Skip to main content

#1 Jesus is op 25 Desember gebore

Reeks: Wanpersepsies oor Kersfees

#1 Jesus is op 25 Desember gebore

Pulse Somerstrand 18:30 7 November 2021

Kersfees is op pad

Jy het sekerlik al die kersversierings in die winkels gewaar en gevra: “Waar is die jaar heen?” Ja, Kersfees is op pad. Baie van julle is nog diep in die eksamen gewikkel. En julle dink miskien nie so baie daaroor nie. Maar, die wêreld begin gereedmaak vir die vakansie en die vieringe van Kersfees.

Ek wonder hoe vier julle Kersfees?

Kom julle as familie saam? Gee julle nog presente? Is daar nog die afwagting en verrassing? Van my beste herinneringe as kind was juis daardie gaan slaap Oukersaand en die oggend vroeg wakker word om te kyk watter presente in my sak geplaas is. Ek wonder wat is jou beste herinnering van Kersfees?

Soos ek ouer geword het, het ons viering as familie verander. Oukersaand het sterker gefokus op ons saamwees as familie en die uitdeel van presente. Kersdag het sterker gefokus op die erediens en die viering van die geboorte van Jesus. Dws, meer op die geestelike kant van Kersfees.

Verskille rondom Kersfees

Ek het egter ook agtergekom dat daar baie verskille rondom Kersfees bestaan. Oor die datum is daar verskillende menings: 25 Desember in die Weste; 6 Januarie in die Oosters Ortodokse kerk; 19 Januarie in die Armeense kerk; selfs ‘n datum in April of September op die basis van die diensbeurt van Sagaria, die pa van Johannes die Doper, in die tempel.

Oor die viering is daar ook verskillende menings. Die kerk het Kersfees immers aanvanklik glad nie gevier nie. Die Griekse kerkvader Origenes het ​​in die tweede eeu nC juis gespot met die vieringe van Romeinse geboortedae en dit as heidense gebruike beskou. Kersfees is dus nie algemeen in die vroeë kerk gevier nie.

Nog ander dink dat Kersfees eintlik ‘n heidense fees is, en dat ons niks daarmee te doene moet hê nie. Maar, my navorsing wys dat daar twee tradisies is daaroor. En dat daar legitieme redes is waarom ons Kersfees kan en mag vier, so lank ons dit direk koppel aan die geboorte van Jesus. En die heidense gebruike vermy.

Jesus se geboorte is goeie nuus!

Jesus se geboorte is immers die begin van die goeie nuus aan hierdie wêreld. Dat God die wêreld so lief gehad het dat Hy sy Eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (Joh 3:16).

Jesus se geboorte is dus lewensbelangrik. Sonder sy geboorte sou daar nie ‘n kruis en ‘n opstanding gewees het nie. Sonder sy geboorte sou ons nie ‘n Verlosser gehad het nie.

Ons mag dus sy geboorte vier. Trouens, as ons sy kruisdood en opstanding, en selfs hemelvaart vier, is daar goeie geestelike redes waarom ons ook sy geboorte kan en moet vier. Want, dit is waar alles begin het.

Wat sê die Bybel?

So, kom ons lees weer die verhale van Jesus se geboorte. Dit is waar hulle evangelies begin. By Jesus se geboorteverhale. Hulle vertel vir ons dat dit regtig gebeur het. Lukas en Matteus help ons veral daarmee. Markus en Johannes fokus op ander dele van Jesus se verhaal. Markus begin by die openbare bediening van Jesus. Johannes begin by Jesus se oorsprong in God, dat Hy inderdaad God self was en is.

En laat ons net weer vir mekaar sê. Lukas en Matteus gee vir ons die detail van ooggetuies. Dit is dus betroubare verhale.

 1. Die verhaal van Maria

Lukas vertel vir ons dat die aartsengel Gabriël Jesus se geboorte vir Maria aangekondig het (Luk 1:26-38). Gabriël het vir haar gesê:

31En kyk, jy sal swanger word en jy sal geboorte gee aan ’n seun en jy moet sy naam Jesus noem.”

Belangrik, Gabriël verbind Jesus se geboorte aan die belofte aan Dawid in die 10de eeu, om die geboorte ook binne die verhaal van Israel te plaas:

32Hy sal groot wees en Seun van die Allerhoogste genoem word, en die Here God sal vir Hom die troon van sy voorvader Dawid gee.” (2 Sam 7:14-16)

Ons lees ook dat Maria die regte persoon was om hierdie boodskap te ontvang, want sy gee haar sonder enige huiwering aan God sodat sy wil met haar kan geskied.

2.  Die verhaal van Josef

Matteus vertel vir ons dat ‘n ander engel aan Josef in ‘n droom verskyn het om hom te oortuig dat die kind wat vir Maria gebore sou word, die Kind van die Heilige Gees sou wees (Matt 1:18-25).

“Josef, seun van Dawid, moenie bang wees om Maria as jou vrou by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is deur die Heilige Gees.”

In sy gesprek met Josef verbind die engel Jesus se geboorte ook aan die verlede, aan die vervulling van die belofte wat Jesaja reeds in die 8ste eeu vC gegee het:

“Daarom sal die Here self aan julle ’n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar en hom Immánuel noem. (Jes 7:14 – OAV)

En ook Josef is gehoorsaam aan God sodat sy wil ook met hom kan geskied.

3. Die verhaal van Jesus

Die tafel is dus gedek vir die geboorte van Jesus in Bethlehem, die derde verhaal in Lukas (Luk 2:1-7). Kom ons lees dit volledig, want dit gee vir ons die helderste historiese detail:

1Dit het gebeur in daardie dae dat ’n dekreet van keiser Augustus uitgegaan het dat die hele wêreld geregistreer moes word. 2Hierdie eerste sensus het plaasgevind toe Sirenius oor Sirië goewerneur was. 3En almal het gegaan om geregistreer te word, elkeen na sy eie stad toe. 4En ook Josef het opgegaan vanaf Galilea uit die dorp Nasaret na Judea, na die stad van Dawid wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en nageslag van Dawid was, 5om geregistreer te word saam met Maria wat aan hom verloof was, wat swanger was. 6Dit het gebeur terwyl hulle daar was dat die tyd vir haar gekom het om geboorte te gee, 7en sy het geboorte gegee aan haar eersgebore Seun, en sy het Hom in doeke toegedraai en Hom neergelê in ’n krip, omdat daar nie vir hulle plek was in die herberg nie.

Die jaartal

Lukas gee vir ons genoeg historiese gegewens om die jaartal van Jesus se geboorte te bepaal. Lukas noem hier vir keiser Augustus wat die Romeinse ryk regeer het van 27 vC tot 14 nC. Dit is die breë historiese konteks. Hy noem ook goewerneur Sirenius van Sirië wat die volkstelling gereël het wat ons uit ander historiese bronne weet in 8-6 vC plaasgevind het.

Matteus vertel ook later vir ons van die kindermoord wat Herodes beplan het om Jesus dood te maak. Herodes wou alle seuntjies twee jaar en jonger uitwis om só vir Jesus by te kom (Matt 2:13-18). Uit ander historiese bronne weet ons dat Herodes dood is in 4 vC. Dit beteken dat die jaartal 6 vC die waarskynlike datum van Jesus se geboorte is.

Hoe kom ons by 25 Desember uit?

Verrassend genoeg het die vroeë kerk ‘n bekende Joodse interpretasie gevolg. Dat die begin en die einde van belangrike verlossingsgebeure dikwels op dieselfde datum plaasvind.

Een van die kerkvaders, Tertullianus, het dus in die tweede eeu nC (lewe 155-220 nC) bereken dat, omdat hy weet wanneer Jesus gesterf het (14de Nissan of 25 Maart), hy ook presies geweet het wanneer Jesus verwek is!

Die logika het soos volg gegaan. As Jesus op 25 Maart verwek is, dieselfde dag as sy dood, dan sou die geboorte op 25 Desember plaasvind as mens vooruit getel het na die 9 maande van Maria se swangerskap.

Nou, dit is dus duidelik dat hierdie berekening op ‘n Joodse interpretasie berus en nie op die Skrif of ‘n ander historiese aanduiding nie. Maar, dit is hoe by die datum uitgekom is. Dit is egter terselfdertyd nie ‘n datum wat op heidense gebruike berus nie.

Is 25 Desember die regte datum vir die viering van die geboorte?

Moontlik, maar onwaarskynlik. Die datum 25 Desember is nie onmoontlik nie, maar kan nie histories geverifieer word nie.

Maar, dit geld ook die ander datums. 6 Januarie. 19 Januarie. En al die ander datums in April en September. Die kerk het dus een van die datums wat voorgestel is, gekies. 25 Desember. Dit is net so goed soos enige ander datum.

Die datum maak egter nie saak nie. Die belangrike is dat ons op ‘n datum ooreenkom en dan daarby hou. Dit gaan mos nie oor die datum nie. Dit gaan oor die geboorte van Jesus. En sy geboorte is die moeite werd om te vier.

Nou, is Kersfees ‘n heidense fees?

Die kort antwoord is, nee.

‘n Bietjie geskiedenis. Kersfees is van die 2de eeu nC al hoe meer deur die kerk gevier nadat die datum vasgestel is. So lees ons in die vroeë geskiedenis. En die Christene was aanvankik baie bedag daarop om Kersfees met Bybelse inhoud te vier. Met die verhale van Jesus uit die Bybel.

Dit is eers in die 4de eeu wat Christene begin het om ander volke se feeste en gebruike te “kersten”, dws om dit oor te neem en ‘n Christelike karakter te gee in die kulturele oorlog wat al hoe meer in die publieke oog gevoer is, omdat die kerk in Konstantyn se tyd staatsgodsdiens geword het.

Die datum van Kersfees kom dus van vroeg af – 2de eeu nC – en die feesvieringe het eers later ontwikkel. Die heidense gebruike is eers later ge-”kersten” – 4de eeu nC.

Moet Christene Kersfees vier?

Die vraag is nou of ons Kersfees mag vier? En hoe moet ons dit doen?  Mag ons kersbome, liggies, geskenke en Kersvader hê? Of net die geboorte van Jesus herdenk?[1]

Wel, ons hoef nie oor die datum te stry nie. 25 Desember is net so goed soos enige ander datum. Jy kan kies watter datum.

Ons hoef ook nie heidense gebruike na te volg as ons ernstig is oor Jesus se geboorte nie.

Die dae van ons week is almal vernoem na heidense gode, maar dit keer ons nie om na die dae van die week met heidense name te verwys nie. Sondag en Maandag is vernoem na die gode van die son en die maan. Dinsdag is vernoem na die Noorse god van oorlog. Woensdag is vernoem na hulle oppergod Wodin. Donderdag na die Noorse god Thor. Vrydag na die Noorse vrugbaarheidsgodin, Freya. Saterdag na die watergod, Saeter.

So, ons kan Kersfees vier op 25 Desember en dit vier as die dag van Jesus se geboorte.

Maar, miskien is dit die beste om ons Kersfeesvieringe na Oukerksaand te skuif – familiewees en presente is tog dinge wat ons harte kan bly maak – en Kersfees, die dag self, net aan Jesus en sy geboorte te spandeer.

“Maar moet Christene Kersfees vier as dinge soos kersbome, kersliggies, geskenke en Kersvader ‘n heidense afkoms het?” wil jy steeds weet. 

Onthou, nie almal stem saam oor waar hierdie dinge vandaan kom nie. Volgens sommige het Martin Luther ‘n boom afgekap en dit met liggies versier, omdat hy die sterrehemel bo die dennebome vir sy kinders wou uitbeeld.

Ander dink weer dat Bonifacius dit in die 8ste eeu begin het. Hy het blykbaar gesien hoe die heidene hulle kinders tydens die winter fees onder die eikebome offer. Hy het vir hulle gesê om eerder ‘n denneboom af te kap, dit huis toe te vat en saam met hulle kinders fees te vier.

Ander koppel van die simbole aan heidense gebruike. Bv dat kersbome ‘n oortreding van Jer 10:3-4 se verwysing na heidense gebruik rondom bome is. Omdat Israel bome afgekap en dit met goud en silwer versier het, en die Here dit afgewys het, moet ons dit ook doen.

Maar as jy die konteks van Jeremia ordentlik lees, sal jy sien dat dit nie oor kersbome gaan nie, maar oor afgode. Nie Jeremia óf sy lesers het naastenby gedink dat dit oor kersbome gaan nie. Ek weet ook nie van enige gelowiges wat op 25 Desember sy of haar kersboom aanbid nie.

Wat geskenke betref, hoef ons nie te dink dat dit van die heidene afstam nie.  Soos die wyse manne geskenke vir Jesus gebring het, kan ons vir mekaar geskenke gee.  Dit verheerlik die Here as ons dit doen, want as ons met mekaar deel, deel ons ook met Jesus (Matt 25:40, 35-39).

Wat van Kersvader?

Sommige dink die tradisie kom van ‘n Christen in die vierde eeu wat Nicholas genoem is. Hy was van Myra in Turkye. Sy ouers het gesterf toe hy jonk was, en hy het ryk geërf. Hy het sy rykdom gebruik om arm mense te help.

Ander reken weer dat Kersvader van Nicholas van Sion af kom. Hy het in die sesde eeu geleef, en elke jaar op 6 Desember vir kinders geskenke uitgedeel.

Ek weet nie watter tradisie reg is nie, maar in ons tyd is dit ‘n feit dat Kersvader die aandag van Jesus aftrek. Kinders beskou hom as ‘n tipe god wat alles van hulle af weet. Kersvader verdraai ook ons kinders se siening van God, omdat hulle volgens die legende goed genoeg moet wees om sy guns te verdien.

Verder verwar dit hulle – spoiler alert, druk miskien jou kinders se ore toe vir die volgend – omdat jy na 6 of 7 jaar vir hulle sê dat Kersvader nie regtig bestaan nie. En hoekom moet hulle jou dan glo as jy vir hulle sê dat Jesus regtig is?

Ek begin dink dit sal beter wees as ons heeltemal van Kersvader ontslae raak, sodat ons op Jesus kan fokus.  John Piper sê:  “Christmas is first Christ, second Christ, third Christ, and again and again Christ!”[19]  Moet dus nie vir jou kinders oor Kersvader jok nie, maar vertel eerder vir hulle hoe goed en vrygewig Jesus Christus is.

Kom ons luister weer na die engele en die herders!

Lukas vertel vir ons ook van die engele en die herders en hulle reaksie op Jesus se geboorte. Miskien moet ons weer by hulle leer hoe om die geboorte van Jesus te vier (Luk 2:8-20):

9En ’n engel van die Here het skielik by hulle kom staan en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn, en hulle was vreeslik bang. 10En die engel het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring goeie nuus vir julle van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, 11dat vandag vir julle in die stad van Dawid die Redder gebore is, wat Christus die Here is. 12En dit is vir julle die teken: julle sal ’n baba kry wat in doeke toegedraai is en in ’n krip lê.” 13En skielik was daar saam met die engel ’n menigte van die hemelse leër wat God prys en sê: 14“Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde onder die mense in wie Hy ’n welbehae het.”

Dit is die beste beskrywing van hoe ons die Here Jesus se geboorte moet vier. As Redder, Christus en Here.

Die herders het daarom onmiddellik opgestaan en besoek by Jesus afgelê om Hom te aanbid. En dan lees ons oor die effek wat Jesus se geboorte op hulle gehad het:

20En die herders het teruggekeer terwyl hulle God loof en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het, net soos dit aan hulle vertel is.”

Die herders word onmiddellik ingespan as getuies vir God se boodskap wat ‘n beweging aan die gang sit wat daar in die platteland van Betlehem begin en dan na Jerusalem en die elite versprei.

Kersfees roep jou op om ‘n getuie te raak. Kersfees herinner jou daaraan. Jy is ook ‘n getuie van die Christusverhaal. Wie in jou omgewing moet dit nog hoor? Wat kan jy doen om die nuus ook verder te laat versprei?

[1] Vgl inligting by https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2017/12/15/moet-christene-kersfees-vier/

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.