Skip to main content

Verkondig met vrymoedigheid – Handelinge 4:23-31

Die Christen straatprediker Oluwole Ilesanmi is onlangs gearresteer in London, omdat hy die evangelie verkondig het. Die polisie het die Bybel uit sy hand uit geruk en hom kilometers ver daarvandaan afgelaai, sonder geld en sonder sy Bybel. Net omdat hy die evangelie in die openbaar op ‘n straathoek verkondig het.

Oluwole het wel ‘n week terug sy saak gewen teen Scotland Yard, met die ondersteuning van die organisasie Christian Concern, en hulle het hom ‘n paar pond gegee vir sy onregmatige arrestasie.

Die vraag is egter of hy dit weer sal doen. En ander straatpredikers?

Wat sou jy doen?

Dit is ‘n situasie waarin die eerste gemeente hulle ook bevind het.

Hulle was al ‘n gemeente van 5 000 lidmate wat ‘n groeiende impak op Jerusalem gehad het, waar wonderwerke amper daagliks gebeur het. Hulle het in die tempel gepreek. Op die strate gepraat.

Skielik word hulle leiers egter in die tronk gegooi. Hulle publieke stem word brutaal stilgemaak. Hulle word beveel om op geen manier hoegenaamd verder oor Jesus in die openbaar te praat of mense te onderrig in die evangelie nie. Nie in die tempel nie. Nie op die strate nie.

Die gevaar was groot dat almal glossofobie ontwikkel – die vrees waaraan een uit elke vier mense lei – die vrees om in die openbaar te praat.

Wat gaan hulle nou doen?

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

English translation: Proclaim boldly

Wie is God?

Tema: Verkondig met vrymoedigheid – Handelinge 4:23-31

Somerstrand 09:00 4 Augustus 2019

Verwelkoming

Aankondigings

Joseph Ntlatywa  skryf

Dear Friends

On the weekend of the 28-30 June there was a Youth Conference at Maphuzi under the chairmanship of Gcinuvuyo Dudumayo. He is really talented in Youth Ministry. Unfortunately, some of us had to miss it as we were going to be lay to rest a very senior member of our congregation, granny Ngubenja. May the Lord attest to His nearness to the Ngubenja family. During the June holidays two congregations from Cape Town – Kenridge and Durbanville were here on an outreach. The experience of working together is so positive that having to part when it is time to depart is a really painful experience. Some work was done on the Rectory. The second outreach will be in September. Then we will try to finish up the work on the church at Ndlovana. In 2020 the present roof of the Rectory will be replaced.

Congregation Profile: Two workers, namely, Joseph Ntlatywa and Siyavuya Makawula. 13 preaching points. Just over 400 confirmed members.

We thank the Lord who linked us together. May His name be glorified.

Kind regards

Toetrede

Flam 387 Hier is U kerk – sit

Votum en Seëngroet

Lofsang

Psalm 8 (tweede melodie) O, Here God, u Naam is groot op aarde! – staan

(wisselsang: Vers 1, 5 en 6: almal, vers 2 koor, vers 3 mans, vers 4 dames)

Lied 212 Loof die Heer, Hy is goed – staan

Verootmoediging

Lied 434, vers 1 en 3 almal, vers 2 koor O Heilige Gees, o heilige God – sit

Voorbidding

Dankoffer

Kindertyd

Hoe oud is julle nou?

Julle is besig om groot te word. Soos dit met diere ook gaan.

  • Wat word ‘n kalfie? ‘n Koei.
  • En ‘n vulletjie? ‘n Perd.
  • ‘n Lammetjie? ‘n Skaap.
  • ‘n Kuiken? ‘n Hoender.
  • ‘n Paddavissie? ‘n Padda.

Wat wil julle wees as julle groot is?

God het vir julle spesiale gawes en talente gegee.

Hy wil egter nie hê ons wag tot ons eers groot is nie. Hy wil hê dat ons nou al ons gawes en talente moet gebruik.

Paulus skryf vir die jong Timoteus:

Jy moet vir ander mense gaan leer wat ek in hierdie brief aan jou skryf. Ek weet jy is nog baie jonk. Maar dit beteken nie dat mense nie na jou hoef te luister nie. Al is jy jonk, moet jy vir ander mense ’n voorbeeld wees van hoe ’n mens moet praat en leef. Jy moet vir hulle wys dat ’n mens God en die mense rondom jou moet liefhê. Wys ook vir hulle hoe hulle altyd ’n vriend van God kan wees. Die mense moet ook kan sien dat jy nie verkeerde dinge doen nie.” (1 Tim 4:11-12).

‘n Mens kan hiermee begin al is jy nog jonk.

  • Jy kan ‘n voorbeeld wees vir ander hoe ‘n mens moet praat en leef. Ons praat nie lelik nie. Ons dra nie stories aan nie. Ons vat nie ander se goed nie.
  • Jy kan vir ons almal wys hoe ‘n mens God en die mense rondom jou kan liefhê. Deur ander te help, wys dat jy hulle lief het. Mense kan dan ook sien dat jy God liefhet.
  • Jy kan wys hoe om ‘n vriend van God te wees. Deur te doen wat die Bybel sê, wys jy dat jy God se vriend is.
  • Mense moet ook kan sien dat jy nie verkeerde dinge doen nie. Ons sê nie lelike goed vir ander nie. Jou domkop. Ons doen nie verkeerde goed nie.

Gebed

“Liewe Here, dankie dat U my spesiaal gemaak het. Dankie vir al die gawes en talente wat U my gegee het. Ek wil nou al vir U leef. Vir ander liefhê. Wys dat ek U vriend is. Help my om dit al hoe meer te doen soos ek groter raak.”

Skriflesing en prediking

Verkondig met vrymoedigheid – Handelinge 4:23-31

Waarvoor is jy bang?

Noutes? Donkerte? Spinnekoppe? Slange?

Die sielkundiges het name uitgedink vir hierdie vrese:

  • Claustrophobia – engtevrees
  • Arachnophobia – vrees vir spinnekoppe
  • Escalaphobia – vrees vir hysbakke
  • Glossophobia – vrees vir praat in die openbaar (glosso verwys na die tong).

Glossofobie

Baie van ons ly aan laasgenoemde. Glossofobie. Die vrees om te praat in die openbaar. 25 % van alle mense ly blykbaar daaraan. Elke vierde persoon in hierdie kerk ly waarskynlik daaraan. Ten minste.

Jy kan dit herken aan die simptome van hierdie fobie:

Jou hande begin sweet. Jou asemhaling raak vinniger. Jou hart begin vinniger klop. Jy het ‘n knop op jou maag. Of vlinders in jou maag. Jy het ‘n naalde en spelde sensasie in jou vingers. Jy raak naar. Of duiselig. Jy wil net omval. Jou broek se pype wil nie stilstaan nie. Jou mond raak droog. Jou gedagtes vries. En as jy wel praat, kan jy jou stem nie vertrou nie. Dit bewe of raak hees of spring van hoog na laag.

Hoekom is dit so?

Soms is die oorsake eenvoudig. Jy is miskien onervare. Jy is waarskynlik ongeoefen. Jy het nog nooit voorheen in die openbaar gepraat nie.

Daaraan kan iets gedoen word. Jy kan leer om in die openbaar te praat. Veral as jy van nature ‘n ekstrovert is of baie praat. Toastmasters het goeie opleiding daarvoor.

Soms is die oorsake egter meer ingewikkeld. Veral waar jy ‘n slegte ervaring gehad het. Waar jy ‘n mondeling op skool moes doen, en dit ‘n nagmerrie ervaring was. Dit is moeiliker om te hanteer.

Maar, koppel nou dié vrees vir praat in die openbaar aan ‘n moeilike situasie waar daar konflik is, of moontlike teenstand, vyandigheid. Soos om op ‘n straathoek die evangelie te gaan verkondig. Dan raak om in die publiek te praat vir die meeste van ons ‘n groot uitdaging.

Oluwole Ilesanmi

Die Christen straatprediker Oluwole Ilesanmi is onlangs gearresteer in London, omdat hy die evangelie verkondig het. Hulle het die Bybel uit sy hand uit geruk en hom kilometers ver daarvandaan afgelaai, sonder geld en sonder sy Bybel. Net omdat hy die evangelie in die openbaar op ‘n straathoek verkondig het.

Oluwole het wel ‘n week terug sy saak gewen teen Scotland Yard, met die ondersteuning van die organisasie Christian Concern, en hulle het hom ‘n paar rand gegee vir sy onregmatige arrestasie.

Die vraag is egter of hy dit weer sal doen. En ander straatpredikers?

Wat sou jy doen?

Dit is ‘n situasie waarin die eerste gemeente hulle ook bevind het. Hulle was al ‘n gemeente van 5 000 plus lidmate (Hand 4:4) wat ‘n groeiende impak op Jerusalem gehad het, waar wonderwerke amper daagliks gebeur het. Hulle het in die tempel gepreek. Op die strate gepraat.

Skielik word hulle leiers egter in die tronk gegooi. Hulle publieke stem word brutaal stilgemaak. Hulle word beveel om op geen manier hoegenaamd verder oor Jesus in die openbaar te praat of mense te onderrig in die evangelie nie. Nie in die tempel nie. Nie op die strate nie.

Die gevaar was groot dat almal glossofobie ontwikkel – die vrees waaraan een uit elke vier mense lei – die vrees om in die openbaar te praat.

Wat gaan hulle nou doen? Ons lees in Handelinge 4:23-31:

23 Ná hulle vrylating het Petrus en Johannes na hulle eie mense gegaan en hulle vertel wat die leierpriesters en die familiehoofde alles vir hulle gesê het. 24 Toe hulle dit hoor, het hulle God eensgesind aangeroep en gesê: “Here, U is die Een wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin geskep het, 25 wat by monde van ons vader Dawid, u dienskneg, deur die Heilige Gees gesê het:  “ ‘Waarom gaan die nasies te kere  en bedink die volke nietige dinge?  26 Die konings van die aarde neem stelling in  en die leiers span saam  teen die Here en teen sy Gesalfde.’  27 “Want inderdaad, hulle het saamgespan in hierdie stad teen u heilige Dienskneg Jesus, wat U gesalf het — naamlik Herodes en Pontius Pilatus, saam met die heidene en die volke van Israel — 28 om alles te doen wat U deur u hand en u plan vooruit beskik het dat dit gebeur. 29 En nou, Here, slaan ag op hulle dreigemente en gee dat u diensknegte u boodskap met alle vrymoedigheid verkondig, 30 deur u hand uit te strek tot genesing en deurdat tekens en wonders deur die Naam van u heilige Dienskneg Jesus plaasvind.” 31 Terwyl hulle gebid het, is die plek waar hulle bymekaar was, geskud en almal is vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid verkondig. (BDV)

Hulle het God eensgesind aangeroep

Dit is die eerste ding wat ons by hulle leer. Ná die vrylating van Petrus en Johannes het hulle na hulle eie mense, die gemeente, gegaan en vir hulle vertel wat die leiers gedoen het. Hoe hulle behandel is. Hoe hulle gedreig is. Hoe hulle vasgestaan het vir die waarheid. Hoe hulle ervaar het dat die Heilige Gees hulle vervul het. Hoe die leiers verras was met die wysheid waarmee hulle die evangelie verkondig het, soos die Gees hulle gelei het.

Toe die gemeente dit hoor – talle het juis as gevolg van die prediking by hulle aangesluit, en het nou deel gevorm van die gebed – het hulle God eensgesind aangeroep. Hulle het geweet dat die konflik met die owerhede nie deur argumente en magsvertoon gewen kan word nie. Hulle het geweet dat hulle van God en van Hom alleen afhanklik is.

Daarom bid hulle hierdie gebed wat diep gewortel is in hulle Godsbeeld – dat Hy almagtig is, dat Hy in beheer is, dat Hy alles vooruit beskik – maar wat uiteindelik saamgevat word in net een enkele versoek: Here gee ons vrymoedigheid.

Hulle vertrou God vir sy ingrype

Let op hoe hulle drie diep dinge van God in hulle gebed sê en dit in ‘n gebed om vrymoedigheid en wonders verwoord:

  1. Hulle loof God as die God van die heelal. Hy is die Een wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin geskep het – vers 24. Hy is die Een wat alles gemaak het en steeds in stand hou. Dit is die punt waar alle goeie teologie begin.
  2. Hulle loof God as die God van die geskiedenis. Hulle haal aan uit Psalm 2 – en sê spesifiek dat die Psalm nie maar net woorde van Dawid is, maar woorde van die Heilige Gees – en neem dit as beskrywing van hulle situasie. Dit is vir hulle duidelik dat die Joodse leiers verniet te kere gaan en nietige dinge bedink. Hulle neem wel stelling in, sê die gemeente, en span saam teen God en sy Gesalfde, die Here Jesus. Maar, bid hulle, dit is nie vreemd nie. Dit het immers reeds te vore gebeur met Herodes en Pontius Pilatus. Daarom, weet hulle, hierdie opstand sal nie slaag nie, want dit is alles deel van God se plan, ‘n plan wat Hy “vooruit beskik het dat dit gebeur.” – vers 25-28. God se groot dade in die geskiedenis is daar vir almal om te sien.
  3. Hulle loof God as die God wat altyd ingryp. Hulle bid dat die Here sal ag slaan op die Joodse leiers se dreigemente en dat Hy sal gee dat hulle as gemeente nie sal vou nie, maar sal voortgaan om die boodskap van Jesus met alle vrymoedigheid te verkondig. En hulle bid dat God hulle getuienis sal bevestig deur genesings, en tekens en wonders deur die Naam van u heilige Dienskneg Jesus – vers 29-30. God is immers nie net die God van die verlede nie, maar van vandag. Só sal Hy ook in die toekoms bly, die God wat ingryp.

Hulle almal is met die Heilige Gees vervul en het die woord van God met vrymoedigheid verkondig

Terwyl hulle gebid het, is die plek waar hulle bymekaar was, geskud en almal is vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid verkondig – vers 31.

Die glossofobie is afgeweer deur die krag van die Heilige Gees. Hulle vrees is verdryf deur die vervulling met die Heilige Gees.

Ons het daardie vrymoedigheid nodig. Bitter nodig. Dit is miskien die belangrikste ding wat ons nodig het, omdat ons samelewing nie meer verdraagsaam is vir mense wat die evangelie verkondig nie, en dit ons vrymoedigheid bedreig.

Ons het die vervulling met die Heilige Gees nodig

Dit is duidelik uit hierdie gebed dat die boodskap in die Skrif – in dié geval Psalm 2 – in ons harte moet grondvat, dit moet binnedring, sodat dit vrug kan dra. Soos die gelykenis van die Saaier in Matteus 13 dit grafies met die vrugbare grond illustreer. Waar die saad in vrugbare grond val, dra jy vrug, dertigvoudig, sestigvoudig, honderdvoudig.

Dit is hoe die Heilige Gees ons vervul, sodat ons met vrymoedigheid die boodskap kan verkondig.

Die Heilige Gees gebruik die Woord

Calvyn verwoord dit só diepsinnig in sy Institusie:

Want soos God alleen in sy Woord ’n bekwame Getuie vir Homself is, sal die Woord geen geloofwaardigheid in die hart van die mens vind voordat dit deur innerlike getuienis van die Gees beseël word nie. Gevolglik moet dieselfde Gees wat deur die mond van die profete gespreek het, noodwendig ons hart binnedring om ons te oortuig dat Hy dit wat God verbied het, getrou aan ons oorgedra het.” (Calvyn – Institusie)

En let op dat Calvyn ook spesifiek praat van dié dinge wat God verbied. Dit bly onvervreembaar deel van die werk van die Heilige Gees in ons harte dat Hy deur ons die wêreld van sonde, geregtigheid en oordeel oortuig (Joh 14-16). Dat Hy ons teregwys en opvoed. Dat Hy ons onderrig en herinner aan alles wat Hy reeds aan ons openbaar het in die Skrif.

Hierdie vervulling met Woord en Gees sien ons helder geïllustreer in die lewe van Jesus. Hy kon die duiwel telkens in versoeking antwoord vanuit sy herinnering aan die Skrif, spesifiek uit die wet, soos die Gees dit deur Moses en ander skrywers neergepen is. Gaan lees Jesus se aanhalings in sy antwoorde aan die duiwel wat kom uit Deuteronomium 8:3, 6:16 en 6:13 (Matt 4).

Jesus het gedoen wat die Psalmis sê: “Ek het u woord in my hart gebêre.” (Ps 119:11). Daarom kon Jesus in die uur van sy grootste versoeking die aanslag op Hom deur die woorde van die Skrif die hoof bied.

Ook Paulus eggo dit en raai ons aan:

Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here.” (Kol 3:16).

Soos John Piper dit stel:

The words of Christ are the raw material that the Holy Spirit works with as he teaches us what to say.” (John Piper)

Die Heilige Gees gee ons ook woorde

Daarom kan Jesus ons aanraai om die Heilige Gees te vertrou in enige situasie waar ons van Hom getuienis moet aflê. Die Heilige Gees sal die woorde in ons inspireer soos Hy die woorde van Jesus en die Skrif aktief sal maak in ons getuienis:

En wanneer hulle jul weglei om julle oor te lewer, moenie julle vooraf kwel oor wat julle sal spreek nie, en moenie daaroor dink nie; maar wat julle in dié uur gegee word, dit moet julle spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Heilige Gees.” (Mark 13:11; Matt 10:19-20).

Dit is daarom ook iets wat nie lank voor die tyd gebeur nie, maar in die uur waar dié getuienis nodig is:

Want die Heilige Gees sal julle in dieselfde uur leer wat julle moet sê.” (Luk 12:12).

Dit beteken nie dat daar nie voorbereiding is nie, maar die voorbereiding is gefokus op die internalisering van alles wat Jesus deur die evangelies vir ons gegee het: “As julle in My bly en my woorde in julle“, sal julle baie vrug dra en die voorreg van gebedsverhoring beleef (Joh 15:7).

Ek sluit af.

Die Heilige Gees woon in jou en is jou Helper. Daaroor het ek twee weke gelede gepreek.

Die Heilige Gees vervul jou met Homself en vrymoedigheid as jy daarvoor vra, en veral waar ons saam daarvoor vra. Dit is die boodskap vir vandag

Gebed

Slotlied

Lied 258 Vreugdevolle tyding, bron van hartverblyding – staan

Seën

Amen

Respons

Lied 228 Halleluja! (x8) – staan

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.