Skip to main content

2 Konings 11-12: Erediens – Om God te aanbid in ‘n wêreld waar geestelike strukture bouvallig raak – Son 5 September 2010

Haar troue met Joram, die koning van Juda, was bedoel om hierdie twee dinge na te jaag.  Aan die een kant kon sy met die troue die Baälgodsdiens van haar ma en pa uitbrei na die hoof geestelike sentrum van Juda, Jerusalem.  Maar aan die ander kant kon sy daarmee ‘n band te skep tussen die twee koningshuise, Agab s’n en Joram s’n, wat moontlik kon lei tot een koninkryk, onder haar pa Agab se vaandel, die sogenaamde Omri-dinastie, en later natuurlik haar eie.  Omri was haar oupa en Agab se pa, ‘n baie suksesvolle koning in die Noord-ryk.

Dinge het egter nie presies uitgewerk soos sy dit wou hê nie.  Haar pa Agab het sy kanse verspeel in Samaria.  Die Here se oordeel is oor hom voltrek, onder andere weens sy Baälaanbidding, maar ook omdat hy Nabot se wingerd vir homself toegeëien het op ‘n moorddadige manier – soos ons verlede week gehoor het.  Sy dood het gekom in ‘n oorlog, waar ‘n onbekende soldaat hom met ‘n pyl en boog doodgeskiet het.

In die onsekerheid na sy dood het Jehu, in opdrag van die Here en deur Elisa tot koning gesalf, sy kans waargeneem, die troon bestyg en om alle moontlike teenstand uit die weg te ruim, elke enkele een van Agab se nageslag in Samaria doodgemaak, 70 van hulle!  Op die koop toe het hy die Baälprofete ook laat doodmaak, sodat nie net die mag van Atalia se pa gebreek is nie, maar ook die godsdiens van Baäl in Samaria in gedrang gekom het.

In Juda het dinge beter gelyk vir haar.  Soos haar ma, Isebel, was sy ‘n stoere Baälaanbidder.  Met haar troue met Joram, die koning van Juda in Jerusalem, het sy ‘n groot invloed op hom uitgeoefen sodat ook hy Baäl begin aanbid het. En hoewel dit die toorn van die Here ook oor hom laat ontvlam het, en hy deur die Edomiete vermoor is na net 8 jaar op die troon, het Atalia daarmee skielik ‘n vry hand gehad in Jerusalem om die Baälgodsdiens te promoveer en uit te brei.

Maar dit was nie al nie.  Toe haar man Joram so vroeg oorlede is, en haar seun Ahasia net ‘n jaar na sy troonbestyging ook deur Jehu doodgemaak is (en die meeste van sy broers), het sy eenvoudig haar kans waargeneem, en probeer om op haar beurt, soos Jehu, alle ander moontlike troonopvolgers uit te wis. En so het sy die eerste en enigste koningin van Juda geword.

Heel moontlik het sy geweet, en daaroor gedroom, dat as sy die troon van Juda bestyg, sy ‘n kans sou hê om die teenstand van Jehu, wat nou die koning in Samaria was, die hoof te bied, en moontlik weer haar pa Agab se troon te verower om dan koning oor die hele Israel te wees.  Lank lewe die Omri-dinastie, sou sy moontlik vir haar self gesê het.

Hoe dit ook al sy, dat sy deur haar koningskap en deur haar godsdiens, die Baälgodsdiens, nou die mag in die belangrikste geestelike en politieke sentrum van Israel, in Jerusalam gehad het, het haar ‘n ongelooflike invloedryke en magtige persoon gemaak.  Sy was die matriarg, die koningin van die trop, en almal het vir haar gesidder.

Dit is die prentjie wat ‘n mens sien, as jy na Atalia kyk en die geskiedenis wat uit haar perspektief vir ons hier in Konings beskrywe is.

Jehoseba

Maar daar is ook ‘n ander prentjie.  Dit is die prentjie wat ons sien as ons kyk na haar dogter, Jehoseba.  In ‘n sekere sin kan ‘n mens hierdie verhaal in Konings as die verhaal van twee vrouens beskryf!  Want alles wat Joas hierna reggekry het, die herstel van die tempel en die herstel van die diens en aanbidding van die Here, kom uit die konflik tussen ma en dogter, en is die vrug van die oorwinning wat die Jahwe-godsdiens van Jehoseba oor die Baälgodsdiens van Atalia behaal het.

Wat sien ons as ons na Jehoseba kyk?

Wel ons sien dat sy en haar ma een ding in gemeen gehad het.  Hulle godsdiens, hoewel radikaal verskillend, was ‘n belangrike dryfveer in hulle lewe.  Jehoseba het die Here gedien met haar hele hart.  Trouens sy het getrou met ‘n priester, Jojada (2 Kron 22:11), en gekies vir ‘n lewe wat nie net in die aristokratiese omgewing van die koningshuis spandeer sou word nie, maar veral in die huis van die Here, die tempel.

Maar daar stop die ooreenkoms.  Die groot ander dryfveer in haar lewe was nie mag nie, maar omgee.  Sy het nie mag vir haarself nagestreef nie, maar die voortbestaan van ‘n klein eenjarige seuntjie, Joas.  Toe Atalia van moordadigheid geblaas het en in haar magsug alle nasate van Dawid probeer uitwis het, het Jehoseba ingegryp en gedoen wat sy kon om die doodslus te troef, en soos ‘n wafferse Miriam, ‘n Moses-kind, nie in die riete nie, maar in die huis van God gaan wegsteek.

Dit is eintlik ongelooflik – in ‘n sekere sin gee Jehoseba mag weg, want as sy stil sou bly en niks sou doen nie, was daar ‘n kans dat sy êrens in die lyn sou kom om self die troon te kon bestyg of ten minste ‘n kind van haar.  Maar sy kies om nie vir haarself te veg nie, maar vir ‘n ander een wat die kans sou kon hê om die troon te bestyg.

‘n Mens sien dus by haar dat haar godsdiens, haar aanbidding, haar fokus in die lewe, dié dinge wat haar gedryf het, nie om haarself gedraai het nie.  Sy wou die Here bo alles dien, en seker maak dat Sy wil in alle fasette van die lewe tot sy reg kom, ook in terme van die koningshuis, en in die beloftes wat God gegee het wat verbind was aan die huis van Dawid.  Uit sy nageslag sou immers die Koning van die hele wêreld gebore word, die Messias, die Verlosser, Jesus, die Christus.

Die aanbidding van haar God, en dit wat betekenis aan haar lewe gegee het, het dus nie om haarself gedraai nie, maar om ‘n weerlose kind, en haar God en sy beloftes.  En toe sy sien dat dié beloftes in gevaar kom met die dreigende uitwissing van die hele Dawidgeslag, het sy ingetree, en een van die kinders, die eenjarige Joas, gered en weggesteek.

En die draaiboek is daarmee eintlik vir haar geskryf.  Met die redding van die kind, is die eerste treë gegee om stukkie vir stukkie die planne bymekaar te sit om vanuit die tempel, en met die hulp van die ander gelowiges in die stad, en uiteindelik ook die gelowiges in die platteland, die koningshuis, nogal op ‘n sabbat!, weer terug te eis vir haar God, en te verseker dat die bloedlyn, wat uiteindelik op Christus uitloop, intakt gehou sou word.

Hoe mooi staan dit nie daar nie: “al die burgers van die land was bly” (11:20) en “die stad was weer rustig”.  Met die Baäldiens ’n gevoelige slag toegedien in die stadskonteks het die meer konserwatiewe platteland weer deel gevoel van die verbond, soos Jojada dit dan ook hernu het, en het ook die stadsmense tot rus gekom in hulle aanbidding van God.

En dié rol van beskerming en beveiliging van die jong Joas sou sy en haar man nog lank daarna in die lewe van hom as nuwe koning vervul.  Hulle het hom gementor en ondersteun in sy koningskap waarvan die belangrikste bydrae was die herstel van die aanbiddingsplek, die tempel, in Jerusalem.  En dit is ‘n interessante geskiedenis, wat julle gerus verder kan gaan lees in hoofstuk 12 – maar dis vir ‘n ander dag in terme van die prediking.

Wat my uitbring by die punt van dié gedeelte.

Die verhaal spreek my aan op twee maniere.

  1. Dit vra van my wat is vir my die belangrikste ding in die lewe?  Wat of wie aanbid ek?  En ..
  2. Dit vra van my waar maak ek ‘n verskil in die lewe?

Aanbidding

Ek het begin deur te sê dat die woord aanbidding nie net met godsdiens en ‘n erediens te make het nie.  Aanbidding beskryf eintlik al die dinge waarvoor ons lief is, die dinge wat ons waardeer, die dinge waarop fokus.

En die verhaal laat my die vraag vra – wat is regtig vir my die belangrikste ding in die lewe?  En let op, dit tel nie eintlik dat jy dat dit die Here is nie, as ‘n mens dit nie kan sien in jou hele lewe nie en dat jy kan sien alles wat jy doen word daardeur bepaal nie.

Wat jy aanbid, sien jy in die dinge wat jou dag bepaal, sien jy in wat dit is wat jou uit die bed kry in die oggend en wat jou aan die gang hou deur die dag.

As die aanbidding met God vir jou die belangrikste ding is, dan kan niks, MAAR NIKS, jou gemeenskap met God bedreig of in gevaar stel nie.  Gemeenskap met God is dan ononderhandelbaar.  Dit moet nagejaag word met alles wat in jou is, elke dag en elke oomblik van elke dag.

Dit is die waarde van die lewe van Brother Lawrence, die ongeletterde kok in ‘n klooster, wat met sy lewenspraktyk wat bekend geword het as Practicing the Presence of God die verbeelding van die Christelike wêreld aangegryp het.  Hy het geleer, alles wat jy doen, selfs as jy ‘n vloer vee of ‘n omelet vir iemand maak, moet eintlik vir God en in sy teenwoordigheid gedoen word.

Jy sien, ware aanbidding, as ‘n geestelike gewoonte, beteken nie in die eerste plek dat jy kerk toe kom op ‘n Sondag nie.  Dit gebeur wanneer jy God eerste plaas in jou lewe.  Dit gebeur wanneer wat God vir jou sê, deur sy Gees en sy Woord, vir jou meer beteken as wat ander sê.  Dit beteken om God hoër te ag as enigiets anders in ons lewe.

Ware aanbidding is om jou in te stel om God te ken en lief te hê op jou eie unieke manier.

Daarom die voorstel in die Joernaal om hierdie week een of meer van die volgende oefeninge te kies om jou aanbidding van God te verdiep:

  • Skryf ‘n brief (of lied) aan God om jou liefde en waardering vir Hom uit te spreek.
  • Spandeer elke oggend 10 minute om oor die goed en sleg van die vorige dag na te dink.  Vra jouself, waar het ek God ervaar in my dag?  Sê dan vir Hom dankie en aanbid Hom vir wat Hy vir jou doen.
  • Maak ‘n uur afspraak met God.  Vat ‘n stuk papier en skryf bo-aan die vraag: “Wat beteken vir my die meeste?”  Skryf jou antwoord daaronder.  Beantwoord die vraag dan uit die hoek van ander:  “Wat sal jou kinders, jou maat, jou kollegas, jou familie, jou gemeentevriende … en God dink: ‘Wat beteken vir jou die meeste?’”.  Vergelyk dan jou eie antwoorde met die van die ander.  Watter ooreenkomste en watter verskille is daar?  Wat sien jy van jouself raak deur hulle oë?  Vra dan vir jouself af: “Hoe moet ek my aanbidding verander?”

Waar maak ons ‘n verskil?

Maar die verhaal van Atalia en Jehoseba vra ook van my: Waar maak ek ‘n verskil?  Jaag ek my eie belang na – soos Atalia?  Of maak ek ‘n verskil in iemand se lewe – soos Jehoseba?

Jehoseba het God se stem gehoor in die krisis wat besig was om te ontvou. En met die redding van ‘n kind word die deur geopen vir die verdere optrede om die ware aanbidding van God te herstel en die belofte van die Messias uit die Juda-geslag vir nog ‘n geslag te waarborg.  Só word Jehoseba ‘n instrument in God se hand om sy plan vir die wêreld te verwesenlik.  Sonder haar bydrae sou ons die Verlosser van die wêreld, Jesus, nie geken het nie.

Die vraag wat dié verhaal dus aan ons stel, is:

  • Waar kan ons vandag nog ‘n verskil maak in die krisisse rondom ons, soos Jehoseba en Jojada?

En krisisse is daar genoeg – die onderwys, die hospitale, die gemeenskap, jou buurt, vriende, jou gesin en jou familie.

Laat dít jou aanbidding wees – om God te ken en met Hom bo alles die pad te stap, en om jou naaste te help op enige manier wat binne jou vermoë is.

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.