Skip to main content

Ek is dors – Johannes 19:28-42

In my voorbereiding het hierdie teks van Jesus se dood en begrafnis in Johannes 19 my aanvanklik swaarmoedig gestem. Ek het dit gelees, en weer gelees en nog ‘n keer gelees. Ek het gesukkel om ‘n boodskap daarin raak te sien wat ek vir julle kan bring.

Ek is só bewus van die feit dat ons hoop nodig het in ons lewe en ons land. Daar is soveel negatiewe dinge wat ons beleef. Soveel dinge wat ons wanhopig maak. En ek het só ‘n behoefte om ‘n boodskap van hoop te bring.

Maar die groeiende donkerte van Jesus se ervaring aan die kruis het my gemoed bekruip soos die skaduwees in die klowe tussen die berge. Jy dink nog daar is ‘n bietjie sonskyn oor dan verdwyn die son agter die berge.

Wat sê ‘n mens as só ‘n donkerte jou bekruip en oorval? En dit uit die Bybel, uit die teks wat ons vir Goeie Vrydag eintlik móét lees?

Ek het soos ek altyd maak die verwysings in die Skrif nagegaan, die talle verwysings wat Johannes gebruik as agtergrond vir die beskrywing van Jesus se dood en begrafnis.

Die eerste was die eerste twee OT verwysings na die sug wat deur Jesus se dorre lippe ontsnap het: “Ek is dors”.

1. “Ek is dors

Maar die twee verwysings na die OT in hierdie uitspraak van Jesus het my nog verder in die donkerte ingeneem, en gelaat met ‘n gevoel van verydeling. Soveel leed. Soveel pyn. So lank reeds voorspel:

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Verwelkoming

Toetrede

Lied 391:1,4 Vervul o Heer my hart met stille wyding – sit

Votum en Seëngroet

Verootmoediging

Lied 377:1-3 O Lam van God onskuldig, wat moedig en geduldig aan daardie kruishout ly – sit

Gebed

Skriflesing

Jesus sterf

(Matt 27:45-56; Mark 15:33-41; Luk 23:44-49)

28 Hierna het Jesus, omdat Hy geweet het dat alles reeds volbring is, en sodat die Skrif vervul sou word, gesê: “Ek is dors.” (Ps 69:22; 22:16) 29 Daar het ‘n kruik vol suur wyn gestaan. Hulle sit toe ‘n spons vol suur wyn op ‘n marjoleintak (hisop – Eks 12:22) en bring dit na sy mond. 30 Toe Jesus die suur wyn geneem het, sê Hy: “Dit is volbring!” En Hy het sy kop vooroor gebuig en sy gees oorgegee.

Bevestiging van Jesus se dood

31 Aangesien dit die Voorbereidingsdag (Vrydag) was, en sodat die liggame nie aan die kruis sou bly op die Sabbat nie (Deut 21:22-23) — want daardie Sabbat was ‘n belangrike dag — het die Jode vir Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle verwyder moet word. 32 Die soldate het toe gekom en die eerste een se bene gebreek en ook dié van die ander een wat saam met Jesus gekruisig is. 33 Maar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy reeds dood was, het hulle nie sy bene gebreek nie. 34 Een van die soldate het egter met ‘n spies in Jesus se sy gesteek, en onmiddellik het daar bloed en water uitgekom. 35 Hy wat dit gesien het (Johannes), het daarvan getuig, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat — sodat ook julle tot geloof kan kom. 36 Want hierdie dinge het plaasgevind sodat die Skrif vervul sou word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” (Eks 12:46; Num 9:12; Ps 34:21) 37 En ‘n ander Skrifdeel sê weer: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.” (Sag 12:10; Op 1:7; Dan 7:13)

Jesus word begrawe

(Matt 27:57-61; Mark 15:42-47; Luk 23:50-56)

38 Hierna het Josef van Arimatea, wat uit vrees vir die Jode in die geheim ‘n dissipel van Jesus was, Pilatus gaan vra of hy die liggaam van Jesus mag wegneem. Pilatus het dit toegestaan. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. 39 Nikodemus, wat voorheen gedurende die nag na Jesus gegaan het, het ook gekom en ‘n mengsel van ongeveer ‘n honderd litra (33 liter) mirre en aalwyn gebring. 40 Hulle het toe Jesus se liggaam geneem en dit saam met geurige speserye in linnedoeke toegedraai, soos dit die Jode se gebruik is by ‘n begrafnis. 41 By die plek waar Hy gekruisig is, was daar ‘n tuin, en in die tuin ‘n nuwe graf waarin niemand nog ooit neergelê is nie. 42 Daar het hulle Jesus toe neergelê, omdat dit die Voorbereidingsdag van die Jode was en die graf daar naby was.

Prediking

In my voorbereiding het hierdie teks van Jesus se dood en begrafnis in Johannes 19 my aanvanklik swaarmoedig gestem. Ek het dit gelees, en weer gelees en nog ‘n keer gelees. Ek het gesukkel om ‘n boodskap daarin raak te sien wat ek vir julle kan bring.

Ek is só bewus van die feit dat ons hoop nodig het in ons lewe en ons land. Daar is soveel negatiewe dinge wat ons beleef. Soveel dinge wat ons wanhopig maak. En ek het só ‘n behoefte om ‘n boodskap van hoop te bring.

Maar die groeiende donkerte van Jesus se ervaring aan die kruis het my gemoed bekruip soos die skaduwees in die klowe tussen die berge. Jy dink nog daar is ‘n bietjie sonskyn oor dan verdwyn die son agter die berge.

Wat sê ‘n mens as só ‘n donkerte jou bekruip en oorval? En dit uit die Bybel, uit die teks wat ons vir Goeie Vrydag eintlik móét lees?

Ek het soos ek altyd maak die verwysings in die Skrif nagegaan, die talle verwysings wat Johannes gebruik as agtergrond vir die beskrywing van Jesus se dood en begrafnis.

Die eerste was die eerste twee OT verwysings na die sug wat deur Jesus se dorre lippe ontsnap het: “Ek is dors”.

1. “Ek is dors

Maar die twee verwysings na die OT in hierdie uitspraak van Jesus het my nog verder in die donkerte ingeneem, en gelaat met ‘n gevoel van verydeling. Soveel leed. Soveel pyn. So lank reeds voorspel:

As Jesus sê: “Ek is dors”, dan hoor ons dit as ‘n eggo van twee Psalms:

  • Dawid in Psalm 69:22 op die wysie van die “Lelies” wat kla dat die water tot by sy keel gekom het, dat hy snak van asem, dat dit vir hom voel, hy kan eenvoudig net nie meer sy kop bo water hou nie. In vers 22 sê Dawid: “Hulle het gif in my kos gesit, en vir my dors het hulle my asyn laat drink.” Sy voedsel en drank was verraad en pyn. Hy is dors-verlate gelos deur almal naby aan hom.

Hoeveel te meer nie die Here Jesus nie wat geweet het dat Dawid in Psalm 69 vir verlossing kon bid, en dit gekry het. Maar, hier waar Hy aan die kruis hang, was verlossing nie vir Hom beskore nie. Hy het gevra, drie keer in Getsemane, en sy Vader het nee gesê. Hierdie dors sou Hy moes verduur tot aan die einde toe.

  • Ons hoor ook in hierdie dors-gebed vir Dawid in Psalm 22:16 op die wysie van “Die wildsbok van die dagbreek” wat weeklaag: “My krag het verdor soos ‘n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte;  in die stof van die dood het U my laat lê.” Dawid het nikswerd gevoel soos ‘n potskerf wat weggegooi is. Dit het vir hom gevoel asof die lewe soos water uit hom syfer. Sy tong het aan sy verhemelte vasgekleef en sy liggaam het verdor soos die dood hom in sy greep gekry het.

Hoeveel te meer nie die Here Jesus nie wat die dood nie net in die oë staar nie, maar weet dat Hy dit moet omhels. Hy moet aanvaar dat Hy vasgevang is in die greep van die dood. Dat Hy Hom daaraan moet oorgee. Dat hierdie dors die dood beteken het. Al kon Hy met een magtige beweging Hom losruk hiervan. Van hierdie onverdiende afskuwelike vergryp aan die Een wat alles gemaak het, ook die mense wat Hom nou verwerp.

En so is ek stukkie vir stukkie ingetrek deur hierdie twee Psalms in die dorstige duisternis van Jesus se pyn en kon ek as’t ware my eie tong aan ‘n droë verhemelte voel kleef in my meelewing met die kreet deur Jesus se droë keel: “Ek het dors.

Met net die een stukkie lafenis wat ‘n bietjie verligting gebring het, die besef dit is nou die einde. Die pyn sal binnekort in die niet verdwyn. Jesus sal in die dood ingly en sy lewe sal tot ‘n einde kom.

2. “Dit is volbring!

Maar toe onthou ek Rethie se verwysing verlede Sondag na die kruik met suur wyn en die spons op die takkie hisop – waarskynlik marjolein soos dit in die BDV vertaal is – en onthou ek die verwysing in Eks 12:22 waar die bloed van die paaslam aan die kosyne gesmeer is om die dood vir die Jode af te weer.

Dit is immers wat hier gebeur. Jesus, die Paaslam word geoffer en sy bloed word aan die deurkosyne van my lewe gesmeer tot vergifnis van al my sonde.

En al was die takkie op ‘n letterlike vlak net byderhand om die spons na sy dorre lippe te bring, het dit figuurlik gesproke ‘n hele wêreld van betekenis oopgemaak vir dié wat geweet het van die rol wat hisop in die geloof van Israel gespeel het.

En ek onthou toe verder dat die takkie hisop in die bloed van die geslagte diere asook in ‘n bakkie water by die tabernakel gedoop is en oor die gelowiges gesprinkel is as ‘n getuienis van reiniging, die simboliek wat agter die doop lê. In die OT was hierdie gesprinkelde bloed en water met die hisop die simbool van die reiniging van melaatsheid (Num 14:4) en selfs van plae in die huis (Num 14:49). Nog dieper, ook van die reiniging van sonde (Num 14:51-52; 19:6,18).

En ek besef onmiddellik, dit is ook wat hier gebeur. Jesus, die volmaakte offer word aan God geoffer, sodat ons almal van ons sonde gereinig kan word.

Soos die skrywer van die Hebreërbrief dit uitlê met verwysing na die besprinkeling met bloed en water onder die eerste verbond: “Hoeveel te meer sal die bloed van Christus (in die nuwe verbond) ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien!” (Hebr 9:14).

Dit is waarom Jesus kan sê met sy laaste asem: “Dit is volbring!” Dit is waarom hierdie dag Goeie Vrydag is, want al spreek hierdie dag van die ontsaglike lyding van die Here Jesus Christus, van sy onlesbare dors, dra dit ook die boodskap van vergifnis en reiniging, van die bloed en die water wat lewe bring.

En ek onthou toe nóg ‘n gedeelte waar van hisop gepraat word, dié keer in die Psalms. Dawid wat bid: “Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu.” (Ps 51:9).

O, ‘n gebed wat ons saam met hom kan bid, want dit is die hart van ons versugting dat ons hele lewe skoon kan kom van die skuld van sonde sowel as van die sonde self. Trouens, sê Johannes in sy eerste brief: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Joh 1:9). Dit is waartoe Goeie Vrydag ons uitnooi. Dit is wat Goeie Vrydag ons bied.

En dit was asof die son weer begin skyn het en die helder boodskap van die gedeelte in my hart kom woning maak het.

Dit is volbring!” Inderdaad. Met Jesus se kop wat vooroor buig en sy gees wat Hy aan die Vader oorgee: “Dit is volbring!” Vir my. Vir jou.

Maar dit is nog lank nie al nie!

3. “Geen been van Hom sal gebreek word nie.

In my verdere lees in Johannes 19 sien ek toe raak dat die Jode selfs in hulle verraad van Jesus sy bene wil laat breek. Hoekom?  Want hulle wou gaan Sabbat vier en die wet het hulle verbied om ‘n liggaam aan ‘n kruis oornag te laat hang (Deut 21:22-23). Kan jy nou meer!

Hierdie kruisiging moes dus vinnig afgehandel word anders sou hulle nie die Sabbat kon gaan vier nie. Hulle wou dus hê dat Pilatus Jesus se bene laat breek sodat dit sou keer dat Jesus Hom kon opstoot teen die kruis om te keer dat sy longe toeval van die hang aan sy arms. Met gebreekte bene het ‘n mens baie gou versmoor. Die dood het vinniger ingetree met long- en hartversaking.

Maar toe ek net weer wou moedeloos raak met die ekstra stuk wreedheid lees ek dat Johannes skryf dat hierdie dinge plaasgevind het sodat die Skrif vervul sou word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” ‘n Verwysing na Eksodus 12:46 en Numeri 9:12 wat gereël het dat geen been van die paaslam gebreek mag word nie.

Die Here keer die ekstra stuk wreedheid deur ‘n reël wat Hy ingeskryf het in die wet wat nie net ter wille van lammers geskryf is nie, maar ter wille van sy Seun. Sodat Hy nie nog dié ekstra stuk lyding moet verduur nie.

En, meer nog. Hierdie aanhaling dat sy bene nie gebreek sal word nie, is ook ‘n verwysing na Psalm 34:21 waar Dawid geskryf het oor God wat sy bene beskerm. ‘n Verwysing wat nou as heenwysing na Jesus Christus aan die kruis geïnterpreteer kan word.

En dit word opgevolg met nóg ‘n Skrifdeel wat hier bewaarheid word aan die kruis.

4. “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het

Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.” Johannes haal hier onder andere aan uit Sagaria 12:10. Daar het die Here belowe: “Maar oor die koningshuis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem bring Ek ’n gees van welwillendheid en van berou: hulle sal na hom kyk vir wie hulle doodgesteek het en hulle sal oor hom treur soos ’n mens treur oor ’n enigste kind, hulle sal oor hom huil soos ’n mens oor ’n oudste seun huil.

Inderdaad, want hierdie Jesus is nie net die een van Nasaret nie. Hy is die Christus, die Een wat van die hemel af gekom het na ons toe. Die Een wat juis vir dié wat Hom doodgesteek het die Verlosser sal word. Paradoksaal beplan en perfek uitgevoer.

Aan die een kant sou met die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag meer as 3 000 Jode aan die hart gegryp word en huil oor hierdie man wat hulle verwerp het, die enigste Seun van die Vader. En hulle sou tot inkeer kom, Hom as Verlosser aanvaar (Hand 2), soos duisende ander reg oor die wêreld uiteindelik sou neerbuig voor Hom.

Soos Jesus self voorspel het vroeër in Johannes. Met sy dood aan die kruis sou Hy baie mense na Hom toe trek en vir hulle die Verlosser word. Trouens vir elkeen wat in hierdie lewe na Jesus aan die kruis kyk en in Hom die Verlosser van die wêreld raaksien, vir hulle sou Hy die Verlosser wees.

Dit is die positiewe boodskap van hierdie aanhaling.

Maar daar is aan die ander kant ook ‘n ander betekenis in hierdie aanhaling, een wat op die einde van die tyd dui, soos Johannes in Openbaring 1:7 hieroor skrywe. Hierdie Jesus, sê Johannes, die Een wat hier deurboor is, sal uiteindelik aan die einde van die tyd met die wolke kom en dan sal almal Hom sien, die Een wat hulle deurboor het.

Jesus as Verlosser oor wie ‘n mens trane van blydskap huil, maar ook trane van verwyt. Soos Johannes sê van Jesus, terwyl daar 12 ander Skrifgedeeltes as agtergrond vir hierdie een vers aangedui kan word: “Sy heerskappy is ’n ewige heerskappy, dit sal nie tot niet gaan nie; sy koningskap sal nie ophou nie en elke oog sal Hom sien,  selfs hulle wat Hom deurboor het;  en al die volke op die aarde sal oor Hom treur.  Ja, amen!

Vir dié wat Hom in hierdie lewe as Verlosser aanvaar het, sal dit ‘n dag van groot blydskap wees. Vir dié wat Hom in hierdie lewe as Verlosser verwerp het, sal dit ‘n dag van groot hartseer wees.

Hierdie visie op Jesus is al voorspel deur Daniël in die OT, hoewel hy nie die kruisdood van Jesus voorsien het nie, maar net die heerskappy wat Hy sou ontvang (Dan 7:13). Met die voller openbaring van Johannes in die NT weet ons beter wat regtig hier gebeur, en het ons ‘n baie beter begrip van wat vir ons gebied word aan die kruis van Golgota.

Jesus is die Verlosser aan die kruis!

Hier aan die kruis is dus iets regtig besonders aan die gebeur! Die boodskap van die kruis is die spilpunt van die verlossing, sowel as van die oorwinning wat God behaal oor alle sonde en teenstand wat ooit teen Hom geloods kan word deur hierdie wêreld.

Hierdie boodskap is die een wat aan almal verkondig moet word. Dit is God se wil dat alle mense die boodskap van redding sal ontvang, sodat hulle daarop kan reageer.

Dié wat dit omarm en aanvaar, verkry die verlossing wat Jesus bewerk het. Dié wat dit ignoreer en verwerp, sal nie deel in die vrederyk wat God hier op aarde kom vestig nie.

Geen wonder dat twee van Jesus se geheime dissipels, Josef van Arimatea en Nikodemus die nagdissipel, Hom in ‘n graf gaan neerlê nie. ‘n Getuienis dat die boodskap van Jesus drakrag gaan hê. Nie net by die eenvoudiges nie. Maar ook by die elite. Dat Hy in sy dood die Verlosser van die wêreld is.

Dit laat ‘n mens met ‘n stukkie groeiende opgewondenheid die volgende hoofstuk se boodskap antisipeer, want die opstanding van die Here Jesus sal met Paassondag aanbreek soos die son wat skyn oor die berge in al sy glorie, soos Johannes 20 vertel.

Daaroor praat ons Sondag verder …

Gebed

Nagmaal

Lied 399:1 Aan die tafel met die Paasmaal breek die Here self die brood – sit

Slotlied

Lied 396 Aanskou die Heiland, sien die kruis – die Hemelvors, verag, verguis – staan

Geen seën

In herinnering aan die verwese gevoel waarmee Jesus se dissipels agtergelaat is, word die tradisionele seën nie uitgespreek nie.   Ons verlaat die kerk in stilte.

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.