Johannes 4 – Jesus steek grense oor deur gender – 24 Mei 09 – Pinkster 2

Sondagaand 18:30 – 24 Mei – Johannes 4 – Pinksterdiens 2

Laai hier die mp3 klankbaan af.

Verwelkoming

Die grootste verskil wat die evangelie maak, lê nie in wat IN mense gebeur nie, maar wat TUSSEN mense gebeur.  Verhoudings tussen mense is die plek waar ware gemeenskap gebeur.

Elkeen van ons is ‘n ketting, ‘n band wat mense verbind.  Telkens as ons uitreik na mekaar in gemeenskap en versorging, en bereid is om grense oor te steek na ander, trek ons mense in, en gee dit sin en betekenis aan ander en ons eie lewe.

Om grense oor te steek: kultureel, eties, generasies, etnies, sosiaal, ekonomies, gender en noem maar self verder op, was en sal altyd die lewensbloed van die geloof in Christus bly.

Van die begin af was dit die patroon: waar gelowiges ‘n kulturele grens oorgesteek is, soos ons bv. in Handelinge 11 lees,  waar ‘n paar onbekende Joodse gelowiges in Antiochië met die Grieke oor Jesus gesels het, kom daar ‘n kerk tot stand. (11:19-20). En waar hulle dit nie gedoen het nie, het die kerk gekrimp of tot niet gegaan.

Ek wil jou dus uitdaag om ‘n reis dié week met ‘n paar mense in die gemeente te onderneem – ons noem die reis: Die Gees stuur ons oor Grense. Vir 5 dae gaan jy en ‘n paar van jou vriende fokus op die mense wat oor julle pad kom.  Elke aand gaan ek jou begelei om te gesels daaroor en te probeer agterkom wie dit is wat die Here oor jou pad stuur.  En ons sluit met ‘n heerlike Pinksterete Vrydagaand af met ‘n feesviering volgende Sondag.

Omdat sulke ontmoetings met mense geskenke uit die hand van die Here is, vra ons elke aand hoe dié ontmoetings jou geruk of getroos of geseën het.  En ons gaan praat oor hoe die Gees jou moontlik voorberei het daarop en wat jy dink die Here deur die persoon(e) met jou wil laat gebeur.

Telkens gaan ons ook vra wat die Here deur jou wil bevestig in die ander persoon en/of moontlik wil verander in jou.  En elke aand help ons mekaar om te leer wat ons beter wil leer doen.

Kortom – ons gaan op reis met mekaar om ‘n paar grense na ander mense oor te steek, wat uiteindelik geskenke van die Here word.

Dit beteken dat jy nou moet dink aan mense wat jy graag wil uitnooi op jou reis dié week.

Vannaand gaan ons die verhaal van Jesus en die Samaritaanse vrou lees in Johannes 4 en baie spesifiek kyk na die wyse waarop Jesus teen die heersende gedagtes oor die plek van vroue, juis met haar gesels en deur ‘n vrou die dorpie Sigar bereik.

Lees Johannes 4:1-42

Jesus móés deur Samaria gaan

Dat Jesus deur Samaria moes gaan is nogal relevant – omdat dit beteken het dat Hy met ‘n kortpad (so ‘n 3-dag reis) na Galilea sou gaan.  Dit was nie iets wat die Jode maklik gedoen het nie, hulle het Samaria eerder vermy;  Samaria was ‘n “no-go” vir die Jode – ‘n area waar hulle gegril het vir die  “onsuiwerheid” van die Samaritane wat van ‘n gemengde ras was.

Dit is eintlik altyd so as ons oor grense beweeg – mense is anders en doen dinge anders in “Samaria”.  Daarom loop ons dikwels ‘n ompad eerder as om daar deur te gaan.

Dit is die sesde uur

Dit is betekenisvol dat dit die sesde uur was.  Dit beteken dat dit 12 uur die middag was.  In daardie tyd het vroue boonop twee keer ‘n dag gaan water haal vir hulle huise, soggens en saans, wanneer dit koeler was.  Die Samaritaanse vrou gaan skep dus water op die warmste tyd van die dag.

Sy vermy die ander vroue van die dorp, miskien omdat sy verwerp gevoel het, of meer waarskynlik inderdaad ‘n verworpene was.  Blykbaar was daar nog boonop ‘n ander put nader aan die dorpie, wat sy sou kon gebruik het.  Die water van Jakob se put was egter suiwerder … en verder van die dorp af.

Die broosheid van Jesus

Jesus is alleen, dit is in die middel van die dag, Hy is moeg en dors en hy het nie ‘n skepding om water uit die put te haal nie.  In een woord, Hy is kwesbaar in meer as een opsig.  Hy het die vrou se hulp nodig, en Hy kan in meer as een opsig in die moeilikheid kom, net omdat Hy met haar praat.

Dit is in hierdie broosheid wat Hy oor grense beweeg en die gesprek tussen Hom en die vrou plaasvind. Geen uit die hoogte posisie, eerder ‘n posisie van magteloosheid en kwesbaarheid.

Jesus praat met ‘n vrou

Dat Jesus met ‘n vrou praat, en dit nogal in die openbaar, was ongehoord.  Volgens Joodse tradisie mag ‘n Rabbi nie eers met sy eie vrou, dogter of suster gepraat het nie, laat staan nog as dit ‘n vreemde vrou was.

Vroue was eenvoudig nie gereken nie.  Mans het soms die Joodse gebed gebid: “Ek loof U, o God . . . dat U my nie ‘n vrou gemaak het nie”!

Ek het nie ‘n man nie

In die gesprek met Jesus kom ‘n mens boonop agter, dat sy saamgebly het met iemand.  Van een kant kan ‘n mens jou wenkbroue daaroor lig, maar van ‘n ander kant moet ons onthou, vroue het in daardie tyd baie min sê gehad in hulle verbintenisse met mans, wat beteken dat die man wat sy nou gehad het, se wense waarskynlik die deurslag gegee het vir haar “saambly”-status.

Sy is dus nie net verworpe nie, sy is ook uitgelewer aan die wense van die man saam met wie se gebly het.

Dit is Ek, Ek wat met jou praat

Maar dan die verrassende.  Jesus kies om aan ‘n vrou, aan dié vrou, Homself te openbaar.  Hy steek die grens van godsdiens en kultuur en belangrik van gender oor om haar lewe aan te raak.  Dit is ‘n radikale omkeer van die normale geslags- en sosiale posisies.

Oorrompel deur Jesus

En die vrou reageer in geloof.

Ephraem, die Siriese kommentator sê: ” At the beginning of the conversation he did not make himself known to her, but first she caught sight of a thirsty man, then a Jew, then a Rabbi, afterwards a prophet, last of all the Messiah. She tried to get the better of the thirsty man, she showed dislike of the Jew, she heckled the Rabbi, she was swept off her feet by the prophet, and she adored the Christ” (aangehaal deur J.A. Findlay, Comm, 61 in Beasley-Murray, G. R. 2002 Word Biblical Commentary,  Vol 36, p. 66).

Sy dra groot vrug

Die wonderlikste van die verhaal is vir my, dat die oomblik as sy agterkom wie Jesus is, sy alles net so laat staan, en die mense in die dorpie van die Messias gaan vertel – dié mense wat haar verwerp het.  Sý steek nou die grens van verwerping en veroordeling oor na die dorpie toe.  Sy raak ‘n belangrike getuie wat die dorpie se mense tot geloof lei wat hulle lei tot ‘n diep wete dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.

In teenstelling met Nikodemus (hfst. 3) wat eers later vrug dra (7:50 in die Joodse Raad waar Hy vir ‘n billike hantering van Jesus vra, en 19:39 in die tuin van Josef van Arimitea waar Jesus begrawe is met die 50 liter mirre en aalwyn wat Nikodemus gebring het), toon die Samaritaanse vrou onmiddellik vrug in haar getuienis aan die dorpie.

En teenoor die eerste dissipels wat net enkelinge na Jesus gebring het (hfst. 1), bring die Samaritaanse vrou ‘n hele dorpie!

Die dissipels kon hier ook net kos uit die dorpie vir Jesus bring, wat Hy toe nie eers geëet het nie, maar die Samaritaanse vrou ‘n hele gemeenskap van mense!

En die gedeelte sluit met die dorpie wat in geloof en gasvryheid uitreik na Jesus en Hom vra om twee dae by hulle oor te bly.

Dit is hoe gemeentewees moet werk – grense van watter aard ook al wat oorgesteek word, en ‘n gemeenskap wat gestig word waar in gasvryheid mense mekaar as mense raaksien en waar God gedien en geëer word.

Uitdaging

Die uitdaging aan ons is, om te leer uit dié verhaal om ons gedagtes oor ander mense in pas te bring met die prentjie wat Johannes hier vir ons skets.

1.  Hoe ons dink oor vroue en mans

Dit eerste uitdaging is hoe ons dink oor vroue en mans.

Baie mense werk nog steeds met ‘n baie rigiede idee van hoe mans is en hoe vroue is.  Mans is sterk en vroue sensitief.  Daniël Louw lys die faktore wat hierin ‘n rol speel as volg:

  • Sterk – manlik, in beheer, moed, prestasie.
  • Sensitief – vroulik, subtiel, swakker, verleidelik, emosioneel.

Dié eienskappe is baie meer menslike eienskappe as wat dit net vroulike of net manlike eienskappe is.  En selfs as ‘n mens meer na die sterk kant of meer na die sensitiewe kant oorhel, mag dit nooit die basis wees om te diskrimineer teen iemand nie.

Soos Jesus hier die grens oorsteek na ‘n vrou, met haar sterk en sensitiewe kante, en deur haar die grens kan oorsteek na ‘n dorpie wat ook uit mense wat sterke en sensitiewe kante het – so moet ons dit ook doen.

Wat baie help om hierdie grens oor te steek, is om te besef dat mans en vroue in die eerste plek mense is en slegs in die tweede plek mans en vroue.  En om verder in ag te neem, dat beide geslagte ‘n sterk en sensitiewe kant kan vertoon … omdat hulle mense is.

2.  MENSE IS GESKENKE VAN GOD AAN ONS AL IS HULLE DIKWELS “DISRUPTIONS’

Maar wat ons nog meer kan help, is juis om met ‘n ander verwagting te leef.  Mense is immers geskep na die beeld van God – die ou teologiese gesegde is, mense is geskep as Imago Dei.  Dit is van alle mense wat ons pad kruis waar.

Dit is dus die tweede uitdaging.

Miskien help dit jou om daaroor te dink dat mense wat oor jou pad kom, geskenke van God aan ons is. Dikwels kom hulle onverwags oor jou pad en het jy nie tyd vir nader kennis maak nie en ás jy kennis maak het jy nie altyd die energie of die lus om ‘n gesprek aan te knoop nie. Dit neem nie weg dat élke mens wat ons pad kruis, geskep is na die beeld van God en heel moontlik God se geskenk aan ons is nie.

In ‘n wêreld waar die kitsbank jou waarsku dat alle vreemdelinge as gevaarlik beskou moet word, is dit belangrik om hierdie ingesteldheid van Imago Dei ‘n gewoonte te maak. ‘n Imago Dei blik in jou oë maak nogal ‘n verskil in die manier waarop jy na mense kyk, oor hulle dink en na hulle luister.

Dit geld natuurlik nie net vir die mense met wie ons ‘n natuurlike gevoel van toegeneentheid het nie, maar juis hulle by wie ons sou verby stap omdat hulle anders as ons is. Leer die gewoonte aan om hulle in die oë te kyk, gereed te wees om deur hulle “disrupt” te word en tyd te maak om na hulle te luister. Hierdie gewoontes is belangrik om die “geskenke” van God in ontvangs te neem.

3.  Bereid dat hulle óns bedien

Maar daar is nog ‘n uitdaging, nommer drie.

Vir sommige van ons sal dit moeilik wees, omdat ons gewoond is om te dink dat ons ander moet help. So die oë waardeur ons kyk, is oë wat probleme raaksien en met ons gawes en bronne die probleme wil regmaak. So kan ‘n mens nie ander as geskenke ontvang nie. Uiteindelik word mense eers geskenke aan ons as ons bereid is dat hulle óns bedien met hulle insigte, hulle gawes – ja as ons van hulle interafhanklik raak.

Dalk omdat ons met kritiek groot geword het, dink ons, dit is maar hoe ‘n mens lewe teenoor ander – deur hulle te kritiseer – so ‘n bietjie af te kraak. Elke mens met wie jy te doen het, is geskape na die beeld van God – IMAGO DEI – en is begaafd geskape om hulle begaafdheid uit te leef teenoor ander. Deur hulle gawes te waardeer en te ontvang as geskenke aan jou, ontvang hulle die bevestiging waarop so baie mense wag, naamlik dat hulle mens-waardig is.

Dit is in wese die roeping van hierdie Jesus wat oor grense beweeg, ook die grens na ‘n Samaritaanse vrou, om uit te reik na mense na wie die Here ons stuur en hulle dan te bevestig as mense, as IMAGO DEI, mense wat geskape is na die beeld van God.  So bring ons die koninkryk van God naby aan mense.

4.  Luister na mense wat nie ‘n stem in ons gemeentes het nie

Luister na “ander” verg die prysgee van mag

Dit beteken ook dat ons moet luister na mense wat nie ‘n stem in ons gemeentes het nie. Hulle ís daar en die Gees werk vir seker deur hulle, maar daar is nie noodwendig ‘n plek waar hulle meer as bloot verdra word nie. Omdat ek ‘n man is en boonop ‘n predikant, het ek persoonlik minder ervaring daarvan dat daar nie na my geluister word nie – om behandel te word asof ek nie daar is nie – as wat vroue en ander lidmate dit dikwels ervaar.

Vra maar vir vroue, jongmense, mense uit ‘n ander kultuurgroep en arm mense.  Mense is vriendelik met hulle, verwelkom hulle dalk selfs, maar doen nie noodwendig moeite om na hulle te luister nie. ‘n Vriend van my het as arm student in Nederland so ‘n ervaring gehad. Hy het sy beurs aangevul deur die badkamers en vloere van ‘n speelskool skoon te maak. Sy opdrag het gelui: Jy kan die skoonmaakwerk enige tyd doen wanneer die skool nie aan die gang is nie. “Ons wil graag hê jy moet dit so deeglik moontlik doen, maar ons het nie die behoefte om jou te sien terwyl jy dit doen nie.”

Ons gee dikwels soortgelyke boodskappe aan mense: “Jy is baie welkom hier, maar ons gaan jou bydrae nie noodwendig ernstig opneem nie.”

Luister gebeur wanneer dié wat in magsposisies is doelbewus afstand doen van hulle spreekreg, en dié daarsonder vrymaak deur na hulle te luister.

Luister na hulle

Ek sluit af.  In ‘n gesprek van ‘n gemeentelike leiersgroep in ‘n voorstedelike omgewing is daar eenkeer gepraat oor die pad vorentoe. Iemand merk toe op dat hulle ná al die jare nog nie daarin kon slaag om die groot groep mense van ‘n woonstelkompleks reg voor die kerk by die gemeente te betrek nie. “Ek moet sê, ek weet nie meer wat ons moet doen nie,” het ‘n leraar van die gemeente moedeloos amper kwaad opgemerk.

“Vra hulle,” stel die fasiliteerder toe half ongevraagd voor.

“Wat bedoel jy met vra hulle?”

“Ek bedoel dat jy na hulle sal uitreik, nie met jou planne nie, maar met die doel dat jy by hulle sal gaan leer wat hulle daarvan weerhou om deel van julle geloofsgemeenskap te word.”

Daar was ‘n ongemaklike stilte, waarna een van die kerkraadslede opgemerk het: “Ons is nie ‘n uitreikspan nie. Ons is ‘n raad wat besluite neem.”

Die goeie nuus van die evangelie kan nie oorgedra word sonder dat ons grense oorsteek nie.  En die grense is soms so basies as om ‘n vrou ernstig te neem, of iemand wat aan die onderpunt van die sosiale leer is.

Neem dus die tyd dié week, let op wie die Here oor jou pad stuur, steek die grens oor en praat met iemand wat jy nie normaalweg mee sal praat nie.  En kom gesels verder met die vriende wat die reis saam met jou onderneem: Die Gees stuur jou oor Grense.

Môreaand gesels oor die wyse waarop ons die grense na behoeftiges oorsteek, uit die voorbeeld van die eerste gemeente in Handelinge se eerste 6 hoofstukke.

     

Tags: ,

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Willem Wiid

    |

    Ek is opsoek na verlede Sondag (20/10/2019) se liturgie. Kry dit ongelukkig nie opgespoor nie. Kry ook nie die afkondigings nie

  • Avatar

    Riana Carstens

    |

    Dankie!!!!!! N insiggewende opbouende preek wat die “Goeie nuus” boodskàp ook bevat. Baie baie dankie.

    Riana

  • Avatar

    Rene De Lange

    |

    Ek is opsoek na n woonstelmaat vir 2020. Overbaakens kompleks naby Moffitt on main
    huur R3100 per maand. Water en elektrisiteit uitgesluit. Whatsapp my asseblief op 073 043 9386 .

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Pieter

    Jy kan uiteraard lees wat ek self oor Romeine en Efesiërs geskryf het:

    Maar, as jy ‘n bietjie dieper wil delf, kan jy kyk na die volgende bronne:

    • Faithlife Study Bible (korter kommentaar oor die hele Bybel)
    • NET Bible (kort tekstuele kommentaar oor die hele Bybel – gratis op YouVersion se Bible app)
    • Scripture Direct (uitstekende woordverklarings oor die hele NT – gratis as app)
    • Keener, C. S. The IVP Bible Background Commentary: New Testament (Second Edition). IVP Academic. 2014.
    • Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. 1993
    • Van Zyl, A. H.. Die Bybel verklaar: 1983-vertaling. Kaapstad: Lux Verbi. 1993

    Dan is daar natuurlik volbloed kommentare.
    Op Romeine:

    Op Efesiërs:

    • Lincoln, Andrew T. Ephesians WBC 1990
    • Bruce, F. F. The Epistles to the Colossians, to Philemon, and to the Ephesians NICNT
      1984
    • Foulkes, Francis Ephesians TNTC 1989
    • Stott, John R. W. The Message of Ephesians BST 1991
    • Fowl, S. E. Ephesians: A Commentary. Westminster John Knox Press 2012
    • Roberts, J. H. Die brief aan die Efesiers. N G Kerk-Uitgewers. 1990
    • William Barclay http://www.dannychesnut.com/Bible/Barclay/Galatians%20and%20Ephesians.htm