Skip to main content

Noag, die geloofsheld – Hebreërs 11:7

Is dit verkeerd om mense van Jesus te vertel?

Dit kan vir baie van ons vreemd klink dat ek hoegenaamd dié vraag vra. Dit is mos darem baie duidelik uit die Bybel dat ons vir alle mense van Jesus moet vertel. Só het Jesus immers self gesê: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom (Mark 16:15). Dit is die opskrif op ons wêreldkaart daar teen die muur. Dit is wat ons sendelinge doen. Dit is wat elkeen van ons behoort te doen.

Maar, vir jong mense is dit nie só ‘n vreemde vraag nie. Nie waar nie?

Die helfte van millennials sê dit is verkeerd

Navorsing wys dat die helfte van Christen millennials (gebore tussen 1984 en 1998 – 21 tot 35 jaar oud) dink daar is iets verkeerd daarmee om ander mense van Jesus te vertel. Só sê die nuutste navorsing van die Barna Instituut: “about half of millennial  Christians believe it’s ‘wrong’ to evangelize.”

Baie van ons jongmense dink dus dat dit verkeerd is om mense van Jesus te vertel.

Dit is nie dat jongmense nie weet wat die evangelie van hulle vra nie. Dit is selfs nie dat hulle nie weet hoe om ander van Jesus te vertel nie. Trouens, hulle het soms meer vaardighede en geleenthede om dit te doen as vorige generasies.

Maar hulle voel dit is verkeerd om jou persoonlike geloof met iemand anders te deel. Veral as dié persoon van ‘n ander geloof is.

Kan julle daarmee identifiseer? Is dit hoe julle ook dink?

HIER  VOLG DIE HELE EREDIENS:

Verwelkoming

Toetrede

Flam 112b:1-2 Ek roem u Naam – sit

Votum en Seënbede

Loflied

Lied 209 x 2 Heer, met my hele hart – staan

Lied 175 – Majesteit, glansryke heerlikheid – staan

Kindertyd

1. Lank, lank gelede was daar ‘n man. Sy naam was Noag. Hy was ‘n regverdige man. Hy het naby God geleef. En hy het alles reg gedoen. Hy het in God geglo. En hy het niks verkeerds gedoen nie.
2. God het vir Noag gewaarsku dat hy baie reën gaan stuur. So baie reën dat daar ‘n vloed sal wees. God sê toe vir Noag om ‘n boot te bou dat al die mense wat in God glo veilig kan wees in die vloed. Noag het God gehoorsaam en die boot gebou. God het dit die ark genoem.
3. Vir ‘n hele honderd jaar het Noag vir die mense vertel dat hulle in God moet glo. Hy het gepreek. Hy het van God vir hulle vertel. Maar hulle wou hom nie glo nie. Hulle wou nie in God glo nie.
4. Uiteindelik was die ark klaar. God het vir Noag gesê om saam met sy familie in die ark te klim. Hulle het God gehoorsaam. God het ook gesê dat hulle twee diere van elke soort saam met hulle moet neem, ‘n mamma en ‘n pappa. Die diere het ook vir God gehoorsaam. Toe almal in die ark was, het God die ark se deur gesluit.
5. Toe begin dit reën, en reën, en reën! Al die fonteine van die wêreld het oorstroom. Dit het veertig dae en nagte gereën tot die hele aarde toe was met die water. Noag en sy familie was die enigste mense in die hele wêreld wat oorleef het. Want, hulle het in die enigste ware God geglo. Hulle het Hom gehoorsaam. Al die ander mense het egter gesterf, want hulle wou nie in God glo nie.
6. Die verhaal leer ons ‘n baie belangrike les. Net soos Noag en sy familie saam met al die diere veilig was in die ark, is ons veilig in Jesus. Dit is waarom ons gedoop is. Die doop sê, ons is Syne. Die Here Jesus is ons ark, ons veilige plek. Wanneer ons in Jesus glo as ons Here en Saligmaker, kan niks ons skei van sy liefde nie. Ons is God se kinders en die hemel wag vir ons vir ewig.

Gebed

Skriflesing en prediking

Hebreërs 11:7

7 Deur geloof het Noag, toe hy die goddelike opdrag ontvang het oor dit wat nog glad nie gesien is nie, en omdat hy gehoorsaam was, ‘n ark voorberei vir die redding van sy huis. Daardeur het hy die wêreld veroordeel en ‘n erfgenaam geword van die regverdiging volgens geloof.”

Is dit verkeerd om mense van Jesus te vertel?

Dit kan vir baie van ons vreemd klink dat ek hoegenaamd dié vraag vra. Dit is mos darem baie duidelik uit die Bybel dat ons vir alle mense van Jesus moet vertel. Só het Jesus immers self gesê: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom (Mark 16:15). Dit is die opskrif op ons wêreldkaart daar teen die muur. Dit is wat ons sendelinge doen. Dit is wat elkeen van ons behoort te doen.

Maar, vir jong mense is dit nie só ‘n vreemde vraag nie. Nie waar nie?

Die helfte van millennials sê dit is verkeerd

Navorsing wys dat die helfte van Christen millennials (gebore tussen 1984 en 1998 – 21 tot 35 jaar oud) dink daar is iets verkeerd daarmee om ander mense van Jesus te vertel. Só sê die nuutste navorsing van die Barna Instituut: “about half of millennial  Christians believe it’s ‘wrong’ to evangelize.”

Baie van ons jongmense dink dus dat dit verkeerd is om mense van Jesus te vertel.

Dit is nie dat jongmense nie weet wat die evangelie van hulle vra nie. Dit is selfs nie dat hulle nie weet hoe om ander van Jesus te vertel nie. Trouens, hulle het soms meer vaardighede en geleenthede om dit te doen as vorige generasies.

Maar hulle voel dit is verkeerd om jou persoonlike geloof met iemand anders te deel. Veral as dié persoon van ‘n ander geloof is.

Kan julle daarmee identifiseer? Is dit hoe julle ook dink?

Hoekom is dit so met millennials?

Hoekom is dit so? Die navorsing sê millennials leef in ‘n wêreld wat dit al hoe moeiliker maak om oor Jesus te praat. Millennials is baie sensitief vir die kulturele temperatuur rondom geestelike gesprekke. Hulle is baie bewus daarvan dat die Westerse kultuur vyandig is teenoor die evangelie. Daarom is hulle baie versigtig om ander van Jesus te vertel.

Millennials is veral bang dat as hulle tog oor Jesus praat, en mense verskil, dat ander mense sal dink hulle is veroordelend. En dit maak hulle uiters versigtig om ander van Jesus te vertel. Hulle wil nie veroordeel nie.

Hulle weet die kultuur sê, leef jou lewe soos jy wil, en laat ander toe om dit self te doen. Hulle dink baie keer self so. Vir die kultuur kom gevoelens eerste. Dit is hoe jy oor jouself voel wat belangrik is, nie wat ander vir jou sê nie. En hulle wil die kultuur nie uitdaag nie. Hulle wil nie oorkom as “judgmental” nie.

En laat ons nie die generasie X se houding hieroor buite rekening laat nie, die groep tot en met so 53 jaar oud. ‘n Kwart van hulle dink ook so. Dat dit verkeerd is om van Jesus te vertel. Dat ander aanstoot sal neem. Daarom bly hulle liewer stil.

Dit is dus ‘n groeiende werklikheid onder baie van ons mense dat hulle dink dit is verkeerd om met ander oor Jesus te gesels.

Is dit dus verkeerd om ander van Jesus te vertel?

Wel … nee … die Bybel is tog duidelik daaroor. Maar, daar is ‘n groot weerstand daarteen. Baie dink daar is iets mee verkeerd. Veral omdat ander aanstoot kan neem.

Die vraag is dus lewensbelangrik vir ons. Is dit verkeerd om mense van Jesus te vertel? Jou antwoord daarop sal bydra tot óf ‘n kerk wat sal val voor die kultuur, óf tot ‘n kerk wat sal staande bly in die kultuur, soms selfs die kultuur sal bepaal.

Hoe sal ons dit regkry om mense van Jesus te vertel?

Die tweede vraag is dus, hoe kan ons die kulturele weerstand oorkom, nie net van mense van ander gelowe nie, maar die weerstand diep binne onsself? Sodat ons ons roeping as kinders van die Here, met ‘n boodskap vir die hele wêreld, kan nakom.

En dit is vir julle as belydenisklas belangrik om hieroor duidelikheid te kry. Want, al is julle nie millennials nie, maar generasie Z – die sogenaamde post-millennials – gaan julle in dieselfde kultuur julle getuienis moet lewer. En julle gaan weerstand kry. Julle gaan versoek word om liewer stil te bly en onder die radar te bly. Niemand aanstoot te gee nie. Niemand te veroordeel nie.

Jou getuienis maak saak

Hoe gaan ons dit regkry om mense van Jesus te vertel?

Wel, die plek om te begin, is by die besef dat ons getuienis regtig saak maak. Dat God inderdaad vir ons ‘n boodskap gegee het wat hierdie wêreld nodig het. Dat sonder ons boodskap hierdie wêreld verlore sal gaan. Elke kind en elke man en vrou wat nie die verlossing in Jesus aanvaar nie, sal die ewigheid sonder Hom moet deurbring.

En jou getuienis maak saak. Aan jou is die boodskap van die verlossing in Jesus Christus toevertrou. God het dit aan jou toevertrou.

Die verhaal van Noag

En dit is waar die verhaal van Noag ons help. Want, God het Noag ook uitgekies om ‘n boodskap aan die wêreld van sy tyd te bring, ‘n wêreld wat toenemend afvallig geraak het van God. Wat van God niks wou weet nie. Wat gedoen het net wat hulle wil, en geen teenstand geduld het vir hulle lewe in plesier nie.

En ons kan moed skep uit sy volharding, sy geloof, sy gehoorsaamheid. Hy is vir ons ‘n voorbeeld by uitnemendheid. Een wat ons bemoedig en aanspoor om ons roeping aan te gryp en enduit uit te voer.

Noag is ‘n reuse figuur in die hele Bybel

Ons lees op tien plekke van Noag in die Bybel. Regdeur die Bybel. In die wet, die geskrifte en die profete van die OT. In die evangelies sowel as die briewe van die NT. Hy is ‘n reuse figuur in die Bybel, ‘n geloofsheld, ‘n voorbidder en prediker.

Hier is tien aspekte van sy lewe waarmee ek jou wil bemoedig.

1. Noag die trooster

Om sy verhaal te begrond in die oergeskiedenis is daar twee plekke in die Ou Testament waar Noag se naam voorkom in geslagsregisters (Gen 5:29; 1 Kron 1:4). Hy is die tiende geslag ná Adam.

Hoor net wat sê sy pa, Lameg, as hy hom Noag noem, want het hy gesê:

“Dit is hy wat ons sal troos oor ons werk en oor die moeitevolle arbeid van ons hande wat voortkom uit die aarde wat die HERE vervloek het.”

Lameg het dus iets verwoord reeds by Noag se geboorte van die betekenis wat hierdie kind van hom gaan hê. Vir die hele menslike geslag.

Trouens, as ‘n mens die verloop van die verhaal goed deurdink, is daar nog Een wat getroos word. Dit is God, soos ons hierna gaan sien. Noag het God se hartseer oor sy mense verminder. Hy kon deur God gebruik word om ‘n nuwe toekoms te skryf vir die mensdom. Soos Hy dit finaal in Jesus Christus sou doen.

Dit neem egter ‘n geruime tyd voordat Noag se lewe die vrug dra wat sy pa voorspel het.

2. Noag die begenadigde

Noag is reeds vyfhonderd jaar oud as die Here besluit Hy het nou genoeg gehad van die sondigheid van die aarde. Ons lees in Genesis 6:

“Die aarde was deur-en-deur sleg voor God; die aarde was vol geweld. God het gekyk na die aarde en kyk dit was deur-en-deur sleg; want alle mense het ‘n verderflike pad geloop op die aarde.” (Gen 6:11-12)

Dit het God tot in sy hart gegrief. Hy was jammer dat Hy die moeite gedoen het om die mens te skep (Gen 6:5-7). Ons kan ons skaars voorstel hoe diep dié jammerte van God was.

Maar, gelukkig lees ons in Genesis 6:8-9, was daar ‘n man met die naam Noag. Hy het genade gevind in die oë van die HERE. Noag, die trooster, vind genade in God se oë. Keer dat God se hartseer in ‘n totale tragedie ontaard.

3. Noag die regverdige

Hoekom kon God hom as uitweg gebruik? Ons lees die antwoord in Genesis:

“Noag was ‘n regverdige man, onberispelik in sy optrede tussen sy tydgenote. Hy het naby God geleef.” (Gen 6:9)

Noag het aan die een kant in ‘n intieme verhouding met God geleef. “Hy het naby God geleef.” Hy was ‘n ware gelowige. Hy het met God gewandel; saam met God geloop. Anders as die ander mense wat ‘n verderflike pad geloop het.

Dit is wat dit beteken as vertalers sê: Noag het naby God geleef. Noag het geluister na wat God sê. Hy het geloop op die pad wat God uitspel. God se woorde was sy eerste en hoogste prioriteit. Hy het geglo wat God vir hom gesê het. Hy het God se woorde vertrou.

Noag was aan die ander kant “’n regverdige man, onberispelik in sy optrede tussen sy tydgenote.”

Noag was ‘n regverdige, ‘n ṣaddîq, iemand wat in ‘n regte verhouding met God geleef het. Iemand wat God se hart tevrede gestel het

Noag het koersvas gebly in ‘n wêreld van absolute morele verval. Hy het God se Woord gehoorsaam in elke faset van sy lewe. Geen afgodery. Geen onsedelikheid. Geen gierigheid. Dié dinge wat die wet later helder sou uitspel as immoreel. Noag het dus volgens die wet geleef, vóórdat die wet dit swart op wit neergepen het.

Natuurlik sê die skrywer van Hebreërs vir ons dat hierdie regverdigheid van God af gekom het. En dit is waar. Dit is God wat hom regverdig verklaar het. Dit is wat gebeur met mense wat naby Hom leef.

Maar, dit is net so waar dat hierdie regverdigheid nie sonder sy geloof en gehoorsaamheid ‘n werklikheid geword nie.

Dat God Hom geregverdig het, het gewys in sy gehoorsaamheid aan alles wat God vir hom gesê het.

4. Noag die geroepene

Daarom het God vir Noag ingetrek in sy planne. God het hom geroep om ‘n nuwe begin vir die mensdom te wees:

“Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg. Maak vir jou ‘n ark van goferhout.” (Gen 6:13-14)

Hy beveel Noag om ‘n ark te bou. Dit sal nie net vir hom en sy gesin red nie, maar ook die diere en voëls (Gen 6:14-21). Deur die ark sou God ‘n nuwe begin kon maak vir almal wat bereid was om in Hom te glo, om Hom te vertrou.

5. Noag die gehoorsame

En Noag se reaksie? Genesis 6:22:

“En Noag het dit gedoen. Net soos God hom beveel het, so het hy gedoen.”

Al het dit hom ‘n honderd jaar lank geneem. Sommige dink dit was uiteindelik honderd-en-twintig jaar.

Hoekom doen God dit? Hoekom kies God vir Noag? Genesis 7:1:

“want jou het Ek regverdig bevind voor my aangesig in hierdie geslag.”

En dit sluit sy hele gesin in. Daarom sluit God ‘n verbond met hulle op grond van die feit dat God Noag se geloof in Hom geëer het.

Soos die Hebreërskrywer sê in Hebreërs 11:7: deur Noag se geloof in God het Noag ‘n erfgenaam geword van die regverdiging volgens geloof. God het Hom geregverdig deur die geloof en sy gehoorsaamheid.

En ons ken die verloop van die verhaal verder dat die reën gekom het, dat Noag en sy familie gered is, en dat God weer ‘n pad met die mensdom kon loop.

Hy het soos ‘n dwaas gelyk terwyl hy die ark gebou het … totdat die reën gekom het.

6. Noag die bemoediger

Dit is waarom die profete ook so vol ontsag vir hierdie man, Noag, was.

Jesaja sluit by hierdie belofte aan Noag aan, dat water nie weer as ‘n straf gebruik sal word nie, om die volk in ballingskap te bemoedig (Jes 54). Hy eer die nalatenskap van Noag deur die hele volk te bemoedig met die boodskap van die reënboog. Om hulle te laat moed skep dat daar ‘n nuwe toekoms voorhande is.

7. Noag die voorbidder

Ook Esegiël skryf met groot ontsag oor Noag  (Eseg 14). Iets wat jy miskien nie weet van Noag nie is dat hy ‘n voorbidder van formaat was. God praat daar van Noag op ‘n gelyke voet as van die groot voorbidders Job en Daniël.

  • Job wat vir sy kinders ingetree het, en vir die dwase vriende van hom.
  • Daniël wat ‘n belofte van God in vervulling bid, sodat die volk weer terug kan gaan uit ballingskap na Israel.

Noag was van dieselfde stoffasie as Job en Daniël. In God se oë. In die ongeveer honderd jaar wat hy aan die ark gebou het, het Noag nie net gebou nie, maar ook gepraat, en veral gebid.

8. Noag die getroue

Dieselfde geld van Noag in die Nuwe Testament.

Jesus gebruik Noag se verhaal as ‘n voorbeeld van wat met sy wederkoms sal gebeur. Jesus is baie helder daaroor dat aan die einde van die tyd dinge weer sal verloop soos wat dit in Noag se tyd was. Die afvalligheid van God sal toeneem. Die meeste mense sal doen wat hulle wil.

Totdat daar onverwags ‘n streep getrek sal word. Die wederkoms sal aanbreek. Dié wat in Jesus glo, wat nie net op Hom vertrou nie, maar aan Hom getrou bly, sal geskei word van dié wat dit nie doen nie. Vir ewig (Matt 24:36-44; Luk 17:20-37).

Noag is daarom ‘n kampioen. ‘n Formidabele gelowige. Iemand wat midde in ‘n tyd van absolute verrotting, van ongekende immoraliteit, van ongekende afgodery, gekies het om in God te glo en Hom te gehoorsaam, kom wat wil. Hy was getrou tot die einde toe.

9. Noag die boodskapper

Noag was daardeur ‘n boodskapper van geregtigheid. Só sê Petrus. Toe God besluit het om die wêreld te vernietig, het Noag nie die nuus vir homself gehou nie. Hy het onmiddellik aan die werk gespring om die ark te bou ter wille van sy familie. Daardeur het hy ‘n ondubbelsinnige boodskap gebring aan die wêreld. Dat die enigste pad wat na die lewe gaan lei, die pad van bekering en geloof in die Here is (2 Pet 2).

Dit is waarom Petrus hom as ‘n boodskapper van geregtigheid kan beskryf. Een wat vir honderd jaar volgehou het om die mens van sy tyd te waarsku dat daar ‘n katastrofiese ramp aan die kom is, en dat hulle tot inkeer moet kom.

Dat hy hulle nie kon oortuig nie, is nie sy skuld nie. Hy was die getroue getuie tot die einde toe.

10. Noag die geloofsheld

Dit is waarom die Hebreërskrywer Noag as ‘n geloofsheld beskryf (Hebr 11:7).

7 Deur geloof het Noag, toe hy die goddelike opdrag ontvang het oor dit wat nog glad nie gesien is nie, en omdat hy gehoorsaam was, ‘n ark voorberei vir die redding van sy huis. Daardeur het hy die wêreld veroordeel en ‘n erfgenaam geword van die regverdiging volgens geloof.”

So kragtig is sy nalatenskap dat met elke doop Noag se geloof en gehoorsaamheid gedenk word. Petrus gebruik Noag se ark as ‘n simbool van die doop (1 Pet 3:8-22).

Daarom is Noag vir ons ‘n voorbeeld van wat kan gebeur as ‘n mens against all odds in God glo en Hom gehoorsaam.

Ons het ‘n boodskap om te verkondig

Noag is daarom die man waarmee ek jou vandag wil bemoedig. Waarmee ek jou murg in jou pype wil laat ontwikkel. Waarmee ek wil sorg dat jou bene nie lam raak nie. En jou ruggraat nie krom nie.

Want, ons het ‘n boodskap om te verkondig. Soos Noag. En dit is ‘n boodskap van bekering. ‘n Boodskap van die verlossing in Christus. ‘n Boodskap dat God sonde en afgodery nie ongestraf sal laat bly nie. Dat die enigste hoop die kruisdood en opstanding van Jesus is.

Jesus het die prys betaal vir ons sonde. Hy bied vir ons ‘n weg uit ons sonde aan. Hy neem die skuld van ons sonde op Hom en skryf dit af. Hy gee ons vryspraak. Hy gee ons ook sy Gees wat ons waarborg is van die ewige lewe. Wat ons sondige liggame verander deur ‘n proses van heiligmaking sodat ons ook soos Noag, en natuurlik by uitnemendheid, soos Jesus, kan wees.

Jesus beloof aan dié van ons wat ons self gee vir heiligmaking, dat sy wederkoms ‘n ongelooflike toekoms vir ons sal wees.

Soos Noag homself en sy gesin gereed gemaak het vir die koms van die vloed, só sê Jesus, moet ons onsself en almal wat saam met ons die pad van die Here stap, gereed maak vir die wederkoms van die Here Jesus Christus.

Ons sal vir ander van Jesus móét vertel. Al is dit moeilik. Al neem mense aanstoot. Al word ons verwerp en verguis.

Hulle toekoms is op die spel. Jou toekoms is op die spel.

Gebed

Dankoffers

Lied 514 1-2 verwerking Ek weet vir seker: Jesus is Heer – koor

Belydenisaflegging

Ek wil graag hê die ouers van hierdie vyf jongmense moet opstaan.

Ek wil julle bedank vir julle liefde en sorg. Nie net in die huis nie, maar ook hier by die kerk. Van die doopgeleenthede in Oos-Londen, Krantzkloof, Kuilsrivier, en PE Hoogland regdeur die kindertyd, kategese en belydenisklas het julle hulle ondersteun. Hier is dan nou die vrug van julle werk wat onder leiding van die Here gedoen is.

Al die vriende en familie wat hier is om dié geleentheid spesiaal te maak, sal julle nie ook asb opstaan nie. Ek wil julle bedank vir die netwerk van verhoudinge waarmee julle hierdie jongmense ondersteun het. Dit kos ‘n hele dorp om ‘n kind op te voed. Julle insette word waardeer. Julle kan weer sit.

Formulier en belydenis

Persoonlike woord aan elkeen

Nicola Cilliers

Jy is geseënd met ‘n geestelike nuuskierigheid. Jy wil diep kyk en verstaan. Die teks wat vir jou betekenis het, is Paulus se opsomming van sy lewe. Deur dik en dun het hy beleef:

Filippense 4:13

Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.

Mag jy dit ook beleef!

Christiaan Diedericks

Jy het die ervaring dat God naby jou is, soos ‘n goeie vriend. Daarom gee ek vir jou ‘n teks wat die essensie van jou Godsverhouding oordra:

Johannes 15:14

Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel.

Mag jy dit ook beleef!

Marcell Muller

Jy ervaar God as die Een wat die onmoontlike moontlik maak. Daarom gee ek vir jou een van die tekste in die Bybel wat dit verwoord. Jesus se verlossing is ook vir jou bedoel:

Matteus 19:26

Maar Jesus het stip na hulle gekyk en vir hulle gesê: “By mense is dit onmoontlik, maar by God is alles moontlik.”

Mag jy dit ook beleef!

Mark Muller

Jy ervaar God as die Een wat jou lewe begelei. Daarom gee ek vir jou die eerste twee verse uit Psalm 23 wat vir jou soveel beteken:

Psalm 23:1-2

Die HERE is my herder; ek ly nie gebrek nie. In groen weivelde laat Hy my rus; na water waar daar rusplek is, lei Hy my.

Mag jy dit ook beleef!

Kirsten Rautenbach

Jy het ‘n innerlike vrede en rus wat min mense op jou ouderdom al besit. Daarom gee ek vir jou die vers wat vir jou soveel betekenis het, ook uit Psalm 23, vers 6:

Psalm 23:6

Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe, en ek sal bly terugkeer na die huis van die HERE.

Mag jy dit ook beleef!

Seënbede

Lied 305 1,3 Aanbiddelike God, drie-enig … Gee krag, o Heer, aan hierdie lede waar hulle nou u Naam bely – staan

Slotlied

Vonkk 174 Strome van seën uit die hemel – staan

Seënbede

Amen

Respons

Lied 311:1-2 koor voorsangers Dit was ons hier ontvang het, gaan deel ons verder uit­ – staan

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.