Skip to main content

Prediker 9:1-12 – Die gevaar van selfvoldaanheid en oorgerustheid

Verwelkoming

Toetrede

  • Koor:  Lied  403  “Christus het opgestaan”

Votum:  

Liturg: Die Heer het waarlik opgestaan.

Gemeente: Halleluja! Halleluja!

Liturg: Die dood se mag is nou verslaan.

Gemeente: Halleluja! Halleluja!

Seëngroet

Lofsange

  • Gemeente:   Lied 418 “Blye môre, blyste van die dae”  (staan)
  • Koor:  “Sing vir die Heer ’n nuwe lied tesaam”
  • Gemeente:    Lied 423 “Kom laat ons almal vrolik voor God die Here  sing” (staan)

Doop

  • Lied 293 v1 en 3

Kindertyd

  • Ironman – wat doen hulle? 
  • Is dit die vinnigste swemmer wat wen? 
  • Is dit die vinnigste fietsryer wat wen? 
  • Is dit die vinnigste hardloper wat wen? 
  • Nee, dit is die ou wat die langste kan uithou en aanhou wat wen.

Rensie en Raaitjie hardloop resies[1]

  • Slide 1:  Rensie was ‘n stil seun, maar as sy ma hom êrens gestuur het, was hy altyd gewillig en het dadelik gegaan.  Hy het nooit moed opgegee nie.
  • Raatjie was ‘n vinnige meisie.  Sy kon soos die wind hardloop. As haar ma haar wil stuur, dan is sy al so ver weg, dat sy niks hoor nie.
  • Sy het Rensie altyd gespot dat hy stadiger as sy was.  Eendag het hy moeg geword daarvoor.  Hy daag haar toe uit om resies te jaag.  Hulle moes tot by die rivier hardloop en terug.  Dis ‘n goeie grap het sy en die meeste van die ander kinders gedink.
  • Slide 2: Raatjie is dadelik voor.  Toe jy weer kyk is sy by die punt van die straat.  Rensie draf nog maar halfpad.  Al die straat se honde draf ‘n ent saam, en hulle blaf vrolik.  Dit lyk eintlik asof hulle vir Rensie lag.
  • Raatjie draf met die veldpaadjie deur die dennebome.  Sy verkyk haar aan die skoenlappers en die koeie in die kampe.
  • Slide 3: Raatjie gaan sit so bietjie in die bos.  Sy kyk vir die duiwe en die eekhoring.  En toe raak sy baie vaak.  En haar oë gaan toe en sy raak aan die slaap.
  • Slide 4: Rensie draf stadig aan, maar hy hou nooit op om te draf nie.  Hy sien ook die eekhoring, maar hy gaan staan nie.  Hy waai vir die eekhoring en draf aan, tot by die rivier en draai toe terug.
  • Slide 5: Rensie kom toe eerste terug in die dorp.  En hy kon lekker gaan sit en ‘n roomys eet.  Raatjie het egter te lekker geslaap, en al het sy soos die wind gehardloop om by die rivier te kom en weer terug, het Rensie haar gewen.  En al was sy baie kwaad, het sy die resies verloor. Kyk hoe lag die kinders nou!
  • Wat leer die verhaal ons? Dit is nie atyd die vinnigste een wat die resies wen nie.  Jy moet aanhou en uithou totdat jy by die eindpunt kom.  Dit is nie net waar van resies hardloop nie, ook van die lewe.  Ons moet alles wat ons doen so goed as wat ons kan doen, totdat dit klaar is.  Of ons nou eet of drink, of speel of ‘n fees hou.  Dan is ons gelukkig.  Dit is God se geskenk aan ons.

Na kategese en toepassing

  • Koor:    “Jesus sy ere, opgestane Heer”

Gebed

Skriflesing

‘n Handige manier om Prediker te lees, is aan die hand van drie aspekte van die Prediker se wysheid, soos RBY Scott dit in sy kommentaar opsom (Anchor Bible):

  1. One must face facts;
  2. One must learn to live with what cannot be changed;
  3. One must develop the capacity to find enjoyment in work and wisdom and in the very experience of living.

Probeer dus, soos jy lees, die dele in die teks te merk wat vir jou tref as:

  1. feite waarmee jy rekening moet hou – ‘n goeie skoot realisme;
  2. onveranderlikhede wat jy moet leer om te aanvaar, en – ‘n allernoodsaaklike wysheid;
  3. vreugdes wat jy deel van jou lewe moet maak. – ‘n allesbelangrike lewenshouding.

Lees Prediker 9:1-12

9 Dit alles het ek ter harte geneem en ek het bevind:

God regeer oor dié wat reg doen en wysheid het, en oor wat hulle doen. Niemand weet of daar vir hom liefde of haat wag nie.

2Een en dieselfde lot tref almal:

die regverdige en die goddelose,

die goeie, die reine en die onreine,

die een wat offer en die een

wat nie offer nie.

Soos dit met die goeie gaan,

so gaan dit met die sondaar,

soos dit gaan met die een

wat ’n eed aflê,

so gaan dit met hom wat weier

om ’n eed af te lê.

3Die ellende met alles wat in hierdie wêreld gebeur, is dat dieselfde lot almal tref. Die hart van die mens is vol boosheid; die dwaasheid bly hom sy lewe lank by, en sy einde is die dood.

4Solank jy onder die lewendes is,

het jy hoop.

’n Hond wat lewe, is beter

as ’n leeu wat dood is.

5Dié wat lewe, weet hulle sal doodgaan,

maar die dooies weet niks;

daar wag vir hulle niks meer nie,

hulle is vergeet;

6dit is klaar met hulle liefde,

hulle haat en hulle hartstog.

Hulle sal nooit weer deel hê aan wat

in hierdie wêreld gebeur nie.

7Eet dus jou brood met vreugde,

drink jou wyn met ’n bly gemoed;

God het lankal reeds goedgekeur

wat jy doen.

8Dra altyd wit klere,

versorg jou hare met olie.

9Geniet die lewe met die vrou

wat jy liefhet,

dié lewe wat tot niks kom nie,

maar wat God jou in hierdie wêreld

gegee het,

die hele lewe wat tot niks kom nie.

Dit is wat jou toekom in die lewe,

wat jou toekom vir al jou geswoeg

in hierdie wêreld.

10Doen met toewyding alles

wat jou hand vind om te doen,

want in die doderyk

waarheen jy op pad is,

is daar nie werk of insig of kennis

of wysheid nie.

11Verder het ek in hierdie wêreld gesien:

dit is nie die vinnigstes

wat die reisies wen nie,

nie die sterkstes

wat die oorlog wen nie,

nie dié met wysheid wat kos het nie,

nie die verstandiges wat ryk word nie,

nie dié met kennis

met wie dit goed gaan nie.

Alles word bepaal

deur tyd en geleentheid.

12Die mens ken selfs nie die tyd

van sy dood nie.

Soos visse wat gevang word in ’n net,

soos voëls wat gevang word in ’n wip,

so word die mens gevang

as die teëspoed kom,

as dit hom skielik oorval.

Woordverkondiging

Pasop vir selfvoldaanheid en oorgerustheid

Ons het van tyd tot tyd nodig om bestek op te neem van ons vermoë om dinge te laat gebeur.  Ons kan só maklik dink dat ons prestasies aan ons eie talente en vermoëns te danke is, hetsy fisies (vinnigste, sterkste) of intellektueel (wyses, verstandiges, kennisvrate).

Die Prediker herinner ons dat dit nie die vinnigstes wat die reisies wen nie.  Dit is asof ’n mens die verhaal van skilpad en hasie hoor in sy waarskuwing.  Spoed is goed, maar uithouvermoë nog beter.  Oor kort afstande kan spoed jou nog uithelp, maar as die afstand langer is, help spoed jou baie minder.

Dit is ook nie altyd die sterkstes wat die oorlog wen nie.  Hoeveel maal is dit nie al in die geskiedenis bewys nie.  Tegnologie, tegniek, toeval – is baie keer meer deurslaggewend in wié ’n oorlog wen.  Dink aan die Trojaanse perd wat die mag van Troje verbreek het, en aan die Grieke die oorwinning gegee het.  Die perd wat die simbool van Troje was, is op slinkse manier gebruik om ’n mag tot binne die stad te kry vanwaar hulle die oorhand oor die Trojane kon kry.

Dieselfde lot geld ons intellektuele kapasiteit.  Dit is nie noodwendig die wyses of die verstandiges of die kennisvrate wat die beste daaraan toe is nie.  Jou wysheid of verstand, jou kennis of vermoëns kan nie sorg dat tragedie of terreur jou nie tref nie.  Natuurlik is dwaasheid en onkunde nog slegter vir ’n mens, maar bose dinge kan enigiemand tref op hierdie aarde.

Onthou, alles gaan oor tyd en geleentheid

Dit gaan oor “tyd en geleentheid”, sê die Prediker.  Alles word daardeur bepaal.  Hoeveel maal in jou eie lewe was daar die één tyd, of die één geleentheid, wat iets na jou kant toe laat kom het, of iets vir jou moontlik gemaak het, vanwaar alles soos ’n pad voor jou oop gemaak het.  Dit is baie keer wie jy ken, of wie jy raakloop, of wat mense op ’n tyd nodig het, en waarvoor jy die nommerpas oplossing het, wat vir jou sukses en voorspoed bring, hoewel dit natuurlik ook te enige tyd van jou weggeneem kan word deur teëspoed, of tragedies, of die dood.  Oorgerustheid kan jou suur bekom.

Wees dankbaar en nederig

Dit is nodig dat ons ons eie vermoëns na waarde skat, nie minag, of verkleineer nie, maar binne konteks probeer sien.  Dit sal jou laat besef, aan die een kant hoe dankbaar jy moet wees vir watter geleenthede na jou kant toe gekom het, op ‘n tyd waar jy die beste gebruik daarvan kon maak, en aan die ander kant laat besef dat jy nie inherent beter is as jou medemense nie, wat sal keer dat jy oorgerus word of selfvoldaan sal optree. Uiteindelik is ons almal op een of ander manier weerloos, afhanklik van ander, afhanklik van God.

Dit is so, dat dit soms nodig is dat dinge van ons weggeneem word, voordat ons die waarde van dinge regtig kan besef, voordat ons God se hand in ons lewens na waarde skat.

Nou waarsku die Prediker ons om by voorbaat met meer dankbaarheid en nederigheid ons lewens te lei, nie op ander neer te sien omdat hulle minder as jy bereik het nie, en ook nie jouself te verhef omdat jy meer as ander bereik het nie.  En om veral nie ander se weerloosheid vir jou eie gewin uit te buit nie.

Ontwikkel jou kapasiteit vir genot

Dit is darem heerlik om hierdie opdrag in die Skrif agter te kom. 

Dit sluit die vermoë in om te geniet.

Dit sluit ook die vermoë in om tevrede te wees met wat jy het.

  •  “Eet jou brood met vreugde … drink jou wyn met ‘n bly gemoed” – Pred 9:7 – “Seize life! Eat bread with gusto, Drink wine with a robust heart. Oh yes—God takes pleasure in your pleasure!” (Peterson).
  • “Dra altyd wit klere, versorg jou hare met olie” – Pred 9:8 – “Dress festively every morning. Don’t skimp on colors and scarves” (Peterson).
  • “Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet” – Pred 9:9
  • “Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen” – Pred 9:10 – “Whatever turns up, grab it and do it. And heartily!” (Peterson).

Waaroor dink die Prediker ?

TAFELGEMEENSKAP:

Hy het in die oog die gemeenskap van jou daaglikse ete saam met jou mense.  Brood en wyn is die voedsel wat jou nie net aan die lewe hou nie, maar wat die lewe die moeite werd maak.  Die eenvoudige plesier van die doodnormale – brood – en die bykomende plesier van die interessante – wyn – maak van enige maaltyd ‘n stukkie lewensgemeenskap.

Soms kan brood en wyn natuurlik ook ‘n simbool wees vir ‘n stuk geestelike gemeenskap wat om die tafel gebeur, soos wat ons by Melgisedek en Abraham in Gen 14 sien, ook met brood en wyn, en natuurlik ook in die nagmaal ervaar wat die Here Jesus ingestel het, wat van brood en wyn simbole van Sy teenwoordigheid maak (Mark 14; Matt 26; Lukas 22).  Geen wonder Peterson vertaal: “God takes pleasure in your pleasure!” God is teenwoordig waar ons brood en wyn geniet met ons mense.

FEESTELIKE GELEENTHEID:

Hy het ook in die oog die gemeenskap van ‘n fees saam met jou gemeenskap.  Wit klere was feestelike klere en om met welriekende olie gesalf te word, het ‘n geleentheid as baie spesiaal gekenmerk.  “Don’t skimp on colors and scarves”, sê Peterson. Wat besonders is van die Prediker se voorskrifte, is dat hy wit klere en olie vir elke dag voorskryf!  Elke dag moet eintlik as ‘n feesgeleentheid in die kleine gevier word! 

My suster het die woord gemunt, ons hou ‘n fesie, as ons skare kinders bymekaar was en ons van ‘n doodgewone maal of viering ‘n fesie gemaak het.  Dit bring kleur en opwinding in ons lewe.  Dit laat die sleur en verveling van die lewe vervaag, en laat ‘n mens weer mens voel.

LIEFDESGEMEENSKAP:

Hy dink ook aan verhoudings, veral die huweliksgenot en huwelikstrou tussen man en vrou.  Let op die enkelvoud waarin hy skryf – dit is een man, een vrou. 

Hoekom is dít so belangrik?  Want, dit is die een ding wat jou die frustrasies in die lewe die hoof kan laat bied, wanneer twee mense wat in ‘n lewensgemeenskap mekaar uitkies en opsoek en niks in die pad laat staan van hulle liefdesverbintenis nie. 

Verlede naweek het ek en Lynette The Next Three Days gekyk waar ‘n vrou verkeerdelik vir moord opgesluit word, en haar man, ‘n doodgewone onderwyser, “against all odds” haar uit die tronk ontvoer om weer ‘n lewe in ‘n vreemde land te begin. 

Nou, ek wil nie dieselfde optrede noodwendig aanbeveel nie … maar ek wil wel die ononderhandelbare van sy liefde aanprys en vir jou aanbeveel. 

En dit is vir altyd … ons het te gewoond geraak aan die gemak van egskeiding.  Dit is soos om jou gewig met liposuction te beheer.  Sny net ‘n stuk maag weg, en jy is weer dun.  Dit werk net nie so maklik nie!  En die effek daarvan is wydverspreid. 

En hoor wat hy sê, dit is nie jou man of vrou wat ‘n soort beloning vir al jou moeite in die lewe is nie, maar die effek wat só ‘n verhouding op jou lewensgenot het.  Dit is net saam met haar of hom wat jy die lewe sal kan geniet!

LEWENSVREUGDE:

En die Prediker sluit af deur te dink aan wat die hele lewe die moeite werd maak.  En hy sit op die tafel jou hele lewe, jou werk, jou belangstellings, jou roeping in die lewe, jou betrokkenheid in die gemeenskap, jou toewyding aan ‘n saak.  Dit is wat jy met oorgawe en absolute passie moet doen. 

  • Hy het in die oog deeglikheid (daar is min wat ‘n mens so ontstel as werk wat halfhartig en onbeholpe gedoen is),
  • die ontwikkeling van vermoëns (ek is besig om my ma te help om rekenaarvaardig te word, en ek word getref deur haar absolute commitment al moes ek haar eers leer waarvoor ‘n spasiebalk op die sleutelbord is),
  • en intensiteit (dít is baie keer wat sportmanne laat wen, die passie, die never-say-die houding). 

En dit is die Bybel self wat dit vir jou voorskryf!  Die lewe moet nou ten volle geleef word!  Wat God ook al vir jou gee – die goed of die sleg daarvan – moet met oorgawe en toewyding aangepak word. 

Veel later, sou Paulus sê, hoekom dit so belangrik is … want, dit is God wat in julle werk, om te wil sowel as om te werk (Fil 2:12-13). 

En daar is natuurlik ook die waarskuwing wat die Prediker ‘n paar keer uitspel, en dit is, dat God ook rekenskap eis van alles wat Hy aan ons toevertrou het (Pred 11:9; 12:14). 

Gebed

Dankoffers

  • Koor: Lied 420 “Daar klink ’n lied, daar juig ’n stem”
  • Ensemble: Lied 421  “Die Here Jesus lewe”
  • Koor: Lied 425 “Kyk die Heer het opgestaan”

Slotlied

  • Lied 422 “Die Heer, die Heer het opgestaan!”   (staan)

Seën

Respons

  • Lied 423 refrein: “Ons Heiland is oorwinnaar, Christus is oorwinnaar, Hy’t waarlik opgestaan!”


[1] Aangepas uit die verhaal van Pieter Grobbelaar  met illustrasies deur Nikki Jones

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.