste reël (seën) het drie woorde, dan vyf woorde, dan sewe woorde.  15, 20, 25 konsonante (onthou ʾ is ook ‘n konsonant).  11, 13, 16 lettergrepe (ek het weer getel, en dit is die korrekte aantal).

    24 yĕbārekkā yĕhwâh wĕyišmĕrekā
    25 yāʾēr yĕhwâh pānāyw ʾēlêykā wîyḥunekā
    26 yiśāʾ yĕhwâh pānāyw ʾēlêykā wĕyāśēm lĕkā šālôwm

    Hoop dit maak sin.

  • Avatar

    Annemarie vn Zyl

    |

    NUM 6; GOD SE SEEN, Goeiemore
    Ek het vanoggend hierdie Bybelstudie gedoen en dit was wonderlik. Die deel DIE TEKS verstaan ek egter glad nie. ek kry die aantal woorde reg maar glad nie die konsonante en lettergrepe nie. Ek verstaan ook nie die doel van hierdie deel nie, tensy jy wil bewys dat dit menslik amper onmoontlik is om die seen so te skryf, met die spesifieke aantal konsonante en lettergrepe sonder God se ingryping.. ek sal dit waardeer as iemand die deel in kort vir my verduidelik Baie dankie Annemarie van zyl.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Corrie! Mooi jaar vir jou.

  • Avatar

    Corrie

    |

    Ds. Chris, soos altyd ń opbeurende en positiewe bydra deur U, vir die toepassing deur die kinders van God. Selfs hulle wat Hom nog nie as hul Saligmaker en Verlosser aangeneem het nie, sal baat by diė insetsel. Ek vra dat God se seën op U sal rus.

  • Avatar

    C Joubert

    |

    Inspirerende en besielende boodskappe

  • Avatar

    Sonja Lizemore

    |

    Beste Ds Chris.
    Net n GROOT DANKIE vir die liedere. Dit is baie spesiaal.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Carol, jy is reg, dit is ‘n kosbare insig! Ek het ook onlangs gepreek oor die inwonende Christus, as jy meer wil lees. Baie seën.

  • Avatar

    Carol

    |

    Baie dankie vir die eerste keer in my lewe besef ek nou wat my probleem is. Ek het nog nie vir JESUS in my ontdek nie dis geen wonder dat my verhouding met JESUS nêrens kom nie. Geen ontmoeting geen kennis of wysheid en GEEN GROEI.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Annelize – ons hou dienste in die kerkgebou (Louis Bothasingel 177, Somerstrand) om 09:00 Sondae tegelykertyd met ons Youtube erediens ook om 09:00. Ons het ook ‘n meer informele Youtube erediens – Pulse – wat van 11:00 af op ‘n Sondag beskikbaar is. Ter wille van die personeel se verlof sal ons DV van 27 Desember tot 24 Januarie nie fisiese eredienste in die kerk hê nie, net die Youtube erediens 09:00. Dié dienste word weer hervat van 31 Januarie af sowel as moontlik ‘n aanddiens om 18:30. As jy hier is, maak ‘n afspraak dat ons jou kan verwelkom. My sel is “nul agt twee 5749191”. Groete, Chris van Wyk.