Die nuwe lewe van die Gees – Efesiërs 4:17-5:4

I come to the garden alone

Austin Miles het ‘n ongelooflike lied geskryf: I come to the garden alone. Ek wil dit graag vir julle lees.

I come to the garden alone

while the dew is still on the roses,

and the voice I hear falling on my ear

the Son of God discloses.

Refrain:

And he walks with me, and he talks with me,

and he tells me I am his own;

and the joy we share as we tarry there,

none other has ever known.

  1. He speaks, and the sound of his voice,

is so sweet the birds hush their singing,

and the melody that he gave to me

within my heart is ringing. (Refrain)

  1. I’d stay in the garden with him

though the night around me be falling,

but he bids me go; thru the voice of woe

his voice to me is calling. (Refrain)

Austin Miles (1913)

Dit is ‘n ongelooflike raak beskrywing van die ervaring wat ‘n mens het as jy in ‘n noue gemeenskap met die Here wandel.  Daar is ‘n stuk ontsluiting van God wat in gebed kom wat nie met woorde beskryf kan word nie.  En daar is altyd ‘n stuk roeping daarin, “he bids me go” en dit sluit baie keer moeilike tye in “thru the voice of woe”.  Maar, die vreugde van die intimiteit met God is onvergelykbaar met enigiets anders.

En dít is die roeping van elke kind van God.  Dít is die deel van elke kind van God.  Dít is waarvoor ons geskape is.  Dít is waarvoor ons verlos is.  Om in ‘n ononderbroke gemeenskap met God te lewe.

Maar, dié lied van C. Austin Miles roep twee Skrifgedeeltes na vore, een van verlies, en een van vreugde.  Skrifgedeeltes wat nodig is om die omvang van die betekenis van Miles se lied te kan verstaan.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Verwelkoming

Toetrede

FLAM 318 Nader tot die Here – sit (groep)

Votum en Seëngroet

Lofsang

Lied 459:1,4 almal, koor 2 Ons Vader, alles in die lewe – staan (orrel)

Lied 470:1,4 U, Here, is ons koning – staan (orrel)

Verootmoediging

Efesiërs 4:17-24

Ons is steeds besig met die brief aan Efese.  Paulus skryf om die valse leringe in die gemeente te bestry en wil hulle help om die waarheid in Christus te omarm.  Hy skryf dus nou vir hulle in die tweede deel van hoofstuk 4 oor die waarheid van die ou en nuwe lewe:

17 Dit sê en bevestig ek dan in die Here: Julle moenie meer soos die heidene met hulle leë gedagtes leef nie. 18 Hulle denke is verduister, hulle is vervreem van die lewe met God, omdat hulle onkundig is deur die hardheid van hulle harte. 19 Omdat hulle gevoelloos geword het, het hulle hulleself oorgegee aan losbandigheid om onversadigbaar allerhande onrein dade te pleeg.  20 Maar julle het Christus nie so leer ken nie. 21 Julle het tog van Hom gehoor en julle is oor Hom onderrig, volgens die waarheid wat in Jesus is, 22 naamlik dat julle, wat julle vroeëre lewenswandel betref, die ou mens moet aflê wat as gevolg van sy drang na dwaling vergaan. 23 Julle moet eerder deur die aard van julle denke vernuwe word. 24 Ja, trek die nuwe mens aan wat in geregtigheid en ware heiligheid na God se beeld geskep is.

Die ou mens moet afgelê word, interessant genoeg, omdat die ou mens ‘n konstante drang na dwaling het.  Die nuwe mens moet aangetrek word wat in geregtigheid en ware heiligheid na God se beeld geskep is.  Die waarheid in Christus moet omarm word.

Dit geld almal van ons.  Voortdurend.  Dit is ‘n proses wat nooit ophou nie, totdat ons dood gaan.  Niemand kan dit systap nie.  Dit is ontsettend belangrik om in hierdie lewe reeds te strewe na die heiligheid wat ons deel gaan wees by die Wederkoms van die Here Jesus Christus.

8Om jou liggaam te oefen, het wel ’n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat ’n belofte van lewe, vir nou en die toekoms.” (1 Tim. 4:8).

FLAM 58 Skepper Gees – sit (groep)

Inleiding

Lied Laat julle liggies skyn – staan

Lied God is lief vir my – sit (koor x1, gemeente x1)

Integrasie

Efesiërs 4:26-5:5

25 Daarom moet julle leuens vermy en elkeen moet die waarheid praat met sy naaste, want ons is lede van een liggaam. 26 As julle kwaad word, moet julle nie sondig nie. Laat die son nie ondergaan oor julle woede nie. 27 Laat geen ruimte vir die duiwel nie.  28 Die een wat nog steel, moenie meer steel nie; hy moet eerder werk deur met sy eie hande te doen wat goed is, sodat hy iets het om vir die behoeftige te gee. 29 Nie ‘n enkele vuil woord moet uit julle mond kom nie, maar eerder ‘n woord wat goed is vir die noodsaaklike opbou sodat dit voordeel mag bring vir diegene wat dit hoor. 30 En bedroef nie die Heilige Gees van God deur wie julle met die oog op die dag van bevryding verseël is nie. 31 Laat vaar alle bitterheid en woede en gramskap en geskreeu en gelaster, saam met elke vorm van kwaad. 32 Wees goed vir mekaar, welwillend, terwyl julle mekaar vergewe soos God in Christus julle ook vergewe het.  5:1 As geliefde kinders moet julle navolgers van God wees 2 en in liefde leef, net soos Christus ons liefgehad het en Homself ter wille van ons oorgegee het as ‘n offergawe aan God, as ‘n offerande met ‘n aangename geur.  3 Maar, soos dit heiliges betaam, moet daar onder julle van onsedelikheid en allerlei onreinheid of gierigheid geen sprake wees nie, 4 ook nie van skandelikhede en dwase of lawwe praatjies, wat alles onvanpas is nie, maar eerder van danksegging. 5 Want dit moet julle goed begryp: Geen ontugtige of onreine of gierigaard —so iemand is ‘n afgodedienaar —het ‘n erfdeel aan die koninkryk van Christus en van God nie.

I come to the garden alone

Austin Miles het ‘n ongelooflike lied geskryf: I come to the garden alone. Ek wil dit graag vir julle lees.

I come to the garden alone

while the dew is still on the roses,

and the voice I hear falling on my ear

the Son of God discloses.

Refrain:

And he walks with me, and he talks with me,

and he tells me I am his own;

and the joy we share as we tarry there,

none other has ever known.

  1. He speaks, and the sound of his voice,

is so sweet the birds hush their singing,

and the melody that he gave to me

within my heart is ringing. (Refrain)

  1. I’d stay in the garden with him

though the night around me be falling,

but he bids me go; thru the voice of woe

his voice to me is calling. (Refrain)

Austin Miles (1913)

Dit is ‘n ongelooflike raak beskrywing van die ervaring wat ‘n mens het as jy in ‘n noue gemeenskap met die Here wandel.  Daar is ‘n stuk ontsluiting van God wat in gebed kom wat nie met woorde beskryf kan word nie.  En daar is altyd ‘n stuk roeping daarin, “he bids me go” en dit sluit baie keer moeilike tye in “thru the voice of woe”.  Maar, die vreugde van die intimiteit met God is onvergelykbaar met enigiets anders.

En dít is die roeping van elke kind van God.  Dít is die deel van elke kind van God.  Dít is waarvoor ons geskape is.  Dít is waarvoor ons verlos is.  Om in ‘n ononderbroke gemeenskap met God te lewe.

Maar, dié lied van C. Austin Miles roep twee Skrifgedeeltes na vore, een van verlies, en een van vreugde.  Skrifgedeeltes wat nodig is om die omvang van die betekenis van Miles se lied te kan verstaan.

Die eerste is die tuin van Eden. Genesis 3.  Adam en Eva wat wegkruip vir God, omdat hulle bang was vir Hom.  Hulle het gesondig teen God deur van die verbode boom te eet.  En hulle het agter gekom dat hulle kaal is – nie net letterlik kaal nie, maar kaal voor God, en daarom skaam weens hulle sonde.  En daarom vrees hulle die stem van God, kruip hulle weg vir die God wat vra: “Waar is jy?” Hulle het dié ervaring van die lied gehad, maar dit verloor, weens hulle sonde.

Die tweede is die tuin van Josef van Arimatea op Golgota (Joh. 19:41). Johannes 20.  Maria Magdalena wat huil by die graf “omdat hulle my Here weggevat het en ek nie weet waar hulle Hom sou begrawe het nie.” (Joh. 20:13).  Die verrassing was groot toe sy die stem van die Here Jesus herken, wat vir haar sê: “Maria!”  En sy gryp sy voete en aanbid Hom (Matt. 28:10).  Jesus verdryf haar vrees en gee haar die opdrag om vir die ander te gaan vertel Hy het opgestaan.  Daar is nuwe lewe moontlik.  Sy was die eerste wat die ervaring van die lied weer kon omarm, weens Jesus se opstanding.

  • Die een verhaal is een van vrees. Die ander verhaal is een van vreugde.
  • Die een verhaal vertel vir ons van die effek van sonde. Die ander verhaal vertel vir ons van die effek van versoening.
  • Die een verhaal wys die problematiek van die ou mens. Die ander verhaal wys die moontlikhede van die nuwe mens.
  • Die een verhaal is gebaseer op die dwaasheid van die keuses van die ou lewe. Die ander verhaal is gebaseer op die gawe van die opstanding in ‘n nuwe lewe.
  • In die een verhaal het Adam en Eva die misleiding van die Satan as waarheid aanvaar. In die ander verhaal het Maria Magdalena die openbaring in Christus as waarheid aanvaar.
  • Die een verhaal vertel van die vrees vir die stem van God. Die ander verhaal vertel van die vreugde wat God se stem bring.

En dit is met dié prentjie in ons kop wat ons na Efesiërs moet luister.  Want, God het ‘n droom vir ons.  Hy wil die vrees vir Hom weens ons sonde wegneem en ons in die vreugde van sy teenwoordigheid laat wandel. Hy wil met ons ononderbroke gemeenskap hê.

Hy wil die skuld en skande van ons ou mens verander sodat ons in die nuwe lewe kan wandel in alle waarheid en heiligheid.  Hy wil die beeld van God wat in ons beskadig is deur die sonde herstel en ons maak soos Hyself is, sonder sonde, heilig, onbesproke.

Daarom moedig Paulus ons aan: “Ja, trek die nuwe mens aan wat in geregtigheid en ware heiligheid na God se beeld geskep is.” (4:24).  Ons prentjie van Christenwees moet wees om “soos God” te wees, om God se navolgers te wees, om soos Hy lief te hê, om soos Hy alles wat sleg is te haat en te leef vir die goeie, die opbouende, die verheffende.

Dít wat ons in Eden verloor het, en op die opstandingsmôre terug gekry het, dít moet ons doelwit wees, om herskep te word na die beeld van God, in ware geregtigheid, in ware heiligheid, trouens, in die waarheid, soos Paulus dit hier uitspel.

Wat is waarheid?

Paulus spel die waarheid uit as iets wat in Jesus is.  Die waarheid is in die persoon en lering van Jesus, wat, sê Paulus, die gemeente van Efese leer en onderrig om nie langer soos heidene te lewe nie, om nie meer met die leë gedagtes en duister denke wat kom uit ‘n harde hart op te tree nie, dinge wat hulle verlei om hulleself oor te gee aan losbandigheid (porneia) om, soos Paulus dit stel: “onversadigbaar allerhande onrein dade te pleeg” nie. (4:19).

Dít, sê Paulus, is nie soos julle Christus leer ken het nie.  Só ‘n lewe is nie in die waarheid nie.

Die waarheid het iets te sê vir jouself.  Die “waarheid wat in Jesus is” – vers 21 – leer die geloofsgemeenskap om die ou mens en sy sondes af te lê – vers 22 – en in hulle denke vernuwe te word – vers 23 – en die nuwe mens aan te trek wat in geregtigheid en ware heiligheid na God se beeld geskep is – vers 24.

Die waarheid het iets te sê vir jou verhouding met jou naaste.  Die waarheid wat in Jesus is, sluit in dat gemeentelede die waarheid moet praat met hulle naaste, want ons is lede van een liggaam – vers 25.  Wees goed vir mekaar, sê Paulus, welwillend, terwyl julle mekaar vergewe soos God in Christus julle ook vergewe het – vers 32.  Dit is hoe ‘n mens in liefde by die waarheid bly, oop en eerlik oor die waarheid wat in die Here Jesus is.

Die waarheid het ook iets te sê vir jou lewenstyl.  Hierdie waarheid sluit in dat die gevolge van ‘n lewe wat nie in Christus is nie, en wat nie volgens sy waarheid gelewe word nie, dat dit vir hulle uitgespel word.  Soos Paulus in hfst. 5 sê: “Soos dit heiliges betaam, moet daar onder julle van onsedelikheid en allerlei onreinheid of gierigheid geen sprake wees nie … Want dit moet julle goed begryp: Geen ontugtige of onreine of gierigaard – so iemand is ‘n afgodedienaar – het ‘n erfdeel aan die koninkryk van Christus en van God nie.” (5:3-5).

Niemand wat God se wil vir verhoudings en die lewe oortree, niemand wat die waarheid ontken en dwaalleer omhels, en daarin volhard, het ‘n erfdeel aan die koninkryk van Christus en van God nie.  Niemand nie.

  • Die oortredings sluit onsedelikheid (porneia) in – enige seks buite die huwelik.
  • Die oortredings sluit onreinheid (akatharsia) in – die ontering van ons liggame onder mekaar, wat in Rom. 1:24 duidelik uitgespel word.
  • Die oortredings sluit alle gierigheid (pleonexia) in – enige lewenstyl waarin God nie die botoon voer nie, maar waar jou eie begeertes na meer jou lewe beheer.

Moenie die Heilige Gees van God bedroef nie

Dit is harde woorde dié.  Dit kan ongenaakbaar oorkom.  Maar, dit is natuurlik doelbewus só.

Paulus is bekommerd oor die dwaalleringe wat die gemeente van Efese van die spoor gaan afneem.  Hy kan nie bekostig om doekies om te draai en die waarheid op ‘n bedekte manier of met ‘n omweg aan hulle te bring nie.

Anders sal hulle nie groei in hulle verhouding met Christus nie.  Dan praat hy nie meer die waarheid in liefde nie.  Dan sal hulle nooit die samebindende krag van die vrede ken nie.  Dan sal hulle nooit die eenheid van die Gees kan bewaar nie.  Dan sal hulle nooit vol word met die volheid van God nie.

En dít is die doel, om só vol van God se wese te word dat sy beeld herstel word in jou. Dat as iemand na jou kyk, hy of sy nie net vir jou raaksien nie, maar vir God, en die volheid van sy volheid.

Anders, sal hulle die Heilige Gees van God bedroef, dié Een deur wie hulle met die oog op die dag van bevryding verseël is, dié een wat hulle voorberei vir die dag van die openbaarmaking van die kinders van God.

God kan dus bedroef raak – in jou – omdat jy nie groei in die rigting wat sy Gees jou wil neem nie.  Watter ongelooflike verontrustende gedagte!

Dink jou in in die ervaring wat die inwonende Gees in jou het as Hy gedwarsboom word deur jou hardkoppigheid en ongehoorsaamheid.

  • As Hy jou wil heilig maak, en jy kies om in onreinheid, onsedelikheid en gierigheid te volhard.
  • As Hy jou wil leer om opbouend te leef, en jy kies om negatief te praat, en jy volhard in bitterheid en woede en gramskap en geskreeu en gelaster, saam met ‘n mond wat oorborrel van vuil taal.

Dit bedroef die hart van God. Veral omdat sonde nie net jou hart ‘n ongure plek maak om in te bly nie – by wyse van spreke – maar ook omdat dit die eenheid in die liggaam van Christus dwarsboom, sodat die Gees ook nie die kerk kan inspireer om God se wil te doen nie.

Efesiërs is die enigste plek in die NT waar gepraat word van die Heilige Gees wat bedroef word.  In die OT word dieselfde gedagte egter verbind aan die rebellie van die volk teen die leiding van die Heilige Gees, soveel só dat God hulle teenstanders geword het (Jes. 63:10).  En as ‘n mens dié konteks uit Jesaja in ag neem, dan wil Paulus hier op soortgelyke wyse die gelowiges waarsku dat hulle moet rekening hou met die feit dat die koninkryk toegesluit kan word vir mense wat afdwaal en aan hulle sonde vas bly klou.

Want dit moet julle goed begryp: Geen ontugtige of onreine of gierigaard —so iemand is ‘n afgodedienaar —het ‘n erfdeel aan die koninkryk van Christus en van God nie.” (Ef. 5:5).  En in vers 6 sal Paulus aangaan om hulle te waarsku dat die toorn van God kom oor dié wat ongehoorsaam is, sonder uitsondering.

Ek kan nie anders as om dié gedagtes van Paulus sterk te onderstreep nie.  Dit ís so dat God se genade onweerstaanbaar is.  Dit ís so dat God instaan vir die volharding van die heiliges.  Só leer die Leerreëls van Dordt ons.

Maar, dieselfde Leerreëls leer ons dat die toorn van God bly op dié wat die evangelie nie glo nie, nie omarm nie, nie as die beginsels van hulle lewe aanvaar en daarvolgens begin lewe nie (hfst. 1.4).  En die skuld vir daardie ongeloof – dit is om nie jou lewe daarop te bou, om nie op die verlossende aanbod wat God gee in Christus, te reageer nie, om nie die openbaring van die Skrif te aanvaar as die riglyn vir jou lewe nie – dít bly doodgewoon die mens s’n, nie God s’n nie: “Die oorsaak of skuld van daardie ongeloof, net soos van alle ander sondes, lê beslis nie by God nie, maar by die mens.” (hfst. 1.5).

Die ware kinders van God: “verootmoedig hulle daagliks voor die aangesig van God, aanbid Hom vir die diepte van sy barmhartigheid, reinig hulleself voor Hom, om Hom, wat hulle eerste so uitnemend liefgehad het, ook van hulle kant vurig lief te hê.

En die ware kinders van God vind die volgende: “Dit is dan ook onmoontlik dat … die kinders van God sal (laat) ophou om die gebooie van God te gehoorsaam of dat hulle onverskillig sou word deur ‘n sondige lewe te lei.” (hfst. 1.13).

Die boom van die lewe

Om met God gemeenskap te hê, is die doel van ons lewe.  Ek het dié week met ‘n lidmaat gesels oor betrokkenheid, en ons het ‘n goeie gesprek gehad. Ons moet telkens vra, waarmee het die Here my geseën?  Watter gawes het ek waarmee ek die Here kan dien?  Wat is daar nog wat ek vir God kan doen?

Maar, die belangrikste is dat ons resloos aan God sal behoort.  Hom sal opsoek en ons in sy teenwoordigheid sal verlustig.  Daagliks.  Altyd.

Hoekom?

Want, daar is ‘n derde “tuin” waaraan die lied I come to the garden alone my herinner.  Dit is die “tuin” in die nuwe Jerusalem waar die boom van die lewe weer sy opwagting maak.  Die boom wat Adam en Eva in die tuin van Eden geïgnoreer het, dié boom dra elke maand van die jaar in die stad van God sy vrugte.  Die boom van die lewe se blare is tot genesing van die nasies.

Dit is waarheen ons as God se kinders op pad is.  Niemand wat onrein is, of iets losbandigs en vals doen (Openb. 21:27), sal van dié boom se vrugte kan eet nie, net dié wie se klere in die bloed van die Lam gewas is: “Geseënd is dié wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan.” (Openb. 22:14).  “Buitekant is die dwaalleraars, die bedrieërs en die onsedelikes, die moordenaars en die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen.” (Openb. 22:15).

Elkeen wat hom of haar in dié lewe gee om skoon gemaak te word, wat die klere van die ou mens voortdurend uittrek, en die klere van die nuwe mens aantrek, wat navolgers van God word, en nie die Gees bedroef nie, sal daar in ‘n bo-aardse seremonie as die bruid van Christus met Hom verenig word.  In plaas van Adam en Eva, sal dit Christus en sy bruid wees, Jesus en ons, wat vir ewig in die tuin van God sal lewe en met God sal wandel.  Sonder vrees. Vir altyd.

Lied  I come to the garden alone – sit (orrel)

Gebed

Dankoffer

Vonkk 296 Klap jul hande, o nasies – koor

Onderhoud met Evelyn Lotz

Slotlied

Lied 481 Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dood – staan (orrel)

Seën

Respons

Lied 314 Amen – staan (orrel)

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment