‘n Koninkryk in twee geskeur – 1 Konings 13 (by Klema)

Die gedeelte is vir my soos ’n skop in die maag.  Dit is so tragies dat iemand wat gekies word om dinge reg te stel, wat die bevryder van die dwangarbeiders in Israel was, die reg in eie hande begin neem en so ontrou raak aan die roeping wat aan hom deur God gegee is.

Wat egter vir my nog erger is, aan die ander kant, is die man van God wat ’n groot risiko neem om uit Juda teen Jerobeam in sy eie heiligdom Bel-El te kom getuig, in alles doen wat hy moes, en dan val vir die misleiding van die óú profeet en só die Here se bevel verontagsaam.

Ons eie interpretasies is nie die stem van God vir ander mense nie

Wat my laat besef hoe vreeslik dit is wat ons aan mekaar doen wanneer ons ons eie interpretasies van wat God se wil vir iemand ander is as die waarheid vir ander voorhou.  Ons moet te alle tye daarteen waak, want ons mag nie God se rol oorneem in iemand anders se lewe nie.

Dit is wat die verhaal van die jonger profeet, die man van God uit Juda, ons in die eerste plek leer.  Hy moes vir Jerobeam gaan waarsku oor sy afvalligheid en het alles reg gedoen, selfs 4 wonderwerke in die proses gedoen:

  1. Hy gee ‘n profesie oor die toekoms wat ‘n paar eeu later sou waar word onder koning Josia wat in die einste Bet-El “operasie skoonmaak” sou kom uitvoer (2 Kon. 23:15–18).
  2. Hy laat die altaar uitmekaar val as teken van God seDié as van die offers het daarmee natuurlik op die grond geval en onrein geword (Lev. 6:11) waarmee God duidelik sê, hierdie offers is nie vir Hom aanvaarbaar nie.
  3. Hy het ook die koning se hand laat styf raak toe dié met hom moeilikheid soek.
  4. En toe weer gebid dat dit normaal word toe die koning skrik en om genade pleit.

Die man van God doen dus alles reg en met groot oortuiging, behalwe reg teen die einde toe die ouer profeet van Bet-El,  in ‘n sekere sin sy teenstander, die jonger profeet van die wal in die sloot gelei het deur hom van God se opdragte te laat afwyk en by hom te laat oorbly, en dié jonger profeet toe die volgende dag deur ‘n leeu opgevreet is.  Let op dat dit eintlik ook ‘n wonder is – die leeu vreet hom nie, maak selfs nie die donkie dood nie, en bly sommer net daar staan.  ‘n Mens dink amper die leeu is so half verleë oor wat gebeur het.

Die probleem van die ouer profeet is dat hy uit eie beweging optree, miskien omdat hy nuuskierig is óf afgunstig is op die jong profeet, en dan nog verder gaan en die blatante leuen vertel dat ‘n engel aan hom verskyn het.  Hy is wel baie hartseer as die Here uiteindelik die jonger man oordeel. Maar ‘n mens se simpatie met hom is maar min, veral as ‘n mens agter kom hoe bygelowig hy op tree deur te beveel dat hy by die jong profeet begrawe moes word wanneer sy tyd om te sterwe sou kom.

God vra totale gehoorsaamheid

Die verhaal illustreer in die tweede plek ‘n baie belangrike ding, dat God totale gehoorsaamheid van sy mense vra, selfs in die kleinste en fynste detail.  Wanneer Hy gesê só, dan is dit só en nie anders nie.  En die ouer profeet speel willens of wetens ‘n rol daarin.

Die Here soek gehoorsaamheid bo alles, maak nie saak watter struikelblokke daar in jou pad gerol word nie, selfs nie eers as die struikelblok in die vorm van ’n óú profeet kom, wat valslik aanspraak maak op ’n engelboodskap nie.  Let ook op hoe dit klein persoonlike goed is, om te eet en te drink, waaraan die man van God se gehoorsaamheid getoets word.

Hoekom soek die Here dit?  Want groot dinge was op die spel in dié geval, ‘n hele nasie se verhouding en pad met God.  Jerobeam was besig om nie net self droog te maak as koning nie, maar sy volk weens sy afgodediens in die donkerte in te lei.  Die waarskuwing aan hom was dus ernstig en die feit dat God die jonger profeet beveel om nie Jerobeam se uitnodiging te aanvaar nie, was om dié erns van God se woord te onderstreep.  Daarom kon hy ook niemand anders se uitnodiging aanvaar nie, ook nie die ou profeet se uitnodiging nie, om die krag van God se woord in elke detail daarvan te illustreer.

Die Here wou ook onomwonde wys dat die kultus in Bet-El in Sy oë verwerplik was, en dat Sy gestuurde dus nie in die stad moes oorbly nie. Hy moes net God se boodskap bring en dan sonder om te eet of te drink onmiddellik met ’n ander pad langs terugkeer. Sy houding moes te alle tyd ’n proteshouding wees. Hy het gekom om namens die Here vir Jerobeam te veroordeel en dié mag nie die indruk kry dat die woord van die Here sommer alledaags en ignoreerbaar is nie, wat die geval kon wees as die man van God by hom gaan oorbly het nie.  Jerobeam sou  mileage kon kry uit die besoek van die profeet aan huis, en meer legitiem voorkom onder sy eie mense, en dan verder gaan om te doen wat hy wil.  Dus – geen kontak met Jerobeam, behalwe die oordeelswoord aan hom nie.    Vandaar ook die bevel dat daar ook geen kontak met enige ander persoon mag wees nie. 

Helaas, die jong man van God luister vir die ou profeet en wyk af van die pad wat God vir hom uitgespel het.  Dit is ‘n dubbele tragedie – die ou profeet tree verkeerd op deur God te probeer speel in die jonger profeet se lewe; die jonger profeet tree verkeerd op om God se woord aan hom te verontagsaam.

Die troos in die gedeelte is dat God se woord nie daardeur in diskrediet gekom het nie, en dat die profesieë waar geword het.  Selfs die ou profeet het die betroubaarheid van die man van God se boodskap met trane erken.  Daarby was die vreeslike lot van die man van God natuurlik ook ’n verdere waarskuwing aan Jerobeam en sy volk dat die Here van hulle gehoorsaamheid verlang, anders sou die lot van die man van God ook vir hulle tref.

Wat my bring by die vraag wat nou seker brand in elkeen van ons se harte:

Hoe ken ek regtig die wil van God en hoe maak ek seker dat ek dit volledig en volmaak nakom?

  1. Eerstens wil ek iets sê oor God se wil en hoe ons dit kan ken.
  2. Tweedens wil ek iets sê oor hoe ons met mekaar moet werk rondom die wil van God, selfs ook in dit wat ons eet en drink.

Wat is God se wil en hoe kan ons dit ken?

Daar is ten minste vier maniere waarop die Bybel oor God se wil praat:

1. God se ewige plan vir die wêreld – bv. In Ef 3:7-11 – Paulus verwys daar na God se plan wat Hy in Jesus bekend gemaak het en begin uitvoer het nadat Hy dit deur al die eeue geheim laat bly

Hierdie wil of plan van God word vir ons bekend gemaak deur die boeke van die Bybel soos die Heilige Gees ons insig gee om dit te verstaan.  Ons ken hierdie wil van God, sy ewige plan, deur sy Woord en sy Gees. 

Wat beteken dat nadenkende biddende Bybellees een van die primêre geestelike dissipline in ‘n mens se lewe moet wees.  Want Die Bybel bevat die hele bekende wil van God.  ‘n Mens kan ook oor hierdie wil van God praat as die evangelie, die goeie nuus wat vir die hele wêreld bedoel is.  Dit sluit alles in wat vir die lewe belangrik is.

2. God se wil in die geskiedenis soos Hy dit op soewereine manier ten uitvoer bring – bv. In Spreuke 16:9 – Die Spreuke skrywer sê: “’n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop.”  Daarom kan Paulus bv. sê dat hy van voormeme is om die Korintiërs te besoek as die Here wil (1 Kor. 4:19), want daar is sekere dinge wat buite ons beheer gebeur, dinge wat God bepaal en waartoe ons nie toegang hetWaar die Bybel die bekende wil van God is, is daar ook hierdie verborge wil van God, waar God onder die oppervlak, agter al die gebeure sy wil uitwerk.

Hierdie wil van God sien ‘n mens die beste raak as jy terugkyk en God se spore in die lewe probeer raaksien.  Dit is waarom die Daaglikse Ondersoek as geestelike dissipline so belangrik is, want ons sien dinge beter in perspektief as ons terugkyk. 

Ons moet met dié wil van God goed rekening hou, ons kan selfs daarop vertrou, veral dat Hy die beste sal doen in ‘n sekere situasie, soos Paulus sê in Rom 8:26-28: “die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”  

Maar ons moet steeds ons eie onderskeiding en verstand gebruik om die beste besluit vir ons lewe te neem, en dit doen in die lig van wat ons weet God reeds vir ons duidelik gemaak het, die geestelike merkers wat in ons verlede lê. Dit is waarom ‘n Joernaal ook so belangrik is, om te kan terugblaai na die belangrike dinge wat die Here vir ons in die verlede gesê het.

3. God se wil vir ons lewe wat Hy daagliks aan ons bekend maak – bv. In Rom 12:1-2 – Paulus sê daar: “Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is … laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”  Paulus skryf ook in Fil 1:2-10 – “Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.”.   

Om God se wil te ken, het dus met ons verstand te make, dit het met begrip te make, met ‘n fyn aanvoeling en met die oorgawe en gehoorsaamheid aan God.  Dit is waarom die geestelike dissipline van Geestelike Onderskeiding só belangrik is om daagliks God se wil te kan ken en leef.  Een manier het ons in die Seisoen van Luister gemunt as Rus/Hoor/Leef.  Johan Ackerman praat van Rest/Reflect/Respond.  Ek gebruik in die laaste tyd die woorde: Lees/Luister/Leef.  En die Lectio Divina metodiek is ‘n ander uitstekende manier wat jy kan gebruik (Silencio/Lectio/Meditatio/Oratio/Contemplatio/Incarnatio). Wat jy ook al gebruik, jy moet jou oefen daarin sodat jy al hoe beter kan onderskei en al hoe nader aan God kan wandel. 

Daar is ook groot vryheid in dié onderskeiding.

  • God se wil is nie soos treinspore waarvan ons nie ‘n millimeter kan afwyk nie.  Ons ry nie van stasie tot stasie volgens ‘n voorafbepaalde plan nie.  Daar is nie ‘n bloudruk vir ons lewe wat in detail presies bepaal wat gaan gebeur en wat gaan nie gebeur nie.  En telkens as ons dus nie presies doen wat bepaal is vir ons nie, ontspoor ons en is daar chaos in ons lewe nie.
  • God se wil is soos ‘n pad waarop ons loop waar daar talle moontlikhede binne die breë raamwerk van God se roeping vir ons lewe is.  Ons loop van plek tot plek waarin daar baie ruimte vir verandering en verbeelding is.  Dit is die beeld wat die meeste in die Bybel gebruik word om God se wil vir ons lewe uit te spel – die geestelike lewe as ‘n pad.  As Jesus sê: “Volg My” dan bedoel Hy stap agter My aan, net soos God eenmaal vir Abraham gesê het, want dan sal God jou pad vir jou gelyk maak, Hy sal jou bring waar jy moet wees.  Só kan ons ook dinamies reageer op wat op die pad gebeur, ‘n naaste word vir dié wat langs die pad lê en dié mense help wat God oor ons pad stuur.

Daarom het ons ‘n verantwoordelikheid om te bid en te ondersoek en te onderskei wat God se wil is terwyl ons besig is met die lewe.  Dit is ‘n dinamiese proses, wat insluit dat ons besluit om die Here te volg, en opmerksaam is om Sy stem te onderskei, soos Jesaja 30:21 daaroor praat: “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ’n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.’” 

Maar, belangrik, die Here werk met ons terwyl ons besig is om op die pad van die lewe te loop.  En Hy werk saam met ons menswees en persoonlikheid en voorliefdes en neem alles van ons in ag neem en trek dit in by die begeleiding met die keuses wat ons uitoefen.  Dit sluit selfs die menswees van ander mense in wat saam met ons onderskei.

4. God se wil wat ons ken deur die gawes wat Hy vir elkeen van ons gee – bv. In 1 Kor 12:4-11: “Aan elkeen afsonderlik word ’n werking (of gawe) van die Gees gegee tot voordeel van almal” 

Dié gawes word aan ons gegee om dit te gebruik soos Hý dit wil, waaruit ons ook meesal die roeping vir ons lewe kan aflei.  Trouens, die gawes wys eintlik vir ons wat ons roeping is: apostels, profete, evangeliste, herders, leraars, en dan die hele reeks ander gawes in 1 Kor. 12.  Dit is waarom die geestelike dissipline wat ‘n mens as Lewenspraktyk (rule for life) ken, so belangrik is, waarin jy fokus op die beoefening van jou gawes en dit ‘n lewenstyl ‘n manier van lewe word.  Jy raak eintlik ‘n gawe van God vir die lewe deur die gawes wat Hy vir jou gee, en dít raak jou lewenspraktyk.

Wanneer jy wéét watter gawes God jou gegee het, en hóé Hy jou as gawe wil gebruik, help dit jou ook weer om te kan onderskei wátter pad dit is wat jy moet volg, as daar vurke in die pad is, om so beter agter te kom waar jy jou gawes moet gaan gebruik.

Wat my bring by die volgende logiese vraag: Hoe ons moet werk met mekaar rondom die wil van God.

Hoe moet ons met mekaar werk rondom die wil van God?

Die verhaal van die jonger en ouer profeet wys vir ons hoe dit nié mag werk nie.  Die ouer profeet tree nie reg op deur die jonger een iets te laat doen waarvan die jonger een oortuig is dat dit verkeerd is nie.  En die jonger profeet tree nie reg op deur na die ouer profeet te luister om hom van sy gekose baan te laat afwyk nie, al roep die ouer profeet valslik ‘n engel as getuie in.  Ironies genoeg werk God sy eie wil uit in en deur alle aksies van hierdie twee profete, deur die slegte dinge en die goeie dinge wat hulle doen.

Hoe moet ons dan maak met mekaar? 

Ons moet blaai na ‘n gedeelte wat spesifiek hieroor handel, Romeine 14, veral omdat dit ook hier om eet en drink gaan.  Paulus deel in dié gedeelte Christene in twee groepe op – dié wat swak is in geloof, en dié wat sterk is in geloof.  En hy wys hoe ons met mekaar moet werk rondom ons interpretasies van wat God se wil is.  Hy illustreer dit met drie voorbeelde: 

  1. Ons oortuiginge oor wat ons eet – groente of vleis.
  2. On oortuiginge oor wat ons drink – wyn of water.
  3. Ons oortuiginge oor hoe ons die Sondag moet vier – as belangriker as die ander dae of as ewe belangrik as die res van die week.

En Paulus se raad is, ons moet mekaar die voorreg gee om ons eie mening hieroor te vorm, sonder om ander na ons eie standpunt te probeer oorhaal.  D.w.s, ons moet nie doen soos die ou profeet nie.  En ons moet ook nie weifel soos die jonger profeet nie.

  • As jy ‘n vegetariër is – dan is dit reg so. Maar moenie dié wat alles eet veroordeel nie. 
  • As jy ‘n omnifoor is, dit is iemand wat alles eet  – dan is dit ook reg so.  Maar moenie dié wat net groente eet verag nie.

Elkeen moet in sy eie gemoed oortuig wees van sy eie opvatting en dit nie op ander afforseer nie.  Alles wat ons doen, moet ons wel tot eer van die Here doen, maar mekaar dan nie aanvat of probeer beïnvloed oor dinge wat nie wesenlik is nie – en kos, drank, dae is in terme van die evangelie nie wesenlik nie. 

Paulus sou later hierop uitbrei, toe hy oor sy eie opvatting oor die huwelik gepraat het – hy dink ‘n mens moet nie trou nie omdat die tyd dit van ons vra – en sê dan duidelik dat dit sy eie opvatting is, en dat ander Christene van hom mag verskil (1 Kor. 7:8,12).  Trouens, jy moet jou net van die huwelik weerhou as God dié vermoë vir jou gee (1 Kor. 7:7 ).  Anders soek jy moeilikheid (1 Kor. 7:1-2 – “Dit is goed vir ‘n man om sonder ‘n vrou te lewe, maar weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man”).

Laat God jou lewe bepaal, nie ander mense nie

As daar dus een finale les is wat ons ter harte moet neem uit die verhaal van die jong profeet:

  • Moenie dat ander mense die wil van God vir jou lewe bepaal nie.  Gehoorsaam wat God vir jou sê volledig tot in die laaste detail daarvan.  Dit kom jy agter deur geestelike dissiplines, waarin gebed en die Bybel ’n belangrike rol speel.  En dit gebeur in die werklikheid van die lewe.
  • En die omgekeerde hiervan is net sowaar: Moenie God probeer speel in ander se lewens nie.  Soms gee die Here vir jou ’n woord vir iemand anders en dan moet jy Hom gehoorsaam.  Maar jy moet absoluut seker wees daarvan.  En dan moet jy die uitwerking daarvan oorlaat aan God en sy werk in mense se lewens oor.  En dit kan nie dinge insluit soos eet en drink en trou en dies meer nie.  Vir jou self ja, nie vir ander nie.

Die toets vir ons oortuiging is of ons sélf bereid is om te staan of val by ons oortuigings, radikaal gehoorsaam te wees – sonder om ander te probeer dwing om dieselfde te doen.  En ons kan nie iemand se woord sommer net so neem as God se woord aan ons nie.  Ons is vir ons eie luister na God verantwoordelik.

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment