Skip to main content

Vier voorbidders voor die volk – Numeri 14

Daar kom ‘n tyd wat elke voorbidder nie voor God staan nie, maar voor die mense vir wie hy of sy intree. Wanneer die gevolge van opstand teen God en sy wil vir die lewe hulle eie asems wil wegslaan. Wat hulle asem ophou vir wat kan gebeur met mense wat weet wat God vra, maar sy woord in die wind slaan. Wat weier om tot inkeer te kom. Hulle eie planne maak. God se woorde verdraai om hulle eie agendas te pas.

En ware voorbidders mag nie stilbly nie. Nie teenoor die volk nie. Nie teenoor God nie.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS (Download the English translation: Numbers 14)

Verwelkoming

Teble Tonez sing (koor van 25 meisies)

Smul & Kuier was baie geslaagd. Lekker gesmul. Lekker gekuier. Wonderlike geleentheid. Dankie aan almal vir hulle bydraes en bywoning. Linus, dit was bobaas.

Agtergrond: Kneeling in prayer, 1856, deur Francois-Barthelemy-Marius Abel (1832-1870)

Toetrede

Ons is bewus van soveel plekke waar onrus en geweld die botoon vier. Die Zondo kommissie vlek al hoe meer korrupsie oop. Die Zimbabwiërs is afgesny van die buitewêreld terwyl onbevestigde berigte van geweld en verdrukking uit sypel. Chinese Christene word op ‘n groot skaal verdruk, al word ‘n rooskleurige prentjie deur die owerhede aan die buitewêreld voorgehou van hulle staatskerk. En só kan ons aangaan.

Lied 279 Hoor ons sug, o Heer – sit

Votum en Seëngroet

Lofsang

Ons enigste hoop is die Here self, die Een wat ons lei, die Een wat groot en magtig is, wat alleen ons hulp en krag is.

Lied 281:1-3 Lei ons, Here, groot en magtig, U alleen ons hulp en krag – staan

Verootmoediging

Die Here Jesus is die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis (Hebr 3:1). Hy het eenmaal self gely onder versoeking. Daarom kan Hy dié help wat versoek word. So verseker die Hebreërskrywer ons (Hebr 3:18).

Ons word egter gewaarsku teen ongeloof en ongehoorsaamheid. Ons word opgeroep om aan God vas te hou en onwrikbaar aan sy Woord vas te hou met verwysing na die Israeliete in die woestyn.

“Vandag as julle sy stem hoor, 8verhard julle harte nie soos in die verbittering, in die dag van die versoeking in die woestyn nie, 9waar julle vaders My versoek, My beproef het en my werke veertig jaar lank gesien het. 10Daarom het Ek vertoornd geword op daardie geslag en gesê: Altyd dwaal hulle met die hart. Maar húlle het my weë nie leer ken nie, 11sodat Ek in my toorn gesweer het: Hulle sal in my rus nie ingaan nie.”

Die agtergrond hiervoor vind ons in Numeri 14 waar die volk gestruikel het oor die laaste hekkie om in die land Kanaän in te gaan, ‘n gedeelte wat ek in die prediking gaan gebruik.

Die oproep aan ons as gemeente is soos volg:

12Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. 13Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie. 14Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou.”

Dit is ‘n opdrag wat ons nie kan weier nie. Ons is saam hierin:

4:1Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie. 2Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle (‘n verwysing na Josua en Kaleb se pleitrede in die woestyn om die Here te vertrou en Hom te gehoorsaam); maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie.”

Dit is iets wat ons self moet gehoorsaam:

9Daar bly dus ’n sabbatsrus oor vir die volk van God; 10want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. 11Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie.”

En waaraan ons gehoorsaam moet wees, is uiteraard presies die Woord van God wat Hy vir ons gegee het. Hoekom?:

12Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ’n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart. 13En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.” (Hebr 3:18-4:13 OAV)

Dit is die Here Jesus self wat dié Woord van God gebruik in ons lewe. Hy help ons om die Woord te gehoorsaam en ons lewe op God se woorde te bou.

Lied 508:1-2 Vaste Rots op wie ek bou, Een op wie ek kan vertrou – sit

Kindertyd

Ek wil vandag met julle gesels oor asemhaal. Dit is iets wat ons elke dag doen. Of jy nou wakker is. Of slaap. Lug is vol suurstof. Wanneer jy dit inasem gaan dit deur jou neus of jou mond na jou longe. Jou longe stuur die suurstof na elke sel in jou liggaam. So het jy energie om te lewe.

As jy vinnig loop of hardloop, het jy meer energie nodig. So jy haal vinniger asem. As jy slaap, het jy minder energie nodig. So jy haal stadiger asem.

Hoe lank kan julle asem op hou? Kom ons probeer. Die meeste van ons kan ons asem so 30 sekondes ophou. Daar is mense wat dit regtig vir lank kan doen. Die rekord behoort aan Aleix Segura Vendrell. Hy het sy asem 24 minute en 3,45 sekondes opgehou (Guinnes-wêreldrekord Februarie 2016).

Maar, almal van ons moet asemhaal om te kan lewe. Is jy nie bly dat God jou so gemaak het nie?

Soms voel dit egter of dit moeilik is om asem te haal. Nie waar nie? Het jy al so ‘n groot probleem gehad dat dit voel asof jy nie genoeg asem kan kry nie? Miskien was jy bang. Of eensaam. Of jy het iets verkeerds gedoen.

Wanneer dit vir jou moeilik raak om asem te haal, moet jy alles los, en na God toe gaan. Jy moet bid. Jy moet vir Hom alles vertel wat jy voel. Jy kan sommer net stil sit ook by Hom. Hy sal jou help om weer asem te kry. Hy sal jou nooit los nie. Hy sal jou help. Hy sal jou vergewe. Hy sal jou krag gee.

Daar is ‘n wonderlike belofte in die Bybel wat jou hieraan sal herinner:

“Dié wat op die Here hoop, sal hulle krag terugkry. Hulle vlieg hoog, soos arende. Hulle hardloop en het altyd krag. Hulle loop en word nie moeg nie.” (Jes 40:31 – eenvoudige parafrase).

Kom ons bid sommer nou vir asem:

“Here, ek voel soms asof ek nie kan asemhaal nie. Dankie vir u beloftes. U gee my krag. U sal my nooit los nie. U gee my weer my asem terug.”

(Gebaseer op “Haal net asem” uit Louie Giglio se Onbeskryflik – 100 dagstukkies oor God en wetenskap)

Gebed

Skriflesing en prediking

Numeri 14

Die vrees vir die onbekende

Die volk staan voor die Intog in Kanaän. Die Here het hulle verlos uit Egipte. Die Here het hulle versorg deur die woestyn. Die Here het tussen hulle kom woon in die tabernakel. Hulle het sy wet ontvang sodat hulle Hom kan gehoorsaam. Hulle het geweet wat God wil. Elke detail daarvan.

Die Here het wonder op wonder gedoen. Hulle het water gekry. Hulle het kos gekry. Hulle het hulle vyande in die woestyn verwoes. Hulle is gereed gemaak om die land Kanaän in te neem.

Nou, moet hulle die volgende stap neem. Israel moet die land intrek en dit inneem, die land wat die Here belowe het om vir hulle te gee. ‘n Land wat die Kanaäniete verkwansel het deur hulle langdurige goddeloosheid en onsedelikheid.

Die probleem is egter. Twaalf verkenners het die land deurgetrek. Tien van hulle het die volk kom bangpraat. Daar was reuse. En hulle was bang: “Ons was soos sprinkane in ons oë; so was ons ook in hulle oë.” (Num 13:33)

Die Israeliete het kortasem geraak. Hulle suurstof het opgedroog. Hulle energievlakke het gedaal. Hulle wou net vlug van hierdie uitdaging wat vir hulle voorgelê het.

Het jy al só gevoel? Kortasem. Sonder krag. Jy wil net vlug. Enigiets, maar net nie die uitdaging wat vir jou voorlê nie.

Kom ons lees wat die volk doen.

Die hele volk kom in opstand

1TOE het die hele vergadering uitgeroep—hulle het hul stem verhef, en die volk het dié nag geween. 2En al die kinders van Israel het gemurmureer teen Moses en teen Aäron, en die hele vergadering het aan hulle gesê: Ag, as ons maar in Egipteland gesterf het! Of as ons maar hier in die woestyn gesterf het! 3En waarom bring die Here ons na hierdie land om deur die swaard te val? Ons vroue en ons kinders sal ’n buit word. Sal dit nie beter vir ons wees om na Egipte terug te gaan nie? 4En hulle sê vir mekaar: Laat ons ’n hoof aanstel en na Egipte teruggaan.

Die teenstand teen Moses en Aäron kom van die hele geloofsgemeenskap af, uitgesonderd ‘n enkeling soos Kaleb wat hom reeds bereid verklaar het direk ná die verkenning om gehoorsaam te wees aan die Here.

Die mense het aanhoudend hardop gekla en gehuil reg deur die nag in hulle tente weens die “slegte gerug” van die ander verkenners. Hulle het die duidelike bevel van die Here vervang met hulle eie weergawe daarvan.

En die volk het geluister na hierdie verkenners en die volgende dag gerebelleer teen die leiers: “As ons maar in Egipte of in hierdie woestyn gesterf het!

In plaas daarvan om die Here te nader, om Hom te vertrou, om van Hom hulle krag te vra, kom hulle in opstand teen die pad wat Hy vir hulle aanwys. Rebelleer hulle teen God self.

Vier voorbidders voor die volk

5Toe het Moses en Aäron op hulle aangesig geval voor die hele vergadering van die gemeente van die kinders van Israel. 6En Josua, die seun van Nun, en Kaleb, die seun van Jefúnne, twee van die wat die land verken het, het hulle klere geskeur 7en die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ’n buitengewoon goeie land. 8As die Here ’n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee, ’n land wat oorloop van melk en heuning. 9Wees net nie teen die Here opstandig nie, en wees julle nie bevrees vir die volk van die land nie, want hulle is ons spys. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die Here is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie!

Josua word waarskynlik deur dié rebellie oortuig om hom te skaar by Kaleb en skeur saam met Kaleb sy klere nadat Moses en Aäron voor die hele volk op hulle knieë geval het. Mirjam se stem het stil geraak ná haar vorige rebellie teen Moses (Num 12). Haar naam word nog net een keer verder in die verhaal genoem met haar dood.

Wat ek wil hê dat jy moet raaksien, is die prentjie van Vier Voorbidders Voor die Volk. Nie voor God nie, voor die volk.

Hoekom? Want, hulle weet wat hulle aan God het. Hulle weet dat Hy in staat is om hulle die land in te neem. Trouens, Hy is die een wat vóór hulle sal uitstap die oorlog tegemoet.

Maar hulle weet ook dat Hy ‘n heilige God is. Dat Hy gehoorsaamheid vra van sy mense. Dat Hy geen opstand duld nie. En hulle is bevrees namens die volk. Hulle is bevrees dat hierdie opstand teen God die volk suur gaan bekom. Alles tot niet gaan maak. Die pes van die Here onder hulle gaan loslaat, soos Hy inderdaad net hierna wil doen (Num 14:12).

Op roerende wyse probeer Kaleb die volk oortuig om die Here te bly vertrou en nie in opstand te kom teen sy wil vir hulle nie. Die land is ‘n buitengewone goeie land en die Here is hulle só goedgesind dat Hy die land vir hulle wil gee. Omdat die Here aan sy volk se kant is, hoef hulle nie vir die land se mense bang te wees nie. In die Hebreeus sê Kaleb: “Hulle is ons kos”!

Daar kom ‘n tyd wat elke voorbidder nie voor God staan nie, maar voor die mense vir wie hy of sy intree. Wanneer die gevolge van opstand teen God en sy wil vir die lewe hulle eie asems wil wegslaan. Wat hulle asem ophou vir wat kan gebeur met mense wat weet wat God vra, maar sy woord in die wind slaan. Wat weier om tot inkeer te kom. Hulle eie planne maak. God se woorde verdraai om hulle eie agendas te pas.

En ware voorbidders mag nie stilbly nie. Nie teenoor die volk nie. Nie teenoor God nie.

Die volk wil hulle leiers stenig

Wat doen die volk?

10Toe sê die hele vergadering dat hulle gestenig moet word.

Die volk wil ander leiers hê wat hulle kan terugneem na Egipte toe weg van wat die Here vir hulle wil gee. Hulle word nie deur Kaleb se pleidooi en bemoediging oortuig nie, en dreig om hierdie vier leiers – die vier wat staan tussen die afvallige volk en ‘n toornige God – om hulle met klippe dood te gooi.

Dit is altyd só dat as die boodskap seermaak, die boodskappers uitgewis moet word. Dit is wat voorbidding ook só uitdagend maak. Omdat dit ‘n posisie inneem tussen onheiligheid en heiligheid, tussen afvalligheid en toornigheid.

En waarin die versoeking groot is om in stede van te bid en te pleit, om liewer self te begin veroordeel.

Hoe lank sal hierdie volk my almag bly onderskat?

En laat ons die erns van hierdie situasie nie onderskat of met ons moderne sentimente probeer versag nie. Wanneer die heerlikheid van die Here verskyn, is dit ‘n vuur wat alle onheiligheid verteer:

Maar die heerlikheid van die Here het in die tent van samekoms verskyn voor al die kinders van Israel. 11Daarop het die Here aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het?

12Ek sal hulle met die pes tref en hulle uitroei; en Ek sal jou ’n groter en sterker nasie maak as hulle.

Die Here se magtige teenwoordigheid by die tent van ontmoeting verdryf enige sweem van onsekerheid by die Israeliete oor waar God staan in dié konflik, hoe Hy oordeel oor hulle verset.

In sy gesprek met Moses kom ‘n mens agter dat die volk se verset ten diepste teen die Here self is. Hulle het sy almag nie vertrou nie tot sy groot frustrasie.

Daarom vra die Here vir Moses: “Hoe lank sal hierdie volk my almag bly onderskat? Hoe lank sal hulle weier om op My te vertrou ten spyte van al die wonders wat Ek onder hulle gedoen het?”

God wil die volk uitwis met die pes en eerder net met Moses voortgaan. Die voortbestaan van die volk is dus in gedrang weens hulle vrees vir en verwerping van die volgende fase van hulle gehoorsaamheid aan God se plan vir hulle lewe.

Moses vra dat God die sonde van hierdie volk in sy groot liefde vergewe

Die gesprek vind verder net tussen God en Moses plaas. Moses staan steeds tussen die volk en God, maar hy pleit nou vir die volk by God:

13Toe het Moses aan die Here gesê: Maar die Egiptenaars het gehoor dat U deur u krag hierdie volk onder hulle uit laat optrek het

14en dit aan die inwoners van hierdie land gesê. Hulle het gehoor dat U, Here, in die midde van hierdie volk is; dat U, Here, duidelik waarneembaar verskyn; dat u wolk oor hulle staan en U in ’n wolkkolom voor hulle uit trek bedags en in ’n vuurkolom by nag.

15As U nou hierdie volk soos een man ombring, dan sal die nasies wat die tyding aangaande U gehoor het, spreek en sê:

16Omdat die Here hierdie volk nie kon inbring in die land wat Hy hulle met ’n eed beloof het nie, het Hy hulle in die woestyn omgebring.

17Laat dan nou tog die krag van die Here groot word, soos U gespreek het deur te sê:

18Die Here is lankmoedig en groot van goedertierenheid, wat die ongeregtigheid en oortreding vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie, wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag.

19Vergeef tog die ongeregtigheid van hierdie volk na die grootheid van u goedertierenheid, en soos U hierdie volk van Egipte af tot hiertoe vergewe het.

Soos tevore met die krisis van die goue kalf (Eks 32; Eks 33) wys Moses die Here op die feit dat as Hy die volk uitwis, sal al die ander volke kan dink dat God inderdaad nie almagtig is nie, omdat Hy nie in staat was om die volk deur die woestyn in die beloofde land te bring nie. ‘n Uittog sonder ‘n Intog sal nie sin maak nie.

Daarom gebruik Moses die selfopenbaring van God dat Hy ‘n God van vergifnis is, al spreek Hy niemand sonder meer vry nie (Eks 34) – en al het die Here verkondig dat die gevolge daarvan tot in die derde en vierde geslag van dié wat God haat geldig bly, soos dit in die tweede gebod uitgespel is (Eks 20) – en smeek namens die volk dat Hy hulle genadig sal wees.

Op briljante wyse gebruik Hy die wonderdade van die Here – die Uittog uit Egipte, die wolk- en vuurkolom – om nie net die voorsiening vir die volk te beklemtoon nie, maar die feit dat Egipte dit kon sien en die nasies daarvan te hore gekom het, te onderstreep.

Die wonders van God is nie net iets wat sy mense verbly nie, maar getuienisse van God se grootheid aan ‘n wêreld wat in opstand is teen Hom, in die hoop dat dit hulle harte sal versag om in Hom te glo.

Die Here sê nie een van hulle wat Hom geminag het, sal die land sien nie

20Toe sê die Here: Ek vergewe, volgens jou woord.

21Maar so waar as Ek leef en die hele aarde van die Here se heerlikheid vol sal word,

22al die manne wat my heerlikheid en my tekens gesien het wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, en My nou al tien maal versoek het en na my stem nie geluister het nie,

23hulle sal die land nie sien wat Ek aan hulle vaders met ’n eed beloof het nie, ja, almal wat My verag het, sal dit nie sien nie.

24Maar my kneg Kaleb, omdat ’n ander gees in hom was en hy volhard het om My te volg—hom sal Ek bring in die land waarin hy gekom het, en sy geslag sal dit in besit neem.

25Die Amalekiete en die Kanaäniete woon in die laagte—draai môre weg en trek tog die woestyn in, op pad na die Skelfsee.

Let op dat die Here hierdie smeking van Moses vir die volk eer, en die volk vergewe. Aan die een kant spaar Hy die eerste generasie se lewe, al sou hulle die beloofde land nie sien nie.

Nie een van dié wat God geminag het, sou die beloofde land egter sien nie, net die twee getroues, Kaleb en Josua. Kaleb, omdat daar ‘n “ander gees” in hom was, ‘n gees van volharding. Josua, omdat die Here nog sou werk aan hom dat hy die leier kan word wat Moses sal opvolg.

Ons kom selfs later agter dat God uiteindelik net die tien verkenners in verset teen sy wil vir die volk met die dood straf.

Die volk moet egter omdraai terug op die pad na die Rietsee toe. Watter angswekkende uitkoms, veel erger as die uitdaging van die land!

Aan die ander kant hef God op uiters regverdige wyse die gevolge van hulle sonde op die tweede generasie op, sodat die kinders nie uiteindelik só onder hulle pa’s en ma’s se sonde ly dat hulle ook nie die beloofde land sien nie.

Die lang ompad deur die woestyn sou wel steeds hulle lot ook wees. Maar God se vergifnis verseker dat hulle die beloofde land kon binnegaan. Almal onder twintig jaar oud.

Die tweede generasie word natuurlik veertig jaar later op hulle beurt herinner om in hulle gehoorsaamheid te volhard toe die tyd kom om die beloofde land binne te val, soos Moses dit in Deuteronomium 5 doen met die herhaling van die Tien Gebooie.

Eksodus 20 was die wil van God vir die eerste generasie. Deuteronomium 5 – dieselfde Tien Gebooie – was die wil van God vir die tweede generasie. God verander nie die voorskrifte van sy wil nie. Ooit nie.

Ek sal met julle maak soos Ek julle hoor sê het

Op ironiese wyse laat die Here die een deel van hulle wens waar word, soos ons in Numeri 14:26-30 lees. Hulle het gekla: “As ons maar in Egipte of in hierdie woestyn gesterf het!” Dit is presies wat die Here nou vir hulle gee. Hulle sal in die woestyn sterf: “Ek sal met julle maak soos Ek julle hoor sê het.” Net Kaleb en Josua sal oorleef.

Julle kinders sal die land wat julle verwerp het, lief kry

Wat die Here wel sal doen, is om aan hulle kinders die land te gee, soos ons Numeri 14:31-35 lees. Dié land wat hulle pa’s en ma’s verwerp het, sal hulle lief kry. Die pad daarheen lei wel deur die woestyn, ‘n gevolg van die sonde van hulle pa’s en ma’s. Maar die vergifnis wat Hy gee, baan vir hulle die weg om die belofte in vervulling te sien gaan.

Daardeur sal die eerste generasie agterkom wat dit beteken om die Here téén jou te hê. Ook die tweede generasie sal daaruit leer om nie in dieselfde slaggate as hulle ouers te trap deur ongeloof en ongehoorsaamheid nie.

Die verkenners in verset het gesterf deur ‘n plaag van die Here

Die tien verkenners in verset word egter nie vergewe nie. Dit lees ons in vers 36-38. Hulle sterf deur ‘n plaag van die Here, omdat hulle ‘n slegte gerug oor die land versprei het en direk tot die vrees van die volk aanleiding gegee het. Hulle vrees het ‘n hele volk in verset gebring téén God.

Geen wonder dat in net die volgende hoofstuk, Numeri 15, uitgebrei sal word oor moedswillige sondes: “sondes wat met ‘n hoë hand gedoen word.” Dit beteken, sondes wat as’t ware jou hand téén God oplig, wat sy wil doelbewus verag en verontagsaam en Hom in oneer en diskrediet bring. Waar dit ander ook op soortgelyke wyse in opstand bring, is die gevolge vir jou tereg afgryslik. Soos hier met die tien verkenners.

Vermetelheid verlei die volk om die land in te val téén die Here se wil

Die volk word egter, anders as wat ‘n mens verwag, nie afgeskrik deur die straf van die tien verkenners nie, soos ons in vers 39-45 lees. Die straf spoor hulle aan om in hulle arrogansie en vermetelheid op hulle eie vermoëns te probeer staat te maak om die land tóg in te val toe hulle agterkom dat hulle verkeerd opgetree het, maar téén die Here se wil. Daarom faal hulle in hulle onderneming. Die Here was nie daarin teenwoordig nie.

Die feit dat die vrees van die volk vir die vreeslike mense van Kanaän soos mis voor die son verdwyn toe hulle agterkom dat hulle verkeerd was, openbaar waarskynlik hulle sonde die heel beste in hierdie verhaal. Dit is nie dat hulle só bang was vir die “reuse” van die land dat hulle glad nie kans gesien het om die land in te val nie. Hulle wou net nie die Here se pad kies nie. Hulle wou nie met sy leier Moses saamwerk nie.

Hulle vermetelheid verlei die volk dus om die land in te val téén die Here se wil. En dit is ‘n volslae mislukking. Die Amalekiete en Kanaäniete (Amoriete) het hulle soos ‘n swerm bye verjaag. Soos Moses in Deuteronomium 1:44 dit so pragtig stel. Sonder die Here kan géén onderneming slaag nie.

En ons laat die verhaal daar totdat ons oor ‘n paar weke terugkom na die tweede generasie en van hulle uitdagings met die giftige slange gaan lees in Numeri 21 …

Numeri 14 is ‘n voorbeeld van die geestelike lewe

Hierdie verhaal van Numeri 14 is ‘n ongelooflike raak beskrywing van die geestelike lewe met God.

1. Die Here moedig ons om Hom te vertrou om ons vrees vir die lewe te oorkom. Hy moedig ons aan om van Hom suurstof te vra in gebed vir die uitdagings wat ons in die lewe het.

2. Die Here waarsku ons teen die dwase vermetelheid om iets sonder God se almag aan te pak, wat nog te sê as Hy direk teen iets waarsku. As die Here iets nie beveel nie, is jy dwaas om dit aan te pak.

3. Die Here waarsku teen die ellende op ‘n enige pad wat God se Woord minag, hoe mooi dit ook al gestel word.

Jesus waarsku ons in die NT dat ons nie eers die minste van God se gebooie mag breek nie. En waarsku spesifiek teen mense wat ander so leer (Matt 5:19).

Trouens, Jesus sê in ‘n gesprek met die Fariseërs dat die Skrif as sodanig nie gebreek kan word nie. Hy bedoel daarmee dat die presiese woorde van die Bybel net soos dit geskrywe is, gehandhaaf moet word (in ‘n gesprek met die Fariseërs oor die woord “gode” in Psalm 82:6 – sien Joh 10:35).

4. Die Here waarsku ons deur die Hebreërskrywer se woorde wat op hierdie gedeelte in Numeri 14 gebaseer is, om nie in dieselfde strik van ontrouheid te trap as die volk in die woestyn en so die belofte van God se rus mis te loop nie.

Dat ons sal sorg dat niemand deur die misleiding van die sonde verhard word nie:

“Maar solank daar nog ‘n ‘vandag’ is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie. Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in die vertroue waarmee ons begin het.” (Hebr. 3:12-14).

Ook Paulus gebruik die reis deur die woestyn op pad na die beloofde land as ‘n metafoor om die gelowiges in Kolosse aan te moedig om in alle omstandighede geduldig te volhard sodat hulle die “erfenis” wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig in besit kan neem (Kol 1:3-14; vgl. ook Matt 18:29; 25:34; Gal 5:21; Ef 1:18; Hebr 9:15; 1 Pet 1:4).

Paulus bid dat ons tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang en vas en sterk in die geloof te staan sodat ons nie losgeruk word van die hoop wat in ons gewek is deur die evangelie nie (Kol. 1:21-23).

Hierdie tipe gehoorsaamheid en volharding word ook vandag van ons gevra.

Gebed

Dankoffers

Slotlied

Lied 601:1,4-5 Dié wat die Here wil dien, húl het ‘n nuwe toekoms, swaarkry vir altyd verby – God laat hulle vreugde sien – staan

Seën

Amen

Lied 314

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.