Skip to main content

Galasiërs 5:1,13-25 – Laat die Gees jou gedrag bepaal – Son 27 Junie 2010

Kom ons lees dit:

5 Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie.

Die Christelike vryheid

2Kyk, ek, Paulus, sê vir julle: As julle julle laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie. 3Ek sê dit weer nadruklik vir elkeen wat hom laat besny: Hy is verplig om die hele wet van Moses te onderhou. 4Julle wat van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur. 5Wat ons betref, deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting dat ons deur te glo, vrygespreek sal word. 6In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.

7Julle was so goed op pad. Wie het julle verhinder om die waarheid te bly gehoorsaam? 8Wie het julle omgepraat? Nie God nie; Hy roep julle tot gehoorsaamheid. 9’n Bietjie suurdeeg deurtrek die hele deeg. 10Ons band met die Here gee my die vertroue dat julle net so sal dink soos ek. Maar die man wat vir julle in verwarring bring, wie hy ook al mag wees, God sal hom straf.

11Wat my betref, broers, as ek nog verkondig dat ‘n mens besny moet word, waarom word ek dan nog vervolg? Dan is die kruis as struikelblok mos uit die weg geruim. 12Ek wens die mense wat dié verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman!

Die Gees van God en ons sondige natuur

13Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. 14Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 15Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.

16Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. 17Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie. 18Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.

19Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, 21afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.

22Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. 24Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

26Ons moenie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar afgunstig wees nie.

Woordverkondiging

Min woorde is vandag so gewild soos die woord vryheid.

  • Vryheid was een van die sentrale temas van die kerkhervorming. Een van Martin Luther se bekendste boeke heet “Die vryheid van ‘n Christen.”
  • Vryheid was ook een van die temas wat die moderne era gekenmerk het, onder andere in die vrymaking van slawe in die 19de eeu, en die vryheidsoorloë van Afrika in die 20ste eeu, beide hier in ons land as in die res van die koloniale state van Afrika.
  • Ons het selfs ‘n dorp in ons land met die naam Vryheid . . .

Dit is natuurlik ook ‘n woord wat in die Nuwe Testament belangrik is.  Soos Paulus hier skrywe, is vryheid iets waartoe Christene geroep is … en dit is ‘n ongelooflike kosbare iets, iets waarin ons moet vasstaan, iets wat ons moet beskerm en bewaar.

Hoekom?  Want hierdie gawe van vryheid bevat altyd die element van risiko.  Daar is voortdurend twee staatsgrepe wat ons vryheid bedreig en dit van ons wil wegneem, die staatsgreep van wettisisme en moralisme en die staatsgreep van bandeloosheid of liberalisme.

Die staatsgreep van wettisisme en moralisme

So dikwels word Christene belas met ekstra “voorwaardes” waaraan hulle moet voldoen om vir God aanvaarbaar te wees. By die gemeente van Galate was dit veral die Joodse kulturele en godsdienstige reëls wat vir die nie-Joodse gelowiges voorgehou is as die “voorwaardes” vir die Christelike lewe.  Ons hoor hiervan in Galasiërs 4:

“Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees? Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier. Ek vrees my harde werk aan julle was dalk tevergeefs” (4:9-11).

Johan Cilliers noem wettisisme en moralisme die uitwissing van God en van God se genade.  Wettisisme laai die harde juk op ons dat ons deur ons eie gehoorsaamheid God se genade moet verdien.  Wettisisme verskaf, náás Christus, ander kwalifikasies om deel van die gemeente van God te wees.

Dit kan kleredrag wees, dit kan die viering van die Sabbat op Sondag wees, dit kan kulturele gebruike wees, enigiets wat nie in die sentrum van geloof in Christus staan nie, maar waardeur ander mense ingesluit of uitgesluit word van die hart van ons gemeenskap.

Maar daar is ook ‘n tweede staatsgreep moontlik, die teenoorgestelde van wettisisme, nl bandeloosheid.

Die staatsgreep van bandeloosheid

Bandeloosheid verstaan vryheid só dat ons vry is van alle verantwoordelikheid.  Ons kan doen net wat ons wil.  Vryheid as bandeloosheid is egter ook slawerny.  Dan word ons die slawe van ons sondige begeertes.

Bandeloosheid verwoes mens se lewe omdat dit geen grense van verantwoordelikheid ken nie.  Dit is soos ‘n verwoestende vuur wat brand totdat net as oor is.  Soos Paulus sê:

19 Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20 afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, 21 afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.”

Bandeloosheid misbruik vryheid as ‘n verskoning om sonde te doen (5:13).  In plaas van om die ander te dien, verskeur, verslind en gebruik bandelose mense mekaar.  Dit vervreem ons van mekaar.  Dit is die beeld van wilde diere wat nie rus voordat die ander een heeltemal verslind is nie.

Wat is ware vryheid dan?

Ware vryheid

Paulus kwalifiseer vryheid in ons teks op drie maniere:

  • Vryheid is om mekaar in liefde te dien (5:13);
  • Vryheid is om jou steeds deur die Gees van God te laat beheers (5:16), om Hom toe te laat om jou gedrag te bepaal (5:25);
  • Vryheid is om die vrug van die Gees te dra (5:22).

Christelike vryheid is nie vryheid ván alles nie (bandeloosheid), of verslawing aan wette nie, maar vryheid tót liefdesdiens (5:13), tót beheersing deur die Gees (5:16), en tót die dra van die vrug van die Gees (5:22).

Vryheid en verantwoordelikheid gaan hand aan hand.  Vryheid kom tot sy reg in die verbintenis aan mekaar en aan God, in die liefde vir God en mekaar.

1.  Vryheid is om mekaar in liefde te dien

Op ‘n manier sê Paulus dat vryheid en die liefde een ding is, want liefde vind sy betekenis net in die verbintenis aan ‘n ander, aan ons naaste en aan God.  Nog dieper, ons kan slegs lief wees vir ons naaste as ons lief is vir God.  En ons kan net lief wees vir God as ons ons naaste nie vergeet nie.

Daarom dat Paulus op ‘n hele paar plekke, 1 Kor 13 vir een, die liefde as die diepste en hoogste werklikheid beskryf. Dit is wanneer ons in liefde ons verbind aan mekaar en aan die wêreld en aan God dat ons menswees tot sy reg kom, dat ons waarlik vry is, vry van die wettiese reëls van ‘n eng godsdienstigheid en vry van die bandeloosheid wat die moderne kultuur ons heen wil verlei.

2.  Vryheid is om deur die Gees gelei te word

Maar ons kan natuurlik net sulke liefdesdiens verrig wanneer ons ons deur die Gees van God laat lei (5:16).

Paulus teken die Heilige Gees hier as ‘n afrigter wat ons leer hoe om die Here te gehoorsaam.  Dit is die Gees wat ons loswikkel uit die staatsgrepe wat beheer van ons lewe wil oorneem, wat ons wil verkneg aan óf ons sondige begeertes óf aan wettiese reëls wat vir alle praktiese doeleindes God uit die prentjie laat verdwyn.  Die Gees maak ons vry tot diens.

Ons kan dus net vry leef as ons oorgegee is aan die Gees van God, en die Gees toelaat om ons te beheers.  Dit is ‘n doelbewuste keuse.  Vryheid in Christus is ‘n wilsbesluit om ‘n bepaalde gedragslyn te volg.  Dan kan die Gees hierdie patrone in ons lewens inoefen sodat dit ons gedrag, gevoelens en gewoontes toenemend stempel.

Om deur die Gees beheer te word, beteken dat die pad van die Gees bewandel word. Bruce skryf: “‘Walk by the Spirit’ means ‘let your conduct be directed by the Spirit’. The way of the Spirit is the way of freedom; the way of the Spirit is the way of love.” Hierdie liefde word egter nie deur iets uiterliks beheer nie. Niemand kan ons dwing om ons naaste lief te hê nie: “Such love must be generated from within-by the Spirit” (Bruce).

Dws – Laat die Gees jou gedrag bepaal.

En hoe weet ek dat ek die Gees toelaat om my gedrag te bepaal?

3.  Vryheid is om die vrug van die Gees te dra

Ek weet dit deur die vrug wat my lewe dra.  Want vryheid is om die vrug van die Gees te dra.

Wie die Gees navolg, en die Gees toelaat om ons deur die Woord te lei, beleef dat die Gees die karakter van Christus in ons lewens inweef.  Want dit is na alles wat die vrug van die Gees is, dit is die karakter van Christus.  Waar ons die Gees toelaat om ons gedrag te bepaal, kry ons deel aan die Here se liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

Geleerdes wys baie keer daarop dat daar drie groepe in die vrug van die Gees is, naamlik: 1) liefde, vreugde, en vrede; 2) geduld, vriendelikheid en goedhartigheid; 3) getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Maar soos Ebeling skryf: “The fruit of the Spirit, however, is one and indivisible. Although it is de­scribed here in three triplets, this harmonious organization is meant to symbolize perfect totality.” Dit is die “spon­taneous product of the presence of the Spirit of Christ within the heart of the Christian” (Cole).

John Stott skryf daarom tereg dat die vrug van die Gees in ons hele lewenstyl gesien word, die ontspanning wat ons beoefen, die manier waarop ons werk, die boeke wat ons lees en die vriende wat ons maak. Dit sal gesien word in die gebruik wat ons maak van die genade, die dissipline wat ons beoefen deur te bid en die Bybel te bestudeer, die gemeenskap wat ons met ander gelowiges beoefen wat ons tot liefde en goeie dade lei, deur die dag van die Here as sy dag te vier, deur gereeld saam te kom as gelowiges en in nagmaal.

4.  Vryheid is ‘n groeiende verhouding met God

Maar dit is nie iets wat op óf ‘n wettiese manier nagevolg kan word  nie óf deur ‘n laat maar gaan bandelose houding nie.  Ek kan nie ‘n deel van die vrug kies vir elke dag en probeer om lief te wees, en dan blydskap na te jaag, en dan geduld nie.  Ek kan nie van die vrug ‘n reël maak om na te volg nie.  Uiteraard kan ek ook nie niks doen nie, want dan sal my eie luste en begeertes my geestelike lewe kaap en my bandeloos laat lewe.

Wat moet ek dan doen?  Ek moet fokus op die Gees, besig wees met God self, deur sy Woord en gebed, sodat Hy my gedrag elke dag kan begin bepaal.  Vers 25 spel dit uit:  “Ons lewe deur die Gees, laat die Gees nou ons gedrag bepaal”.  In ‘n groeiende verhouding met God, lê die geheim van ‘n lewe wat bepaal word deur die Gees opgesluit.

Dirkie Smit beskryf hierdie verhouding as volg en noem dit die logika van die NT:

“gelowiges is gered, dáárom moet hulle … Geleerdes sê: die indikatief, die genade, dit wat aan ons geskenk word, kom eerste. Dit is die begin. En dit is vas en seker. Maar daarop volg dan die imperatief, die gebod, of opgawe . . . Die evangelie sê nie eers die gebod en dan die genade nie. Die evangelie sê nie doen dit, en dan sal jy gered word nie. Nee, die evangelie sê die omgekeerde: éérs die genade, maar dan óók die gebod. Eers die gawe, maar dan ook die opdrag. Eers die nuwe lewe, maar dan moet dit ook sigbaar word in die alledaagse lewe.”

Ons is vry en verantwoordelik

Dit gebeur natuurlik nie sonder stryd nie.

Dit is so, dat namate ons langer in die Gees “wandel”, in pas met die Gees kom, en ons lewe deur Hom bepaal word, word die sondige natuur meer en meer onderwerp.

Maar, soos John Stott op die voetspoor van Martin Luther sê:

“But the flesh and the Spirit remain, and the conflict between them is fierce and unremitting. Indeed, one may go further and say that this is a specifically Christian conflict. We do not deny that there is such a thing as moral conflict in non-Christian people, but we assert that it is fiercer in Christians because they possess two natures – flesh and Spirit – in irreconcilable antagonism.”

Heel dikwels is gereformeerdes bang vir die woord “keuse”, omdat ons bely dat die korrupte sondaar geen vrye wil het nie. Dit is ook goed om versigtig te wees. Tog is daar ‘n keuse wat Christene kan uitoefen.

Mense wat reeds die Gees ontvang het, moet besluit of hulle die leiding van die Gees gaan aanvaar.

Betz skryf:

“Freedom can only mean what it says if the Christian has a choice; he can allow his existence to become a base of operations for the flesh or for the Spirit. If the Christian allows the flesh to get the upper hand, the loss of his freedom is the immediate result, because this freedom is a gift of the Spirit.”

Ons moet dus kies om in die vryheid vas te staan, nie deur ons toevlug te neem tot ‘n wet nie, en ook nie om bandeloos te lewe nie.  As vry mense, neem ons verantwoordelikheid om oor grense lief te hê, met integriteit te lewe en so anders te wees as die wêreld.

Ons is vry én verantwoordelik.

 

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.