Skip to main content

Markus 10:35-45 – Volg in die voetspore van Jesus en jou lewe draai al hoe meer om diens – Son 14 Maart 2010

Jesus leer sy dissipels om te dien

Maar, en dit is belangrik, Hy weet ook dat daar mense moet wees wat sy werk sal moet voortsit. Daarom fokus Hy toenemend op hierdie pad na Jerusalem op sy dissipels en leer Hy hulle wat regtig belangrik is.

Hy het hulle eerstens geleer van God se Woord, wat dit regtig beteken en hoe ‘n mens dit moet verstaan, en tweedens hoe hierdie verstaan hulle geestelike gewoontes moet beïnvloed:

  • In Markus 2 het Hy hulle geleer oor hoe ‘n mens moet dink oor die geestelike gewoontes van die vas en die sabbat;
  • In Markus 4 het Hy gefokus op die Woord van God en hoe dit werk in mense se lewens met die bekende gelykenis van die Saad;
  • In Markus 7 het Hy met hulle gesels oor die verskil tussen die Woord se riglyne en die eiegemaakte reëls van die voorgeslagte, veral met betrekking tot die versorging van ouers.

Nou begin Hy egter fokus op hulle diensbaarheid, want dit is die volgende vlak van hulle geestelike groei: om te dien.

Jou houding teenoor besittings

En die belangrikste ding wat Hy hulle van diens moet leer, is dat alles gaan oor jou houding teenoor jouself, wie jy is, wat jy het, wat vir jou belangrik is, en in die verlengde daarvan, jou houding teenoor ander mense.

Die eerste les wat Hy hulle leer, is dat jy jou greep op jou besittings moet laat vaar

Ter illustrasie daarvan het Hy so pas in gesprek getree met die ryk jongman.  Jesus het die man liefgekry en ingenooi in sy dissipelkring, op voorwaarde dat hy ook nog afstand doen van sy besittings, soos die ander dissipels inderdaad ook gedoen het.

Dit het die jongman egter afgeskrik en bedruk laat weggaan, want hy het baie besittings gehad.  Sy besittings was vir hom te belangrik.  Hy kon nie insien dat hy goed kon doen daarmee deur dit te gebruik om ander, die armes, te dien nie.  Sy besittings was daar vir homself.  Sy besittings moes hom dien.  Hy was uiteindelik nommer een in sy eie lewe.  Sy hand was te vas geklem aan sy eie – daarom kon hy nie na die volgende vlak van geestelike groei vorder nie.

Die les het die dissipels egter al darem geleer, want hulle het immers gedoen wat die ryk jongman nie wou nie.  Hulle het alles verlaat en Jesus gevolg.

Jou houding teenoor jou eie belangrikheid

Die tweede les wat Hy hulle nou hier leer, is dat jy jou idee van jou eie belangrikheid moet laat vaar.

Die gesprek het al vroeër in Kapernaum begin waar die dissipels gestry het met mekaar oor wie van hulle die belangrikste is, waarskynlik onder andere weens die voorkeur wat die driemanskap, Petrus en die twee broers Johannes en Jakobus, die seuns van die donder, op die berg van Verheerliking gehad het.

Maar daar is meer werk nodig, want Jakobus en Johannes wil in hierdie versoek aan Jesus juis hoor wat hulle navolging van Jesus vir hulle kan beteken.

Hulle vra daarom of hulle nie in die komende koninkryk langs Jesus op sy troon kan sit nie.  Matteus het die interessante wysiging aan die vraag van Jakobus en Johannes deurdat hy dit in die mond van hulle ma plaas.  Sy kniel voor Jesus en vra Hom as ‘n guns dat hulle trone langs Jesus s’n sal wees.  Hulle is immers deel van die binnekring, sou ‘n mens namens haar wou redeneer!  Tog antwoord Jesus haar nie direk nie, maar praat direk met die twee dissipels.

Nou, om die gewig hiervan reg te kan verstaan, is daar drie dinge wat ‘n mens in ag moet neem:

1.      Hulle het alles verlaat, anders as die ryk jongman.  Toe Jesus hulle geroep het by die See van Galilea, het hulle hulle skuite en hulle besigheid net so gelos en agter Jesus aangegaan.  Hulle maak dus aanspraak op spesiale behandeling, want hulle het baie opgeoffer vir Jesus.

2.      In die tweede plek, daar was heel moontlik familie van Jesus.  Heelwat geleerdes dink dat hulle heel moontlik neefs was van Jesus.  Hulle ma, Salome, was heel waarskynlik ‘n suster van Maria, Jesus se moeder as mens Matt 27:56 en Joh 19:25 vergelyk.  Hulle maak dus waarskynlik aanspraak op spesiale behandeling weens hulle familiebande.

3.      Maar, in die derde plek, dink hulle miskien die meeste terug aan die spesiale ervaring op die Berg van Verheerliking.  Daar was hulle uitgesonder bo die ander dissipels om ‘n unieke ervaring mee te maak.  Jesus in gesprek met Elia en Moses.  Jesus wat van gedaante verander, en sy Goddelike natuur ten toon stel.  God wat met hulle praat oor Jesus en sê, dit is my geliefde Seun.  Luister na Hom.  So, dit is net natuurlik, dat hulle dink, dié ervaring kwalifiseer hulle vir spesiale behandeling in die koninkryk van God.

Nou, ons sal nie maklik kan aanspraak maak op ‘n familie verbintenis met Jesus nie.  Maar, ons kan dink dat ons spesiale behandeling verdien, as ons alles verlaat ter wille van Jesus, en as ons spesiale ervarings met Hom meemaak.

Ek weet, dat daar tye in my eie lewe was, wat daar ‘n versoeking was om te dink dat my ja sê vir die roeping van God op my lewe, en die feit dat ek ‘n lewe gekies het waar ek ook alles moes verlaat, en ‘n paar besondere ervarings, my laat kwalifiseer het vir spesiale behandeling.

Vandag dink ek daaroor heel anders – wanneer God jou uitsonder, is dit om eer aan Homself te bring, en neem die verantwoordelikheid toe om Hom te dien.  Dit neem nie af nie, of skeld jou kwyt van die nog meer nougesette pad van dissipelskap wat ‘n mens moet volg nie.

Maar wat my tref van Jesus se antwoord aan die twee seuns van die donder, Jakobus en Johannes, is sy deernis met hulle.  “Julle weet nie wat julle vra nie.” Kan julle die dinge doen wat Ek doen? Kan julle die lydensbeker drink wat Ek gaan drink? Kan julle die doop deurstaan waarmee Ek gedoop gaan word?  En daarmee verwys Hy na die kruis en sy dood.

En as hulle antwoord, dat hulle dit inderdaad kan doen, dan erken Jesus dit.  En die geskiedenis bewys inderdaad dat hulle getrou was hieraan:

  • Jakobus sterf volgens Handelinge 12:2 ‘n martelaarsdood aan die hand van koning Herodes, terwyl Johannes heel waarskynlik verban is na die eiland Patmos (Op 1:9).

Maar, Hy wys die behoefte aan spesiale behandeling af, deur te sê, dit berus nie by Hom om dié besluit te neem nie, maar by sy Vader.

Dit is egter ‘n bietjie te veel vir die ander dissipels.  Hulle is verontwaardig oor die twee seuns van die donder se wedywering vir bevoorregte posisies, moontlik ook omdat dit hulle in minderbevoorregte posisies sou plaas.

Jesus herhaal dan weereens sy lering dat dié wat eerste wil wees, almal se dienaar moet word, soos Hy inderdaad deur sy eie manier van lewe gewys het.

En dit is die sleutel tot ware diensbaarheid, en die volg in die voetspore van Jesus: om jouself nie hoër te ag as ander nie, om nie oor jouself as baie belangrik te dink nie, maar as een wat ander dien.

Hierna sou Jesus dié waarheid aan mekaar beklemtoon,

  • deur met ‘n donkie Jerusalem binne te ry (en nie met ‘n perd nie) – Markus 11;
  • deur te leer dat ‘n mens die keiser moet gee wat hom toekom (en nie in opstand teenoor hom kom nie) – Markus 12:13 vv;
  • deur die arm weduwee se gawe by die offerkis te prys (en nie die baie wat ryk mense gee nie) – Markus 12:41 vv;
  • deur Maria se salwing van Hom te prys (en nie toe te laat dat sy gestop word om eerder die salf vir geld te verkoop om vir die armes te gee nie) – Markus 14:3 vv;
  • en laastens deur Homself oor te gee aan die dood (eerder as om 70000 engele teen die Joodse Raad in te span met hulle veroordeling van Hom as onskuldige) – Markus 14.

Om die eerste treë van diens te begin gee

Wat nou?

Een van ons lidmate skryf in Biddend Luister die volgende oor haar begeerte om in Jesus se voetstappe te volg:

Ek sê vir Hom:

” Dis wat ek wil doen. Ek wil U volg en gaan waar U gaan. Neem my saam.”

En ek ervaar Hy sê vir my :

“Ek loop nie altyd op lekker en mooi plekke nie.

Ek loop tussen die Palestyne en hulle selfmoordbomme, ek sit tussen die vroue in Afganistan wat bedel agter hulle sluiers.

Ek loop in die vlugtelingkampe in Darfour waar daar nie eers joernaliste of hulpwerkers toegelaat word nie.

Ek loop in die stink gange van die tronke in Mauritanië en Viëtnam, in die sjebeens van Soweto, tussen die prostitute in PE-Sentraal, en die shacks van Rooi Lokasie en Walmer Township…”

En skielik voel dit so moeilik om Hom te volg. Ek sit dan so lekker hier in my huis, en dis so heerlik om stiltetyd te hou met die Bybel op my skoot, en ek sit gemaklik op die bank en kyk uit oor die tuin met die voëltjies, en dis so lekker om Jesus as my vriend te hê …

Wat beteken dit REGTIG om Jesus te volg? Is mens nie geneig om te bly by die lekker en gemaklike nie?

Hier kom die skrifgedeelte van Markus dan in van hierdie week …

“… die Seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien.”

My gedagtes gaan dan na plekke waar ons / die gemeente kan dien (of reeds dien).

Ek dink aan Tandusana, of Hellenvale se sopkombuis, of die bosslapers, of Vistarus, die tronk ens … Ek weet van al hierdie plekke, maar was nog nooit daar nie, en weet ook nie presies wat daar aangaan nie, ek het net so ‘n halwe idee hoe dit daar is en watse behoeftes daar is.

Moet mens nie trips reël na sulke plekke toe en ry mense van die gemeente aan wat belang stel sodat ons kan gaan kyk. Dalk spreek die Here iemand aan om daar betrokke te raak, of gereeld te bid vir die plek. Amper soos die toere waarop die Nederlanders gegaan het. Ons het ook so iets nodig.

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.