Skip to main content

Neem dit en deel dit onder julle – Lukas 22:7-23

Wat is jou ervaring van testamente?

Ek onthou met my pa se dood watter probleem sy testament vir ons as familie was. My ma sou alles erf. Dit het ons geweet. Sy was die enigste begunstigde. Maar, weens probleme met die testament het die reëlings rondom die intestate erfreg ingetree. Ons as kinders moes ons reg om te erf volgens daardie testament afteken. Anders sou my ma nie alles kon erf nie.

My broer was baie betrokke om die boedel afgehandel te kry. Dit het dae en dae geneem. Gelukkig het hy op ‘n punt die “ek weet niks nie” houding ingeneem. Nie in die tou gaan staan nie, rondgedwaal, totdat iemand gevra het of hy nie kan help nie.

Daarna het dinge vinniger gegaan.

Watter stories sal jy kan vertel?

Ons het dit relatief maklik gehad. Baie mense het baie erger probleme. Veral rondom die bepalings van wie erf wat. Wie is begunstigdes en wie nie. Ek het een episode gekyk van die Netwerk 24 aanbieding Die Testament. Dit het my nie aangestaan nie, maar ek het genoeg gesien om te kon agterkom dat daar probleme was met wie kry wat. Met die begunstigdes.

Ai mense, en daardie aantekeninge agter op skilderye wat eers oopgemaak word ná die dood. Dit doen meer kwaad as goed. Moenie uit die graf probeer beheer uitoefen nie.

Nou, soos ek verlede week oor Opbrengs op Beleggings gepraat, en julle miskien gewonder het, waarheen is ek op pad. Dieselfde geld vandag se inleiding oor Testamente. Ek kies doelbewus hierdie inleiding, want dit het ‘n direkte verband met die onderwerp vir vandag, die Nagmaal.

Download the English translation: This is my body which is given for you

Watter rol speel nagmaal in jou lewe?

Ons het onlangs nagmaal gehou. Dit is een van die sakramente wat die Here Jesus ingestel het. Ek wonder wat was jou ervaring daarvan? Kan jy dit enigsins onthou?

En as jy terugdink aan jou ervaring van nagmaal deur die jare, watter rol het nagmaal gespeel in jou lewe?

As ek terugdink dan onthou ek die gewyde erns. Die wit gehekelde doek wat oor die glasies en die bordjies gedrapeer is. Die statige diakens wat die doek plegtig opgevou het en eenkant neergesit het. Die paar uitgesoekte kerkraadslede wat by die tafel aangesit het. Die gebede en die geloofsbelydenis. Dié het ons darem later saam met die dominee bely.

En dan die woorde wat ek die beste onthou: “Is iemand oorgeslaan met die brood? Met die wyn?” En daar was altyd iemand wat oorgeslaan is.

Ek onthou ook die afwagting vir ons eerste deelname aan die nagmaal. Ná belydenisaflegging. Ons groep wat voor in die kerk gesit het. Dominee André Strydom wat ons bedien het. Ons eerste nagmaal as tieners.

Ons kinders onthou vandag die nagmaal waarskynlik heeltemal anders. Want, hulle kan van kleins af, onder ouer begeleiding, die nagmaal met ons saam geniet. Soos dit aanvanklik was met die Pasga-ete.

Maar, wat beteken die nagmaal vir jou vandag?

Ek het ‘n vermoede dat dit vir ‘n hele paar van ons nie juis veel beteken nie. Dat daar ander dinge is wat vir ons van meer waarde is. ‘n Goeie preek. ‘n Inspirerende getuienis. ‘n Goeie gesprek oor die Here. Verhoring van ons gebede.

Jesus stel die nagmaal in as sakrament

Tog, as Jesus praat oor die nagmaal, dan sonder Hy dit bó ander ervarings uit. Stel Hy dit as ‘n blywende instelling in, ‘n sakrament.

Ons lees in Lukas 22:

14En toe die uur kom, het Hy aan tafel gegaan en die twaalf apostels saam met Hom. 15En Hy sê vir hulle: Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly.

Hoekom?

16Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie meer daarvan eet voordat dit in die koninkryk van God vervul is nie.

Jesus was baie bewus van die prys wat Hy binnekort moet betaal aan die kruis. Waar sy liggaam soos brood gebreek sal word. Waar sy lyding die koninkryk van God se koms sou inlei.

Sy verlange was na ‘n laaste stukkie gemeenskap met die twaalf apostels voordat die simboliese Pasga-ete sou oorgaan in die werklikheid van sy dood as die Paaslam aan die kruis.

Hy sê dieselfde van die wyn:

17En toe Hy ’n beker geneem het, dank Hy en sê: Neem dit en deel dit onder julle. 18Want Ek sê vir julle: Ek sal sekerlik nie drink van die vrug van die wynstok voordat die koninkryk van God gekom het nie.

Dit is die eerste gedagte wat ek wil hê jy oor moet nadink. Die nagmaal is belangrik, omdat dit vir Jesus belangrik. Ons vier dit omdat Hy dit ingestel het. Omdat Hy daaraan verbind is. Omdat dit sy nalatenskap, sy geskenk aan ons is.

En dan stel Jesus die nagmaal in, en hier kom die drade bymekaar, tussen ‘n testament en die nagmaal, want Lukas vertel ons:

19Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis. 20Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word.

En dit is die tweede ding wat ek wil hê dat julle aan moet dink. Die nagmaal is nie net belangrik omdat dit vir Jesus belangrik is nie. Dit is belangrik omdat dit jou intrek as begunstigde, as begenadigde van God. Die nagmaal is die fisiese teken daarvan.

Jesus sluit ons in sy testament as begunstigdes in

Sy bedoeling was dat die brood en die wyn ‘n nuwe verbond tussen hulle sal sluit. ‘n Testament wat hulle as begunstigdes het. Dat elke keer wat hulle bymekaar sou kom om sy kruisdood in herinnering te roep, hulle die brood en wyn sou eet en drink om hulle insluiting in die verbond met God te vier. Dat hulle hulle status as begunstigdes sou vier.

Trouens, soos Jesus op ‘n keer vooruit oor die nagmaal gesê het:

“Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie. 54Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. 55My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank. 56Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.” (vgl die hele Joh 6:22-59 vir die volle boodskap).

Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom.

Dit is die werklikheid van die nagmaal. Die werklike brood wat ons eet, die werklike wyn wat ons drink, help ons om te verstaan dat God se lewe in ons is, dat ons die ewige lewe as ‘n geskenk uit sy hand ontvang het, dat Hy in ons bly, en ons in Hom.

Dit is omdat ons eet en drink van Jesus, sy liggaam en sy bloed, dat ons die werklikheid van God in ons lewe kan ervaar. Die nagmaal is ‘n fisiese teken van ‘n geestelike werklikheid. Dit is ‘n testament met ons as begunstigdes. Dit is ‘n waarborg van die versoening met God, dat Hy ons sondes vergewe het, dat ons die ewige lewe uit sy hand ontvang.

Verraad diskwalifiseer jou status as begunstigde

Daar is egter ‘n kant van die nagmaal waaroor ons nie baie dink nie. Waarskynlik omdat ons nie meer in die gewoonte is om ‘n voorbereidingsdiens te hou nie. ‘n Diens waar ons kan nadink oor ons lewe en selfondersoek doen. Ook nie ‘n nabetragtingsdiens nie waar ons kan reflekteer wat die nagmaal vir ons beteken het.

Want by dieselfde instelling van die nagmaal praat Jesus nie net met dié wat as begunstigdes in sy testament ingeskryf is nie. Hy praat ook van dié wat aan tafel is, maar eintlik sy vyande is, omdat hulle nie doen wat Hy sê nie. Nalopers, maar nie navolgers nie.

Jesus sê:

21Maar kyk, die hand van hom wat My verraai, is by My aan tafel. 22Die Seun van die mens gaan wel heen volgens wat bepaal is, maar wee daardie man deur wie Hy verraai word! 23Toe begin hulle onder mekaar te vra wie van hulle dit tog kon wees wat dit sou doen. (Lukas 22:14-20)

Die nagmaal bring dus lewe. Dit vier jou status as begunstigde. Maar, net soseer is die nagmaal die plek waar Judas se vyandskap na vore kom. Waarin hy homself deur sy verraad as begunstigde van die testament diskwalifiseer.

Want, Judas het in sy teenstand teen die weg van Jesus, sy lojaliteit geskuif na die weg van die Satan. In sy geval doodgewoon omdat hy gierig was. Hy wou meer gehad het. Hy wou nie sy eie behoeftes neerlê en sy kruis opneem om Jesus te volg, kom wat wil, nie.

Nee, Judas het die Satan – die Teenstander – toegelaat om sy menswees binne te dring, om sy identiteit nie meer in Jesus te soek nie, maar in sy behoeftes, sy gierigheid. En net voor hierdie Pasga-ete het die Satan in Judas gevaar. En het Judas aangebied om Jesus aan die Joodse leiers te verraai.

Korttermyn voordele versus langtermyn voordele

Judas het die korttermyn voordele van sy begeerte aan geld gesoek. Nie die langtermyn voordele van die nalatenskap van Jesus nie. Judas wou nie ‘n begunstigde van Jesus wees nie. Hy wou self bepaal wat na sy kant toe kom.

Jesus is heeltemal bewus van wat aangaan. Hy weet wat God wil doen met sy kruisdood. Hy weet dat die manier is waarop sy testament onderteken gaan word. Geskryf met sy gebreekte liggaam en sy gestorte bloed.

Maar Hy waarsku vir Judas dat sy keuse vir korttermyn voordele Hom op groot skaal gaan benadeel op die langtermyn. “Wee die man deur wie Jesus verraai word!”

Maar Judas kry dit nie reg om sy verraad om te keer nie. Daarmee eet en drink hy ‘n oordeel oor homself, omdat Hy aan Jesus nie gehoorsaam wil lewe nie, maar teen sy wil kies, kies om Hom te verraai.

Die nagmaal bring dus lewe en ‘n gemeenskap met God self. Vir elkeen wat Homself verneder voor God, wat sy behoeftes neerlê, wat kies om God se pad te stap, al bring dit groot koste mee.

Maar terselfdertyd bring die nagmaal egter ook ‘n oordeel oor diegene wat Jesus verwerp en verraai. Dié wat nie binne sy openbaring wil bly nie, maar hulle eie kop volg in die Christelike lewe.

Dit is dié dat die apostels onder mekaar begin vra wie van hulle dit tog kon wees wat dit sou doen. Want daardie selfondersoek is die ding wat altyd deel van ‘n gepaste deelname aan die nagmaal moet wees. Sonder selfondersoek speel jy met jou lewe. Bring jy God se oordeel oor jou lewe. Stel jy jou status as begunstigde in gevaar.

En dit is die derde ding wat ek wil hê dat julle oor die nagmaal moet onthou, as die betekenis daarvan vir jou begin vervaag. Die nagmaal is nie net belangrik omdat dit vir Jesus belangrik is nie. Die nagmaal is nie net belangrik omdat dit jou status as begunstigde vier nie. Die nagmaal is belangrik, omdat jy daar seker maak jy is nog op die pad met die Here, dat jy nog ‘n navolger is, nie maar net ‘n naloper nie.

Ondersoek jouself dat jy nie onder die oordeel van God kom nie

Dit is waaroor Paulus onder andere aan die Korintiërs skrywe (1 Korintiërs 11:17-34). Hy skryf eers oor die vernederende wyse waarop hulle armes by die nagmaal hanteer het. Maar dan skryf hy oor hulle gebrek aan selfondersoek by die viering van die nagmaal:

 “As enigiemand dan op ’n onwaardige manier van die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal daardie persoon skuldig wees aan sonde teen die liggaam en die bloed van die Here. Dit is waarom julle julleself moet ondersoek voordat julle van die brood eet en uit die beker drink. Want as julle van die brood eet en uit die beker drink, eet en drink julle ’n oordeel oor julleself as julle nie die nodige respek teenoor Christus se liggaam betoon nie. Dit is waarom daar baie swakkes en siekes onder julle is, en heelwat onder julle reeds oorlede is. As ons onsself egter vooraf ondersoek, sal ons nie onder God se oordeel kom nie. Maar selfs as ons God se oordeel en dissipline moet verduur, sal ons nie saam met die wêreld veroordeel word nie.” (NLV)

Paulus se punt is duidelik. As jy nie selfondersoek doen nie, as jy nie doen wat die Here sê nie, as jy weier om te lewe volgens sy openbaring, dan drink en eet jy letterlik ’n oordeel oor jouself wat ’n fisiese uitwerking op jou kan hê.

’n Mens moet dit nou nie interpreteer asof Paulus sê dat dit net diegene is wat die Nagmaal verkeerd gebruik wat getref sal word deur siekte en sterftes nie. Maar hy wil die Korintiërs bedag maak daarop dat wanneer jy gemeenskap met die sonde het – soos hy in 1 Korintiërs 5-7 uitvoerig uitgebrei het – dat jy versigtig moet wees om aan die nagmaal deel te neem, want dit is gemeenskap met God. Jy moet respek betoon vir Christus se liggaam, dit is Christus se teenwoordigheid in die gelowiges, die gemeenskap wat Hy het met hulle wanneer hulle nagmaal gebruik, anders kan dit jou suur bekom.

Dit is iets wat baie persoonlik is, maar uiteindelik ons oproep om ook as ‘n gemeenskap van gelowiges te sorg dat daar nie dwaalleer insluip in ons geledere nie wat veral deur die goedkeuring van onsedelikheid en losbandigheid die nagmaal kan besoedel.

Stry vir die geloof wat aan ons oorgelewer is

Jesus se broer, die skrywer Judas, skryf oor die dwaalleraars wat met hulle skelm leringe amper ongemerk die geledere van die kerk ingesluip het. Hy verwyt hulle dat hulle op onaanvaarbare wyse God se genade verteken. Hulle verkondig dat God se genade so groot is dat ‘n mens maar losbandig kan lewe.

Judas sê, nee, dit kan tog nie. Sulke mense misbruik die genade van God. Hulle gebruik ‘n verkeerde idee van sy genade as dekmantel om losbandig te lewe. Hulle praat goed wat die Skrif afkeur. Hulle verheerlik wat God as onheilig en onrein afwys.

Maar, dit is al nie. Judas gaan verder en beskryf hoe dit die nagmaal besoedel:

12Hulle besoedel julle liefdesmaaltye met hulle skaamtelose uitspattighede en sorg net vir hulleself. Hulle is wolke wat geen reën bring nie en deur die wind verby gewaai word. Hulle is bome wat selfs laat in die seisoen nog geen vrugte het nie, wat ontwortel en morsdood is. 13Hulle is woeste golwe van die see; hulle laat hulle skande soos skuim opspat. (Judas 12-13).

Hy het sy brief begin met die idee om oor die verlossing met hulle te praat, maar uiteindelik praat hy oor die verdoemenis, só ernstig wat die dwaling. Daar is geen manier wat losbandigheid die goedkeuring van God kan wegdra nie. Maak nie saak op watter manier mense dit goedpraat nie.

Verhaal van die bruilof van die Lam

Maar, ek keer terug na die idee van die nagmaal as Jesus se testament. Met ons as begunstigdes. Diegene van ons wat ons hou aan die Skrif en aan die gehoorsaamheid aan God self.

En dit is die vierde ding wat ek wil hê dat jy van die nagmaal moet onthou. Wat ons erfenis is. Waarheen ons op pad is. Ons as die begunstigdes van die Here.

Ek het toe iets gehoor soos die geluid van ’n baie groot skare, soos die gedruis van baie waterstrome en soos die gerammel van swaar donderweer. Hulle het aanhou uitroep: “Halleluja! Die Here heers as koning, ons God, die Almagtige, laat ons juig en jubel en aan Hom eer betoon, want die tyd het aangebreek vir die bruilof van die Lam, en sy bruid het haarself daarop voorberei. Sy is toegelaat om fyn, helder skoon linne aan te trek.” Die fyn linneklere is die regverdige dade van hulle wat aan God toegewy is. Die engel het toe vir my gesê: “Skryf: Geseënd is hulle wat na die bruilofsfees van die Lam uitgenooi is.” Hy sê toe ook aan my: “Die woorde wat van God af kom, is betroubaar.” (Openbaring 19:6-9)

Openbaring 19 vertel vir ons dat ons, die bruid, die kerk, toegelaat word om ons gereed te maak vir die bruilof met wit klere as simbool van die regverdige dade van die heiliges. Dit is waar die geloofsgemeenskap van die kerk met die Here Jesus sy toppunt bereik. Dit sal ‘n fees wees.

Jesus het hierdie bruilofsmaaltyd as die “pasga”, die “nagmaal”, in die koninkryk van God genoem (Luk 22:16). Dit is waarvoor ons die pad van heiligmaking navolg. Fokus op reinheid en heiligheid. Toelaat dat die Here die sondige dinge in ons lewe soos ou klere uittrek, en die toewyding aan God soos nuwe klere aantrek.

Neem dit en deel dit onder julle … want julle is die begunstigdes.

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.