2 Tessalonisense 1:6-12 – van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het

Paulus skryf sy twee briewe aan Tessalonika (Salonika in Griekeland) in 50-51 n.C., ongeveer 16 jaar na sy dramatiese bekering op die pad na Damaskus.  Hy het die gemeente gestig tydens sy tweede sendingreis saam met Silas en Timoteus.  Interessant genoeg het die stad later bekend gestaan as die “Ortodokse Stad” weens hulle standvastigheid en evangelisering van ander nasies.  Paulus het dus goeie werk daar gedoen!

Paulus werk op dié stadium in Korinte waar hy 18 maande sou bly en nie net in die gemeente daar leiding sou neem nie, maar met sy briewe begin om al die gemeentes wat hy gestig het, te bemoedig in die geloof.

Die gelowiges in Tessalonika was onder groot druk van veral die Jode, later natuurlik ook van die Romeinse owerhede.  Paulus wou hulle help om te groei te midde van die vervolging.  Daarom bevestig Paulus hulle in hulle geloofservaring en spits hy hom toe op lering oor die kernsake van die geloof sowel as op die praktiese vrae wat hulle vra.  Hy wou hulle help om heilig en verantwoordelik te lewe in die gemeente sowel as in die gemeenskap.

Dwarsdeur die twee briewe is daar ’n duidelike klem op die wederkoms, sodat hulle soms Paulus se eskatologiese of eindtyd briewe genoem word (ta eschata = die laaste dinge). Die rede daarvoor is dat Paulus oortuig was dat jy jou hele lewe moet beskou in die lig van die wederkoms; dat jy moet leer om te leef, te dink, te praat en te werk in die verwagting van die Here wat kom.

Port Elizabeth-Oos Gemeente

Erediens 16 Julie 2017

Teks: 2 Tessalonisense 1:6-12

“Ek glo in Jesus Christus wat sit aan die regterhand van die Vader … van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.”

(Apostoliese Geloofsbelydenis artikel 7)

Toetrede

Vonkk 70 Abba, Vader, Skepper van die heelal – sit

Votum en Seëngroet

Matteus 11:28-30

28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”

Lofsang

Lied 475 Allerhoogste Hemelvader, lofgesange prys u Naam – staan

Lied 258 Vreugdevolle tyding, bron van hartverblyding – evangeliewoord! – staan

Wet

Romeine 7:15-23

15Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. 16Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is.

17Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. 20En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.

21So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. 22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.

Skuldbelydenis

Lied 332:1,3 God se liefde, so oneindig, sien die nood van sondaars raak – sit

Genadeverkondiging

Romeine 7:24-25a

24Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? 25Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.

Geloofsbelydenis

Lied 453 Aan die Vader dank en ere, laat ons saam sy lof besing – sit

Gebed

Skriflesing

Paulus skryf sy twee briewe aan Tessalonika (Salonika in Griekeland) in 50-51 n.C., ongeveer 16 jaar na sy dramatiese bekering op die pad na Damaskus.  Hy het die gemeente gestig tydens sy tweede sendingreis saam met Silas en Timoteus.  Interessant genoeg het die stad later bekend gestaan as die “Ortodokse Stad” weens hulle standvastigheid en evangelisering van ander nasies.  Paulus het dus goeie werk daar gedoen!

Paulus werk op dié stadium in Korinte waar hy 18 maande sou bly en nie net in die gemeente daar leiding sou neem nie, maar met sy briewe begin om al die gemeentes wat hy gestig het, te bemoedig in die geloof.

Die gelowiges in Tessalonika was onder groot druk van veral die Jode, later natuurlik ook van die Romeinse owerhede.  Paulus wou hulle help om te groei te midde van die vervolging.  Daarom bevestig Paulus hulle in hulle geloofservaring en spits hy hom toe op lering oor die kernsake van die geloof sowel as op die praktiese vrae wat hulle vra.  Hy wou hulle help om heilig en verantwoordelik te lewe in die gemeente sowel as in die gemeenskap.

Dwarsdeur die twee briewe is daar ’n duidelike klem op die wederkoms, sodat hulle soms Paulus se eskatologiese of eindtyd briewe genoem word (ta eschata = die laaste dinge). Die rede daarvoor is dat Paulus oortuig was dat jy jou hele lewe moet beskou in die lig van die wederkoms; dat jy moet leer om te leef, te dink, te praat en te werk in die verwagting van die Here wat kom.

2 Tessalonisense 1:6-12

6God is inderdaad regverdig: Hy sal julle verdrukkers met verdrukking terugbetaal. 7Hy sal rus gee aan julle wat verdruk word – en ook aan ons. Dit sal gebeur wanneer die Here Jesus met sy magtige engele vanuit die hemel verskyn. 8In ’n vlammende vuur sal Hy die mense straf wat God nie ken nie; dit is húlle wat hulle nie gesteur het aan die Goeie Nuus van ons Here Jesus nie. 9Hulle sal met ewige vernietiging gestraf word, weg van die Here se teenwoordigheid en sy heerlike mag af. 10Op daardie dag kom Hy om verheerlik te word deur dié wat aan Hom behoort en om bewonder te word deur almal wat tot geloof gekom het – ook deur julle, want julle het ons getuienis geglo!  11Met dit in gedagte bid ons altyd vir julle. Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het. Mag Hy elke goeie voorneme en geloofsdaad met krag tot volkome uitvoering bring. 12So sal die Naam van ons Here Jesus verheerlik word deur wat julle doen. En júlle sal deur Hom verheerlik word op grond van die genade van ons God en die Here Jesus Christus.

God is regverdig en betroubaar

Paulus is met hierdie brief dankbaar om te hoor van die gemeente in Tessalonika dat hulle geloof en liefde sterk toeneem.  Hy gebruik in vers 3 die skaars Griekse woord huperauxano wat supergroei beteken!  Hulle geloof neem eksponensieel toe ten spyte van vervolging en lyding.

Paulus dank God daarvoor, en praat met trots daarvan in al die ander gemeentes, sê hy.  En dan bemoedig hy hulle om te volhard daarin deur na 2 eienskappe van God te verwys in die gedeelte wat ons gelees het:

  1. God se regverdigheid, wat nie sal toelaat dat die lyding wat hulle verduur ongestraf sal verbygaan nie.  Die mense wat hulle nou laat ly, sal gestraf word met die ewige vernietiging of verdoemenis.[1]  Let op hoe die “ewige” vernietiging geteken word as “weg van die Here se teenwoordigheid en sy heerlike mag” (vers 9).  Calvyn het gepraat van ’n “onsterflike dood”.
  2. God se betroubaarheid, wat nie net sal straf nie, maar ook sal sorg dat hulle daar is, in God se teenwoordigheid, om te deel in die verheerliking.  En dit is in die eerste plek God wat verheerlik sal word deur hulle standvastige geloof, maar dan natuurlik ook dat hulle deur Hom verheerlik sal word (vers 12).

Regverdig en betroubaar.  Dit is wie God is. As ons dus oor die wederkoms van die Here Jesus Christus dink, is dít die prentjie wat ons van God in gedagte moet hou.

  • God is regverdig. Hy is billik.  Hy dink aan alle kante.  Hy neem alles in ag.  Hy het nie ‘n valse stel gewigte nie.  Hy meet nie met onhaalbare standaarde nie.  Hy weet presies wie en wat ons is, want Hy het ons gemaak.
  • God is betroubaar. Hy doen wat Hy sê.  Hy gee wat Hy beloof.  Hy sal jou nooit in die steek laat nie.  Hy sal getrou bly aan sy Woord.  Hy sal getrou bly aan sy gawes.  Sy genade is onweerstaanbaar.  Sy genade sal jou laat volhard om dié wonderlike dag saam met Hom te beleef, en vir ewig in sy teenwoordigheid te leef.

God sal jou waardig maak vir jou roeping

Paulus sluit dié hoofstuk met ’n gebed dat God hulle waardig sal maak vir dié lewe waartoe Hy hulle geroep het, dat Hy hulle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome sal maak: “Mag Hy elke goeie voorneme en geloofsdaad met krag tot volkome uitvoering bring”.

Die boodskap bevredig my eie sin vir regverdigheid – lyding is nie maar toevallig of verniet nie – en gee my hoop – God sal my waardig maak vir die lewe waartoe Hy my geroep het.  Ek kan op sy regverdigheid en betroubaarheid staatmaak, in my bediening en lewe.

Dit help ons om die boodskap van die wederkoms as ‘n stuk troos en bemoediging te hoor.

Wat gebeur met ons by die wederkoms van Jesus Christus?

Die wat glo in Jesus Christus sal vir altyd lewe in God se teenwoordigheid.  Dié wat aan Hom ongehoorsaam is, sal nooit die ewige lewe ervaar nie.  Die ontsettende vonnis van veroordeling sal op die laaste oordeelsdag oor hulle voltrek word.  Hulle sal hulle eie skuld erken en verwyder word van God se teenwoordigheid om regverdiglik gestraf te word vir altyd.

Dit is die boodskap wat regdeur die NT vir ons gegee word.  Paulus het in sy briewe aan Tessalonika daaroor geskrywe, ook op ander plekke.  Johannes skryf daaroor in sy evangelie en in die Openbaring.  Petrus skryf daaroor in sy tweede brief aan die gemeentes in Turkye.

Johannes 3:35-36

Johannes skryf in sy evangelie:

35Die Vader het die Seun lief en Hy het Hom gesag oor alles gegee. 36Wie aanhou glo in die Seun, het nou reeds die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie ervaar nie, maar die oordeel van God rus op hom.

Daar is hierdie twee kante aan die evangelie.  Wie aanhou glo – en dit is waarom ons saamkom as gemeente om mekaar te bemoedig in die geloof; dit is waarom ons die geloofstryd stry, om aan te hou glo – het ons reeds die ewige lewe.  Dit kom nie net eers eendag nie.  Dit is nou al ons deel.

Maar, wie ongehoorsaam is aan die Here Jesus, dié wat nie in geloof volhard nie, dié sal nie die lewe ervaar nie, want die oordeel van God sal op hulle bly rus, vir ewig.  Dit is waarom ons so ‘n belangrike taak het teenoor ons medegelowiges om hulle aan te spoor en te bemoedig om in die geloof te bly vasstaan, as dit moeilik gaan.

Maar dit is nie net ons wat ander bemoedig nie.  God self doen dit natuurlik ook!

2 Petrus 2:9-10

Petrus skryf aan die gemeentes in die boonste deel van Turkye, Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië:

9Die Here weet dus om dié mense wat naby aan Hom leef, uit beproewing en swaarkry te red, maar om dié wat ’n verkeerde lewe lei, te straf en vir die oordeelsdag te bêre. 10Hy gaan veral húlle straf wat toegee aan die vuil begeertes van hulle natuurlike drange en wat geen respek vir gesag het nie.

God weet presies hoe om jou uit die beproewings en swaarkry wat jy beleef, te red.  Hy is regverdig en betroubaar.  Hy sal doen wat Hy beloof.

Maar, dan moet ons nie ons brood aan albei kante gebotter wil hê nie.  As jy ‘n verkeerde lewe lei, sal jy onder die straf van God kom.  As jy toegee aan die vuil begeertes van jou natuurlike drange en geen respek het vir die gesag van die Woord en vir die norme wat God vir ons neergelê het nie, sal jy nie gered word nie.

Daar is ‘n oorwinningskroon vir dié wat volhard in geloof.  En ‘n tweede dood vir dié wat God se voorskrifte vir die lewe oortree, ‘n “onsterflike dood”.

Openbaring 21:7-8

Johannes gee die Openbaring wat die Here Jesus Christus self hieroor aan hom en daarmee aan die hele kerk gegee het met hierdie woorde weer:

7Die een wat aanhou oorwin, sal hierdie dinge erf, en Ek sal vir hom God wees en hy sal vir My ’n kind wees.  8Maar vir die oneerlikes, onbetroubares, korruptes, moordenaars, persone wat seksuele sondes doen, towenaars, afgodsdienaars en al die leuenaars wag die poel wat met vuur en swael brand. Dit is die tweede dood.

Dit is bedoel om jou te bemoedig en aan te spoor om te volhard in geloof.  Dit is ook bedoel as ‘n waarskuwing dat God nie met Hom laat mors nie.  Nie nou nie.  Nooit nie.

En let maar op hoe die beskrywing van die dinge waaraan God mense sal hou met sy wet ooreenkom.  ‘n Mens hoor eggo’s van die eerste drie gebooie van die Dekaloog in die beskrywing van die “towenaars en afgodsdienaars”; die sesde gebod in die beskrywing van die “moordenaars”; die sewende gebod in die beskrywing van die “persone wat seksuele sondes doen”; die agste gebod in die beskrywing van die “oneerlikes, onbetroubares, korruptes”; die negende gebod in die beskrywing van die “leuenaars”.

Johannes se woorde is egter ‘n geweldige troos.  Soos ons in ons Gereformeerde belydenisskrifte hoor:

Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 52

52 Vraag: Hoe word jy getroos deur die wederkoms van Christus om die lewendes en die dooies te oordeel?

Antwoord: Dat ek in alle droefheid en vervolging dieselfde Persoon met gespanne verwagting as Regter uit die hemel verwag wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem het. Verder: dat Hy al sy en my vyande in die ewige verdoemenis sal werp, maar my, saam met al die uitverkorenes, na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid saamneem.

Dit is presies wat ook in een van ons ekumeniese geloofsbelydenisse staan:

Geloofsbelydenis van Athanatius 41-44

By sy koms sal alle mense, met hulle liggame, opstaan en van hulle eie werke moet rekenskap gee.  En die wat goed gedoen het, sal die ewige lewe ingaan, maar die wat sonde gedoen het, in die ewige vuur. Dit is die algemene geloof; en as iemand dit nie getrou en vas glo nie, sal hy nie salig kan word nie.

God is regverdig.  God is betroubaar.  God sal jou in jou roeping as gelowige laat vasstaan.  Só sal jy as verheerliking van Hom dien by die wederkoms van die Here Jesus Christus.  En sal jy ook saam met Hom verheerlik word, vir ewig.

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Lied 505 Jesus, U gaan voor – ons volg in u spoor – staan

Seën

Respons

Lied 505:1 se eerste en laaste twee reëls: Jesus, U gaan voor – ons volg in u spoor … U is in beheer, ons Verlosser, Heer – staan

[1] Vers 8 praat nie soseer oor twee groepe mense nie, maar oor een.  Die tweede frase: “wat hulle nie gesteur het aan die Goeie Nuus van ons Here Jesus nie” verduidelik die eerste frase: “die mense … wat God nie ken nie”.  En dit dui hier op die vervolgers van die gelowiges in Tessalonika.

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.