Skip to main content

Ontvang die ewige lewe – Handelinge 13:42-52

My eerste herinnering van die kerk was in die pastorie van ‘n predikant. Ek was afwesig toe die sertifikate vir die eerste jaar Sondagskool by die kerk uitgedeel is. Daarvan onthou ek nie veel nie. Maar, my ma het my gestuur om my sertifikaat te gaan haal by ds Leuvenink in die pastorie op Vredendal. Alleen. Net ses jaar oud. Ek onthou die huiwering by die hekkie; die ontsag wat sy lengte by my ingeboesem het toe hy die deur oopmaak; die gasvryheid van die koeldrank wat hy vir my ingeskink het; die blywende indruk toe ek in die stofstraat terug gestap het: dit is hoe dit moet wees om in God se teenwoordigheid te wees.

Ek sou daarna baie ander ervarings in die kerk hê, ‘n pad stap met wonderlike predikante – di MC Steyn, Jaap Weideman, André Strydom – en wonderlike kategete, en wonderlike lidmate. Maar, daardie eerste ervaring bly my by.

Ek wonder wat was jou eerste ervaring van die kerk? Hoe was dit is? Watter mense het ‘n rol gespeel? Hoe is dit vandag? Wat beteken die kerk vir jou?

Kom ons luister in Handelinge 13  na die mense van Antiogië (Pisidië – Turkye) se eerste ervaring van die kerk. Toe die Here almal wat vir die ewige lewe bestem was deur die prediking van Paulus en Barnabas tot geloof gebring het.

Download English: Receiving Eternal Life

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Wie is God?

Tema: Ontvang die ewige lewe – Handelinge 13:42-52

Somerstrand 09:00 6 Oktober 2019

Verwelkoming

Aankondigings

Toetrede

Lied 175 Majesteit (staan)

Votum en Seëngroet

Lof

Lied 478 v 1, 2 en 4 Op vaste fondamente (staan)

Vonkk 277  v 1, 2 en 3  U is die lig

Toewyding

Lied 532 v 1, 2 en 3  Ons Vader, neem ons hande (sit)

Kindertyd

Wie van julle hou van reis? Waarheen was julle al? Was dit lekker?

Paulus het ook gehou van reis. Hy wou vir al die mense van die wêreld vertel van Jesus.

Skyfie 1

Op sy eerste reis, het hy met ‘n boot gevaar tot by Turkye.

Skyfie 2

Daar het hy te voet gereis tot by ‘n stad Antiogië.

Hy wou die Jode daar van Jesus vertel.

Skyfie 3

Hy het by die sinagoge – dit is wat die Jode hulle kerk in ‘n stad noem – gevra of hulle oor Jesus kan praat.

Die Jode het hulle uitgenooi om ‘n boodskap te bring

Skyfie 4

Almal het na hulle geluister.

Die hele week deur het hulle met Paulus-hulle gepraat oor die Jesus.

Die volgende Sabbatdag het die hele stad opgedaag.

Almal wou van Jesus hoor.

Paulus-hulle het vertel dat Jesus die Verlosser is. Dat Hy ons sondes vergewe. Dat Hy vir ons die ewige lewe gee.

Weet julle wat die ewige lewe is?

Skyfie 5

Maar, van die Jode wou niks weet van Jesus nie.

Hulle het Paulus-hulle uitgejaag uit die sinagoge.

Weet julle wat doen Paulus toe?

Hy het gesê, as julle nie van Jesus wil hoor nie, gaan ek nou verder reis.

Ek gaan vir al die mense van die wêreld vertel van Jesus.

Skyfie 6

Hy het die stof van sy voete afgeskud en na die volgende stad gegaan.

Dit is hoe ons die boodskap gehoor het.

Ons kan nou ook die ewige lewe kry. As ons in Jesus glo.

Dankoffers

Voorbidding

Skriflesing en prediking

Handelinge 13:42-52 – Ontvang die ewige lewe

My eerste herinnering van die kerk was in die pastorie van ‘n predikant.  Ek was afwesig toe die sertifikate vir die eerste jaar Sondagskool by die kerk uitgedeel is.  Daarvan onthou ek nie veel nie. Maar, my ma het my gestuur om my sertifikaat te gaan haal by ds Leuvenink in die pastorie op Vredendal.  Alleen.  Net ses jaar oud.  Ek onthou die huiwering by die hekkie; die ontsag wat sy lengte by my ingeboesem het toe hy die deur oopmaak; die gasvryheid van die koeldrank wat hy vir my ingeskink het; die blywende indruk toe ek in die stofstraat terug gestap het: dit is hoe dit moet wees om in God se teenwoordigheid te wees.

Ek sou daarna baie ander ervarings in die kerk hê, ‘n pad stap met wonderlike predikante – di MC Steyn, Jaap Weideman, André Strydom – en wonderlike kategete, en wonderlike lidmate. Maar, daardie eerste ervaring bly my by.

Ek wonder wat was jou eerste ervaring van die kerk? Hoe was dit is? Watter mense het ‘n rol gespeel? Hoe is dit vandag? Wat beteken die kerk vir jou?

Agtergrond

Paulus was ‘n kerkplanter van formaat. Ons lees gewoonlik sy briewe en vier die impak wat sy briewe op ons leer en lewe het. Maar, die briewe was ‘n gevolg van sy Kerkplanting. Hy het die wêreld deur gereis om oral waar hy kom die evangelie te verkondig en gemeente agter te laat. Lewende geloofsgemeenskappe.

So kom Paulus-hulle op hulle eerste sendingreis in die vroeë vyftigerjare van die eerste eeu in Antiogië in Pisidië (Turkey). Op die sabbatdag het hulle in die sinagoge – ná die voorlesing uit die wet en die profete – die evangelie verkondig.

Paulus preek

Paulus se preek het vier hoofpunte gehad:

  1. Paulus kies om dié dag by die geskiedenis van die Joodse volk aan te sluit en vir hulle ’n oorsig van die geskiedenis van Egipte af na Kanaän te gee. Hy beklemtoon God se verkiesing van hulle as sy volk, en sy verdraagsaamheid met hulle en die gawe van die land.
  2. Daarna het Paulus gepraat oor die leiers wat God hulle gegee het en noem Jesus as die een wat uit die geslag van Dawid gebore is as die Verlosser van Israel, die verwagte Messias.
  3. Hieraan het hy die verhaal van Jesus gekoppel en verduidelik hoe Hy die Verlosser is waarop die volk gehoop het. Maar dat die Joodse leiers in Jerusalem Hom tot die dood veroordeel het. En hoewel Jesus niks verkeerds gedoen het nie, is Hy deur Pilatus om die lewe gebring.
  4. Hy het afgesluit met die feit dat God Jesus uit die dood opgewek het. Jesus het na sy opstanding aan baie mense verskyn. Hierdie mense is nou sy getuies en verkondig die goeie boodskap dat God Jesus uit die dood uit opgewek het. Almal word nou opgeroep om in Hom te glo sodat hulle vrygespreek kan word van alle sondes, met die waarskuwing dat hulle moet oppas om nie God se aanbod van vergifnis te verag nie.

Dit is met hierdie boodskap wat die evangelie sy werk begin doen in Antiogië. Want, ons lees:

Handelinge 13:42-52

42Terwyl hulle die sinagoge verlaat, het die mense vir Paulus en Barnabas gevra om hulle die volgende sabbatdag meer van hierdie dinge te vertel. 43Nadat die sinagoge uit was, het baie van die Jode en van die mense wat vantevore uit die heidendom tot die Jodedom oorgegaan het, saam met Paulus en Barnabas gegaan. Dié het met hulle gepraat en hulle aangemoedig om op die genade van God te bly vertrou.

44Die volgende sabbatdag het byna die hele stad bymekaargekom om die woord van die Here te hoor. 45Toe die Jode die groot opkoms sien, is hulle met afguns vervul en het hulle telkens Paulus se woorde teëgespreek en hom beledig. 46Paulus en Barnabas het reguit vir hulle gesê: “Die woord van God moes eerste aan julle verkondig word. Maar omdat julle dit verwerp en daarmee beslis dat julle die ewige lewe nie werd is nie, gaan ons nou na die mense toe wat nie Jode is nie,

47want so lui die Here se opdrag aan ons:

Ek het U gegee as ’n lig vir die nasies,

sodat U verlossing kan bring tot in die uithoeke van die aarde.” d

48Toe die heidene dit hoor, was hulle baie bly oor die woord van die Here en het hulle dit toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword. 49Die woord van die Here het dwarsdeur die hele streek versprei. 50Maar die Jode het vooraanstaande godvresende vroue en toonaangewende burgers van die stad teen Paulus en Barnabas opgesweep. Hulle is vervolg en uit die streek verdrywe. 51Hulle het toe as gebaar teen die stad die stof van hulle voete afgeskud en na Ikonium toe gegaan. 52Die gelowiges in Antiogië was vol blydskap en vol van die Heilige Gees.

Die evangelie gaan oor grense

Dit is hoe dit werk met die evangelie van Jesus Christus. Oral waar Hy verkondig word, kom geloofsgemeenskappe tot stand. Trouens, dit is die enigste manier waarop die evangelie oor grense kan gaan. As die Here Jesus verkondig word in hierdie wêreld, word nuwe geloofsgemeenskappe gestig.

Die prentjie wat ‘n mens van die kerk in Handelinge kry, toenemend so hier van Handelinge 13 af met die onderskeie sendingreise, is dat die kerk ‘n beweging is wat telkens voortplant deur die evangelie te verkondig waar dit nog nie aangekom het nie.

Dit is ‘n boodskap wat aan alle kulture verkondig word, Jode en Grieke. Die geografiese en sosiaal-maatskaplike grense wat mense van verskillende nasies normaalweg van mekaar skei, word daardeur op ‘n radikale wyse oorgesteek en gerelativeer.

Alle mense van alle kulture is welkom in die koninkryk van God.

Die apostels soek weliswaar die Joodse sinagoge eerste op, soos hulle in Siprus ook gedoen het. Maar, terselfdertyd is die Grieke ook welkom en word hulle aktief ingetrek in die geloofsgemeenskap.

Groot teenstand onder die Jode

Die aanvanklike ontvangs van Paulus se toespraak is positief, en Paulus en Barnabas word uitgenooi om die volgende sabbatdag meer van hierdie dinge te kom vertel. Nie dat die mense kon wag nie. Regdeur die week was daar gesprekke waarin Paulus en Barnabas mense aanmoedig om die Verlosser Jesus te aanvaar en op die genade van God te vertrou.

Die volgende sabbatdag kom daar egter sterk teëstand van die Jode toe hulle die groot opkoms sien. In plaas daarvan om bly te wees dat daar soveel mense in die sinagoge bymekaar gekom het om die woord van die Here te hoor, en die geleentheid aan te gryp om saam te luister, word hulle met afguns vervul – soos die Jode van Jerusalem ook teenoor Jesus gereageer het – en begin hulle Paulus onderbreek in sy verwoording van die evangelie en baie beledigend op te tree.

Paulus en Barnabas laat hulle egter nie afskrik nie, versag nie die boodskap nie, maar spel reguit die konsekwensies van hulle teëstand uit.  Die teenstand van die Jode wys, sê Paulus, dat hulle die ewige lewe nie werd is nie. En hy spel die verdere gevolge van die teenstand uit.

God se verlossing is bedoel vir die uithoeke van die aarde, soos Jesus reeds beveel het (Hand 1:8), en die teenstand beteken dat Paulus en Barnabas nou na nie-Jode gestuur word. En Paulus haal uit Jesaja aan dat die dienaar van die Here, Jesus, as ’n lig vir die nasies verkondig moet word (Jes. 49:6).

Groot blydskap onder die heidene

Die Jode was hieroor nog meer onthuts en sweep die vooraanstaande godvresende vroue – wat met die Joodse geloof geassosieer het – en die toonaangewende burgers van die stad – wat natuurlik die byeenkoms bygewoon het, maar nie deel van die Joodse gemeenskap was nie – op teen Paulus en Barnabas.

Dit is kenmerkend van die vroeë Joodse teenstand teen die evangelie dat die Jode die publieke mening teen die apostels draai as hulle nie die apostels se boodskap uit die Skrif kan troef nie. Hier gebruik hulle heel vernuftig dié mense wat hulle wel met die Joodse geloof assosieer, maar nie regtig in alles die Joodse geloof omarm nie – die godvresende vroue – sowel as die magtiges in die publieke arena – die toonaangewende burgers van die stad.

Deur die vervolging wat ontstaan, word Paulus-hulle verdryf uit die streek – net tydelik blyk dit later, want hulle kom weer terug (Hand 14:21) – en met ’n simboliese gebaar – wat herinner aan wat Jesus as opdrag aan die 70 dissipels gegee het (Lukas 10) – skud hulle die stof van hulle skoene af en vertrek na Ikonium.

Maar, die teenstand van die godvresendes – wat nie die hele boodskap wil aanvaar nie, en die toonaangewendes – wat glad nie deel van die geloof is nie – keer nie die heidene wat die boodskap gehoor het nie. Die heidene reageer met blydskap.

Dié wat – soos Lukas dit sê – vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword.  En met Paulus en Barnabas se vertrek is hulle vol blydskap deur die werk van die Heilige Gees agtergelaat – wat aandui dat agter alles wat hier gebeur het, die Gees besig was om die oortuigingswerk deur hulle boodskap te doen.

Vir die ewige lewe bestem

Die prentjie wat hierdie toespraak vir ’n mens op God se werk in ons gee, is insiggewend.

Let op dat die Jode wat Jesus verwerp hulle eie lot bepaal, soos Lukas dit sê: “’n oordeel (krinô) oor hulleself uitspreek”. Hulle wys daardeur dat hulle die ewige lewe nie werd is nie.  Die heidene wat in Jesus glo, glo weer omdat hulle daarvoor bestem of aangestel (tassô) was: “Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword.”

Wat ‘n mens laat besef, God se werk word sigbaar in die keuses wat mense maak.

Daarmee word as’t ware ’n historiese blik, en nie ’n dogmatiese een nie, gegee op ’n tergende teologiese probleem. Hoekom Israel, die Godsvolk, die evangelie teenstaan, en die heidene dit aanvaar. Later in die brief aan die Romeine sou Paulus verder ook dogmaties hieroor reflekteer (Rom 9-11).

Dit is die uitverkiesing

Die prentjie wat ‘n mens hier dus van die uitverkiesing kry, is dat God self deur die prediking van die evangelie sy kerk versamel.

  • Dit is sy werk dat mense glo en die boodskap van die ewige lewe ontvang.
  • Dit is mense se werk dat hulle die boodskap verwerp.

Die uitverkiesing is dus nie net ‘n statiese dogmatiese konsep nie. Dit is ‘n dinamiese proses wat letterlik in die loop van die verkondiging van die evangelie uitspeel.

Wat vir ons die boodskap oordra: dít is hoe die kerk tot stand kom. Deur die verkondiging van die evangelie. Deur die uitverkiesing. Jy ontvang die ewige lewe uit die hand van God.

Elkeen wat die boodskap hoor, is daarom deel van die kerk. Want hulle is uitverkies.

En soos Paulus en Barnabas, is ons ook geroepe om seker te maak dié boodskap by elke mens op hierdie aarde uitkom. Sodat die uitverkorenes in geloofsgemeenskappe tot hulle reg kan kom.

Wat my bring by die vraag na die kerk.

Wat is die Christelike kerk?

En my antwoord is, onder andere op grond van hierdie boodskap uit Handelinge 13:

Die Christelike kerk word deur God uit die hele menslike geslag tot die ewige lewe uitverkies, beskerm en onderhou.

Dit is wat die kerk is. Dit is God se skepping. Dit sluit alle mense in wat in Hom glo. Hulle ontvang die ewige lewe uit die hand van God. En God hou die kerk in stand.

Hoe raak ek deel daarvan?

Deur wedergeboorte en geloof behoort ek aan die een, heilige, algemene en apostoliese kerk, die liggaam van Christus.

Die kerk is die vergadering van wedergebore gelowiges. Dit is die mense wat in Christus glo en wat deur Hom aan God verbind word. Wat die ewige lewe uit sy hand ontvang.

Wat vra van God dan van ons as kerk?

Twee goed:

Alle gelowiges is verplig om plaaslik daarby aan te sluit om die Here saam te aanbid.

God stuur die kerk om die evangelie te verkondig in getuienis en diens.

  1. Almal van ons moet ons deel hier in die geloofsgemeenskap doen.
  2. Almal van ons moet sorg dat die evangelie verder verkondig word – deur ons getuienis, en deur ons diens.

Dit is wat die geloofsbelydenisse ons ook leer.

Nederlandse Geloofsbelydenis 27

DIE ALGEMENE CHRISTELIKE KERK

Ons glo en bely ‘n enige katolieke of algemene kerk, ‘n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees. Hierdie kerk was daar van die begin van die wêreld af en sal tot die einde daar wees, want Christus is ‘n ewige Koning, wat nooit sonder onderdane kan wees nie.

En hierdie heilige kerk word deur God teen die woede van die hele wêreld bewaar, alhoewel dit soms ‘n tyd lank baie klein is en dit in die oë van die mense lyk asof dit tot niet gegaan het – soos die Here vir Hom gedurende die gevaarlike tyd onder Agab sewe duisend mense bewaar het wat nie voor Baäl gekniel het nie.

Verder is hierdie heilige kerk nie geleë in, gebonde aan of bepaal tot `n sekere plek of sekere persone nie, maar is die oor die hele wêreld versprei en verstrooi. Tog is dit met hart en wil en deur die krag van die geloof in een en dieselfde Gees saamgevoeg en verenig.

Ps. 46:6; Jer. 31:36; Ps. 102:14; Matt. 28:20; 2 Sam. 7:16; Luk. 1:32; Ps. 89:37; 110:4; Gen. 22; Rom. 11; 1 Kon. 19:18; 2 Tim. 2:19; Luk. 17:21; Matt. 11:25; Hand. 4:32; Ef. 4:4; 1 Pet. 3:20; Gen. 22:18; Matt. 16:18; Jes. 1:9; Rom. 9:29; ]oël 2:32; Hand. 2:21.

Nederlandse Geloofsbelydenis 28

ELKEEN IS VERPLIG OM BY DIE WARE KERK AAN TE SLUIT

Ons glo – aangesien hierdie heilige vergadering ‘n versameling is van hulle wat verlos word en daarbuite geen saligheid is nie – dat niemand, wat sy stand en status ook al is, hom in selftevredenheid van hierdie vergadering afsydig mag hou nie; inteendeel, almal is verplig om daarby aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar deur hulle almal – as lede van een en dieselfde liggaam – aan sy leer en tug te onderwerp, die nek onder die juk van Jesus Christus te buig en volgens die gawes wat God aan elkeen gegee het, die broers in die opbou van hulle geloof te dien.

En om dit beter te kan doen, is dit volgens die Woord van God die plig van alle gelowiges om hulle af te skei van hulle wat nie aan die kerk behoort nie, en hulle by dié vergadering aan te sluit, waar God dit ook al gevestig het, selfs al sou regerings en wette van regeerders daarteen wees en daarvoor die dood- of lyfstraf oplê. Daarom handel almal wat hulle van hierdie ware kerk afskei of nie daarby aansluit nie, in stryd met die bevel van God.

Ps. 5:6; 22:23; Ef. 4:12; Heb. 2:12; Matt. 24:28; Jes. 49:22; 52:11-12; Hand. 4:17, 19; Heb. 10:25; Op. 17:2; Hand. 17:7; 18:13.

Appèl

Dit is die grootste voorreg om aan die kerk van die Here Jesus Christus te behoort. Dit is die geloofsgemeenskap van dié wat vir die ewige lewe bestem is. Wat glo, omdat God dit in hulle hart gewerk het.

Dit is tegelykertyd oor die grootste verantwoordelikheid van jou lewe. Niks en niemand moet jou van die kerk en die rol wat jy speel in hierdie plaaslike gestalte van die kerk weghou nie.

En óns almal saam is verantwoordelik om soos ‘n Paulus en Barnabas die boodskap die wêreld in te dra, na die stede van hierdie wêreld, na die mense van hierdie wêreld, totdat almal die boodskap gehoor het.

Eers dán sal ons in ons doel slaag, as almal die boodskap kon hoor. Eers dán sal die einde kom.

Gebed

Slotlied

Lied 488 v 1 tot 5 Helder skyn ons lig vir die nasies (staan)

Respons

Lied 189 Halleluja!

 

d Vgl. Jes. 49:6

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.