Skip to main content

Leef deur die Gees – Galasiërs 5:13-26

Wie het Finding Nemo gesien?

Bruce is ‘n groot wit dood haai in die fliek. Hy is die leier van die Vis-vriendelike Haaie-ondersteuningsgroep wat vriende maak met Marlin, Nemo se pa, die anemoonvis, en Dory, die doktersvis, wie se geheue haar so in die steek laat.

By een van sy Vis-vriendelike Haaie-ondersteuningsgroep sessies – geskoei op Alkoholiste Anoniem se 12 stap program – word Marlin en Dory saamgenooi met twee ander haaie, Anchor en Chum. Dit is immers die viering van stap 5: Bring ‘n vis-vriend.

Ongelukkig kom daar ‘n bietjie bloed in die water en Bruce se natuurlike instinkte skop in. Sy oë verander van helderblou tot donkerswart en hy wil met alle mag en geweld sy nuutgevonde vis-vriende, Marlin en Dory, opeet. Dit is net met moeite wat Marlin en Dory aan dié bloeddorstige wit dood haai ontkom.

Bruce is ‘n goeie siel. ‘n Aangename haai. Hy is vrolik, vol grappies, almal se pel. “Visse is vriende, nie voedsel nie,” so herinner Bruce homself telkens. Maar sy persoonlikheid verander die oomblik wanneer sy instinkte inskop, en dit maak van hom ‘n “mindless eating machine”.

Instink is sterker as afrigting

Nou, dit is maar ‘n fliek. Maar, in die werklike lewe is dit steeds ‘n realiteit. Instink by wilde diere is doodgewoon sterker as enige afrigting. Jy kan ‘n dier tem, maar jy kan nooit heeltemal die instink beheer nie. As jy weghardloop van ‘n cheetah, selfs in ‘n beheerde omgewing, sal hy jou probeer vang.

Dit is nie anders in die geestelike lewe nie. Ons leef in ‘n wêreld wat van God afvallig geraak het. In ‘n wêreld wat leef asof Hy nie bestaan nie. En die suigkrag van hierdie sondige wêreld kom nie net van buite af na ons toe nie. Dit is binne ons. Dit is deel van ons. Dit is deel van ons sondige natuur.

Ons het deel gekry aan God se natuur. Watter genade! So het ons in 2 Petrus 1 gelees. Maar die sondige natuur bly steeds lewendig in ons. En God se natuur en ons sondige natuur is in ‘n voortdurende konflik met mekaar. Soos ek met die grafika probeer illustreer. Die water en die vuur in stryd met mekaar in ons harte.

Wat is die oplossing?

Wat is die oplossing dan vir die konflik binne ons? Hoe kry ons dit reg dat ons nie kop verloor soos Bruce, die groot wit dood haai, nie.

Kom ons lees wat Paulus daaroor skryf in Galasiërs 5:

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Download the English Translation: Live by the Spirit – Galations 5_13-26

Verwelkoming

Toetrede

Lied 170 (x2) Heilig. heilig, heilig – my hart, o Heer, aanbid U – sit

Votum en Seëngroet

Lofsang en aanbidding

Lied 220:1 Met ons harte sing ons, Here – staan

Lied 222 (Afr, Eng, Afr) Loof die Here God – staan

Doop

(Ouers word na vore geroep, sowel as die kinders)

Lied 293:1 Jesus neem ons kleine kinders – sit

Die betekenis van die doop

God het in die Ou Testament al ’n ooreenkoms met Abraham aangegaan. Ons noem dit ’n verbond. Die verbond kan vergelyk word met ’n testament waarin God al sy gawes tot sy kinders se beskikking stel.

By die doop bevestig God dat ons en ons kinders in hierdie testament ingesluit is.

Ons en ons kinders word verseker dat God ook ons God is. Dit beteken:

  • dat Hy ons Vader is wat ons liefhet en vir ons sorg;
  • dat Jesus Christus ons Verlosser is;
  • dat die Heilige Gees in ons woon, van ons nuwe mense maak en ons lei.

Geen mens kan hierdie gawes van God verdien nie, want ons sonde – waarmee ons gebore word – veroorsaak dat ons die dood verdien. Jesus het egter die straf vir die sonde op Hom geneem en aan die kruis in ons plek gesterf. Daarom kan God nou die ewige lewe as geskenk vir ons aanbied. Ons kinders is ook hierby ingesluit, al verstaan hulle nog niks hiervan nie.

Die betekenis van die doop kan maklik verkeerd verstaan word:

  • Dit is nie net ’n mooi gewoonte wat ons ter wille van ander mense onderhou nie.
  • Dit is ook nie ’n bygelowige handeling waardeur ons teen gevaar en ongeluk beskerm word nie.
  • Dit is ook nie die geleentheid waar kinders hulle name kry nie. Dit gaan by die doop oor God wat Hom met sy liefde aan mense verbind.

Verbintenis

Ons het nou gehoor wat die doop beteken. Daarom vra ons dat julle as ouers opreg die volgende vrae antwoord:

  1. Bely julle dat, hoewel ons kinders as sondaars in die wêreld gekom het en daarom onder die oordeel van God staan, hulle nogtans in Christus aan God behoort en as lidmate van sy gemeente gedoop moet word?
  2. Aanvaar julle die Bybel as die Woord van God en aanvaar julle die leer van die kerk soos die belydenisskrifte dit verwoord, as die ware en volkome leer van die verlossing?
  3. Beloof julle om hierdie kind in dié leer na die beste van die julle vermoë te onderrig en ook te laat onderrig?

Bediening van die doop

Lied 293:3 Jesus gee aan ons sy seën – sit

Dankoffers

Voorbidding

Skriflesing en prediking

Leef deur die Gees – Galasiërs 5:13-26

Finding Nemo

Wie het Finding Nemo gesien?

Bruce is ‘n groot wit dood haai in die fliek. Hy is die leier van die Vis-vriendelike Haaie-ondersteuningsgroep wat vriende maak met Marlin, Nemo se pa, die anemoonvis, en Dory, die doktersvis, wie se geheue haar so in die steek laat.

By een van sy Vis-vriendelike Haaie-ondersteuningsgroep sessies – geskoei op Alkoholiste Anoniem se 12 stap program – word Marlin en Dory saamgenooi met twee ander haaie, Anchor en Chum. Dit is immers die viering van stap 5: Bring ‘n vis-vriend.

Ongelukkig kom daar ‘n bietjie bloed in die water en Bruce se natuurlike instinkte skop in. Sy oë verander van helderblou tot donkerswart en hy wil met alle mag en geweld sy nuutgevonde vis-vriende, Marlin en Dory, opeet. Dit is net met moeite wat Marlin en Dory aan dié bloeddorstige wit dood haai ontkom.

Bruce is ‘n goeie siel. ‘n Aangename haai. Hy is vrolik, vol grappies, almal se pel. “Visse is vriende, nie voedsel nie,” so herinner Bruce homself telkens. Maar sy persoonlikheid verander die oomblik wanneer sy instinkte inskop, en dit maak van hom ‘n “mindless eating machine”.

Instink is sterker as afrigting

Nou, dit is maar ‘n fliek. Maar, in die werklike lewe is dit steeds ‘n realiteit. Instink by wilde diere is doodgewoon sterker as enige afrigting. Jy kan ‘n dier tem, maar jy kan nooit heeltemal die instink beheer nie. As jy weghardloop van ‘n cheetah, selfs in ‘n beheerde omgewing, sal hy jou probeer vang.

Dit is nie anders in die geestelike lewe nie. Ons leef in ‘n wêreld wat van God afvallig geraak het. In ‘n wêreld wat leef asof Hy nie bestaan nie. En die suigkrag van hierdie sondige wêreld kom nie net van buite af na ons toe nie. Dit is binne ons. Dit is deel van ons. Dit is deel van ons sondige natuur.

Ons het deel gekry aan God se natuur. Watter genade! So het ons in 2 Petrus 1 gelees. Maar die sondige natuur bly steeds lewendig in ons. En God se natuur en ons sondige natuur is in ‘n voortdurende konflik met mekaar. Soos ek met die grafika probeer illustreer. Die water en die vuur in stryd met mekaar in ons harte.

Wat is die oplossing?

Wat is die oplossing dan vir die konflik binne ons? Hoe kry ons dit reg dat ons nie kop verloor soos Bruce, die groot wit dood haai, nie.

Kom ons lees wat Paulus daaroor skryf in Galasiërs 5:

13 Julle, broers, is tog tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik sodat dit aanleiding gee vir ons sondige aard nie, maar dien mekaar deur liefde. 14 Want die hele wet word in één uitspraak vervul: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 15 As julle mekaar byt en verslind, pas op dat julle mekaar nie verteer nie!  16 Maar ek sê: Leef deur die Gees, dan sal julle beslis nie die begeertes van ons sondige aard uitvoer nie, 17 want ons sondige aard begeer teen die Gees, en die Gees begeer teen ons sondige aard; die twee opponeer mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle ook al wil nie. 18 As julle egter deur die Gees gelei word, staan julle nie onder die toesig van die wet nie.  19 Die praktyke van ons sondige aard is goed bekend, naamlik onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20 afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring, 21 afguns, dronkenskap, orgies en hierdie soort dinge —waarteen ek julle nou weer waarsku, soos ek julle vroeër gewaarsku het, naamlik dat diegene wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërf nie.  22 Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, 23 sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen hierdie soort dinge is daar nie ‘n wet nie.  24 Almal wat aan Christus Jesus behoort, het ons sondige aard saam met sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25 Aangesien ons deur die Gees leef, moet ons ook volgens die Gees optree. 26 Laat ons nie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar jaloers wees nie.  (BDV)

1. Julle is tot vryheid geroep

Die eerste ding wat ons in hierdie teks moet agter kom, is dat die Here ons geroep het tot vryheid. Dit is die vryheid van Christus (Gal 5:1). Hy het ons verlos van ons sonde. Hy het vir ons sy natuur geskenk, sodat ons kan wees soos Hy is. Ons moet al hoe meer soos Jesus lewe, want dit is die voorbeeld van ware vryheid wat ons inspireer.

Vryheid kan ‘n verskoning word vir jou sondige natuur

Maar, daar is ‘n probleem. Vryheid kan ‘n verskoning word vir jou sondige natuur. Kan meebring dat jy jou vryheid misbruik. Dat jy kan dink dat vryheid beteken dat jy enigiets mag doen. Dat jy selfs dié dinge mag doen wat die Bybel as sonde beskryf. Dat jy self kan besluit watter dele van God se openbaring op jou van toepassing is en watter nie.

Dit is waarom Paulus hier vir ons ‘n breë lysie van 15 sondes gee. En byvoeg: “hierdie soort dinge”, want dié lysie is nie volledig nie. En hy doen dit sodat jy nie in die strik val wat die duiwel vir ons stel om self te wil besluit wat reg is en wat verkeerd, net soos hy dit eenmaal in die tuin van Eden gedoen het met Adam en Eva.

Ons gedrag maak saak

Paulus waarsku ons dat ons gedrag, ons werke (erga), die dinge wat ons lewe produseer, saak maak.

  • Agt van die 15 sondige praktyke wat Paulus noem het met die konflik van liefdeloosheid in die gemeenskap van gelowiges te make: vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring en afguns.
  • Vyf van die 15 sondige praktyke het met slegte moreel-etiese praktyke te make: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, dronkenskap (dronk-drink partytjies) en orgies (oordadige gefuif).
  • En twee van die 15 sondige praktyke het met die navolg van verkeerde godsdienstige praktyke te make: afgodery (beeld-aanbidding) en towery (gebruik van magiese voorwerpe).

Jy kan nie in vyandskap leef met mense in jou geloofsgemeenskap en dink dat dit reg is nie. Jy kan nie jouself oorgee aan twis en tweespalt, en skeuring nie. Want dit is juis dinge wat die vryheid van die geloofsgemeenskap bedreig. Dieselfde geld jaloesie, woede, selfsug en afguns. Dit is liefdeloos en bedreig die vryheid wat God wil hê dat ons in gemeenskap met Hom en mekaar sal beleef.

Jy kan jouself ook nie oorgee aan onsedelikheid, onreinheid, en losbandigheid nie, want daarmee val jy vas in juis dié sondes waarvan die Here jou vrygemaak het. Seksuele sondes bedreig jou eie vryheid as gelowige. Trouens, diegene wat sulke dinge doen, sal die koninkryk van God nie beërf nie.

Dieselfde geld dronkenskap (dronk-drink partytjies) en orgies (oordadige gefuif), want daardeur trek jy ‘n streep deur jou getuienis, kan jy niks beteken vir mense wat juis van dronkenskap en oordaad gered moet word.

Dit geld ook afgodery (beeld-aanbidding) en towery (gebruik van magiese voorwerpe). Jy kan nie deelneem aan die verering van celebrities wat vandag baie keer die rol van afgode in baie mense se lewens speel nie. Want dan val jy juis vas in hierdie wêreld se manier van doen en raak jy ‘n slaaf van die meningsvormers van hierdie wêreld, in plaas daarvan dat jy vry is en van die vryheid wat God bring getuig.

Hierdie dinge is sonde. En sonde is slawerny. Sonde bind jou aan jou jou eie hartstogte en begeertes, en dié van die idols van die media, en maak jou onbekwaam om die Here of jou naaste te dien en liefhê soos God dit wil.

Terloops, dit is waarom die wet steeds nodig is, want as jy jou oorgee aan hierdie sondes, dan is die wet die enigste manier om jou terug te bring by die vryheid van Christus.

Want die wet herinner jou weer aan God se wil, soos ‘n toesighouer of skeidsregter wat sê, nie só nie, maar só. Die wet trek die grense van God vir ons gedrag as ons ons vryheid as bandeloosheid beskou, en begin lewe soos hierdie wêreld vir ons voorskryf.

2. Ons twee nature is in ‘n voortdurende stryd met mekaar

Die tweede ding wat jy moet besef, is dat ons steeds ‘n sondige natuur het. Almal van ons. En al het God sy natuur aan ons geskenk by wedergeboorte, beteken dit steeds dat ons twee nature het. ‘n Goddelike natuur sowel as ‘n sondige natuur.

En hierdie twee nature is in voortdurende stryd met mekaar in ons lewe.

‘n Bietjie anders as wat dit in Bruce, die vriendelike wit dood haai, die geval was. Dit het net ‘n druppeltjie bloed in die water gekos vir die instink om in te skop en hom soos ‘n “mindless eating machine” te maak.

Maar, dit as omdat sy natuur nie verander het nie. Hy het wel anders probeer leef met ‘n klomp reëls, maar dit het niks gehelp nie. Sy natuur het dieselfde gebly.

Met ons is dit anders. God se natuur is in ons. Daarom is daar vyandskap tussen die vlees en die Gees, tussen jou natuurlike begeertes en die Gees, tussen jou natuurlike gedagtes en die Gees.

Dit is waarteen die tiende gebod ons ook gewaarsku het (Eks 20:17), om in die stryd tussen vlees en Gees nie toe te gee aan die sondige begeertes van die vlees nie – om jou naaste se huis te begeer of jou naaste se vrou of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie – want dit is in stryd met die wil van God wat ons juis uit slawerny aan die begeertes gered het.

Jesus het ook hierna verwys in die bekende gelykenis van die Saaier waar Hy praat van die saad wat in die dorings geval het, en die dorings die Woord van God verstik het. Die dorings lê Jesus uit as: “die begeertes na allerlei dinge” (Markus 4:19).

Ons natuurlike gedagtes en begeertes is in stryd met die Gees. Daar is vyandskap tussen ons natuurlike begeertes en die begeertes van die Gees. Dit is net wanneer ons die Gees toelaat om ons te lei deur sy Woord na die vryheid van daardie begeertes wat ons vry raak om God te dien en mekaar, soos wat God dit van ons verwag.

En let op die teenwoordige tyd waarin Paulus skryf. Hy praat nie in die verlede tyd nie. Die keuses wat die Galasiërs moet uitoefen, is bedoel vir wanneer hulle hierdie brief lees. So direk en persoonlik is dit bedoel.

Wat is ons sondige natuur?

Wat is ons sondige natuur? Paulus gebruik hier die Griekse woord sarx vir ons sondige natuur. In die konteks beteken sarx die tipies menslike manier van dink, die tipies menslike begeertes; die gedagtes en begeertes wat natuurlik vir mense kom; in kontras met die gedagtes en begeertes wat van God af kom, wat Hy goedkeur (Louw-Nida).

Wat ons moet besef, is dat hierdie menslike natuur, hierdie tipies menslike manier van dink en doen, volgens die Bybel, ‘n sondige natuur is.

Die mens soos die sielkunde en die sosiale wetenskappe hom beskryf, is ‘n sondige wese. Die mens, soos jy hom vanuit die biologiese en sielkundige kenmerke kan beskryf – dws uit natuurlike perspektiewe – is van nature in opstand teen God. Wil nie en kan nie doen wat God van ons vra nie.

Hierdie menslike en sondige natuur is iets heel anders as die geestelike en goddelike natuur wat God vir ons gee. Elke mens wat in God glo en sy lewe aan God toevertrou, word deur die Gees van God wederbaar. Ontvang daardeur van God sy goddelike natuur (vgl 2 Petrus 1).

En hierdie twee nature is in stryd met mekaar.

Wat is die goddelike natuur?

Wat is die goddelike natuur? Dit is God se natuur, sy manier van dink en doen, die manier wat in die Bybel op die beste manier beskryf word, aan ons geopenbaar word, en wat deur wedergeboorte in jou geplant word.

Die goddelike natuur is dus iets wat van buite af kom, van God af, en is daarom nie iets wat natuurlik is, of vanuit ons natuur, vanuit ons mensheid, kom nie.

Wedergeboorte is daarom ook nie iets wat jy kan bewerk deur een of ander stel reëls na te kom nie, selfs nie deur die wet na te kom nie, al is die wet ‘n kosbare geskenk aan ons.

Wedergeboorte kom van God af. Wedergeboorte is wanneer God sy natuur in jou plaas.

En dit is iets waarvan ons seker moet wees. Sonder die wedergeboorte sal ons nooit vry kan kom van die sonde van ons menslike natuur nie. Want ons het God se natuur in ons nodig om vry te kom van die suigkrag van ons sondige natuur.

Hoe gebeur die wedergeboorte? Die wedergeboorte vind plaas wanneer jy in Jesus glo, wanneer jy sy Woord só hoor, dat jy met jou hele wese op Hom begin vertrou, Hom begin volg, sy wil in jou lewe tot in die fynste detail wil navolg.

Die sondige natuur is in stryd met die Gees

En wat ons moet besef, is dat hierdie sondige natuur voortdurend in stryd is met die geestelike natuur wat God in jou geplaas het. Trouens, hierdie sondige natuur is in stryd nie net met die geestelike natuur nie, maar met God self, met die Gees wat in ons woon.

Dit is waarom Paulus sê, in vers 17, dat julle kan nie doen “wat julle ook al wil nie”, want julle wil is onderworpe aan een van die twee nature wat in julle woon. Óf aan die sondige natuur in ons menswees óf aan die Gees wat in ons woon.

Jy sal dus nooit kan doen wat God wil as jy net op ‘n natuurlike manier probeer leef nie. As jy net doen wat die sielkunde of die sosiale wetenskappe vir jou sê nie. As jy net getrou wil wees aan wie jy natuurlikerwys is nie. As jy jou identiteit net in jouself en jou menswees soek nie.

3. Leef deur die Gees

Daar is in die derde plek net een manier om te doen wat God wil, en dit is om die Gees toe te laat om jou gedagtes en gedrag te vorm. As jy vry wil wees en bly, as jy die stryd met jou sondige natuur wil wen, as jy die reuk van bloed in die water wil ignoreer, moet jy die Gees toelaat om jou lewe te beheer.

Waar dit begin, is dat jy jouself herinner daaraan dat die Gees van God jou wederbaar het. Dat die Gees God se natuur in jou geplaas het. Dat die Gees die vermoë in jou geplaas het om die suigkrag van die natuurlike begeertes te ontsnap.

Dit is net die Gees wat die vermoë het om die natuurlike gedagtes en begeertes in ons te bestry. Sonder die Gees se werk in ons sal ons natuurlike gedagtes en begeertes altyd in sonde eindig. Trouens, ons natuurlike gedagtes is in wese sondig, omdat dit God en sy wil nie erken nie.

Waar die geveg gewen word, is wanneer jy die Gees kans gee om jou gedagtes en gedrag te vorm sodat jy letterlik nie meer leef vanuit jou sondige natuur nie, maar vanuit die geestelike natuur wat God in jou geplaas het.

As jy leef deur die Gees, sal jy kan néé sê vir die begeertes van jou sondige natuur, sal jy beslis nie die begeertes van jou sondige natuur uitvoer nie. Sal die bloed in die water jou nie verlei  nie.

Watter wonderlike belofte! As jy deur die Gees leef, sal jy die stryd met jou sondige natuur wen. Sal jy oorwin. Sal jy ‘n lewe van oorwinning kan leef.

Hoe leef jy dan deur die Gees?

Hoe kry ons dit dan reg? Daar is twee maniere. Die een het met jou gedagtes te make. Die ander met jou gedrag. Die een vloei in die ander in. Jou gedagtes het ‘n invloed op jou gedrag en jou gedrag beïnvloed jou gedagtes. Albei is belangrik. Albei is noodsaaklik.

1. Laat jou deur die Gees lei

Eers die manier wat met jou gedagtes te make het.

Paulus sê in vers 18 dat jy deur die Gees gelei moet word (agō). Dit beteken dat die Gees jou gedagtewêreld moet beheer, bewustelik, sodat jy kan doen wat die Gees vra.

Dit vra ‘n doelbewuste oopstelling van jou gedagtes vir en ‘n wag op die insig en inspirasie wat die Gees elke oomblik gee. Dit vra ook ‘n doelbewuste afsluit van jou gedagtes van die invloede van hierdie wêreld wat jou van die pad af kan bring.

Daar is die bekende verhaal wat Bill Bright (stigter van Campus Crusade for Christ) vertel van ‘n inheemse-Amerikaanse Christen wat na ‘n sendeling vir raad gegaan het. Hy was baie ontsteld oor die geestelike konflik wat hy in sy hart ervaar het. Hy wou doen wat God wou hê hy moet doen, maar hy het God dikwels nie gehoorsaam nie. Hy het gevind dat hy geneig was om slegte dinge te doen, soos wat hy gedoen het voordat hy ‘n Christen geword het.

Hierdie Christen het die konflik binne homself as ‘n hondegeveg beskryf. Hy het aan die sendeling gesê: “Dit is asof ek ‘n swart hond en ‘n wit hond binne-in my het, wat voortdurend veg.” Die swart hond, het hy verduidelik, verteenwoordig die kwaad in hom en die wit hond die goed.

Die sendeling het hom gevra: “Watter hond wen die geveg in jou?”

Na ‘n paar oomblikke van stilte het die Christen gesê: “Die hond wat wen, is die een wat ek kos gee, en die hond wat verloor, is die een wat ek laat honger ly.”

“Two natures beat within my breast. The one is foul, the one is blessed. The one I love, the one I hate. The one I feed will dominate.” (Anoniem).

Dit is wat jy ook moet doen. Die gedagtes wat jy toelaat in jou binneste, dit is die gedagtes wat jou lewe sal domineer.

En dit is die waarde van hierdie lysies van sondige praktyke en goddelike vrug in jou lewe. Die een beskryf die sondige natuur. Die ander die Gees van God.

As jy dus in jou gevoelens of gedagtes ervaar teenoor iemand van vyandskap, weet dit kom nie van die Gees af nie, maar van die vlees. As jy gevoelens of gedagtes ervaar teenoor iemand van woede – “fits of rage”- weet dit kom nie van die Gees af nie, maar van die vlees. As jy seksuele gevoelens of gedagtes ervaar wat onsedelik, onrein of losbandig is, weet dit kom nie van die Gees af nie, maar van jou vlees.

  • Jy moet dus leer om nee te sê vir gevoelens van vyandskap en woede en afguns en selfsug, want dit voed die sondige natuur in jou.
  • Jy moet leer om ja te sê vir die gevoelens wat vrede kan bring tussen mense, wat die woede kan laat bedaar, wat tevredenheid kan bewerk, en ander se belange hoër ag as jou eie.

En jy kan dit doen, want Paulus sê in vers 24: “Ons almal wat aan Christus Jesus behoort, het ons sondige aard saam met sy hartstogte en begeertes gekruisig.”

Daardie praktyke van vyandskap, en woede, en onsedelikheid, is saam met Christus aan die kruis vasgespyker. Hulle het nie meer ‘n outomatiese mag oor ons nie. Hulle krag is gebreek. Hulle effek is verminder. Ons kan dus daarvoor nee sê.

Wat die Gees dan in jou en deur jou bewerk, is die volgende

  1. In jou innerlike lewe: liefde, vreugde en vrede.
  2. In jou gedrag teenoor ander gelowiges: geduld, vriendelikheid en goedheid.
  3. In jou gedrag teenoor alle ander mense: getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing.

Hoe meer jy dus hierdie tipe gedagtes koester – geduld, goedheid, getrouheid – hoe meer sal jy deur die Gees gelei word, hoe meer sal jou gedrag deur die Gees bepaal word. Sal jy ervaar dat jou lewe die vrug van die Gees vertoon, eerder as die werke van die sondige natuur.

2. Loop in die spore van Jesus

Nou die manier wat met jou gedrag te make het.

Die woord vir “leef” wat hier in vers 16 gebruik word, beteken letterlik om te wandel (peripateō – Matt 4:18 – Jesus langs die see van Galilea). Figuurlik gesproke beteken dit om op te tree in ooreenstemming met, in gelid met (bv met die wet – Luk 1:6). Soms kan die woord ook beteken om na te boots, om “in dieselfde gees, in dieselfde spore te wandel” (in dié van Titus – 2 Kor 12:18; in dié van Jesus – 1 Pet 2:21).

Ek wil dit só verduidelik:

Die Here Jesus het vir ons ‘n voorbeeld nagelaat. ‘n Magdom verhale wat sy manier van dink, sy manier van doen, sy manier van reageer op die uitdagings van die lewe, beskryf.

Die Gees wil ons in daardie spore laat wandel. Daarom het Hy vir ons soveel verhale en voorbeelde in die Bybel gegee.

Dit is wat hier in Galasiërs 5 ook gebeur. Die Gees beskryf hier die praktyke van die sondige natuur. En die vrug van die Gees, sodat ons die regte pad kan herken en daarop kan loop.

Om deur die Gees te lewe, is dus soos om op die uitgetrapte pad te stap van ‘n wandelroete, die roete wat Jesus vir ons uitgetrap en gemerk het, die roete wat die Gees vir ons hier in Galasiërs beskryf het.

Jy maak dus ‘n doelbewuste keuse om in die eerste plek die “voetjies” te volg wat langs die wandelpad aangebring is. Dit is die merkers wat vir jou sê, jy is op die regte pad. Dit is die funksie van die verhale en voorbeelde in die Bybel. Dit is die funksie van die beskrywing van die vrug van die Gees in onderskeid van die praktyke van die sondige natuur. Dit is sodat ons kan agterkom dat die regte pad die pad van liefde, geduld en selfbeheersing is, en nie die pad van vyandskap, woede en onsedelikheid nie, om net ‘n paar daarvan uit te lig.

In die tweede plek volg jy die “paadjie” wat die vorige stappers uitgetrap het tussen die “voetjies”. Daardie paadjie is die verhale van betroubare gelowiges deur die eeue wat vir jou oortuig dat dit die moeite werd is om dié pad te volg. Verhale en voorbeelde wat eweneens vir ons die lewe in die Gees uitspel. Geestelike reuse soos Andrew Murray en George Müller. Die groot name van die Hervorming, Maarten Luther, sowel as die gewone Christene, soos Hellen Stirke.

  • Die “voetjies” help dat jy kan onderskei wat die regte pad is. Dit is die funksie van die verhale en voorbeelde in die Bybel. ‘n Job wat ‘n verbond met sy oë gesluit het om nie na iemand anders as sy vrou te kyk nie (Job 31:1). ‘n Josef wat gevlug het van Potifar se vrou (Gen 39:12). Dit is ook die funksie van die nege aspekte van die vrug van die Gees waarvan selfbeheersing die finale een is.
  • Die uitgetrapte “paadjie” – van gelowiges wat vir ons voorbeelde van liefde, geduld en selfbeheersing is – help jou onderskei waar die beste roete is, die pad wat jou by die eindpunt kan bring. Dit is die funksie van die verhale en voorbeelde van gelowiges deur die eeue.

So wandel jy deur die Gees. So loop jy in die spore van Jesus.

So laat jy die Gees jou gedrag bepaal, soos Paulus ook in vers 25 sê. Jy bring jou lewe in ooreenstemming met die standaard wat die Gees stel. Dit is wat die Griekse woord (stoicheō) wat daar gebruik word beteken. Dit kom uit die militêre lewe. Dit beteken om in gelid te marsjeer. Om nie jou eie ritme en roete te volg nie, maar die ritme en roete wat die Gees deur die Woord bepaal.

En wat gebruik die Gees om vir ons voor te sê hoe ons moet lewe, hoe ons gedagtes en gedrag daar moet uitsien?  Hy gebruik die boodskap van die evangelie, die waarheid wat daar in Christus is, die waarheid van die Skrif, soos Paulus dit in die eerste deel van die brief uitgespel het.

Die metafoor van “in gelid te marsjeer” help ons ook om te verstaan dat dieselfde beginsels vir almal van ons geld. Daar is net een waarheid, die waarheid van die Skrif. En almal van ons moet ons daaraan hou. Ons moet soos in een peloton marsjeer op die pad wat die Here vir ons deur die Woord aanwys.

Vandaar ook die meervoud in elkeen van hierdie opdragte van Paulus: “julle” en “ons”. Hy sluit homself daarby in.

Waar ons dus die Gees toelaat om ons lewens deur die Woord te inspireer, om ons gedagtes en ons gedrag te bepaal, daar sal ons lewens die uitkomste lewer wat as die vrug van die Gees getipeer kan word.

Hoe weet jy dat jy deur die Gees gelei word?

Hoe weet jy dat jou vryheid die stempel dra van ‘n lewe deur die Gees?

Twee maniere:

1. Jy kyk na die praktyke van jou lewe. Waar die vyftien praktyke van die sondige natuur nog voorkom in jou lewe, het jy nodig om tot inkeer te kom, en afstand te doen daarvan.

Dit is waar die kruis inkom. Jou sondige aard is gekruisig, met sy hartstogte en begeertes, omdat jy aan Christus Jesus behoort. Jy kan dus nie daarin voortleef nie.

2. Jy kyk na die vrug van die Gees in jou lewe. Die nege aspekte van ‘n lewe deur die Gees. In jou innerlike lewe: liefde, vreugde en vrede. In jou gedrag teenoor ander gelowiges: geduld, vriendelikheid en goedheid. In jou gedrag teenoor alle ander mense: getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing.

Dit is die uitkomste of vrug (karpos) van ‘n lewe waarin die Gees die leiding gee.

Paulus sê: “Teen hierdie soort dinge is daar nie ‘n wet nie.” (vers 23). Dit bedoel, jy kan met oorgawe jou oorgee aan die liefde wat die Gees bring, aan die blydskap en vrede wat Hy gee. Dit is nie nodig om jou met ‘n wet aan te spoor nie. Jou lewe deur die Gees sal daardie uitkomste produseer.

Dit is ook hoe die Gees Homself in jou binnekant manifesteer. Jy kan die grense na jou medegelowiges oorsteek met geduld en vriendelikheid. Jy kan goed wees vir dié wat na aan jou is, want dit is hoe die Gees jou in die gemeente wil gebruik. En jy kan bekostig om in die gemeenskap bekend te wees as iemand wat getrou is, wat sagmoedig optree, wat met selfbeheersing lewe.

Gebed

Slotlied

Lied 439:1-2 O Heil’ge Gees, o God in ons – staan

Amen

Respons

Lied 439:2 (laaste 4 reëls) – Ons prys U, Gees van Vader, Seun – staan

View all posts in this series

Wie is God?

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.