Skip to main content

Hebreërs 1:1-14 – God praat vandag nog met ons deur sy Seun

Kersfeesdiens | 25 Desember 2022 | Kerk en Youtube

Verwelkoming

Aankondigings

Kollekte by die deure gaan vir Barmhartigheid. Ons het verlede jaar R21 000 ingesamel vir die drie groot projekte wat ons het. Theo Havemann se projek by Noordhoek en Barcelona, die ACVV projek van Elsje Nelson en Cecile Lategan, en die MTR Smit projek van Laetitia Greyling.

Toetrede

Lied 367:1 Ere aan God (staan)

Votum en seëngroet

Lof

Lied 364:1-3 Herders op die ope velde (staan)

Lied 349:1-4 Kom, kinders, besing met ‘n vrolike stem (sit)

Kindertyd

Het julle lekker geskenke gekry? Het jy van die geskenke saamgebring?

Dit is darem lekker bederf, nè?

Weet jy van die geskenk wat ons almal gekry het? Dit is natuurlik dat God mens geword het.

Kom ons luister weer na die verhaal van die geboorte van Jesus.

  1. Nasaret was ‘n klein dorpie waar ‘n meisie met die naam Maria gebly het. Maria was lief vir God en sy was lief om te bid. Toe, eendag, gebeur daar iets wonderlik.
  2. Die engel Gabriël het gekom na Maria en vir haar gesê sy is gekies. “Maria, jy gaan ‘n spesiale baba hê. Hy sal God se geskenk wees aan die wêreld.”

Maria het geantwoord: “Maar ek het geen man nie, hoe kan dit gebeur?”

Gabriel het gesê: “Jou baba sal die Seun van God wees, Hy sal die mense red van hulle sonde.”

Maria het gesê: “Die moeder van die Seun van God wil ek graag wees. Laat dit gebeur soos jy sê. Ek is lief vir God en ek sal gehoorsaam.”

  1. In Nasaret, hierdie klein dorpie, het daar ook ‘n man gebly, Josef. Hy was verloof aan Maria.

Die engel Gabriël het Josef ook besoek vir hom gesê: “Josef! Maria sal ‘n baba kry, die Seun van God. Sy naam moet Jesus wees, en Hy sal jou soveel vreugde bring! God weet jy is lief vir Maria. So, moenie bang wees nie, maar trou met haar. Jy moet ‘n goeie pa vir Jesus wees, jou hele lewe lank.”

  1. Toe dit tyd was vir Jesus se geboorte was daar so baie dinge wat moes gebeur. Almal moes registreer by die regering. En hulle moes dit in hulle tuisdorpe doen. Josef en Maria moes toe na Bethlehem toe reis. Josef het die donkie gepak en Maria daarop gesit.
  2. Daardie nag het hulle Bethlehem bereik, maar daar was geen kamers vir hulle om in te slaap nie. Die baba was op pad! Maria en Josef het ‘n plek nodig gehad om veilig te wees.
  3. So Josef en Maria het by die diere gebly, alles mooi skoon en warm. In daardie nederige krip is die lieflike baba Jesus gebore.
  4. Engele het die lug gevul met hulle liedere oor die velde. Die herders was baie bang en het stil geluister. Die engele het gesê: “Gaan soek die Baba in Betlehem wat vannag daar gebore is. Hy sal die lig bring vir die hele wêreld!

“Eer aan God in die hoogste hemele!” het die engele gesing. “Vrede op aarde! God is bly oor die mense! Dis wat God bring!”

  1. Die skaapwagters het gehardloop van die velde af. Hulle het die baba Jesus in Betlehem gesien. Hulle het voor Hom neergebuig en Hom aanbid. Hulle het almal vertel in die dorp. Vandag is die Seun van God gebore.
  2. In die lug het daar ‘n helder ster verskyn. Wyse manne het dit van ver af gesien. Hulle het geweet dat dit beteken ‘n spesiale Koning is gebore. Hulle het hulle opgepak en met hulle kamele van ver af na Jerusalem gereis.
  3. By koning Herodes se kasteel het hulle gevra na die pasgebore Koning, want hulle het kosbare geskenke gehad wat hulle vir Hom wou gee. Maar die mense daar het gesê dat die Bybel voorspel het dat die Koning in Bethlehem gebore sou word.
  4. Die wyse manne het toe verder agter die ster aan gereis tot by Bethlehem soos vir hulle vertel is. Hulle het vir Hom geskenke gegee: mirre, wierook, en goud.
  5. Daardie nag droom die wyse manne. ‘n Engel het vir hulle gesê om nie vir Herodes te vertel waar Jesus gebore is in Betlehem nie. Herodes was baie jaloers en hy wou die baba doodmaak. Hulle is aangeraai om met ‘n ander pad terug te gaan na hulle land.
  6. Toe koning Herodes agterkom dat die wyse manne nie teruggekom het nie, het hy sy soldate geroep en al die babas in daardie streek doodgemaak.
  7. Maar die engel het reeds vir Josef in ‘n droom gewaarsku dat hy vir Jesus moet vat en moet vlug. Al was die koning se soldate op pad sou God hulle veilig bewaar. “Bly in Egipte tot Herodes nie meer leef nie.”
  8. Josef het ‘n kameel gepak en Maria en Jesus opgelaai en in Egipte gaan bly. Want, God weet hoe om sy mense te beskerm. Jesus het gekom om die wêreld te red van hulle sonde.

Doop

Johan en Jana Heath se dogter Jocelyn.

Orrelsolo

Lied 344 O die goeie tyding, o die blye tyding

Gebed

Skriflesing en prediking

Dit is vandag Kersdag. Vir ons is dit ‘n dag van vreugde. Ons vier die geboorte van die ewige Seun van God wat in tyd mens geword het. Ter wille van ons persoonlike verlossing. En ter wille van die verlossing van die verganklikheid waarin die skepping onderworpe is weens die sonde.

Dit beteken dat God een van ons geword het. In Jesus het God vlees aangetrek, sodat Hy as God-mens ons verlossing kon bewerk. En deur hierdie vleesgeworde Woord van God, die Here Jesus Christus, praat Hy steeds vandag met ons, en maak Hy ons gereed om self die onverganklike nuwe skepping te betree.

Dit is waarvan die skrywer van die brief-boodskap van Hebreërs in hoofstuk 1 vers 1-14 skryf.

Hebreërs 1:1-14

1In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun.

Die skrywer begin direk met die hart van sy bemoedigende boodskap aan die gemeente, die feit dat God met hulle deur sy Seun praat. Daar is niemand belangriker as sy Seun nie. Daar is geen boodskap belangriker as Syne nie.

Die boodskap van God se Seun word eerstens gekontrasteer met die talle en verskillende wyses – ‘n mens kan dit ook as “broksgewyse” vertaal – waarop God in die verlede met sy mense, die voorvaders van die gelowiges, gepraat het.

In God se Seun is sy openbaring egter nou volledig, omvattend en volkome. Niks anders is nodig nie.

Die boodskap van God se Seun word tweedens ook gekontrasteer met die persone wat dié boodskap in die verlede gebring het. Profete staan hier eintlik vir enigiemand wat vóór Jesus se geboorte ‘n openbaring aan gelowiges gebring het. Vandaar die talle verwysings en aanhalings in hierdie eerste 14 verse van Hebreërs.

In hierdie laaste dae, sê die skrywer – die dae wat met Jesus se eerste koms aangebreek het – het God nou finaal en met volle gesag met ons gepraat deur die Seun. Jesus kom uit die hart van God se familie, as sy Seun, om vir ons die volle waarheid van God te openbaar.

Die skrywer begin dus in hoofstuk 1 om sy Godheid onomwonde as Seun van God beskryf. Want, Hy is ware God, en ware mens, iets waaroor hy in hoofstuk 2 verder sal skryf. Die Godheid is van altyd af daar. Die mensheid vanaf die geboorte in Betlehem.

Vier kenmerke van die Seun as finale Openbaring van God

Vier kenmerke van die Seun as die finale Openbaring van God word uitgelig.

1. Hy is die Skepper-Seun

Die eerste kenmerk is in vers 2:

Hom het Hy aangestel as erfgenaam van alle dinge,

en deur Hom het Hy ook die wêreld geskep.

God het sy Seun aangestel as “erfgenaam van alle dinge“, want Hy het in die eerste plek deur Hom die wêreld geskep, ‘n verwysing na Psalm 2:8. Die Seun van God se bestaan van ewigheid af word dus bely. Hy is immers die Woord van God waardeur alles wat bestaan ontstaan het. Maar, as Seun van God, het Hy ook die reg om die erfgenaam te wees van alle dinge. Hy is dié Erfgenaam.

2. Hy is God se ewebeeld

Die tweede kenmerk is in vers 3:

3Hy is die uitstraling van God se heerlikheid,

en die ewebeeld van sy wese.

Die Seun is die sigbare gestalte van God, die een wat ons mag sien. Maar dit is nie net ‘n afbeelding van God, soos ‘n skildery of ‘n beeldhouwerk nie. ‘n Mens sien God self in die Seun. Hy is die ewebeeld van wie God in sy wese is. In Hom sien ‘n mens God se heerlikheid soos ‘n lig wat oor ons skyn.

3. Hy is die Onderhouer van alles

Die derde kenmerk is in die middel van dieselfde vers 3:

Hy hou alles in stand

deur sy magtige woord;

Die Seun het nie net ‘n krip-na-kruis bediening gehad nie. Hy was vooraf intiem betrokke by die Skepping en is daarna steeds by die onderhouding van alles betrokke. Iets om in gedagte te hou as ‘n mens bid! Hy hou alles in stand deur sy magtige woord. Dit gee ons die vrymoedigheid om met enigiets in gebed na Hom toe te gaan, want Hy is die Instandhouer.

4. Hy het die hoogste status van almal

Die vierde kenmerk is in die laaste deel van vers 3:

en nadat Hy die reiniging

van sondes bewerk het,

het Hy gaan sit aan die regterhand

van die Majesteit in die hoogtes.

Natuurlik is die krip-na-kruis evangelie van baie groot belang, die reiniging van sondes, die herstel van ons verhouding met God, die gawe van die ewige lewe. Maar, dit is nie al nie. Sy opstanding uit die dood het uitgemond in die verhoging na die hoogste status moontlik, die sittingsreg aan die regterhand van God, die Majesteit in die hoogtes, waarmee ‘n verwysing na Psalm 110:1 gemaak word:

“Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete.”

Dan word in die res van die perikoop ‘n bietjie verder uitgebrei oor hierdie status van die Seun van God. Hy is baie spesifiek bo die engele verhef – dws in die Goddelike sfeer. In hoofstuk twee sal die skrywer uitwei oor sy verhoogde status onder mense – dws as die Hoëpriester wat ‘n ewige verlossing nie net vir ons bewerk het nie, maar in stand kan hou.

Die Seun is hoog bo die engele verhef

In vers 4 skryf die skrywer:

4Hy is hoog bo die engele verhef,

net soos wat Hy ‘n Naam geërf het wat uitnemender as hulle s’n is.

Die Seun het wel Homself verneder om ‘n mens te word, maar met sy opstanding en hemelvaart is Hy hoog bo die engele verhef, want Hy is nie net die erfgenaam van alles nie, het nie net alles gemaak nie, maar het Hy ‘n Naam geërf wat uitnemender as enigiemand s’n is, die engele ingesluit.

Hy het gedoen wat niemand anders kon doen nie. Hy het die sonde en die duisternis en die dood oorwin sodat almal wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê (Joh 3:16).

In vers 5- 14 brei die skrywer uit oor ‘n hele paar ander redes waarom die Seun verhewe is bo die engele, die hemelse wesens wat wel deur God as boodskappers gebruik word, en wat die voorreg het om in sy teenwoordigheid te wees, en as sy agente op te tree, maar nie vergelyk kan word met die Seun nie.

En weereens is daar talle verwysings uit die OT om sy punt te onderstreep. Ons lees in vers 5:

5Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê:

“Jy is my Seun; vandag het Ek jou verwek.” (Ps 2:7)

En ook:

“Ek sal vir Hom ‘n Vader wees, en Hy sal vir My ‘n Seun wees.” (2 Sam 7:14)

In albei gevalle is dit duidelik Messiaanse verwysings. Psalm 2 verkondig dat die Messias ver bo die konings en nasies van hierdie wêreld verhoog is. Sy Goddelikheid is bo alle twyfel. 2 Samuel 7 is weer ‘n belofte aan Dawid dat die Messias uit sy nageslag gebore sal word, dws dat Hy tegelykertyd ook ‘n ware mens sal wees.

Wat ons hierin moet hoor is dat God se nageslag, en Dawid se nageslag in Een persoon sal verenig. In Jesus kom die verskillende dele van die OT bymekaar in een geheel, sodat ‘n mens al die drade van die magtige tapisserie van God se Woord aan ons kan raaksien.

Maar, dit is nie net die verlede wat in Jesus, die Seun van God, bymekaar kom nie. Ook ons toekoms maak net sin in Hom. Daarom sê die skrywer in vers 6:

6Maar wanneer Hy die Eersgeborene weer in die wêreld inlei, sê Hy:

“En laat al die engele van God Hom aanbid.” (Deut 32:43; Ps 97:7)

Die “weer” dui op Jesus se tweede koms waar God sy voorrang bó die engele sal wys deurdat Hy hulle sal  begelei om die Seun as God te aanbid. Interessant genoeg, begrond in ‘n aanhaling uit die wet, Deuteronomium 32:43 sowel as die Psalms, Psalm 97:7. Weereens die drade van die OT wat bymekaarkom in een prentjie, hier die prentjie van die Wederkoms.

Dan brei die skrywer uit oor die engele. Ona lees in vers 7:

7Oor die engele sê Hy:

“Hy maak sy engele stormwinde, en sy dienaars vuurvlamme.” (Ps 104:4)

Engele is dus wonderlike en magtige wesens, soos Psalm 104:4 dit alreeds lank gelede gestel het. Hulle is metafories gesproke stormwinde en vuurvlamme, maar steeds God se dienaars.

Dit is anders met die Seun van God, soos die skrywer in vers 8-9 sê:

8Maar vir die Seun sê Hy:

“U troon, o God, is vir ewig en ewig,

en die septer van geregtigheid is die septer van u koninkryk!

9U het geregtigheid lief, en U haat wetteloosheid;

daarom, o God, het u God U gesalf met olie van vreugde, meer as u vriende.” (Ps 45:6-7)

Die skrywer haal uit Psalm 45:6-7 aan wat ‘n pragtige Psalm is, ‘n liefdeslied, wat bedoel was vir die huweliksfees van die Koning en Koningin. Dit is moontlik die eerste keer vir Salomo geskryf, maar hier word dit op die Seun van God se kroning betrek met die moontlike konnotasie van die bruilof wat wag met sy liggaam, die kerk.

En dit is nie al nie. In vers 10-12 brei die skrywer verder uit, aangehaal uit Psalm 102:

10En: “U het aan die begin, o Here,

die aarde se fondamente gegrondves,

en die hemele is die werk van u hande.

11Hulle sal vergaan, maar U bly bestaan.

Soos ‘n kledingstuk sal hulle almal verslyt,

12en soos ‘n mantel sal U hulle oprol;

soos ‘n kledingstuk sal hulle vervang word,

maar U bly dieselfde, en u jare sal nie tot ‘n einde kom nie.” (Ps 102:25-27)

In die oorspronklike opset van Psalm 102:25–27 verwys die Psalm na die werk van God in die skepping. Maar, hier in Hebreërs gebruik die skrywer dit met verwysing na Christus, die Here, en voer ‘n sterk argument vir die wesenlike Godheid van die Seun.

Dit is ‘n Godheid wat nie gebonde is aan die verganklikheid van die skepping nie. Alles sal vergaan, maar Hy sal bly bestaan.

Soos ‘n stuk klere sal almal uiteindelik verslyt, Want, soos ‘n mantel sal God hulle oprol, en soos met ‘n ou stuk klere, ‘n nuwe een aantrek.

Maar, die Seun van God is anders as die skepping. Hy bly vir ewig dieselfde. Sy jare kom nooit tot ‘n einde nie.

En in ‘n laaste woord hieroor, haal die skrywer weer uit Psalm 110 aan om die fundamentele kontras tussen die Seun van God en die engele te onderstreep. Vers 13-14:

13Aan wie van die engele het Hy ooit gesê:

“Sit aan my regterhand, totdat Ek jou vyande

‘n voetbank vir jou voete gemaak het.” (Ps 110:1)

14Is hulle nie almal dienende geeste, wat uitgestuur word ter wille daarvan om hulle wat die verlossing sal beërf, by te staan nie?

Wat is die boodskap vir ons hieruit vandag?

God praat vandag nog met ons deur sy Seun

1. Die boodskap van Hebreërs 1 is in die eerste plek dat God op baie maniere gepraat het in die verlede. Dit sluit onder andere die volgende in:

  • deur die skepping (Gen 1-2),
  • deur mense te roep (Abraham),
  • deur engele te gebruik (Jakob),
  • deur drome te gee (Josef),
  • deur gawes uit te deel (Besaleël en die tabernakel),
  • deur omstandighede te gebruik (die trek in die woestyn),
  • deur gebede te verhoor (Hanna wat Samuel van die Here gebid het),
  • deur sy Gees oor mense te gee (Dawid en sy Psalms),
  • deur profete te inspireer (Elia en Elisa en al die Skrifprofete),
  • deur insigte in die Bybel neer te pen (Spreuke en Prediker),
  • deur geloofsonderskeiding in die geloofsgemeenskap te gebruik (Gulda in die tyd van Josia)
  • en talle meer.

En God gebruik vandag nog steeds van dié maniere. Lees maar net die Handelinge van die apostels om die wye reeks maniere te waardeer waarop God steeds met die vroeë kerk gepraat het.

2. Maar, wat Hebreërs in die tweede plek vir ons sê, is dat alles wat God in die verlede gesê het, en al die maniere waarop Hy steeds met ons praat, in die Seun van God, in die Persoon van Jesus Christus, saamgevat word.

Daar is nie ‘n ander stem wat ons hoef te soek om die waarheid van God te hoor nie. Midde-in die talle stemme wat ons vandag hoor in die media, midde in die talle en verwarrende stemme van sielkundige en sosiale ideologieë wat ons wil oortuig van hoe menswees en die wêreld nou eintlik werk, is die stem van die Here Jesus die enigste Een wat die stempel van God se gesag dra.

En wat so wonderlik is van die Here Jesus se stem is dat dit reeds in die OT, in al die verskillende maniere waarop God in die verlede gepraat het, teenwoordig is. Dit is waarom die skrywer van Hebreërs net in hierdie eerste veertien verse die OT reeds tien keer aangehaal het.

Maar die wonder strek verder, want, dit is aangevul met Jesus se woorde in die Evangelies, die werk van die Heilige Gees in die boek van die Handelinge van die apostels, en die woorde van God aan al die gemeentes in die briewe van die NT, sodat ons die hele Openbaring van God in die geheel van die Woord van God, die Bybel wat jy in jou hand kan vashou, kan lees.

3. En dit is op hierdie nalatenskap, die Woord van God, die Bybel, wat jou aandag weer op hierdie Kersdag gefokus moet wees. Want soos Jesus die vleesgeworde Woord van God is, is die Bybel die Skrifgeworde Woord van God. En elke enkele vraag wat jy oor die lewe het, word daarin aangespreek.

Ja, daar is relatiewe sake in die Bybel wat ons nie meer vandag hoef te handhaaf nie.

  • Jesus het alle kos rein verklaar. So, ons hoef nie meer die dieetreëls na te kom van die Pentateug nie, soos Markus dit vir ons in sy Evangelie skrywe (Mark 7).
  • Jesus het self die offer aan die kruis geword. So, ons hoef nie meer in die tempel te gaan offer om versoening vir ons sondes te doen nie, soos Hebreërs in die hart van sy boek, in hoofstuk 5-10, gaan skrywe.
  • Jesus het die doop in die plek van die besnydenis ingestel as die onderskeidingsteken van gelowiges in al die nasies (Matt 28:19-20). So, ons hoef nie meer besny te word nie, soos Paulus veral in Galasiërs vir ons skryf.

Maar, die res van die OT is steeds net so absoluut waar en van krag as toe dit die eerste keer geskryf is. Die Tien Gebooie, as maar net een voorbeeld, is nog net so van krag as wat dit was in die tyd van oud-Israel. Elke enkele een van daardie gebooie word in die NT as steeds van krag verkondig, behalwe vir die vierde gebod oor die Sabbat, wat oorgaan in die sabbatsrus van ons sonde, soos Hebreërs in hoofstuk 3 en 4 van gaan skrywe.

Wat vra die Here dus van jou vandag?

Dat jy weer jou volle aandag sal draai van die wêreldse idee van die werklikheid, na hoe God dit vir jou in sy Woord uitspel. En dat al jou idees oor die lewe – van die etiek tot die politiek, van die ekonomie tot die filosofie – deur die Woord van God gevorm sal word.

Besluit op ‘n Leesplan in jou stiltetyd en hou daarby – ek het verskeie planne wat jy kan gebruik:

Hoe meer jy daarop fokus, hoe meer sal jou gedagtes en gevoelens gevorm word deur die Seun van God, want Hy werk deur sy Woord en sy Gees, om daar diep binne-in jou verandering aan te bring.

Soos Hebreërs 4:12-13 sê:

12Want die woord van God is lewend en kragtig, en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes. 13Ja, niks wat geskape is, is vir Hom verborge nie, maar alles is oop en bloot voor sy oë, Hom teenoor wie ons ons moet verantwoord.”

Gebed

Dankoffers

Slotlied

Vonkk 385:1-2 Heilige nag (staan)

Lied 348:1-3 Stille nag (sit)

Seën

Respons

Lied 358:1-3 Welkom, o stille nag van vrede (staan)

 

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.