Psalm 148 roep die hele heelal op tot lofprysing

Psalm 148 is ons teks vir hierdie Sondag. Dié Psalm vorm deel van vyf Halleluja Psalms waarmee die Psalmboek eindig. Die vyf Psalms teken vyf fasette van God:

  • God is kongruent in sy karakter – Ps 146
  • God is vreugdevol in sy versorging – Ps 147
  • God is betroubaar in sy bevestiging – Ps 148
  • God is goedgesind teenoor sy volgelinge – Ps 149
  • God is onpeilbaar groot in sy omvang – Ps 150

Dit is aspekte van God waarop jy kan staatmaak vir 2019. Eienskappe van God waarop jy jou lewe kan bou. Dit is na alles waaroor dit gaan in die geestelike lewe. Oor God en oor wat Hy doen. Alles hang van Hom af en vind hulle sin en betekenis in Hom.

En dit is die dinge waarvoor jy die Here kan loof. Dinge wat jy ook van God kan verwag in die jaar wat gaan kom. Dinge waaroor jy kan bid:

  • Dat God kongruent sal optree.
  • Dat God sal sorg.
  • Dat God jou sal bevestig.
  • Dat God goedgesind sal wees teenoor jou.
  • Dat God sy grootheid in jou lewe sal wys.

HIER IS DIE VOLLEDIGE EREDIENS (Download Psalm 148 in English)

Verwelkoming

Vandag is die Sondag voor Oujaarsdag. Dit is ‘n tyd vir terugkyk. Bestek opneem. Die Here te loof vir die goeie. Die Here te vertrou dat alles ten goede sal uitwerk, ook waar daar slegte dinge gebeur het. En vorentoe te kyk, die Here se aangesig te soek, en Hom te vertrou vir sy sorg en nabyheid in die nuwe jaar.

Toetrede

Ons teks vir hierdie terugkyk, en ook vorentoe, is Psalm 148. Ons gaan dit eers sing, 3 van die 9 verse, en dan volledig in die prediking toe-eien as lied vir die Oujaar sowel as vir die Nuwejaar.

Psalm 148:1-3 Prys uit die hemele die Heer, gee, engele, aan Hom die eer – sit

Votum en seëngroet

Loflied

Lied 502:1,3,4 (melodie 203) Vol vertroue, vas en veilig, bou ek op die Heer my hoop – staan

Flam 21 In die hemel is die Heer en sy glans is soos kristal. Hy’s die Heilige van God, en Hy heers oor die heelal – staan

Verootmoediging

Ons het op Kersdag gefokus op God se genade soos Paulus dit aan Titus deurgegee het. ‘n Genade wat ons leer om néé te sê vir goddeloosheid, vir wêreldse begeertes, vir wetteloosheid. ‘n Genade wat ons leer om já te sê vir ‘n verstandige, selfbeheersde lewe, ‘n lewe wat fokus op dit wat vir God reg is, en in alles aan Hom toegewy te lewe.

Paulus brei in Kolossense 3 ‘n bietjie breër uit oor wat die dinge is waarvoor ons moet já sê, dinge wat ons fokus in die Nuwejaar kan wees.

Kolossense 3:12-17

12Heiliges en geliefdes, as uitverkorenes van God, beklee julle dan met innerlike empatie, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid, geduld

13terwyl julle mekaar verdra en mekaar vergewe as iemand teen ’n ander ’n klag mag hê; net soos die Here julle vergewe het, net so moet julle ook.

14Beklee julle bo al hierdie dinge met die liefde, wat die band van die volmaaktheid is.

15Laat die vrede van Christus in julle harte heers, waarvoor julle ook in een liggaam geroep is; en wees dankbaar.

16Laat die woord van Christus ryklik in julle woon, deurdat julle in alle wysheid leer en mekaar teregwys, terwyl julle psalms, lofliedere, geestelike liedere met dank in julle harte vir God sing.

17Alles wat julle ook al mag doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God, die Vader, deur Hom dank. (ASV)

Gebed

Skriflesing en prediking

Psalm 148

1Prys die Here!

Prys die Here vanuit die hemele, prys Hom in die hoë hemel!

2Prys Hom, alle engele, prys Hom, alle hemelwesens!

3Prys Hom, son en maan, prys Hom, alle sterre!

4Prys Hom, hoogste hemele, en waters in die hoë hemelruim!

5Laat hulle die Naam van die Here prys,

want Hy het beveel en hulle is geskep;

6Hy het hulle vir altyd hulle vaste plek gegee,

vir hulle ‘n orde neergelê waarbuite hulle nie kan beweeg nie.

7Prys die Here van die aarde af,

seediere en al die oseane, 8weerlig en hael, sneeu en miswolke,

stormwind wat sy opdrag gehoorsaam, 9berge, al die heuwels,

vrugtebome, al die seders, 10wilde diere, al die vee,

al wat kruip of vlieg, 11konings van die aarde, alle volke,

vorste, alle regeerders van die aarde,

12jong manne en meisies, grysaards saam met seuns!

13Laat hulle die Naam van die Here prys,

want sý Naam alleen is hoog verhewe,

sy majesteit strek oor die aarde en oor die hemel.

14Hy het aan sy volk mag gegee.

Dit is die roem van al sy troue dienaars,

die Israeliete, die volk naby wie Hy is.

Prys die Here!

Vyf Halleluja-lofliedere

Psalm 146-150 sluit die vyfde Psalmboek, trouens die hele boek van die Psalms, af met vyf Halleluja-lofliedere. Dit is wonderlike liedere wat die Here loof vir sy karakter, sy versorging, sy betroubaarheid, sy goedgesindheid en sy grootheid.

  • Psalm 146 raai die geloofsgemeenskap aan om op die Here te vertrou, nie op mense nie. Die redes vir ons lof lê in God se kongruente karakter.  Jy kan staatmaak daarop dat Hy is wie Hy is, en doen soos Hy Hom in die Skepping en die lewe openbaar. Trouens, daar is tien beskrywings van God se karakter in vers 6-9 wat soos die Tien Gebooie van God se karakter funksioneer, dinge wat jy op ‘n kaartjie kan neerskryf om jou daagliks te herinner aan wie God is.
  • Psalm 147 raai die geloofsgemeenskap ook aan op die Here te vertrou, maar begrond dit in God se vreugdevolle versorging wat Hy ten toon stel in die natuur sowel as in die geskiedenis van sy mense: ”Die Here vind vreugde in hulle wat vir Hom ontsag het.” Dit is immers wat jy ook sal kan sê as jy na die jaar terugkyk. God se vreugde breek deur waar jy in ontsag vir Hom groei.
  • Psalm 148 brei die oproep tot lof uit tot die hele heelal – skepsels en skeppings. Die redes vir die lof lê in God se betroubare bevestiging van alles wat leef. Daarvan sal jy ook kan getuig as jy na die jaar terugkyk. En ons gaan ‘n bietjie dieper daarop ingaan.
  • Psalm 149 roep die geloofsgemeenskap op om God te loof in hulle byeenkomste. Die redes vir die lof lê in God se goedgesindheid teenoor sy getroue volgelinge.
  • Psalm 150 roep alles wat asem het op om God te loof: “na die omvang van sy grootheid.”

God is dus kongruent in sy karakter, vreugdevol in sy versorging, betroubaar in sy bevestiging, goedgesind teenoor sy getroue volgelinge, en onpeilbaar groot in sy omvang.

Aspekte van God waarop jy kan staatmaak. Eienskappe van God waarop jy jou lewe kan bou. Jy kan hier meer lees daaroor:

Dit is na alles waaroor dit gaan in die geestelike lewe. Oor God en oor wat Hy doen. Alles hang van Hom af en vind hulle sin en betekenis in Hom.

En dit is die dinge waarvoor jy die Here kan loof. Dinge wat jy ook van God kan verwag in die jaar wat gaan kom. Dat Hy kongruent sal optree. Dat Hy sal sorg. Dat Hy jou sal bevestig. Dat Hy goedgesind sal wees teenoor jou. Dat Hy sy grootheid in jou lewe sal wys.

Kom ons kyk ‘n bietjie nader na Psalm 148 waarmee ons dan die jaar afsluit.

Psalm 148 roep die hele heelal op tot lofprysing

Psalm 148 brei die oproep tot lof van Psalm 146 en 147 uit na die hele heelal. In die twee helftes van die Psalm word almal in die hemel opgeroep om die Here te prys sowel as almal op die aarde. Skepsels en skeppings, persone en produkte, alles moet die Here loof.

Lof uit die hemel

Dié lof word in die eerste plek gevra – vers 1-6 – van alles wat in die hemel gemaak is.  Dit sluit die skepsels in: engele en hemelse magte, alle hemelwesens. Dit sluit ook die skeppings in: son, maan, sterre, selfs die water wat uit die hemelkoepel op die aarde reën verskaf.

Hoekom?

Die Psalmis gee drie redes waarom alles in die hemel God moet loof:

  1. God het hulle gemaak. Vers 5b: “Want Hy het beveel en hulle is geskep.” Hy is die oorsaak en oorsprong van alles. Van alles wat bestaan. Skepsels en skeppings. Regdeur die heelal.
  2. God het hulle vir altyd gevestig. Vers 6a: “Hy het hulle vir altyd hulle vaste plek gegee.” Hy het bepaal wie hulle is, wat hulle doen, wat hulle doel sou wees. Sy ewige vastigheid gee aan hulle hulle stabiliteit, hulle permanensie.
  3. God het ‘n vaste orde bepaal wat sal duur solank daar tyd is. Vers 6b: “vir hulle ‘n orde neergelê waarbuite hulle nie kan beweeg nie.” Dit sal nie verby gaan nie, sê die Hebreeuse teks. Die sterre en die planete sal nie uit hulle bane gaan tot die Here die nuwe hemel en aarde geskep het nie. Dieselfde geld die hemelwesens. Hulle kan net in ‘n regte verhouding met God wees solank hulle binne die orde beweeg wat God neergelê het.

Alles in die hemel moet die Here dus loof, omdat hulle sy maaksels is. Hy het hulle vir altyd gevestig, en Hy het ‘n vaste orde bepaal waarbuite hulle nie kan beweeg nie. Alles is op sy plek, want God het hulle daar geplaas.

Soos die Psalmis in vers 5 sê, hulle moet sy Naam prys, sy reputasie, dít waarvoor Hy staan.

Lof vanaf die aarde

Dié lof word in die tweede plek gevra – vers 7-14 – van alles wat op die aarde gemaak is.

Dit sluit die skepsels in – beide die diere as die mense. Dit is diere soos die seemonsters, die wilde diere, die vee, die kruipende diere, en die voëls. Dit is ook die mense soos die konings, aanvoerders, regeerders, al die volke, jongmense en oumense.

Dit sluit ook die skeppings in: dinge soos vuur, hael, sneeu, newels (miswolke), stormwind, berge, heuwels, vrugtebome, seders, en selfs die diep waters (oseane).

Wat ‘n mens natuurlik onmiddellik laat besef dat die voorsiening vir die ekologie deel van die taak van die mens is, om te bewoon, te bewerk en te bewaar, soos Genesis 1-2 dit uitspel. Ons moet ons deel doen vir die skepping, sodat daar as’t ware ‘n loflied kan opklink selfs van daardie deel van die skepping.

Hoekom?

Die Psalmdigter gee drie redes waarom alles op die aarde God moet loof:

  1. God se Naam alleen is hoog verheweVers 13b: “want sý Naam alleen is hoog verhewe.” Hy is die enigste Een wat die moeite werd is om te aanbid. Hy moet vir sy Naam, sy reputasie, sy woorde en werke geloof word. Hy het Homself oor en oor bewys. Hy alleen is lof waardig.
  2. God se luisterrykheidstrek oor die hele aarde en hemel. Vers 13c: “sy majesteit strek oor die aarde en oor die hemel.” Elke deel van die skepping roep dit uit dat Hy daar is. In die skoonheid daarvan sowel as in die sorg waarmee dit gemaak is. Soos Paulus lank hierna sou skrywe: “Want sy onsienlike dinge word van die skepping van die wêreld af in dit wat gemaak is, begryp en raakgesien, sowel sy ewige mag as sy goddelikheid.” (Rom 1:20).
  3. Maar die belangrikste rede is hier plaaslik, in die gemeenskap wat God vir Homself vergader, in sy mense, sy volk, sy gemeente. God het sy volk sterkgemaak, sê die Psalmis, as getuienis aan almal wat oë het om te sien, ore om te luister. Vers 14: “Hy het aan sy volk mag gegee.” Dit bedoel doodgewoon, Hy het Homself, sy magtige wese, aan hulle gegee. Geen wonder die Psalmis roep dit uit: “Dit is die roem van al sy troue dienaars, die Israeliete, die volk naby wie Hy is.” God wys dus sy mag in dié wat: “na aan Hom is“. Sy mag is hulle roem, almal wat aan Hom getrou lewe, wat naby aan Hom is.

Die hele skepping het dus hulle bestaan aan God te danke. Daar is niks uitgesluit wat nie God as Skepper moet loof nie.  Die hele skepping is vir hulle voortgaande bestaan van God afhanklik. Daar is niks uitgesluit wat nie God se betroubaarheid nodig het nie.

Lof van jou

Daarom moet die hele skepping God loof.  Dit is die bepaalde bestemming van alles wat leef en beef, veral van dié wat “na aan Hom is“.  Halleluja!

Die oproep tot lof kom dus ook aan jou adres. Jy kan staatmaak daarop dat God Hy kongruent sal optree teenoor jou. Dat Hy sal sorg vir jou. Dat Hy jou sal bevestig. Dat Hy goedgesind sal wees teenoor jou. Dat Hy sy grootheid in jou lewe sal wys.

Ons sê tot siens vir ‘n Oujaar. Ons sê welkom vir ‘n Nuwejaar. God is die grond van ons bestaan. Sy mag word in ons midde ten toon gestel. Daarop kan ons reken. Vir 2019. Vir altyd.

Daarvoor kan jy en moet jy die Here loof.

Gebed

Dankoffer

Slotlied

Lied 367 Ere aan God, ere aan God, in die hoogste, in die hoogste, in die hoogste!– staan

Seënbede

Amen

Respons

Lied 367 (laaste ses reëls) Ere aan God, ere aan God, in die hoogste, in die hoogste, in die hoogste! Vrede op aarde, vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae. Amen. Amen– staan

     

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Rethie van Niekerk

    |

    Hallo Marita. Ai, jammer dat jy moes sukkel! Ons het wel toilette vir gestremdes, met o.a. ‘n handvatsel teen die muur. Dankie dat jy ons daarvan bewus maak dat dié toilette nie duidelik gemerk is nie! Ons sal plan maak!

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Marita. Dit is ‘n goeie idee. Ons sal aandag gee. Dankie!

  • Avatar

    Marita Kotze

    |

    Ek is bejaard, nie heeltemal rolstoel gebonde nie, maar sukkel om van ‘n lae toilet af op te staan. Ek het Dinsdagaand se pragtige musiek konsert baie geniet, maar moes hulp vra om van sie toilet af op te kom. Tuis kan ek op die bad se rand druk om op te staan. Dit het nie vir my gelyk of u maklik ‘n toilet vir gestemdes kan installer nie, maar vir mense soos ek kan ‘n handvatsel teen die muur of sels ‘n ingeboude toiletrol houer of selfs ‘n stewige houer vir gebruikte sanitere dovekies groot verleentheid bespaar. Baie dankie,
    Marita Kotze

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Fransina

    Twee mans was op die opstandingsdag van Jerusalem na die dorp Emmaus op pad, so 12 km van Jerusalem af. Hulle het met mekaar gepraat oor alles wat hulle gehoor het van die opstanding.

    Jesus kom dan self nader en loop saam met hulle. Hulle het Hom egter nie herken nie, want Jesus het dit verhoed.

    Jesus vra dan waaroor hulle praat en waarom hulle hartseer is.

    Een van hulle, Kleopas, vra dan vir Jesus hoe dit moontlik is dat Hy nie weet wat gebeur het nie. Hy vra, nou watter dinge?

    Dan antwoord hulle dat hulle praat oor die dinge van Jesus, die man van Nasaret, wat ‘n profeet was en kragtige werke en woorde voor God en die hele volk gelewer het. Die owerpriesters en owerstes het Jesus egter die doodstraf opgelê en Hom gekruisig.

    Dan praat hulle oor die hoop wat hulle gehad het dat Jesus Israel sou verlos, maar nou is dit al die derde dag, en hulle het Hom nie gesien nie. Net gehoor dat ‘n paar vroue nie sy liggaam by die graf kon kry nie, en toe by engele gehoor het dat Hy lewe.

    Van die mans het gaan seker maak dat dit so is – Petrus en Johannes – en agter gekom dat die graf leeg was, maar vir Jesus het hulle nie gesien nie.

    Dan berispe Jesus hulle omdat hulle so dom is, en boonop traag is om te glo wat juis die profete oor die Christus geskryf het. Jesus wys dan vir hulle uit die wet en die profete en die res van die OT dat al die dinge wat hulle vir Hom vertel, daar staan. Dat die Christus moet ly vóór Hy in die heerlikheid kan ingaan.

    As hulle by Emmaus kom teen die aand se kant, wil Jesus verder stap, maar hulle vra dat Hy by hulle oorbly en saam met hulle eet.

    Jesus neem dan die brood aan tafel en dank die Here daarvoor. Toe Hy dit breek en aan hulle uitdeel, maak Hy hulle oë oop dat hulle Hom kan herken. Met dít verdwyn Hy uit hulle gesig.

    Hulle opgewondenheid het nie perke geken nie en hulle herinner mekaar daaraan dat hulle harte al begin brand het toe Hy die Skrifte vir hulle uitgelê het.

    Hulle reis onmiddellik terug Jerusalem toe en vertel vir die elf dissipels – dit sluit dus Thomas in – en die ander wat saam met hulle bymekaar was wat met hulle gebeur het. Dié op hulle beurt vertel vir die twee van Emmaus dat Jesus – hulle noem Hom Here – waarlik opgestaan het en aan Simon, dit is Petrus, verskyn het.

    Groete

    Chris

  • Avatar

    Fransina Hashipala

    |

    Goeie dag Pastoor Chris ek wil die storie van die Emmausganger mooi verstaan kan u asb vir my net biekie inlig.