DIXIT DEUS – God se vernuwende pad deur dissipelskap – 2025
Puik. Skitterend. Indrukwekkend. So reageer Francois se W.A.T. as jy die woord-raaispel, Wortel, vinnig kon voltooi het. As jy egter flop… Ontwortel! Wel, dít voel maar vrotterig, nè?
Deur van hierdie ervarings te lees, kan jy dink hoekom woorde ’n baie sterk gevoelswaarde het. Soos bv. sukses, wat daarenteen, sommer baie lekker kan voel en selfs soet sal smaak!
In “Beleef God” vra Henry Blackaby watter eienskap van God het jy oor die jare heen ondervind, dra ‘n spesiale waarde vir jou. Dalk Sy liefde? Of Sy alwetendheid – omdat jy wis, soms voor jy sou vra, dat Hy sou weet? Of die vrede in Sy teenwoordigheid – wat dan ook mense, daaglikse voorvalle en geleenthede Godsvallig maak, want niks is tog meer vir jou toevallig nie? Of God se trou, wat vir jou innerlike betekenis en ‘n gevoelswaarde kan hê, wat selfs “hemels” kan voel?
Inderdaad. Woorde dra emosies. Wanneer jy fyn na God in sy Woord luister, kan jy vir seker weet dat dit ’n kragtige en wesenlike uitwerking op jou lewe sal hê. En as jy rêrig ernstig na Hom roep en soek, kom Hy in Sy alwysheid jou uitnodigend tegemoet, en leer jy Sy wil en Sy pad vir jou ken.
God antwoord onlangs op Sy roeping en seën ons met ’n vars, besielende visie vir die handel-en-wandel vir vernuwende kleingroepe soos Dixit Deus. (Latyn vir “God praat”.) God self is nou die Hoofkarakter en wil met elkeen deur sy Woord praat; en ja, luister is belangrik! As jy in eenvoud die Bybel lees, kan jy ’n dieper verstaan van God kry en Sy werklikheid elke dag meer raaksien. En wanneer jy Sy woorde verinnerlik, bou jy besielend – deur voortgaande verdieping – aan ’n intieme verhouding met jou Vader. Juis dít is van die kern-aspekte van geestelike groei in kleingroepe.
Gordon McDonald en Adele Calhoun se boeke oor geestelike gewoontes (ook dissiplines, ritmes en beginsels genoem) help ons om dit op verrassende wyses te kan bemeester. Dit dra by tot ons emosionele welstand en veral ’n groeiende besef van wie God is en wil wees. Ons ondersteun mekaar om mettertyd sulke gewoontes as gewone ritmes in ons lewenstyle te kan vestig!
Dixit Deus is vir elkeen wat ’n geestelike afplatting ervaar, ’n ander geestelike tuiste soek, of wat ‘n behoefte het aan ’n nuwe lewensvisie. Òf, as jy ’n ware soeke na die HERE God self het, kom gerus mee op hierdie pad van Hom. Dissipelskap help elkeen om immer saam met Jesus te stap.
Verder kan jy op ‘n dag ’n hoogs uitsonderlike aha-oomblik ervaar, sodat jy saam met Job (42:4) sal getuig: “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê. Maar nou het ek U self gesien.”
Dit is op die heilige grond van sy Goddelike teenwoordigheid waar God se seën jou deel word in ’n unieke, lewensveranderende belewenis; ’n nuwe avontuur. Verruklik. Groots. Subliem-hemels!
Liefdevolle seëngroete in Christus!
Mariette Rossouw (Januarie 2025)
Hoe goed ken jy die storielyn van Jesus? Kan jy en jou kinders die verhale van sy geboorte en kinderjare een na die ander vir mekaar vertel? Hier is ‘n boek wat jou gaan help om die storielyn van Jesus onder die knie te kry. Die verhale van Jesus se geboorte en kinderjare is kronologies gerangskik. Maak vir julle ‘n Adventskrans met vyf kerse (instruksies ingesluit). Steek elke dag ‘n kers aan en lees die geboorte en kinderverhale van Jesus saam met jou kinders. Daar is ‘n teks vir elke dag van Sondag 29 November tot en met Kersdag, Vrydag 25 Desember. ‘n Maklike kindvriendelike vertaling is ingesluit met vrae vir bespreking en voorstelle vir ‘n Adventskalender met ‘n daaglikse verrassing vir jou kinders (jy sal dit vooraf moet regkry!). Skep vir jou kinders opnuut die verwagting van die Koms van die Kind van God. Jesus is sy grootste Kersgeskenk aan ons.



