Sola Scriptura – Alleen die Skrif

Ek dink min van ons weet vandag presies hoe ‘n radikale idee die belydenis Sola Scriptura was en is.

Die radikaliteit lê natuurlik alreeds in die taal.  Sola beteken Alleen.  In kombinasie met Scriptura beteken Sola Scriptura daar is niks, en daar mag niks langsaan of bo-oor die Skrif wees nie.  Sola Scriptura sê daar is nie ‘n hoër gesag as die Skrif, en die Skrif Alleen nie.  En onthou, Scriptura beteken die Skrif, die geskrewe Woord van God.  Scriptura beteken dus die Bybel in al sy onderdele sowel as in sy geheel.

As jy dus sê Sola Scriptura beteken dit dat jy akkoord gaan dat ‘n mens die Bybel alléén gebruik om God se wil uit te lê. Dit is wat die taal sê.  Sola Scriptura is nie prima Scriptura nie. D.w.s., ek lees nie eers die Bybel en dan ook ander menings oor wat vir leer en lewe belangrik is nie, soos sommige teoloë dit vandag doen nie (Scott McKnight bv.).  Ek lees nét die Skrif om agter te kom wat God wil of wat Hy nie wil nie.

Hier volg die hele erediens:

Verwelkoming

Toetrede

Lied 253 U het die brood gebreek eens by die meer – sit

Votum en Seëngroet

Lofsang

Vonkk 341:1 Sola Scriptura! God se Woord is deur die Gees geïnspireer – staan

Lied 255 Woord van God, Woord van die lewe – staan

Lied 442 Koor Gees van God, breek die Woord vir my

Die Tien Gebooie

1) Jy mag nie nog ander gode buiten God aanbid nie.  2) Jy mag nie vir jouself afgode maak en hulle aanbid nie.  3) Jy mag nie die Naam van God sonder respek gebruik nie.  4) Jy moet die rusdag vir God vier.  5) Behandel jou ouers met respek.  6) Moenie mense doodmaak nie.  7) Moenie egbreuk pleeg nie.  8) Moenie iets steel nie.  9) Moenie valse verklarings aflê nie. 10)  Moenie afgunstig raak nie.

Verootmoediging

God verwag van my dat ek God sal liefhê bó alles en my naaste soos myself.  Wat God verbied, mag ek nooit doen nie.  Wat God gebied, moet ek altyd doen.  God verwag persoonlike, volkome, noukeurige en volhardende gehoorsaamheid aan die wet.  Die wet is in ooreenstemming met die genade van die evangelie.  Die Gees van Christus stel my in staat om te voldoen aan die vereistes van die wet.

Kindertyd

Ek wil vir julle die verhaal van Josua vertel.  Hy het saam met Moses in die woestyn na die beloofde land Kanaän getrek.  Die Here het wonderlike dinge vir hulle in die woestyn gedoen.  God het vir hulle manna gegee, kos om te eet, soms kwartels vir vleis.  Elke dag was daar die wolk wat vir hulle gesê het die Here is by hulle.  Elke nag het dié wolk van vuur gegloei sodat hulle kon weet die Here is by hulle.  En die Here het met Moses gepraat soos wat ons nou praat.  Hulle het ‘n wonderlike verhouding gehad.

Maar, ons lees dat Josua baie graag net só ‘n wonderlike verhouding met die Here wou gehad het. Elke keer wat Moses in die Tabernakel ingegaan het, dit is die tent waar die Here aan hulle verskyn het, dan het Josua opgewonde daar gewag. Hy wou só graag die Here direk ervaar soos Moses dit ervaar het.  Een keer het Josua selfs in die Tabernakel weggekruip.  Toe Moses uit is, het hy agtergebly om te kyk of Hy nie ook met die Here kan praat soos Moses nie.

Maar, néé.  Dit het nie gebeur nie.

Hoekom nie?  Want die Here wou anders met Josua werk.  Hy wou vir Josua iets in die hand gee, iets wat Josua kan gebruik, selfs al kan hy God nie sien nie, en selfs al was daar nie meer ‘n wolk of ‘n gloeiende vuur nie.  Hy het vir Josua ‘n boek gegee, die begin van die Bybel met die Tien Gebooie daarin, en ‘n klomp ander verhale en voorskrifte, al die woorde van God, sodat Josua presies kon weet wat om te doen.

Want die Here het ‘n groot werk vir Josua gehad.  Hy moes die volk in die beloofde land Kanaän invat.  En Hy moes die mense leer hoe om die Here te dien.  En Josua moes nie sy eie woorde daarvoor opmaak nie. Hy moes die volk leer wat God wil.

Daarom lees ons in Josua 1:8, toe Josua voor die Jordaan staan, en hulle die land moet intrek dat die Here aan hom verskyn en vir hom sê:

Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.” (Jos. 1:8).

Daardie wetboek het die Bybel geword.  Elke koning het later ‘n Bybel gehad.  Die profete en die priesters het die volk geleer uit die Bybel uit, sodat alle mense, volgens die Bybel, en volgens die Bybel Alleen kon leer en leef.

En só was dit deur die eeue.  Jesus het die Bybel gelees.  Die eerste gelowiges het die Bybel gelees.  Dit was uit dié Bybel wat hulle die boodskap van Jesus aan die wêreld gaan verkondig het.

Die Bybel is dus God se Boek vir ons, soos dit vir Josua was, soos dit vir Jesus was, soos dit vir die kerk deur die eeue was.

Lied 550 Twee ogies om Gods werk te sien – sit

Gebed

Skriflesing

Matteus 4:1-11

1 Hierna is Jesus deur die Gees die woestyn ingelei om deur die duiwel versoek te word. 2 Vir veertig dae en veertig nagte het Hy gevas, en later honger geword. 3 Die versoeker kom toe nader en sê vir Hom: “As jy die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode moet word.” 4 Maar Jesus antwoord: “Daar staan geskryf,  “ ‘Die mens leef nie net van brood nie,  maar van elke woord  wat uit die mond van God kom.’ ”  5 Toe neem die duiwel Jesus na die heilige stad en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan 6 en sê vir Hom: “As jy die Seun van God is, spring hier af! Daar staan immers geskryf,  “ ‘Wat jou betref, Hy sal sy engele opdrag gee  en hulle sal jou op hulle hande dra,  sodat jy nie dalk jou voet teen ‘n klip stamp nie.’”  7 Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskryf, ‘Jy mag die Here jou God nie versoek nie.’”  8 Hierna neem die duiwel Hom na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld in hulle prag, 9 en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir jou gee, as jy neerkniel en my aanbid.” 10 Toe sê Jesus vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskryf,  “ ‘Die Here jou God moet jy aanbid  en Hóm alleen dien.’”  11 Toe het die duiwel Hom met rus gelaat, en kyk, daar het engele gekom en Hom versorg.

Prediking

Sola Scriptura – Alleen die Skrif

Sola Scriptura is radikaal

Ek dink min van ons weet vandag presies hoe ‘n radikale idee die belydenis Sola Scriptura was en is.

Die radikaliteit lê natuurlik alreeds in die taal.  Sola beteken Alleen.  In kombinasie met Scriptura beteken Sola Scriptura daar is niks, en daar mag niks langsaan of bo-oor die Skrif wees nie.  Sola Scriptura sê daar is nie ‘n hoër gesag as die Skrif, en die Skrif Alleen nie.  En onthou, Scriptura beteken die Skrif, die geskrewe Woord van God.  Scriptura beteken dus die Bybel in al sy onderdele sowel as in sy geheel.

As jy dus sê Sola Scriptura beteken dit dat jy akkoord gaan dat ‘n mens die Bybel alléén gebruik om God se wil uit te lê. Dit is wat die taal sê.  Sola Scriptura is nie prima Scriptura nie. D.w.s., ek lees nie eers die Bybel en dan ook ander menings oor wat vir leer en lewe belangrik is nie, soos sommige teoloë dit vandag doen nie (Scott McKnight bv.).  Ek lees nét die Skrif om agter te kom wat God wil of wat Hy nie wil nie.

Sola Scriptura is die enigste maatstaf vir leer en lewe

Dit het deurslaggewende implikasies vir ons leer en lewe.  Sola Scriptura beteken die Bybel is die enigste maatstaf wat vir leer en lewe aangewend kan en mag word.  As jy nie die band van jou standpunt na die Skrif toe kan aandui nie, as jy nie jou standpunt oor leer en lewe baseer op die Skrif nie, en op die Skrif Alleen nie, is jy nie meer met Sola Scriptura besig nie.

En dit is net so radikaal as wat dit klink.  Sola Scriptura is glad nie ‘n konserwatiewe standpunt nie.  Want selfs konserwatiewes het baie keer ‘n probleem om Sola Scriptura te sê, want dit is soms net té ‘n radikale idee!  Dit is verseker ook nie liberaal nie.  Sola Scriptura gooi beide die konserwatiewe as die liberale appelkarre om.

As jy sê Sola Scriptura, dan sê jy daar is niks in ons tradisie of in die kerk se leerstellings deur die eeue wat die Bybel kan troef as maatstaf vir leer en lewe nie.  Niks.  Nooit nie.  Sola Scriptura.

Wat van die algemene openbaring?

Jy kan die radikaliteit hiervan bestry of versag deur te wys na die algemene openbaring.  God maak Homself bekend in die skepping van tyd, ruimte en materie, soos Genesis 1 dit sê.  En talle Psalms.  En, natuurlik is dit só dat God op talle maniere Homself in hierdie wêreld aan ons bekend maak.  Die skepping is soos ‘n mooi boek waarin ons die spore van God kan sien.

Maar die belydenis van Sola Scriptura sê daardie getuienis van God is ondergeskik aan die Skrif wat Hy self vir ons gegee het.  Die kennis wat ons van God en van ons saligheid in die skepping agterkom, is ondergeskik aan die kennis wat ons van God in die Skrif kan opdoen.  Dit is die Skrif, en die Skrif Alleen wat nuttig is “tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid.” (2 Tim. 3:16).

Wat van die ander solas?

Jy kan die radikaliteit hiervan ook bestry deur te wys daarop dat Sola Scriptura net een van die vyf solas van die Hervorming is.  Daar is mos ook Solus Christus, en Sola Gratia, en Sola Fide, en Soli Deo Gloria.  Ja, tereg.  Sola Scriptura is net een van die Solas.  En die Solas vorm ‘n eenheid.

Maar, dan het jy die radikaliteit eintlik verhoog!  Want, die Solas is nie in stryd met mekaar nie.  Die Solas beklemtoon saam die waarheid van hoe ‘n verhouding met God werk, sonder om die boodskap van die onderdele te verswak.

  • Ons saligheid is net in Christus te vinde, Solus Christus. Daar is nie ‘n ander een waardeur ons in die regte verhouding met God kan kom nie.  Dit is so.
  • Ons kan die saligheid net aanvaar deur geloof, Sola Fide. Ons werke is belangrik as ‘n reël van dankbaarheid, maar op geen manier ‘n pad na God nie.  Die saligheid kom deur geloof, Sola Fide.  Dit is so.
  • Dit beteken uiteraard dat ons saligheid net deur die genade van God kom, Sola Gratia. Alle mense het gesondig en dit ontbreek hulle die heerlikheid van God. Dit is slegs omdat Hy ons genadig is in Christus, dat ons die saligheid kan beërwe.  Dit is so.
  • En daarom leef ons Sola Deo Gloria, net tot die eer van God. Dit is so.

Maar, die radikaliteit is: Sola Scriptura staan sentraal in die formulering van al die ander Solas!

  • Hoe weet jy die saligheid net in Christus te vinde is? Slegs deur die Skrif.
  • Hoe weet jy dat hierdie saligheid deur die geloof aanvaar kan word? Slegs deur die Skrif.
  • Hoe weet jy dat God in Christus jou genadig wil wees? Slegs deur die Skrif.
  • Hoe weet jy dat ons tot God se eer alleen moet leef? Slegs deur die Skrif.

Sonder die Skrif sou jy nie die ander Solas gehad het nie.  Natuurlik is Sola Scriptura net ‘n kanaal vir Christus se genade om deur die geloof jou tot die eer van God te beweeg.  En het jy Sola Fide nodig om Sola Scriptura te kan bely, want dit is ‘n geloofstandpunt.  En só ook die ander Solas.  Hulle is nodig om die geheelprent te kan raaksien.

Maar daar is nie ‘n ander openbaring van God wat met die Skrif vergelyk kan word nie.  Dit is Sola Scriptura. Alleen die Skrif.

Die Woord van God kom na ons toe in die vorm van ‘n boek

Hierdie herontdekking van die Woord van God bo alle aardse magte het Luther gevorm en die hele Hervorming.  Dit was een van die groot herontdekkings van die Hervorming – veral van Maarten Luther – dat die Woord van God na ons toe kom in die vorm van ‘n boek, die Bybel.

Luther het hierdie kragtige feit verstaan: God bewaar die ervaring van verlossing en heiligheid van geslag tot geslag deur middel van ‘n boek van openbaring, nie deur ‘n biskop in Rome nie, nie deur ‘n besluit van ‘n sinode nie.  En dit was radikaal!  Dit was ook die pynlike risiko van die Hervorming, want dit het beteken dat die gesag van die pous verwerp is, saam met al die uitsprake van die kerk.  Die Bybel, en die Bybel Alleen, was die onfeilbare, finale gesag van die kerk.

Wat nuut was in Luther,” sê Heiko Oberman, “was die idee van absolute gehoorsaamheid aan die Skrif teen enige owerheid in; of hulle pouse of konsilies was.” (Luther: Man between God and the Devil, 204).  Hierdie herontdekking van die Woord van God bo alle aardse mag of gesag het Luther gevorm en die hele Hervorming.

Hoe dan anders?!  Dit is toe Luther die Skrif Alleen begin bestudeer het dat Hy die genade van God in Christus ontdek het, dié genade wat hom vrygemaak het van die toorn van God.  Luther skryf oor sy lees van Romeine 1 oor God se geregtigheid:

Uiteindelik, is ek, deur die genade van God, terwyl ek dag en nag gemediteer het, getref deur die konteks van die woorde, naamlik: ‘Hierin word die geregtigheid van God geopenbaar, soos geskrywe is: ‘Wie deur die geloof regverdig is, sal lewe.’ … En dit is die betekenis: die geregtigheid van God word deur die evangelie geopenbaar, naamlik die passiewe geregtigheid waarmee die barmhartige God ons regverdig verklaar deur die geloof, soos geskrywe is: Hy wat deur die geloof regverdig is, sal lewe.

Hy besing die genade van hierdie insig in die Woord: “Hier het ek gevoel dat ek heeltemal wedergebore was en die paradys self deur oop hekke ingegaan het.

Hoekom is dit so belangrik?  Ek wil na drie redes kyk.  Elkeen in God self gefundeer.

1.  Die Bybel is God se Boek

Sola Scriptura is belangrik, omdat die Bybel God se Boek is.

Die verhaal van Josua is hierin ‘n helder voorbeeld vir ons.  Hy wou só graag die Here direk ervaar soos sy mentor Moses dit ervaar het.  Hy het selfs in die Tabernakel weggekruip as Moses uit is, om te kyk of dit nie vir hom beskore sou wees nie (Eks. 33:11).  Maar, néé.  Telkens het die Here vir Josua gewys op die Skrif, die verhale wat Moses juis vir Josua begin opskrywe het, die wet wat met al sy voorskrifte, gebaseer op die twee tafels wat met God se eie hand geskrywe is, begin gestalte kry het.

En as Josua voor die Jordaan staan, aan die voorhand van die Intog in die beloofde land, dan verskyn die Here wel aan Josua, maar net om vir hom te sê: “Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.” (Jos. 1:8).

Selfs die konings het ‘n kopie van die wet gekry, dit is waarvan die naam Deuteronomium af kom, die “tweede wet”, sodat alle leiers, die godsdienstiges en die koninklikes, volgens die Skrif, en volgens die Skrif Alleen kon leer en leef.

En só was dit deur die eeue.  Die eerste kerk het met dieselfde Bybel gewerk as die Jode van hulle tyd.  Want, dit was dié Bybel wat vir hulle die bediening van die Here Jesus bevestig het.  Dit was uit dié Bybel wat hulle die boodskap van Jesus aan die wêreld gaan verkondig het.

Die Bybel is dus God se Boek vir ons, soos dit vir Josua was, soos dit vir Jesus was, soos dit vir die kerk deur die eeue was.

2.  Die Bybel is Jesus se boek

Sola Scriptura is belangrik, omdat die Bybel Jesus se Boek is.

As Jesus die woestyn ingelei word om deur die duiwel versoek te word, dan is dit die Skrif wat sy vaste grond is, die kennis van God waarmee Hy die duiwel self kan troef.

Jesus haal drie keer uit Deuteronomium aan, al drie keer uit die tweede preek van Moses, om die Satan se versoekings in die woestyn te weerstaan.  Dit was duidelik ‘n boek wat Hy gememoriseer het en waaruit Hy geleef het:

  • Met die eerste versoeking van die Satan om Jesus sy mag te laat misbruik om brood van klippe te maak, haal Jesus uit Deuteronomium 8:3 aan om die versoeking te troef: “Daar staan geskrywe: ’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.” (Matt. 4:4; Luk. 4:4).
  • Met die tweede versoeking van die Satan om Jesus die beloftes van God te laat misbruik om van ‘n toring af te spring, haal Jesus uit Deuteronomium 6:16 aan om die versoeking te troef: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.” (Matt. 4:7; Luk. 4:12).
  • Met die derde versoeking van die Satan om Jesus ‘n kortpad tot die koninkryk te laat kies deur die Satan te aanbid, haal Jesus uit Deuteronomium 6:13 aan om die versoeking te troef: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” (Matt. 4:10; Luk. 4:8).

En só was dit regdeur sy bediening.  Telkens kom ‘n mens agter dat die Bybel sy hele lewe gestruktureer het.

  • Elke detail van die wet van God, soos dit in die eerste vyf boeke opgeteken is, het Hy nagekom. Hy het nie ‘n enkele wet van God oortree nie.  Nie een nie.  Anders sou Hy ons nie kon vrymaak van die wet nie.  Hy het wel die mensgemaakte reëls deurbreek en vir die Fariseërs bv. gewys dat hulle reëls vir die Sabbat gemaak het wat nie in die Skrif staan nie, en daarom nie nagekom hoef te word nie.  Maar Hy was nooit ongehoorsaam aan ‘n enkele stukkie van die wet nie.
  • Sy roeping het Hy in die Skrif gekry, uit Jesaja, soos Hy in Nasaret verkondig het (Luk. 4).
  • Hy het die Psalms ingedrink en dit só deel van sy woordeskat gemaak dat in die pyn van die lydingsweg Hy sy eie emosie met die woorde van die Bybel verwoord het. “My God, my God, waarom het U my verlaat …” uit Psalm 22 (Matt. 27:36).
  • En selfs ná sy opstanding as die Emmausgangers traag is om sin te maak van al die gebeure in Jerusalem, dan maak Hy hulle oë oop om die Skrif te verstaan sodat hulle uiteindelik vir Hom kan herken. En Hy gebruik die hele Bybel – die wet, die profete en die Psalms – want dit is dié Bybel wat oor Hom geskrywe het, het Jesus vir hulle gesê (Luk. 24).

Die Bybel was Jesus se Boek.  Soos dit God se Boek was.  Soos dit ons Boek is.

3.  Die Bybel is die Gees se boek

Maar dit is nie al nie.  Sola Scriptura is nie net belangrik, omdat die Bybel God se Boek is nie.  Sola Scriptura is nie net belangrik, omdat die Bybel Jesus se Boek is nie.  Sola Scriptura is ook belangrik, omdat die Bybel die Gees se Boek is.

Petrus is helder daaroor dat die Skrif deur die Gees geïnspireer is, dat wat ons wit op swart het – weliswaar die pennevrug van gewone mense – woorde is wat die Gees geïnspireer het (2 Pet. 1:21).  Die Skrif is daarom die swaard van die Gees, soos Paulus daaroor skrywe, ‘n boodskap waarmee Hy sy werk doen in ons lewens (Ef. 6:17). Soos die Hebreërskrywer daaroor skryf:

12 Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes. 13 Ja, niks wat geskape is, is vir Hom verborge nie, maar alles is oop en bloot voor sy oë. Dit is Hy teenoor wie ons ons moet verantwoord.” (Hebr. 4:12-13).

In die Gees se hande is die Skrif lewend en kragtig.  Want die Bybel is sy Boek.  Die boodskap daarvan dring deur tot in die diepste binneste van ons menswees en help ons om ons hart se voornemens en gedagtes te kan beoordeel.

Daar is niks vir God verborge in ons harte nie.  En deur sy Woord help die Gees ons om ook die verborge dinge van ons hart agter te kom sodat ons in die lig kan wandel en aan Hom in alles gehoorsaam kan wees.

Hier het Luther gestaan en hier staan ons

Ons vier dus vandag Sola Scriptura.  Ons verbind ons daaraan om hierdie Boek te lees, om geen ander geskrif daarmee gelyk te stel nie, om geen mens se idees oor God en die lewe gelyk te stel met die Bybel nie.

Soos Maarten Luther in 1545, die jaar voor sy dood, kragtig gesê: “Laat die man wat God wil hoor praat die Heilige Skrif lees. Hier alleen, in die bladsye van die Bybel praat God met die finale gesag. Hier alleen, berus beslissende gesag. Van hier af alleen kom die gawe van God se geregtigheid na die hel-gebonde sondaars.

Hy het dít geleef waartoe hy ander aangespoor het. Hy het in 1533 alreeds geskryf: “Vir ‘n aantal jare het ek nou twee keer per jaar deur die Bybel gelees. As die Bybel ‘n groot, magtige boom was en al sy woorde klein takke was, het ek by al die takke aangeklop, gretig om te weet wat daarin was en wat dit kan aanbied.” (What Luther Says: An Anthology, 1, 83). Hy het dit vir meer as tien jaar volgehou.

Die Bybel het vir Luther meer begin beteken as al die kerkvaders en kommentators daarop se werke saam.

Hier het Luther gestaan en hier staan ons. Nie op die uitsprake van pouse, of die besluite van sinodes, of die winde van populêre opinie nie, maar op: “daardie woord bo alle aardse magte” – die lewende en blywende woord van God soos ons dit in die Skrif het.  Sola Scriptura.

Gebed

Dankoffer

Lied 358 Koor Somerkersfees  (Ons kyk vooruit na Advent en Kersfees)

Slotlied

Lied 524 God roep ons om met woord en daad vir Hom te leef en werk – staan

Seënbede

Respons

Lied 524 (laaste vier reëls) Hy kies, bewaar en onderhou; Hy inspireer en bou.  Geloof wat deur die liefde werk, hou aan, bly groei, maak sterk – staan

     

Trackback from your site.

Comments (2)

  • Avatar

    Diederiks van Zyl

    |

    Baie dankie vir hierdie preek oor die “Solas”, veral “Sola Sriptura”.

    Reply

    • Avatar

      Chris van Wyk

      |

      Hi Diederiks, ek het self dit nou weer gelees. Dit is darem net só fundamenteel tot ons hele verstaan van die werklikheid. Ek is só dankbaar dat ek die waarheid ontdek het. Seën vir jou!

      Reply

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Diederiks, ek het self dit nou weer gelees. Dit is darem net só fundamenteel tot ons hele verstaan van die werklikheid. Ek is só dankbaar dat ek die waarheid ontdek het. Seën vir jou!

  • Avatar

    Diederiks van Zyl

    |

    Baie dankie vir hierdie preek oor die “Solas”, veral “Sola Sriptura”.

  • Avatar

    Rethie van Niekerk

    |

    Hallo Marita. Ai, jammer dat jy moes sukkel! Ons het wel toilette vir gestremdes, met o.a. ‘n handvatsel teen die muur. Dankie dat jy ons daarvan bewus maak dat dié toilette nie duidelik gemerk is nie! Ons sal plan maak!

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Marita. Dit is ‘n goeie idee. Ons sal aandag gee. Dankie!

  • Avatar

    Marita Kotze

    |

    Ek is bejaard, nie heeltemal rolstoel gebonde nie, maar sukkel om van ‘n lae toilet af op te staan. Ek het Dinsdagaand se pragtige musiek konsert baie geniet, maar moes hulp vra om van sie toilet af op te kom. Tuis kan ek op die bad se rand druk om op te staan. Dit het nie vir my gelyk of u maklik ‘n toilet vir gestemdes kan installer nie, maar vir mense soos ek kan ‘n handvatsel teen die muur of sels ‘n ingeboude toiletrol houer of selfs ‘n stewige houer vir gebruikte sanitere dovekies groot verleentheid bespaar. Baie dankie,
    Marita Kotze