Skip to main content

Ons is God se handewerk – Efesiërs 2:1-10

Die studente gaan Dinsdagaand die fliek Overcomer kyk by die sel. Ek is gevra om iets oor die fliek te sê en ‘n tema daaruit te gebruik vir die boodskap vanaand.

Die verhaal van Overcomer speel af in Brookshire Christian School. Die afrigter, John Harrison, is baie opgewonde oor wat vir sy span die volgende seisoen in basketbal voorlê. Hulle het die eindstryd gehaal en naelskraaps verloor. Hulle behou egter die meeste van hulle spelers. Volgende jaar moet hulle jaar wees.

Dan tref ‘n tragedie die gemeenskap van Franklin. ‘n Groot fabriek maak toe. Mense verloor hulle werk en begin weg te trek. Dit laat die skool met te min spelers vir die volgende seisoen. Die skool verloor ook onderwysers. So raak John betrokke by die dramaklasse, en rig uiteindelik ook landloop af. Daar is egter net een deelnemer, Hannah Scott. ‘n Probleemkind. Met asma. Wat landloop hardloop.

Dit is kostelik hoe John sy seun Ethan probeer oorreed om saam te hardloop. Hy troef sy pa deur te sê, hy sal hardloop, as jy pa ook hardloop. Dit werk dus nie.

Dan ontmoet John vir Thomas, ‘n voormalige goeie atleet. En Thomas begin hom van landloop leer, en van die lewe, en van die Here. En ‘n mens begin leer van verhoudings, van volharding, van vergifnis, van God en sy Vaderskap.

Thomas leer hom om te begin met die vraag: “Wie is jy?”  En as jy sê jy is ‘n Christen, ‘n kind van God, wat is sy posisie in jou lewe? Watter prioriteit het God in jou lewe? Hoe belangrik is jou Christenskap vir jou? As jy sê jy gaan bid vir iemand, en jy doen dit nie, wat sê dit van jou? Is jy nie dan maar net skynheilig nie?

En dan begin die fliek baie interessant word …

Die vraag is: “Wie is jy?”

Die vraag wat Paulus in Efesiërs 2 aanspreek is presies hierdie vraag van die fliek.

Kom ons bid saam.

Die Griekse Pinksterbeweging

Paulus kom aan die einde van sy tweede sendingreis (51-52 nC) in Efese aan en bly daar vir ‘n kort rukkie. Efese was ‘n groot en belangrike stad in wat ons vandag ken as Turkye. Vandag is daar net ruïnes oor van Efese, naby die moderne stad Selçuk.

Twee jaar later op sy derde sendingreis bly hy egter vir meer as twee jaar daar (54-55 nC). Dit begin met ‘n nuwe uitstorting van die Heilige Gees (Hand 19). Hy kry ‘n groepie van twaalf gelowiges wat nog nie die Heilige Gees ontvang het nie. Nadat Paulus vir hulle gebid het, het dit ‘n kragtige uitwerking gehad nie net in Efese nie, maar regdeur daardie gebied.

Dit is asof hierdie twaalf gelowiges die begin van die Griekse Pinksterbeweging was (Hand 19:1-10), soos die twaalf apostels aanvanklik die begin van die Joodse Pinksterbeweging was (Hand 2).

Die uitstorting van die Heilige Gees was dus die katalisator vir ‘n kragtige beweging van God sodat al die inwoners van die provinsie Asië (Turkye), Jode sowel as Grieke, die woord van die Here gehoor het (Hand 19:10).

Dit is nou so ses of sewe jaar later. Paulus is in die tronk in Rome. Hy skryf ‘n brief vir hulle om hulle te bemoedig, en veral vir hulle te herinner aan wie hulle in Christus is.

Efesiërs 2:1-10

1 Julle was dood deur die oortredinge en sondes 2 waarin julle vantevore geleef het volgens die bose lewenswyse van hierdie wêreld, volgens die heerser wat mag uitoefen in die lug, dié gees wat nou aan die werk is onder die kinders van die ongehoorsaamheid. 3 Ons almal het destyds ook so opgetree toe ons die begeertes van ons sondige aard en van ons gedagtes uitgeleef het. Ook ons, soos al die ander, was toe van nature kinders van die toorn. 4-5 Maar God, ryk in barmhartigheid, het ons, toe ons dood was deur die oortredinge, op grond van sy groot liefde waarmee Hy ons liefgehad het, saam lewend gemaak in Christus — deur genade is julle verlos! 6 Ja, Hy het ons in Christus Jesus saam opgewek en saam laat sit in die hemel, 7 sodat Hy in die tye wat voorlê bewys kan lewer van die allesoortreffende rykdom van sy genade deur sy goedheid aan ons in Christus Jesus. 8 Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God. 9 Dit kom nie uit eie werke nie, sodat niemand kan roem nie. 10 Van Hom is ons immers ‘n maaksel (handewerk), geskep in Christus Jesus om goeie werke te doen en daarvolgens te leef, soos God dit voorberei het. (BDV)

“Julle was dood …”

“Julle was dood …” Dit is die beskrywing van mense wat geleef het volgens die bose lewenswyse van hierdie wêreld. Dit is die beskrywing van mense wat die heerser van hierdie wêreld dien, die gees wat nou aan die werk is in die wêreld. Dit is die beskrywing van mense wat “kinders was van die ongehoorsaamheid”.

Paulus draai dus geen doekies om oor wie die mense van Efese was nie. Hulle was vasgevang in die begeertes van hulle sondige aard. Hulle het eenvoudig die sondige aard van hulle gedagtes uitgeleef.

Maar, dit het ook beteken dat hulle kinders was van die toorn. God se toorn het op hulle gerus. Trouens, Paulus self was uiters godsdienstig, maar self ‘n kind van die toorn van God, omdat Hy nie die verlossing in Christus Jesus aanvaar het nie. Hy was ‘n vervolger van Jesus en sy dissipels tot op daardie dag op die pad na Damaskus wat Jesus hom met homself gekonfronteer het en sy lewe gered het.

Daarom kan hy sê, ons almal het destyds so opgetree, volgens ons sondige aard, volgens ons sondige gedagtes. Ons het almal het nodig gehad dat God ons verlos van ons sonde. In sy groot liefde het Hy ons lewend gemaak in Christus. Hy het ons gered van ons sondige aard. Hy het ons gered van ons sondige gedagtes. Hy het ons deur sy genade verlos, sodat ons nie langer kinders van die ongehoorsaamheid sou wees nie, maar kinders van God.

Watter vreugde dat hulle nou die vryheid van Christus kan ervaar. Skoongewas deur sy bloed. Sonder enige skuld van die sonde. Vry om God te dien in die goeie werke wat Hy vir ons voorberei het.

Maar, hoekom herinner Paulus hulle hieraan? Hoekom herinner hy hulle aan hoe hulle was – kinders van die ongehoorsaamheid, kinders van die toorn van God?

Omdat hulle telkens die gevaar geloop het om opgeslurp te word deur die kultuur van die dag. Om te vergeet dat hulle uit ‘n dodelike situasie gered is en weer verlief kan raak vir hulle sondige aard en vir hulle sondige gedagtes.

Die kinders van die ongehoorsaamheid en die kinders van God

Dit is waarom Paulus hulle herinner aan wie hulle was, en wie hulle nou in Christus is. Daar is ‘n diep kontras tussen mense wat leef volgens die waardes en beginsels van die gees van hierdie wêreld, die duiwel, en die waardes en beginsels van die Gees van God.

  • Die gees van die wêreld lei ons om ongehoorsaam aan God te wees. Om te wees soos al die ander kinders van die ongehoorsaamheid. Die Gees van God lei ons om aan sy Woord gehoorsaam te wees. Om te leef as die maaksel van God, as sy nuwe skepsels.
  • Die gees van die wêreld lei ons om net te doen waartoe ons sondige aard en ons begeertes ons lei en wat in ons gedagtes opkom. Die Gees van God lei ons om ons sondige aard te kruisig, en ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor God ons bestem het.

Daar is ook ‘n diep kontras in die uitkoms van ‘n lewe wat in ongehoorsaamheid gelewe word, en ‘n lewe wat juis in alles gehoorsaam aan God wil lewe.

  • Die toekoms van dié wat die pad van die gees van die wêreld volg, is die ewige dood. Die toekoms van dié wat die pad van die Gees van God volg, is die ewige lewe.
  • Die pad van die gees van die wêreld gee ons ‘n plek in die hel, die straf wat God gee aan dié wat aan Hom ongehoorsaam is – die kinders van die toorn. Die pad van die Gees van God gee ons ‘n plek in die hemel, die genade wat God gee aan dié wat aan Hom gehoorsaam is – die kinders van die genade.

Dit is waarom Paulus hulle herinner aan wie hulle was, en wie God hulle gemaak het, want dit is lewensbelangrik dat hulle vasstaan in die lewe van gehoorsaamheid. Dat hulle nie van koers af gaan. Dat hulle nie terugval in hulle sondige aard, hulle sondige begeertes, hulle sondige gedagtes nie.

En ons maak dié keuse nie net eenmaal nie. Ons maak dié keuse elke dag. Om óf ons begeertes en ons gedagtes te volg, soos die gees van die wêreld ons lei. Of om die Woord van die Here te gehoorsaam, soos die Gees van die Here ons lei.

Dit is die eerste deel van die boodskap vir julle. Die boodskap vir die jaar. Sonder dat jy lewend gemaak is in Christus gaan jou geestelike lewe nooit aan die gang kom nie. Sal jy nooit oorwinning oor sondige begeertes en gedagtes ervaar nie.

Ons is God se handewerk

Maar, dit is ook maar net die begin van die reis met God. Iets waaraan ons van tyd tot tyd herinner moet word, maar waarby ons nie kan stilstaan nie. Want, Hy verlos ons om in ons ‘n proses te begin van vernuwing sodat ons werklik sy handewerk, sy meesterstuk, sal word.

Dit is wat ons lees in vers 10. ’n Mens kan vers 10 ook soos volg vertaal:

“Want ons is sy meesterstuk, geskep in Christus Jesus vir uitnemende projekte, wat God voorberei het, dat ons dit sal uitvoer.”

Dit is ’n baie belangrike perspektief op die geestelike lewe. Ons doen nie maar wat ons wil, of wat een of ander geestelike leier vir ons voorsê nie. Ons hoor by God in Sy Woord en deur Sy Gees watter dinge Hy wil hê ons by betrokke moet raak – en dit is die dinge wat ons dan doen.

Dit is presies wat Jesus bedoel het, toe hy aan sy dissipels gesê het (in die verhaal van die Samaritaanse vrou by die put van Jakob): “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.” (Joh 4:34).

Dit het direkte persoonlike implikasies. God het vir my ‘n werk om te doen. God het ‘n werk vir jou om te doen. Uitnemende projekte. Dinge wat pas by ons as God se handewerk.

Ravi Zacharias sê in sy inspirerende boek The Great Weaver dat God met ons besig is soos ‘n Meesterwewer.

Ek haal aan in Engels:

Varanasi is perhaps most famous as the hub of Hinduism, since through it flows the sacred river Ganges. But it also has a deserved reputation for producing the spectacular and breathtaking saris that every bride in northern India wants to wear on her wedding day. Having attended numerous weddings while growing up in Delhi, I well recall admiring these magnificent works of art. The spectacular colors practically explode: reds that seem to be the source from which all other reds emerge; royal blues that look as though they reflect the oceans of the world; brilliant greens that appear to borrow from the finest emeralds and lend their softer side to all the well-manicured lawns of the world; and gold and silver threads that don’t just seem to be gold and silver because they are real gold and silver. All these colors get woven into patterns that one would think came from the perfect mind and the perfect pair of hands. I had always wanted to see how they were made. Who created them, and how did they do it?

Essentially, a father and son team makes each sari. The father sits on a raised platform with huge spools of brilliantly colored threads within his reach. The son sits on the floor in the lotus position (with apparent ease and comfort I can only envy —the first challenge would be to get into that position and the second to stand up afterwards). The team wears basic and simple clothing. Their fingers move nimbly, their hands never touching any softening lotion. They hunch over their work, and their eyes focus on the pattern emerging with each move of the shuttle.

Before my eyes, though it did not appear so at first, a grand design appears. The father gathers some threads in his hand, then nods, and the son moves the shuttle from one side to the other. A few more threads, another nod, and again the son responds by moving the shuttle.”

Throughout the process, the son has had a much easier task. Most likely he has often felt bored. Perhaps his back has ached or his legs have gone to sleep. Perhaps he has wished for some other calling in life —something he might find more stimulating or fulfilling. He has but one task, namely, to move the shuttle as directed by the father’s nod, hoping to learn to think like the father so that he can carry on the business at the appropriate time.

Yet the whole time, the design has remained in the mind of the father as he held the threads.

Once you begin to see God’s hand in your life, you will know that his workmanship within you and through you was tailor-made, just for you. His design for your life pulls together every thread of your existence into a magnificent work of art. Every thread matters and has a specific purpose.

Hoe pragtig! Hoe waar! Elkeen van ons. Besig met God se uitnemende projekte, as sy meesterstukke.

Ons staan aan die begin van hierdie jaar. Paulus herinner ons aan twee dinge. Ons is God se maaksel, ons is kinders van God. Ons is nie kinders van die ongehoorsaamheid nie. Ons durf nie terugval in gewoontes wat ons in ongehoorsaamheid sal laat verval nie.

Maar, dit is maar net die begin. Ons is God se maaksel, sy meesterstuk. Geskape vir die uitnemende projekte wat Hy deur ons wil uitvoer in hierdie lewe. Ons is geskep vir die goeie werke wat God deur ons wil doen.

Vind uit in sy Woord deur gebed wat dit hierdie jaar vir jou gaan inhou. En leef as God se handewerk.

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.