Vriendskap met die wêreld is vyandskap teen God – Jakobus 4

Tema: Vriendskap met die wêreld is vyandskap teen God – Jakobus 4
Reeks: Hiervan kan jy seker wees
Somerstrand 19 September 2021 Youtube en kerk 09:00

MUSIEK VOORAF

  1. Jesus bron van al my vreugde (Lied 167)
  2. In U is vreugde (Lied 492)

Verwelkoming

Toetrede

Flam 5 Daar is geen grens 2x (sit)

Votum en seëngroet

Loflied

Psalm 118:1 & 7 Kom, loof die Heer se liefdesdade (staan)

Kinderoomblik

Epiklese

Lied 253:1-2 U het die brood gebreek (sit)

Skriflesing en prediking

Inleiding

Ek kan nie ‘n tyd onthou wat daar meer konflik en onmin in die wêreld was nie. Daar is die ekonomiese stryd tussen die reuse – Amerika en China. Daar is die ideologiese stryd tussen die neo-Marxiste en die vrye mark van die kapitaliste wat die politieke speelveld bepaal. Dit speel selfs in op die gesprek oor die vaksine. Sommige wil ander dwing om ingeënt te word. Ander wil weer hulle eie keuse maak.

Daar is die godsdienstige stryd tussen die groot godsdienste wat tot grusame vervolging lei op baie plekke in die wêreld – Islam vs die Christendom, Islam vs Islam, atëisme vs enige godsdiens. Daar is die stryd om bronne tussen die Eerste en die Derde Wêreld. En die stryd om opvoeding en veral die skeiding wat die vierde industriële revolusie bring tussen mense wat toegang het tot die Internet en dié wat dit nie het nie. Dit verander die wyse waarop ons werk en leef. As jy nie vandag digitaal kan werk nie, kan jy in baie gevalle nie werk nie. Punt.

Reg oor die wêreld is daar hierdie skerp verskille en konflikte wat die kohesie en wêreldvrede bedreig. Dink maar net aan die vernederende onttrekking van Amerika uit Afghanistan wat soveel konflik veroorsaak in hulle eie land veroorsaak. ‘n Twintig jaar besetting wat waarskynlik in die eerste plek ‘n dwase besluit was. Maar, nou tot nog meer konflik gelei het weens die wyse waarop die onttrekking plaasgevind het.

‘n Mens sou darem verwag dat dit in die kerk in die breë beter sou wees. Helaas nie. Die skeidslyne tussen vrysinniges en regsinniges, tussen liberaal progressiewes en die konserwatief behoudendes word al hoe skerper getrek. Kerke kry regdeur die wêreld swaar om faksies bymekaar te hou. Die Anglikane en die Metodiste en die Presbiteriane en die Episkopale. Ook ons in die NG Kerk.

Hoekom is dit so?

Wel, ek gaan nie my eie interpretasie gee nie. Ek gaan die Woord van die Here laat spreek, want Jakobus het reeds in die eerste eeu oor konflikte en die plek waar dit vandaan kom, gereflekteer. Die konflikte vandag is immers nie nuut of uniek nie. Miskien meer intens. Miskien groter. Miskien wyer. Maar nie iets wat net in ons tyd voorkom nie.

Jakobus trek vir ons die gordyn op konflik oop soos God daarna kyk. Hy gee vir ons God se verduideliking waar die destruktiewe kragte vandaan kom wat in ‘n hele aantal van die gemeentelede van daardie tyd aan die werk was en wat in die oorloë en gevegte te siene was wat onder hulle voorkom.

Waar kom die konflik vandaan?

Die onmin en konflik kom in die eerste plek van die “begeertes wat in julle ledemate oorlog voer.” Kom ons lees daarvan:

Jakobus 4:1-10

ONMIN BINNE DIE GEMEENSKAP

41Waar kom al die oorloë en gevegte onder julle vandaan? Kom dit nie van julle begeertes, wat in julle ledemate oorlog voer nie? 2Julle begeer, maar julle besit niks nie; julle pleeg moord, en is vol jaloesie, en julle kan niks bereik nie. Julle veg en maak oorlog, en tog het julle niks, omdat julle nie bid nie. 3Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle op die verkeerde manier vra, sodat julle dit in julle wellus kan deurbring. 4Egbreeksters! Weet julle dan nie dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God beteken nie? Wie ook al ‘n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ‘n vyand van God. 5Of dink julle dat die Skrif verniet sê dat God hunker met besitlikheid na die gees wat Hy in ons laat woon het? 6Maar Hy gee groter genade – daarom sê Hy:

“God staan die hoogmoediges teen,

maar aan die nederiges gee Hy genade.”

7Onderwerp julle dus aan God. Weerstaan die Duiwel, dan sal hy van julle wegvlug. 8Nader tot God, dan sal Hy tot julle nader. Reinig julle hande, sondaars, en suiwer julle harte, dubbelhartiges! 9Weeklaag en treur en huil! Laat julle lag in droefheid verander, en julle blydskap in somberheid. 10Verneder julle voor die Here, dan sal Hy julle verhoog. (2020- vertaling)

Hedonistiese begeertes

Jakobus sê onomwonde dat die onderlinge konflik en onmin – metafories beskryf as moord – van hulle liggaamlike begeertes (hēdonē) kom. ‘n Oortreding van die tiende gebod, jy mag nie begeer nie. Die Griekse woord beskryf ‘n begeerte na fisiese plesier, baie keer seksueel, waarvan ons woord hedonisme kom. ‘n Sug na genot, soos die HAT dit stel. ‘n Toewyding aan genot.

‘n Mens kan dit bv sien in die begeerte na besittings – soos die Tien Gebooie teen waarsku – wat vererger word deurdat hulle dié wat wel iets het, met jaloesie bejeën. In plaas daarvan om die Here te vertrou vir sy voorsiening en van Hom te vra wat hulle nodig het, veg hulle met mekaar, en veroorsaak dit vyandskappe en stryd.

En hierdie konflikte het die Here Jesus self al in die Bergrede afgekeur, want as jy bv kwaad raak vir jou broer, en hom allerhande dinge toevoeg, dan pleeg jy eintlik (karakter)moord (Matt 5:21-22). Ook die apostel Johannes het haat gelykgestel aan moord (1 Joh 3:15). Haat is daarom ‘n oortreding van die sesde gebod, jy mag nie moord pleeg nie.

Die oplossing lê in gebed

Die oplossing, sê Jakobus, lê in gebed. Hulle moet hulle begeertes aan die Here gee, van Hom vra, by Hom aanklop, by Hom soek om bevrediging. Dit is wanneer hulle regtig fokus op hulle gebedsverhouding met Hom wat hierdie begeertes binne sy wil aandag kan kry.

Wanneer hulle nie van Hom vra nie, tree hulle eintlik as vreemdelinge teenoor God op – soos egbrekers – terwyl hulle vriende kan wees! Die feit dat hulle hierdie konflikte in hulleself beleef, en aan die veg gaan met ander gelowiges rondom hulle, moet hulle bedroef maak en laat huil – nie om moed op te gee nie, maar om hulle verhouding met God reg te stel. Hulle moet as vriende van God leef, tot Hom nader, met Hom gemeenskap beoefen. Dan sal Hy vir hulle die begeertes gee van hulle hart (Ps 37:4-5).

Jakobus skryf hier veral oor gefrustreerde begeertes, dws begeertes wat nie bevredig word nie. Die gemors daarmee is dat dit altyd tot geweld lei. Passiewe aggressie sowel as aktiewe aggressie, selfs soms letterlik moord.

Vertrou God vir sy voorsiening

Die oplossing vir gefrustreerde begeertes is nie om te gryp na die bevrediging van jou behoeftes nie. Die oplossing is nie om jou wil op ander af te dwing om te kry wat jy wil hê nie. Nee, die oplossing is om te bid, om van God te vra, en Hom te vertrou om vir jou te voorsien.

Soos Paulus oor dieselfde saak geskryf het:

“Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle versoeke aan God bekend deur te bid, te smeek en Hom te dank. En die vrede van God wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.” (Fil 4:5-7).

Hierdie gebed sluit in dat hulle die duiwel sal weerstaan, in terme van die versoeking waarvoor hulle eie begeertes hulle stel, soos in die Ons Vader verwoord:

“bring ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose” (Matt 6:13).

Dit sluit ook in dat hulleself aan God verbind in dade – “reinig die hande” – en gedagtes – “suiwer julle harte”, soos Jakobus hier skryf (vers 8).

Hoekom is dit so belangrik?

Jakobus vat ons terug na die begin van die skepping van die mens. Die rede hoekom God dit van ons vra, is omdat:

“God hunker met besitlikheid (jaloersheid) na die gees wat Hy in ons laat woon het.”

Jakobus verwys hier na ‘n redelike algemene Skrifbeginsel, eerder as na ‘n direkte aanhaling (vgl. Eks. 34:24; Sag. 8:2). Maar Genesis 2:4-7 kan moontlik die agtergrond wees vir hierdie uitspraak:

“Die dag toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het … het die Here God die mens met stof uit die grond gevorm, en in sy neus die asem van lewe geblaas. So het die mens ‘n lewende wese geword.

God het sy lewensasem in die mens ingeblaas en hom so ‘n lewende wese gemaak (vgl Gen 6:17; 7:22). God is dus jaloers op die deel van Homself wat ons wesens maak wat in gesprek met Hom kan tree.

Vriendskap met die wêreld is vyandskap teen God

Daarom wil God ons vriend wees, nie ons vyand nie, want Hy hunker daarna om met ons in die tipe verhouding te wees wat ons met Hom in die paradys gehad het. Ons kan dus daarop staatmaak dat God ons vriend wil wees.

En Hy kan nooit vrede maak met iemand wat ‘n vriend van die wêreld wil wees nie. Want vriendskap met die wêreld is vyandskap teen God. As jy jou waardes laat bepaal deur iets anders as die Woord, en veral as jy dit laat bepaal deur jou eie liggaamlike begeertes, dan verwerp jy God se openbaring aan jou. En dit maak jou ‘n vyand van God.

God se genade maak ons skoon van sondige begeertes

Maar, let op in vers 10 dat Jakobus hier eintlik verkondig dat God se genade groter is as ons sondigheid. Hy soek net by ons ‘n nederige afhanklikheid sodat sy genade ons kan skoonmaak van ons sondige begeertes. Dat ons vanuit die vriendskap aan die wêreld geruk kan word na vriendskap met Hom.

Daardie onderwerping aan God is die kragpunt in ons lewe wat die Duiwel laat wegvlug. Dit is nie ons wat die Duiwel op die vlug laat slaan nie. Dit is God self. Maar, dan moet ons Hom die plek gee wat Hy nodig het om sy werk te kan doen.

Nader tot God, en Hy sal tot jou nader

Ons moet tot God nader, sodat Hy tot ons kan nader. Dit is ‘n beeld wat kom uit die offerkultus. Soos die offerdiere na die altaar gebring is om versoening te doen vir die gelowiges se sonde, só moet die gelowiges nou die Here nader op grond van die bloed van die Here Jesus Christus wat vir hulle sonde gestort is.

Sodat al die onreinheid van ons hande, al die onsuiwerheid in ons harte, van ons en uit ons gewas kan word deur die bloed van die Lam en ons in ‘n heilige en onberispelike verhouding met Hom kan wandel.

Soos Jesaja eeue terug gesê het:

“Was julle! Reinig julle! Verwyder julle bose dade voor my oë! Hou op om kwaad te doen!” (Jes 1:16)

Dws, moenie voor My verskyn as julle verkeerde dinge doen nie. Laat dit staan. Laat Ek julle van binne en buite skoonmaak.

Maar, dit is nie al nie. Daar is nog ‘n rede waarom ons in konflik met mekaar is. Jakobus skryf. Ons het nie genoeg respek vir mekaar nie:

Jakobus 4:11-12

RESPEK VIR MEKAAR

11Moenie van mekaar kwaadpraat nie, broers. Wie kwaadpraat van sy broer, of oor sy broer oordeel, praat ook kwaad van die wet en oordeel die wet. As jy die wet oordeel, is jy nie ‘n doener van die wet nie, maar ‘n regter. 12Daar is net een Wetgewer en Regter – Hy wat in staat is om te verlos en te vernietig. Maar jy, wie is jy om jou naaste te oordeel? (2020-vertaling)

Moenie God speel nie

Jakobus waarsku ons dat die oorloë onder ons kom van die feit dat ons mekaar nie genoeg respekteer nie. Veral as ons valse stories oor mekaar versprei en van mekaar kwaadpraat. Want, dan raak ons soos regters wat ‘n oordeel uitspreek oor mekaar. Ons begin om God te speel in ander se lewens. Ons maak ons eie reëls – anders as wat in die Bybel staan – en veroordeel mense op grond van ons eie reëls.

Jakobus sê hier dat wie van sy broer kwaadpraat of oor sy broer oordeel, ook kwaad praat van die wet en die wet oordeel. En dan is jy nie meer ‘n doener van die wet nie. Jy is ‘n regter wat jou as God aanstel in die lewe van jou broer.

Van watter wet praat Jakobus?

Hy praat in die konteks van sy  brief van die “wet van die koninkryk” (Jak 2:8). Hierdie wet van die koninkryk begrond Jakobus in beide die OT Skrif en Jesus se uitleg in die NT:

“As julle wel die koninklike wet vervul, volgens die Skrif, “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” doen julle goed.”

Jakobus verbind die wet dus met wat Jesus geleer het – in sy gesprekke met die skrifkenners – sowel as wat die Skrif, die OT, in die Tien Gebooie geleer het. Jakobus illustreer sy interpretasie in vers 9-13 met verwysings na die sesde en sewende gebod – jy mag nie moord pleeg nie, en jy mag nie egbreuk pleeg nie.

So, wanneer jy kwaadpraat van iemand tree jy op ‘n wyse op wat jou ‘n oortreder van die wet maak, die wet van die koninkryk wat vir Israel gegeld het, sowel as vir die kerk van die NT. Trouens, jy verset jou teen God wat die wet gegee het, en maak asof jy self kan bepaal wat reg en verkeerd is.

Daar is net een Wetgewer en Regter

Daar is net een Wetgewer. Dit is God. Daar is net een Regter. Dit is God. Hy is die enigste wat kan verlos. Hy is ook die enigste wat kan vernietig. Ons het nie daardie voorreg nie.

Daarom, moenie jou broer of suster oordeel nie – jy kan, trouens moet, teregwys, vermaan, aanmoedig, op grond van God se wet, sy woord in die Bybel, maar nie oordeel nie. Dit is God se voorreg.

Dit alles lei ons tot die oplossing, om as vriend van God te leef.

Jakobus 4:13-17

AFHANKLIKHEID VAN GOD

13Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na hierdie of daardie stad gaan, en ‘n jaar daar deurbring, en handel dryf en wins maak.” 14Julle weet nie eers wat môre gaan gebeur nie. Hoe is julle lewe dan? Dit is maar ‘n miswolkie, wat net vir ‘n kort rukkie verskyn en dan weer verdwyn. 15Julle moet eerder sê: “As die Here wil en ons nog leef, sal ons dit of dat doen.” 16Maar nou spog julle oor julle hoogmoedige optrede. Sulke gespog is verkeerd. 17As iemand weet om die goeie te doen en dit nie doen nie, is dit vir hom sonde. (2020-vertaling)

Leef as vriend van God

Die somtotaal van sy boodskap aan hulle is dat hulle in afhanklikheid van God moet leef. Dit moet so wees in terme van hulle beplanning van hulle werkslewe. Dit geld ook in terme van hulle omgee vir ander. Vers 17:

“As iemand weet om die goeie te doen en dit nie doen nie, is dit vir hom sonde.”

God seën ons immers om tot ‘n seën te wees.

Ek sluit af.

Om ‘n vriend van God te wees, is die grootste geskenk wat ‘n mens kan kry. Dít is immers waarom Hy sy Gees in ons laat bly, sodat ons onbelemmerde kontak met Hom kan geniet. Al sy voorsiening en vrygewige genade kom na vore in dié verhouding met Hom. Daarom kan ons met oorgawe werk aan ons verhouding met Hom. Kan ons ons begeertes voor Hom bring en van Hom afhanklik lewe. En kan ons in deernis teenoor mekaar optree, sonder om in gevegte betrokke te raak oor dít wat ons dink ander het wat meer is as wat ons self besit.

  • Vertrou God dus vir sy voorsiening.
  • Moenie Wetgewer en Regter speel in ander se lewens nie.
  • Leef afhanklik van God in alles.

Gebed

Slotlied

Lied 266 Ons Vader  (staan)

Seën

Respons

Lied 266  (laaste reël) vir ewig en ewig, amen

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.