Skip to main content

Onttrek of Omhels? – Psalm 1

MUSIEK VOORAF

  1. PSALM 23 Die Here is my herder
  2. Vyf Aanbiddingsliedere

Verwelkoming

Toetrede

Vonkk 58 Ons vind ons krag in die Here 2x (sit)

Dit sluit aan by ons tema uit Psalm 1 (Jer 17:7)

Votum en Seëngroet

Lof

Ps 23:1-3 (Spies) Die Here is my herder en bewaarder (staan)

Gebed

Skriflesing en prediking

Radikale selfliefde

Ons beleef vandag groot uitdagings vanuit die heersende kultuur. Dink maar aan die identiteitspolitiek wat die openbare debat struktureer. En die hart daarvan is dat die Weste gekies het vir ‘n radikale self-liefde. Daar is nie ‘n groter prioriteit of plig as selfvervulling nie.

So skryf Carl Trueman in sy beoordeling van die Westerse samelewing (Self-love and the subversion of the family). Hy haal die  beroemde Engelse sangeres Adele aan wat onlangs ‘n onderhoud gegee het oor die rede vir haar eie egskeiding en die impak daarvan op haar seun. En sy het dit baie reguit en baie eerlik gedoen:

“I voluntarily chose to dismantle his entire life in the pursuit of my own happiness.”

Sy het gekies om die hele lewe van haar seun af te breek in die soeke na haar eie geluk. Sy sê vir haar kind in een van die nuwe liedere, Easy on me, op haar album 30:

I changed who I was to put you both first (sy praat van haar man en seun)

But now I give up

Go easy on me, baby

Selfvervulling eerder as selfopoffering. Dit is wat die heersende kultuur ons leer.

Nou, ek wil nie fokus op Adele nie. Sy is maar net ‘n tipiese voorbeeld van watter waardes die Westerse samelewing op prys stel. Ek wil fokus op hoe ons die aanslag op ons eie waardestelsel moet hanteer.

Eers iets oor die versoekings op ons pad as ons hiermee gekonfronteer word.

Onttrek of Omhels?

Die aanslag op ons waardestelsel bring twee versoekings mee vir die kerk (Carl Trueman – The Failure of Evangelical Elites). Die versoekings is:

  1. Om van die heersende kultuur te onttrek en die kultuur aan te val.
  2. Om die heersende kultuur te omhels en die onttrekkers aan te val.

Die probleem van die onttrekkers van kultuur is dat laer getrek word rondom dogmatiese en morele kwessies en die kultuur aangeval wat gelowiges isoleer van juis dié mense vir wie die evangelie bedoel is.

Die probleem lê nie in die handhawing van die dogma of etiek nie, maar in die strategie. Ons is geroep om sout te wees in die wêreld.

Die probleem van die omhelsers van kultuur is dat kompromie gemaak word rondom morele kwessies wat die boodskap van geloof verswak. Die omhelsers kryt ook veral die onttrekkers uit. Hulle gaan staan aan die kant van die kultuur en raak die vyande van die onttrekkers. Hulle val nie die kultuur aan nie, maar ander Christene. In ‘n poging om hulleself aanvaarbaar te maak vir die heersende kultuur.

Die onttrekkers van die kultuur doen nie dit soseer nie. Hulle raak nie vyande van die omhelsers nie, maar wel van die kultuur. En in hulle aanvallende houding dwarsboom hulle hulle invloed.

Wat is die oplossing?

“Faithful presence”

James Davison Hunter sê, ‘n “faithful presence”(Toward a Theology of Faithful Presence). In woord en in daad.

Getrou aan die waarheid. Met ‘n liefde vir die waarheid. Maar in hierdie wêreld. As God se kinders.

Psalm 1

1Gelukkig is die mens wat nie die raad van goddeloses volg,

nie op die pad van sondaars gaan staan

en nie in die byeenkoms van spotters sit nie,

2maar wat vreugde vind in die wet van die Here

en sy wet dag en nag mymerend prewel.

3So iemand sal wees soos ‘n boom geplant langs watervore,

wat sy vrugte op sy tyd gee

en waarvan die blare nie verdor nie.

Alles wat hy aanpak, gedy.

4So is die goddeloses nie;

inteendeel, hulle is soos kaf wat die wind wegwaai.

5Daarom sal goddeloses nie kan opstaan tydens die regspraak,

of sondaars in die byeenkoms van regverdiges nie.

6Ja, die Here dra sorg vir die pad van regverdiges,

maar die pad van goddeloses loop dood.

Geluk lê in ‘n verhouding met God en sy mense

Geluk lê nie in selfvervulling nie. Dit lê in ‘n verhouding met God wat selfverloëning impliseer.

  • Jy kan nie die raad van goddeloses volg en dink dat jy kan groei in ‘n verhouding met God nie.
  • Jy kan nie op die pad van sondaars gaan staan en dink dat jy ‘n verhouding met God kan handhaaf nie.
  • Jy kan nie in die byeenkoms van spotters sit, en dink dat jy ‘n impak in hierdie wêreld kan maak nie.

Geluk lê in die teenwoordigheid van die Here. Om jou vreugde te vind in sy woord. Om jou plek te vind in die byeenkoms van die regverdiges, dié wat deur God in Jesus Christus geregverdig is.

Dit is dan wat jy soos ‘n boom is, geplant by watervore. Dit is dan wat jy vrugte gee op sy tyd. Dit is dan wat jou blare nie verwelk nie. Dit is dan wat alles wat jy aanpak, gedy.

Jy moet jouself dus onttrek van die goddeloses, sondaars en spotters ter wille van ‘n fokus op God en sy woord saam met almal wat ware kinders van God is, die regverdiges.

Jy kan nie die goddeloses, sondaars en spotters omhels en dink dat hulle idees en lewenstyl nie sal afgee op jou nie.

Soos Paulus ook in die NT verklaar dat ons nie gemeenskap moet hou met mense wat die naam het dat hulle gelowiges is, maar nie leef volgens die boodskap van die Skrif nie (2 Tess 3:6; Tit 3:10).

Faithfully present

Maar, dan is nog nie alles gesê nie. Dan is jy nog nie volledig “faithfully present” nie.

Ons onttrek baie keer van sondaars sonder om te vermaan. Sonder om die boodskap van vergifnis te bring.

Hoe anders het Jesus nie die vrou wat in owerspel gevang is, hanteer nie. Hy het die woord van die lewe vir haar gebring:

“Ek veroordeel jou ook nie. Gaan, en moet van nou af nie meer sondig nie.” (Joh 8:11)

Hy het nie sy standaard laat sak om haar te akkommodeer nie. Hy het haar vergewe sodat sy in die regte verhouding met God kan kom en haar sonde kon agterlaat.

Hy het Homself nie van haar onttrek nie. Maar ook nie haar sonde omhels nie. Hy het haar genees, want Hy was faithfully present.

En uiteindelik gee Jesus sy lewe vir alle sondaars en betaal die prys om hulle in die regte verhouding met God te bring. Sy woorde, anders as Adele s’n, was iets soos:

“I voluntarily chose to dismantle my entire life in the pursuit of your happiness.”

Hy het alles gegee, sodat jy die lewe in Hom kan ervaar.

Die Here ken die pad van die regverdiges

Jesus sit dus hierdie vrou se voete op die pad van die regverdiges. Dié wat deur God regverdig verklaar is.

Dit sluit aan by vers 6 van Psalm 1:

6Ja, die Here dra sorg vir die pad van regverdiges,

maar die pad van goddeloses loop dood.

In die Hebreeus staan daar: “die Here ken die pad van die regverdiges”. Die NIV vertaal dit met: “the Lord watches over the way of the righteous”.

Dit is die ware geluk. Om van die lewenstyl van hierdie wêreld te onttrek. Om God se woord te omhels saam met al sy kinders. Sodat ons faithfully present kan wees en ons rol kan speel om almal wat aan God behoort, te onderrig in die Heilige Skrifte. Om aan die een kant te weerlê en tereg te wys. En aan die ander kant te onderrig en op te voed sodat ons almal God se wil kan gehoorsaam (2 Tim 3:14-17).

Dan sal ons ten volle toegerus wees vir elke goeie taak: “Faithfully present.”

Gebed

Slotlied

Lied 532:1-3 Ons Vader, neem ons hande, en maak ons één  (staan)

Seën

Respons

Lied 526  Waar daar liefde is, en deernis … daar is God die Heer (staan)

Dankoffer

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.